Skrywe begin vanaf 28 Maart 2017
Inhoud Deel 1(1)
1. Inleiding tot Deel 1(1)
2. My skape ken My stem
3. Die Belofte van die Lewe
4. Lewe deur elke woord wat uit die mond van God uitgaan
5. Eerste God se Koninkryk en Sy Geregtigheid
6. Ek is die Opstanding en die Lewe
7. Van die vrug van iemand se mond eet hy
8. Die vrug van die gesproke Woord
9. Ontvang die Heilige Gees
10.Wandel in die Gees
11. Drink uit die Fontein van die Lewe
12. Uit Sy volheid het ons almal ontvang
13.Vergewe en vergeet
14. Om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly
1. INLEIDING tot DEEL 1(1)
Sedert my jeug het ek ‘n begeerte om God se wil te doen. My vrou Ansie getuig van dieselfde. Die Bybel was altyd ‘n boek wat anders was as alle ander geskrifte. Ek het geglo wat daarin geskryf staan. Ek geweet dit is die woord van God, maar was oningelig omtrent die groot waarheid dat Hy met my persoonlik daardeur wil praat. Dit was wonderlik dat Dawid kon sê: Die Here is my herder, maar kon ek dit sê? Die dominee het Sondae vertel wat God se voorwaardes alles behels om dit te kon sê dat Jahweh my Herder is, en dit was waar. Maar ek kon nooit al daardie voorwaardes nakom nie want as ek die goeie wou doen was die kwade altyd daar (Rom 7 : 10-26). Ek het altyd gevoel dat ek dit nie waardig is nie, dat ek dit nie verdien nie. Dit het my ‘n “verdienste mens” gemaak. Daarom kon ek nooit die Vader se beloftes vir myself toeëien nie. Jare het verby gegaan waartydens ek letterlik honderde beloftes gelees het in die Bybel, maar hulle was nie vir my persoonlik lewend nie. Uiteindelik het ek in 2 Kor 1 : 20 gelees het: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (IN CHRISTUS) is hulle ja en in HOM amen, tot heerlikheid van God deur ons”. Toe het ek besef dat dit vir ons Vader baie belangrik is dat Sy beloftes aan ons vervul sal word want Hy is wakker oor Sy woord om dit te volbring (Jer 1 : 12). Sy WOORD is bokant Sy Naam (Ps 138 : 2). Die King James vertaling sê “ For You have magnified Your word above your Name”. As ons ooit kan besef hoe groot en hoog Sy Naam is en dan ook besef dat Sy WOORD nog hoër is as Sy Naam, sal ons ook kan besef hoe belangrik dit vir Hom is om Sy woord te vervul. Dit is loutere heerlikheid vir Hom, en ook vir ons want Hy wil dit deur ons vervul. Wat ‘n voorreg, wat ‘n heerlikheid!
Hierdie kernagtige samevatting van al Vader se beloftes aan ons skryf ons in opdrag van Hom wat ons so baie lief het en daarom graag met jou en my wil praat, veral in die tyd waarin ons nou lewe. Voel jy jouself veilig in Suid Afrika? Jy kan net so veilig voel hier as op die veiligste plek op aarde mits die beloftes van jou Vader in die hemel in jou hart lewe. Maar as dit nie die geval is met jou nie wil jy weg hardloop. Almal wat nie ‘n persoonlike belofte van ons Vader in die hemel het vir hul beskerming nie, se toekomsplanne tot stilstand. Vrees gryp hulle aan totdat hulle ‘’n persoonlike belofte by Vader ontvang waarin Hy vir jou sê “Moenie bevrees wees nie”. Maar dit is belangrik dat die Heilige Gees dit in jou hart sal verlewendig anders bly dit ‘n blote teks in die Bybel en is nog nie jou Vader wat vir jou sê “My kind, jy moenie bevrees wees vir die dreigemente van die vyand nie, want Ek is jou bewaarder en Ek het My engele angaande jou bevel gegee” (Ps 91 ). om jou te bewaar. So ‘n woord wat jou liefdevolle Vader vir jou persoonlik gee bring ‘n groot omwenteling in jou hart en ook in jou hele gemoed: Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, stroom in jou hart in (Fil 4: 7).
‘n Geloof wat jy altyd begeer het, word jou kosbaarste besitting tesame met ‘n dankbaarheid, liefde vir Hom en ‘n vreugde wat uit jou hele wese straal.
Hier waar ons vandag sit en skryf is ons in een van die mooiste plekke waar ons nog in al ons jare was. Dit is in die Drakensberge. Ons sien geen mens nie, slegs die berge en die stroom water wat hier verby raas. Ansie en ek sit hier op die stoep en ons peins oor elke woord wat die Vader ons gegee het. En as Hy vir ons sê dat ons “al die woorde wat Hy ons van die begin af gegee het moet neerskryf in ‘n boek” (Jer 36 : 2), veral die beloftes, dan word ons klein voor Sy aangesig. Ons is nie skrywers nie. Tale was nog nooit my sterk punt nie. Die wetenskap was my passie. Hoe kan ons dit regkry as Hy ons nie die genade gee nie? En ons moet dit nou dringend skryf want Sy volk is in die nood. As Hy ons nie gaan bewaar en die oorwinning gee oor die vyand nie, is dit die einde van die volk wat Hy na hierdie Suidpunt van Afrika gestuur het. Ten einde dit te bereik sal ons weer moet terugkeer tot die God wat ons voorvaders hierheen gestuur het, en Sy oorspronklike plan met ons moet herontdek. Wat staan ons te doen?
Jahweh lei ons om ‘n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is (Fil 3 : 16) en dit in volgorde op te skrywe (Luk I : 1-4) “sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is” (vers 4) . Al sou hierdie beloftes slegs vir my en my vrou iets beteken, sal dit goed wees, maar as dit ook vir jou tot geestelike sterkte kan lei sal dit vir ons ‘n vreugde wees om dit met jou te deel! Ons is seker dat dit vir jou sal dien tot onbeskryflike geestelike verryking indien jy dit lees tesame met ‘n diepe toewyding en erns.
Die woord het ook tot my gekom: “Maar wat ons reeds bereik het” (Fil 3 : 16). Aan die einde van die jaar word ek 75. Soos my vrou het ek ook van jongs af Jahweh gesoek, en dit was nie tevergeefs nie . Op ’n dag het ek gewonder of dit dalk tevergeefs was en toe het my Vader my hard bestraf want Hy het belowe dat Hy die goeie werk wat Hy in ons begin het sal voleindig tot op die dag van Jahweh (Fil 1 : 6 ). Deur baie wonderlike ervaringe en ook ontberinge het Hy ons gelei. Bykans 17 jaar is Ansie en ek bymekaar en sedertdien soek ons saam die aangesig van God (Elohim) ons Vader en Sy Seun Jashuah Messiah (Jesus Christus). Hier begin ons dan vandag om in volgorde met jou sommige van die beloftes aan ons, wat ook vir jou bedoel is, mee te deel. Ons deel natuurlik nie dit met jou wat slegs vir ons persoomlik bedoel is.
Jer 9 : 23-24 sê dat ons wysheid, geld en krag nie die dinge is waarna ons nou moet jaag nie. Ons moet najaag om Hom te ken dat Hy Jahweh is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen, want in dié dinge het Hy ‘n behae . Die oë van Jahweh is op die wat Hom vrees en op Sy goedertierenheid wag, nie die wat op ‘n leërmag of wapens vertrou nie (Ps 33 : 16-22). Dink net, die Skrif sê dat die oë van die Here deurloop die ganse aarde om iemand te vind wie se hart onverdeeld op Hom gerig is, sodat Hy daardie persoon kragtig kan ondersteun (2 Kron 16 : 9). Dit beteken dat ons nie ons een oog op die Here kan hê en die ander op die mens en sy hulp nie. Die mens se hulp is nietigheid (Ps 39 : 6) .
Deur die jare het ons beloftes vir verskillende dinge gekry, byvoorbeeld: verlossing van sondes en die vlees, genesing van krankhede, bewaring teen fisiese gevare en bedreigings, bewaring van ons gees en siel teen die aanslae van Satan, voorsiening in behoeftes ( en daar was en is steeds baie behoeftes) beloftes dat Vader mense gaan red, beloftes vir die volk van Jahweh, hulle vervulling met Sy Gees, eenwording van Sy kinders, ook beloftes dat Hy ons vyande gaan vernietig maar ons daarenteen op aarde gaan bevestig, die belofte van ‘n oorblyfsel, beloftes dat Hy ons genade sal gee om te volhard, beloftes dat ons deur Sy genade, en nie deur ons verdienste nie, gered sal word. Daar is nog talle beloftes. Lees maar verder. Maar eerstens is dit belangrik om te hoor wat Hy belowe het om vir jou geestelik te doen. Dit help nie dat jy wil hoor oor die bewaring teen al die misdade, geweldplegings, voorsiening van geld ens. nie, maar jy is nog nie seker van jou regverdigmaking nie. Talle beloftes wat Vader vir ons gegee het is gegee vir die regverdige . Is Jy ‘n regverdige? Op grond waarvan?
Die Skrif se dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie maar van elke woord wat uit die mond van God uitgaan (Matt 4 : 4). Daar is dus lewe in Sy woord (Joh 1 : 4; Joh 6 : 63; 1 Joh 1 : 1) . . Bid nou dat die Vader Sy manier waarop Hy met jou gaan spreek aan jou sal openbaar deur die volgende belofte wat tot jou gaan kom.
By hierdie aansluiting moet ek egter iets noem naamlik dat dit baie belangrik is dat jy elke Skriftuurplaas, dus elke teks wat ek aanhaal, sal naslaan in die Bybel en dit aandagtig en biddend sal lees. (Onthou dat ek gebruik die Ou Vertaling van 1953/ 57. Die Nuwe vertaling sal heel moontlik verskil) Dit is van die allergrootste belang!! Daarsonder gooi jy die belangrikste deel van die beloftes weg. Neem liewer weke op een Belofte maar laat dit waarlik in jou hart lewend word sodat dit jou kan deurdra in hierdie tyd wat ons nou deur gaan. Lees ook die Inleiding by Deel 2 in verband met die verskil tussen ‘n Woord wat jy by Vader ontvang en ‘n Belofte. Vir die doel van hierdie beloftes is dit maar dieselfde.
2. My skape ken My stem
Deur die geskiedenis het Jahweh op baie verskillende maniere tot ons voorvaders gespreek (Heb 1 : 1). Maar kan ons vandag Sy stem ken? Hy het belowe (Dit is dus ‘n belofte) dat Sy skape Sy stem sal ken (Joh 10 : 1-5) . Het jy Jashuah as jou Verlosser aangeneem? Dan is jy ‘n kind van God (Elohim) en Hy is jou Vader volgens Sy woord (Joh 1 : 12; 1 Joh 3 : 1) . As jy dit waarlik glo dat jy nou Sy kind is, sleg en vol sonde soos jy ook mag wees, is jy een van Jashuah se skape en jy ken Sy stem. As jy dit nou glo sal jy ervaar dat Hy met jou op verskillende manier gaan praat. Soms deur mense, ander kere deur gebeure en ervarings, en baie maal deur die Skrifte. Hy praat daagliks met my deur Sy Gees asook deur die Skrifte. En wat ‘n heerlike ervaring was dit nie deur die jare om Sy stem te hoor in talle groot sake asook in die kleinste. Vader is die God van liefde, genade, barmhartigheid en trou. Hy is die God wat die sondes vergewe maar nooit ongestraf laat bly nie (Exodus 34 : 5-7) . Daarom moes Hy Sy Seun straf vir ons sondes want Hy laat geen sonde ongestraf nie (Jes 53 : 4-5). Maar oor die beloftes van ons saligheid en regverdigmaking skryf ek later. Dit is nou eers belangrik om te weet dat hy met jou praat deur die Skrif. Hier moet ons dadelik ‘n verskil sien tussen die Bybel as sulks en die Lewende Woord.
God (Elohim) het alle dinge laat ontstaan deur Sy Woord (Joh 1:1-3), soos alles wat lewe uit saad ontkiem (Mark 4:14, 26-29; 1Pet 1:23). Sy Woord het skeppingskrag! Hy benodig nie materiaal om iets te skep nie. Uit niks het Hy alles geskape deur slegs ‘n Woord te spreek (Heb 11:3). Vir die mens se verstand is dit net so onverklaarbaar soos die ontkieming van die saad (Mark 4:26-28). Sy Woord is onverganklike saad (1Pet1:23) en word deur Homself vervul (Jes 55:10- 11; Jer 1:12). Wat Hy gesê het, sal gebeur – Hy kan nie lieg nie (Num 23: 19; Heb 6: 18; Tit 1:2).
Die Bybel is nie vir almal die lewende woord nie. Vir diegene wat onopreg is, is dit blote letter: geskiedenis, etiese gedragskodes, mooi gedagtes, bemoediging ens. Maar nie vir hulle wat dit biddend lees en glo dat hulle Vader met hulle daardeur spreek nie. Vir hulle is dit ‘n Lewende Woord, deur die Heilige Gees verlewendig (Joh 6:63) en nie blote letter nie (2 Kor 3:6). En die letter maak dood, maar die Gees maak lewend (Vers 6)
Jashuah en die Woord is een. Hy is die Lewende Woord (Open 19:13) waardeur die Vader alles geskape het (Joh 1:1-14). Die ganse volheid van Elohim woon in Hom (Kol 1:19; 2:9). Hy kan nie geskei word van die Woord nie. Jy kan nie die Lewende Woord in jou hart ontvang sonder om Hom as persoon te ontvang nie (Kol 3:16). Blote Skrifkennis maak van jou ‘n goeie Skrifgeleerde of Fariseër sonder die lewe van Jashuah in jou. Daar is ‘n verskil tussen verstandelike kennis van die Bybel en om Jahshuah persoonlik te ken deur ‘n liefdesverhouding met Hom te hê (1 Kor 8:1- 3; Fil 3: 10; Efes 3:18-19). Om ‘n openbaring van Hom as die Lewende Woord te hê moet jy Hom liefhê (Joh 14:21-24). Sy liefde is anders as gewone menslike liefde (Phileo). Dit is ons God se liefde (Agape) en word alleenlik deur sy Gees uitgestort in ons harte (Rom 5:5). Hierdie liefde word gekenmerk deur ‘n sterk begeerte om Sy wil te doen en nie meer joune nie (Joh 14:21-23).
Ten einde so ‘n vervulling met God (Elohim) se liefde te ontvang moet jy gewillig wees om Sy wil te doen – wat dit ook al mag kos (Joh 7:17) soos wat Sy Seun gedoen het (Mark 14:36; Joh 6:38). Sy wil vir die mens is dat die ou sondige natuur moet sterwe, sodat sy goddelike natuur (2 Pet 1:4), wat kom deur die lewe van Sy Seun in ons, in ons uitgestort kan word deur sy Gees (Rom 6:5-8 ; Rom 8 : 11)). Hy het alleenlik behae in die mens as Sy Seun Jashuah, in wie Hy ‘n welbehae het (Matt 3:17), in hom woon. Soos wat die koringkorrel (saad) nie kan lewe as dit nie eers gesterf het nie (1 Kor 15:36; Joh 12:21-25), is daar geen manier waarop jy die lewe van Messiah kan ontvang anders as om eers die sterwe saam met Hom deelagtig te word nie. Om die sterwe te ervaar moet God aan jou die Woord van die Kruis openbaar
(1 Kor 1:18). Dit is die Belofte van die Lewe (1 Tim 4 : 8; 1 Tim 1 : 1).
3. Die Belofte van die Lewe
(1 Tim 4 : 8; 2 Tim 1 : 1)
Voordat jy Sy lewe kan ontvang moet jy eers saam met Hom sterwe (2 Tim 2 : 11 ; Rom 6 ; 1-11). Die gelowiges van die ou dae het dit geglo. Selfs in kerke soos die NG Kerk en ander Gereformeerde kerke was dit geglo en was dit ook deel van hulle Beleidenisskrifte. Ek haal aan uit “Die Heidelbergse Kategismus” Sondag 88: “Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens? Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe”. Wyle Dr. Andrew Murray, vir wie hierdie kerke ‘n standbeeld opgerig het in Wellington, Wes Kaap, verwys na dieselfde “vraag 88” en verduidelik as volg: “Die uitdrukkings wat hier gebruik word, is aan die Skrif ontleen. Dit spreek van ‘n ou mens vir wie daar geen ander raad is nie as dat ons deur die dood van hom bevry word. Dit leer ons dat ons met Christus gesterf het, dat ons die sonde en die ou mens afgesterf het. Dit spreek van ‘n nuwe mens wat deur God in Christus reeds geskape is, en wat ons aantrek”. Ek het nie hier die ruimte om die hele gedeelte aan te haal nie, maar daar is nog talle ou boeke waarin die ou Godsmanne hierdie selfde mening uit die Skrif huldig. Hulle het dit geglo en gelewe! Dit is die woord van die kruis waarna Paulus verwys in 1 Kor 1 : 18.
Hierdie Woord is dwaasheid vir die wat verlore gaan maar vir hulle wat gered word is dit die krag van God (1 Kor 1:18,22-24). Sonder die woord van die kruis bly jy sonder Sy krag en is dit onmoontlik om ‘n lewe van oorwinning te ervaar. Hierdie is ‘n sleutelwoord wat die lewe van Jahshuah, wat Hy deur Sy opstanding uit die dode ontvang het, vir ons ontsluit. Dan ontvang jy presies dieselfde lewe – Sy opstandingslewe en heerlikheid (Rom 8 : 11) . As jy natuurlik bereid is om dieselfde sterwe deelagtig te word (Gal 2:20). En dit het reeds plaasgevind. Ons is saam met Hom gekruisig (Rom 6:3-11). Ons is ook saam met Hom begrawe (Kol 2:9- 11; Rom 6:4) en ook saam met Hom opgewek in ‘n nuwe lewe (Efes 2:5- 6; Rom 6:4,8-11). Dis ‘n historiese waarheid. Dis die evangelie – die blye boodskap, die goeie nuus (2 Tim 2:11).
Nou vra jy: “maar waarom ervaar ons nie sy opstandingslewe nie, Sy geloof, liefde, wysheid, vrede en heerlikheid nie?” Waarom ervaar ons nie die werking van Sy sterwe in ons nie (2 Kor 4:10-12)? Waarom sterf ons nie vir die sonde nie (Rom 6:3-11)? Hoe kry ons dan nie die ou vleeslike mens, die “eie ek” begrawe nie? Waarom sondig ons nog? ‘n Dooie kan tog nie sondig nie. Waarom is ons nog nie dood vir die wêreld as ons dan saam met Messiah gekruisig is nie (Gal 6:14) ? Waarom lewe ons “eie ek” of vlees dan nog as ek met Messiah gekruisig is (Gal 2:20) ? Waarom wil ons nog so graag poog om Vader te behaag deur goeie werke (die wet) te doen, as ons dan dood is vir die wet (Rom 7:4-6) ? ‘n Dooie kan tog nie goed doen of ‘n wet onderhou nie? En dan verwag ons dit ook van ander mense! Ons meet hulle aan hulle werke. Kol 1:5-6 verklaar dat die “woord van die waarheid van die evangelie vrugdra van die dag af wat ons dit gehoor het en die “genade van God in waarheid leer ken het”. Die openbaring van die sterwe saam met Messiah en die ervaring van Sy opstandingslewe en heerlikheid in jou, vind eers plaas nadat jy die genade van Jahweh in waarheid leer ken het. Baie jare se Bybelstudie kan dit nie vir jou gee nie. ‘n Goeie, vroom lewe van kerk toe gaan is ook nie die antwoord nie. Let op dat die wet van die Gees waarna Rom 8:1–3 verwys nie hierby ingesluit is nie. Maar om die wette van Jahweh, die kerk, samelewing en selfs jou eie wette te onderhou, rig niks uit nie. Want die opstandingslewe kom deur genade en nie deur verdienste nie. Vader moet deur Sy genade die sterwe en lewe van Messiah in jou werk. Die vlees is van geen nut nie (Joh 6:63) . Al probeer jy ook hoe opreg in jou vleeslike krag, dit sal Hom nooit kan behaag nie (Rom 8: 5-8). Jahshuah moet dit in jou werk deur Sy Gees (Fil 2:13). Sonder Hom kan jy niks doen nie (Joh 15:4-5). As jy probeer deur goeie werke te doen (deur verdienste) het jy nie Messiah nie en ook nie Sy genade nie (Gal 5:4). Om Sy genade in waarheid te leer ken moet Hy die woord van Sy genade tot jou spreek (Hand 14:3). Lees in Hand 20:32 wat hierdie woord van genade doen!
Die vraag is nou: tot wie spreek Jahweh die woord van genade? Die antwoord is: Tot die wat ore het om te hoor. Lees Matt 13:9- 18; Joh 8:42-47. Hoekom kan sekeres hoor en ander nie (Matt 19:11). Dit word bepaal deur die gewilligheid om Vader se wil volkome en van harte te doen, om Hom lief te hê en te gehoorsaam. Aan hulle openbaar Hy genade (Efes 6:24).
4. Lewe deur elke Woord wat uit die mond van God uitgaan
Let Wel: Hierdie hoofstuk behoort jy saam te lees met “ ‘n Nuwe begrip van Sy woord” in Deel 3.
Dit is so belangrik dat die Woord van God vir jou nie meer slegs “ Woorde uit die Skrif of uit die Bybel” sal wees nie, maar dit dit vir jou “Die Woord wat kom uit die mond van God” sal wees. Ons maak vandag nogal ‘n groot saak van “Wie iets gesê het”. Ons kan so gou vra: “Wie het so gesê?”. Daardie “WIE” is vir ons belangrik. As ons dan hoor dat dit iemand is op wie se woord ons nie kan peiltrek nie, aanvaar ons dit moeilik of selfs gladnie. Die betroubaarheid van die persoon wat iets sê is dus deurslaggewend. Is God betroubaar? Ja, en duisend maal “JA”. Sy Naam is “Die Getroue” (Hos 12 : 1). Kyk in Ps 89 : 2- 15 hoe Hy Sy trou saam met Sy goedertierenheid noem. Ook in Ps 85: 11.
As die woord dus uit Sý mond uitgaan is dit heel anders as wanneer dit uit die mond van ‘n mens geuiter word. Hoe baie mense en volkere is al mislei omdat hulle die woord van leiers geglo het en op die ou einde ontdek het dat dit leuens was. Maar van God sê Jos 23 : 14-15 dat geeneen van God se woorde onvervuld gebly het nie, alles het vir hulle uitgekom. Waarom? Want Hy is die God wat nie kan lieg nie (Num 23 : 19; Heb 6 : 17-19) . Hy is die getroue God (1 Kor 10 :13). As jy sommer nou kan bid in die Naam van Jashuah dat jou Vader aan jou ‘n totale nuwe begrip van Sy woord sal gee, sal die Bybel vir jou ‘n nuwe betekenis kry. Dit sal nie meer alleenlik ‘n goeie boek met geskiedenis, sedelesse, riglyne, vermanings, ens wees nie. Ja , dit is beslis ook so volgens (2 Tim 3 : 16-17), maar ook meer as dit: dit sal Jahweh wees wat met jou spreek. Hy sal vir jou die Woord van die lewe wees. Ja, daar is lewe in Sy woord ! Lees Joh 1 : 1-12 asook Joh 6 : 63 en vra dat Jahweh Homself deur Sy woord aan jou sal openbaar.
5. Eerste God se koninkryk en Sy Geregtigheid
As ons na die drie Dele van hierdie Beloftes aan die “Stilles in die lande” kyk is die tweede deel, “Die reg van God”, soos die boonste punt van ‘n driehoek. Die eerste deel en die derde deel vorm die twee basis hoeke van die driehoek. As jy nou sommer gou op ‘n stuk afval papier ‘n driehoek trek, sal jy opmerk hoe alles van God, ons Vader, af kom. Die linker-hoek is Sy Seun Jashuah Messiah. Jy sal dan opmerk dat God se regte, wil en vereistes is bo alles. Dit is bo Sy lewende woord wat Hy tot ons spreek en dit is bo al ons regte wat ons in Sy Seun, Jashuah Messiah het (Die ander basis-hoek). Trouens, as ons Sy regte en Sy wil en begeertes eerste plaas in ons hele lewe, sal ons ervaar hoedat Hy Sy lewende woord tot ons spreek en ook hoe ons die regte wat ons het op die volheid van Christus, in besit kan neem.
Jashuah is die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het (Joh 1 : 1-14). Hy is ons lewe (Kol 3 : 4). Hy sê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?”(Joh 11 : 25-26). Die wyse waarop God dus die lewe in jou uitstort is om Sy lewende Woord aan jou te gee sodat jy dit kan “eet” (Jer 15 : 16; Open 10 : 9-11). Die woord is ook die Gees van die lewe (Joh 6 : 63; Rom 8 : 11). Om dit te “EET” beteken om jouself deel daarvan te maak of as jy dit andersom wil sê: Om dit deel van jouself te maak. Hoe dit ook al sy, jy kan nie deel word van Sy opstandingslewe as jy nie eers gesterwe het met Hom nie. Lees Rom 6 : 1-12, Gal 2: 20-21; 2 Tim 2 : 11).
Om Sy koninkryk en Sy geregtigheid eerste te stel in jou lewe (Matt 6 : 33), beteken dat jy Sy koninkryk bo alle ander koninkryke stel. Dit sluit jou eie koninkryk beslis in. Dit beteken dat die ryk waarin jy koning kraai, gewoonlik jou huis en familie jou werk en aansien, die geld waarna meeste mense jaag, en alles wat jy wil hê soos jy dit begeer. Dit is jou koninkryk. Jy sal moet die Koninkryk van God bo jou eie stel en eerste Syne soek. Dit sluit ook in dat jy Sy Geregtigheid bo jou eie sal stel. Gaan sit en dink vir ‘n oomblik wat volgens jou mening “Die regte ding is om in hierdie lewe te doen”. Is dit om aansien, rykdom en eer te bekom? Ook vir jou kinders ? Is dit die dinge waarteen die Skrif in 1 Joh 2 : 15-17 waarsku?: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêrel is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen bly vir ewig.” En is dit dan wat reg is in jou oë? Dit is dus vir jou geregtigheid? Maar God openbaar Sy GEREGTIGHEID aan ons in Sy SEUN. Lees 1 Kor 1 : 30; Jer 23 : 6. Is dit nie dalk omdat jy die geregtigheid van God, naamlik Jashuah, nie leer ken het nie, dat jy jou eie geregtigheid vir jou opgerig het nie? Lees verseker Rom 10 : 3: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie”.
Jy sal dus nie die lewe in Christus deelagtig kan word as jy nog jaag agter die tasbare dinge aan nie. Maar as jy Sy Koninkryk en Sy Geregtigheid (Dit is Jashuah) begin soek en dit najaag sal jy ‘n rykdom en heerlikheid verkry wat geld en wêreldse hulpbronne jou nooit sal kan gee nie (1 Joh 2 : 15-17; 2 Kor 9 : 8-11).
6. Ek is die Opstanding en die Lewe
Toe die Vader deur die eeue talle gelowiges belowe het dat hulle geliefdes wie weens verskillende redes op die punt was om te sterwe, nie sal sterwe nie, het Hy gewoonlik vir hulle Joh 11:25, 26 as belofte gegee. Dan het hulle op daardie tydstip verstaan dat hulle geliefde fisies nie sal sterwe nie. Wanneer die geliefde dan gesterwe het, het hulle dit logies nie verstaan nie. Die vraag in hulle harte was: “Het ons die Woord nie reg gehoor nie?” Alhoewel hulle op ‘n later stadium kon verstaan toe die Heilige Gees aan hulle die bogenoemde Skrif verduidelik het: “Ek is die opstanding en die lewe: wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” Maar die versekering dat Jashuah die sleutels van die doderyk in Sy hand hou het hulle vertroos. Die versekering dat Hy elke lewende wese se lewe op aarde beplan het, hulle geboorte en sterfdatum, selfs tot op die sekonde, was vir hulle ‘n vertroosting en sekerheid. Lees Job 12:10 en Job 14:5. Maar die grootste vertroosting en bemoediging was dat God wel Sy Woord aan hulle vervul het, alhoewel hulle dit nie verstaan het nie.
Daar is lewe in Sy Woord. Daar is lewe in Hom. En dit is wat ons vyande magteloos maak: Hulle besef dat al maak hulle ons ook fisies dood kan hulle Christus ons lewe nie dood maak nie. Hy was dood maar lewe nou tot in ewigheid. Hy sê: “…Ek is die eerste en die laaste en die lewende: en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en die dood” (Open 1 : 17-18). In Hom en Hom alleen is daar lewe. Ek praat nie nou van fisiese lewe nie, ek praat van geestelike lewe, die ewige lewe. Dié lewe is in Hom alleen te kry.
Wanneer Sy Woord tot jou kom as ‘n lewende Woord sal jy ervaar hoedat lewe in jou in stroom. Hy sê: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh 6 : 63). Maar die voorwaardes om Sy Woord van die lewe te ontvang, was vir Sy toehoorders ‘n harde woord. Hoor hoe murmereer hulle daaroor: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (Joh 6:60). Wat veral vir hulle hard was was die woorde wat Hy gespreek het dat niemand na Hom kan kom as die Vader hom nie trek nie (Joh 6 : 44, 65). Ook het Hy vir hulle gesê dat as iemand nie Sy vlees eet en Sy bloed drink nie, hy nie die ewige lewe kan hê nie (Joh 6 : 47-59). Hulle het seker nie verstaan wat Jashuah hiermee bedoel het nie. Verstaan jy dit? Weet jy wat dit beteken om Sy vlees te eet en Sy bloed te drink? Bid Hom nou dat Hy dit vir jou duidelik maak. Daarsonder kan jy nie die ewige lewe ontvang nie, al is jy hoe getroue kerkganger en al het jy ook ‘n mooi lewe.
As hierdie waarheid vir jou oopgaan sal jy ervaar dat die mens van brood alleen nie kan lewe nie maar dat hy die Woord wat uit die mond van God uitgaan (Matt 4 : 4) nodig het daarvoor, die Woord wat een is met Sy Gees (Joh 6 : 63). En dit is presies dieselfde Gees wat God in Sy Seun uitgestort het toe Hy Hom uit die dood opgewek het (Rom 8 : 11).
7.Van die vrug van iemand se mond eet hy…
(Spr 18 : 20 – 21)
Vandag is daar ‘n Woord wat onontbeerlik en onmisbaar is in jou geestelike lewe indien jy die Beloftes van jou Vader in die hemel wil ontvang asook die vervulling daarvan. Een groot waarheid wat baie gelowiges vroeg in hulle lewe ontdek het is dat daar groot dinge in woorde opgesluit lê. En wanneer jy die Woord spreek in Jashuah se Naam stel dit ongekende krag vry – SY krag ! Vir baie nie-opregte Christene het die spreek van die Bybelse Skrifte in clichés verander. Dit roep hulle dan tydig en ontydig uit. Ek weet nie of hulle daardeur indruk wil maak nie. Miskien dink hulle dat, omdat Jashuah gesê het dat ons ons nie moet skaam vir Hom en Sy woorde nie, hulle dan so moet optree. Een ding is seker naamlik dat dit meer skade as goed doen. Daar is niks wat dit wat ons glo beter verkondig as ‘n stille vertoning van Sy liefde, krag, selfbeheersing, vrede, lydsaamheid, getrouheid en al die ander vrugte van die Gees nie. Paulus sê dat hy nie die woorde van die Korinthiers wil hoor nie maar hulle krag “…want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie maar in krag” (1 Kor 4 : 18 – 20). Maar dit wil mos nou lyk asof dit wat ek eerste gesê het met betrekking tot woorde en die laaste teenstrydig is met mekaar. Is woorde nou goed of nie ?
Daar is woorde uit die vlees van die mens gespreek en dan is daar woorde deur die Heilige Gees gespreek. (Matt 10 : 19, 20). Daar is ydele woorde (Matt 12 : 33 – 37) en daar is woorde wat groot krag dra (Job 6 : 25). Dit is opregte woorde. In Spreuke spreek Salomo talle maal oor die woorde van die wyse en die regverdige teenoor die woorde van die sot en die dwaas. Maar Jashuah sê dat die mens vir elke ydele woord wat hy spreek verantwoording gaan doen in die oordeelsdag (Matt 12 : 37). As ek lees wat Paulus sê van “…onheilige en onsinnige praatjies wat soos ‘n kanker voortwoeker..” (2 Tim 2 : 16 – 17 ) dan is ek so diep afhanklik van Christus wat in my woon dat HY, wat my geregtigheid is (1 Kor 1 : 30), my volkome vry sal maak van alle woorde wat nie deur Hom gespreek word nie.
Dit is egter so dat jy eet van die vrug van jou woorde (Spr : 18 : 20 – 21). As jy iemand is wat geneig is om onsin te praat sal jy nooit die vrug van die Gees kan dra nie. Ook sal jy nie instaat wees om geloof te openbaar as jy gedurig woorde van vreesagtigheid en ongeloof spreek nie. Jy sal ook nie kan vergewe of liefhê as jy woorde van bitterheid en haat spreek nie. JY is inderdaad dit wat by jou mond uitgaan. Want daardie woorde kom uit jou hart (Matt 12 : 34 – 35) “Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is ?” (Vers 34) Jakobus noem die hart ‘n fontein. Lees Jak 3 : 1 – 12 en let op wat verse 9 – 12 sê. Hy sê dat geen mens die tong kan tem nie (Vers 8). God kan natuurlik as ons Hom daarvoor bid en vertrou.
As jy dan baie na die leë woorde van mense sit en luister sal jy nooit vol van die Gees kan word nie. Maar as jy soos Maria aan die voete van Jashuah sit en luister na Sy woorde sal jy ervaar dat jy die beste deel uitgekies het wat van jou nie weggeneem kan word nie. (Luk 10 : 38 – 42). Dan sal jy woorde kan spreek wat berge kan versit (Mark 11 : 22 – 26). Maar dit is belangrik dat jy nie alleenlik die woorde spreek nie maar dat dit moet gepaard gaan met geloof (Vers 23). Rom 10 : 8 – 10 verklaar duidelik dat jy met jou hart moet glo asook met jou mond bely. Dan gebeur daar iets ! Daar is vrug. Uit die vrug van jou mond eet jy nou die goeie. Daar is veel te sê oor hierdie waarhede maar dit sal moet wag vir later. Intussen moet jy bid dat die Vader jou sal vervul met Sy woorde soos Petrus sê : “As iemand spreek laat dit wees soos woorde van God” (1 Pet 4 : 11). Terwyl jy nou ernstig gaan bid oor hierdie saak moet jy asseblief Spr 18 : 20 – 21 lees en jou Vader smeek om dit in jou hart te laat lewe. LEES DIT SOMMER NOU! Dit lees in vers 21: “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik sal die vrug daarvan eet”. Begeer jy om vrug te dra tot verheerliking van jou Vader ? Dit is dan wat jy moet doen : “Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid …” (Sag 8 : 16). Wat beteken dit ? Dit beteken om die waarheid te lewe en deur oefening daarvan al meer in staat te wees om die leuen in elke aspek van jou lewe te vervang met die waarheid. “U Woord is die waarheid” (Joh 17 : 17). Dit is waarom Hy sê : “Laat die Woord van van Christus ryklik in julle woon” (Kol 3 : 16). Laat dus die waarheid – die Woord – ryklik in jou woon. Bid Vader dat Hy dit vir jou doen.
8. Die Vrug van die gesproke Woord (1Pet 4 :11)
Het jy toe gaan bid ? Het jy ernstig tot jou Vader geroep in Jashuah se Naam dat Hy jou Sy woorde sal laat spreek ? Die teks in 1 Pet 4 : 11 waarna ek gister verwys het sê dat ons woorde soos die woorde van God moet wees. Maar daar is vertalings – soos The Amplified Bible wat die woord soos weglaat. Dit is dus nie soos woorde van God nie maar dit is Sy woorde. As jy Sy woorde spreek beteken dit nie dat jy jouself God maak nie. Nee, jy is nog steeds ‘n mens wat gered is deur genade maar jou Vader het gesê dat jy Sy Woord moet spreek en daarom doen jy dit. Later sal ek met jou die wonderlike openbaring van die spreek in Sy Naam deel
O, as ons maar kan besef dat onbeskryflike krag opgesluit lê in die WOORD van God (Elohim) en dat die GELOOF, TESAME MET DIE SPREEK DAARVAN, VRUG OPLEWER WAT DIE HELE LEWENSLOOP KAN OMKEER. Dit is immers hoe Hy alles geskape het – deur ‘n woord te spreek. In die begin van die skepping was daar geen lig nie. “En die aarde was woes en leeg en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê : Laat daar lig wees ! En daar was lig.” (Gen 1 : 2 – 3). So maklik soos dit. Hy spreek en daar kom lig uit die niks uit en skyn in die duisternis ! Vir Hom is dit maklik maar vir ons onmoontlik. Maar as Hy vir jou sê : Spreek My Woord tot hierdie berg en sê vir die berg : “Hef jou op en werp jou in die see…” dan gebeur die onmoontlike net soos die dag wat Hy gesê het : “Laat daar lig wees”.
Geloof is absoluut onontbeerlik vir die vervulling van ‘n Woord. Eerstens die geloof in Sy Naam. Hand 3 : 16 het ‘n belangrike sleutel : “En deur die geloof in Sy Naam het Sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal” . 1 Joh 3 : 22 – 23 voeg nog iets belangriks by : En dit is Sy gebod, dat ons in die Naam van Sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het”. Kan jy sien dat daar verskillende vereistes van God is vir die vervulling van Sy woord. Dit maak nie dat jy die wonderwerk verdien as jy Sy vereistes nakom nie. Hier is ‘n voorbeeld : ‘n Jongman het verlede week vir my om werk gevra. My antwoord was “Ja, ek kan jou help maar een ding moet jy weet naamlik : Dit is ‘n voorreg om hier te werk en nie ‘n reg nie. My reëls is dat jy 7-uur by die werk is”. Die reëls wat hy moet nakom maak nie dat hy nou die werk verdien nie. Dit bly steeds ‘n voorreg en dus genade want hy het my om ‘n werk gevra. Laat ons nie ‘n mentaliteit van die opeising van my regte openbaar as ek voor God geen regte het nie maar slegs voorregte nie. As Jahweh sê dat jy in Sy Naam moet glo en die broers moet liefhê teneinde gebedsbeantwoording te verkry, dan is dit Sy voorwaardes. En dit bly nog steeds genade en nie verdienste nie.
Daar is onbeskryflike krag in die gesproke Woord. Die geskrewe Woord het dieselfde krag maar dit lê latent totdat dit gespreek word. Dit is soos saad van byvoorbeeld ‘n sederboom wat jare lank in ‘n houer lê en wag om in die grond gesaai te word. Die potensiaal van ‘n magtige seder is in daardie saadjie opgesluit maar dit sal latent bly totdat dit in die grond val en begin ontkiem. Dit is soos die spreek van die woorde wat in die Bybel (die houer ), lê en wag totdat jy dit spreek – saai in die grond. Dan gebeur wonderbaarlike dinge ! Onthou daar is voorwaardes. Vra jou Vader nou in Jashuah se Naam dat Hy Sy Naam aan jou sal openbaar (Joh 17 : 6 , 26), die liefde vir die broeders in jou hart sal uitstort (Rom 5 : 5), asook die geloof wat deur Hom is (Hand 3 : 16). Bid Hom ook dat Hy SY Woord in jou mond sal lê om te spreek. En onthou dat jy nooit moet ophou om Hom te loof en te dank nie.
9. Ontvang die Heilige Gees
(Joh 20 : 22)
In die laaste hoofstukke van die “Evangelie volgens Johannes” is daar kostlike en hart-roerende gebeure verhaal toe Jashuah onverwags in die midde van Sy dissipels verskyn het toe die deure gesluit was uit vrees vir die Jode. Dit was natuurlik ná Sy opstanding. In hoofstuk 20 : 21-23 lees ons van een van daardie kostelike oomblikke. Soos wat ek vanmôre vroeg hier sit en hierdie Woord aan jou skrywe, is my hart in beroering van emosie, en ek wens dat ek so ‘n oomblik kon meemaak toe die deure gesluit was, en Jashuah skielik in ons midde staan en sê: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het , stuur Ek julle ook” En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle : “Ontvang die Heilige Gees”. Voordat ek verder skryf wil ek graag met jou deel wat die Vader my hart nou neig om vir jou te vertel. Hy sê: “ My seun/dogter, jy kan presies dieselfde ervaring hê as wat die dissipels gehad het, as jy sou voortgaan om My aangesig te soek. Op ‘n dag, op ‘n spesifieke oomblik sal jy ervaar hoe Ek in jou midde staan en vir jou sê: “ Vrede vir jou! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek jou ook. Ontvang die Heilige Gees”. Dit kan gebeur terwyl jy op die betrokke Skrif oopslaan, die Woorde lees en dit vir jou lewend word in jou hart.
Eerstens, en van die grootste belang, nadat jy jou tot God bekeer het, is die vraag : “Hoe kan ek met die Heilige Gees vervul word?” Die volgende ding om in jou hart uit te maak is die antwoorde op die volgende vrae wat jy jouself moet afvra : Is ek waarlik oortuig dat die Vader my gestuur het soos wat Hy Jashuah gestuur het ? Beantwoord ek waarlik daardie roeping deur te sê: “Hier is ek Here, stuur my”? Wil ek waarlik my Vader se wil doen deur Hom te behaag en plesier in alle dinge, Hom lief te hê, te vrees, Hom gedurig te dank en te loof in Jashuah se Naam vir al Sy goedheid, en Hom te aanbid in Gees en in waarheid?? Die rede waarom jy sekerheid moet kry hieroor is omdat jy geeneen van hierdie dinge kan bekom sonder die hulp van die Heilige Gees nie. Dit is die rede waarom Jashuah vir Sy dissipels gesê het in Luk 24 : 48-49: “En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van My Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle aangedoen is met krag uit die hoogte.” Net voordat Hy dit gesê het het met hulle gespreek oor Sy sterwe en opstanding en die roeping wat hulle het om getuies daarvan te wees. Teneinde getuies van Sy sterwe en opstanding te wees het ons die vervulling met Sy Gees nodig.
Sommige mense wil graag vervul word met die Gees maar sonder ‘n spesifieke doel daarmee. Hulle het nie daardie sterk begeerte om dit te wees en te doen soos ek hierbo geskryf het nie. Maak hierdie saak eers in jou hart uit : Waarom wil ek graag met die Heilige Gees vervul word? Waarvoor het ek die Heilige Gees nodig? Wat moet die Gees vir my doen, en ook vir andere deur my? Is die vervulling met die Gees vir jou belangrik en onontbeerlik in sò ‘n mate dat jy nie daarsonder sal kan voortgaan nie?
Hoe om met die Gees vervul te word: Waarom dink jy het God die skrywer van Efes 5 : 18 geinspireer om die volgende woorde te skrywe? : “Moenie dronk word van wyn nie, daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul”? Het hierdie twee dinge iets in gemeen? Om dronk te word van wyn en om met die Gees vervul te word? Op die dag van Pinkster, toe die Gees op die gelowiges uitgestort is, het die toeskouers gedink dat hulle dronk was (Hand 2 : 1-13). Het Paulus in bostaande gedeelte bedoel dat jy soos ‘n dronk persoon sal lyk as jy met die Gees vervul word? Ek dink nie so nie. Christus was vol van die Heilige Gees maar ek het nêrens in die Bybel gelees dat Hy Hom soos ‘n dronke gedra het nie. Wat ek wel glo is dat jy, waneer jy met die Gees vervul is jy nie meer jouself is nie. Jou ou selflewe het gesterf saam met Christus aan die kruis, en iemand anders lewe nou in jou. Dit is die nuwe mens waarna Efes 4 : 22-24 verwys. Ook 2 Kor 5 : 17 verwys na die nuwe skepsel. En hierdie nuwe mens sal beheer oor jou hele lewe oorneem, soos wat bedwelmende drank jou dinge laat doen wat jy nooit in die vlees sou doen nie, as jy Hom die geleentheid gee daartoe. Kyk na Petrus. Voordat hy vervul was met die Gees op Pinksterdag was hy ‘n vreesagtige man, te bang om te erken dat hy een van Jashuah se volgelinge is. Maar nadat hy met die Gees vervul was staan hy op Pinksterdag en spreek onbevrees tot die skare. Dan kan die Gees jou weer stil maak en laat swyg waar jy normaalweg sou praat. Ek het genoeg gesê sovêr. Jy sal self al die heerlike nuwe dinge ervaar wanneer jy met die Gees vervul is.
Daar is egter ‘n waarskuwing wat ek tot jou wil rig: Pasop vir mense wat jou in ‘n maklike onegte vervulling met die Gees gaan inpraat. Gelukkig sal jy, as jy na die egte soek, gou agterkom, soos met my die geval was, dat dit nie eg is nie want die krag van die Gees het ontbreek, ek was nog vol vrees (2 Tim 1 : 7) en die vrug van die Gees het ontbreek (Gal 5 : 22).
Die oomblik wanneer die Woord van God vir jou lewend word en dit nie meer slegs die letter is met betrekking tot geskiedenis, vermaninge, leringe ens is nie, maar soos dit waarlik is: Jashuah wat met jou praat, sal jy skielik op ‘n dag, terwyl jy bid, lees: “Ontvang die Heilige Gees”. Op daardie oomblik sal jy in jou hart voel dat dit Hy is wat met jou praat. Jy sal dit graag wil glo, en jy sal dit ook glo dat Hy vir jou sê : “Word met die Gees vervul” Dit sal aanvanklik nie ‘n sterk, harde stem wees nie, maar eerder sag maar oortuigend. Hoe meer jy jou Vader gaan dank en loof daarvoor, hoe meer gaan jy besef dat jy wel met Sy Gees vervul is. Moenie vergeet dat Sy Woord en Gees een is nie (Joh 6 : 63)!
Lees Joh 1 : 1-5. Hy spreek hier van die Woord wat vlees geword en onder ons kom woon het. In vers 3 sê Hy: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie”. In Heb 1 : 3 en 2 Pet 3 : 5-7 sal jy lees dat alle dinge deur die Woord geskape is en ook deur Hom in stand gehou word. Op dieselfde wyse kom die wedergeboorte tot stand: Deur die lewende Woord ( 1 Pet 1 : 23). Jy het nou vir eers genoeg om te oordink en oor te bid. Ons bid vir jou dat jy spoedig met die Heilige Gees vervul sal word!
10. Wandel deur die Gees
Die dag waarop jy jou weggedraai het van die wêreld en die duisternis en jou tot God gekeer het, en Sy Seun as jou Saligmaker aangeneem het, het jou lewe met die Gees van God in jou begin. Hy wat al jou sonde en krankhede op Hom geneem het, en gestraf was vir jou oortredinge, het die Nuwe Lewe namens jou verkry. Dit is dieselfde lewe wat Hy verkry het toe God Hom uit die dode opgewek het (Rom 8 : 11). Hy wat geen sonde geken het nie het sonde vir jou geword, sodat jy kon word geregtigheid van God in Hom (2 Kor 5 : 21). Daardie “aanneem” van Hom het jou kind van God gemaak (Joh 1 : 12). Dit is bekering soos ons daarvan gehoor het van kleins af. Maar dit is baie belangrik dat dit met geloof gepaard gegaan het. Maar jy kon Hom maklik aangeneem het met ‘n verstandelike geloof en nie met ‘n Heilige Gees gewerkte geloof nie. Is daar dan ‘n verskil? Ja, beslis! En jy sal dit weldra agterkom dat jy die verkeerde geloof gehad het, as jy begin soek na die vrugte van die bekering en niks vind nie, behalwe die “plastiese” vrugte – kunsmatige vrugte!
Van daardie dag af begin die Gees in jou werk en ‘n innerlike konflik begin. Ons lees hiervan in Gal 5 : 16-18 : “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees ; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word is julle nie onder die wet nie”. En dan is die Woord opgesom in vers 25: “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel”. Ons kom dan tot hierdie gevolgtrekking: As ons deur die Gees lewe is dit nie te sê dat ons deur die Gees wandel nie. En is dit nie ‘n algemene verskynsel in die Christendom van vandag nie? Gelowiges verkry hulle lewe van die Gees, maar hulle wandel nog nie in die Gees nie. Met ander woorde: hulle het die Gees van God in hulle gees, maar hulle het nog nie die Gees toegelaat om beheer oor hulle vleeslike siel te verkry nie. Hulle lewe dus in die siel en nie in die Gees nie. Die siel (vlees) dikteer dus hulle lewe en nie die Gees nie. Hulle is vleeslike mense en nie geestelike mense wat deur die Gees van God beheer word nie.
Ons kyk na hierdie groot vraag: Hoe sal ons dit regkry om in die Gees te wandel? Die antwoord is baie eenvoudig in Rom 7 : 25 : “Ek dank God deur Jashuah Messiah, onse Here!” Hierdie antwoord vind ons in die volgende gedeelte:
11. Drink uit die fontein van die Lewe
Jy moet net nog meer drink van Hom wat jou “dronk maak”. In hierdie geval is dit nie alcohol nie maar “die water van die lewe”. In Joh 4 : 14-15 vertel Jashuah vir ‘n vrou van die water van die lewe wat haar dors vir ewig les. Haar antwoord is : “Here, gee my daardie water…”. Maar sy het nog nie mooi verstaan dat dit eintlik die Heilige Gees is waarvan Jashuah gespreek het nie. In Joh 7 : 37-39 sê Jashuah: “As iemand dors het laat Hy na My toe kom en drink! Hy wat in My glo soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Heilige Gees wat die sou ontvang wat in Hom glo”. Jy vra: Maar hoe moet ek skep van die water, en waar?
Dit word vertel dat daar eendag ‘n skip was waarop die bemanning lank gedobber het op die see omdat die mas afgebreek het. Hulle het op hulp gewag maar hulle grootste behoefte was vars water. Hulle kon natuurlik nie die seewater drink nie. Toe ‘n bootjie, wat te klein was om hulle te help, by hulle verby vaar het hulle vir die bootjie gesein: “Ons soek dringend water asseblief”. Die bootjie se bemanning het terug laat weet:” Skep en drink”. Hulle het nie geweet dat hulle omring was van vars water van die Mississippi rivier, wat baie myle die see instoot nie. Die water van die lewe omring jou. Die fontein is ‘n persoon. Sy Naam is Jashuah. Jer 23:23 “Is ek ‘n God van naby spreek Jahweh, en nie ‘n God van vêr nie?” Hy sê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink” (Joh 7 : 37). Let op: Die oplossing lê nie in Bybelstudie nie. In Joh 5 : 39, 40 lees ons: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” In Open 21 : 6 sê Hy: “Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet”. Ook in Open 22 : 17 sê Hy: “En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
Hierbo het ek vertel van die heerlike vars water wat baie naby aan die bemanning van die skip was, terwyl hulle versmag het van die dors! Besef jy nie dat jy nog nader aan die water van die lewe is nie? Rom 10 : 8 en ook Deut 30 : 11-14 sê dat die Woord baie naby aan jou is, in jou mond en in jou hart. Jy moet dit slegs glo en spreek (vers 9 en 10 van Romeine 10). Dit is nie oorkant die see of vêr van jou af op enige manier nie, dis naby aan jou! Maak dit jou opgewonde? Dit behoort die uitwerking van hierdie Woord op jou te wees!
12. Uit Sy volheid het ons almal ontvang
(Joh 1 : 16)
Wat ‘n wonderlike woord! Dit is seker een van die wonderlikste Woorde wat daar in die Bybel is want dit verklaar die kern van die hele Nuwe Testament soos wat die Ou Testament se kern die wet was so is die Nuwe Testament se kernwaarheid die woord van genade. Genade is seker een van die dinge wat in die Christendom die meeste genoem word maar die minste gelewe word. Paulus sê in Kolosense 1: 6 dat die Woord van die waarheid van die evangelie vrug-dra van die dag af wat julle die genade van God in waarheid leer ken het.
Paulus dra die gemeente op aan die Woord van God se genade in Handelinge 20 : 32 toe hy hulle finaal gegroet het en hulle aangekondig het dat hulle sy aangesig nooit weer sal sien nie. Dit was dus die belangrikste Woorde wat hy tot hulle gespreek het, na alles wat hy in die verlede reeds met hulle uit die Woord van God gedeel het. Ten einde en laaste dra hy hulle op aan God en die Woord van Sy genade. Die rede hiervoor is omdat, soos hy sê, dit magtig is om hulle op te bou en hulle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes. As jy dus ‘n erfdeel verlang onder al die geheiligdes is daar een baie belangrike Woord wat jy nodig het, en dit is die Woord van God se genade. Een of ander tyd in jou lewe sal hierdie Woord van genade oor jou gespreek moet word deur iemand wat gesalf is deur God daartoe, of deur jouself wanneer jy dit in die Naam van Jashuah oor jouself gaan spreek.
Ons gaan kyk na wat genade waarlik beteken. Ek het reeds in ‘n vorige gedeelte vertel van die regter wat op die punt was om uitspraak te lewer oor ‘n man wat moord gepleeg het. Hy het gevra, voordat hy die doodstraf gaan uitspreek, of die man nog iets wil sê. Die beskuldigde het gesê: ‘U edele, ek vra u asseblief om genade te bewys aan my. In antwoord hierop het die regter gesê: ‘Jy verdien nie genade nie!’ Die beskuldigde het geantwoord ‘U edele, dit is presies wat genade beteken: genade beteken dat ek dit nie verdien dit nie’. En dit is die beste uitleg vir die woord genade dit beteken ek verdien dit nie, verdienste speel nie ‘n rol nie. God het Sy Seun gestuur om jou van die sonde te verlos en ook Sy Seun gestuur om in jou plek in die hel te gaan brand. Hy het jou die straf vir jou oortredinge gedra en daarom is daar nie meer straf vir jou nie, want iemand anders,naamlik Jashuah het dit vir jou gedra. God het ons in sonde in die diepste van die see gewerp en Hy dink nie meer daaraan nie. Iets om net oor bly te wees en Hom te bedank deur jou hele lewe.
In Johannes 1: 16 sê die Skrif dat ons uit Jashuah se volheid ontvang het ‘ja genade op genade’. Dit is nie net een maal se genade bewys wat ons ontvang het nie. Dit is genade op genade. Hy is bereid om elke dag vir duisende male genade te bewys aan jou. Trouens alles wat jy het is genade. Die asem wat jy haal is uit sy genade. Jou hart wat klop en organe wat werk is genade. Dit is genade dat die son oor jou skyn, en die lieflike reen is alles genade. Jy het niks hiervan verdien nie. Jy verdien slegs die ewige hel want net soos alle mense het jy ook gesondig.
As dit kom by die genade van God is daar baie dinge ‘n wat rol speel. Paulus se brief aan die Efesiërs, in die heel laaste versie, spreek hy ‘n baie belangrike woord as hy sê dat die genade van onse Here Jesus Christus sy met almal wat hom in onverganklikheid liefhet. Daar is ook ‘n ander Woord met betrekking tot die genade van God en dit is dat dit gekoppel is aan vergifnis. As jy nie ‘n ander kan vergewe nie kan God jou ook nie vergewe nie en kan Hy ook nie genade betoon aan jou nie. Dit is die rede waarom ‘n baie belangrike deel van die ‘Onse Vader’ gebed is dat ek bid dat die Vader my sal vergewe soos ek ook my skuldenaars vergewe. Ons het nou reeds by ‘n baie belangrike saak gekom en dit is naamlik dat die Christendom oor die aarde maar min genade het vir ander mense en daarom nie die ander kan vergewe nie. Dit is egter verblydend dat daar so baie boodskappe uitgaan uit verskillende kerke oor vergifnis. Vergifnis is een ding om oor te praat maar is ‘n ander ding om dit in die praktyk toe te pas. Ook is dit makliker om mense van jou eie kerk of jou eie godsdienstige groep of denominasie te vergewe, maar steeds met onvergewens-gesindheid rond te loop teenoor ander kerke as jy. Tog bely die andersdenkendes ook dat hulle kinders van God is in Christus. Die vraag is: in hoe ‘n mate verwag God moet ons almal vergewe? In Markus 11 sê Hy dat jy moet van harte vergewe enige een en enige iemand wie jy iets teen het. Dit klink byna onmoontlik!
13. Vergewe en vergeet
Daar is ‘n belangrike woord in Efesiërs 4 vers 32 met betrekking tot vergifnis: Dit sê: “vergewe mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het”. Die vraag is nou: hoe het God ons in Christus vergewe? Die antwoord is duidelik dat God almal op hierdie aarde hulle sondes vergewe het, want Christus het alle mense se sondes op Hom geneem en het daardeur vir hulle vergifnis voor die aangesig van God verkry. Die vergifnis is gereed vir elke mens op die aarde, maar dit is vir die mens om met sy vrye wil die vergifnis te gaan ontvang. Dit lê gereed vir jou om te gaan haal maar voordat jy dit kan gaan haal sal jy eers iets moet besef. Jy sal tot die besef van sonde moet kom. Dit is ‘n werk wat die Heilige Gees doen volgens Johannes 16. Dié Skrif sê dat Hy, die Heilige Gees, ons sal oortuig van sonde. Hy sê ook terloops daar dat die groot sonde ongeloof is. Die vraag is : oortuig Hy alle mense van sonde of net sekeres? Hier kom weer ‘n baie belangrike antwoord: God het vooraf geweet wie gewillig sal wees om Sy wil te doen. Let wel: Hy het nie vooraf bepaal wie gaan gewillig wees om Sy wil te doen nie, want dan sou die mens nie ‘n vrye wil gehad het nie. Die groot waarheid dat God die mens ‘n vrye wil gegee het is duidelik geskrywe dwarsdeur die hele Bybel. Daar is mense wat dit nie glo nie en glo dat God besluit het wie gaan gered word en wie nie. As jy vir God die vraag sou vra: Het U vooraf bepaal wie gered gaan word sal Hy dalk daarop “Ja”antwoord. As jy Hom dan vra wat bepaal wie gered gaan word sal Sy antwoord dalk wees: “dié wat gewillig is om My wil te doen. Hulle het Ek vooraf geken en het Ek vooraf bepaal dat hulle gaan gered word. Die res, wie Ek geweet het hulle gaan nie gewillig wees om My wil te doen nie, het Ek in hulle sonde gelos dat hulle kan verlore gaan”. Dié wat Hy vooraf geweet dat hulle gaan gewillig wees om Sy wil te doen, daardie mense noem Hy Sy uitverkorenes of Sy verordineerdes. Die mense wat Hy vooraf geken het, en vooraf uitverkies het, oortuig Hy van sonde deur Sy Heilige Gees. Die res sal dalk nooit tot ‘n sonde oortuiging kom nie. Tog het hulle nie ‘n verskoning nie. Romeine 1 : 18-20 het ‘n baie duidelike Woord waarby Hy sê dat dat God ‘n algemene openbaring van Homself, deur die natuur, aan elke mens gegee het. In die natuur kan elke mens sien dat daar ‘n God is wat alles geskape het. As jy dit so besef het, en dan na God begin soek, hierdie God wat al die wonderlike dinge deur die hele uitspansel gemaak het, die aarde en alles wat daarop is, die planteryk, die diereryk en die mens geskape het, sal Hy Homdeur jou laat vind. As jy Hom, die Skepper beter wil leer ken, sal Hy Homself aan jou openbaar. As jy gewillig is om God se wil te doen sê Joh 17 : 7 sal Hy Sy Seun ook aan jou openbaar. En as Hy Sy Seun aan jou openbaar, sal Hy Hom openbaar tesame met Sy genade, want Jashuah is vol van genade en waarheid volgens Johannes 1 : 14. “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade” (Joh 1 : 16). By dit alles sal jy besef hoe groot sondaar jy in werklikheid is, en dat jy nie meer iets kan hou teen enige mens wat teen jou gesondig het nie. As jy nou, of wanneer jy die geleentheid het, die gedeelte in Matt 18 : 21-35 biddend en ernstig gaan lees, sal jy ‘n openbaring in jou gees kry omtrent sonde. En wanneer jy dit kry en besef hoe groot die sonde is wat Vader jou vergewe het – die grootste daarvan jou ongeloof deur jare! Dan sal jy nie meer so vermetel wees om iets teen iemand wat teen jou gesondig het, te hou nie. Jy sal sommer dadelik almal vergewe!
Verlede week het ons ‘n ervaring gehad met twee jong mense wat vervreemd is van hul moeder vir 20 jaar, omdat sy hul pa geskei het! Die redes hiervoor is nie nou hier van belang nie. Hulle argumenteer dat hul ma bely het teenoor hulle, as haar kinders (nou alreeds groot en getroud), maar nog nie teenoor hul pa nie. As jy weet wat die omstandighede was sal jy die hele saak verstaan, maar weer, dit is nie nou die punt nie. Die vraag is nou: moet hierdie kinders, wat belydende Christene is, hulle moeder vergewe, selfs as sy nie teenoor hulle pa bely het nie? Die antwoord is “Ja”. Sal die ‘vergewe’ deur haar kinders ook gepaard moet gaan met ‘vergeet’? Die ‘vergeet’ is nie iets wat jy moet doen nie, want die Heilige Gees werk dit spontaan in jou. Etlike weke gelede het ‘n man iets leliks vir my in my gesig gesê. Ek wou die volgende dag daaroor gaan bid, maar toe ervaar ek dat ek dit reeds vergeet het. Toe ek dit vir iemand anders, wat ook van die saak geweet hiet noem, dat ek dit vergeet het, het hy my geheue verfris. Maar toe ek weer wil gaan sit en bid daaroor het ek dit weer vergeet! Dit is soos die Gees jou laat vergeet die dinge wat agter lê. “14Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 15Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar”. (Fil 3 : 14). Onthou jy nog die eerste Skrif hierbo? “Vergewe mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efes 4 : 32). Ek het genoem dat God elke mens reeds hulle sondes vergewe het maar dat hulle daardie vergifnis moet gaan haal waar dit vir elkeen lê en wag. Gaan jy dit nie haal nie, is dit jou fout en sal jy nooit gered kan word nie. As jy dit gaan haal sal jy vind dat God nooit weer daaraan dink nie (Heb 8 : 12). Nou is die vraag aan my: Eugenius, jy het nou die man wat teenoor jou oortree het vergewe, en jy het ook reeds vergeet wat hy vir jou gesê het. My antwoord is ‘Ja’. Maar dit regverdig hom nog nie, hy moet ook sy vergifnis by die Vader gaan haal, anders is hy nie deur God vergewe nie, alhoewel ek hom reeds vergewe het. Dus regverdig die vergifnis deur my slegs vir my maar nog nie vir hom nie. Jy sien, Eugenius het ook baie gesondig maar God nie. Daarom moet ek dadelik vergewe en vergeet, maar God vergeet nie, alhoewel jou vergifnis gereed lê by Hom en wag dat jy dit moet kom haal, daarna vergeet Hy. Wanneer jy jou vergifnis kom haal gaan dit natuurlik gepaard met ‘n hartgrondige belydenis (1 Joh 1 : 9). Lees Matt 18 : 21-35. Dit is baie belangrik!
14. Om nie alleen in Hom te glo nie maar ook vir Hom te ly
Geloof is ‘n genadegawe van God, met ander woorde dit is ‘n geskenk wat Hy ons gee sonder dat ons dit verdien. Nou sê die Skrif vir ons: “…en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie. Dit is vir hulle wel ’n bewys van verderf, maar vir julle van redding, en dit van God 29omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” “(Filip 1: 28-29). Dit beteken dat nie elke gelowige die genade van God sal ontvang om te ly ter wille van Sy Naam nie. Hoekom? Ek kan dit nie op hierdie stadium sê nie. Maar laat ons so sê, net omdat God besluit het om dit so te laat wees. So, as jy moet ly ter wille van Sy Naam, moet jy jouself gelukkig en geseënd ag. En as jy nie ly nie kan jy net so geseënd wees. Jy het dalk op ander maniere gely ter wille van Sy Naam. Dis hoekom Christus gesê het in Lukas 6: 22: “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot,en julle beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg nie, ter wille van die Seun van die mens. 23 Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het na so aan die profete gedoen”. Kol 1: 23.”… waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het ; 24NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir Sy liggaam, wat die gemeente is; 25waarvan ek ’n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul…”. Wat het Paulus hier gesê? Hy sê dat die lyding van Christus nog nie klaar is nie. Daar is nog steeds lyding deur ons, wat deel is van Sy liggaam, te ly, totdat Sy lyding voltooi is. So, ons moet onsself geseënd en gelukkig ag as ons gekies is om te ly ter wille van Sy Naam.
Maar, as jy ly as gevolg van jou eie verkeerde dade, moet jy nie so vermetel wees om te sê dat jy vervolg word ter wille van Sy Naam nie. As Petrus sê in 1 Pet 4: 12-16: “.Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 13maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. 14As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. 15Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ’n ander bemoei nie. 16Maar wanneer iemand as ’n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig”.
Daar is baie mense wat gaan ly en ook vermoor word in hierdie dae. Maar gaan hulle almal doodgemaak word vir die Naam van Jashuah? Sekerlik is daar diegene wie se gees vervul is met die Gees van Jashuah en gehaat word deur die bose geeste van die duisternis wat in die moordenaars woon. Dit is waarom Paulus sê dat ons worstelstryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose geeste (Efes 6: 12-19). Daardie bose geeste haat ook die Naam van Jashuah en Sy bloed, en daardie haat sal hulle dryf om die heiliges van God dood te maak. In my eie ervaring sou dit soms beter gewees het om eerder fisies doodgemaak te word as om gemartel te word deur die gemeenskap, wanneer hulle al die slegte stories oor my vertel het en die koerante my swartgesmeer het. Sommige het my ‘n “sekte” genoem (Hand 24: 14; 24: 5; 28 : 22), en ander selfs ‘n “kultus”. Maar uiteindelik, toe ek gaan sit het by die voete van Jashuah, en ek geluister het na Sy woorde en Sy teenwoordigheid geniet het, het al die pyn en seer verdwyn en Sy heerlikheid het my hart gevul. Maar, ek moet hier ‘n baie belangrike aspek van die heerlikheid wat my hart gevul beklemtoon: Ek moes hulle eers vergewe, soos Jashuah gedoen het en ook soos Stefanus (Hand 7: 60).
In ander gevalle sal God dat sommige van ons mense wat Hy na Suid-Afrika gestuur het met ‘n Goddelike missie, maar hulle hul rug op Hom gedraai het en die drekgode gedien het, en ook volgens hulle eie begeerlikhede gelewe het, en die wêreld liefgehad het (1 Joh 2: 15-17), dat sulke mense in die vyand se hand oorgee sal word om vervolg en selfs vermoor te word. Dit is verskeie kere deur Jahweh aan Israel gedoen. Rigters 2: 14 is een voorbeeld: “Daarom het die toorn van die Here teen Israel ontvlam. So het Hy hulle oorgegee in die hande van plunderaars wat hulle beroof het; en Hy het hulle verkoop in die hand van hulle vyande rondom, sodat hulle nie meer kon standhou voor hulle vyande nie. 15 Waarheen hulle ook al uittrek, was die hand van die Here teen hulle ten kwade, soos die Here gespreek het, en soos die Here vir hulle gesweer het. Maar wanneer hulle dan in groot benoudheid raak, verwek die Here rigters wat hulle verlos… “. Jy kan Hom vra om verder met jou oor hierdie saak deur sy Woord te spreek.
Ek moet dan beklemtoon dat sommige van hierdie mense, waarvan ons byna elke dag hoor, sommige gemartel en ‘n aantal vermoor, dit gebeur het as gevolg van die oortredings teen Jahweh soos ek hierbo na verwys het. In ander gevalle was dit deur die Gees van Christus in hulle. As jy die stem van jou Herder ken, kan jy Hom vra hieroor. Maar wat is die belangrike boodskap hierin? Jahweh sê: “ Kom nou, laat ons die saak uitmaak (Jes 1 : 18). Keer met julle hele hart terug tot My. Bely mekaar julle oortredinge (Jak 5 : 16-18) en vergewe mekaar (Efes 4 : 32) . Bid dat Ek My liefde in julle harte uitstort vir mekaar (Rom 5 : 5). Bid dat Ek julle sal een maak soos Ek en My Vader een is (Joh 17 : 19-26).