Ons is deel van ‘n organisme. ‘n Organisme is iets wat lewe het in homself. En dit is wat God (Elohim) ons Vader besit en ook Sy Seun, Jesus Christus(Jashuah Messiah) (Joh 5: 26; Kol 3 : 4). Ons is deel van Sy Seun se liggaam (Efes 5 : 30; 1 Kor 12 : 12-27; Rom 12 : 4-6) en Sy lewe vloei deur ons. Sy liggaam is die Gemeente of die Kerk. “Die ware Gemeente of Kerk” bestaan uit alle gelowiges in Messiah ongeag hulle kerklike verbintenis, lidmaatskap, of liewer Ledemaatskap, is nie beperk tot die grense van denominasies, geloofsbelydenisse en kerkname nie. Niemand kan daarby aansluit nie. Jahweh voeg jou by sodra jy gered is en in die regte persoonlike verhouding met Hom wandel (Hand 2 : 47) omdat dieselfde Gees wat Christus uit die dode opgewek het dan ook in jou leef (Rom 8 :11; 1 Kor 12 : 12-13). As jy jouself kan vereenselwig met “Wie ons is” in hierdie artikel, is jy ook deel van die “ONS” waarna ek verwys.
Sedert my kinderdae het ek na God gesoek in die kerk waarin ek gebore is en het ek ‘n sterk begeerte gehad om Sy wil te doen, maar ek was geensins bewus van die feit dat ek deel was van ‘n groter groep mense op aarde as dié van my kerk nie, gelowiges wat deur geen kerkgrense geskei is van mede-gelowiges in ander denominasies nie. Meer nog, hulle is mense wat andere vergewe en lief het, vol vrede, geloof, geregtigheid en blydskap, mense wat in ‘n intieme gebedsverhouding met Jahweh wandel, Hom lief het en gehoorsaam.
Ook was ek nie bewus van al die eeue waardeur dié “groter groep gelowiges” reeds bestaan en aktief funksioneer het op aarde nie – ‘n KERK met hoofletters geskrywe, maar nie soos in ‘n handelsnaam of “brandname” van verskillende produkte op die mark nie, maar soos in die dae van die eerste Gemeente waar die dissipels van Jesus (Jashuah) bloot bekend gestaan het as gelowiges (Hand 15 : 5), heiliges (Efes 1 : 2), die gemeente (Hand 12 : 5), die disippels (Hand18 : 27; Hand 15 : 3, 4), die mense van die Weg (Hand 9: 2), die broeders (Hand 28 : 14,15). En meer nog: daar was geen ander naam waardeur hulle saamgebind was as slegs die Naam van Jashuah (Jesus) nie (Hand 4 : 12). Netsoos wat handelsname of “brandnames” skeiding en selfs kompitisie tussen produkte maak sou ‘n ander Naam as Jesus, of Jashuah, verdeeldheid veroorsaak. Daarom het hulle in meeste gevalle nie behoort tot die sogenaamde Gevestigde Kerke of Hoofstroom Kerke nie. Hulle was gewoonlik daarbuite. In sy boek “The Pilgrim Church” beskrywe E.H. Broadbent hierdie gelowiges. ( NOTA: Die boek is verkrygbaar en is waarlik die moeite werd om op jou rak te hê! Jy kan ook hulle webwerf op die internet besoek).
Ek is bevoorreg om ‘n baie ou boek getiteld: “De Stillen in het land” in 1907 deur D Rossouw verwerk uit “Sketches of the Quiet in the Land” deur Frances Bevan uit die 17de eeu (Ps 35 : 20), te besit. Hy skrywe oor hierdie gelowiges wie, na die dood van die Apostels, deur die eeue heen soos suurdeeg (Luk 13 : 20,21) in die Koninkryk van God op aarde gewerk het. Hulle was nie op die platforms en kansels van die gevestigde en hoofstroom kerke te sien nie. Hulle was die sout van die aarde (Matt 5 : 13), raakgesien en gewaardeer deur elkeen wat na ‘n dieper wandel met God gestreef het. Hulle was nie populêr in die Hoofstroom nie en is in talle gevalle gehaat, vervolg en selfs ter dood veroordeel – ‘n verleentheid vir die Christendom. Hier dink ons aan die Franse Hugenote wat moes vlug ter wille van hulle godsdiens. My eie voorouers was onder hulle: Aan vaders-kant het hulle uit Frankryk gevlug na Ierland en later na Suid Afrika geëmigreer. Aan moeders-kant het hulle direk Suid Afrika toe gekom en hulle in Franschoek, Wes Kaap, gevestig.
In my persoonlike wandel met die Here (Jahweh) het ek mettertyd bewus geword van die verdeelde toestande in die geledere van die Christendom en het ek Hom in gebed begin smeek om ons as Christene in ‘n eenheid saam te voeg en ons te verlos van dit wat verdeeldheid veroorsaak. Immers het Jashuah Sy lewe afgelê daarvoor (Joh 11 : 52) en was dit Sy groot gebed in Joh 17 : 20-26. Maar ek het nie geweet dat hierdie eenheid reeds deur baie eeue heen bestaan nie, want ek het nie verstaan dat elke ware Gees vervulde kind van God reeds deur die Heilige Gees in die Liggaam van Sy Seun ingedoop is nie (1 Kor 12 : 12-27). Hierdie onkunde van my was te wyte aan die feit dat ek so besig was met my eie kerk se sake (Fil 2 : 19-22), en ook so vyandig was teen ander kerke en denominasies, dat God dit nie aan my kon openbaar nie.
Daar is vandag baie mense wat nie gelukkig is in hulle kerke nie. In sommige gevalle is dit omdat hulle hul eie sin in alles wil hê. Dit maak dit baie moeilik vir die herders wat graag hulle skape wil plesier en hulle sodoende vir hulle kerk wil behou. Maar wanneer hulle tog die kerk uiteindelik verlaat word hulle verbitterde “interkerklikes” of “onverbondes” . Maar dit maak hulle nie noodwendig deel van die Stilles in die Land of The Pilgrim Church nie want liefdeloosheid, onvergewensgesindheid en bitterheid jeens medegelowiges van ander kerke is beslis nie deel daarvan nie. Alleenlik ware wedergeboorte en ‘n vervulling met God se Gees van liefde (Rom 5 : 5), maak jou spontaan deel daarvan (1 Kor 12 : 12-27).
Die vervolging waardeur miljoene Christene gedood was het ten goede meegewerk ten einde die evangelie van God se genade te versprei, net soos in die dae van die Apostels (Hand 8 : 1-8). As die Hugenote nie moes vlug vir hulle godsdiens nie sou die Evangelie ook nie na Suider Afrika gekom het nie. Die vervolging was ook ons Vader se metode om suiwering aan te bring (Dan 11 : 33-35).
Ons gemeente is dus nie beperk tot ‘n spesifieke dorp of stad nie, en ons het ook nie ‘n kerk naam of “Brand name” nie. Ons behoort aan dieselfde gemeente as dié waaraan Paulus en die ander Apostels, die dissipels, die heiliges, die gelowiges of watter naam daar ook al aan die kinders van God gegee was, in die dae van die eerste gemeente wat ontstaan het op Pinksterdag, behoort het. Ons is ook nie ‘n “No Name Brand” kerk nie, want dit is maar weer net nog ‘n kerk sonder ‘n naam. As die Heilige Gees nie ‘n openbaring vir jou gee met betrekking tot die Liggaam van Christus (Efes 1 : 22,23; 1Kor 12: 12-27; Rom 12 : 4, 5; Efes 5 : 30) nie, sal jy dit beslis nie met jou vleeslike of verstandelike denkvermoë kan begryp nie (1 Kor 2 : 9-16). Elke opregte, wedergebore, gelowige in Christus, ongeag in watter kerkgenootskap of denominasie hy/sy aanbid, is automaties deel van hierdie Liggaam van Christus. Jy kan nie daarby aansluit nie. Ook het dit nie ‘n aardse register nie. Jy word deur die Heilige Gees daar ingedoop (1 Kor 12 : 12-27). En dieselfde Gees vervul jou ook met die liefde van God vir alle ander gelowiges in al die kerke (Rom 5 : 5) ongeag hulle kerklike verbintenis, en vergifnis vir wat hulle ook gesondig het (Mark 11 : 25, 26), sonder om hulle verder te veroordeel (Rom 2 :1- 5; Luk 6 : 27-38). Ook die liefde om vir hulle te bid, al sou hulle van jou verskil en selfs teen jou sondig (1 Joh 5: 16).
As jy dus meer omtrent hierdie “Stilles in die Lande”, wat al deur die eeue heen die Liggaam van Christus op aarde was, wil weet, of as jy besef dat jy wel reeds deel daarvan is, laat gerus van jou hoor. Ons het egter nie tyd vir polimiek voer nie aangesien ons program reeds baie vol is. As jy dus verskil van oortuiging gaan bespreek dit met jou Vader in die hemel. Laat ons as Christendom nie mekaar oordeel nie maar liewer mekaar lief hê, vergewe en vir mekaar bid. Laat ons ook bid dat ons Vader die volle waarheid van Sy genade (1 Pet 5 : 12) aan alle gelowiges in Christus sal openbaar.
Deur die eeue het die “Stilles in die lande” deur baie vervolgings en selfs martelings gegaan. Tog het Jashuah Homself aan hulle geopenbaar in al hulle node. “In al hulle benoudhede was Hy benoud” (Jes 63 : 9). Maar nou gaan die môrester op in ons harte (2 Pet 1 : 19; Open 22 : 16) en ‘n lotsverandering gaan uit vir Sy kinders, die Stilles in die land. Lees Joël 2 : 18-32; Jes 40 : 1- 11. Die bestemde tyd het gekom dat God Sion genadig gaan wees (Ps 102 : 14-18) en dat ons uit ballingskap gaan terugkeer en oor ons vyande gaan triomfeer. In Dan 7 : 21-28 vind ons die profesie aangaande die “vierde dier” wat die heiliges van die Allerhoogste gaan mishandel totdat die gereg van God gaan sit en daar reg aan die volk van die heiliges sal geskied en hulle lot sal verander van die “verdruktes” tot “die heersers”. Hierdie “totdat” het nou aangebreek. Goeie nuus vir al die verdruktes, is dit nie?
Ons lewe in die tyd waarin Jashuah Homself gaan openbaar deur Sy liggaam, die liggaam wat die Vader vir Hom berei het (Heb 10 : 5; 1 Kor 12 : 12-27). Dit is die verborgenheid wat van eeue af verborge was naamlik dat die heidene deel van Sy liggaam is (Kol 1 : 24-29). Deur hierdie liggaam gaan Christus Homself openbaar, Hy gaan deur Sy liggaam verskyn (1 Kor 1 : 7; Tit 1 : 13). Dit is nou reeds besig om wêreldwyd plaas te vind en dit loop op na Sy verskyning op die wolke.
Eugenius en Ansie Houy

