INHOUD DEEL 3(5)
50. Iets Nuuts.
51. Laat ons toetree met ‘n waaragtige hart.
52. Meer omtrent die Bloed van Jashuah.
53. Die volheid van die heidene.
54. Wat die geskeurde voorhangsel beteken.
55. Die suurdeeg van die Fariseërs.
56. Die vrou se wonderlike plek in die plan van God.
57. Wat het die apostels gedoen terwyl hulle wag.
58. Iets nuuts op die aarde.
59. Die vroue wat die goeie boodskap gebring het.
50. Iets Nuuts
Ons vorder steeds nader na die “8ste Trappie”. Wat is die 8ste trappie? Dit is die vervulling met die Gees van God, die stroom van die opstandingslewe van Jashuah deur ons! Die eet van die Boom van die lewe (Gen 2: 9,16). Dus is die gerubs(engele) met vlammende swaard nie meer daar om die toegang tot die Boom van die Lewe te bewaak nie (Gen 3: 24).
Ons is besig om as voorbidders—of priesters— trappie-vir-trappie te klim in die voorhof van die huis van die Here, soos wat Eseg 40: 37 lees: “En sy voorportaal was na die buitenste voorhof toe; ook was daar palmbome op sy deurposte aan weerskante; en sy trap het agt trappies gehad. Ons weet reeds dat die Ou Testament skadubeelde of skaduwees bevat van Nuwe Testamentiese dinge. Lees Kol 2: 17 en Heb 10: 1. Dit is dus nie slegs ‘n geskiedenis-boek nie maar ‘n Boek propvol “Lewende Woorde” en waarskuwings aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor 10:11).
As jy dan die Skrifte wat ek hierbo genoem het nageslaan het, sal jy merk dat jy uit die Ou Testament lewensbelangrike woorde van jou Vader in die hemel kan verwag—woorde wat jou nou in hierdie dae sal deurdra gedurende hierdie tyd van nood en benoudheid wat oor ons land Suid Afrika kom. Dit geld woorde vir die man sowel as vir die vrou. Ek hoop dat jy die Skrifte reeds gelees het en dat jy nie die slegte gewoonte van lui mense gaan navolg om slegs hierdie “12 Hoofstukke”, wat ek soggens vanaf 3-uur sit en skrywe—vir jou geestelike behoud!— sal lees sonder om die Skrifte na te slaan nie. Ek wil dit weer noem dat ek op baie plekke slegs die Skrif-verwysing aanhaal en nie die Skrif uitskrywe nie ten einde tyd en werk te spaar. Om te tik is ‘n groot werk vir my, wat geen opleiding in dié rigting het nie. My dagtaak bestaan uit baie dinge en ook moet ek, by dit alles, hierdie woord by jou kry, soos my Vader my ‘n opdrag gegee het. Ek vra jou dus beleefd: Help my deur net die Skrifte na te slaan en te lees, dan hoef ek dit nie vir jou met ‘n lepeltjie te voer nie! Ek sê dit in ‘n gees van God se liefde!
Die woord wat ons lees in Eseg 40-48 met betrekking tot die land Israel se indeling en die huis van die Here daarin, vervul ons met ‘n verwagting van iets nuuts in die toekoms. Jahweh het gesê dat Hy iets nuuts gaan doen: “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. 19Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis” (Jes 43: 18-19). Die “iets nuuts” sluit ook ‘n besondere woord vir die vroue in: “Hoe lank sal jy bly aarsel, o afkerige dogter? Want die Here het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm” (Jer 31: 22).
Ek gaan eers aan die einde van hierdie hoofstuk oor hierdie wonderlike onderwerp skryf naamlik “Die vrou se plek in die plan van God op aarde”
In hierdie dae waarin ons moeg en sat is van nuus oor korrupsie, moord, verkragtings, huisbraak, motorskakings, grondvergrype—roof van mense se plase en huise… en wat nog alles— sal die ware kind van God sy oë opslaan na sy Vader toe en Sy aangesig soek! As ons ons oë op die golwe gaan vestig, gaan ons sink soos Petrus (Matt 14: 24-33)! In Openbaring sê Jashuah: “Kyk Ek maak alles nuut” (Open 21: 5) . Laat dit jou nie moed kry nie? Maar jy vra seker hoe jy, temidde van hierdie noodtoestand, by die ‘iets nuuts’ gaan uitkom? Jy sal die pad na die ‘iets nuuts’ moet loop. Maar eers moet jy die pad—of Weg— leer ken, sodat Jashuah vir jou kan sê: “Die weg ken julle… Ek is die Weg…” (Joh 14: 4-6). Hierdie is ‘n nuwe weg. Lees nou Hebreërs 10: 19-24.
As jy Jashuah Messiah waarlik leer ken het as jou Verlosser en Saligmaker, het jy reeds by die Weg uitgekom. Daarvoor loof en dank ons Hom. Maar om die pad verder te loop kom ons by ‘n nuwe deel van die weg—of pad—uit wat ons nog nie voorheen geloop het nie. Jy kan dus verklaar dat jy op die pad is, maar hoeveel het jy gevorder op die pad? Jy kan byvoorbeeld sê dat jy op pad is na die Kaap maar nog al die tyd stilstaan hier by die uitgang van die dorp Volksrust—nog 1600 km wat voorlê!
51. Laat ons toetree met ‘n waaragtige hart
Toe die voorhangsel geskeur het tydens Jashuah se kruisiging is die nuwe en lewende weg geopen waardeur ons nou moet ingaan! Lees nou eers Heb 10: 19-25. Wonderlik né? Kom ons probeer om vir ‘n oomblik ons oë af te wend van die afgryslikhede wat rondom ons plaasvind, en ons oë te “vestig op Jashuah, die Leidsman en Voleinder van die geloof wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” (Heb 12: 2). Kom ons lees nou weer Heb 10: 19-23: “TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21en ons ’n groot Priester oor die huis van God het, 22laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. 23Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou”.
As dit kom by toetree tot die nuwe en lewende weg is daar belangrike dinge wat jy in ag moet neem:
1 Vrymoedigheid
Eerstens moet ons, soos ek hierbo reeds gesê het, die vrymoedigheid hê om in te gaan op die nuwe en lewende weg (Heb 10: 19-20). Dit kan ons alleenlik verkry deur die bloed van Jashuah (Heb 10: 19). As jy sou dink dat dit nie so belangrik is om die vrymoedigheid te hê om in te gaan op die nuwe en lewende weg nie, dink weer as jy die volgende klaar gelees het: “Werp dan julle vrymoedigheid, wat ’n groot beloning het, nie weg nie” (Heb 10: 35). Hoop jy ook om eendag ‘n groot beloning by Jashuah te kan ontvang? Dan het jy vrymoedigheid nodig om in Sy heiligdom in te gaan op die nuwe en lewende weg. Let op: Die nuwe en lewende weg lei na die heiligdom van God toe. As jy Heb 9: 24 lees sal jy opmerk dat dit ‘n hemelse heiligdom is. Die vraag is of ons nou al, terwyl ons nog hier op aarde woon, in daardie heiligdom kan ingaan? Ek het iewers al daaroor geskrywe, maar ek kan nie onthou waar nie. Vergewe my dit tog asb.
Sodra jy probeer toetree tot hierdie nuwe en lewende weg wat na die hemelse heiligdom lei, sal jy dalk onvrymoedig wees om die te doen omdat die Satan jou sal aankla oor een of ander wetsoortreding (Sag 3: 1-2)—dit is iets wat jy volgens iemand se wette of reëls verkeerd gedoen het. Die bloed van Jashuah sal moet met jou gewete deel anders sal jy nooit in die heiligdom kom nie! Lees Heb 9: 9,14.
Jou onvermoë om die wet te hou laat jou gedurig skuldig voel en dit ontneem jou vrymoedigheid. As ek na die Wet verwys, verwys ek logies ook na jou eie pogings om God te behaag. ‘n Man sê vir my: Ek probeer reg doen maar kry dit nie reg nie. Paulus het met dieselfde probleem gesit as jy. Lees Rom 7: 19-21. Om te probeer bring jou nêrens. Jy moet vertrou op Jashuah wat in jou lewe. In Engels sê hulle: “Don’t try but trust”. Die bloed reinig jou van ‘n slegte gewete wat ontstaan uit jou mislukte pogings (Heb 9: 9,14). Deur die bloed alleen kan jy met vrymoedigheid op die nuwe en lewende weg toetree (Heb 10: 19)– nie deur die wetsonderhouding of eie pogings nie. Onthou Jashuah sê: “sonder My kan julle niks doen nie…”( Joh 15: 5). Maar as ek gewillig is om sy wil te doen, omdat ek Hom liefhet (Joh 14: 15)—selfs lus wees om Sy wil te doen (Ps 40: 9), dan sal Hy in my werk om te wil en te werk na Sy welbehae: “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil 2: 13).
Wat ‘n groot voorreg om nou reeds saam met Christus—of liewer in Hom—op die nuwe en lewende weg in die hemele te mag ingaan en saam te gaan sit in Sy teenwoordigheid. Lees weer Heb 12: 18-24; Efes 2: 4-6. Jy sal dalk nie nou lus voel vir só ‘n woord nie, omdat die nuus daagliks net onheil voorspel vir die Blanke in hierdie land. As die Demokrate in die VSA die verkiesing nou sou wen, sal ‘n groot vertroue, wat baie blankes in Suid Afrika gehad het op Donald Trump, dat hy hulp sou stuur vir ons, verlore wees. En omdat ons vertroue op die arm van die vlees is, sal dit dalk so gebeur dat die Demokrate die verkiesing gaan wen. Dit sal Amerika in ‘n sterk greep van die duistere magte laat beland soos nooit vantevore nie. Ook sal dit die hande van die meer Regse nasies in die wêreld verswak teenoor die meer linkse elemente wat al sterker die wêreld sal oorneem. Dit is maar my persoonlike mening en ek verklaar dit nie as ‘n Woord van God nie—soos Paulus ook sê in 1 Kor 7: 12.
Maar die Skrif sê duidelik dat ons nou, in hierdie laaste dae, swaar tye gaan belewe. Daarom is my raad aan jou: Soek die Here se aangesig NOU sodat jy Hom kan ken in die krag van Sy opstanding, dat jy Sy liefde en genade kan ervaar. Ook dat jy naby aan Hom sal lewe, elke dag! Dat jy nie, wanneer dit donker word oor hierdie wêreld, Hom dan eers skielik wil gaan soek nie (Jer 13: 16). Dan is dit dalk te laat! (Matt 25: 5-13). Tog is daar ‘n Skrif in Joël 2: 13-14 wat sê: “En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; 14wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat”. Maar as jy gaan uitstel tot op daardie dag en jou gerus stel dat jy Hom dan daardie dag sal smeek om genade, sal jy dalk beskaamd staan!
God het wel in sommige gevalle berou gekry wanneer Hy aanskou het in hoe groot nood Sy uitverkorenes was, en dan het Hy die onheil afgewend (Amos 7: 1-9; Jona 3: 10). Maar dan is daar die gevalle waar Hy sê: “Ek, die Here, het dit gespreek; dit kom, en Ek sal dit doen; Ek sal nie ophou nie en sal nie verskoon of berou hê nie; volgens jou wandel en jou handelinge sal hulle jou oordeel, spreek die Here Here” (Eseg 24: 14). Luister liewer na die woord in 2 Kor 6: 2: “Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil”. Vroeëre jare het ek ‘n werkgewer gehad wat ‘n bordjie op sy lessenaar gehad het wat lees: “DOEN dit NOU”. Heb 3: 7 sê ook: “Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie, soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie…”. Daarom gehoorsaam die opdrag van ons Vader nou toe Hy gesê het: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan” (Jes 26: 20). Baie gelowiges het hierdie Woord ontvang met die aankondiging van die Ingrendeling (Lockdown).
Daar is nog dinge wat jy in ag moet neem as jy wil toetree tot die nuwe en lewende weg— belangrike dinge:
2 Die bloed van Jashuah
Jy kan alleenlik ingaan deur die bloed van Jashuah (Heb 10: 19). Die bloed wat Hy aan die kruis gestort het was Sy bloed en ook ons s’n want Hy het Homself met ons in ons sondige toestand vereenselwig. Hy het Hom
vereenselwig met jou en my, dus “ek” geword—sondaar geword—alhoewel Hy geen sonde geken het nie (Heb 4: 15; 2 Kor 5: 21). God het vir Jashuah “sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom”. En dit terwyl Hy “geen sonde geken het nie” (2 Kor 5: 21). Wil jy dalk ook, soos ek, by hierdie Skrif-teks stilstaan en dit bedink en daaroor peins. Dan moet jy nie toelaat dat die gedurige Whatsapps en selfoon-boodskappe en brokkies nuus jou aandag aftrek nie. Jy moet bietjie wegstap uit die geselskap van mense en eenkant gaan om te peins. Verlede nag het ek gepeins oor peins. Dit klink snaaks né? Maar ons het waarlik tyd nodig om te peins oor die hele saak van God op hierdie aarde—nie ‘n vleeslike peins nie maar in die Gees. Ons moet God se beloftes oordink, en meer nog moet ons Hom en Sy Seun Jashuah oordink waar Hy sit aan die regterhand van Sy Vader om vir ons in te tree (Heb 7: 25). Probeer vroeër gaan slaap sodat jy vroeg in die môre in stilte, wanneer die ander mense nog slaap, kan peins oor ons Vader se wonderlike pad na Sy heiligdom toe: “Die nuwe en lewende weg deur die voorhangsel heen, dit is Sy vlees…” (Heb 10: 20).
Dié weg lei na die veiligste plek, die Rots waar jy kan gaan skuil (Ps 18: 3). Dis die plek by Hom op die Rots (Exod 33: 21). Dit is die Rots waar die lewende water uitvloei (1 Kor 10: 4). Waar Jashuah self die heiligdom is. Dan sal jy deur Sy Gees in staat gestel word om Jes 8: 11-14 prakties te lewe: “Want so het die Here met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde: 12Julle mag nie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. 13Die Here van die leërskare—Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees! 14Dan sal Hy vir julle ’n heiligdom wees, maar ’n klip waar ’n mens teen stamp en ’n rots waar ’n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ’n vangnet en ’n strik vir die inwoners van Jerusalem”.
Die Blankes in ons land maak hulle gereed vir ‘n groot vlug wanneer dit vir hulle te benoud gaan raak onder die verdrukking wat nou op pad is. Ek betwyfel dit glad nie dat ons Vader ons kan lei om iewers heen te vlug nie. Maar saam met wie vlug jy? “…saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep…” (2 Tim 2: 22)? Of saam met mense wat jou nie liefhet met God se liefde nie? Saam met mense wat nie met Sy Gees vervul is sodat hulle Sy stem duidelik ken nie (Rom 8: 14); na ‘n plek wat Hy nie uitgekies het nie? Voordat dié groot vlug gaan plaasvind moet jy tog seker maak dat jy Sy stem ken! Dalk wil Hy vir jou sê wat die profeet vir die koning van Israel gesê het: “Die man van God het dan aan die koning van Israel die volgende boodskap gestuur: “Pas op dat u nie na daardie plek toe optrek nie, want die Arameërs trek soontoe op.”(2 Kon 6: 9). Lees nou 2 Kron 25: 7-9 en besluit self of jy liewer deur mense se raad gelei wil word of deur God self. Is God in staat om jou te bewaar as jy op jou blyplek op Hom sit en wag—as Hy jou natuurlik so ‘n opdrag gee—en ervaar hoe Hy Sy woord in Ps 91: 7 vir jou vervul omdat jy in kinderlike eenvoud op Hom vertrou: “Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie”. Lees tog asseblief die hele Psalm. Ook Psalm 23. Maar jy moet dit doen tesame met ‘n ernstige, vurige gebed dat die Gees van God dit vir jou ‘n Lewende Woord sal maak!
3 Losgekoop uit jou ydele lewenswandel (1 Pet 1: 18-19)
Netsoos die volk, toe hulle uit Egipte getrek het, sekere voorbereidings moes maak vir die tog, is daar sekere dinge wat jy nie kan/mag met jou saamneem op die nuwe en lewende weg nie. Een hiervan is onvergewensgesindheid. Jy moet heel eerste almal wat teen jou of jou volk gesondig het vergewe—van harte vergewe! Lees Mark 11: 22-26: “Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. 23Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see—en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê. 24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry. 25En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. 26Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie”. As jy dan nou vir die Here gesê het, en dit waarlik bedoel het, dat jy almal wat teen jou gesondig het—en dalk nog steeds teen jou sondig—vergewe, kan ons verder gaan. Terloops: as jy dit met jou mond sê, al voel jy dit nie, maar jy sê dit, en jy glo dit soos Rom 10: 9-11 sê, dan reken God dit vir jou tot geregtigheid. Jy het dan van harte vergewe! Want jy wil! Maar as jy nie wil nie?
As jy nie wil nie?
Ek was verlede week 2 oggende om 3uur deur die Heilige Gees wakker gemaak om te bid en te skryf. Omdat ons die week bietjie verlof gehad het was ek lus om te rus. Ek het opgestaan maar weer terug in my bed geklim. Ek wou nie opstaan nie en ek wou ook nie soos Paulus sê: “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar” (1 Kor 9: 27) nie. Die volgende oggend het dieselfde gebeur—ek sê dit met skaamte. Maar die oggend daarna toe kon ek nie opstaan nie al wou ek ook! Ek het gehuil van die pyn en bely teenoor my Vader, nie slegs een maal nie. Hy het gesê: “Ek het jou vergewe maar ek gaan jou “dit ordelik voor oë stel” (Ps 50: 21). As jy gewillig is, maar swak soos die dissipels in Getsemané, is dit ‘n ander saak: “Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” ( Matt 26: 41).
As jy wel gewillig is om God se aangesig te soek maar jy is swak, sal Hy, as jy Hom in opregtheid smeek “…in jou werk om te wil en te werk na Sy welbehae” (Filip 2: 13) en jou laat opstaan. Bid Hom dus daarvoor dat Hy jou sal trek in Sy heiligdom in, voor Sy aangesig. Maar as jy te lui is, soos ek was, is dit ‘n erge saak.
Hoe skaam kry ek nou! Veral as ek dink hoe Jashuah in die nagte in verlate plekke gaan bid het vir my! Toe Sy dissipels gelê en slaap het, het Hy drie maal na hulle gegaan waar hulle veronderstel was om vir Hom te bid, en Hy het hulle aan die slaap gevind (Matt 26: 38-46). As ek dink hoe groot die nood is waarin die volk van God op hierdie aarde is, en ek slaap! Die afgelope dae is ek in pyn, baie erge pyn, en ek verdien dit! God is goed en getrou en regverdig! Ek verdien nie Sy liefde nie! En Hy het my verlede week gewaarsku, want Hy is getrou. Hy het my vergewe maar straf my nou ordentlik. Dan is ek so dankbaar dat Hy nie vir my gesê het: “Slaap maar voort en rus” nie (Vers 45) om dan maar iemand anders te vind om na die heidene te stuur. Ek wil liewer nie eers daaraan dink nie! Maar ek het vandag al gehuil en soveel kere vir my Vader gesê hoe spyt ek het. Hy het my vergewe maar moet my nog steeds straf, sodat ek dit nie so maklik weer sal doen nie.
52. Meer omtrent die bloed van Jashuah.
Jy het seker nog nie vergeet dat die Ou Testament talle “skadubeelde” bevat waardeur God aan ons Nuwe Testamentiese waarhede wil duidelik maak nie? Jy kan net om jou geheue te verfris weer lees in Heb 9: 9; 10: 1; Kol 2: 16-17; 1 Kor 10: 11. Lees nou eers Exod 12—Die hele Hoofstuk. Moet niks oorslaan nie, maar lees dit deeglik! Hierin lê daar ‘n groot en baie belangrike Woord vir jou:
Jy het mos nou Exod 12—die hele Hoofstuk gelees? Jy het mos niks oorgeslaan nie, maar dit deeglik en aandagtig gelees? Daar is soveel Nuwe Testamentiese boodskappe in hierdie gedeelte vir jou en my opgesluit! Hou jou hart oop hiervoor, want jy gaan dit nou nodig kry. Let veral op na die rol wat die bloed speel (Verse 7, 13) en ook die belangrikheid van die suurdeeg wat nie in die laer gevind mog word nie (Verse 17-19; Exod 13: 3). Later in die Nuwe Testament verwys die Heilige Gees na suurdeeg wat ’n tipe is van “…ondeug en boosheid…” (1 Kor 5: 6-8). In Gal 5: 9 verwys dit na die pogings deur wetsonderhouders om die wet—mense se eie pogings om deur werke God te behaag, in te voer. Ons skrywe later meer hieroor. Maar eerste nou oor die bloed van Jashuah en die onbeskryflike krag van God geleë in die bloed van Jashuah.
As daar nou in die VSA ‘n ander politieke party aan bewind kom, naamlik die Demokrate, sal ons vind dat die vyande van die Waarheid—en veral die waarheid omtrent die bloed van Jashuah, baie moed gaan kry. Die meeste Demokrate is ongelowiges in Christus. Hulle leiers ondersteun die Liberale bewegings in die wêreld en minag die Christus wat ons liefhet. Soos daar ook ‘n ander koning, wat Josef nie geken het nie, in Egipte opgestaan het (Exod 1: 8-13). Die Demokrasie gee die besluite in die wêreld oor in die hande van die massas in elke land. As die massas God gedien het sou Demokrasie ‘n wonderlike idiologie gewees het, maar nou is dit nie die geval nie: Demokrasie glo dat elke mens—of hy nou ‘n goddelose of regverdige is, het die reg om te stem vir die regering van daardie land. En as die goddelose vinnig genoeg aangeteel het, sodat die getalle oorwig by die stembus in hulle guns is, regeer die goddelose daardie land! As die regverdige sy oë uitvee, besluit die goddelose oor hom. Daardie ongelukkige gebeurtenis het oor die hele wêreld plaasgevind en die Skrif wat sê dat: “…die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Joh 5: 19) is al lankal vervul. Hulle haat die bloed van Jashuah en spot daarmee! Die oorwinning oor hierdie wêreld en sy owerste—Satan—kan jy alleenlik behaal deur die bloed van Jashua: “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie” (Open 12: 11). Terloops: Elkeen wat die Wegrapings teorie aanhang moet homself die vraag afvra: “Is dit nie dalk omdat ek my eie lewe liefhet dat ek wil weggeraap word voordat my lewe in gevaar gestel word nie”?
Op die 3de dag na Jashuah se kruisiging, toe Hy opgestaan het, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy vroeër sewe duiwels uitgedrywe het: “EN nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het” (Mark 16: 9). Hy het aan haar verskyn voordat Hy nog, as Hoëpriester, Sy bloed aan Sy Vader gaan vertoon het sodat die Vader Sy verlossings-werk aan die Kruis kon goedkeur en aanvaar. Daarom mag sy Hom nie aangeraak het nie. Hierdie kosbare gebeurtenis, wat slegs hierdie vrou kon beleef (Joh 20: 11-18), was ‘n werk wat Christus as Hoëpriester alleen kon doen—sonder toedoen van mensehande. Hy het die werk wat die hoëpriester in die Ou Testament eenmaal per jaar gedoen het om die volk se sondes te versoen (Heb 2: 17; Heb 9: 7-12), eens en vir altyd vir ons gedoen. Omdat dit ‘n volmaakte werk was hoef Hy dit nooit weer te doen nie. En jy en ek hoef dit ook nooit meer te doen nie. Deur dié een offer het Hy ons vir altyd gereinig en geheilig (Heb 10: 10-14). Let wel: Ek sou graag wou hê dat jy Hebreërs hoofstukke 9 en 10 ten volle lees. Dit sou nog beter wees as jy die hele boek Hebreërs lees. Maar, miskien het jy nie tyd daarvoor nie…?
Terug nou by dit wat met die slegte vrou, Maria Magdalena, vol bose geeste, gebeur het. Sy het Jashuah so lief gehad omdat haar sondes baie was. Was sy miskien die vrou waarvan ons in Lukas 7: 36-50 lees? Indien nie, is dieselfde woorde van Jashuah beslis op haar ook van toepassing: “Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief” (Vers 47).
Toe die hoëpriester in die OU Testament eenmaal per jaar ingegaan het in die Allerheiligste, mog hy nie ingaan sonder bloed nie—die bloed van ‘n rein dier. Dit was ‘n beeld van die Volmaakte wat nog sou kom in Christus. Jashuah het nie in ‘n onvolmaakte aardse heiligdom, wat deur die hande van mense gebou was, ingegaan nie, maar in ‘n volmaakte, dit is ‘n hemelse (Heb 9: 24). Ook nie met die bloed van diere nie maar met Sy eie bloed (Heb 9: 11-14). Op daardie stadium van die hoëpriester se werk mag geen ander mens by hom gewees het nie. Hy moes eers ‘n offer bring om homself te reinig, en toe met bloed (van ‘n dier) in die Allerheiligste ingaan. As sy offer nie aanvaar sou word deur God nie, sou hy sterwe en aan ‘n tou, wat aan hom vasgemaak was vir hierdie doel, deur die ander priesters buite die Allerheiligste uitgesleep word. Maria Magdalena was daarom ook nie toegelaat om Jashuah aan te raak terwyl Hy op pad was na Sy Vader met Sy eie bloed nie (Joh 20:17). Toe Hy hierdie werk klaar gedoen het, en die Vader Sy bloed aanvaar het, kon die mense Hom aanraak—ja, tot vandag toe! (Vers 27). Maar, ken jy die krag wat in die bloed van Jashuah opgesluit lê? Die dag as dit aan jou openbaar word deur die Heilige Gees, sal ‘n nuwe wêreld van oorwinning vir jou oopgaan! Begin nou reeds bid daarvoor en jou Vader sal, in Sy groot liefde en genade, dit aan jou openbaar.
Hier volg enkele waarhede met betrekking tot die bloed van Jashuah:
Eerstens word ons met God versoen deur die bloed van Jashuah. “Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God —26om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is” (Rom 3: 25).
Ons sondes word vergewe ter wille van Jashuah se bloed (Matt 26: 28). Daar het reg deur die Ou Testament geen vergifnis van sondes kon plaasvind sonder dat daar bloed voor vergiet was nie (Heb 9: 22)—die onvolmaakte bloed van diere wat die sondes slegs toegedek het totdat die volmaakte offer, naamlik Jashuah sou kom en Sy bloed sou uitgiet ter wille van die hele wêreld se sondes (1 Joh 2: 2). Sy bloed dek nie slegs ons sondes toe, soos die bloed van die diere in die Ou Testament nie, nee, dit was ons sondes weg! Dan is ons witter as die sneeu!
Dan word ons ook gereinig deur Sy bloed soos 1 Joh 1: 7 sê: “7Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde”. 1 Petrus 1: 15: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, 16omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. 17En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; 18omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos, 20wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil”
Ook word ons deur Sy bloed geheilig: Heb 13: 12 “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.
Dit is só belangrik dat dit in jou gees geopenbaar sal word deur die Heilige Gees, dat jy reeds deur die bloed van Jashuah gereinig en geheilig is—eens en vir altyd GEREINIG en GEHEILIG is.
Om te verduidelik waarom God bloed vereis ten einde die sondes te vergewe, is ‘n moeilike taak. Maar aanvaar dit as ‘n insetting van God. “Hy wat die bloed soek, dink aan hulle” (Ps 9: 13). In 1 Joh 1: 7 verklaar Hy dat die bloed van Jashuah ons reinig van alle sonde. Hier volg nou ‘n saak wat lig kan werp op dié vraagstuk:
Daar is, tot selfs in die Nuwe Testament waar die evangelie aan die heidene verkondig is,‘n verbod op die eet van bloed (Hand 15: 29). Lev 17: 10-16 verduidelik waarom ons nie bloed mag eet nie: “want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed…” Ons eet byna almal nog bloed want by die slaghuise waar ons vleis koop is daar bloed in die vleis. Almal, behalwe Muslims en Jode eet bloed—so glo hulle. Maar ek gee tog ag hierop en praat met my Vader daaroor want ek wil Hom graag in alles behaag. Bid jy maar ook daaroor en lees Lev: 17:10-16 weer. Lees ook Hand 15: 20-29 weer. As jy dit lees sal jy besef dat die verbod op die eet van bloed nie slegs ‘n Ou Testamentiese wet is nie, maar ook een van die enigste paar voorskrifte in die Nuwe Testament aan die gelowiges uit die heidene.
53. Die Volheid van die heidene
Van heidene gepraat, die volheid van die heidene moet eers ingaan in die koninkryk van Jashuah, voordat Sy heerlikheid oor Juda uitgestort sal kan word. So sê Romeine 11: 25. Dit is dan ook ‘n roeping en bediening waarvoor die Vader my geroep het naamlik om die evangelie aan die heidene te bring. Jy sal dadelik vir my vra: “Maar wie is nou eintlik die heidene?” Daar is baie sieninge ten opsigte van wie vandag die nakomelinge van Israel is. En wie is Juda? En dan: Wie is die heidene? Dit is ‘n baie belangrike saak om oor te bid—indien die Gees jou so sou lei. Maar miskien is dit belangriker om ernstig te begin bid dat die volheid van die heidene sal ingaan by God se genadedeur. Dit is ‘n haastige saak waaroor ons nou moet bid want in Romeine 9: 28 sê Hy dat Hy haastig is: “want Hy volbring ’n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here ’n saak wat verkort is, op die aarde sal doen”. Jashuah het reeds in Lukas 12: 49 gesê dat Hy wens dat die vuur, wat Hy op die aarde kom werp, al aangesteek was. Hy dui daardeur aan dat Hy haastig is om dinge afgehandel te kry. So is Hy ook haastig om die evangelie by die heidene uit te bring sodat elkeen wat wil, sal kan inkom in Sy koninkryk en deel kan word van die volk waarna Hy uitgesien het om hulle uit die heidene vir Sy Naam aan te neem (Hand 15: 14). God weet hoe na hierdie saak aan my hart lê. Ek is reeds besig om my gereed te maak om na Indië te vertrek sodra die verbod op vlugte daarheen opgehef word. Dit is nou reeds vir baie maande ‘n saak waaroor my Vader met my praat en ek sal bly wees as julle ewe ernstig vir ons sal bid om alle struikelblokke uit die weg te ruim.
Jy mag ook geen suurdeeg met jou op hierdie reis neem nie. Met die uittog uit Egipte was daar ‘n baie belangrike waarskuwing van God af dat hulle geen suurdeeg op hulle uittog mag saamneem nie. Ook mag daar geen suurdeeg by hulle in hulle tente gewees het nie. Lees weer Exod 12: 15-20.
In die dae van Jashuah het Hy Sy dissipels streng gewaarsku teen die suurdeeg van die Fariseërs. Hy het gesê dat dit “geveinsdheid” is (Luk 12: 1). Maar in Mattheus sê Hy dat die suurdeeg die leer van die Fariseërs is. Hulle was leraars van die wet van Moses (1 Tim 1: 7). Lees 1 Kor 5: 6-8. Hy sê hier dat die ou suurdeeg—die suurdeeg van ondeug en boosheid—moet uitgesuiwer word sodat ons ‘n nuwe deeg kan wees, “…want ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus”. Netsoos wat die koninkryk van God stil en ongemerk soos ‘n suurdeeg werk (Luk 13: 21), so werk Satan se koninkryk ook stil-stil soos ‘n suurdeeg: Jy onthou nog dat die woord “Wet” volgens die woordeboek beteken: “Die reëls waarvolgens ‘n krag werk”.
Enige reëls waarvolgens jy sou poog om God te behaag, is nie by God aanvaarbaar nie. Waarom is dit onaanvaarbaar by God? Omdat Hy weet dat niemand daardie wet kan hou nie. Daar is niks verkeerd met die wet nie (Rom 7: 12). Maar ons onvermoë om dit te hou is die probleem. Dit is dus ondoenbaar en daarom het Hy Sy Seun gestuur om dit te kom vervul (Doen) namens ons. Ja, selfs alle pogings om die wet van Moses, wat deur God gegee was, te hou, is nie by God aanvaarbaar nie weens die swakheid en onvermoë van ons as mense (Rom 8: 3). As jy nou, nadat Hy Sy Seun gestuur het om die wet namens ons te vervul, voortgaan om te poog om dit in jou eie krag te vervul, laster jy teen Jashuah. Jy maak God ‘n leuenaar in dit wat Hy gesê het naamlik dat niemand die wet kan hou nie. Jy wil nou wys dat jy dit kan hou! En gevolglik was Christus se sterwe dan onnodig! Let wel: Die wet het nie verval nie—dit was vervul in Christus (Matt 5: 17).
Die Wet was slegs gegee dat ons kon weet wat sonde is (Rom 7: 7) en wat die karakter van God behels, want die wet toon ons hoe heilig God is.
Die doel van die wet was ook om aan ons te toon dat ons dit nie kan onderhou nie (Gal 2: 16). Hier moet jy net Gal 3 lees! Asseblief! Hierin sal jy sien dat God deur die wet jou eintlik na Christus heen getug het (Vers 24). Die wet het ons getoon dat daar geen mens is wat deur enige wet—ook sy eie wette—God sal kan behaag nie. Slegs Christus kon God behaag want Hy was sondeloos en daarom die volmaakte vervuller van die wet namens ons. Daarom is Hy, en Hy alleen, ons geregtigheid (1 Kor 1: 30). Sy opstandingslewe in ons en deur ons alleen kan God behaag (Matt 3: 17). Hierdie opstandingslewe tree in werking wanneer jy aanvaar dat jy dood is vir jou pogings om die wet te hou. ‘n Dooie mens kan tog nie poog om ‘n wet te hou nie. Hy kan ook nie probeer om God te behaag nie, want hy is dood.
Die enigste wet wat by God aanvaarbaar is, is “die wet van die Gees, van die lewe in Christus Jashuah” (Rom 8: 1-2). Die krag waarvolgens God se geregtigheid in die mens werk is die krag van Christus in ons. Dit is die Gees van Christus wat in ons en deur ons werk. Hy, en Hy alleen, is ons instaatstelling om God te behaag. Jashuah sê dat “sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15: 5). Ook nie die wet vervul of Sy gebooie onderhou nie! Maar as ek gewillig is om Sy wil te doen, omdat ek Hom liefhet (Joh 14: 23)—nie slegs gewillig nie maar ook selfs lus wees om Sy wil te doen (Ps 40: 9), dan sal Hy in my werk om te wil en te werk na Sy welbehae (Fil 2;13). Geen eie pogings kan dit doen nie! Geen poging in ons eie krag kan dit doen nie! Slegs vertroue op Hom as my geregtigheid. Slegs die geloof in Sy woord dat Hy dit deur ons doen!
Laat dus niemand jou oordeel nie
As iemand jou dan oordeel met die maatstaf van enige wet, en jy jou laat oordeel, en jy probeer om daardie een te behaag deur beter te presteer, het jy jou weer onder die juk van diensbaarheid laat bring. Dit is wat in die gemeente van die Galasiërs gebeur het: Daar het Jode gekom wat gesê het dat hulle nog steeds die Joodse besnydenis moet onderhou—wat volgens die wet was. Lees nou Gal 6: 11-16 en daarna Paulus se vermaning dat hulle moet vasstaan in “die vryheid waarmee Christus hulle vrygemaak het en nie toelaat dat iemand hulle weer onder die juk van diensbaarheid” aan die wet bring nie (Gal 5: 1). Hy sê in Kol 2: 16 : “Laat niemand julle dan oordeel…”. In Rom 8: 33: “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.34Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree”. Solank iemand die genade van God aangryp, en Jashuah as Sy geregtigheid sien en glo, mag jy nie ‘n beskuldiging teen hom inbring nie. Ook nie hom oordeel nie, want dan is jy in die Satan se plek, hy wat die beskuldiger en “aanklaer van ons broeders” is (Open 12: 10). Dit is Satan en sy dissipels wat Jashuah aangeklae het met: “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterwe” (Joh 19: 7). Die wet het Hom dus gekruisig! En vandag is dit nog steeds die wet wat ons, Jashuah se volgelinge, laat kruisig. Soms is dit die wet van Moses, en soms die wet van kerke en godsdienstige organisasies, en soms is dit bloot die wet van mense—mense naby aan jou. Die goeie nuus is: As hulle jou kruisig is dit juis wat Christus in jou wil bereik! Dit is die sterwe en begrafnis met Christus wat God by ons wil bereik! Loof en dank Hom daarvoor want “as ons met Hom gesterf het sal ons ook met Hom lewe” (2 Tim 2: 11)
Hierbo het ek gesê dat as jy uit die slawerny van Egipte uittrek mag jy geen suurdeeg met jou saamneem nie. Ek praat nie van die suurdeeg wat in die brood is wat jy daagliks by die Supermark koop nie. Nee, ek praat van die suurdeeg waarna 1 Kor 5: 6-8 verwys: “Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? 7Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. 8Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid”. Het jy, toe jy die gedeelte gelees het oor die uittog, of Exodus uit Egipte, al die bepalings en reëls wat die volk voorgehou was, gelees? Dit was ‘n heilige tog—net soos die toetrede tot “die Nuwe en lewende weg wat Christus vir ons voorberei het deur die voorhangesel heen, dit is Sy vlees…” (Heb 10: 20). Dit is ‘n heilige toetrede, en ‘n heilige wandel op hierdie nuwe en lewende weg! Die natuurlike mens verstaan dit nie, soos 1 Kor 2:10-16 ook sê. Jy het waarlik ‘n indoping in Sy Gees nodig sodat jy dit sal kan verstaan (Vers 14-15). Dan sal jy ook in die Gees kan wandel (Gal 5: 16-18) op hierdie nuwe en lewende weg.
Die Heilige Gees alleen kan jou diep laat insien in ‘n ander wet: “…die volmaakte wet van die vryheid” (Jak 1: 25). Het jy al die woord in Rom 8: 21 ervaar in jou lewe? : “21in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”.
Wanneer jy die Heilige Gees gaan toelaat om jou diep te laat insien in die volmaakte wet van die vryheid, sal jy dit ervaar. Jak 1: 25: “25Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen”. Die wet van Moses en alle ander wette maak jou ‘n dienskneg—’n slaaf, maar die volmaakte wet van die vryheid breek alle kettings van slawerny. Hieroor kan ek nou nie verder skryf nie maar bid jou Vader dat Hy dit aan jou sal openbaar. Bid dat Hy jou sal toon van wie en van wat jy slaaf is. Dan bid jy Hom ook dat Hy jou die prys waardeur Hy jou vrygekoop het sal laat sien en besef. Lees 1 Kor 7: 23; 1 Pet 1: 17-19.
54. Wat die geskeurde voorhangsel beteken
As jy dus wil toetree tot hierdie nuwe en lewende weg deur die voorhangsel heen (Heb 10: 19-22), moet jy verstaan—ja, duidelik verstaan—wat die “geskeurde voorhangsel” (Matt 27: 51) beteken. Van die voorhangsel sê Hy: “…dit is Sy vlees…” (Heb 10: 20). Die verskeuring van Sy vlees was dus ook die verskeuring van òns vlees want Hy het gekom in “die gelykheid van die sondige vlees” (Rom 8: 3). En daardie vlees van ons het Hy kruis toe geneem en dit laat verskeur en tot niet laat maak. Sy bloed voor die troon van God getuig daarvan en is ook die bewys voor Satan dat daar met ons sondige vlees klaar gespeel is. Dit is afgehandel. “Dit is volbring” (Joh 19: 30). Ons moet dit egter net glo. Ons moet ook ‘n verwagting hê dat God se Gees dit prakties in ons sal laat gebeur. As ons dit glo sal God, ooreenkomstig Sy belofte in 2Thess 1: 11, “…alle werk van die geloof met krag volkome maak”
God wil hê dat ons uit hierdie wêreld moet uittrek: “Kom onder hulle uit…”
As jy nou die gedeelte lees in 2 Kor 6: 14-18 dan besef jy dat ons nie fisies uit hierdie wêreld kan uitkom nie—nie nou nie. Maar dat ons met ons hart daar moet uitkom is verseker! Ons is in die wêreld maar nie van die wêreld nie (Joh 15: 19; 17: 16) Dit kan jy alleenlik regkry as jy die dinge wat daarbo is bedink—daar waar Christus aan die regterhand van God sit (Kol 3: 2). Maar dit sal jy nie regkry as jy nie eers ‘n indoping in die liefde van Christus ervaar het nie. As jy Hom eers ontmoet het, sal jy Hom so liefkry dat jy gedurig aan Hom dink en na Hom verlang. Ek wonder of baie Christene van vandag al waarlik tot bekering gekom het? Maar God sy dank dat daar tog diegene is wat ‘n diep grondige bekering ervaar het. As jy jou waarlik van hierdie wêreld af weggekeer het na Christus toe met jou hele hart, omdat jy besef dat Hy alleen jou kan red van die ewige hel; sal jy voor Hom ween met berou oor al jou sondes. Dit omdat jy tot ‘n ware sondebesef gekom het. Ek begin al meer by hierdie basiese beginsels soek na die oorsaak van die geestelike toestand van hierdie Boerevolk van ons. Ek vra: Het hulle waarlik tot ‘n sondebesef gekom? Het hulle waarlik Jashuah as hulle enigste Verlosser gesien en aangeneem? Hulle hartgrondig tot Hom bekeer en Hom persoonlik ontmoet en lief gekry? Dan sal Hy vir hulle kosbaar word (1 Pet 2: 6-7). Dan sal Hý hulle kosbare skat word ( Matt 6: 19-21) en waar hulle skat is sal hulle hart ook wees.
Dan kan hulle sê: “Want ons burgerskap is in die hemele, vanwaar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Fil 3: 20). Dan is hulle vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld (1 Pet 2: 11; Heb 11: 13). Dan is hulle in die wêreld maar nie van die wêreld nie (Joh 17: 14). Maar as jy jou nie só hartgrondig tot Jashuah gekeer het en Hom lief gekry het sodat Hy vir jou kosbaar geword het nie, is Hy dan vir jou ‘n struikelblok! Ja, die Skrif sê so: “Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword; en: ’n Steen van aanstoot en ’n rots van struikeling —8vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is” (1 Pet 2: 7-8). Hoe vreeslik daardie woord ook mag wees, as jy nie deur die geloof geregverdig is nie, is Christus—daardie kosbare Steen—vir jou ‘n struikelblok. As jy nog moet probeer om God te behaag deur jou prestasies of goeie werke, is Christus vir jou ‘n struikelblok. Of, soos 1Pet 2: 7 sê: “‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling”.
Gemeenskap aan die verskeuring van Christus se vlees.
Jy sal ook eers gemeenskap moet hê aan die verskeuring van Christus se vlees—dit is die gemeenskap aan Sy sterwe. Onthou dat Hy in jóu vlees gekom het en in jóu vlees gebore is op hierdie aarde met die doel om daardie vlees van jou kruis toe te neem (Rom 8: 3) en te laat sterwe. Jy moet dit glo en aanvaar. Jy moet gewillig wees dat Hy met daardie vlees van jou kan deel deur wie Hy wil en wanneer Hy wil en soos Hy wil. Die vlees is “die natuurlike mens” waarvan 1 Kor 2: 14 praat. Die natuurlike mens is op sigself nie sonde nie maar solank jy nie die natuurlike mens geoffer het nie sal jy nooit ‘n geestelike mens kan word nie. Ook sal jy ‘n gedurige oorlog in jou binneste hê tussen die natuurlike en die geestelike—tussen die vlees en die Gees (Gal 5: 16-18). Daarom sal jy moet vry raak van die natuurlike mens wat soveel laste op jou lê deur sy verbintenis met mense, politiek, wêreldgebeure en alles wat die vlees en die natuurlike mens aangaan. Hierdie “vry raak” van die vlees of die “aflê” van die vlees is niks anders as die “verskeuring van die voorhangsel” nie.
Lees Gal 4: 20-31 en let op dat jy nooit geestelike offers sal kan bring (Rom 12: 1-2) as jy nie eers vir Ismael (die vlees) geoffer het nie. Jy sal ook nooit in die Gees kan wandel of in die Gees kan bid nie (Efes 6: 10; Judas 1: 20). Iemand het onlangs vir my gesê: “Die Here werk nou met my op ‘n manier waarvan ek nie hou nie”. Het jou ouers altyd met jou gewerk op ‘n manier waarvan jy hou? Het hulle jou “Eie Ek” probeer spaar? Ek hoop dat dit nie die geval was nie! En as dit wel die geval was, as hulle jou altyd saggies behandel het en jou jou sin gegee het, is ek jammer vir jou en jou ouers asook jou man/ vrou en almal met wie jou paaie gaan kruis. Jou ouers gaan nog baie skaam kry oor die groot mislukking wat hulle opvoeding in jou was. En vir jou sal die weg van die kruis baie pynliker wees as wat dit sou wees as jy streng gedisiplineer was en jy nooit jou eie sin gekry het nie.
55. Die suurdeeg van die Fariseërs beteken ook geveinsdheid.
Maar die suurdeeg van die Fariseërs beteken ook geveinsdheid—dit is om voor te gee wat jy nie is nie (Luk 12: 1). Hiervoor is daar ‘n goeie verduideliking in Matt 23: 1-39. Wanneer die mens nie ‘n nuwe skepsel geword het deur ware wedergeboorte nie (2 Kor 5: 17; Joh 3: 3-5), probeer hulle deur eie krag en goeie werke die indruk skep dat hulle wedergebore is: “Almal wat ’n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie” (Gal 6: 12). “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ’n nuwe skepsel” (Vers 15).
Jy kan dus nie die nuwe en lewende weg bewandel sonder wedergeboorte nie. En wedergeboorte kan jy nie naboots nie. Dit kom alleenlik deur die inwonende Christus in jou—deur die Gees van God se Seun (Rom 8: 15-17). Jy kan nie die verlossing deur die bloed van Christus naboots nie, ook nie die regverdigmaking en vervulling met die Heilige Gees nie. Jy mag poog om die indruk te skep by mense dat jy op die nuwe en lewende weg wandel, maar gou sal almal weet dat jy dit veins. Dit is toneelspel deur ‘n goeie akteur naamlik die Antichris en sy gees van misleiding. Vir jare al veins Christene die vervulling met die Heilige Gees, maar nou het die oomblik van waarheid aangebreek: as die stene waarmee hulle op die fondament (Christus) bou nie eg is nie sal dit die vuurproef van vervolging en verdrukking nie deurstaan nie (1 Kor 3: 9-16 Lees dit self). Toneelspel is oneg en sal die vuurproef nie deurstaan nie!
Het jy lus om God se werk te doen?
Ps 40: 9 “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.” Ons lewe nou in ‘n wêreld waarin min mense werklik lief is vir werk. Toe ek ‘n boemelaar gevra het waarom hy nie wil werk nie het hy geantwoord: “Werk maak ‘n mens moeg en ek wil nie moeg word nie!” Om te bid is waarlik harde werk. As die Heilige Gees nie in jou werk om te wil en te werk na Sy welbehae nie, sal jy altyd te moeg wees om te bid. Jy sal altyd ‘n verskoning hê. Dit is wat die Skrif bedoel met: “Die luiaard sê : Daar is ‘n leeu buitekant, ek kan in die middel van die strate gedood word!”(Spr 22: 13).
Ek het jou reeds vertel hoedat die Vader my getug het omdat ek te lui/moeg was om op te staan. Tog is ek nie lui van geaardheid nie. Maar my Vader soek by my nie die geringste vorm van luiheid nie. Wanneer ek in die oggend opstaan is dit nog pikdonker, maar die oomblik wat die dag breek—nog steeds eintlik donker—hoor ek die bye werk. Hoe kan hulle so vroeg opstaan? Hulle gaan slaap vroeg. Hulle het nie ‘n TV nie en ook nie elektriese ligte wat hulle dag veel langer rek as wat die Skepper dit bedoel het nie. Ek dink dat ek genoeg gesê het! As ek nog verder hieroor gaan praat sal ek vir my kry!
56. Die vrou se wonderlike plek in die plan van God op aarde.
Reg van die skepping van die mens het God ‘n plan gehad om vir die mens ‘n hulp te maak wat by hom sou pas—‘n pasmaat ter wille van die mens sodat hy nie alleen sou wees nie. Lees hierdie kort geskiedenis in Gen 2: 4-25. Dit is duidelik hieruit dat die vrou ter wille van die man geskape is soos 1 Kor 11: 8-9 ook sê: “Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. 9Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man”. Ter wille van die man se roeping en doel van God met hom in hierdie skepping? Ja, beslis, en om geen ander rede nie. God het die mens gemaak om te heers oor die hele skepping (Gen 1: 26-31) en die vrou moes vir hom ‘n hulp wees hiertoe—nie as ‘n medeheerser of gebiedster nie, maar as ‘n stille ondersteuning in gebed. Wanneer hierdie doel van God met die vrou tot die vroue se denke deurdring sal sy begin beweeg na die wonderlike plan wat God met haar gehad het, en nog steeds het. Maar ons moet nooit vergeet nie dat Satan se doel van die dag af dat hy uit die hemel gewerp is (Jes 14 : 12-13), was om God se planne in die wiele te ry en Hom te dwarsboom. In elke aspek van die Skepping het hy met sy bose magte probeer om die mensdom weg te lei van God se wil af. Sou die kroon van God se skepping dan nie ook deurloop nie? Ja, baie beslis! Dit sou Satan se grootste mikpunt wees: die verhouding tussen die man en die vrou! Sy doel sou ook sekerlik wees om die vrou nie toe te laat dat dit waarvoor God haar geskape het uit die ribbebeen van Adam, vervul word nie. Het hy daarin geslaag? Ja, met trane moet ek dit sê: Op baie subtiele wyse het die gees van die Antichris daarin geslaag om in die Christelike kerk “iets soortgelyks” te skep. Soortgelyk, maar nie dit wat God wil hê nie—nie die egte nie! Ek skrywe later meer hieroor.
Satan se eerste aanslag was op die vrou omdat hy geweet het dat sy die swakkere geslag is (1 Pet 3: 7) en ‘n makliker prooi is om te verlei. Adam sou sekerlik nie in God se woord getwyfel het nie. Hy sou vir Satan gesê het om te wyk soos wat Christus gedoen het toe hy Hom ook versoek het in die woestyn (Matt 4: 1-11). Maar die vrou se invloed op die man het vir Satan ‘n deurbraak gegee teneinde Adam in sonde te laat val. Daarom word dit tot in die Nuwe Testament teen die vrou gehou. As jy nou 1 Tim 2: 9-15 lees dan sien jy dat daar ‘n beletsel is teen die vrou—nie ‘n vloek nie.
Waarom sou God die vrou so ‘n geweldige invloed op die man gegee het? Dat sy hom in sonde in moes lei? Stellig nie! Maar dan moes Hy ‘n ander doel daarmee gehad het. Of was dit ‘n geval van: “Die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers” (Gen 4: 7). Was dit dalk so, omdat Eva vlees van sy vlees en been van sy been was (Gen 2: 23-24), dat, toe sy in die sonde geval het, sy Adam saam ingedompel het? Want duidelik hou God dit in die Nuwe Testament nog steeds teen die vrou (1 Tim 2: 9-15). Natuurlik sal elke vrou wat haar tot God bekeer vergifnis ontvang, maar die beletsel bly steeds daarin dat sy in gesagsverhouding onder die man staan in die gemeente. Nou moet jy eers lees in Efes 5: 22-33; 1Kor 11: 1-16; 1 Tim 2: 9-15; 1Pet 3: 1-7. Het jy dit gelees? Indien nie moet jy nie verder gaan met hierdie hoofstuk nie, maar dit eers lees anders sal jy nie dit wat ek verder hier skryf kan begryp nie.
Die vors Babel, wat een van die hoofvorste is onder Satan, het ‘n groot rol gespeel in die omverwerping van God se aanvanklike doel met die vrou as hulp vir die man. Die vrou moes die man help—nie bestuur nie maar help—om dit waarvoor God hom geskape het uit te voer. Maar toe het die Sondeval gekom en eers met die koms van Christus het God Sy aanvanklike doel, dat die mens moet heers oor die skepping, moontlik gemaak. Die Skrifte in Ps 8: 5-10; Heb 2: 5-9 is profetiese waarhede met betrekking tot die heerskappy oor die skepping waartoe God ons geroep het—ja, selfs in hierdie tyd waarin ons nou lewe. Maar later meer daaroor.
As God dan bedoel het dat die man oor die skepping moet heers, het die man se val voor Eva, wat op haar beurt voor Satan geval het, veroorsaak dat hy nie meer kan heers nie totdat….totdat die oorspronklike plan van God vervul word, naamlik dat die mens moet heers oor die skepping, in Christus—die tweede Adam. Dit sal ‘n wonderlike gebeurtenis wees! Paulus het vir die Korinthiers wat geheers het, maar nie op die regte manier nie, gesê: “Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!” (1 Kor 4: 8). Daar is baie mense in die Christendom wat graag heersers wil wees en almal wil manupileer onder die dekmantel dat hulle met die gesag van Christus optree, maar dit is nie Christus wat deur hulle heers nie. Dit is die vlees en mag dalk selfs die Antichris se gees wees. As ons heers soos Open 5: 10 sê, sal dit ‘n heerskappy wees van Christus deur ons—Sy Gees van liefde, vrede, geregtigheid, goddelike wysheid en die vrug wat Hy deur ons dra. As daar nog onvergewensgesindheid, liefdeloosheid, eiewysheid en sulke dinge is, is dit nie die wysheid en heerskappy “wat van bo kom” nie soos Jak 3: 13-18 ook sê. Dit wat van bo kom word beskrywe in Jes 32: 1: “KYK, ’n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg”. Maar wie regeer op hierdie oomblik op hierdie aarde? Ons weet dat God regeer en dat Hy alle mag in die hemel en op die aarde aan Sy Seun gegee het: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde” (Matt 28: 18). 1 Kor 15: 24-28: “Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Die heerskappy wat van Bo moet kom is niks anders as die beantwoording van ons gebed: “Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied op die aarde…” (Matt 6: 10) Volgens Daniël 2: 44 is dit die verwekking van die regering en heerskappy van die volk van die heiliges wat sal plaasvind “sonder die toedoen van mensehande”. Dit sal suiwer van Bo kom in antwoord op die gebed van die heiliges: “Laat U koninkryk kom!” Maar daardie gebed moet nie kom omdat ons die donkerte vrees nie. Ook nie omdat ons afgemat is deur die 4de Dier se verdrukking nie! Dit moet kom deur ‘n verlange daarna om ons Koning te sien van aangesig tot aangesig, omdat ons Hom liefhet. “Maar as iemand God liefhet, die word deur Hom geken” (1 Kor 8: 3)
Heb 2: 8-9 sê: “Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom (die mens) onderwerp is nie; 9maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak”. Hierdie onderwerping van alle dinge moet nog gebeur maar intussen moet ons aan God se regterhand sit in Jashuah (Efes 2: 6)—as deel van Sy liggaam, totdat Sy vyande ‘n voetbank van Sy voete gemaak is (Heb 10: 13). As ons dan nou moet wag totdat ons kan heers deur Christus, sal ons moet uitvind wat ons intussen te doen staan. Moet ons maar net wag vir die spesifieke tyd om aan te breek? Of moet ons intussen iets doen, is die vraag.
57. Wat het die Apostels gedoen terwyl hulle wag?
Twee duisend jaar gelede was Paulus en die ander apostels al besig om iets te doen. Hulle het opdragte aan die gemeentes gegee om hulle aan die gesag van voorgangers te onderwerp (Fil 2: 12; Heb 13: 17) sodat die eerste vlak van heerskappy al in plek sou kom. Hulle het ook opdragte gegee dat vroue hulle aan die manne moet onderwerp, en ook die kinders moes hulle onderwerp aan hulle ouers. Dit was eintlik die eerste vlak en die tweede vlak was in die gemeente. Hier moet jy waarlik eers lees in 1 Tim 3: 4-5. Die diensknegte moes hulle onderwerp aan hulle base en almal moes hulle onderwerp aan die owerheid. Ook moes almal hulle onderwerp aan God (Jak 4: 7). En alle gesag was gesien as gesag wat van God af kom: die verkeersman, die skoolhoof, onderwyser, hulle vader en moeder, voorgangers in die gemeente: “…want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is is deur God ingestel.”(Rom 13: 1).
Ek het hierbo gesê dat daar duidelike opdragte was met betrekking tot die onderwerping van die vroue aan die mans. Dit is die enkel opdrag wat deur die eeue baie kommentaar uitgelok het en ook baie betwis en bevraagteken was. Die rede? Die Satan wil dit wat hy reggekry het in die tuin van Eden, nou deurvoer tot die einde sodat hy daardeur Jashuah van Sy bruid kan beroof. Ook wil hy verhoed dat die man heers oor die skepping, soos God dit aanvanklik bedoel het. Satan wil hê dat vroue moet heers, soos wat reeds die geval is. Jes 3: 12 “Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak” . Hy wil hê dat hulle moet heers oor hulle mans, oor maatskappye, oor volkere as staatspresidente, ministers en wat nog? En dit is tragies maar waar dat sterk leiers ontbreek tussen die mans. Ook is dit so dat vroue baie knap bestuurders is. Maar dit is God se toegelate wil soos in die geval van Debora wat ‘n rigter in Israel was “omdat leiers ontbreek het in Israel”. Lees Rigters 5: 7. Wanneer God waarlik Sy vervalle volk weer gaan oprig sal ons manne sien soos wat ons nog nooit in ons lewens gesien het nie! En dan gaan ons ook die vrou sien in die heerlike rol en roeping waartoe God haar geroep het. Sy gaan die man beskerm deur haar gebed vir hom. Maar baie vroue ken nie die krag van gebed nie en daarom glo hulle ook nie dat hulle hul mans sal regkry deur gebed nie, Waarom dan so? Want “julle bid en ontvang nie omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jak 4: 2-3)
In Open 19: 7 sê die woord dat die vrou van die Lam haar gereed gemaak het. Ek het al talle egpare in die huwelik bevestig deur die jare. By meeste gevalle was die bruid laat en almal moes wag. Baie mense was ongeduldig en het hulle vervies, minwetend dat dit ‘n voorbeeld is van die bruilofsmaal van die Lam (Matt 22: 1-9; Matt 25: 1-13; Open 19: 7). Wat die woorde hierbo ook al mag beteken, een ding is seker naamlik dat die bruid gereed moet wees op die tyd van die bruilof. As jy opreg wandel met Jahweh sal Sy Gees jou oortuig dat die bruid haar gereed moet maak. As die aardse huwelik enigsins ‘n tipe of voorbeeld is van die hemelse, sal jy besef dat daar iets groot en ingrypend moet plaasvind by die aardse huwelik teneinde ‘n ware afbeelding van Christus en Sy bruid te vertoon.
Efesiers 5: 22-33 vergelyk die aardse verhouding tussen man en vrou met Christus en Sy gemeente. Lees dit nou eers sorgvuldig en biddend. Ervaar jy in jou gees dat die Heilige Gees jou oortuig dat daar iets vanBo af in jou verhouding met jou vrou/man/ metgesel sal moet plaasvind ten einde die verhouding van Christus met Sy bruid uit te beeld? Besef jy dat die eenheid waarvoor Jashuah gebid het—die eenheid tussen Hom en Sy Vader, wat ook tussen Hom en ons moet wees, ook tussen ons en ons vrouens moet wees? (Joh 17: 20-23 ; Efes 2: 14-16). Ek herhaal: Dieselfde eenheid wat tussen Jashuah en Sy Vader is, wil Hy ook tussen ons en Hom hê. Dan wil Hy ook dieselfde eenheid tussen Sy dissipels hê en ook tussen heilige manne en hulle heilige vroue. Dit is wat eenheid van gees en siel aan betref, of soos Fil 1: 27 dit uitdruk: “…dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie…”. Dan lees ons in Fil 2: 2 “…deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin”. Dit is dan die sin van Christus : “Maar julle het die sin van Christus” (1 Kor 2: 16). Luister na die woord in 1 Kor 1: 10 : “MAAR ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening”.
58. Iets nuuts op die aarde.
Die vrou sal die man beskerm. Hierdie woord in Jer 31: 22 het al baie vertolkings gehad. As jy vandag verskillende mense se opinie daaromtrent vra sal jy verbaas staan hoe elkeen dit sien: “Hoe lank sal jy bly aarsel, o afkerige dogter? Want die Here het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm (Jer 31: 22). Vrouens het al gesê dat die woord gee hulle die reg om enige vrou wat met hulle man lol se oë uit te krap! Maar wat beteken dit waarlik soos God dit bedoel het? Ek het talle verklarende boeke gaan naslaan en die meeste sê dat dit nie na ‘n man en sy vrou verwys nie maar na die vrou en die man in die volk van God. Die vrou wat “rondom die man is” beteken: “Sy omsirkel hom”. Die “iets nuuts” dui daarop dat dit nog nie voorheen so was nie. Dit dui op die vrou wat die man met haar gebed en roepe tot God vir die man, só ondersteun dat sy waarlik vir hom ‘n hulp is sodat hy die oorspronklike doel wat God met hom gehad het toe Hy hom geskape het, kan vervul. En dit is natuurlik om te heers oor die skepping. Die “Afrikaanse Verklarende Bybel” verklaar die betekenis van die woord “beskerm” uit die Hebreeuse taal met “’n intense omsirkeling”
As die gelowige vrou haar roeping en bediening ontdek in Christus, sal sy so ‘n krag word vir die man dat die man sy bediening en roeping sal kan uitlewe. Maar nou het die vyand ‘n klein klemverskuiwing ingewerk en die vrou laat voel dat sy die man se adviseur is—sy raadgewer en die een wat hom moet bestuur. Dit het in baie gevalle al daartoe gelei dat die vrou haar die reg toegeien het om die man te kritiseer, te manupileer en oor hom te heers. Eers was die verskynsel uit die kerke uitgehou maar eindelik het die vrou in die gemeente begin preek en heers—dit wat die woord duidelik gesê het dat dit nie mag gebeur nie. Die gesagsorde soos Paulus dit in 1Kor 11: 1-16 en 1 Kor 14: 34-36 voorhou, bestaan lankal nie meer nie.
Ek besef dat dit wat ek hier skryf ‘n hewige debat gaan uitlok maar doen jouself die guns en gaan praat met jou Vader daaroor. Vra jouself die vraag af, man, of jou vrou vir jou enigsins kan respek hê as priester van die huis? Nie dat dit jou, vrou, rede mag gee om hom te minag nie. Nee, as hy dit nie is nie, moet jy hom “intens omsirkel” met jou gebede en die beloftes wat jy by jou Vader kry vir hom— beloftes waarop jy staan en God gedurig herinner daaraan (Jes 62: 6). Dit bedoel nie dat jy gedurig hom moet vermaan, leer, bestraf en kritiseer nie! Luister na die woord in 1 Pet 3: 1: “ NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het”. As die vrou swakhede by die man sien, of selfs sondes wat hy doen, is haar eerste taak om vir hom te bid : “As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie” (1 Joh 5: 16). Is dit nie omdat ons nie meer glo in die onbeskryflike groot krag wat daar in gebed is dat die vrou maar die man wil reg preek, bestraf, vermaan en kritiseer nie? Johannes sê: “…en Hy sal hom die lewe gee…”. Vrou, Hy sal dus jou gebed beantwoord, al moet jy ook daarop wag met volharding (Hab 2: 3). Maar as jy hom oordeel oor sy verkeerde dade begeef jy jou op die “Aanklaer van die broeders” se terrein (Open 12: 10; Sag 3: 1). “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree” (Rom 8: 33-34). Dit is duidelik uit bostaande Skrifte dat die Satan die een is wat beskuldigings inbring teen die uitverkorenes van God! Jy wil tog nie seker ‘n medewerker van Satan wees nie! Of wil jy?
59. Die vroue wat die goeie boodskap gebring het.
Ps 68: 12: “Die vroue wat die goeie boodskap gebring het was ‘n groot skare” Daar is beslis ‘n groot en wonderlike taak vir die vroue wat wag daarop dat hulle oë sal oopgaan vir die verkeerde pad wat hulle gekies het. Die verkeerde pad? Ja, hulle wil heers oor die man en hulle wil daarom glad nie eers hoor van: “Jou man sal oor jou heers nie”.(Gen 3: 16). Maar hulle oë is blind vir die heerlike doel wat God met hulle as vroue het! As hulle dit eers ontdek het, gaan hulle dit verkondig met gejubel. Hulle gaan ‘n vrymaking ervaar wat hulle nooit geken het nie! Hoekom moet hulle vrygemaak word? Is hulle dan slawe?
Jy het nou baie om oor te gaan bid, en ek en my liefste vrou bid vir jou dat jy deel gaan wees van die “iets nuuts” wat ons Vader op hierdie aarde skape. Dan praat ons verder in die volgende hoofstuk oor hierdie groot en heerlike onderwerp. Bid solank daarvoor asb. Amen!