082 852 0496

admin@stillesindieland.co.za

Inspirasies – Afrikaans

God hou alles in Sy hand

Terwyl my liewe vrou Ansie en ek vanaand hier voor ons hemelse Vader sit en wag op Hom vir ‘n woord van inspirasie en aanmoediging vir jou op hierdie “Weg”, het ons gevoel dat ons met jou enkele wonderlike, genadige ingrypinge van Jahweh in Knysna die afgelope week moet deel. Terwyl ons dit bid kom daar nog vier boodskappe deur van wonderbaarlike ontkome wat mense se lewens asook hulle eiendomme insluit. Hulle vertel hoedat hulle, toe hulle deur die vuurgloed en geweldige vlamme, aangedryf deur ‘n wind wat in dekades nie in die Kaap geken was nie, omring was, en hoe hulle tot God geroep het en Hom gesmeek het om genade en hoe Hy hulle gehoor het.

Berigte lui dat meer as honderd huise deur die vuur verwoes is. Ons het seker almal fotos en videos gesien van huise wat onaangeraak was deur die vuur terwyl ander rondom hulle totaal en al verwoes is. Enkele jare gelede met die tsunami in Thailand was ons getref deur ‘n enkele huis wat onaangetas bly staan het toe die geweldige waters, wat alles weggevee en meegesleur het, teruggetrek het. Ondenkbaar! Was dit spesiale gelowiges wat in daardie huisie gebly het? Ons weet nie maar een ding weet ons dat Jahweh alle dinge op aarde in Sy hand hou, mense, diere, huise, ja, alles. Daar was vroeëre jare ‘n liedjie wat nogal gewild was: “He’s got the whole world in His hands, His got the whole wide world in His hands”.  Jashuah sê in Open  1 : 17-18 : “ …Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk,  Ek leef tot in alle ewigheid. Amen.  En Ek het die sleutels van die doderyk en die dood”.

Dit beteken nie dat jy as opregte kind van God nooit jou huis sal verloor nie. Ons voorouers wat uit Frankryk moes vlug vir hulle geloof in Jashuah Messiah, het al hulle besittings daar moes agter laat. Talle was vooruitstrewende boere met die mooiste wingerd-plase, ander het besighede gehad, welvarende mens, maar hulle was deel van “Die stilles in die land” en daarom was hulle ongewenstes. Hulle was vervolg, en vermoor en moes vlug na verskillende lande. Ook hier by ons in Suid Afrika het hulle geland en in Franchoek gaan woon. Maar ook hier was Jahweh in totale beheer van alles en het Hy hulle nie verlaat nie. Ons is hulle nasate, en as ons in dieselfde, en selfs groter geloof met God wandel sal ons ervaar dat Hy ons nooi sal verlaat nie. Soos wat alles vir hulle ten goede meegewerk het (Rom 8 : 28), sal ons ook ervaar dat Hy ons nooit verlaat nie, of jy ervaar hoedat Hy jou huis en eiendomme bewaar, en of jy alles verloor, jy sal Hom nog steeds loof soos Heb 10: 32-34 sê: “…en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle ‘n beter en blywende besitting in die hemele het”. 1 Pet 4 :19 “ So laat ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade”. Een ding is seker naamlik, as jy op Jahweh vertrou sal jy nooit beskaamd staan tot in ewigheid nie (Ps 25 : 2-3; Ps 37 : 19; Ps 22 : 6)