082 852 0496

admin@stillesindieland.co.za

DEEL 3(2)

Ons Regte in Christus (Kol 2 : 9-10)

INHOUD DEEL 3(2)

16. Sabbatsrus in Christus
17. Waarom kwel julle jul?
18. Die Wapenrusting van God
19. Hoe jy met God se Beloftes moet handel
20. ‘n Tweede genade
21. Die vestings van Vyand
22. “Groot sondes” vs “Klein sondes”
23. Hy sal volbring wat oor my besluit is

16. Die Sabbatsrus in Christus

 

Ons gaan in hierdie Deel 3 praat oor die Sabbatsrus omdat die rus in Jashuah jou reg is. Ook gaan ons in Deel 2 daaroor praat omdat dit die reg van God is dat ons die Sabbat sal hou. Die Sabbatsrus is ‘n teken tussen God en die mens (Eseg 20: 12). Die onderhouding van die Sabbat is ‘n vereiste van God omdat dit Hom heerlikheid gee as die mens Sy rus ingaan. Aan die ander kant is dit die voorreg van die gelowige om te kan rus in Christus na die vlees, siel en gees. As ons vir ‘n oomblik dink aan toestande nou in die wêreld en veral in ons land: daar is net geen rus meer nie. Daar is nie meer rus van skokkende nuus nie. Daar is nie eers meer ‘n klein verademing, soos wat die geval in Esra 9: 8-9 was nie. Nou nooi Jashuah ons en sê: Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30want my juk is sag en my las is lig. (Matt 11: 28-30).

My gebed is nou dat jy sal ontdek dat daar ‘n “Rusplek” is by Jashuah. Hoor die woorde van hierdie lied: “Daar is ‘n plek van sielerus naby die hart van God, van sonde oormag nooit bewus, naby die hart van God”. Die 2de versie sê: “Daar is ‘n plek waar smart verdwyn, naby die hart van God, waar sorge vlug en alle pyn, naby die hart van God”. Die 3de versie sê: “Daar is ‘n plek van troos so soet, naby die hart van God, ‘n plek waar ons ons Heer ontmoet, naby die hart van God”. Die 4de versie: “Daar is ‘n plek so wonderbaar, naby die hart van God, Waar Jesus Hom kom openbaar, naby die hart van God”.

Ek wonder of ons ooit kan besef hoeveel maal die hoeveelheid inligting wat ons verstand vandag moet absorbeer, vermeerder het deur die afgelope 10 jaar? En as ons dit moet vergelyk met hoeveel ons ouers en grootouers moes inneem? Ons arme ore! En wat van ons brein en geheue? Heeldag druk iemand ‘n Whatsapp onder jou neus met een of ander grappie of ernstige nuus. Salomo het gesê : “Die oor kry nooit genoeg van hoor nie” (Pred 1: 8 ). Ja, daardie woord is nie lewend in my geval nie, want my oor het genoeg van hoor, behalwe die Woorde wat my Vader tot my spreek. Daarvan kry ek nooit genoeg nie.

Heerlike rus in Christus is wat vir jou wag. En Hy nooi jou om in jou vermoeide en belaste toestand na Hom toe te kom en Sy rus te kom ontvang. Dit is jou voorreg en nie jou reg nie. Maar in Christus het hierdie voorreg jou reg geword en om hierdie rede sal jy nooit, wanneer jy die heerlike rus geniet, kan dink dat dit jou toekom nie. Die rus wat Hy vir jou aanbied is gekoppel aan Sy juk wat jy op jou moet neem. Hiervoor moet jy eerste jou eie juk afgooi. Hy sê: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet 5: 7). So, eintlik moet jy jou juk op Hom werp. Dan moet jy na Hom toe kom. Dit klink so maklik as jy sê dat jy gaan na Hom toe met al jou laste en jy werp dit op Hom. Maar in Joh 5: 40 sê Hy: “En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie”. Mense gaan na ander mense toe met hulle probleme, hulle gaan na ‘n predikant toe of na ‘n kerk toe of selfs na die Bybel. Alles goed en wel, maar het jy ooit na Jashuah toe gegaan?

Ons is nou terug by Matt 11: 28-30. Dit sê dat ons Sy juk op ons moet neem en van Hom moet leer. Wat moet ons leer? Ons moet leer om sagmoedig en nederig van hart te wees. Daarsonder sal jy nooit Sy rus kan ingaan nie. Jy sal ook nooit Sy sagte en ligte juk kan dra nie. Jy sal maar altyd swaar dra aan ‘n harde juk. Tensy jy Sy sagmoedigheid en nederigheid deelagtig word. Jy sal nou waarlik moet bid tot die Vader vir sagmoedigheid en nederigheid in jou hart. Dit kan die Heilige Gees alleenlik doen. Jy kan dit nie self aanskakel nie. Vra Hom dus daarvoor. As jy gedurig ontsteld is oor iemand anders se optrede en jy daaroor opvlieënd raak sal jy nooit rus kry nie. Nederigheid is ‘n ander eienskap van Jashuah wat jy by Hom sal moet ontvang. As jy dit ook nie kry nie, sal jy ook nie Sy rus kan ingaan nie. Wat is die teenoorgestelde van nederigheid? Dit is trots en hoogmoed en oormoedigheid. As jy ander mense veroordeel dink jy dat jy beter is as hulle. Selfs as jy hulle net kritiseer. Dit is trots en dus die teenoorgestelde van nederigheid. Die Skrif sê dat God gee genade aan die nederiges (Jak 4: 6)Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade”.

As jy nou daarin slaag om deur God se genade Sy rus in te gaan, sal jy agterkom dat jy begin rus in Hom van al jou werke. Dit is belangrik dat jy die volgende Skrifgedeelte biddend lees in Hebr 4: 1-11: “LAAT ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in Sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie.2Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die Woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.3Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in My rus nie ingaan nie—alhoewel Sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.4Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al Sy werke gerus;5en nou hier weer: Hulle sal in My rus nie ingaan nie.6Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie,7bepaal Hy weer ’n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie.8Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie.9Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God;10want wie in Sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van Syne.11Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie”.

In bogenoemde gedeelte praat Hy van die rus van ons werke soos God van Sy werke gerus het op die 7de dag. Dit spreek oor die “ophou met jou pogings om Jahweh deur werke te behaag”. Dit spreek ook van jou, as ‘n gelowige, wat daarin rus dat die Vader al jou werke vir jou volbring het en dat Hy die werke deur Jashuah laat doen het. Lees Jes 26: 12: “Here, U sal vir ons vrede beskik, want U het ook al ons werk vir ons volbring” Efes 2: 10: “Want ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel”. Alles wat jy doen en nog gaan doen het God beplan. Ja, jou hele lewe het Hy beplan. Dit alles volgens jou gewilligheid om Sy wil te doen.


17. Waarom kwel julle jul?

 

Waar ons vandag in hierdie mooi land Suid-Afrika woon, is daar ‘n rede tot baie kwellinge, ja, kwellinge elke oomblik van die dag en die nag! Ek het nie nodig om vandag vir jou hier ‘n lys van dinge te gee waaroor jy jou kan kwel nie, jy kan dit vir mý gee. En miskien het jy ‘n baie langer lys as wat ek het. Deur die Vader se genade het ek elke more ‘n geleentheid om alles wat my kwel op Jashuah te werp. Dit is immers wat Hy ons aanraai om te doen, meer nog, Hy beveel ons om dit te doen. Sê Hy nie in Psalm 55: 23: “Werp jou sorg op die Here, en Hy sal jou onderhou, Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie”? Ja, Hy sê dit op soveel plekke in die Skrif (1 Pet 5: 7).

In Fil 4: 6 is daar ‘n wonderlike belofte en ook bevel: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God, en die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jashuah”. Luister mooi: Hy sê dat die vrede van God, nie die vrede van hierdie wêreld nie (Joh 14: 27), nie vrede wat geld of menslike sekuriteitstelsels of versekerings-polisse of groot beleggings jou kan bied nie. Ook nie die vrede wat jy kan hê omdat mense, veral politieke leiers, groot beloftes aan jou gemaak het nie. Al daardie vorms van menslike en vleeslike versekerings en dinge waarop jy steun, wat nie Christus is nie, sal vergaan. Daarom sê die Skrif in Jer 17: 5-7: “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van Jahweh afwyk. En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land. Geseënd is die man wat op Jahweh vertrou, en wie se vertroue Jahweh is”. Let op dat hy twee keer na vertroue verwys. Eerstens sê Hy dat “geseënd is die man wat op Jahweh vertrou” en dan sê Hy “wie se vertroue Jahweh is”. Daar is ‘n vertroue wat ‘n gewone menslike vertroue op Jahweh is, en dit is ‘n baie goeie ding om te hê. Maar dan kom daar ‘n dag waarop jy besef dat daar moet ‘n groter werking van vertroue in jou binnekant uitgestort word. Jy begeer dieselfde vertroue wat Jashuah gehad het op Sy Vader. Jy begeer dat Sy vertroue in jou sal werk. En dit is wat dit beteken as Hy sê dat geseënd is die man wie se vertroue Jahweh is. Bid hom hiervoor want daar gaan ‘n dag kom dat jy gaan voel dat jou gewone menslike vertroue jou in die steek laat en jy gaan begeer dat die onwrikbare en onwankelbare vertroue van Jashuah, in jou sal werk en deur jou sal vloei.

Het jy al ervaar dat alhoewel jy soveel beloftes van God het vir jou beskerming en voorsiening, jy tog nog ‘n groter en sterker vertroue benodig in jou gees en siel? Daar is ‘n vertroue en geloof wat in Christus is, waarna Paulus verwys in 1Tim 1: 14. Dit is die geloof wat deur die genade werk en nie jou blote vleeslike menslike geloof in God nie. Dit is daardie geloof wat jy nodig het om nie meer te vrees nie. Dit is daardie vertroue wat alle kwellinge oor alles waaroor ‘n mens hom kan kwel, uit jou laat verdwyn. In daardie dag besef jy dat “…as God Sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom 8: 32). Lees hierdie Skrif en bepeins dit voor die aangesig van jou Vader. Vra Hom om dit lewend te maak in jou gees en siel en jy sal jou nooit meer kwel nie.

As jy voorts ook besef dat Elohim (jou God en Vader) jou hele lewe beplan het (Ps 139: 16), ja in die fynste besonderhede, omdat Hy niks gering ag nie (Job 36: 5), en as jy ook besef dat Sy hele beplanning is jou ten goede (Jer 29: 11), en dat alles wat met jou gebeur vir jou ten goede meewerk omdat jy Hom liefhet en omdat jy na Sy voorneme geroep is (Rom 8: 28), kan jy nie anders as om in alles dankbaar te wees (1 Thess 5: 18) en sonder vrees en kwelling elke dag tegemoet te gaan met die wete dat wie jou aanraak Sy oogappel aanraak (Sag 2: 8), en dat jou naam in sy handpalm gegraveer is (Jes 49: 16) en dat geen enkele onheil jou sal tref nie. As jy hierdie dinge glo, waarom kwel jy jou? Bid jou Vader nou dat Hy hierdie woorde in jou hart sal laat lewe, en dat dit sal vrug dra in die donkerste tye wat oor hierdie wêreld kom.


18. Die Wapenrusting van God

 

In Deel 2 Hfstk 15 het ek geskrywe oor die “gedagtes gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus”. Dit is na aanleiding van die Woord in Ef 6:10 – 20, wat handel oor die “Volle wapenrusting van God”. Hierdie wapenrusting het in my persoonlike lewe so belangrik geword dat ek nie meer ‘n enkele dag kan ingaan sonder dat ek opnuut aan my Vader bevestig het dat ek beklee is met die volle wapenrusting nie. Ek verklaar dat ek elke gedeelte van hierdie wapenrusting aan het. Ek verklaar dat ek my lendene met die waarheid omgord het (Vers 14) en dat Jashuah die waarheid is (Joh 14: 6). Ek verklaar dat daar aan my voete die skoene is vir die bereidheid van die evangelie van vrede (Vers 15). Ek verklaar dat ek die borswapen van geregtigheid aan het (Vers 14), Christus as my geregtigheid (1 Kor 1: 30). Ek neem opnuut die skild van die geloof op (Vers 16), en spesifiek die geloof wat in Jashuah is (2 Tim 1: 13), die geloof wat deur die liefde werk (Rom 5: 5), die liefde wat Hy deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort het. Dan verklaar ek ook opnuut dat ek die “helm van verlossing” aangeneem en opgesit het (Vers 17) sodat elke vesting van die vyand neergewerp kan word, en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God (Elohim) vernietig kan word, terwyl ons elke gedagte gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor 10: 3-6). Dan neem ek ook die “swaard van die Gees” op, dit is die Woord van God (Efes 6: 17). En Christus is die Woord van God wat vlees geword het en onder ons kom woon het (Joh 1: 1-6, 14). Met Hom as die swaard oorwin ek al die vyande, terwyl ek by elke geleentheid bid in die Gees en juis daartoe waak vir al die heiliges oor die hele aarde, en ook vir myself, dat wanneer ek my mond open ek met vrymoedigheid die verborgenhede van Christus kan bekend maak (Vers 17-19).

Rom13: 12 sê: “die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord”. As Hy dan in vers 14 sê: “Maar beklee julle met Jashuah Messiah, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” beteken dit dat jy jou met Jashuah as jou volle wapenrusting moet beklee, want Hy is elke deel van daardie Wapenrustng! Die apostel Paulus verwys na homself en sy bediening in 2 Kor 6: 7: “… in die Woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand”. En dan in 2 Kor 10: 3 sê hy: “ want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie: want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie: maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is” (Verse 3-6).

Die wapenrusting is nie alleenlik belangrik vir jou nie maar ook vir jou Vader in die hemel en Sy Seun wat aan Sy regterhand sit. As ons in ag neem dat elke gedeelte van daardie wapenrusting is Jashuah Messiah vir ons, dan word die Skrif in Kol 3: 11 vir ons bevestig: “Christus alles en in almal”. As ons voorts ook besef dat die doel van hierdie wapenrusting is om ons te bring op die plek dat ons gehoorsaamheid volkome is, besef ons hoe belangrik is dit vir God ons Vader. Wil jy nie nou bid, ja, ernstig bid dat onse Here, Jashuah Messiah hierdie saak vir jou so belangrik gaan maak dat jy Hom elke dag ernstig sal bid dat Hy jou die genade sal gee om ten volle die wapenrusting van God aan te hê en dat Hy ook vir jou die vestings van die vyand sal wys, al die skanse waaruit hy na jou skiet sodat jy dit in die Naam van Jashuah kan neerwerp (2 Kor 10: 3-6)?|

 


19. Hoe jy met God se beloftes moet handel

 

Hierdie DEEL 3 bevat talle beloftes waardeur die Vader Sy goedheid en liefde vir jou wil laat ervaar. Hy sê: “Smaak en sien dat Jahweh goed is” (Ps 34: 9). Dit op sigself is al ‘n groot belofte: Hy belowe jou dat jy Sy goedheid sal smaak in elke situasie. Wat ‘n belofte!

Dit is egter baie belangrik dat jy sal onthou hoe om met die Vader se beloftes te handel. Jy sal Hom gedurig daaraan moet herinner (Jes 62: 6-7). Hieraan sal ons baie aandag moet gee want dit raak gebed en gemeenskap met die Vader asook met Sy Seun. En jy sal gou vind dat jou geestelike lewe styg nie hoog uit bokant jou gebedslewe nie. Dit is eintlik een ding. As jy probeer geestelik wees sonder ‘n gepaardgaande diep en innige gebedsgemeenskap met die Vader en Sy Seun, sal jy niks anders as ‘n geveinsde Fariseër wees nie. As jou kind die wonderlikste kind is met ‘n onkreukbare lewe maar tog nie met jou as sy pa of ma tyd spandeer nie, sal dit jou nie ongelukkig maak nie? Wil jy nie eerder hê dat jou kind vir jou moet liefhê en graag by jou wil wees, eerder as om gedurig van jou af weg te hol om by sy maats te wees nie? As jy sien dat jou kind vir jou lief is en jou so graag wil gelukkig maak, al is hy/ sy vol foute en swakhede, maak dit jou nie gelukkig nie? Maar as jou kind gedurig hom/haar voordoen as ‘n foutlose kind en wat in geen opsig jou ongelukkig wil maak nie maar jy weet dat die kind eintlik liewer is vir sy/haar maats en nie eintlik lief is vir jou nie, sal jy dan nie eerder die voorgenoemde geval verkies nie?

As jy in jou onvolmaakte toestand tyd neem om voor die Vader te sit, al is jy besig om te werk of jou motor te bestuur, en toe te laat dat die Heilige Gees jou vervul met Sy liefde, en dan die Vader te herinner aan al Sy beloftes wat Hy aan jou gemaak het, sal jy dan reg handel met Sy beloftes. Dit is immers wat Hy van jou verwag!!


20. ‘n Tweede Genade

 

Ons was onlangs by ‘n vergadering waar die Woord uitgegaan het dat die Vader ons ‘n tweede genade wil gee. Dit na aanleiding van 2 Kor 1: 15: “En in hierdie vertroue wou ek vroeër na julle kom, dat julle ’n tweede genade kan ontvang …”

Toe die apostel Paulus na die gemeente van die Korinthiers wou gaan ten einde hulle ‘n “tweede genade” te laat ontvang, het dit beteken dat die genade wat hulle reeds ontvang het nie genoegsaam was nie? Nee! Aan Paulus het God gesê: “My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring” (2 Kor12: 9).

Nee, die groot waarheid is dat Christus van die Vader gekom het en Johannes verwys na Hom in die evangelie van Johannes as “vol van genade en waarheid” (Joh 1: 14). Dan sê hy ook verder: “uit sy volheid het ons ontvang, ja, genade op genade” (Vers 16). Daar is dus ‘n oorvloed van genade in Christus waaruit ons die voorreg het om te kan ontvang net soveel as wat ons verlang en voor bid. Die tweede genade waarna Paulus verwys is dus nie nog ‘n ekstra genade wat God ons gee nie, maar dit is wel ‘n ekstra geleentheid om daardie genade te ontvang. Ons vergeet so maklik van Sy genadeverbond en ons gaan terug na ons ou leefwyse om te probeer om Hom te behaag deur ons eie werke. Ons vergeet so maklik om in die oggend op te staan en opnuut te verklaar dat ons diep afhanklik is van Sy genade. Ons vergeet so maklik dat Sy krag in swakheid volbring word (2 Kor 12: 8-10), en dan word ons vyande van swakheid – ons weier om swak te wees of swak te vertoon voor die mense. Ons wil so graag die argument met iemand wen. Daardie wantroue in ons self, waaroor ons al soveel keer geskryf het, word so gou vervang met ‘n vertroue in onsself. Die gevaar hier is ook dat ons, alhoewel ons op Hom vertrou, dit doen met ‘n vertroue wat uit my vlees spruit. Onthou jy nog die Woord wat gesê het (Jer 17: 7): “geseënd is hy wat op die Here vertrou en wie se vertroue Jahweh is”? As jy dus met ‘n vertroue op God, wat uit jou vlees spruit, Hom vertrou, het jy nodig om ‘n tweede genade te ontvang, of liewer ‘n tweede geleentheid om Sy genade te ontvang. As jy ook op jou vlees begin staatmaak het, en op jouself begin vertrou het, het jy des te meer nodig om ‘n tweede genade te ontvang. Dink net vir ‘n oomblik hoe goed ons God en Vader is. Dink net ook hoe groot Sy goedertierenheid is wat Hy deur Sy Seun aan ons wil openbaar in hierdie dag, deur vir jou te sê: “My kind, jy het alweer My genade en vredeverbond (Jes 54: 10), wat ek met jou gemaak het deur die bloed van My Seun, Jashuah Messiah, het jy vergeet. Ek kom vandag en gee jou nog ‘n geleentheid om My genade opnuut te bepeins, My opnuut te dank daarvoor, en opnuut My genade aan te gryp. Wat ‘n wonderlike God en Vader, wat ‘n wonderlike Jashuah! Kan ons ooit Sy goedheid pyl en Sy genade en liefde begryp? Ek het die afgelope tyd so ‘n ernstige begeerte om die lengte en die breedte en die hoogte en die diepte van Christus se liefde te leer ken, saam met al die heiliges, wat jou ook insluit. Die Skrif-gedeelte waarin Paulus hierdie begeerte vir die gemeente van die Efesiërs uitspreek in Efes 3: 14-21, moet jy weer lees en dit dan ook met jou hele hart bid voor die aangesig van jou Vader.


21. Die vestings van die Vyand

 

Jy onthou seker nog hoofstuk 18 in verband met “Die wapenrusting van God”? Hierdie hoofstuk handel oor die “Vestings van die vyand” waarvan Paulus in Efesiërs 6:10-20 baie duidelik spreek, asook in 2 Korinthiers 10:4-5: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is”. Wanneer jy begeer met jou hele hart om een van die mense te wees waarna God soek op hierdie aarde, naamlik mense wat Hom in Gees en in waarheid aanbid (Joh 4: 23), dit waaroor ek geskryf het in hoofstuk 21 van deel 2, sal jy baie gou begin soek na die vestings van die vyand in jou lewe. Dit natuurlik indien jy besef dat dit reeds daardie vestings is wat veroorsaak dat jy nie ‘n ware aanbidder kan word nie. Die vestings en die skanse van die vyand is gemik teen jou kennis van Jashuah. Gaan lees weer die gedeelte in 2 Korinthiërs 10 vers 4 tot 5. Die woord kennis in die oorspronklike taal dui baie duidelik daarop dat dit nie ‘n verstandelike kennis is waarvan die Skrif praat nie maar ‘n ervaringskennis naamlik om hom te ervaar in jou gees. Om dus Christus in jou gees te ervaar en bekend te word met Hom persoonlik. Dit is die kennis waarna Paulus verwys in Filipense 3: 8-11. En dit kos ‘n prys om Christus te ken in die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde. Ons sal graag Christus wil ken en ook die krag van Sy opstanding, maar is ons so bereid om gemeenskap te hê aan Sy lyding? Is jy bereid om vervolg te word deur die mense soos wat Hy vervolg was? Is jy bereid om uitgewerp te word deur die samelewing en verneder te word, beskuldig te word van dinge waaraan jy nie skuldig was nie? Om deur die mensdom gehaat en verwerp te word en uitgeskel te word as ‘n ketter, sekte en ‘n kultus? Jy kan ongelukkig hierdie lyde van Christus nie skei van “om Hom te ken en die krag van Syopstanding” nie. Dit is een pakket. Dit is een pad!

Vanmôre het ek hier voor my venster gesit in my studeerkamer en na ‘n boekie gesoek wat ek jare gelede gekoop het en byna nooit gelees het nie. Skielik het hierdie boekie “The Calvary Road” in my hart opgekom. Ek het dit sommer lukraak oopgemaak en op ‘n hoofstuk afgekom wat handel oor “Cups running over”. Hier sê die skrywer, Roy Hession, dat jou beker nie kan oorloop as jy nie die vrede van God in jou hart het nie. Hy druk dit nog sterker uit deur te sê “as die vrede van God nie in jou hart heers soos wat Kolossense 3 vers 15 sê nie, jy nie die oorvloed van die Gees sal ontvang nie. Hy sê dat hierdie woord “vrede” iets soos die skeidsregteris by ‘n voetbal wedstryd. Sodra daar ‘n fout gemaak word op die veld blaas die skeidsregter sy fluitjie. Wanneer ons ons vrede verloor is dit die fluitjie wat God blaas om te sê dat daar ‘n fout gemaak is. Miskien moet ons dan eers bely teenoor iemand anders of dalk net teenoor God. En miskien voel jy nog dat dit die ander persoon se fout was, maar hoe dit ookal sy, as jy jou vrede verloor het is dit ‘n baie duidelike teken dat daar ook ‘n fout by jou lê. Ons verloor nie ons vrede wanneer iemand anders foute maak nie, slegs wanneer ons oortree. Dit lê dalk by ons reaksie op die ander persoon se sonde, en alleenlik wanneer ons gewillig is om daarvan gereinig te word sal die vrede van God weer in ons hart herstel word. O, watter eenvoudige en deursoekende ding is hierdie skeidsregter van die vrede van God? En hoe wonderlik is dit om deur die vrede van God geregeer te word — dit is wanneer die vrede van God dus in jou hart heers? Omdat die vrede van God ‘n vrug van die Heilige Gees is, is dit dus niemand anders as die Heilige Gees wat in jou hart heers nie. Vorige selfsugtige maniere waarop jy dinge gedoen het, dinge waaroor jy jou nooit ontstel het nie, word nou deur die “skeidsregter” aan jou getoon deurdat hy Sy “fluitjie blaas”. Dinge soos baas-spelerigheid en gebrom oor dinge wat jou nie pas nie, traak-my-nie-agtigheid, geestelike meerderwaardigheid, ja selfs die mees geringe dingetjie word nou uitgewys as sonde deur hierdie “fluitjie wat blaas”. Dit natuurlik alleenlik as ons gewillig is dat ons elke dag deur hierdie “skeidsregter se fluitjie” van die vrede van God, beheer sal word. Elke dag sal ons onsself moet oopstel vir God om gedurigdeur deur die bloed van Sy Seun gereinig te word van alles wat Hom mishaag sodat ons die pad van gebrokenheid kan wandel soos nooit vantevore nie. Maar Jashuah sal in daardie gebrokenheid waarin jy nou wandel, gedurigdeur Homself openbaar en manifesteer.

Hier moet ek nou eers iets sê oor die “splint en die balk”. Matt 7: 3-5: “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! 5Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal”. Jashuah wil iets deur hierdie hierdie “splinter en die balk” (Luk 6: 41-42) verduidelik. Dit is eenvoudig slegs om vir jou te sê dat die “splintersonde” van jou broer ‘n “balksonde” by jou kan word. Byvoorbeeld: Iemand het jou te na gekom deur van jou sleg te praat en nou het daar ‘n verbittering in jou hart ontstaan teenoor daardie persoon. Die kwaad wat hy van jou gespreek het is beslis ‘n sonde maar die bitterheid in jou hart teenoor hom, wat niks anders as liefdeloosheid is nie, is ‘n groter sonde. Dit natuurlik as jy een sonde groter wil maak as die ander een.

Baie van ons het hierdie skeidsregter met sy fluitjie geïgnoreer en geminag en dit is die rede waarom die fluitjie van die skeidsregter stil geword het en dit nie meer vir ons vreemd is om gedurende elke dag iewers ons vrede te verloor nie. Sommige van ons weet nie meer wat dit is om die vrede van God in ons harte te hê nie. Het jy al ooit daardie vrede van jou Vader ervaar? Het jy ooit gevoel hoedat dit alle verstand te bowe gaan (Fil 4: 7)? Een dag na die ander gaan verby en ons voel nooit meer dat ons ‘n behoefte het aan ‘n diep reiniging deur die bloed van Yahshua nie. Daar sal ‘n groot honger in ons hart moet kom sodat ons liefdesverhouding en omgang met Hom weer herstel kan word nadat die bloed van Jashuah ons gereinig het. Ons het soveel dinge in ons lewe al aanvaar, vleeslike dinge wat niks anders as sonde is nie. Jy sal vra of vlees dan sonde is? Jy sal aanvoer dat die vlees maar eintlik net menslike swakhede is en nie noodwendig sonde nie. As die vlees nie sonde is nie kan die bloed van Jashuah se kruis nooit daarmee deel nie, en sal jy dus nooit daarvan verlos kan word nie. Dan sal ons met die vlees moet opgeskeep sit totdat ons ons laaste treë op hierdie aarde gee. Enige iets wat die vrede van God versteur is sonde! En dit sal jy self moet gaan uitmaak met Hom. As jy een van Yahshua se skape is, ken jy mos Sy stem (Joh 10)! Gaan vra Hom of dit wat ek vandag aan jou skrywe die waarheid is of nie.


22. “Groot sondes” vs “Klein sondes”

 

Ons het die afgelope jare elkeen sekerlik al in ‘n geselskap gewees waar groot sondes vergelyk was met klein sondes. Hoe verkeerd is so ‘n siening nie? Daar is een groot sonde waarvoor die mens nooit vergewe sal kan word nie en dit is die sonde teen die Heilige Gees, die sogenaamde onvergeeflike sonde (Matt 12: 32). Die “moeder” van alle sondes is die sonde van ongeloof (Joh 16: 9; Rom 14: 23), en hiervoor vergewe God ons menigvuldiglik. Uit hierdie sonde word al die sondes gebore, groot en klein. Wanneer ons sondes met mekaar begin vergelyk is daar gewoonlik – nie altyd nie – ‘n diepgesetelde selfverontskuldiging deur te beweer dat “my sonde nie so groot is as joune nie”. Ek het net gister gehoor hoedat ‘n vrou vir haar vriendin probeer bewys dat haar dogter — haar “bloedjie”– se oortreding nie so groot is soos haar vriendin se dogter s’n nie. Ons wil so graag soos die Fariseër sê dat hy dankbaar is dat hy nie soos die die tollenaar is nie (Luk 18: 9-14). Die Skrif noem die Fariseërs “geveinsdes” (Matt 23: 13-14). Almal van ons het gesondig en daarom kan ons nie gered word nie (Rom 3: 23-24). As ons gered word is dit baie duidelik nie deur enige goeie werke wat ons gedoen nie, maar suiwer uit die genade van God. Hoe ons egter met hierdie genade van God te werk gaan is baie belangrik. Elkeen behoort homself die vraag af te vra: hoe werk ek met die genade van God? In die brief aan Titus lees ons dat die reddende genade van God aan alle mense verskyn het (Tit 2: 11). Die apostel Paulus sê dat die genade van God was oor hom nie tevergeefs nie (1 Kor 15:10; 2 Kor 6: 1). Jy kan dus die genade van God verag of minag sodat dit tevergeefs aan jou gegee is. Jy kan ook versuim om genade aan ander te gee en te betoon — mense wat teenoor jou gesondig het –, en omdat jy nie bereid is om genade aan ander te gee nie, kan jy dit self nie ontvang nie. Jy weet seker al by dié tyd wat die rede is waarom jy soms nie iets by God kan ontvang nie? Dit is duidelik omdat jy nie eerste bereid is om dit aan ander te gee nie. “Gee en aan julle sal gegee word” sê die Skrif in Lukas 6: 38. Onthou jy darem nog dat in een van die gedeeltes geskrywe was dat God nie iets in ‘n “toe hand” kan sit nie? As jy dus jou hand oopmaak om aan iemand anders te gee is dit ook oop om iets van God af te ontvang. As jy dus nie bereid is om genade te gee nie kan God dit ook nie aan jou gee nie. Net soos die Skrif baie duidelik is omtrent vergifnis: jy kan dit nie by God ontvang as jy nie eers bereid is om jou skul0denaars te vergewe nie (Mark 11: 24-26; Jak 2: 13; Matt 18: 21-35).

Ek het die afgelope tyd nogal in baie geselskappe gesit waar die onderwerp van “gay” mense bespreek was en dan was dit in die algemeen gesien as ‘n groter sonde as al die ander sondes. Lees nou die eerste hoofstuk van Romeine, en as jy dit klaar gelees het dan lees jy dit vir ‘n tweede keer biddend deur en dan let jy veral op die laaste verse (Verse 28-32), waar ‘n groot aantal sondes genoem word wat algemeen deur die mense “meer aanvaarbaar” is as die sondes waarna verwys word in verse 26-27, waar oor Gays geskrywe word. As jy gaan lees in 1Timotheus 3: 1-15 asook in Titus 1: 15-16 dan besef jy dat daar baie strenger kwalifikasies is wat geld, of liewer wat behoort te geld, in die Christelike kerke ten opsigte van voorgangers – dit is leraars, ouderlinge, diakens. Indien die “moeder sonde” van alle sondes dan ongeloof is volgens Johannes 16: 8-11 en Rom 14: 23, dan behoort ‘n man wat nie God se Woord glo nie, nie toegelaat te word om die Woord van God te leer in ‘n Christelike kerk nie. Het ek nou ‘n klip in die bos gegooi? Jy kan dit seker so noem as jy wil, maar ek wil sê dat dit ‘n groot waarheid is wat nie behoort misgekyk te word nie. As iemand dus nie glo dat hy saam met Christus gekruisig is, en dat hý nie meer leef nie maar dat Christus in hom lewe, glo hy beslis nie die Skrif nie! En as hy slegs die gedeelte oor ons sterwe saam met Christus glo maar nie dié gedeelte oor Sy opstandingslewe wat ons s’n geword het nie, is hy ongelowig. En as hy bogenoemde dinge alles glo maar hy lewe dit nie, is hy die persoon waarvan Jakobus 2: 14-26 sê dat “die geloof sonder die werke dood is”. So ‘n man behoort ook nie ‘n voorganger in ‘n Christelike kerk te wees nie. As jy vandag Christen voorgangers vra of hulle die Woord glo, dan sal hulle definitief “Ja” antwoord. As jy hulle vra of hulle die werke doen wat by daardie geloof pas, oftewel, of hulle dit wat hulle glo lewe, sal baie van hulle nie eerlik daarop “ja” kan antwoord nie. By God is dit belangrik dat ons die Woord wat ons hoor ook sal doen (Luk 6: 46-49). Hy sê dat dit nie die hoorders van die Woord is wat by God geregverdig word nie maar die daders (Jak 1: 22). Daar is miljoene oor die aardbol wat die woorde van God hoor maar die vraag is of hulle doeners is van daardie Woord.

  • Ons moet duidelik onderskeid maak tussen sondes wat in swakheid gedoen word en die wat moedswilliglik gedoen word. Die Skrif sê baie duidelik in Hebreërs dat vir die sondes wat opsetlik begaan word, daar geen offer meer voor is nie (Heb 10: 26). In die Ou Testament was daar offers vir sonde in swakheid begaan (Num 15: 27-28) asook dié wat moedswilliglik gedoen was. In die Nuwe Testament is daar een offer gebring deur Jahshua Messiah as die Lam van God, en die offer was voldoende vir die sonde van die mens (Heb 10: 14). En tog, soos hierbo reeds genoem, geld daardie offer nie vir diegene wat moedswilliglik of opsetlik sonde doen nie . Solank jy dus gewilliglik, en dus moedswilliglik, voortgaan om in sonde te leef, moet jy nie die fout maak om te dink dat die offer van Christus aan die kruis, deur Sy bloed, jou van daardie sonde reinig nie. As jy so sê en so lewe tot aan die einde van jou pad hier op aarde, kan jy beslis nie daarop aanspraak maak om die ewige heerlikheid van God in te gaan nie. Jy sal eers tot ‘n sonde-besef moet kom deurdat die Heilige Gees jou oortuig van daardie sonde (Joh 16: 8-9). Dan sal jy hierdie sonde moet bely (1 Joh 1: 9). As jy dan die sonde bely het, het jy die belofte van God dat Hy dit ook vergewe en jou ook daarvan reinig soos ons hierbo gelees het in 1 Joh 1: 9.

Dit is dan ook ‘n kenmerk van diegene wat tot sondebesef gekom het en dit bely het voor die aangesig van God, dat so ‘n persoon ook voel om die sonde na die lig toe te bring en restitusie te gaan doen teenoor hulle teen wie hy gesondig het. Om jou sonde na die lig toe te bring (1 Joh 1: 7) beteken eerstens om dit na Jahweh te bring. Hy is die Lig van die wêreld (Joh 1: 4). Mense wat nie waarlik die wil van God wil doen nie kom nie na die lig nie. Lees Joh 3: 18-21. Om na die lig te kom beteken ook om na medegelowiges toe te gaan en te vra dat hulle saam met jou sal stem voor die aangesig van God dat hy jou sal verlos van daardie sonde. Medegelowiges is in Christus ook die lig van die wêreld soos wat ons lees in Efes 5: 8 en in Matt 5: 14. In sommige gevalle vind jy verlossing as jy dit slegs na jou hemelse Vader toe bring en op grond van Jashua se verdienste aan die kruis, Hom vra om jou te verlos daarvan. Ek het in ‘n vorige gedeelte alreeds verwys na die man wat aan ‘n Christelike kerk behoort het — ek weet nie of hy vandag nog lewe nie — wat by die plek waar ons gewerk het, gereedskap gesteel het. Toe ek, as jong man en Christen hom daaroor vermaan het, het hy gesê dat dit nie hy is wat die sonde doen nie maar die sonde wat in hom woon.Dit het hy geregverdig deur die Skrif in Romeine 7: 16-17, wat wel so sê. As ek daardie tyd geweet het wat die Skrif werklik in Romeine 7 sê, sou ek hom kon leer aangaan die waarheid. Die waarheid is: as jy werklik jou tot die Here bekeer het, en bely het dat jy ‘n sondaar is en dat jy die “moeder sonde” van alle sonde, naamlik ongeloof, gepleeg het, sal daar by jou ‘n kreet uitgeroep word tot God, dit waarna Paulus verwys in die laaste verse van hoofstuk 7 naamlik: “Ek ellendige mens, wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Christus Jesus onse Here” (Rom 7: 24-25). Maar as jy bely dat jy Christus aangeneem het as jou Saligmaker en jy verklaar dat Hy jou sondes vergewe het, en jy lewe voort in jou sonde, sonder dat dit jou enigsins hinder of aankla, dan het daar nog nie ‘n ware bekering by jou plaasgevind nie want waarom oortuig die Heilige Gees jou nie van hierdie sonde nie? Waarom oortuig die Heilige Gees jou ook nie van die noodsaaklikheid daarvan om van hierdie sondes bevry te word nie? Waarom wek die Heilige Gees nie jou gees op om tot Jahweh te roep dat Hy vir jou van die liggaam van hierdie dood en sonde sal verlos nie? Waarom kan jy voortgaan om maar die sonde te doen, watter sonde ookal dit is, soos wat daar in Romeine 1 na verwys word, of dit nou, soos baie Christene daarna verwys, groot of klein sonde is.

Ek het in ‘n ander hoofstuk daarna verwys dat die struikelblok, of die vesting van die vyand in jou geestelike lewe, waaruit die vyand jou met sy pyle skiet sodat jy onvrymoedig is om vir lang tye in die teenwoordigheid van jou Vader te sit en met Hom gemeenskap te hê, niks anders is as selfs die kleinste sonde in jou lewe nie. Die “lang tye” waarna ek verwys is nie die tye wat jy sit en Bybelstudie doen en in jou dagboek skryf nie, nee, ek verwys spesifiek na die tye wat jy niks anders doen as om net in Sy teenwoordigheid te sit en met Hom omgang te hê en Hom as persoon te ervaar, Sy liefde, genade en goedertierenheid te bedink en jouself te verloor in Sy teenwoordigheid sodat Sy Gees in jou gees instroom. Ook het ek genoem in daardie hoofstuk dat dit die rede was waarom Adam en Eva na die sondeval, nie meer vrymoedig kon wees in die teenwoordigheid van God, wat gereeld in die stilte van die aandwindjie by Adam hulle kom wandel het, nie. Lees Gen 3: 6-19. Toe hulle sonde gedoen het, het hulle weggevlug uit Sy teenwoordigheid uit. Jy moet dit verseker in Genesis lees! Die Fariseërs, waarvan Jashuah gesê het dat die Satan hulle vader is (Joh 8:43-44), kom al jare deur baie Skrifstudie en tog het hulle, soos die Skrif sê, nooit tot kennis van die waarheid gekom nie (2 Tim 3:7). Jashuah is die waarheid (Joh 14: 6). Dus het hulle deur hulle Skrifstudie nooit Jashuah, of die Vader, persoonlik leer ken nie. Dus kan jy nie vir my sê dat jy spandeer baie ure in Bybelstudie en dit is die bewys dat jy vrymoedigheid het om in die teenwoordigheid van God te verkeer nie. Bybel-studente van verskillende godsdienstige groepe (groepe waarmee jy beslis nie saamstem nie), bestee baie ure aan Skrifondersoek. Aan hulle sal Jashuah moontlik aan die einde van die dae sê: “Gaan weg van my julle vervloektes van My Vader, ek het julle nooit geken nie!”. Het Jashua nie gesê dat hulle die Skrifte ondersoek omdat hulle meen dat hulle daarin die ewige lewe het, maar dat dit juis die Skrifte is wat hulle na Hom toe verwys, maar dat hulle nie na Hom toe wil kom om die ewige lewe te hê nie? (Joh 5:39-40).

Ons lewe in dae, aan die einde van die eeue, waarin ‘n besondere gunstige tyd aangebreek het. Dit is die tyd waarna Sagaria 13 verwys: “In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid (vers 1). In hierdie profetiese Woord is daar ‘n belofte van ‘n groot reinigingswerk wat ons Vader vanuit die Hemel gaan doen deur die bloed van Sy Seun. Jy en ek moet nie hierdie gunstige tyd laat verby gaan nie. Daar is ‘n Woord wat my persoonlik waarsku: Luk 19: 44 “…omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het nie opgemerk het nie”.


23. Hy sal Volbring wat oor my besluit is

 

Gisteroggend het ek in twee verskillende Bybels op dieselfde plek oopgeslaan naamlik Job 23: 13-14. Dit het ‘n wonderlike troos in my hart laat instroom, veral noudat daar soveel dinge in ons land gebeur wat alles ontwrig wat vir ons dierbaar en kosbaar was: blanke boere se plase word sonder vergoeding van hulle af weggeneem terwyl daar ‘n geweldige werkloosheidsyfer in die land is onder alle rasse. Groot massas leef nou van diefstal omdat daar geen ander manier vir hulle is om voedsel en lewensmiddele te bekom nie. Mense van alle rasse word op groot skaal vermoor. Veral die blanke boere is ‘n mikpunt vir plaasaanvalle en volksmoorde. Niemand is meer sy lewe seker in hierdie land nie en daarom is talle besig om te emigreer, ja, letterlik duisende vertrek om in ander lande ‘n heenkome te gaan vind. Maar ons voel dat ons deur die Lewende God hier geplaas is met ‘n doel, en alhoewel ons voorouers eeue gelede van Europa af hierheen verhuis het omdat hulle juis daar moes vlug ter wille van hulle geloof in Jashuah Messiah, kan ons nie sommer nou weer verhuis na ‘n ander land toe tensy ons liefdevolle Vader ons deur sy Heilige Gees so lei nie. Daarom veroordeel ons nie die wat emigreer omdat die Heilige Gees hulle so lei nie, want Jahweh het dan met hulle ‘n spesifieke doel daar in daardie ander lande. As Hy ons dus nie deur Sy Gees lei om na ander lande te verhuis nie, sal ons hier in Suid Afrika bly woon al moet ons ook hier omkom, soos Paulus gesê het: “Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here”(Rom 14: 8).

Maar laat my by die trooswoord kom: Jahweh het ons hele lewenspad beplan en Hy noem dit Sy “ewige voorneme”. As jy dit duidelik besef dat elke dag is vir jou beplan deur Hom, ja, in die fynste besonderhede het Hy dit beplan, en as jy dan nog daarby die openbaring van Sy woord in Jeremia 29 het wat sê: “ Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek Jahweh, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee” (Jer 29: 11), dan troos dit jou. Dan voeg Hy nog ‘n belofte by dat Hy ons in die dag sal verhoor as ons bid (Vers 12-14). As jy die sekerheid het dat die lewende God, wat hierdie ganse uitspansel geskape het deur net ‘n woord te spreek, en dit ook nog steeds daagliks in die fynste besonderhede onderhou en in stand hou, hoe kan jy vrees? En as jy boonop nog weet dat Hy vir jou lief is omdat jy aan Hom behoort, hoe kan jy vrees? As jy vir jou 365 keer in die Bybel gesê het: “Moenie bevrees wees nie” hoe kan jy nog vrees? As Hy vir jou gesê het dat die een wat jou aanraak raak Sy oogappel aan (Sag 2: 8), hoe kan jy nog bevrees wees? (Heb 13: 6). Hoe kan jy wegvlug van Suid-Afrika omdat jy bang geword het vir hierdie plek, en omdat jy hier vrees vir jou lewe? Weereens wil ek sê dat hulle wat deur die Gees van God gelei word om te emigreer, is gans ‘n ander saak as hulle wat uit vrees vir hul lewe en vir die berowing van hulle goed hier wegvlug. Het ons Hugenote voorouers nie ook hulle plase en eiendomme verloor in Frankryk en ander dele van Europa nie? Ja hulle het met niks in Suid-Afrika aangekom. Sê die Woord nie in Hebreers dat hulle die berowing van hulle goed met blydskap aanvaar het omdat hulle ‘n beter en blywende besitting in die hemele het nie? (Heb 10: 34). Jy sal vir my sê dat tye het verander. Ja, tye het verander, en mense het ook verander en die Christendom het ook verander, maar Jashuah Messiah bly dieselfde tot in alle ewigheid! (Heb 13: 8).

Maar die groot vraag is of jy gewillig is dat God sal volbring wat Hy oor jou besluit het? Nou sal jy dalk redeneer dat as Hy besluit het om sekere dinge in jou lewe te bereik sal hy dit doen ongeag of jy gewillig is of nie gewillig is nie. Dit sou beteken dat jy dan nie ‘n vrye wil het nie maar dat jy soos ‘n robot is wat deur God beheer word. Nee, jy is nie ‘n onwillige robot nie maar ‘n gewillige een. As die lewe van Christus deur jou vloei en jy word deur Sy Gees beheer en bestuur, doen jy dit gewilliglik. Hy het dus ‘n plan vir jou lewe en vir elke opregte gelowige. Is dit een van jou grootste begeertes in jou lewe om Sy wil te doen? “My volk was vir My nie gewillig nie” sê Jahweh in (Ps 81: 12). Mag Hy dit nooit van jou en van my sê nie! Mag hy nooit van ons sê: “Julle wil nie na My toe kom om die lewe te hê nie” (Joh 5: 40). Mag Hy ook nie van jou sê: “hoe dikwels wou Ek julle soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke vergader, en julle wou nie” (Matt 23: 37). Ja, Hy sal volbring wat oor jou besluit is (Job 23: 14) maar dan moet jy gewillig wees daartoe.

Nou kom daar nog ‘n belangrike Woord en dit is naamlik dat Jahweh vooraf geweet het of jy gaan gewillig wees of nie, en daarvolgens het Hy jou uitverkies en die hele plan vir jou lewe bepaal. Lees 1Pet 1: 2 Hierdie plan vir jou lewe kan ‘n plan wees van heerlikheid of verderf. Nou moet jy eers Romeine 9: 22-24 lees en oplet dat sekere mense is vir die verderf toeberei en ander vir God se heerlikheid. Daar is Bybel-leraars wat al vir jare stry oor hierdie onderwerp, en dit gaan oor die vraag of die mens se vrye wil by hierdie uitverkiesing ‘n rol speel. Ek is deel van die gelowiges wat glo dat jou vrye wil speel ‘n rol. Meer as een maal het ek al in skrywes daarna verwys dat God wel alle mense wil red (1 Tim 2: 4) maar dat alle mense nie gered wil word nie. Alhoewel almal seker hemel toe wil gaan, wil almal nie die wil van God doen nie. Alhoewel baie na Sy Woord luister is dit nie die hoorders van die Woord wat by God geregverdig word nie maar wel die daders (Jak1: 22-25). As jy dan nou een van diegene is wat die Woord van die Here hoor en dit wil doen, sal jy gou agterkom dat Hy met jou oppad is na Sy heerlikheid. Jy sal gou ervaar dat Hy met jou bemoeienis maak en dat Christus die weg van die lewe is (Joh 14: 6). Ook sal jy ontdek dat Hy in jou werk om sterker te wil as ooit vantevore (Fil 2: 13). Jy sal bevind dat Hy wel vir jou gedagtes koester, gedagtes van vrede en nie van onheil nie (Jer 29: 11) en dat alle dinge vir jou ten goede meewerk soos wat Romeine 8: 28 sê. Ook dat Hy jou na Sy voorneme geroep het (Vers 28) ‘n voorneme wat net goeie dinge behels, al lyk dit somtyds ook nie of dit goeie dinge is nie. Gaan lees nou die volgende Skrifte met betrekking tot jou Vader se voorneme vir jou (Efes 1: 4-5), en al die goeie dinge waartoe Hy jou bestem het (2 Thess 2: 13), en begin Hom loof en dank vir al die goeie dinge wat hy nog vir jou bewaar het soos ‘n skat weggebêre het in die hemele (1 Pet 1: 3-9).

Ons het hierdie skat in erdekruike sê Hy in 2 Korintiers 4: 7. Al is jy nie die aanskoulikste mens van buite nie, al is jy nie besonder ryk of wys of edel nie, soos wat 1Korintiërs 1: 26-31 ook sê, het Hy jou tog in alle opsigte ryk gemaak (1 Kor 1: 4-9), en het Hy jou ‘n wysheid gegee wat nie van hierdie wêreld is nie (1 Kor 1: 18-29). Hy het hy jou geseën met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus (Efes 1: 3). Dank Hom daarvoor en begin om hierdie rykdom, wat geld nie kan koop nie, te geniet.