INHOUD DEEL 3(7)
77. Die Ewige Evangelie.
78. Maar ons sien Hom.
79. My heer, ons wil Jashuah graag sien.
80. Oordeel en kritiek.
81. Wie sal ons skei van die liefde van Christus.
82. Die wederoprigting van alle dinge.
83. Die Seuns van God.
84. Laat ons na die volmaaktheid voortgaan.
85. Die Eersgeboortereg in Christus.
86. Oordeel jy alles wat onvolmaak is?
87. Die opstanding.
88. ‘n Staf voor die aangesig van God in die nag.
77. Die Ewige Evangelie.
“6EN ek het ’n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ’n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.
7En hy het met ’n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het” (Open 14: 6-7).
Ons het by “Hoofstuk 12” aangekom en ons het die genade en die voorreg om te hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Open 2: 7: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is”. Gelukkig is jy as jy so ‘n oor het wat kan hoor en oë het wat kan sien. Matt 13: 13: “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 14En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Vers 15: Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. 16Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. 17Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie”. Gelukkig is jy as daar nog vir jou ‘n kans is om te hoor en te sien want vir baie is dit reeds te laat “Want die proef is gemaak” (Eseg 21: 13).
Wanneer jy nou terugkyk na die 11 Hoofstukke wat jy klaar gelees het, voel jy dat die Heilige Gees iets bereik in jou deur dit te lees? Het daardie “11 Hoofstukke” vrug gedra in jou geestelike lewe? Of gaan jy dit nou op jou rak neersit en voel dat jy eintlik bly is dat dit nou ook afgehandel is? Is daar darem iets wat in jou hart vasgesteek het—‘n blywende Lewende Woord? Is jy seker dat jy in die dae wat kom nie dalk spyt gaan kry dat daar nie meer dinge was wat in jou hart moes gelewe het nie? Gaan jy nie dalk ook een van hulle wees waarna die profeet Amos verwys in hoofstuk 8: 11 “Kyk, daar kom dae, spreek die Here Here, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor”. Vers12: “…maar hulle sal dit nie vind nie”. Dat dit dan dalk te laat sal wees want “die deur is gesluit” (Matt 25: 10). Gen 7: 16: “En die Here het agter hom toegesluit”? Toe Noag en sy gesin in die ark ingegaan het was die deur deur God gesluit. Die Skrif sê nie hoeveel mense by daardie deur geklop en gesoebat het dat Noag vir hulle tog moes oopmaak nie! Maar dit sê wel vir ons: “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het” (Luk 17: 26-27). En nou moet jy self die volgende Skrifgedeelte naslaan en lees—mits jy eers bid dat God jou hart sal voorberei daarvoor: 2 Petrus 2: 3-10.
Aan die begin van hierdie Hoofstuk 12 het ek Open 14: 6-7 aangehaal. Het dit jou ook in jou hart getref soos vir my? Toe die oordele van God oor die aarde en sy bewoners kom was daar ‘n engel wat deur die lug gevlieg het met “’n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke”. Daar was al baie oor hierdie Skrif geredeneer: Die groot vraag was altyd: Sal daar weer in die einde, wanneer God se oordele oor hierdie aarde en sy inwoners kom, nog ‘n geleentheid wees vir die mense om hulle te bekeer? Sal daardie ewige evangelie waarmee die engel deur die lug sal vlieg, slegs ‘n herinnering deur God wees om vir almal oor wie Sy toorn kom, persoonlik te sê: “Dit is hierdie evangelie wat jy verontagsaam het en daarom het My liefde waardeur ek jou wou red, nou in toorn en wraak verander”? Ek wil nie hier my mening gee nie, maar ek wil waarsku dat jy nie moet luister na die Satan wat “mensemoordenaar is van die begin af ” en ‘n leuenaar “omdat daar in hom geen waarheid is nie” (Joh 8: 44). Wat is die leuen wat hy jou wil vertel? Daar is baie leuens wat hy spreek maar een groot leuen waarvoor jy moet oppas is: “Daar is nog baie tyd en daar sal nog altyd vir jou ‘n geleentheid wees om jou tot God te bekeer”. Dit is nie waar nie! Daar sal ‘n tyd kom wanneer dit te laat sal wees, maar ek wil jou nie deur vrees skrik maak nie, ek wil jou liewer deur ons Vader se groot liefde trek tot binne-in Jashuah. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh 6: 44). Kol 3: 3 : “3Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God”. En dit is ook my ernstige gebed tot my God en Vader, in Jashuah se Naam, dat Hy jou sal trek “met koorde van liefde” totdat jy jouself verloor in Jashuah!!! (Hosea 11: 4).
Kan jy reeds na hierdie 11 Hoofstukke sê: “Ek het gegroei in my verhouding met my Vader en met Jashuah”. Ek persoonlik kan dit sê, en ek sien dit ook in heelparty andere se lewens, waarvoor ek my Vader dank.
Die Evangelie, die Blye Boodskap
Van alle goeie nuus wat ons gebring kan word— goeie nuus van watter aard ook al—is dit die beste nuus wat iemand my nog ooit gebring het! Dit is beter nuus as die van ‘n groot som geld wat ons geërf het—as dit ooit sou gebeur! Dit is die blye boodskap van ‘n rykdom wat nie met enige geld, goud of silwer, aardse skatte van watter aard ook al, vergelyk kan word nie. Dit is “die blye boodskap” (2 Thess 2: 13-14) van ‘n ewige verlossing uit die ewige verdoemenis in die hel! Dit is die goeie nuus dat ons die ewige lewe beërf het in Jashuah—heeltemal kosteloos en sonder om daarvoor te werk! Jy moet slegs na die skenker daarvan gaan en dit persoonlik by Hom gaan ontvang (Matt 11: 28). Ook moet jy dit sekerlik glo anders sal jy nie die moeite doen om na Hom toe te gaan daarvoor nie (Joh 5: 40; Mark 1: 15).
En as jy die evangelie glo is daar ‘n kragtige werking deur die Gees van God in jou aan die gang. God het belowe dat Hy elke werk van die geloof met krag volkome sal maak: “en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak…” (2 Thess 1: 11). Die evangelie is nie slegs die glo van ‘n ideologie nie. Nee, “dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo”. Ek wil dit herhaal: As jy die blye boodskap, die goeie nuus van die verlossing deur Jashuah se bloed, aanvaar en glo, is daar onmiddelik ‘n werking van Sy krag in jou aan die gang. Jy mag dit dalk nie dadelik voel nie, maar dit is daar want die mond van Jahweh het dit gespreek. Maar voordat jy die evangelie kan glo moet jy jou tot God wend en hierdie evangelie glo (Mark 1: 15).
78. Maar ons sien Hom.
Die Engelse Bybel sê in Jes 45: 22 : “Look to Me, and be saved, All you ends of the earth! For I am God, and there is no other”. Die Afrikaanse vertaling sê: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie”. Die Skrif sê dus dat dieselfde oomblik wat jy jou tot God wend en Hom aanskou jy gered word! Maar om Hom te aanskou behels ‘n definitiewe wilsbesluit en aksie van jou kant af. Jy moet jou eers afwend van al die dinge wat jy as uitkoms en oplossing gesien het in die verlede: “Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here Here: Bekeer julle en wend julle af van julle drekgode en wend julle aangesig af van al julle gruwels” (Eseg 14: 6). Dit is wat bekering beteken: Dit beteken om jou af te wend van alles wat God mishaag en jou tot Hom te wend as jou enigste geregtigheid (1 Kor 1: 30).
Heb 2: 8-9 “Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie 9maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak 10Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak”
Jashuah het in Joh 14: 16-19 gesê: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe”. Waarom kan die wêreld nie die Gees van die waarheid, die Trooster, ontvang nie? Jashuah sê vir ons waarom: Omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar omdat ons Jashuah sien, lewe ons siel, omdat Hy lewe. Sien jy Hom?
Die blote “sien”of “aanskou” van Jashuah laat Sy lewe in ons instroom. Om te glo dat jy saam met Hom gekruisig is en saam met Hom gesterwe het is absoluut belangrik. Om dan verder ook te glo dat jy saam met Hom begrawe is is nog net so belangrik. Maar die lewe van Jashuah sal jy nie ervaar voordat jy Hom aanskou en Hom sien nie. “Hom het God voorgestel in Sy bloed” (Rom 3: 25). As ons Hom dus aanskou, sien ons Hom eerstens in Sy bloed: “Daar is die Lam van God” (Joh 1: 36). Jy moet eers die Seun aanskou en dan in Hom glo teneinde die lewe te kan ontvang. Joh 6: 40: “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag”.
Ons wou altyd eerste glo, sonder dat ons Hom aanskou het, en ons kon dit net nooit regkry nie. Ons kon dit wel met die verstand glo, maar die geloof wat deur die liefde werk (Gal 5: 6)—die geloof wat die Heilige Gees in ons werk—het ontbreek. Waarom? Omdat ons nie eerste Jashuah aanskou het nie! 2 Kor 3: 17-18 “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 18En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is”. Verstaan jy watter rol die “aanskoue” of “sien” van Jashuah speel? En om Hom nie alleen in Sy bloed te aanskou nie maar ook in Sy heerlikheid. Sien jy Jashuah? Aanskou jy Hom wanneer jy voor Hom in gebed verkeer? Na Sy opstanding het Jashuah aan Sy dissipels verskyn en hulle Sy wonde getoon. Hy het vir Thomas gesê dat hy met sy vinger moet voel aan Sy (Jashuah) se wonde en sy hand in Sy sy moet steek, sodat hy kon glo. Thomas se aanskoue en ervaring het hom laat glo. Toe sê Jashuah aan hom: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het” (Joh 20: 29). Dié woord gee ons die indruk dat ons nie nodig het om eers te sien voordat ons glo nie: “sien is glo” sê die spreekwoord. Maar die Skrif sê vir ons dat ons moet glo sonder dat ons sien. Dit is waar! Maar nou het ons hier met ‘n heel dieper ervaring te doen as om Hom met ons fisiese oë te aanskou:
Kom ons lees weer Joh 6: 40: “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag”. In Jesaja is daar ‘n Woord wat sê: “Kyk na My en lewe”. Ek wil jou ‘n vraag vra in verband met jou gebedslewe: Wanneer jy stil word voor God, aanskou jy Hom, God jou Vader, met Sy Seun Jashuah aan Sy regterhand? Glo jy dat jy in Sy Seun aan Sy regterhand sit—saam met Jashuah en ook in Hom? Sien jy die hemelse skare van engele met luisteryke heerlikheid, lofsange en aanbidding van God? Sien jy jou in daardie oomblikke van gebed waar jy, in Jashuah, aan jou Vader se regterhand sit en jou verbly in Hom en Sy woorde? Dank jy Hom dan dat Hy jou dié besondere voorreg en genade gegee het toe Hy vir jou in Heb 12: 18-24 gesê het: “Want julle het nie gekom by ’n tasbare berg nie… 22Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, 23by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, 24en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel”.
As jy nou die gedeelte hierbo gelees het sal jy moontlik vir my sê: “Maar ek ervaar dit nie so as ek bid nie. Ek sien niks as ek bid nie. Ek sien nie Jashuah nie!” Tog sien jy baie ander dinge in jou verbeelding.
Graag wil ek jou ‘n vraag vra—‘n baie persoonlike vraag: Het jy al gesit en dagdroom of fantaseer oor ‘n meisie/ ‘n man. Jouself in sy/haar arms gesien en jou selfs verloor in daardie droom. Ja, as jy uit daardie droom wakker geskrik het, het jy tot jou skok agter gekom dat baie minute verby gesnel het terwyl jy in ‘n “ander wêreld” was. Daardie afdeling (of fakulteit) van jou siele- en geesteslewe moet nie slegs in menslike fantasiedrome gebruik word nie maar ook in jou liefdesgemeenskap met Jashuah en jou Vader. En, as jy so sit en peins en fantaseer hoe jy daardie oomblikke aan die voete van Jashuah neerval en Hom aanbid, is dit nie slegs ‘n heerlike droom nie maar werklikheid! Daardie denkbeeld is werklikheid!
Ons sing “Die Oorwinnings-lied” : “Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer…”. Sien jy dan, as jy dit sing, dit in jou gees? Of sing jy slegs maar dooie woorde? Is jou gebed ‘n heerlike ervaring waarby jy in jou verbeelding Jashuah aanskou? As jy dit regkry, sal jy wel later ‘n duideliker beeld van Jashuah en die Vader kry as jy bid! Dit sal dus groei in jou. Luister na die woorde van ‘n ou-ou lied:
“Soos Hy is sal ek my Heiland
Daar aanskou, wie kan besef,
My verrukking as ek Hom sien
Christus wat vir my wou sterf
(Koor) Soos Hy is sal ek Hom sien daar
Ver bo al die sterrelug
Soos Hy is in al Sy glorie
Sien ek daar Sy aangesig
Vaag kan ek Hom my nou voorstel
Maar die wolkies sal verdwyn
En die dag sal aanbreek
Waar Sy glorie helder skyn……..ens.
Maar, daar is ‘n ander vraag wat ek jou moet vra: Het jy tyd vir Jashuah in jou lewe? Of moet jy ook maar met skaamte “Nee” hierop antwoord? Jy het dalk tyd om te fantaseer en te droom oor ‘n vakansie, of dalk ‘n nuwe huis of motor, of oor ‘n nuwe romanse in jou lewe, maar oor Hom wat jou so liefhet het jy nie tyd om te dag-droom en te fantaseer nie! Ons lees in Gen 24: 63: “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld”. Dawid sê in Psalm 63: 7: “as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins”. Graag wil ek ‘n versoek tot jou rig: Sal jy asseblief Psalm 77 lees en dan let daarop hoeveel keer die Psalmis aanhaal hoe hy peins oor God?
As kinders het ons ‘n groot verbeelding gehad wanneer ons speel. Met stokkies, garetolletjies en visblikke het ons heerlik soet gespeel tot ons moeder ons in die aand ingeroep het om te kom bad! Ons het vir ons ‘n motor op die grond geteken met ‘n stok en op ‘n baksteen gesit en ons verbeel hoe ons met ons motor ry. Allerande geluide gemaak soos wat ons die ratte gewissel en versnel het. Ons het vêr gery. Kaap toe! Alles in ons verbeelding! Maar, vandag is dit nie meer so nie want al die speelgoed wat nou ingevoer word het geen verbeelding meer nodig nie. Ons arme kinders is grootliks verbeeldingloos en dit is nie hulle skuld nie en ook nie hulle ouers s’n nie, want by die vorige geslag was dit alreeds verlore! Die TV het grootliks bygedra tot hierdie opskorting van die mens se verbeelding-wêreld. Vroeëre jare, toe ons slegs ‘n radio gehad het, het ons die hele storie in ons verbeelding sien afspeel. Maar nou het jy nie meer verbeelding nodig nie. TV bied jou alles, maar daarsonder het ons verbeelding selfs by die lees van ‘n boek ‘n groot rol gespeel: Ons het, byvoorbeeld, in ons verbeelding gesien hoedat die ruiter met sy perd ry en hoedat die skurk hom voorlê tussen die struike. En dit het ons in ‘n spanning gesit sodat ons nie die boek kon neersit voordat ons die uitkoms van die storie geweet het nie.
Maar die moderne lewe het die beeld van Jashuah en Sy Vader nie sterker gemaak in ons gees nie. Eerder swakker! Ons oë aanskou duisende dinge waarvan ons vroëer nie eens geweet of gehoor het nie. Ontelbare indrukke stroom oomblik na oomblik in by ons oë en ore deur die sosiale media. En, of jy dit wil weet of nie, jou brein “Save” dit, en verwerk dit. Wat ‘n onbeskryflike rekenaar het die Skepper nie in jou ingebou nie? Maar hierdie “rekenaar” het ook sy beperkinge: Dit raak vol!
Maar as jy 1 Joh 5: 20 lees sal jy besef dat Hy jou dié “rekenaar” (verstand) gegee het om Hóm te ken: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe”. En dan gee die apostel goeie raad, ernstige advies en vermaning, in die volgende versie: “21My kinders, bewaar julleself van die afgode. Amen”.
Is dit nie juis die “afgodsbeelde” wat die denkbeeld van God in ons lewe uitwis nie? Is dit nie omdat ons oë na vreemde gode gewend is en na hulle stem luister, dat ons nie Jashuah kan aanskou en Sy stem hoor nie?
En, wat musiek aan betref, sê ons: “Maar ek luister Gospel”. Hoe seker is jy dat dit nie dalk die “ander Jesus is, die ander gees en die ander evangelie” is waarna 2 Kor 11: 3-4 verwys nie? “3Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval”.
Is ons nie dalk nou by die groot rede waarom jy nie die beeld van Christus en die Vader kan aanskou nie: “Beeldediens”—nie die beeld van Christus nie maar ander beelde, byvoorbeeld die beeld van die koning van Babel (Dan 3: 1-6)? Jy moet my duidelik verstaan: ek sê geensins dat alle Gospel sangers sonder die salwing van die Heilige Gees sing net ter wille van ‘n inkomste uit CD’s nie, maar daar is tog diesulkes. Om baie te luister hoe ander sing verhinder jou om self te sing tot eer van God. Baie heiliges is onvrymoedig om te sing omdat hulle bang is dat hulle vals sing. As jy egter wanneer jy alleen is, die Heilige Gees vertrou om jou te lei in lofsang, moet jy nie bekommerd wees oor vals sing nie. Jou Vader kyk na jou hart en nie hoe mooi jy sing nie! Dit tel miskien by ongelowige mense, maar nie by die kinders van God nie, en ook beslis nie by ons Vader nie. Sing dus in aanbidding, lof en blydskap, toewyding en eer aan God en aan Jashuah! Hy wag om jou stem te hoor (Hoog 2 : 14).
Ek persoonlik, asook baie ander gelowiges, ervaar ‘n groot drang om lofliedere tot eer van God te sing. Ek wil self sing soos Efes 5: 19-20 en Kol 3: 16 sê: “en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here”.
As jy waarlik Jashuah wil aanskou moet jy oppas vir die baie ander dinge wat jy aanskou. Daar is diegene wat ‘n diep studie van Satan se wapens in hierdie wêreld maak. Ons besef seker dat hy wel besig is om al sy wapens in te span om die heiliges se aandag af te trek van Jashuah af, en dit is goed dat ons met sy planne nie onbekend is nie (2 Kor 2: 11), maar dit kan ook weer ‘n ander set van Satan wees dat ons só ‘n diep studie maak van Satan en sy bose werkinge, dat ons nooit by ons Groot Koning en Bevelvoerder gaan sit om na Sy aangesig te aanskou en na Sy woorde en opdragte te luister nie.
Jy kan God bid dat Hy jou oë sal open. Ek het dit vir ‘n lang tyd gebid omdat ek besef het dat ek blind was. En dit was ook my redding: Die feit dat ek gesê het dat besef dat ek blind is (Lees Joh 9: 35-41). Toe kon Hy my oë begin oopmaak. En daagliks gaan my oë net meer en meer oop. Daarvoor dank ek Hom in alle nederigheid!
79. “My heer, ons wil Jashuah graag sien”.
Ek het in die vorige hoofstuk oor hierdie selfde gedeelte in die Skrif geskryf maar wil nou dit beklemtoon dat “die volheid van die heidene” wat eers moet ingaan, nie kan gebeur sonder dat die heidene Jashuah sien nie. Waar sal hulle Hom sien behalwe in ons?
Hierdie roerende gedeelte in Johannes 12: 20-24 moet jy weer biddend lees! Daar is vandag, net soos in daardie tyd, heidene—dit is afgodedienaars—wat begeer om Jashuah te sien. Hierdie heidene—wat in daardie geval Grieke was , het baie gehoor van Jashuah want die gerug oor Hom het oor die hele wêreld van daardie tyd uitgegaan. So ook is daar vandag ook baie heidene, selfs talle afgodedienaars uit die Christendom, wat Jashuah graag wil sien. Baie van hulle sit in hulle kerke waar die “die ander Jesus” (2 Kor 11: 4) gedien word. Maar hulle bly dors na die ware Jesus (Jashuah), want die “ander Jesus” kan hulle nie die water van die lewe gee nie. Hulle wil die ware Jashuah graag sien want, alhoewel daar in hulle kerke die Bybel gelees word, sien hulle nie daardie “ware Jashuah” in iemand se lewe nie—nie eens in die prediker wat van Hom praat en oor Hom preek nie!
As jy vervul is met Sy Gees is jy Sy getuie (Hand 1: 8; Luk 24: 46-48). Die woord “getuie” hier beteken: “die lewende bewys dat Jashuah uit die dood opgestaan het”. Hulle sien Hom lewe in jou!” God se plan was nie dat jy diegene wat Jashuah graag wil sien moet saamneem kerk toe nie. Wat wil jy hulle in jou kerk laat sien? ‘n Mooi diens met mooi preke wat die emosies roer? Of jou prediker wat so goed preek en jou emosies roer? Of daardie spesiale prediker wat van oorsee af kom? (Vgl. Deut 30: 11-16).
Waarom sien hulle Jashuah nie in jou nie? En dan ook nie hoe vroom jy in die kerk is nie maar hoe jy by jou werk is, en in jou huis en op die straat? Die rede hiervoor is dat die koringkorrel nog nie in die grond geval en gesterf het nie, soos Jashuah sê in Joh 12: 24.
Maar ons kan die woord in vers 23 nie wegwens nie: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word”.
Hoe baie ons oor die sterwe van die koringkorrel geskryf en gepraat het weet ons Vader alleen! Maar dat dit ook dié gedeelte in die Skrif is waaroor baie gepraat, maar min prakties gelewe word, is verseker só. As ek rondom my kyk na hoe min mense waarlik hierdie Woord van die kruis lewe, dan lyk dit vir my of die saad van die Woord verrot en nie ontkiem nie! Die oog van die leek sal nie die onderskeid tussen ontkieming en verrotting van saad ken nie, maar die oog van die kenner sal wel weet dat daar weldra wortels en blaartjies gaan uitspruit uit die koringkorrel wat op die oomblik die indruk gee dat dit misluk het. Maar is dit nie presies wat die Vader vir ons jare gelede gesê het nie? Toe het Hy die Woord oor die “Koringkorrel wat in die grond moet val en sterf sodat dit veel vrug kan dra” (Joh 12: 24), tot ons gebring het nie? Hy het toe vir ons gesê dat daar ‘n tyd sal kom dat dit vir ons gaan lyk of daar niks van Sy beloftes gaan waar word nie. As ons die saad nou sou oopgrawe sal ons beslis die indruk kry dat dit eerder besig is om te vrot en nie te ontkiem nie.
Soos met Abraham die geval was. Lees asb. Rom 4 : 13-25. Let op dat daar ‘n werking van geloof in Abraham was. Dit was so omdat Abraham se groot begeerte was om God te ken soos ‘n vriend met ‘n VRIEND omgaan. Jak 2: 23 “En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ’n vriend van God genoem”. Hy kon God glo want hy het God geken as sy VRIEND. Daar was ‘n verhouding van liefde tussen Hulle Twee.
As julle in My liefde bly
Lees Johannes 15 biddend asseblief. Is dit vir jou ‘n groot moeite om ‘n hele hoofstuk in God se woord te lees? As jy nou ‘n nuwe motor gekry het, en jy moes die handboek daarop deeglik lees voordat jy dit aanskakel, sou dit vir jou moeite wees? Jy kan Joh 15 met baie groter opgewondenheid lees as dié oor ‘n nuwe motor! Ek verseker jou dit.
Die gedeelte handel oor die “Ware Wynstok en die lote”. Die vrug word nie deur ons as die lote geproduseer nie, maar slegs gedra. Jashuah, die Wynstok produseer dit en ons dra dit slegs. Hy is ons lewe (Kol 3: 4) en Hy is ons vrug. Die vrug wat die mense na soek is nie jou mooi lewe nie. Hulle soek na Hom. Hulle wil Hom graag sien! Hulle wil Hom ook ervaar en belewe.
Enkele oggende gelede het ek gehuil soos ek in jare nie gedoen het nie. Waarom? Jashuah het so reguit en persoonlik met my in liefde gepraat oor KRITIEK en OORDEEL in my lewe. Hy het vir my gesê dat dit die groot rede is waarom ek sukkel om ‘n helder beeld van Hom te kry. Ek sien te veel ander dinge raak: Alhoewel ek vir jare geen koerante lees nie, dreun die “Sosiale Media” die nuus elke dag by ons ore en oë in!. Ons luister hierna met kritiek en oordeel. Kyk jy ook met kritiek, wat niks anders as oordeel is nie, na ander mense? Kyk jy só na jou vrou, jou man, kinders, vriende en familie? Het jy dalk so ‘n gees of gesindheid van kritiek en oordeel?
In Rom 1: 18-32 vertel Paulus van baie gruwelike sondes waaraan God die mense oorgegee het (Vers 24, 26 en 28) omdat hulle Hom as Skepper nie verheerlik en gedank het nie, maar die skepsel vereer het bo Hom as die Skepper. Ja, selfs hulle troeteldiere het meer verering en ophemeling ontvang as God (Vers 22-23)! Ek gril as ek sien hoe die troeteldiere deur hulle gesoen word. Het ek jou ooit vertel van my “dierbare en getroue ou hond” wat in die veldvuur dood gebrand het? Toe ek daardie aand hartseer vir my Vader oor my hond gevra het waarom dit gebeur het, het Hy my geantwoord: “Ek, die Here jou God is ‘n jaloerse God” (Exod 20: 5; Exod 34: 14). Psalm 2: 12 sê: “Kus die Seun…” nie die hond nie!
Ná die gedeelte in Rom 1: 18-32 begin die apostel Paulus skrywe oor “oordeel”. Dit is ‘n allerbelangrike Woord aan jou en my. As jy en ek Jashuah wil sien sal ons hierdie Woord ter harte moet neem. Ek het dit reeds deeglik ter harte geneem.
80. Oordeel en kritiek.
As jy nou Rom 2: 1- 5 gaan lees sien jy dat dit waarin jy ‘n ander oordeel, oordeel jy jouself, want jy doen dieselfde dinge (Vers 1). Al het jy tot nou toe nie dieselfde dinge gedoen nie, sal God jou dit binnekort laat doen net omdat jy nie besef het dat dit net God se genade oor jou was dat jy dit tot dusver nie gedoen het nie. Tog het jy baie ander dinge gedoen wat, al is dit volgens die mense se maatstaf nie so erg as die ander sonde nie, tog voor God ewe erg is. Sonde is sonde—groot of klein. Of jy een sent steel of miljoen Rand, steel is steel. Of jy owerspel pleeg met ‘n vrou of net na haar kyk met begeertes in jou hart, dit is voor God dieselfde. Lees Matt 5: 28. Daarby sê Jak 2: 10-11 dat as jy in die een opsig van die wet struikel het jy aan die hele wet skuldig geword.
Oordeel spruit uit ‘n trotse, hoogmoedige hart: jy ag jou hoër as die ander en daarom het jy die reg om hom te kritiseer en te veroordeel. Maar jy besef dalk nie dat dieselfde maatstaf waarmee jy hom meet, jy ook mee gemeet sal word nie (Luk 6: 38). As jy meet, gebruik jy een of ander reël of wet daarvoor. As dit “die wet” is waarmee jy meet sal jy met dieselfde wet gemeet word. As jy met genade meet, sal jy met genade gemeet word.
Die ergste is dat kritiek in jou hart maak jou hart al harder jy word letterlik ‘n siniese “bitterbek” wat gedurig kritiseer, stry en argumenteer. Jou hart word al harder. Efes 4: 18: “mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart”. Wanneer iemand anders praat sit jy al gereed om iets te sê wat veroordeel of kritiseer.
Dit spruit alles uit liefdeloosheid. As jy gaan lees wat die Skrif sê met betrekking tot die liefde en dit wat die liefde doen en ook nie doen nie (1 Kor 13: 1-13 dan besef jy dat dit die oorsaak is van al ons blankes in Suid Afrika se vrese!
As jy rondom jou kyk en waarneem hoedat mense vir hulle geliefdes skerm, en dit nie eens deur goddelike liefde nie maar deur ‘n menslike, humanistiese liefde, dan wonder jy wat die liefde van God alles sal kan doen? As ons ons medemens lief het met God se liefede, sal ons hulle oordeel? Sal ons nie liewer, as ons by hulle ‘n sonde opmerk, vir hulle bid nie? Is dit nie wat 1 Joh 5: 16 vir ons sê nie?
Om iets raak te sien wat iemand doen, is nie oordeel nie maar wat jy daarmee maak is die vraag. Blameer jy hom en beskuldig jy hom? Verag jy hom? Is die ervaring in jou hart jeens hom dié van liefde en die begeerte dat hy verlos sal word van sy verkeerde dade, soveel so dat jy vir hom bid wetende dat jy net so groot sondaar is? Hierdie saak is ‘n baie belangrike een en dit is belangrik dat jy dit nie sommer sal laat verbyglip nie.
As jy maar na jou broeder kan kyk met die oë van jou liefdevolle hemelse Vader, as jy hom dus sien soos God hom sien: deur die versoeningsbloed van Sy Seun? Sal alles nie dan verander nie? Jashuah lewe slegs om vir ons in te tree. Lees Heb 7: 25 “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree”. Dit is die Gees van die Groot Voorbidder! As ons maar dieselfde gesindheid kan verkry! (Fil 2: 5). Maar Jahweh het Hom verbaas dat “daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei treë nie” (Jes 59: 16). Hy verbaas Hom nou nog steeds dat daar nie voorbidders in al ons Christelike kerke te vinde is nie. Daar is wel so baie wat kritiseer en oordeel, maar waar is hulle wat hulle broeder ‘n sonde sien doen en dan vir hom gaan bid volgens 1 Joh 5: 16 ?
Hier moet ons nou kyk na twee dinge naamlik “Oordeel” en “Twee soorte liefde”. Ek het al in vorige hoofstukke oor albei dié onderwerpe geskryf maar ek skryf nou meer diepgaande daaroor:
Lees 2 Petrus 1: 5-9 en let op dat jy alreeds sekere liefdes kan hê maar nog kort skiet op ander terreine van liefde. Lees jy dit ook só? Maar al die soorte liefde waaroor hy hier skryf is nog steeds die goddelike liefde. Daar is egter ‘n ander soort liefde wat nie God se liefde is nie, maar ‘n menslik/ vleeslike liefde. Dit kom uit die mens: hartstog, wellus en selfsugtige liefde vir my eie gesin, kerk, volk ens. Maar al die soorte liefde is ‘n selfsugtige, selfgesentreerde liefde. Dit soek jou eie voordeel en nie die van die ander nie. Eintlik is dit die naam “selfliefhebber” werd! Dit wil ontvang en nie gee nie, tensy jy deur die gee weer een of ander bymotief het deur voordeel daaruit te kan trek (2 Pet 2: 3). Albei hierdie soorte liefde trek na sy kern: Die vleeslike/ menslike liefde (Phileo) trek na die “Eie ek” terwyl die goddelike liefde (Agape) na die hart van God trek. Dit is dan die afwesigheid van God se liefde wat veroorsaak dat jy vrees. Dan wil ek ook ‘n kras stelling maak: Omdat die Christelike volk hier aan die Suidpunt van Afrika so vol liefdeloosheid en oordeel is jeens hulle mede- Christene, dié in hulle eie kerk en meer nog, in ander kerke—nie eers te praat van die talle huiskerke wat nou deesdae ontstaan nie, daarom is hulle so vol vrees!
Dan besef ek dat baie mense ontevrede is met die bediening in hulle eie gemeentes: hulle besef dat hulle geloof nodig het om deur hierdie krisis in Suid Afrika te gaan, en hulle kry dit nie by hulle herders nie. Nou raak hulle bitter en vol veroordeling. Wat is die verskil tussen kritiek en oordeel?
81. Wie sal ons skei van die Liefde van Christus?
Die dinge waarvoor die mense bevrees is—veral die mense wat die wegrapings- teorie aanhang— word hier deur Paulus beskrywe in Rom 8: 35: “Wie sal ons skei van die liefde van Christus—verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” En dit is nie dinge waarvoor ons moet wegvlug nie, want dit is juis IN hierdie dinge waarin ons meer as oorwinnaars is! “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het”.
Die wegraping—as daar ‘n Wegraping sou wees— sou ons hierdie wonderlike geleentheid ontneem om groot oorwinnaars te wees, ja, “…meer as oorwinnaars…” (Vers 37) in al hierdie dinge. Dit is juis hierdie dinge wat ons die oorwinning in Christus gee! As ons hierdie dinge sou misloop omdat ons weggeraap sou word, sou ons die heerlike oorwinning, “…meer as oorwinnaars…” nooit kon smaak nie! Christus sou ook nie deur ons kon betoon dat die duisternis die lig nie kan oorweldig nie. Let op dat Hy sê: IN AL HIERDIE DINGE en nie TEMIDDE van al hierdie dinge nie. Al hierdie dinge wat die mense so vrees dat hulle selfs vir hulle ‘n geloof ontwerp het wat hulle al hierdie dinge sal laat ontvlug, al die dinge WAARIN hulle juis “meer as oorwinnaars” is! Dit is die dag waarna Jashuah uitsien, waarvan Hy sê: “EK het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” (Luk 12: 49). Jashuah wens dat die dag sal aanbreek waarIN Hy sal bewys dat … “IN al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars” (Rom 8: 37), IN “…verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard” (Rom 8: 35).
Nou sal mense vir my vra of ek dink dat “die swaard”—dit is nou die moorde wat daagliks in ons land plaasvind, asook oorloë en doodmaak op verskillende manier oor die wêreld—ons meer as oorwinnaars kan laat wees? Hulle vra: “As jy nou op jou vermoorde gesin afkom, dis net bloed waar jy kyk, sal jy Eugenius, meer as ‘n oorwinnaar kan wees in sulke omstandighede? Nou moet ek versigtig wees want God mag my dalk toets hierin! Maar ek antwoord: As die Woord van God ryklik in my woon en ek is vervul met die Gees soos Stafanus, vol van die Heilige Gees (Hand 7: 55), sal ek dieselfde triomf en oorwinning wat Stafanus vertoon het toe hulle hom gestenig het sodat hy gesterf het, ervaar. Ook as ek dieselfde vermoeë wat Jashuah gehad het om te ly, dus “die lydsaamheid van Christus” besit (Open 3: 10), sal ek dieselfde triomf en oorwinning wat die opstanding van Jashuah meegebring het, kan ervaar. Dit alles tot heerlikheid van God en alleenlik deur Sy genade en niks uit myself nie! Ek roem nie in myself nie maar in Sy genade en in my swakheid. Die duisternis kan nie die lig oorweldig nie (Joh1: 5). “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee” (Fil 4: 13). “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor 10: 13). “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my…” (Ps 23: 4). Fil 1: 20: “…volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is”.
Die dood het ‘n angel vir die mensdom. Dit is by die geval van dood dat meeste mense sidder. Dit is só finaal. Wat is die angel? 1 Kor 15: 56 sê: “Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet”. Die wet beskuldig jou van sonde; dit maak jou bewus van sonde (Rom 7: 7). Ook laat dit jou vrees vir die straf wat die oortreding van die wet meebring (1 Joh 4: 18). Die straf is die dood (Rom 6: 23). Wanneer jy vry is van die wet is jou beskuldiger van sonde uit die weg geruim (Rom 7: 6) en dien jy God in die nuwigheid van die Gees en nie meer in die oudheid van die letter (van die wet) nie. Wanneer jy die wedergeboorte en die vervulling met die Heilige Gees deelagtig geword het, bevind jy jou in Christus en Sy liggaam (1 Kor 12: 12-27). Jy ervaar dat Sy liefde nou heers in jou gees (Rom 5: 5). En hierdie liefde van Hom in jou hart, dryf alle vrees na buite (1 Joh 4: 17), ook die vrees vir die dood—nie slegs jou eie dood nie maar ook die dood van jou geliefdes.
Ek het hierbo gesê dat jou beskuldiger van sonde uit die weg geruim is. Wanneer jy nie meer onder die Wet is nie maar onder die genade, trek God jou in so ‘n volmaakte liefde vir Hom en Jashuah in, dat die liefde so ‘n geloof en vertroue in Hom in jou hart uitstort, deur die Heilige Gees (Rom 5: 5), dat alle vrees buite gedryf word (1 Joh 4: 17). Jou beskuldiger is die Satan (Open 12: 10; Sag 3: 1-2), maar hy gebruik die Wet daarvoor. O, as ons maar eens en vir altyd ontslae kan raak van die WET (Rom 7: 6)!
Liefdeloosheid skei ons van God
Maar is dit nie omdat ons so bankrot geraak met betrekking tot God se liefde in ons, dat ons so vol vrese is nie. Ons vrees vir verskillende dinge wat ek nie nou hier alles kan noem nie, maar God sal jou jou vrese toon soos wat die tyd aangaan. Maar ons is nou by die rede vir ons vrees: Liefdeloosheid. As enige vrees by jou opduik kan jy dit maar by een oorsaak gaan soek, en dit is liefdeloosheid. Jy moet nou eers 1 Joh 4: 7-21 lees. Het jy dit gelees? Nog nie? Dan wag ek maar nou totdat jy dit gedoen het. Het jy mooi verstaan wat jou Vader vir jou wil sê? Hy wil vir jou sê dat jy ‘n leuenaar is as jy sê dat jy God liefhet maar nie jou broeder nie (Vers 20). Maar wie is my broeder?
My broeder is beslis nie slegs my mede-lidmaat van die kerk waaraan ek behoort nie. In al die kerke waardeur ek oor ‘n tyd van 50 jaar beweeg het, het ek minstens een opregte aangetref. Al was daardie kerk ook ‘n sogenaamde sekte of kultus wat hul leerstelling aan betref. En ek weet dat een of ander tyd sal daardie opregte deur die Heilige Gees getrek word na Jashuah toe en sal hy/sy waaragtig tot bekering kom, want God weet dat hy/sy Sy wil sal wil doen. As die bekering nou nog nie plaas gevind het nie, sal dit in die tyd wat kom wel gebeur. Daarom kan ek hom/haar ‘n broeder noem, veral as God reeds sy/haar naam in die boek van die lewe geskryf het (Open 20: 15; 21: 27; 3: 5; Fil 4: 3). Dan, as dit so is, moet ek hom/haar nou reeds liefhê. Al is hy/sy op die oomblik my vyand. Dit is waarom Jashuah sê dat ons ook ons vyande moet liefhê (Matt 5: 44). Dit is waarom Paulus in Rom 11: 28 sê: “28Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders”.
Gaan vra jou Vader om jou te toon hoeveel gelowiges/heiliges daar tans is wat jy nie liefhet nie. Is dit nie dalk die rede waarom jy so vol vrees is nie? Onthou jy nog dat die liefde vir jou broeder die tweede gebod is (Matt 22: 37-38), wat hang aan die eerste gebod—naamlik om God lief te hê—soos wat die dwarsbalk van die kruis hang aan die vertikale been? Jou liefde vir jou broeder spruit dus uit jou liefde vir jou Vader en vir Sy Seun (1 Joh 4: 11). 1 Joh 4: 20-21: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? 21En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê”.
Is jy dalk deur God oorgegee?
Omdat jy die skepsel vereer bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid (Rom 1: 25) het God jou dalk oorgegee (Vers 26-32). Die Skepper van die hemel en die aarde en alles wat daarop is: Mense en diere, kos en klere, motors en vliegtuie, huise en plase. As jy hierdie dinge vereer sonder om die Skepper daarvan te sien as die Een deur wie en tot wie alle dinge is: “tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Kor 8: 6). Rom 11: 33-36 moet jy net lees en let op vers 36: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen”. Joh 1: 3: “3Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie”. Hoeveel Skrifte moet ek nog aanhaal om te bewys dat alle dinge, ja, ALLE DINGE deur Hom ontstaan het. Hy is die Almagtige, Skepper van die eindes van die aarde en die uitspansel (Jes 40: 28).
Nou moet ek ‘n baie groot insetting van God met jou deel, want dit kan dalk vir jou bevryding en verlossing bewerkstellig. Dalk is dit ‘n groot rede waarom jou aanskoue van Jashuah versper word sodat jy Hom nie kan sien nie. Hier is dit nou: As jy die skepsel vereer bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid, gee God jou naderhand oor aan sonde. Daar is baie sulke sondes waaraan mense oorgegee word, en ons lees dit in Rom 1: 21-24. LEES DIT ASB !
Dalk is jy oorgegee aan slawerny onder jou kinders wat net meer en meer van jou vereis. Dalk was hulle in jou oë die wonderlikste kindertjies en het jy hulle met verafgodende liefde en bewondering aangekyk. Maar jy het nie die wonderlike Skepper vereer en verheerlik bo hulle nie. En nou het jy hulle slaaf geword! Die ergste van alles is dat jy ook dalk so trots is dat jy dit nie maklik sal erken nie, nie voordat jy heeltemal gedaan en op jou einde gekom het nie!
Het jy dalk op dieselfde wyse ‘n slaaf van kos geword. Jou gesondheid en gesonde kos het jou gedagtes begin oorheers en verslaaf en daardeur het jy nou ‘n slaaf geword van gesonde kos. Jy was so besig met gesond eet en jou kinders wat gesond moet eet, dat jy nooit kans gekry het om die Skepper wat alles gemaak het te vereer en verheerlik nie! Het jy al gelees dat die Skrif sê: “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (Rom 14: 17).
Altyd het jy gepraat van die wonder-middel wat jou gesond en sterk maak, maar die God wat al die dinge gemaak het het jy nie vereer en verheerlik nie. As daar een of ander geneesmiddel is wat jou genees, is dit tog Hy, jou Skepper wat dit gemaak het. Is dit nie Hy wat die boom se blare gemaak het tot genesing van die nasies nie? Lees Eseg 47: 12; Open 22: 2.
82. Die wederoprigting van alle dinge.
As jy waarlik Jashuah ontmoet het en ook Sy Vader, die Skepper van alles wat is, sal jy Sy handewerk liefkry omdat jy Hom liefhet. Jy sal eerstens die een wat uit Hom gebore is liefhê: “… en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is” (1 Joh 5: 1). Daarom is dit, naas die liefde vir God, die tweede gebod: “35En een van hulle, ’n wetgeleerde, het ’n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: 36Meester, wat is die groot gebod in die wet? 37En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38Dit is die eerste en groot gebod. 39En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. 40Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matt 22: 35-40).
Dan kry jy elke werk van God lief. Jy kry die hele Skepping lief: Die aarde en alles wat daarop is omdat jy jou Vader daarin sien. As jy die Skepping liefhet sonder om eerste God lief te hê, sal jy altyd iets groot en belangrik mis naamlik die Een wat dit alles gemaak het: “Het My hande nie al hierdie dinge gemaak nie?” (Jes 37: 16; Jes 40: 12-26; Jes 45: 12, 18 ens.). As jy eers die Skepper, jou Vader, in alles begin sien, dan kry jy ‘n welbehae in Sy skepping—dit is dus vir jou lekker om dit te aanskou! (Ps 111: 1-2). En nou ‘n baie belangrike beginsel: Jy verlustig jou nou in die Skepper en in Sy Seun deur wie Hy al hierdie dinge gemaak het (Heb 1: 2; Joh 1: 3), jy verlustig jou nie in die natuur op sigself nie maar in die Skepper wat die natuur geskape het. As jy die pragtige berge aanskou en die mooi sonsondergang, dan loof jy God, die Skepper daarvoor! Daar is baie mense op aarde wat al die mooi en wonderlike dinge in die natuur aanskou, maar die Skepper en Sy Seun geensins ken nie! Dit is hartseer!
Ja, dan is dit ook hartverskeurend om te sien hoe hierdie natuur verkrag word. Hiervan is die nuusmedia elke dag propvol, maar met die verkeerde motief. Hulle sien nie dat die werke van hulle Vader as Skepper verniel en vernietig word nie, hulle vrees dat lewe op aarde tot ‘n stilstand gaan kom as al hierdie dinge deur die mense verniel, besoedel en uitgeroei word. Hulle probeer dus met die verkeerde motief om die vernietiging van die natuur te verhoed: nie ‘n liefde vir God as die Skepper daarvan nie, maar ‘n liefde vir die skepping self. Hierteen spreek die Skrif duidelik: “Hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid” (Lees die hele gedeelte in Rom 1: 18-32. Dit is baie belangrik). God is ‘n jaloerse God!
Maar Jashuah kom “die vervalle hut van Dawid weer oprig” (Hand 15:16; Amos 9: 11). Dit beteken dat Hy die woord sal vervul dat alle nasies —die heidene sowel as die Jode—in Jashuah geseën sal word, soos Hy aan Abraham belowe het (Gen 12: 3). Maar dit beteken nie dat die seën van God universeel is nie. Dit is nie vir enige iemand buite Jashuah nie. Die seën is alleenlik in Jashuah geleë. Alhoewel Hy reën en gunstige tye oor die hele aarde gegee het (Hand 14: 16-17), is die voole seën alleenlik in Jashuah te kry (Efes 1: 3; 1 Kor 1: 5 ; Kol 2: 11-12).
Jashuah kom om alles te herstel. Die apostel Petrus verwys in sy toespraak daarna: “21Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al Sy heilige profete” (Hand 3: 20). In Dan 8: 14 voorspel hy hoedat God Sy heiligdom gaan herstel. Ook die vervalle hut van Dawid sal Hy herstel, soos ek reeds hierbo genoem het: “16Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, 17sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen”. Hieroor kan ek nie nou afsonderlik spreek nie, maar jy kan jou Vader daaroor gaan raadpleeg. Dit sal ‘n wonderlike openbaring aan jou wees!
Wat sal alles herstel word deur Jashuah? Ons weet maar gedeeltelik daarvan: Sal spesies van diere wat reeds uitgesterf het, soos die Dodo in Mauritius, weer hulle verskyning op hierdie aarde maak? Ja, beslis! Ek het hieroor gebid en ons Vader het dit aan my bevestig. Dink jy dat dit onmoontlik is vir God? Matt 19: 26: “26Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik”. Job 42: 2: “Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie”. Jeremia 32: 17: “Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie”.
Wat ook verder wonderlik gaan wees is dat die vleisetende diere nie meer vleis sal eet nie maar wel gras soos ‘n bees: “6Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. 7Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; 8en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. 9Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes 11: 6-9). Sal ons nog vleis eet? Laat hierdie vrae, wat moontlik net uit vleeslike nuuskierigheid spruit, nou maar vir eers staan. Daar is baie belangriker dinge om te weet!
Die afbreek van alle dinge het van dieselfde God af gekom as waarvan die Skepping gekom het. Hy het dit alles geskape en Hy het dit ook laat verniel deur Satan en sy bose magte en mense: “4So moet jy vir hom sê: So spreek die Here: Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. 5En sou jý vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die Here; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan” (Jer 45: 4). Breek God wat alles so wonderlik geskape het dit weer af? Ja! Maar Hy belowe ook dat Hy dit weer sal herstel, mooier en liefliker as ooit! Hoe kon Hy vir soveel eeue toelaat dat goddelose mense Sy wonderlike skepping net geniet en uitbuit? Hulle het nie erken dat dit Hy was wat vir hulle reën gegee het nie ( Hos 2: 7; 11: 3) : koring en kos, suurstof om in te asem, die son wat oor hulle skyn, gesondheid en krag om te werk, oë wat die grootheid en heerlikheid van hulle Skeppr kon aanskou, ‘n mond om Hom mee te loof… en nog baie voorregte wat hulle nie waardeer het nie. Maar hulle het eerder die skepsel geprys bo die Skepper, soos Rom 1 : 25 ook sê. Daarom het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid om alles wat hulle moes geniet het en God daarvoor gedank het, nou te verniel en op te mors. “En jy sal uitval—en dit deur jouself—uit jou erfenis wat Ek jou gegee het, en Ek sal jou jou vyande laat dien in ’n land wat jy nie ken nie; want julle het ’n vuur aangesteek in my toorn, tot in ewigheid sal dit brand” (Jer 17: 4).
Maar Hy kom ook weer in liefde en heerlikheid om alles te kom herstel, maar eers moet Hy Sy leermag (Joël 2: 11)—die Sprinkaanswerm— wat Hy gestuur het om alles toe kom verniel, kaal te vreet en te verslind, verdrywe. Lees Joël 2 die hele hoofstuk en jy sal ‘n goddelike seën daaruit kry! Jashuah sal ons vergoed vir al die skade wat die Sprinkaanswerm aangerig het (Joël 2: 25). Ja ‘n hele lotsverandering wat op ons wag! (Joël 2: 18-32).
Maar dit alles wag op die openbaarmaking van die seuns van God. Ek het in Hoofstuk 11 belowe om hieroor te Skrywe en dit is dan nou ook nodig. Lees jy eers Ps 82:6-7 asook Rom 8: 14-21.
83. Die Seuns van God.
Reeds in Hoofstuk 11 het ek kortliks oor die seuns van God geskrywe en belowe om dit later meer breedvoerig te bespreek. As dié onderwerp jou aangegryp het, sou jy dalk, as die Gees jou so gelei het, daaroor gaan bid het. Hoe dit ook al sy, daar kom ‘n tyd in sommige kinders van God se liefdesverhouding met die Vader en Sy Seun, dat jy begin sing: “Nader steeds nader, vas aan U sy, trek my my Heiland, vol liefde vir my”. Jy begeer dan om meer as slegs ‘n kind van God op aarde te wees, jy begeer om vir Hom ‘n seun of dogter in die ware sin van die woord te wees—spesiaal vir Hom soos Jashuah vir Hom was, en nog steeds is.
Die apostels was waarlik deur Jashuah uitgekies, ja, selfs Judas wat Hom verraai het (Joh 6: 70). Maar tog was daar sommige onder hulle wat vir Hom meer spesiaal was, soos Johannes van wie die Skrif sê in Joh 13: 23: “En een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê”. Hy het die ander ook liefgehad, maar Johannes het ‘n spesiale verhouding met Hom gehad. Sien ook Joh 19: 26; Joh 20: 2; Joh 21: 7 en vers 20. Petrus het ook Jashuah lief gehad, en jy sien dit duidelik as jy Joh 21: 15-25 lees, maar daar was met nadruk verwys na die liefde tussen Johannes en Jashuah. Ek het ‘n begeerte, wat al sterker word by die dag, om Jashuah só lief te hê.
1 Kor 8: 1-3 trek ‘n verskil tussen kennis en om God lief te hê: “Die kennis maak opgeblase maar die liefde stig. Vers 2: ….As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ’n mens behoort te weet nie. Vers 3: Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken”. Nou wil ek die Amplified Bible hier aanhaal: 1 Cor 8: 2-3: “ If anyone imagines that he has come to know and understand much [of divine things, without love], he does not yet perceive and recognize and understand as strongly and clearly, nor has he become as intimately acquainted with anything as he ought or as is necessary.
3 But if one loves God truly [with affectionate reverence, prompt obedience, and grateful recognition of His blessing], he is known by God [recognized as worthy of His intimacy and love, and he is owned by Him]. Ek hoop dat die Skrif wat ek hier uit die Amplified Bible aangehaal het jou sal laat besef dat daar ‘n veel dieper verhouding tussen jou en jou Vader kan wees as wat jy tans het. Dit is die Vader-seun verhouding. Jashua haal die Skrif in Ps 82: 6-7 aan terwyl die Jode klippe opgetel het om Hom te stenig (Sien Joh 10: 34-36): “Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie?
35As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie,
36sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?” Was dit nie omdat Jashuah gesê het dat Hy die Seun van God is dat hulle Hom ter dood veroordeel het nie? Ja, dit was: Mark 14: 61-63: “Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?
62En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.
63Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig!”
Lees ook Luk 22: 69-71 en let op dat Jashuah, alhoewel Hy sovele kere na Homself verwys het as “die Seun van die mens” hier erken dat Hy die SEUN van GOD is. En daarop het hulle gesê dat hulle geen getuienis meer nodig het nie. Volgens die wet kon hulle Hom toe kruisig.
As jy verklaar dat jy ‘n “kind van God” (Grieks; “teknon”) is, is dit seker die wonderlikste ding wat jy kan verklaar. En dit omdat jy Jashuah aangeneem het as jou persoonlike Saligmaker. Op grond van Joh 1: 12 kan jy dit sê: “Ek is ‘n kind van God”. Maar die dag as jy sê: “Ek is ‘n seun- Grieks: “huios van God, is dit baie meer spesiaal. Die hele heilige volk sal hulleself as kinders van God bestempel volgens Hosea 1: 10: “ en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie—sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God”. Maar dit waarop die hele skepping wag is die openbaarmaking van die seuns van God (Rom 8: 19). En nou het ons by ‘n verborgenheid gekom waarby jou Vader in die hemel alleenlik deur Sy Gees jou sal kan openbaar dit wat ek hier baie vaag gaan noem: Rom 8: 19 verwys na die afwagting deur die skepping op die openbaarmaking van die kinders van God. Vanmôre het ek in verskillende Bybels en Griekse woordeboeke gaan naslaan en dit is baie duidelik dat die woord “kinders” daar eintlik “seuns” moet wees. Dus huios en nie teknon nie! My een verklarende woordeboek, “Expository Dictonary of New Testament Words”deur WE Vine verklaar duidelik die verskil tussen die twee woorde. So verklaar ook Spiros Zodiates se “The Complete Word Study – New Testament” dit. Ook in 2 Kor 6: 18 gebruik die apostel Paulus die woord “seuns” saam met “dogters”. Die woord het dus betrekking op die vroulike geslag ook. En hier is die oorspronklike Griekse woord vir seuns weer “huios” en nie “teknon” nie. Waarom is dit so belangrik dat die Heilige Gees my dring om dit hier te noem? Sodat diegene wie se oë hiervoor geopen sal word, dit kan raaksien! Gelukkig is jy as jou oë kan sien (Matt 13: 16).
Die verskil tussen huios en teknon lê daarin dat teknon verwys na ‘n vleeslike geboorte, terwyl huios verwys na ‘n geestelike verwantskap, waaruit die karaktertrekke van die Vader in Sy seun (en dogter) geopenbaar word. “Die appel val nie ver van die boom af nie” en “aardjie na sy vaartjie” is Afrikaanse spreekwoorde vir die Engels: “Like father like son”. Dit beteken dat die karaktertrekke van die vade rook in die seun geopenbaar word. Die optrede van die kind lê dus in die gene—“dit is geneties” sê ons. Om seun (huios) van God te wees beteken nie dat jy nooit weer sal kan sondig nie soos sommige aflei uit 1 Joh 3: 9. Maar hy wat uit God gebore is, hy wat dus ‘n huios van God is, kan nie meer ‘n gewoonte van sonde maak nie. As hy sondig is hy diep ongelukkig daaroor. Hy kan dit dus nie oor sy hart kry om moedswillig te sondig nie, maar dit beteken nie dat hy nie nog in swakheid, per ongeluk kan sondig nie. “Ons almal struikel dikwels” sê Jakobus 3: 2. “Nie dat ek al volmaak is nie” sê Paulus, “maar ek jaag daarna asof ek dit kan gryp…” Vers 15: “Laat ons almal dan wat volmaak is so gesind wees”. As jy dus besef dat jy nog nie volmaak is nie maar jy jaag daarna asof jy dit kan gryp, sien God jou as volmaak, al is jy nog nie volmaak nie. God is tevrede dat Sy seun/dogter Hom nie wil mishaag deur moedswillig sonde te doen nie—hulle haat die sonde en voel hartseer as hulle weer sonde doen. En nadat hulle bely het, gaan hulle voort om die volmaaktheid na te jaag. Maar hulle besef dat daar ‘n oorlog aan die gang is tussen die sonde-natuur vanaf Adam oorgeërf en die Heilige Gees wat hulle by wedergeboorte ontvang het. Daarom trek hulle die “Volle Wapenrusting van God” (Efes 6: 10-20) aan. Hulle slaap daarmee, en staan op daarmee, en wandel die hele dag daarmee. Alhoewel die stryd teen sonde ‘n worstelstryd is, sien God jou as volmaak in Sy Seun, Jashuah Messiah.
84. Laat ons “na die volmaaktheid voortgaan” (Heb 6: 1-3).
Sal ‘n mens ooit volmaak kan word? God alleen is volmaak, Van die mens sê Hy: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom 3: 23). Kan ‘n sondige mens voor God staan as ‘n volmaakte? Ja! Maar nie deur sy eie toedoen nie. Al wat die sondige mens kan doen is om gewillig te wees om die volmaaktheid, wat God vir hom bewerkstellig het deur Sy Seun se dood, te glo. Selfs die geloof is dus iets wat God in die mens moet werk, hy kan nie uit homself glo nie. Hy kan slegs gewillig wees om God se genadewerk in hom te aanvaar. Die genadewerk sluit geloof in. Geloof is ‘n genadegawe van God (Efes 2: 8).
Ek het gesê dat jy gewillig moet wees. Maar jy kan redelik passief en traag wees in jou gewilligheid, of jy kan opgewonde wees in jou gewilligheid. Jy kan byvoorbeeld die genadetroon van God bestorm. Lees Matt 11: 12: “Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld”. Is jy só gewillig? Is jy ‘n bestormer in jou gebed? So was Jakob, alhoewel hy ‘n bedrieër was het hy met die engel geworstel: “Maar Jakob het alleen agtergebly, en ’n Man het met hom geworstel tot dagbreek. 25En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. 26Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. 27En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. 28Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin”. (Gen 32: 24-28). Jakob se naam wat “bedrieër” beteken het, is na sy worsteling met God, verander in “Israel”- “Prins van God”. Sê dit vir jou iets? Gaan bid hieroor. Maar as jy nog nie hierdie worstelstryd met God en met jouself deurgegaan het nie is jy nog Jakob, die trotse, verwaande bedrieër. Lees Amos 6: 8. Ons sien Jakob oral in ons land en in die wêreld, maar ons sien nie “die prins van God” (Israel) nie! Waarom? Omdat die volk van die heiliges traag geword het om in hierdie worstelstryd met God en hulself in te gaan. Hulle “Eie ek” lewe en hulle wil dit graag so hê! Hulle weier om die sterwe saam met Christus deelagtig te word. Ook besef hulle nie waaroor die worsteling eintlik gaan nie: Dit gaan oor die seën van God. Dit gaan oor die “Eersgeboortereg in Christus”.
85. Die Eersgeboortereg in Christus.
Waaroor gaan die “eersgeboortereg”? Die nag met die uittog uit Egipte het God al die eersgeborenes van die Egiptenare laat sterf: Mense sowel as diere. Maar die eersgeborenes van die volk van God was gespaar. Maar toe het God gesê: “Al die eersgeborenes is Myne” (Num 3: 13). Die eersgeborene van ‘n man en vrou het die reg gehad op ‘n dubbele erfdeel. Lees Deut 21: 17. In Heb 12: 16 lees ons dat Esau sy eersgeboortereg verkoop het vir een spysgereg: ‘n pot lensiesop! Hy het nie besef dat hy eintlik Jashuah, in wie die ware eersgeboortereg sou wees (Kol 1: 15 en 18), verruil het vir dit wat sy vlees begeer het nie! Hy kon ook gesit het in “die gemeente van die eersgeborenes” (Heb 12: 22-24)—daar waar Abraham, Isak en Jakob en al die afgestorwe heiliges, nou sit.
Esau is vir ons nou in die Nuwe Testamentiese tyd ‘n voorbeeld uit die Ou Testament dat ons nie soos hy, ons eersgeboortereg in Jashuah moet verkoop vir dit wat ons vlees begeer nie, soos Esau gedoen het nie. Dit is ‘n hartseer stukkie geskiedenis wat ons lees in Heb 12: 16-17. As Hy hier na ‘n “hoereerder” verwys beteken dit geestelike hoerery, dus om weg te hoereer van God af na ander minnaars toe. Hosea 1: 2 sê: “…die land het grootliks owerspel bedrywe deur van Jahweh afvallig te word”. Besef jy hoe dikwels Jahshuah wag op jou en my sodat ons ‘n bietjie by Hom sal kom sit om Hom net lief te hê en na Sy woorde te luister? Maar, miskien is jy, selfs met Sy werk, te besig soos Martha om Hom te bedien. Lees Lukas 10: 38-42 en dan bely jy met skaamte saam met my teenoor Jashuah. O, ek wil nie my eersgeboortereg in Jashuah verruil vir dit wat my vlees begeer nie! Ek begeer om ‘n “dubbele deel” in besit te neem soos Jes 61: 6-8 belowe het. Lees dit en besluit self of al die gejaag agter wind aan waarlik die moeite werd is? (Pred 1: 14 en 17). Besef jy dat dit wat Jashuah by Sy Vader geërf het, ook ons erfdeel is wat op ons wag? Ons is mede-erfgename (Rom 8: 17). Maar ons kan, soos Esau, hierdie erfdeel misloop deur ons eie genietinge, en selfs verantwoordelikhede, belangriker te ag as ons liefdesverhouding met Jashuah en die Vader.
86. Oordeel jy alles wat onvolmaak is?
Daar is niks volmaak op aarde nie. Alleenlik Jashuah is volmaak. Dit glo die meeste van ons. Maar nou oordeel en kritiseer ons alles wat onvolmaak is! Jashuah gee wel ‘n opdrag dat ons volmaak moet wees soos Sy Vader in die hemel volmaak is (Matt 5: 48). Maar baie gou ontdek jy dat daar in jou vlees niks goeds woon nie (Rom 7: 18). Dan aanskou jy Jashuah, die Volmaakte, en jou oë gaan oop vir die heerlike waarheid dat Hy jou gergtigheid is (1 Kor 1: 30); dat Hy jou regverdig gemaak het deur Sy bloed (Rom 5: 9), en dat jy dit net moet glo (Rom 3: 28). En as jy dit glo met ‘n geloof wat deur die Heilige Gees gewerk word, begin jy jaag na volmaaktheid. Fil 3: 12-15: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” Vers 15: “Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar”. Bogenoemde Skrif gee ons eerstens die indruk dat ons nog nie volmaak is nie (vers 12). Dan gee vers 15 weer die indruk dat ons wel volmaak is. Maar die waarheid is dat almal wat daarna jaag om volmaak te wees, in God se oë reeds volmaak is op grond van Jashuah se verlossingswerk. Maar ONTHOU: Volmaak in JASHUAH en NIE in jouself nie!
Maar, as jy een van die mense is wat besef dat jy onvolmaak is maar jy jaag daarna, hoe kan jy dan ‘n ander onvolmaakte veroordeel? Ek hoor so baie dat mense sê: “Ek weet dat ek nie volmaak is nie, want niemand is volmaak nie, maar daardie man of vrou…” En dan veroordeel en kritiseer hulle daardie onvolmaakte !! Waarom sê God vir ons by monde van Paulus: “ DAAROM is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ’n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge” (Rom 2: 1). Maar jy sal dadelik sê: “Vader ek doen nie daardie dinge nie”. Ja, jy doen dit net op ‘n ander manier. Byvoorbeeld: Jy pleeg nie fisies egbreuk nie maar kyk net na ‘n vrou, of man, om haar/hom te begeer (Matt 5: 27-28) en dit is dieselfde! Ek het reeds vroeër in hierdie Hoofstukke gesê dat Jak 2: 10 sê: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword”. Het jy dit gelees? Lees dit weer en moet dit nooit vergeet nie! NOOIT!
Besef ons dat kritiek en oordeel deur ‘n gees gedrywe word? En dit is beslis nie God se Gees nie! Dit is die gees wat in die kinders van die ongehoorsaamheid werk. Efes 2: 1-3: “EN julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes 2waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,
3onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander”. Ek lees vanmôre die woorde van Jashuah: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie” (Luk 9: 55). Dié Skrif het ek vanmôre op oopgeslaan toe ek Hom vra of dit waarlik ‘n gees is wat ons só laat oordeel en kritiseer.
Ja, ons weet nie watter soort gees dit is wat so deur ons oordeel en kritiseer nie, maar dit is beslis nie die Gees van God, die Gees van “krag en liefde en selfbeheersing” nie (2 Tim 1: 7). Is dit nie dalk die rede waarom ons so kragteloos en vol vrese is nie. As dieselfde gees wat kritiek en oordeel werk, ook die gees is wat ongeloof, vrees en liefdeloosheid werk, sal die toegang wat ons vir een gees verleen, ook al die ander die reg tot toegang gee (Luk 11: 26). Dus sal jy ervaar dat jy nooit van vrees, liefdeloosheid, ongeloof en kragteloosheid ontslae sal kan raak terwyl jy nog die gees van oordeel en kritiek in jou hart toelaat nie. In plaas daarvan dat ons “…oog gevestig is op Jashuah, die Leidsman en Voleinder van ons geloof…” (Heb 12: 1-2), is ons oog gedurig gerig op mense en dinge wat onvolmaak is—netsoos ons onvolmaak is! En geen wonder dat ons gedurig onbekwaam en onwaardig voel om in God se heiligdom en in Sy teenwoordigheid in te gaan nie. Heb 10: 19-20 het die sleutel: “TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees…”. Die voorhangsel het die weg na die heiligdom versper. Die weg is geopen toe Jashuah se vlees verskeur was aan die kruis (Matt 27: 50-51). Lees nou ook Heb 10: 20 en dan sal jy besef dat dit jou vlees is wat daar in Jashuah verskeur is—want Jashuah het in ons vlees gekom (Rom 8: 3). En dit is hierdie vlees van jou wat veroorsaak dat jy nog nooit in God se heiligdom kon kom nie. En ook nooit Jashuah kon aanskou nie. Ons oë is gedurig gerig op onvolmaakte mense en die dinge wat hulle doen, of nie doen nie.
God het alle dinge gemaak, die lig en die duisternis, die heil en die onheil (Jes 45: 7). “13Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?” As ek kan vertel hoedat ek al in my lewe mure en kaste en bouwerk gesit en kritiseer het in my hart… Nou sê ek net : “Vader, vergewe my want ek het U handewerk gekritiseer”. En die ou “Dronkaard” vir wie ons gelag het? As dit nie vir God se genade was nie was dit ek! Maar miskien is dit nou ‘n kwessie van “die splinter en die balk”. Lees dit in Matt 7: 1-5. Let op dat Hy sê: “Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog dan sal jy goed sien…” Het die “splinter-sonde” van jou naaste nie dalk ‘n “balksonde” in jou oog geword nie? Hy drink dalk te veel maar jy doen ‘n groter sonde: jy oordeel!
Maar terwyl ons oordeel en kritiseer en ons oë op mense gerig is, mense en alles wat hulle aanvang op hierdie aarde, is daar die grootste en heerlikste werk wat Jashuah namens ons gedoen het, wat ons al die tyd miskyk. Terwyl God se woord sê: …“die oog gevestig op Jashuah, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterhand van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom…” (Heb 12: 2-3). In plaas van dat ons dít doen, vestig ons ons oë op mense en raak bemoeisiek betrokke by andere se onvolmaaktheid! En, die ergste: In plaas dat ons vir hulle bid, soos 1 Joh 5: 16 sê, veroordeel, kritiseer en belaster ons hulle! En dan wonder ons waarom Jashuah nie gestalte verkry in ons nie, waarom ons so vol vrees is en nie groei in die geloof nie! Wonder jy nog steeds na hierdie harde vermaning?
Ek wil dit herhaal: Dit is belangrik dat, as jy deur die Gees van God gewys word op die oortreding van jou broer, jy vir hom moet bid . Lees 1 Joh 5: 16 weer. Dit is die rede waarom God jou jou broer se sondes laat raaksien—nie om hom te veroordeel of te kritiseer nie maar om voorbidding vir hom te doen! “As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie”. Het jy dit tot hiertoe gedoen? Nee? Doen dit dan van nou af, nadat jy dit bely het voor jou Verlosser.
87. Die Opstanding.
Môre is dit Goeie Vrydag en ja, dit is ‘n vakansiedag! Maar weet ons waaroor hierdie vakansiedag gaan? Onthou jy dit nog? Christus het vir die sondes van hierdie wêreld gesterf en dit herdenk ons môre. Dan volg die twee dae in die graf waartydens Hy hel toe is teneinde vir ons sondes te betaal en gestraf te word. Hy het ons straf gedra! Dit beteken dat Hy deur Sy Vader gestraf is vir ons sondes (Jes 53: 5). En dan op Sondag, die eerste dag van die week, het Hy uit die dode opgestaan. Hy het die eersteling geword van hulle wat uit die dode opstaan: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor 15: 20). As Hy die eersteling is uit die dode, wie is hulle wat Hom navolg, die tweede en derde en vierde…en die duisendste…en miljoenste. Hoeveelste jy en ek ook mag wees, God weet dit! Maar waar Hy lei, daar volg ons Hom na: Aan die kruis, in Sy sterwe, saam met Hom in die graf en dan ook in Sy opstandig Gal 2: 20; Rom 6: 4; Efes 2: 5-6: “ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered — 6en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus…”.
Daar is Christene wat glo dat hierdie sterwe en opstanding saam met Christus iets is wat eers gaan plaasvind op die dag as Jashuah gaan terugkeer na hierdie aarde en die grafte gaan geopen word en die dode gaan opstaan. Dit is die dag van Sy wederkoms! Ons glo ook aan die dag van Sy wederkoms, en dat die dode onverganklik sal opstaan soos die Skrif ook sê in 1 Thess 4: 13-18. Maar ons besef dat die mense wat glo dat ons die opstandings-lewe van Christus eers op daardie dag gaan ontvang, lewe in die grootste geestelike armoede. Hulle kan dus nie die opstandingslewe van Jashuah nou reeds ervaar nie. Wat ‘n jammerte! My hart gaan uit na hulle wat só erg mislei word deur die herders wat daardie groot waarheid miskyk. En nie alleen mis hulleself dit nie, maar hulle laat ook hulle skape dit misloop. Sonder die wedergeboorte en die opstandingslewe van Jashuah nou reeds in hulle lewe—nie eendag eers nie, maar nou reeds—moet hulle maar poog om in eie krag goeie werke te doen. Dit is die werke waarteen Paulus spreek in Kol 2: 12-13, vers 18, 20-23: “omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.
13En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,… 18Laat niemand julle van jul prys beroof nie,… 20As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge
21soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? —
22almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan—volgens die gebooie en leringe van mense,
23wat, alhoewel dit ’n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees”. Kol 3: 1: “AS julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie”.
Jy moet jou Vader bid dat Hy jou oë sal oopmaak vir die wonderlike waarheid naamlik dat jy, nadat jy saam met Jashuah gesterwe het, ook reeds saam met Hom opgewek is. Dit is die wedergeboorte! Dan kom dit vanself, automaties, dat jy steeds in kontak met jou “Hemelse Hoofkantoor” is. Jy wonder waarmee die Skepper van alles, nou besig is—wat in Sy gedagtes aangaan. Jy sien dat hier baie woelinge op aarde is maar sien ook Sy glimlag, ja hoe Hy spot met hulle (Ps 2: 1-4; Ps 59: 9)
Die Nuwe verbond
Vanmôre vroeg, reeds voor 3uur, het Jashuah my laat opstaan, en Hy het my in Heb 7 en 8 laat lees. En wat ‘n fees! Hy het my in Heb 8: 6-13 laat lees. Jy MOET dit lees! As jy die Heilige Gees gaan toelaat om dié Skrif ‘n lewende Woord in jou hart te laat word, sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie.
As jy aan ‘n kerk behoort wat glo dat jy ‘n “verbondskind” is, wat beteken daardie verbond nou vir jou? Wat glo jy daaromtrent? Veral nou dat duisternis oor hierdie aarde kom en God belowe het dat Hy Sy lig oor ons sal laat opgaan terwyl die skadus daal (Jes 60: 1-2)? Wat troos jou nou in hierdie dae waar ons daagliks die nuus aanhoor van nog blankes wat vermoor is? Goed, as hulle wat vermoor is gelowiges in Christus was, is hulle nou in ‘n beter plek: Hulle is in die hemel! Dit was ook hulle tyd om te sterwe want Jashuah het die sleutels van die doderyk: Open 1: 17-18 “ Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood”. Sit jy maar nou en wag op die dag dat hulle jou ook gaan vermoor? Of maak jy aanstaltes om te vlug na… êrens heen? Jashuah het vir jou goeie nuus, ‘n ‘Blye Boodskap’, dit is “Die Evangelie van Jashuah Messiah” wat leer dat Hy gesterf het en ons saam met Hom. Maar dat Hy ook opgestaan het, en ons saam met Hom! Dit beteken dat dieselfde ding wat met Hom gebeur het tydens Sy opwekking uit die dode deur Sy Vader, ook NOU ons s’n is. Rom 8: 11: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon”. Gaan dit eers later gebeur wanneer Jashuah terugkeer na hierdie aarde? Of nou reeds?
Hierdie is ‘n baie belangrike saak wat jy met jou Vader sal moet gaan uitmaak. Soos Jakob met God geworstel het teneinde die eersgeboortereg, en die seën van God daarin geleë, te bekom, sal jy ook die saak met God moet gaan uitmaak—selfs uitworstel! Nie slegs met God nie maar ook met die mense, soos wat die Skrif vir ons sê in Gen 30: 28 en Hosea 12: 4-5. (Reeds in Hoofstuk 11 het ek hieroor geskryf).
As jy egter in jou hart duidelikheid het dat ons nou reeds hierdie opstanding-lewe saam met Jashuah deelagtig kan word, sal jy ‘n waarborg daarvoor soek. Jashuah sê dan vir jou: “Ek is jou Borg, die Waarborg van die Nuwe Verbond (Heb 7: 22). Ek lewe altyd vir een ding naamlik om vir jou in te tree by die Vader en My bloed al die tyd aan Hom voor te stel (Heb 7: 25), die bloed van die Nuwe Verbond (Matt 26: 28). Ook is Ek die Bedienaar van alles wat die Nuwe Verbond jou bied, Ja, Ek bedien dit aan jou (Heb 8: 1-2), solank jy in My bly (Joh 15: 4-7) sal jy die vrug van die Nuwe Verbond dra (Joh 15: 5, 16). Ek skrywe My wet in jou hart en gee dit in jou verstand (Heb 8: 10-11), jy het nie nodig om dit te probeer doen nie: Ek is jou geregtigheid (1 Kor 1: 30), jou geloof en liefde en vrede. Ook is Ek jou “Volle wapenrusting” (Efes 6: 10-20). Jy het die volheid in My (Kol 2: 10), ja, nou reeds! Glo dit met die geloof wat Ek nou in jou wil werk, as jy My net wil toelaat. Ek waarborg dit vir jou1 Ek is jou Waarborg, My bloed voor die troon van My Vader, is jou bewys.
Nou reeds IS ONS MEER AS OORWINNAARS deur Jashuah wat ons liefgehad het (Rom 8: 37). En niks sal ons kan skei van Sy liefde nie want Hy sê: “EK IS JOU BORG” of jou Waarborg (Rom 8: 35, 38-39).
Om ‘n Beter opstanding te kan verkry
Jou vraag is dalk: “Is al hierdie dinge wat in hierdie 12 Hoofstukke bespreek is dan waarlik nodig om gered te word, kan ek nie daarsonder gered word nie?”. Daar is sekere dinge wat ek genoem het waarsonder jy nie gered sal kan word nie, maar baie van die waarhede is noodsaaklik as jy ‘n “beter opstanding” wil verkry soos Heb 11: 35 sê.
Daar gaan dus in die opstanding ‘n verskil wees in die “graad van heerlikheid”. Baie Christene het waarlik Jashuah as hulle Saligmaker aangeneem en kan dan op grond van die Skrif in Joh 1: 12 aanspraak maak daarop dat hulle ‘n “Kind (teknon) van God” genoem kan word. Lees dit en besluit dan of jy ook ‘n “Kind van God” is. Maar daar is iets meer: “ DAAROM moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God”,
Ek het reeds vroeër verwys na diegene wat jaag daarna om volmaak wees omdat Jashuah gesê het te: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is” (Matt 5: 48). Toe het ek ook verduidelik wie die volmaaktes is. Hulle is die wat in Jashuah is, want in ons self kan ons nooit volmaak wees nie. Alleenlik in Hom kan ons volmaak wees, as ons daarna jaag soos Fil 3: 12 ook sê. Lees dit weer. As ons dus na die volmaaktheid voortgaan, jaag ons eintlik daarna om volkome in Jashuah te wees—ons “lewe saam met Christus verborge in God” (Kol 3: 3)—dus nie meer in ons vlees nie maar in Hom. Ons jaag dus daarna om ‘n seun (huios) te wees.
Een groot rede waarom ons daarna jaag is omdat ons ‘n “beter opstanding” begeer. Ons begeer dit eerstens omdat God ons as seuns en dogters wil hê (huios). Dan begeer ons ook die maksimum heerlikheid in die hiernamaals. Begeer jy dit ook of is jy maar, soos ‘n gelowige eendag vir my gesê het: “Ek is tevrede as ek net by die agterdeur van die hemel kan ingaan”. Ja, die agterdeur sal ook heerlikheid wees, maar daar is groter heerlikheid, en ek is nie vermetel as ek die beter opstanding najaag nie. Johannes het gesê: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ’n volle loon ontvang” (2 Joh 1: 8).
Die heiliges waarna Hebreërs verwys was in ‘n keuse betrokke. Hulle kon kies om verlos te word of nie. Hulle was besig om gemartel te word. Lees Heb 11: 32-40 asb. Jy moet dit nie mis nie! Lees dit. En in die situasie van marteling tot die dood toe, wou hulle bevryding aanneem nie. Waarom sou hulle so dom gewees het? Nee, hulle was nie dom nie. Hulle het geweet van iets waarvan die kinders (teknon) van God nie vandag weet nie. Maar die huios (seuns) weet dit wel, naamlik dat daar grade van heerlikheid sal wees in die opstanding. En dit is vir hulle belangrik, want dié pyn is net totdat hulle dood was, maar die heerlikheid wanneer hulle opstaan in Christus kon nie met aardse maatstaf gemeet word nie! En dan wonder ons of Stefanus, toe hy gestenig was tot sy dood toe, waarlik die pyn wat ‘n normale mens by so ‘n steniging sou moes verduur, werklik gevoel het. Lees weer Hand 6: 15 en Hand 7: 55-60.
88. ‘n Staf voor die aangesig van God in die nag.
Lees Num 17: 6-13. Dit het hier gegaan oor watter stam die heiligdom moes bedien. Hulle moes ‘n staf (kierie) neem end it deur ‘n hele nag in die tent van samekoms sit. Die anderdag-môre was al die kieries dieselfde droë stuk hout as die vorige aand toe dit daar gelaat was, Maar die staf van Aaron het geblom en vrugte gedra, ryp amandels! Dit was toe die wyse waarop God getoon het dat die stam van Aaron (Levi), vir God die priestersamp moet bedien. Maar wat is die Lewende Woord vir ons in die tyd dat daar nie meer ‘n vleeslike stam is wat Sy priesters moet wees nie?
Die boodskap is duidelik: Wanneer ons in hierdie nag-toestand, wat oor ons land en ook oor die hele wêreld kom, gaan stil word voor God en soveel moontlik net in Sy teenwoordigheid gaan verkeer waar ons drink uit die fonteine van heil, Hom aanbid en vereer, Sy teenwoordigheid inasem, Hom liefhê, al jou lotgevalle in Sy hande los wetende dat alle dinge vir jou ten goede meewerk omdat jy Hom liefhet (Rom 8: 28), dan gaan jy vrugdra! Jashuah sê: “As julle in My bly sal julle veel vrug dra”. Lees Joh 15:3-9, 16. As jy in die vlees bly sal jy slegs die vrug van die vlees, of die natuurlike mens, dra (Gal 5: 19-21), maar as jy in Jashuah se liefde bly, sal jy die vrug van die Gees dra (Gal 5: 22). As Hy jou toets sal jy soos goud tevoorskyn kom (Job 23: 10).
Het jy al geleer dat die Woord in Ps 46: 11 waarlik werk? “Laat staan en weet dat Ek God is”. Ook Ps 62: 7: “Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting”. Dit is wat God ook vir jou wil doen as Hy sê: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan”. (Jes 26: 20-21) Vers 21 sê dat God eintlik nou besig is om met die goddeloses oor die aarde ted eel en hulle ongeregtigheid aan hulle te besoek. Maar vir ons, wat ook steeds nog die sondenatuur het, maar na Jashuah gekom het om ons te verlos deur Sy bloed en ons te vervul met Sy goddelike natuur (2 Pet 1: 4), het Hy in liefde ‘n skuilplek teen die storms gebied: IN HOM en IN SY SEUN. In DIE ROTS wat nie wankel nie!
Wat ek persoonlik ervaar het gedurende die skryf van hierdie 12 Hoofstukke
Jy sal dalk vir my vra: “Eugenius, jy het nou hierdie 12 Hoofstukke geskryf oor ‘n tydperk van ’n bietjie meer as ‘n jaar. Wat het in jou, as die skrywer daarvan, plaasgevind. Dan wil ek eerstens sê dat ek nie los gestaan het daarvan nie. Die evangelie is deel van my—dit is my eie hart! 1 Kor 9: 23 “En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ’n deelgenoot daarvan kan word”. Soos Paulus wil ek praat van “my evangelie” (Rom 16: 25). Al sou daar geen mens wees wat baat gevind het by dit wat ek moes skrywe nie het dit myself gevoed. Paulus sê vir Timotheus: “As jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Jashuah Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy ‘n navolger geword het” Hy sê ook: “…dat die wat by die wat by die altaar besig is, met die altaar deel…” (1 Kor 9: 13). En na alles gesê en gedoen: “16Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1 Kor 9: 16). Al die oggende wat ek 3uur opgestaan het om te bid en te skryf was vir my perssonlik ‘n voorreg en tot geestelike groei in Jashuah. Baie môres kon ek die trane van dankbaarheid nie bedwing as die Woord deur my gevloei het na jou toe nie. Nou sal daar vir my die verdere dwang wees vir die nodige “nasorg” as ek vir jou bly bid “…dat Hy wat ‘n goeie werk in jou begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jashuah Messiah”. Amen
“Die genade van onse Here Jashuah Messiah sy met julle almal! (Open 22: 21) Amen.