INHOUD DEEL 3(4)
40. Agt trappies.
41. Die groot afval het nou gekom.
42. Laat My jou stem hoor.
43. Dit is volbring.
44. Die belangrikheid van die man en die vrou.
45. Die oorlog tussen man en vrou.
46. Ons moet gaan kyk hoe man/vrou gelyk het voor die Sondeval.
47. Die Beeld van die mens na die Sondeval.
48. Die groei tot ‘n “volwasse man”.
49. Man,is die vrou van jou netso kosbaar as vir Jashuah?
40. Agt Trapies
In Eseg 40: 34-37 lees ons van die Nuwe tempel se “Agt trappies”. In Hoofstuk 7 het ons in vers 26 van “Sewe Trappies” gelees. Dit het as lewende woord tot my persoonlik gekom met betrekking tot my geestelike groei en die pad wat my Vader met my loop: ‘n pad wat nie altyd so gelyk is nie maar wel trap-vir-trap opgaan—al nader aan Jashuah, totdat “my lewe saam met Christus verborge is in God” (Kol 3: 4). Jy sal ook nog ervaar hoedat God se Gees jou met trappies al hoër op lei—al nader aan Hom. En die gebeure in Suid Afrika speel ‘n baie groot rol daarin.
Senekal, o, Senekal!
Vandag is dit die 16de Oktober 2020. Inderdaad ‘n groot datum wat ons seker nooit sal vergeet nie! Die Boere trek op van heinde en verre na Senekal, die dorpie in die Vrystaat wat die afgelope tyd so in die nuus was. Verlede week het die boere opgetrek na die Landroshof daar toe die verdagte moordenaars van ‘n jong boer daar sou voorkom. ‘n Groot botsing het gevolg. En ‘n nog groter reaksie landwyd daarna! Eergister-aand het ek doodmoeg gaan slaap want van vroeg-oggend af stroom die “Whatsapps” in, talle raadgewers, woedende boere wat nou net wil oorlog maak—sommige met slegs “Video speletjies”ervaring van oorlog. Hulle dink onbewustelik dat, nadat die vyand hulle doodgeskiet het, hulle nog 7 lewens oor het soos by Video-speletjies. Ander bid en skryf mooi beloftes van die Vader en stuur dit aan. Die volk is duidelik in ‘n verwarring! Baie voel dat daar nou iets gedoen moet word. Salomo in sy wysheid waarsku: “Bedaardheid voorkom groot foute”. Daar mag dalk niks voortspruit uit dit wat vandag in Senekal gebeur nie, maar ook sal dié dorpie nooit vergeet word nie!
‘n Tweede Bloedrivier ? Daar is baie wat só voel. Tog kan dit nie nou gebeur nie want daar is ‘n groot verskil tussen Bloedrivier en Senekal. Toe die Boere (met ‘n Hoofletter gespel)—nie plaasboere nie maar die Boerevolk wat die nakomeling is van die Hugenote wat uit Frankryk, Nederland en ander Europese lande hierheen verhuis het omdat hulle moes vlug ter wille van hulle geloof . By die geval van Bloedrivier, toe die Boere leierloos was, het hulle ‘n brief geskrywe aan Andries Pretorius in Graaf Reinet met die versoek dat hy hulle sou kom lei in ‘n oorlog teen die vyand wat hulle lewe daagliks bedreig het met moorde en plaas aanvalle—soos die geval vandag weer is. Piet Retief (Van my Familie) was toe reeds vermoor en Manie Maritz was ook reeds dood . Daarom was hulle sonder leier. Andries Pretorius het toe ‘n brief terug geskrywe met 3 voorwaardes: Eerstens het hy gesê dat daar eenheid onder die burgers sal moet kom. Onthou dat daar hoofsaaklik 6 trekke uit die Kaap kolonie was toe hulle met hulle ossewaens die binneland ingetrek het. Waarom? Leierskap was altyd maar ‘n kwessie onder hardnekkiges!
Tweedens het Andries Pretorius gesê dat hulle ‘n verbond met God sou moes maak. Dit word vertel dat die burgers wat nie tot die verbond toegetree het nie, nie mag geskied het in die geveg nie. Hulle mog wel ander take verrig het maar kon nie skiet nie.
“Die vyand verdeel en dan heers hy” is ‘n ou gesegde. En wanneer daar nie ‘n sterk leier na vore treë nie, baklei swak leiers baie gou. Die verklaring hiervoor is dat ons God ‘n jaloerse God is (Exod 34: 14). Hy wil nie hê dat ‘n man/vrou wat Hom nie ken nie, dié volk wat Hy deur baie vervolgings uit Europa na hierdie gebied aan die Suidpunt van Afrika gelei het, sal lei nie! So’n leier sal Hom van naby moet ken en ook Sy stem moet ken. Enige goeie leier is nie goed genoeg vir ons God en Sy Seun, Jashuah—die Koning van die konings nie. Al kan daardie leier goed oorlog voer en ook goed organiseer soos Saul, is hy nie goed genoeg nie! Hy moet ‘n man wees na God se hart—soos koning Dawid. Lees wat die Woord van hom sê in Ps 89: 21-37. Let op wat God daarenteen sê van Saul— ‘n man wat volgens die mense ‘n goeie leier was, maar nie ‘n man na God se hart nie: “ Maar Samuel sê vir Saul: “Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. 14Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom ’n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.” (1 Samuel 13: 13-14).
Sal jy, as kind van God wat deur die Gees van God gelei word, kan optrek in ‘n oorlog terwyl jy goed weet dat jou leier nie die stem van God ken nie omdat hy nie na Sy woord kan luister nie? Lees eers die rede hiervoor in Joh 8: 42-47. Die kenmerk van ‘n kind van God is naamlik dat hy deur die Gees van God gelei word. Rom 8: 14 sê dit baie duidelik. Sal jy saam met só ‘n leier kan optrek terwyl jy weet dat daar manne saam met hom is vir wie hy nie liefhet nie—dat hy nie ‘n geheim daarvan maak dat hy in ‘n geveg situasie daardie mede-Boer eerste sal doodskiet, anders sal daardie Boer hom wil doodskiet? Sou God só ‘n leier oor “die volk wat Hy uit die heidene vir Sy Naam aangeneem het” (Hand 15: 14), aanstel. In Saul se geval was Saul deur God gesalf as koning, maar dit was ‘n koning na die volk se smaak. Lees hieroor in 1 Samuel 8: 2-7 en 1 Sam 9: 2.
Toe ek ook jare gelede opgeroep was vir militêre opleiding, was ons leiers meestal goddeloses. En ek moes dit so aanvaar en my aan my owerheid onderwerp (Rom 13: 1) en my opleiding doen soos ‘n goeie burger.
Jy sal vir my sê: “Maar nou roep jou mede-Afrikaner jou op. Gaan jy nie gehoor gee as hulle, al is hulle onbekeerde mense, jou hulp nodig het nie? Hierdie is tog ‘n tweede Bloedrivier!” Is dit regtig so? Is ons nou by ‘n tweede Bloedrivier? Miskien later maar nie nou nie! In Andries Pretorius se woorde: “daar sal eers eenheid onder die verdeelde burgers moet kom”. As jy wat dit vir my vra, die stem van God ken, sal jy weet dat Hy nou besig is met ‘n veel groter offensief in hierdie land en op hierdie aarde, as wat meeste mense besef! Dit is ‘n groter werk as om dié mense— nakomelinge van die Hugenote wat vir hulle geloof moes vlug— te beskerm, hulle en hulle eiendomme. Heb 10: 34: “Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in die hemele het”.
Ons voorouers het letterlik alles verlaat om hierheen te kom! Maar hulle het ‘n visie gehad van die hemel waarheen hulle op pad was. Jy moet een of ander tyd die hele Heb 11 deur lees. Is ons nou beter kinders van God as ons Hugenote voorouers, sodat ons nou lekker kan lewe sonder vervolging en verdrukking? Wagtende op die “Wegraping”—indien jy daaraan glo?
As daar nie ‘n Wegraping sal wees nie, het ons die lydsaamheid van Christus nodig soos Heb 10: 36 sê: “Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry”. Lees die volgende Skrifte oor LYDSAAMHEID : Rom 5: 3; Jak 1: 2-4. Ek noem weer dat dit Christus se lydsaamheid is wat ons nodig het. Open 3: 10: “Omdat jy die woord van My lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel”. Daarsonder gaan niemand dit maak nie. Dit is presies dieselfde lydsaamheid wat Christus by Sy Vader ontvang het teneinde deur Sy bittere lyding te kon gaan, wat deur die Heilige Gees in jou werk en daardeur jou die vermoë gee om te ly vir Hom—soos Hy gely het ter wille van jou. En ons sal moet beproef verklaar word hierin, anders sal ons omkom saam met baie wat gaan sterf oor die aarde. Ons geloof en lydsaamheid gaan nou reeds in ‘n toetsfase in hier in Suid Afrika. Soos wat ek hier sit en skryf kom Ansie kort-kort hier in met nog nuus oor Senekal—oor alles wat daar gebeur vandag. Niemand weet wat gaan gebeur nie, slegs God. Wat die uitslae van God se beproewing gaan wees, sal ons nog sien. Uiteindelik sal daar ‘n oorblyfsel wees. Dit klink tragies—en dit is ook so! Maar die Skrif moet vervul word dat daar ‘n onderskeid gaan kom tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie (Mal 3: 18). Wat gaan die bepalende faktor wees? Die gees wat in die mens is en heers! Of slegs die beïnvloeding deur ‘n goeie gees of die bose invloed deur ‘n onreine gees kom.
Let wel: Ek het reeds in vorige hoofstukke geskryf oor die afval wat moet kom. Lees weer 2 Thess 2: 3.
41. Die groot afval het nou gekom
Die groot afval het nou gekom (2 Thess 2: 3)—die onderskeid tussen die wat Hom dien en die wat Hom nie dien nie (Mal 3: 18). Ook tussen die wat Hom glo en die wat Hom nie glo nie (Luk 18: 8). Die gebeure nou in ons land: Die dreigende burgeroorlog en die gepaardgaande val van die ekonomie gaan ‘n groot rol speel in die afval. Diegene wat God glo en ‘n liefdesverhouding met Hom en Sy Seun het, sal nou duidelik onderskei word van hulle wat dit nie het nie. Die Amplified Bible noem dit: “The predicted great falling away of those who professed to be Christians”. Om die tye met oorwinning te slaag sal jou geloof op die proef gestel moet word. Ek het reeds vantevore geskryf oor “Die beproefdheid van jou geloof, wat baie kosbaarder is as goud…bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet 1: 7). Ek wil nie alles herhaal nie maar net jou geheue verfris: Jou geloof sal moet getoets word, en so ook jou vermoë om te ly—dus om deur swaarkry te kan gaan. Jashuah het juis te kenne gegee dat Hy wonder of Hy die geloof op die aarde sal vind by Sy terugkeer hierheen? (Luk 18: 8). Daar is massas Christene waarvan Jashuah sê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met hulle lippe, maar hulle hart is ver van My” (Mark 7: 6). As jy nou volgens die gedagtes van mense wandel en optreë, sal jy sneuwel (Jes 65: 2). Jy sal moet kan uitvind wat God se gedagtes vir jou is en beslis nie agter die mense aanloop nie! Ten einde die sleutel tot alle oorwinning, verlossing, beskerming en voorsiening te verkry, moet ek eers met jou die volgende deel:
42. Laat My jou stem hoor.
Waarom dink jy het Jashuah gesê dat die eerste gebod is om God lief te hê met jou hele hart, siel verstand en al jou krag. Mense bel my in hulle nood en vra dat ek vir hulle moet bid dat hulle gaan werk kry. Maar hulle het nog glad nie eers begin te soek na Jashuah nie, terwyl Hy gesê het: “Maar soek julle eerste die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal julle bygevoeg word” (Matt 6: 33). Hierdie uitspraak van Jashuah is maklik seker die mees revelusionêre woord in die Bybel! Terwyl ‘n man nie werk het nie— en daarom ook nie kos en klere vir hom en sy geliefdes kan koop nie—moet hy eerste Jashuah soek! Ja! Want Jahweh het gesê: “My knegte sal eet, maar julle sal honger ly”(Jes 65: 13). As 2/3 van die wêreld gaan sterf aan “…die swaard, hongersnood, pes en wilde diere…” (Eseg 14: 21), wat vrywaar jou daarvan? God het jou gered met ‘n ander doel as wat jy dink, naamlik om Hom lief te hê. En dit is Sy hoofdoel! Nie om jou uit benoudheid te red nie, en ook nie om jou eiendomme te beskerm nie of jou van brood en water te voorsien nie. Ja, Hy het belowe om die dinge vir jou te doen, maar, ek hoop dat jy nie vergeet het dat al God se beloftes in Christus vervul word nie.; Lees weer 2 Kor 1: 20. Ook sê Deut 30: 16: “Wat ek jou vandag beveel, is om die Here jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die Here jou God jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem”. —dit beteken al die seëninge wat in Deut 28 belowe word. Maar daar is voorwaardes aan al God se beloftes!
Elke dag begin ek meer en meer verstaan hoe belangrik dit vir God, ons Vader, is om met ons gemeenskap te hê, om ons stem te hoor wanneer ons Hom vertel hoe lief ons Hom het en wanneer ons sing tot eer van Sy Naam. Baie keer het Hy my op die Skrif laat oopslaan in Hoog 2:14 “My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans, laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor; want u stem is soet, en u gedaante is lieflik”. Dit het my jare geneem om uit te vind wat Hy eintlik vir my wil sê: Soos wat Hy in die aandwindjie met Adam en Eva gewandel het en met hulle innig verenig het, wil Hy ook met ons doen. Maar, iets het veroorsaak dat Hy dit nie meer met Adam en Eva kon doen nie: Hulle het in sonde geval deur te eet van die “Boom van kennis van goed en kwaad” Hierdeur kon hulle nie meer gemeenskap met God hê nie. En ook kon hulle nie meer gaan eet van die “Boom van die Lewe”(Gen 2: 9) nie. Dit was altyd daar vir hulle om vrylik van te eet, maar hulle het dit nie gedoen nie. Maar toe Satan kom en hulle ‘n aanbod kom maak om te eet van die “Verbode boom” se vrugte, het hulle geëet.
‘n Mens word sommer kwaad vir hulle! Hoe kon hulle al die tyd die boom van die lewe verontagsaam, maar die eet van die verbode vrugte aangryp? Hoe kon hulle? Wag, laat ons stadig wees met ons oordeel! Rom 2: 1 sê dat “Jy wat die ander oordeel, doen die selfde dinge” Ons doen dus dieselfde dinge as Adam en Eva: Ons laat na om die lewe te neem uit Jashuah se hand (Joh 5: 40) terwyl ons nie nalaat om van die Boom van Kennis van goed en kwaad te eet nie! Die ergste openbaring is dat, solank jy nog van die Boom van Kennis van goed en kwaad eet, jy nie by die Boom van die Lewe kan uitkom nie! (Gen 3: 22-24). Jy eet óf van die een óf van die ander, maar beslis nie gelyktydig van albei nie.
Dit is die moeite werd om nou te gaan naspeur waar die eet van die Boom van Kennis van goed en kwaad vandaan kom en hoe ons daarvan verlos kan word. En kom ons doen dit sommer nou:
Die eerste en belangrikste ding wat ons moet doen is om Hom te glo. Hy het ‘n groot leërmag teen ons land gestuur—al eeue gelede het “die Sprinkaan” se voorhoede hierheen getrek en ons voorouers het deeglik kennis geneem van die onmoontlike taak wat dit vir ons sou wees—ons wat Hy hierheen gestuur het om vir Hom ‘n volk hier te kom wees—om onsself hier te handhaaf. Miskien het ons voorouers nie besef dat die Sprinkaan God se leërmag is nie (Joël 2: 11, 25). Ook het hulle nie besef dat ons, en ook ons nageslag, baie naby aan God sal moet lewe sodat “die Sprinkaan” ons nie sal verswelg nie.
Wat sou God se doel met “die Sprinkaan” hier wees? Om ons los te maak van hierdie wêreldse, Babelse stelsel. “Gaan uit haar uit, My volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Open 18: 4). As ons tog maar onthou dat God Sy leermag— “die Sprinkaanswerm”— gestuur het met ‘n doel om ons nader aan Hom te bring (Joël 2: 11-17, vers 25). As ons ook nie vergeet dat Hy die “Nie-volk” stuur om hulle wat Hom terg deur ‘n “Nie-god” (Afgode), te straf nie. Moenie dit vergeet nie! (Deut 32: 21)
Nou wil hierdie volk iets doen want hulle voel dat ons nie so kan voortgaan om ons mense op die plase, en ook in die stede, te laat vermoor nie. Daar word nou oral georganiseer om Boere-magte op die been te bring teneinde onsself te beskerm. Dit is alles goed mits God saam met hulle uittrek. Om iets te doen uit die vlees kan nie die seën van Jahweh dra nie. Die vlees kan God nie behaag nie al is die doel hoe goed! Toe die mense vir Jashuah gevra het: “Wat moet ons doen om die werke van God te volbring”(Joh 6: 28) was Sy antwoord: “Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het”. Glo jy Hom? Glo jy alles wat Hy jou vertel het? Glo jy Sy woord? Gehoorsaam jy Sy Woord? Nee? Dan is jy nou by die kern van die probleem van ons volk! En dan weet jy ook nou waarom die Sprinkaan jou oeste verteer. 2 Kron 7: 13 “As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees”.
As jy sou uittrek in die oorlog, of in die kleinste patrollie, sonder dat God jou so ‘n opdrag gee, trek jy dan beslis nie uit in die geloof in Sy woord nie. “En alles wat nie uit die geloof is nie is sonde” ( Rom 14: 23). As jy volgens jou eie gedagtes optreë sal jy sneuwel: Lees (Jes 65: 2) . Moses het nie kans gesien om op te trek as die Here nie saam met Hom optrek nie.
Ek herhaal enkele belangrike dinge wat ek reeds gesê het in vorige hoofstukke:
43. “Dit is volbring”
Lees nou eers hierdie baie kosbare oomblik in Jashuah se verlossingswerk: In Johannes 19: 28-30 “Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors! 29En daar het ’n kan vol asyn gestaan; en hulle het ’n spons met asyn gevul en op ’n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee”.
Jy moet glo dat Jashuah jou reeds geregverdig het deur Sy sterwe aan die kruis en omdat Hy in die hel geboet het vir jou sondes. Jy is dus reeds ‘n regverdige, maar jy moet dit glo. Die woord wat Hy tot jou spreek het jou reeds geheilig—jy moet dit net glo. Jy het reeds die volheid in Hom—jy moet dit net glo. Want “DIT IS VOLBRING”
Omdat jy deur die bloed van Jashuah gereinig, geregverdig en geheilig is, is jy nie bang om te sterwe nie—jy is nie bang vir die dood nie! Omdat jy weet dat jy ‘n beter en blywende besitting in die hemele het (Heb 13: 34) is jy ook nie bang om jou besittings te verloor nie—mits dit God se wil is.
“Die stilles in die lande” gaan nou al meer gestalte verkry. Dit gaan deur die Gees van God kom. Tog sal Hy sekere faktore en gebeure in hierdie wêreld gebruik om dit tot stand te laat kom. ‘n Groot skrywer het gesê: ‘God silences man’. Hoe meer ons gaan probeer om iets te doen teneide hierdie leermag van sprinkane af te weer, hoe meer sal ons agterkom dat hierdie onheil van God kom (Jes 45: 7), en in waarheid nie ‘n onheil is nie maar ten goede meewerk vir ons as Sy seuns en dogters—“Die stilles in die land” (Rom 8: 28). Dan sal ons al stiller word en soos Dawid sê: “Ja, my siel is stil tot God, van Hom is my heil….Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting” (Ps 62: 2, 6). Het jou siel al stil geword voor God? Jy mag al stil geword het voor die mense—en dit is goed! Maar het jou siel al stil geword voor God? Het jy ‘n stille vertroue op Hom? Bid dat Hy dit vir jou sal doen want jy kan dit nie self doen nie. Baie mense praat nie veel nie, hulle is stil tipe mense. Maar in hulle siel is dit glad nie so stil nie—dit woel gedurig in hulle binneste. In hulle hart kritiseer hulle gedurig ander mense. En in hulle siel is daar storms van baie gedagtes! Hulle “Eie Ek” word gedurig verontreg—so dink hulle!
44. Die belangrikheid van die man en die vrou.
“Die stilles in die lande” is mense wat ‘n verskeidenheid van goddelike openbaringe op ‘n baie stil manier demonstreer. Ons sal nog by elkeen van hulle uitkom in hierdie reeks Hoofstukke. Maar by hierdie aansluiting moet ons praat oor die man en vrou se rol in God se koninkryk en hoe die stilles in die land dit gaan uitlewe.
Die beeld van God in ons: Elkeen van ons het ‘n prentjie in ons gedagte van hoe ‘n ware man en ‘n ideale vrou moet lyk. Maar die vraag is hoe sien God die man en die vrou? Beslis nie soos ons vandag lyk nie! As dit is hoe God ons wou hê toe Hy gesê het : “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Gen 1: 26), dan moet ek in alle nederigheid vra: Maar is dit soos God lyk? As ek na die massas mense kyk sien ek niks van God in hulle nie! Daar is wel in die Nuwe Testament, na Christus se sterwe en opstanding ‘n werking van die Heilige Gees aan die gang om ons aan Sy Beeld gelykvormig te maak, maar is ons al daar? Lees Rom 8: 29; 2 Kor 3: 18. Dan lees ons in 2 Kor 4: 4 dat dit die god van die wêreld is wat die sinne van die mens verblind het dat “die beeld van God nie op hulle sou skyn nie”. As jy dit lees verstaan jy beter! Die beeld van God sál nog in ons skyn as ons die woord in 2 Kor 3: 18 ernstig opneem en daarna soek om só in ons Vader en Sy Seun se teenwoordigheid te verkeer. Dan sal ons ‘n gedaante verandering ervaar sodat Sy beeld in ons sal skyn.
Heerskappy oor die skepping: Adam het geheers oor die skepping: “…en laat hulle heers oor die visse… en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen 1: 26-28). Adam was ‘n MAN! Hy het geheers oor die hele aarde, die hele skepping—die voëls, die diere die visse, ja oor alles. En hy het hulle hul name gegee. Lees gou net Gen 2: 4-25 dan verstaan jy alles beter. In die Psalms lees ons dat dit nog steeds God se plan is met ons, maar die tyd daarvoor is nog nie daar nie—of is die tyd reeds daar? Lees Heb 2: 5-9 en laat die Gees dit aan jou openbaar.
Ons moet nou eerste kyk na die tyd voor die Sondeval en dan die tyd daarna. Dit is die tyd waarin jy en ek nou lewe. Die mense vra vir Jashuah of dit reg is dat ‘n man sy vrou mag skei om enige rede. Lees Matt 19: 1-11. En dan vra hulle Hom waarom Moses hulle ‘n skeibrief gegee het as God dan nie wil hê dat hulle moet skei nie (Vers 6-7). En dan antwoord Hy hulle: “Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Ek vra jou of die mense se harte vandag nog steeds verhard is? Ja, beslis! Nog harder as altyd in die verlede! En daarom skei hulle nou nog meer as ooit vantevore! Byna 50% van alle huwelike in Suid Afrika eindig in die egskeidingshof. Talle van die mense was absoluut gekant teen egskeiding—soos ek self! En tog het hulle, of hulle kinders, eindelik ook geskei. Maar Jashuah sê dat dit in die begin nie so was nie. “In die begin” is die tyd voor “die Sondeval” toe daar nog geen sonde was nie. Dit is die tyd toe hulle nog nie van die “Boom van Kennis van goed en kwaad” geëet het nie—die boom wat God hulle verbied het om van te eet (Gen 2: 16-17).
“Die boom van kennis van goed en kwaad” (Gen 2: 9 ) kan ook vertaal word as “kennis van aanvaarbaar en onaanvaarbaar”. Die woord “kennis” kan ook vertaal word as “ervaring van”. Daardie sin kon ook gelees het “Die Boom van ervaring van wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is of wat goed of kwaad is”. As jy nou Gen 3 lees sal jy merk dat die Satan graag vir Adam en Eva iets wou laat eet of te wel: te laat ervaar. Toe Eva dit ervaar het wou sy ook graag dat Adam dit moes ervaar. : “en hy het geëet” (Vers 6). Ná hierdie eet van die verbode boom se vrugte het alles net afdraend gegaan. Sonde het tot die hele mensdom deurgedring tot op Noag. Toe was die verdorwenheid so groot dat God die toenmalige wêreld verwoes het (2 Pet 3: 6; Gen 6 en 7). Maar dit het nie die Boom van Kennis van goed en kwaad uitgewis nie. Direk na die Sondvloed het die mense maar weer voortgegaan met sonde doen. Lees wat die apostel Paulus hieroor sê in Rom 5: 12. Alle mense sondig nog steeds na die Sondvloed. Wat was dan die sin in die Sondvloed? Lees Gen 8: 21. Maar miskien wou God net die mens laat verstaan hoe Hy sonde haat, en dat daar weer een of ander tyd, ‘n oordeel oor die sondige wêreld sal kom (Matt 24: 37-44). Ook wou Hy ons dalk leer dat dit iets groter as die Sondvloed sal neem om die boom van kennis uit die mens te verwyder. Wat is die “iets groter”? Dit sal alleenlik die bloed van Jashuah kan doen!
Die bloed van Sy kruis alleen reinig van sonde! Die boom waaraan die oorsprong van sonde gedra was—en nog steeds is— kan alleenlik deur die versoenings-offer van Christus, waarvan Sy bloed die getuienis is voor die aangesig van God, gereinig word. Lees Heb 9: 22; 10: 29; 1 Pet 1: 18-19; 1 Joh 1: 7; Open 12: 11). Ek kan nie nou verder oor Sy bloed skryf nie, maar jy moet net weet dat daar nie ‘n ander manier is om van die “Boom van kennis van goed en kwaad” ontslae te raak nie.
Die gevolge van die eet van dié boom was verreikend—verder as wat ons kan besef. Daardeur het die Bose (Satan) toegang gekry tot die gees van die mens: ‘n groot verskeidenheid van bose geeste het die mensdom vervul. Talle van hulle se name is in die Bybel waarvan ek enkeles hier noem: ‘n Leuengees (2 Kron 18:21), ‘n gees van jaloersheid (Num 5: 14), ‘n gees van ‘n afgestorwene (Deut 18: 11), ‘n gees wat waarsê (Deut 18: 11; Hand 16: 16), ‘n gees van slawerny en ‘n gees van vreesagtigheid (2 Tim 1: 7), geeste van hoerery (Hos 4: 12; 5: 4) ens. Ek kan nog baie noem—daar is legio (Mark 5: 9). En aan die begin van die besetting en invloed deur bosegeeste kan dit minder erg wees as later. Lees Matt 12: 43-45. Hoe baie maal het ons ‘n stryd aan met mense om dan later te lees in Efes 6: 10-20 dat ons stryd eintlik nie teen ‘n mens is nie maar teen die gees/ geeste in hom of haar. Jy kan maar preek en baklei en vermaan maar dit help niks as daardie geeste nie uitgaan nie. Kan daardie persoon self, as hy besef dat daar sulke geeste in en deur hom werk, daarvan verlos raak? Ja, beslis, maar dan moet hy self na Jashuah toe kom vir verlossing. Dit help nie dat jy hulle probeer uitdryf as daardie persoon nie daarvan ontslae wil raak nie. Ek het jare gelede een dag na ‘n ou tannie se huis gegaan, en toe sy die deur oopmaak en sien dat dit ek is, wou sy my nie inlaat nie. Sy het gesê: “Gaan weg, jy wil hierdie gees in my uitdryf en ek wil dit nie hê nie!”. Sy is toe later oorlede en ek weet nie in wie daardie geeste in gevaar het nie. Lees Matt 8: 28-34. Dit is baie belangrik! En ook Matt 12: 43-45.
Tot vandag toe geld die woord in Efes 2: 1-2 dat dié mense wat nog nie in Christus is nie, maar in die wêreld, die gees van die wêreld in hulle het—dit is “die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”. Baie gou onderskei jy die Gees van Christus in iemand, of die vreemde gees wat van die “vreemde gode” af kom (Jer 5: 19 en 8: 19). Onthou dat agter elke afgod is daar ‘n bose gees of te wel ‘n duiwelse gees. Lees 1 Kor 10: 20. Ek het altyd gesê dat ek liewer bewus wil wees van Jashuah as van bose geeste. Maar ek kon hulle nie ignoreer nie! Slegs die gedagte dat al die geeste wat in Jashuah se tyd op aarde was (Matt 8: 16; Mark 1: 34) tog iewers weer ‘n tuiste moes kry, in mense of in diere (Matt 8: 30-31; Matt 12: 43). Dit laat my dink! Daardie geeste moet iewers in mense wees. Miskien het hulle nou net meer geleerde name wat sielkundiges aan hulle gegee het, maar dit is nog steeds geeste van duiwels of onreine geeste.
Die vreemde man en vrou
Die onreine geeste maak iemand vreemd vir mense wat die Gees van Christus het. Ook is hulle weer vreemd in God se koninkryk. “Vreemdelinge ten aansien van die verbonde” (Efes 2: 12). As jy die Heilige Gees het, sal jy gou die vreemdheid van iemand met ‘n onreine gees onderskei. Die vreemde geeste werk in al die nakomelinge van Eva en Adam. Na die sondeval het 4000 jaar verloop tot by die geboorte en kruisiging van Jashuah. Oor die doel waarmee God Sy Seun na hierdie wêreld gestuur het, kan boekdele geskryf word. Die Skrif noem Hom die “Tweede Adam” wat die beeld van die hemelse dra, net soos die “Eerste Adam” die beeld van die aardse gedra het. Lees 1Kor 15: 44-50. Hierdie aardse beeld wat die ongelowige, onwedergebore mens dra, is oorgeërf van Eva en daarna na Adam. Hier moet jy lees in Job 15: 14; Job 14; 4; Job 25: 4; Ps 51: 7; Gen 6: 5; Rom 5: 12. Daar is dus in alle mense, deur hulle ganse lewe, ‘n sonde-natuur. Dit kan alleenlik deur wedergeboorte in ‘n goddelike natuur verander word (2 Pet 1: 4). Die sonde-natuur is vreemd vir die wedergeborene, en die goddelike natuur is vreemd vir onwedergeborene. Wanneer die Skrif dus praat van die vreemde vrou verwys dit na die onwedergebore vrou—’n vrou wat vreemd is in die kring van die heiliges. Selfs ‘n vrou wat in die vlees optree is vreemd. Dieselfde geld vir ‘n vreemde man. Alhoewel die Skrif nie die term “vreemde man” gebruik nie, is die vreemdheid van ‘n man met ‘n “ander gees as die Gees van Christus” (2 Kor 11: 4) tog ook duidelik beskryf. Hierdie vreemde man of vrou kan een of baie geeste in hulle hê, soos Maria Magdalena uit wie Jashuah sewe duiwels uitgedrywe het. (Lees Mark 16: 9). Of Legio (Luk 8: 30). Hoeveel was daar in jou? Is almal nou uit? Hoeveel is in jou kinders, man , vrou? Dit is teen daardie geeste wat jou worstelstryd is (Efes 6: 10-20). Dit is hulle wat jou kind so vreemd laat optree—behalwe as jy self ook nog onwedergebore is. Dan is hulle optrede vir jou normaal en selfs oulik!
45. Die oorlog tussen man en vrou.
Daar is ‘n oorlog tussen mans en vroue reg van hulle geboorte af, en die oorlog word nou in die laaste dae al groter. As die man nie gaan MAN word soos God hom aanvanklik gemaak en bedoel het nie, gaan hy nog meer die geveg teen die vrou verloor. My vrou bid dikwels: Here laat my vrou wees soos U vrou wil hê. Dan bid ek: Here laat my Man wees soos U man wil hê—soos U bedoel het die man moet wees.
Die Afrikaanse digter, Jan F E Cilliers het gedig: “Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan, ek hou van ‘n arm wat ‘n slag kan slaan; ‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk: en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan”. Dis ‘n ou gedig en sekerlik aanvegbaar en betwisbaar in die lig van God se woord. Koning Dawid was nie so groot vorse man soos Saul nie, en in die oog van die mense sekerlik nie so aanskoulike koning nie (1 Sam 16: 11-12), maar hy was ‘n “Man” na God se hart—al het hy ook diep in sonde geval (2 Sam 11: 1-27)—was hy so berouvol (Ps 51: 6). Hy was baie bewus van die gevolge van die Sondeval waaronder hy ook gebuk moes gaan.
As jy vanmôre jou gees ‘n guns wil doen, lees dan 1 Sam 17, die hele hoofstuk. Ek het dit so pas gedoen en ek het in trane voor my Vader neergebuig en gesê: “Vader, Dawid was waarlik ‘n man na U hart, soos Hand 13: 22 ook sê”. Maak my ‘n man, nie soos die mense ‘n man sien nie, maar soos U dit aanvanklik beplan het, nog voor die Sondeval.
Ons moet besef dat ons manne deur die eeue so gewoond geword het aan die andersheid van die vrou, en so het die vroue ook gewoond geword aan die andersheid van die man, dat ons nie besef dat dit ‘n vreemde gees is wat die veroorsaak nie. Sekerlik is daar ‘n God-geskape verskil tussen ‘n man en ‘n vrou. Daardie verskil is mooi en deel van die Skepper se unieke plan. Maar daar is ‘n verskil wat Hy nie tussen die man en die vrou wil hê nie—’n verskil wat uit die Sondeval voortgespruit het. Dis ‘n vyandige verskil. Dis die verkeerde vreemdheid wat deur ‘n vreemde gees veroorsaak word. Die dag wanneer ons deur een Gees—die Heilige Gees— tot een liggaam gemaak is (1 Kor 12: 12-27), sal ons besef hoe verskillend ons was. As ons van EEN Gees deurdronge is en ons EEN van siel is soos Filip 1: 27 en 2: 2 sê, sal ons in daardie dag besef hoe verskillend ons werklik was: “ALLEENLIK, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie”… maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin”.Ook 1 Kor 1: 10 het ‘n sterk woord van vermaning met betrekking tot hierdie eenheid. Efes 2: 13-22 spreek oor die eenheid tussen die Jood en die heiden, maar dit is dieselfde “resep”vir die eenheid tussen die man en die vrou. Ek praat later weer daaroor.
46. Ons moet gaan kyk na hoe die man en die vrou gelyk het voor die Sondeval.
In Matt 19: 7-11 vra hulle vir Jashuah, nadat Hy gesê het dat “wat God saamgevoeg het geen mens mag skei nie” : “Waarom het Moses dan beveel om ‘n skeibrief te gee en van haar te skei? Sy antwoord was: “Omdat Moses weens die hardheid van julle harte jul toegelaat het om van julle vroue te skei…Maar van die begin was dit nie so nie” (Matt 19: 8). Die mense se harte is nog steeds verhard en daarom skei hulle. En om te skei is dan volgens die Wet nie verkeerd nie, want selfs die apostel Paulus sê: “As die ongelowige wil skei laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie” (1 Kor 7: 15).
Hoe was dit van die begin af? Hoe het die man gelyk voor die Sondeval, en hoe het sy vrou gelyk voor die Sondeval? Die gevolge van die sondeval het nog steeds sy weerklank gehad tot in die Nuwe Testament—en tot vandag toe, al wil baie mense dit nie erken nie. Die mense se harte is nog steeds verhard en daarom skei hulle. Al sê die Skrif in Gal 3: 28: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus”. Dit is nie wat Paulus hier bedoel nie want die Grieke en die Jode is duidelik nog twee nasies elkeen met sy eie identiteit tot vandag toe. Die Gees sê deur Paulus dat die Jood en die Griek dieselfde reg het op die saligheid in Christus (Rom 2: 9-10; Rom 3: 1-31). Maar in 1 Tim 2: 9-14 lees ons dat die feit dat die vrou eerste geval het voor Satan, nog steeds in ag geneem moet word. Daar is nog steeds ‘n beletsel teen die vrou—nie ‘n vloek soos sommige dit wil glo nie, maar ‘n beletsel—: “SO ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, 10maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke. 11Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. 12Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. 13Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. 14En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom”. Die gesagsverhouding tussen die man en die vrou word ook duidelik in 1 Kor 11: 1-12 uitgebeeld: “EN ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het. 3Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. 4Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan; 5maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is. 6Want as ’n vrou se hoof nie bedek is nie, laat sy dan ook haar hare afsny; maar as dit vir ’n vrou lelik is om haar hare af te sny of te skeer, laat sy haar hoof bedek. 7Want ’n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. 8Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. 9Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. 10Daarom moet die vrou ’n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele. 11En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie. 12Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God”. Ons moet net nie verkeerd verstaan nie naamlik dat die man nou—in sy sondige toestand—die beeld van Christus is nie. Nee, hy is veronderstel om só verander te word deur die Heilige Gees (2 Kor 3: 16-18) dat hy die beeld van Christus is. En die vrou is ook veronderstel om so verander te word dat sy die heerlikheid van die man is—dié man wat self ook die beeld en heerlikheid van Christus is (Vers 7). Die vrou is die “TV skerm” van die man: Die beeld en heerlikheid van God wat hy weerspieël, word weer deur die vrou weerspieël. Daarom kan ons gou sien hoe dit in ‘n huwelik gaan as daar geen heerlikheid deur die vrou skyn nie: Die verhouding tussen die man en Christus is nie reg nie, of die verhouding tussen die man en sy vrou is nie soos God dit wil hê nie. Hieroor kan ons ure lank debat voer. Maar waar God se heerlikheid is, daar is eenheid (Joh 17: 22).
Was die man voor die sondeval in ‘n gesagsposisie bo die vrou? As ons lees dat God gesê het: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas”— let op: Nie die man as hulp vir die vrou wat by haar pas nie. In vers 21 lees ons: “Toe het die Here God ’n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. 22En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou en bring haar na die mens 23Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem”.
God het blykbaar voor die Sondeval in hulle midde kom wandel en met hulle saam gekuier, maar toe hulle in die sonde geval het, het hulle skielik ‘n skuld- gevoel gehad wat toe veroorsaak het dat hulle hulself verberg het vir Hom: “En hulle het die stem van die Here God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die Here God tussen die bome van die tuin” (Gen 3: 8). Lees nou eers Gen 3: 9-24. Let op dat, omdat die vrou na die Satan geluister het en in die oortreding gekom het, soos 1 Tim 2: 14 ook sê, is daar ‘n straf op haar gelê: “16Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers” (Gen 3: 9-24).
Dit is seker een van die mees onpopulêre uitsprake van God in die Bybel! En dan moet ek die een wees wat die woord aan jou bring! Die vrouens gaan my haat, en in baie gevalle die mans ook. Terloops: Toe ek my nou voor my Vader neerbuig en Hom vra of ek oor hierdie onderwerp moet skryf, toe slaan ek die Skrif oop op 2 Kron 18: 12-13. Jy moet dit ook lees, gou lees, sodat as jy, of jou vrou, of jou kind dalk woedend word vir my oor hierdie woord, jy dan nie ‘n verontskuldiging voor God sal hê in die oordeelsdag nie! As ek maar kon vlug, sou ek dit gedoen het. Vandag is die vroue op pad na ‘n reuse oorwinning oor die manne. Hieroor hoef ek niks te sê nie. Jy weet goed dat die bemagtiging van die vrou een van die top prioriteite is in die wêreld!. So word die Skrif in Jes 3: 12 vervul: “Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak. Binnekort sal dit waarvoor die manne in Ester 1: 17-22 bevrees was, ook ‘n wêreld-tendens word—as dit nie alreeds die geval is nie!
Nou wil ek jou iets vertel wat met my in 1980 in Israel gebeur het: Vir etlike weke het die Vader my voorberei dat ek Sy stem só in my hart sal ken dat ek, sonder om die Skrif oop te slaan, Sy leiding sal kan volg. Een oggend vroeg het Hy my wakker gemaak en my gelei om klaar te maak en die eerste bus stad toe te haal. Die bus het met my deur die voorstede van Jerusalem gery totdat die Heilige Gees my gelei het om die klokkie te druk en af te klim. Hiervandaan het Hy my gelei, hier links en daar regs, totdat ek in ‘n vreemde gebou se gronde ingestap het. Hier het ‘n man by die trappe afgekom en gevra of hy my kan help. Ek het toe gesê dat ek nie weet waarvoor ek daar is nie. Hy vra my toe om saam te stap na die busstop, waar hy sy bus moes haal, want die bus was reeds aan die kom. Terwyl ons so stap vra hy vir my of ek al by die “Mount Zion Sisters” se dienste was. Hierop het ek “Ja”geantwoord. Terwyl hy in die bus inklim sê hy vir my: “Everything that could go wrong where a women rules, went wrong there!”. En met dié klim hy in die bus en ry weg! Vir oomblikke het ek verbaas stil gestaan en die bus agterna gekyk… en toe gesê: “Vader, is dit die eerste ding wat U my wou laat hoor vandat U gesê het dat U my deur U Gees gaan lei”? Hierdie Woord het my altyd bygebly! En die vroue heers reeds in hierdie wêreld. Al is Sy nie die Staatspresident nie is sy agter hom: “Agter elke man…” Soos ‘n vrou in ‘n vorige gemeente gesê het: “My man is die hoof van die huis maar ek is die nek, en ek draai hom net soos ek wil”.
As ek die toestand van die man vandag in oënskou neem, dan bid ek: Vader laat my sien hoe die MAN lyk wat U aanvanklik beplan het. As ek net eerste kan sien hoe Adam gelyk het voor die sondeval, en dan daarna hoe hy sou gelyk het lateraan, as hy nie na sy vrou geluister het en van die verbode vrugte geëet het nie.
Die duisternis is die wettige bewoner van die ruimte waar die lig nie skyn nie. Die “Vreemde vrou” is die wettige bewoner van die vrou wat nie vervul is met die Gees van die Bruid nie—dit is die Heilige Gees. En as God haar eenmaal gereinig het van die “Vreemde vrou”, en sy daarna weer die Vreemde vrou verwelkom het, is dit ‘n geval van “die gewaste sog wat in die modder gaan rol het” soos 2 Pet 2: 20-22 dit ook uitdruk. Daardie gees van die vreemde vrou gaan haal sewe ander erger as sy self en sê: “Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het…Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. So sal dit ook wees met hierdie bose geslag” (Matt 12: 43-45).
Hierdie “vreemde vrou” verag al God se uitsprake ten opsigte van haar verhouding met die man. In ander opsigte kan sy baie toegewyd God dien, maar daar is een opsig waarin sy nie kan buig nie, omdat sy steeds van die “Boom van kennis van goed en kwaad” WIL eet. Is dit so dat sy nie wil ophou om altyd beter te weet as die man nie? God het die mens reg van die skepping af ‘n vrye keuse gegee: Lees Gen 2: 16-17. Dus kan die vrou aanhou van die boom van kennis eet of God se verlossing deur die bloed van Jashuah aangryp om vry te kom daarvan. Eerste moet haar oë daarvoor oopgaan en sy moet toelaat dat die Heilige Gees haar oortuig van sonde (Joh 16: 8-10). Maar hierdie gees wat in die wêreld is, is sterk en weier om haar te laat gaan. Tog is haar Verlosser sterker, soos Jer 50: 33-34 sê —as sy net haar verlossing WIL aangryp en glo.
Maar die man is net so onder die mag van die “Vreemde vrou”. Ek weet hulle sal dit nie graag wil hoor nie, maar dit verander nie die werklikheid wat deur al die eeue ná die sondeval op hierdie aarde geheers het nie! Hoeveel manne het voor die vrou geval? Ek noem enkeles: Adam—soos jy reeds weet! En dan Abram. Lees wat Gen 15: 1-5; 16: 1-16 en Gal 4: 20-31sê. Simson (Rigt 14: 15-20. Agab (1 Kon 21: 7-29). Dawid (1 Sam 11: 1-4), Salomo (Neh 13: 26). Daar is nog talle ander. As ons besef dat Babilon—“die groot hoer” in Open 17: 1-7— is ‘n vorstin, en dat sy die hele wêreld verlei het met al haar hoerery deur haar koophandel. Sy is ‘n gebiedster (Jes 47: 1-7) wat die hele aarde gedikteer het deur duisende jare! Hier sal jy moet lees in Open 14: 8; Open 17: 1-7. Lees ook, as jy tyd het, hoofstuk 18 en 19. As jy nou gelees het in hoofstuk 18 waaruit Babilon se ryk bestaan het, kan dit jou nie verwonder dat sy so ‘n groot invloed op die mens—en veral die vrou—gehad het deur die eeue nie. Dit het al onder die manne ‘n slagspreuk geword: “Such is life to please your wife” en ook “Happy wife, happy life”. God wil hê dat die manne aan hulle vroue moet eer bewys (1 Pet 3: 7) en hulle liefhê, soos Christus die gemeente liefgehad het en homself daarvoor oorgegee het (Efes 5: 25). Maar God wil nie hê dat die vrou oor die man moet heers nie (1 Tim 2: 12-15).
47. Die Beeld van die mens na die Sondeval.
Dit word beskrywe in 1 Kor 15: 45-58: Hulle dra die beeld van die aardse—dit is die beeld van die eerste Adam. Daarom is ons Adamiërs genoem in die Hebreeus. Jashuah Messiah is die tweede Adam wat die werke van die eerste Adam tot niet kom maak het (1 Joh 3: 8). En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so is ons nou veronderstel om die beeld van die hemelse te dra. Lees weer 1Kor 15: 46-49. Maar die hele onwedergebore wêreld dra die beeld van die aardse—soos die gevalle Adam. En dit vanweë die gees van hierdie wêreld wat in hulle is. Satan is “die owerste van hierdie wêreld” (Joh 14: 30).
Efes 2: 2-3 noem hom “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees, toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het, en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander”. Eers as jy jou tot God bekeer en die woord van die kruis glo, en die sterwe met Christus werk in jou sodat jy ook die begrafnis met Hom meemaak, dan begin ‘n werking in jou—’n werking waardeur jy die beeld van die hemelse, die beeld van Christus begin deelagtig word. Dan kry jy ‘n nuwe natuur—die goddelike natuur. Maar dit gebeur eers as jy die verdorwenheid van hierdie wêreld ontvlug het. Nou moet jy eers 2 Pet 1: 3-4 lees en ek wag nou totdat jy dit gelees het. Terwyl ek wag, bid ek solank vir jou dat God jou oë vandag sal open om die waarheid te ken—mits jy natuurlik opreg is met God! As jy nie Sy wil van harte WIL doen nie, sal Hy vir jou niks kan doen nie. Dan sal jy maar met die ou Adam-natuur—die sondige natuur —bly voortlewe! Jy sal maar die beeld van die aardse dra tot die einde toe. Jy sal met die sonde-natuur voort lewe. Dan is jy een van die mense waarvan die Skrif spreek in 2 Kor 3: 14: “Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word”.
Lees nou weer 2 Kor 3: 15 “Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ’n bedekking oor hulle hart; 16maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weg geneem. 17Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 18En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is”. Jy sal nie die verlossing van die ou Adamiese mens deelagtig kan word sonder ‘n kragtige werking van die kruis nie. Die bedekking waarvan die Skrif hier praat is die Wet. Hy sê: “wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking wat in Christus vernietg word” (Vers 14). Ek wil herhaal wat ek soveel kere al gesê het naamlik: Die Wet waarna hier verwys word is nie slegs die wet van Moses nie, maar dit is jou eie wette waarvolgens jy lewe—enige beginsels waarvolgens jy lewe, behalwe die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus (Rom 8: 1-2). Dit is hierdie wet, en hierdie wet alleen wat jou vry maak van “die wet van die sonde en die dood” asook van alle ander wette—veral jou eie wet (Job 23: 12). Jy onthou seker nog dat die Woordeboek sê dat ‘n wet is “die reëls waarvolgens ‘n krag werk”. Die enigste reëls waarvolgens die krag van God in jou kan werk is “die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus” (Rom 8: 1-2). Geen ander reëls waarvolgens jy kan lewe is by God aanvaarbaar nie. Slegs die lewe van Sy Seun in jou kan Hom behaag. “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol 3: 4). En, Sy lewe word in jou openbaar slegs nadat jy met Hom gesterwe het (2 Tim 2: 11).
Die beeld van die mens in die tweede Adam (Christus)
Die tweede Adam is Christus. “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping” (Kol 1: 15). Namate Hy in en deur jou begin verskyn, begin jy die Beeld van die tweede Adam dra. Die ou sonde-natuur moet plek maak vir die Goddelike natuur: “en julle met die nuwe mens moet bekleë wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Efes 4: 24). Voordat dit egter sal gebeur moet jy “…die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed…” (Vers 22). Het jy dit al gedoen? Het jy dit al ervaar hoedat jy ‘n nuwe skepsel in Christus word? (2 Kor 5: 17). Was daar ‘n dag waarop jy in alle erns en in desperaatheid, omdat jy besef het dat jy nie uit jouself verlos kon word van die ou sondige natuur nie, jou tot God bekeer het? ‘N dag toe jy besef het dat jy jouself nie ‘n nuwe skepsel in Christus kan maak nie. Jy kan slegs die ou mens aflê deur dit te spreek en te glo. Jy kan ook slegs jou met die nuwe mens bekleë deur dit te spreek en te glo. Dit is mos wat Rom 10: 8-10 sê. Lees dit weer. Dit sal jou geloof versterk!
48. Die groei tot ‘n “volwasse man” (Efes 4: 13).
Wat is die maatstaf waarmee ons die man, soos God hom beplan het, kan meet? Waarmee kan ons die man vergelyk om te bepaal of hy aan die standaard van die ideale man voldoen? As die vrou wil bepaal hoeveel haar man al gegroei het, met wie sal sy hom kan vergelyk? Wie is die voorbeeld van die ideale man? Soos ‘n akteur hom in ‘n fliek gedra? Of soos ‘n vroue tydskrif hom beskrywe? Nee, ons kan nie met ‘n vleeslike maatstaf meet nie. Ons bespreek nou die statuur van die “man in Christus”, soos wat God die eerste Adam wou laat wees: “‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes 4: 13). Of was Adam dalk reeds so voor die Sondeval? Ons weet nie. Ons kan slegs maar daaroor peins en wonder. Maar wat ook al die geval mag wees, ek het ‘n oortuiging deur die Gees dat God Adam wou hê as: “‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” soos ek reeds hierbo uit die Skrif aangehaal het. Wanneer Jashuah kom sal ons aan Hom gelyk wees: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh 3:2). Dit beteken nie dat ons op dieselfde vlak van gesag sal wees met Christus nie. Alhoewel Hy sê dat Hy en Sy Vader een is, is Hy tog altyd aan Sy Vader onderworpe. 1 Kor 15: 24-28: “ Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees”.
As die man begeer dat die Seun van die mens in hom verheerlik moet word (Joh 12: 23), sal hy moet ophou om hom te verknies oor die vrou wat op die oomblik in ‘n gevalle toestand is—net soos Eva. Hy sal moet bewus word daarvan dat hy in dieselfde gevalle toestand as Adam is—hy kan haar dus nie kritiseer of veroordeel nie! Om gedurig Eva te beskuldig sal niks help om hom uit sy sondeval te verlos nie. Lees eers Matt 7: 3-5 en let op dat jy nie die splinter uit jou vrou/man se oog kan haal terwyl jy die balk in jou oog het nie. Die balk is die reaksie op die ander een se sonde. Die splinter is klein in vergelyking met die balk. Byvoorbeeld: Jou vrou vra jou gedurig uit oor allerhande dinge, en dit laat jou woedend word. Haar splinter het nou ‘n balk by jou geword! Jy sal moet besef dat God die vrou se verlossing met behulp van die man wil bewerkstellig. Hy sal moet ‘n voorbidder—’n priester—vir haar word. Christus het wel reeds die oorwinning oor Satan behaal, maar daardie woord van oorwinning moet nog in die mens gestalte verkry. Daarvoor is Paulus in barensnood: “my kinders vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry” (Gal 4: 19). Die saad, wat die Woord is, moet soos die koringkorrel, eers in die grond val en sterf, anders sal daar niks van daardie Woord tot stand kom nie: Joh 12: 20-24: “EN daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid; 21hulle het na Filippus gegaan wat van Betsáida in Galiléa was, en hom gevra en gesê: My heer, ons wil Jesus graag sien. 22Filippus kom en sê dit vir Andréas, en Andréas en Filippus vertel dit weer aan Jesus. 23Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug”. Jashuah sê: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie verstrooi” (Luk 11: 23). Is jy ‘n bedienaar van die verborgenhede van God? (1 Pet 4: 1-2). Het jy al ‘n genadegawe van God ontvang? Dan moet jy andere daarmee dien, beginnende by jou vrou! 1 Pet 4: 10: “Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God”. Moenie vir haar begin preek nie, dit help niks. Maar as Christus voor haar oë afgebeeld word in jou lewe, sal Sy lewe deur jou straal na haar toe—soos ‘n TV—. Dit is my gebed vir myself en ook vir elke gelowige man! As Christus in só groot mate gestalte in ons mans kry, sal selfs die godsdienstige vroue moet erken dat Jashuah in ons lewe as Hy wat uit die dode opgestaan het.
Ek wil dit vanmôre benadruk: Jy sal niks regkry by jou vrou om haar van die “vreemde vrou” verlos te kry, as jy dink om dit deur ‘n gepreek te doen nie. Daar is slegs een oplossing: Ons manne sal eers verlos moet word van die gees van hierdie wêreld (Efes 2: 2) dit is die menslike natuur. Dan sal ons vervul moet word met die goddelike natuur (2 Pet 1: 4). Dit is die lewe van Christus wat deur ons stroom! Dan sal die vrou begin begeer om die Bruid van Christus te wees, as sy Christus as die Bruidegom, in ons aanskou!
Daar is ‘n baie belangrike profesie in Sag 12: 10-14. Die woord sê dat “die Gees van genade en smeking” uitgegiet sal word oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem. Terwyl hulle opsien in Hom wie hulle deursteek het, sal hulle rouklaag. As hulle dus besef dat dit hulle sondes is wat Hom gekruisig het. En dan sal hulle rouklaag: Die huis van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik (Vers 12). Die verlossings-werk wat by die manne moet plaasvind is anders as die van die vroue. Daarom moet die vroue afsonderlik van die manne begin bid, en die manne afsonderlik van die vroue. Ek weet nie hoe groot die behoefte by die vroue is om van die vreemde vrou ontslae te raak nie. Ek weet ook nie in hoe ‘n mate die manne besef dat hulle met net so groot behoefte aan verlossing van die eerste Adam sit, as wat die vrou ‘n behoefte het aan die verlossing van die vreemde vrou nie. Maar as jy dit besef, kom laat ons bid daarvoor!
Die Skrif sê dat daar in die gemeente verskillende bedieninge is “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes 4: 11-13). Kom ons bid ook dat dié bedieninge deur die Heilige Gees in elke gemeente oor die aarde—hoe klein ook al—sal funksioneer, sodat elke heilige sal kom tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus. Dit is die verskyning van Christus, deur Sy liggaam, in die gemeente. Dit is wat nou eerste moet gebeur. En ons sal moet bid daarvoor! Onophoudelik en volhardend bid. Amen!
49. Man, is die vrou vir jou net so kosbaar as wat sy vir Jashuah is?
In Handelinge 20: 28 groet die apostel Paulus vir die gemeente Efese se ouderlinge met die woorde: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur Sy eie bloed verkry het”. Of jy nou daarvan gaan hou of nie, maar hier kom God se Woord tot jou as man—of jy getroud is of nie—: Die Heilige Gees het jou as ‘n opsiener aangestel oor die vrou, ja, om as herder vir haar, as deel van die kudde van God, te versorg—die kudde wat Hy deur Sy eie bloed verkry het. Al is sy hoe selfstandig, hoe eiewys en parmantig, beterweterig en …wat ook al…jy is ‘n skuldenaar teenoor haar. Hoor wat sê Paulus: “Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ‘n skuldenaar”(Rom 1: 14). Dit is wat Hy bedoel met die woord in Efes 5: 23: “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam”. En “soos Hy is is jy ook in hierdie wêreld” (1 Joh 4: 17). Ons is deel van Sy liggaam (1 Kor 12: 12-27): “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; 29want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. 30Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efes 5: 28-30).
Maar as die vrou nie wil kom nie? Lees Gen 24: 1-8. Die vrou het—net soos die man—’n vrye WIL, en as sy nie GEWILLIG is om saam met die man deel te hê aan die sterwe, begrafnis en opstanding van Jashuah nie, sal sy nooit van die vreemde geeste ontslae kan raak nie. Sy sal ook nooit ophou om die vreemde gode (afgode) te aanbid nie. Jy onthou seker dat die grootste afgod is eiesinnigheid—dit beteken dat jy jou eie sin wil hê! 1 Sam 15: 22-23: “Daarop sê Samuel: Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp”.
Maar jy, man—getroud of nie getroud nie— moet verseker vervul word met God se liefde vir alle mense. Dit beteken dat jy ook die vrou in haar vervalle toestand moet liefhê, al werk die gees van die vreemde vrou deur haar. Al is sy nie jou vrou nie. Nogtans moet jy haar verlossing van God afbid, want jy is ‘n voorbidder! Jy moet nie vergeet dat jy ook in die sonde van Eva geval het nie. Soos wat jy vir jou eie verlossing bid moet jy ook vir haar doen. Jy is haar dit verskuldig (Rom 1: 14). Dit moet nie sommer ‘n terloopse gebedjie wees nie, NEE!, dit moet ‘n ernstige, vurige gebed (Jak 5: 16 ), word! Net soos God mense soek “wat Hom in gees en in waarheid aanbid” (Joh 4: 23-24).
Jy sal moet bid, baie ernstig bid, dat die “resep of formule” wat God ons gegee het in Efes 2: 1- 22, waardeur daar eenheid tussen die Jood en die heiden bewerkstellig word, ook hier tussen die man en die vrou eenheid sal bring. Die vyandskap sal nie ophou sonder die bloed van Jashuah en sonder Sy kruiswerking nie. Dit moet jy lees en veral let op verse 13-16. As jy nou terdeë daarop gelet het, en deur die Gees oortuig is dat dit die oplossing is—die enigste oplossing—dan kan jy bid dat die Vader jou sal vervul met dieselfde Gees van gebed wat daar in Jashuah was (Heb 5: 7), en nog steeds is (Heb 7: 25).
Ek moet nou met jou die wonderlike woord deel oor die ingaan en toetrede tot die nuwe en lewende weg wat Christus vir ons ingewy het toe die voorhangsel in die tempel geskeur het op die dag toe Hy gekruisig is (Luk 23: 45). Dit sal ek egter, as God dit toelaat, in ‘n volgende hoofstuk doen . Ook moet ek met jou deel wat God beplan het vir die vrou wat waarlik verlossing van hierdie vreemde vrou se gees WIL verkry: “Die Here het die woord laat hoor—die vroue wat die goeie tyding gebring het, was ’n groot skare” (Ps 68: 12). Bid solank asb. dat Vader my die woord sal gee. Amen!