082 852 0496

admin@stillesindieland.co.za

DEEL1 (2)

Die Mens sal nie van Brood alleen lewe nie maar van elke Woord wat deur die mond van God (Elohim) uitgaan. (Matt 4 : 4)

Inhoud Deel 1(2)

15. ‘n Gebroke hart en verslae gees.
16. In wie is jy gewortel?
17. Sy ewige Voorneme.
18. Die Woord my instaatstelling.
19. Die Woord wat ook werk in julle wat glo.
20. Die wet van die geloof.
21. Die wet van ongeloof.
22. Kyk na My en lewe!
23. Nader tot God en Hy sal tot jou nader.
24.’n Gedaanteverandering.
25. Om Hom te ken.

 

15. ‘n Gebroke hart en verslae gees

 

Gisteraand by die biduur het ons gepraat oor die baie belangrike onderwerp van “gebrokenheid”. Ek weet ek is nie van plan om oor ‘n baie gewilde onderwerp te skryf nie, maar as jy die Woord lees wat deur die mond van Paulus, die apostel gekom het, sal jy vinnig agterkom dat dit sy bediening was, en ook ‘n groot deel van sy lewe. Is dit nie die rede waarom daar baie Bybelkenners is wat Paulus en sy sendbriewe van die Bybel uitsluit nie? Jy sal waarskynlik geskok wees om die nuus te verneem dat een van die mees prominente apostels in die Bybel, uitgeskop is uit die leer van die Nuwe Testament . Ek was persoonlik nie verbaas nie, want ek het ervarings gehad met hierdie mense, van wie selfs professore van groot universiteite in Suid-Afrika was. Baie jare gelede het ‘n dosent van die kollege waar ek aan studeer het, na die Verenigde State van Amerika gegaan om ‘n doktorsgraad te voltooi. Hy, saam met ‘n paar ander studente uit Suid-Afrika, en ook ander lande in die wêreld, was so teleurgesteld toe hulle ontdek dat die apostel Paulus ‘n ‘kranksinnige en ‘n mal man’ genoem was. Die meeste van die ander studente het hierdie universiteit verlaat en teruggekeer na hul huise, maar hierdie dosent uit ons Kollege het volhard tot die einde. Hy het baie met hulle geredeneer, maar hulle was glad nie oop vir die waarheid nie.

Paulus sê in 1 Kor 14 dat as iemand homself beskou as ‘n geestelike man of ‘n profeet moet hy erken dat hy, Paulus, die woorde van God spreek. Vir my persoonlik was dit die woorde van God wat Paulus gespreek het. En dié woorde het in my gees lewendig geword. Jy onthou dat in die Boek van Galasiërs Paulus vertel dat nadat tot bekering gekom het, hy na die woestyn van Arabië gegaan het vir 3 jaar. Hier het hy die aangesig van God gesoek, die God wie se Seun hy vervolg het (Hand 9 : 4-5). Hy wou van Hom hoor wat Sy planne vir sy lewe was. Hy het nie eerste opgetrek na Jerusalem om die ander Apostels te ontmoet nie, maar hy het na die woestyn gegaan vir 3 jaar van gebed. Hy het seker daagliks in die teenwoordigheid van sy Verlosser gesit en op Hom gewag, totdat Hy aan Paulus die besondere openbaring gegee het waarvan ons lees in Rom 16 : 24-26; Efes 1 : 9; 3 :3-6; die openbaring van ‘n geheim wat verborge was vir baie jare. As ek verstaan dat die verborgenheid behels dat ons, wat uit die heidene aandeel gekry het in die burgerskap van Jahweh se volk, dit nie sou kon hê nie as dit nie vir die openbaring van die geheim was nie, dan wonder ek hoe sulke leraars dit kan afskiet?

‘n Groot deel van Paulus se bediening was die lering oor “gebrokenheid” wat so ongewild is by die talle Christene van vandag. Die wêreld leer ons om sterk in jouself te wees en te glo in jouself, terwyl die Woord van God jou leer om swak in jouself wees, en selfs te twyfel en te wanhoop in jouself, maar te vertrou op die Here. Selfs in die Ou Testament het Dawid gesê in Ps 51:16 : “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Ps 34 : 19 “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Ps 147 : 3 : “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde. Jes 57 : 15 : Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes”. Is hierdie Skrifte genoeg om ons die wese van Elohim te openbaar: Hy is die Almagtige God wat alles gemaak het en Hy wil ons nederig en swak in onsself hê voor Sy aangesig.

In 2 Kor 12 : 1-10 vertel Paulus van ‘n ervaring wat hy gehad het toe hy weggeruk was in sy gees tot in die derde hemel. Dit was so maklik om te spog en te roem oor hierdie gesig wat hy gehad het. As die man wat die Woord van die kruis baie goed geken (1 Kor 1: 18) en nagejaag het, het hy die gevaar gesien dat hy dalk kan begin roem daarin. En hy was boonop die man aan wie hierdie groot Woord van die kruis geopenbaar was, daarom het hy geweet dat die gevaar daar was dat sy hele geestelike lewe en verhouding met sy hemelse Vader ‘n groot slag toegedien kan word. En Jahweh, wat hierdie gevaar selfs meer as Paulus geken het, het hom ‘n doring in sy vlees gegee: 2 Kor 12: 7-10: “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaring nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: my genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk “.

‘n Ou boek wat ek vanoggend op afgekom het, geskryf deur Roy Hession, getiteld “The Calvary Road” het ‘n mooi paragraaf in wat ek met jou wil deel. Ek het nie veel boeke in my lewe gelees nie, nie omdat ek nie daarvan hou nie, maar net omdat ek nie die tyd gehad het nie. Ek moes vir baie jare werk terwyl ek gestudeer het. En hieroor is ek die Vader ewig dankbaar! Maar die Gees het my duidelik gelei vanoggend om na my boekrak te stap en die klein boekie daar te soek. En ek het dit gevind. Ek maak toe oop op hierdie volgende paragraaf: “Ons het reeds baie dinge gesê oor die lewe van Christus in ons. En dit is wat “herlewing” beteken, die herlewing wat die kerke so baie voor bid. Herlewing is net die lewe van Christus wat deur mense vloei. As ons egter begeer om in hierdie regte verhouding met Hom te kom, sodat Sy lewe deur ons kan vloei, is die eerste ding wat ons moet leer, dat ons reëls moet gebreek word om Sy wil te kan doen. Om gebroke te wees, is die begin van die lewe van Christus in jou. Of dit is die begin van herlewing. Dit is pynlik, dit is vernederend, maar dit is die enigste manier. Dit is dan nie langer “Ek” nie, maar Christus. Jashuah kan nie ten volle in ons lewe en Homself ten volle deur ons openbaar, voordat die trotse “self” binne in ons gebreek is nie. Dit beteken eenvoudig dat die siel, die onwrikbare “self”, wat homself regverdig, dinge op sy eie manier wil hê, vir sy regte opstaan, en sy eie eer soek, uiteindelik sy kop buig om God se wil te doen, en erken dit hy verkeerd is, sy eie manier van dinge doen aflê om Jashuah se wil te doen, sy regte aflê, sy eie eer nie meer soek nie – sodat Jashuah alles in almal kan wees en dat Hy alle mag in die hemel en op aarde mag hê. Met ander woorde, dit is om aan jouself en “self”-gesindheid te sterwe”. Is dit nie ‘n ware beskrywing van wat Jahweh ook aan ons deur die jare openbaar het nie? Maar lewe ons dit?

As ons kyk na onsself en ons hele Christelike wêreld, kan ons net erken dat self is die heerser van die Christendom. Selfs ons sterkste godsdienstige veldtogte is in die meeste gevalle gedryf deur self. Wanneer self in enige aksie is is Christus uit! Ek weet dat dit ‘n harde Woord is, maar is dit nie wat hulle ook vir Jashua gesê het nie? In Johannes 6: 60 sê Sy dissipels: “Hierdie Woord is hard, wie kan daarna luister? En dan in die volgende vers, omdat Jashuah geweet het in Homself dat sy dissipels hieroor murmureer het, het Hy het vir hulle gesê: “Is dit julle tot ‘n aanstoot? Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle spreek, is Gees en is lewe “(Joh 6: 60-63). “En toe Hy in Betánië kom, by die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar ‘n vrou met ‘n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf ; en sy breek die albaste fles en gooi dit op Sy hoof uit” (Mark 14: 3).

Die pragtige geur van Christus kan nie versprei word solank as ‘n erdepot waar die skat van Christus in gehou word is, nie eers gebreek nie. Lees 2 Kor 4: 7; 2 Kor 2: 14-16. Ons is die erdekruike of kleipotte. En hoeveel van ons loop vir baie jare rond met hierdie groot skat, Christus, in ons, sonder dat Hy openbaar gemaak kan word? Hierdie pragtige geur kan nie oorstroom en versprei, as ons nie eers gebreek. Hierdie boodskap is hard, maar dit is waar. As jy waarlik die Here lief het, sal jy na Hom toe gaan in die gebed en Hom vra om met jou te spreek oor hierdie Woord en dit te bevestig. Wetende dat hierdie Woord is een ding, maar om hierdie Woord in jou siel en gees geïmplementeer te kry, is iets anders. Maar dit is ‘n goeie begin as jy hierdie Woord met jou ore hoor en dit spreek met jou mond, omdat jy glo dat dit waar is (Rom 10 8-11). Bid dan ernstig dat jou Vader hierdie Woord lewend sal maak in jou gees. Dit sal nie net jou lewe nie, maar ook die lewens van vele ander verander. Jy sal ‘n demonstrasie model word van die lewe van Christus in ‘n mens. My gebed vanoggend is dat hierdie Woord deel van jou sal wees, sowel as van myself en al die heiliges oor die hele wêreld.


16. In wie is jy gewortel?

 

Daar word so baie in die Bybel, asook in ons samelewing, gepraat oor “jou wortels”. In ons eie land Suid Afrika vra ons onsself, as mense wat 365 jaar gelede hier aan die Suidpunt van Afrika geland het vanuit Europa, “waar lê ons wortels ?” As ons redenasie gaan oor ons wortels op vleeslike en nasionale vlak is dit een vraag, maar as dit gaan oor jou wortels op geestelike vlak is dit ‘n ander vraag. Talle blanke mense vra vandag die vraag: “Maar hoort ons hier in Suid Afrika? Moes ons voorouers ooit hierheen gekom het?”. Waarom vra hulle dit? Slegs omdat ons burgerskap van hierdie land nou bedreig word. As dit nie gebeur het nie sou ons en ons nageslag vir nog 365 jaar houtgerus hier gelewe het en nooit vrae gevra het oor waar ons wortels lê nie. Daar is instansies in ons land wat nou petisies optrek om aan die VN voor te lê oor die sogenaamde “Volksmoord” wat nou hier afspeel. So ook oor die “grondvergrype”. Ander wil ons saak aan die President van die VSA voorlê.

Ons moet egter nie begin by ons aardse burgerskap en vleeslike wortels nie, maar by die geestelike. Jashuah sê dat “…elke plant wat My hemelse Vader nie geplant het nie sal ontwortel word” (Matt 15 : 13). Dit is presies by hierdie vraag waar ons moet begin. As ons wortels in hierdie wêreld is, en ons dus nie deur ons hemelse Vader hier geplant is nie, sal dit beslis nou ontwortel word. Is dit nie dalk waarmee ons Vader juis nou besig is nie? Met uitsondering van die oorblyfsel, waarna ons reeds verwys het in die gedeelte : “Soos Sodom sou ons geword het”, gaan die Vader dalk nou elkeen wat Hy nie in dié land geplant het nie, ontwortel? Ek konstateer dit nie, ek vra net. Jy ken mos die stem van jou Vader. Jy kan Hom mos gaan vra daaroor?

Wat ons geestelike burgerskap aan betref sê Paulus in Fil 3 : 20 : “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan Sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself onderwerp”. Ons is dus van Bo gebore. En dit is wat wedergeboorte beteken: Ons is van Bo gebore, ons is “uit God gebore”(Joh 1 : 12-13). Dit maak dat ons nie in hierdie wêreld aanvaar word nie. Die wêreld ken ons nie omdat dit Jashuah nie geken het nie (1 Joh 3 : 1-2; Joh 17 : 9-17).

As die wêreld ons nie ken nie is ons dan vreemdelinge in hierdie wêreld. Dit is presies wat die Skrif sê. Ons is vreemdelinge en bywoners. Lees 1 Pet 1 : 17; 2 : 11. Maar ons het ‘n sending en roeping naamlik om die aarde, wat regtens aan Jahweh behoort volgens Ps 24 : 1; Ex 9 : 29; Deut 10: 14, in Sy Naam te verower. Dit op sigself is ‘n afsonderlike onderwerp waaroor ons later sal praat wanneer ons Vader so lei. Maar meer nou eers oor jou wortels.

Efes 3 : 17 sê: “sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, 1en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen”(Vers 18-21). Hierdie Woord is seker een van die wonderlikste gebede wat Paulus gebid het in die Skrif. Maar, let op dat hy dit gebid het vir diegene wat in die liefde gewortel en gegrond is. Die Nuwe Afrikaanse vertaling verskil egter hier. Dit bid dat die gelowiges in die liefde gewortel en gegrondves sal word, terwyl die Ou Vertaling bid vir diegene wat reeds in die liefde gewortel en gegrond is. As jy in Gal 5 : 6 lees dat die geloof deur die liefde werk, is die liefde dus ‘n voorwaarde vir geloof. Dit is ook waarom 1 Kor 13 : 2 sê dat die geloof sonder die liefde niks sou beteken nie. Dit sou selfs gevaarlik wees vir Jahweh om geloof te gee aan iemand wat nie liefde het nie. As so iemand berge kan skuif en mense dood kan laat neerslaan, met onheile kan tref uit ‘n hart van liefdeloosheid, haat en wraak, sal daar mos vreeslike dinge op hierdie aarde gebeur! Nee, geloof behoort alleenlik by iemand wat God se liefde het. In Efes 1 :15 bid Paulus ook dat die Vader die heiliges op besondere wyse, deur Sy Gees, ‘n openbaring van al die heerlike dinge wat Hy in Christus aan hulle geskenk het, sal gee ( verse 16-22). Maar in vers 15 sien ons dat hy dit bid vir hulle wat reeds die geloof en liefde het. As jy dus nie in die liefde gewortel en gegrond is nie, sal jy eers jou wortels moet aandag gee. Dit is dan ook trouens, wat die Vader nou in Sy liefde met jou doen deur met jou te praat hieroor. Hy vra vir jou : Waarin is jy gewortel? Jy kan baie sterk gewortel wees in jou kerk se leerstellings en dogmas, maar dit is nog nie die liefde nie.

Die liefde is bo alles. Eerstens die liefde vir God die Vader en Sy Seun. Tweedens die liefde vir jou naaste (Matt 22 : 34-40). Die liefde is die vervulling van die wet (Rom 13 : 8-10). Daarom sê die Woord : “Laat alles by julle in liefde geskied” (1 Kor 16 : 14). Dan ken jy seker ook 1 Kor 13 ? Wie ken dit nie? Maar wie lewe dit? Lewe ons nie in ‘n liefdelose wêreld nie? Was die eerste indruk wat jy van God gekry het Sy liefde? Nie by almal was dit die geval nie. Baie het eerste ‘n indruk van Sy gestrengheid gekry – soos ek ook. Maar toe ek my tot Hom gekeer het was die boodskap “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe kan hê”. As die liefde van Christus jou dring, soos 2 Kor 5 : 14 sê, dan is jou wortels in die regte grond, vas gevestig om die Rots, Jashuah (1 Kor 10 : 4 ; Ps 18 : 32). Dié liefde, tesame met die geloof, wat albei in Christus te verkry is (1 Tim 1 : 14), is die enigste grond waarin jy gewortel kan wees tot jou redding – nou asook in die toekoms. As jy gewortel is in enige iets, of iemand anders, sal jou boom ontwortel word in die tyd wat nou oor hierdie wêreld kom.

Daar is ‘n stukkie in die geskiedenis van Israel wat jy moet lees indien jy die tyd kry. Dit is in Eseg 17 : 1-24. Lees dit en vra jou Vader om jou insig hierin te gee. Vra Hom ook om aan jou te openbaar of Babel nie dalk die plek is waar jou wortels gevestig is nie? Openbaring hoofstukke 17, 18 en 19 voorspel die val van Babel. In Hfsk. 18 vers 4 sê Hy : “Gaan uit haar uit, My volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie”. Wat Hy eintlik hier sê is dat jy jou wortels uit Babel moet uit kry en dit in Christus moet vestig. Dit beteken nie dat jy jou werk moet bedank en verhuis na ‘n ander plek nie. Dit beteken dat, terwyl jy nog steeds dieselfde werk doen, dieselfde plek woon, en ook na dieselfde kerk toe gaan, jou hart – jou gees en siel – in Jashuah Messiah gewortel sal word. Soos Kol 2 : 6-7 ook sê : “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging”.


17. Sy ewige Voorneme

Ons het reeds in ‘n vorige gedeelte die wonderlike Woord gedeel oor die groot waarheid dat “vir hulle wie God liefhet alle dinge ten goede meewerk”. Maar dit is nie die hele waarheid nie. Daar is nog ‘n ander waarheid aan gekoppel. Gaan lees Rom 8 : 28 weer. Dit voeg by dat die belofte ook gekoppel is aan “hulle wat na Sy voorneme geroep is”. As jy dus God liefhet, en ook na Sy voorneme geroep is, werk alle dinge vir jou ten goede mee. Nou wat beteken dit om na Sy voorneme geroep te wees?

Die Vader het alles op hierdie aarde en in die hemel beplan. Dit noem die Skrif “Sy ewige voorneme”. Hy het alles beplan, “die breë weg” wat na die verderf lei (Matt 7 : 13), en ook die smal weg wat na die lewe lei (Vers 14). Maar Hy het die mens ‘n vrye wil gegee om te kan kies tussen dié twee weë (Deut 30 : 15-20) . Hy het dus nie beplan watter weg jy moet kies nie, maar Hy het vooraf geweet wat jy, uit jou vrye wil, gaan kies. En ooreenkomstig jou vrye keuse het Hy vir jou jou hele lewe, in die fynste besonderhede, beplan. Dit noem Hy Sy ewige voorneme. Hy het beplan hoeveel genade jy gaan ontvang. Lees Rom 12 : 6 en ook 15 : 15 en 1 Kor 15 : 10, Efes 3 : 7 en 4 : 7. Hoe jy ook al poog om ‘n dieper geestelike lewe te verkry, sal dit tevergeefs wees want Vader het dit alles beplan – dit is Sy ewige voorneme vir jou. As jy nou Rom 9 lees sal jy geneig wees om te dink dat dit darem nie regverdig is nie. Lees dit vanaf vers 6-21 en let op dat jou werke (vers 11, 16) nie tel nie. Ook Gal 2 : 16 en Efes 2 : 8-10 getuig daarvan. Onthou dat jy saam met Christus gekruisig is en gevolglik dood is vir die wet en alle goeie werke (Rom 7 : 4-6; Gal 2: 19-21). ‘n Dooie mens kan nie sonde doen nie maar kan ook nie goed doen en ook nie ‘n wet onderhou nie. Dit is waarom God Sy Seun in ons laat lewe sodat Hy die goeie werke deur ons kan doen. En nou kan jy en ek mos in niks roem nie. Dink net : as ons uit onsself kon goed doen het ons baie stof tot roem gehad. En is dit nie wat die Fariseërs in roem nie? Ja, tot vandag toe is diesulkes wat in eie krag mooi lewens het vir Christus, roemende mense. Hulle roem kwansuis in Jahweh, maar eintlik in hulself!

God het beplan dat Sy Seun alles en in almal sal wees. “…Hom wat alles in almal vervul” (Efes 1 : 23). “…maar Christus is alles en in almal” (Kol 3 : 11). Ook Kol 1 : 15-20 : “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van Sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.”

Ons Vader het belowe dat daar in ons tyd ‘n oorblyfsel van Sy volk op aarde sal wees – ook in ons land Suid Afrika. Rom 11 : 5 -7 : “Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ’n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade. En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie”. Die Oorblyfsel is ook deur Jahweh beplan soos ons reeds hierbo aangehaal het. Dit is dus vooraf deur Hom beplan en jy en ek kan niks daaraan verander nie – beslis ook nie deur ons goeie werke nie. Hierdie woord kan jou laat moed verloor, soos die geval was met die disippels wat Jashuah verlaat het toe hy gesê het dat niemand na Hom toe kan kom as Sy Vader in die hemel hom nie trek nie (Joh 6 : 44, 65-66). Maar as jy besef dat dit Sy wil is dat almal wat Sy wil wil doen gered sal word, het jy baie om oor bly en dankbaar te wees. En wat van die loon wat iemand anders gaan kry en wat jy dalk gaan misloop? Dit is eintlik weer ‘n hoofstuk op sy eie, maar ek kan voorlopig net sê dat jou loon, as Hy bepaal het dat jy slegs vir ‘n profeet, of ‘n eenvoudige disippel, ‘n beker koue water moet gee, dieselfde loon sal wees as wat die profeet sal kry! Lees Matt 10 : 40-42. Hoe dit ook al sy, Vader het net goeie dinge vir ons beplan en daar is oorgenoeg rede om ons elke dag in Sy Seun te verbly! Alles werk ten goede mee vir jou omdat jy God liefhet en na Sy voorneme geroep is! (Rom 8 : 28).

Maar hoe weet jy dat jy na Sy voorneme geroep is? Jy weet dit aan Sy Gees wat Hy jou gegee het (1 Joh 4 : 13). Dit is die Gees waardeur Hy jou trek na Sy Seun toe. Slegs jou soeke na die waarheid, dit wat jou nou dring om hierdie webtuiste te lees, is vir jou reeds genoegsame bewys dat Hy jou trek deur Sy Gees. Dank en loof Hom daarvoor!


18. Die Woord my instaatstelling

 

Oor hierdie hoofstuk gaan ek, as Vader wil, ‘n DVD maak wat tot jou beskikking gestel sal word. Dit is ‘n allerbelangrikste onderwerp wat, as jy dit waarlik met jou hele hart kan aangryp, revolusionêre veranderings in jou geesteslewe teweeg sal bring. Daarom moet jy dit nie ligtelik opneem nie. Dit gaan oor die uitwerking van die Woord van God in jou binnekant. Dit staan teenoor jou eie werke en eie pogings. Hoe baie maal wil ons God graag help om iets te doen waarvoor ons lank al bid? Waarvoor wil ons God help? Is dit omdat Hy onbeholpe is? Of is dit omdat Hy te lank talm? Of doen Hy dit nie soos wat ek dit graag gedoen wil hê nie? Jy wag miskien al jare vir die redding van jou kind of iemand anders en jy sien nie dat daar enige verbeteringe, wat nog te sê ‘n ware bekering en wedergeboorte plaasvind, nie. Nou begin jy vir die kind te preek en te vermaan en selfs te verwyt. Alles in ‘n poging om God aan te help sodat Hy moet gou maak.

Waar ons egter God die meeste wil help is wanneer dit kom by ons verlossing van sondes en vleeslikheid. Ons wil onsself reinig en heilig omdat ons, wanneer ons na onsself kyk, so onverlos en onheilig voorkom . Ons kyk natuurlik na dit wat voor oë is (2 Kor 10 : 7), soos Thomas sal ons eers glo as ons sien.(Joh 20 : 25-27). Die Woord in Hebreërs 11 dat die geloof ‘n bewys is van die dinge wat ons nie sien nie, is vir ons van toepassing op baie ander gevalle, maar waar dit die eerste vir ons ‘n werklikheid moet word, is by ons verlossing van sonde, ons reiniging deur die bloed van Jashuah, en ons heiliging. Is jy bereid om by hierdie laasgenoemde geval iets te glo wat jy nog nie sien gebeur het nie? Kan jy glo dat jy verlos is van sonde terwyl jy nog alle bewyse het dat jy ‘n slaaf is daarvan? Kan jy glo dat jy gereinig is deur die bloed van Jashuah alhoewel jy eintlik die teenoorgestelde sien? Kan jy glo dat jy geheilig is deur sy Gees, die Heilige Gees, terwyl jy vir jouself nog so onheilig voel en lyk?

Jy onthou seker nog dat daar drie tipes geloof is: die eerste is om te glo wat jy sien en dit is ook die maklikste manier van geloof: sien is glo, so sê die mense. Dit is die tipe geloof wat Thomas gehad het. Die 2de tipe geloof is dit waarvan ons lees in Hebreërs 11: 1-3. Dit is geloof in die Woord van God sonder dat jy iets van dit wat Hy belowe het, kan sien of voel. Dit is ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie en ook nie voel nie. Die derde tipe geloof is om God se Woord te glo terwyl die teenoorgestelde gebeur. Soos in die geval met Lasarus toe Jashuah gesê het dat hy slegs slaap, terwyl die teenoorgestelde aan die gang was (Joh 11 : 11). Hy was al besig om te ontbind en te ruik (Vers 39).

As jy ware verlossing van sonde begeer, sal jy moet die derde tipe geloof hê naamlik dat jy verlos is van sonde terwyl die teenoorgestelde in jou lewe plaasvind. Kan jy glo dat jy verlos is van jou humeur terwyl jy so pas jou vererg het en jou humeur verloor het? Kan jy glo dat jy geheilig is vir God se gebruik alleen terwyl jy so pas weer ‘n heerlike partytjie saam met die mense van die wêreld agter die rug het en so besoedeld voel omdat daar niks was wat jou gesteur het nie. Jy voel so leeg en onvervuld en jy voel dat die Naam van jou Verlosser glad nie daardeur verheerlik was nie?

Die dag wanneer jy ontdek dat elke Woord wat deur die Skrif tot jy kom nie ‘n opdrag is vir jou om in jou vleeslike krag iets vir jouself te probeer doen nie, maar dat daardie Woord jou instaatstelling is om te wees dit wat daardie betrokke Skrif sê, breek die lig vir jou deur. Neem byvoorbeeld die Skrif wat sê “wees heilig want Ek is heilig”(1 Pet 1 : 15-16). Daar is geen manier waarop jy jouself kan heilig nie. In die Ou Testament het God vir Israel gesê: “dat julle kan weet dat ek die Here is wat julle heilig (Ex 31 : 13). Die Woord wat God tot jou spreek: “wees heilig want Ek is heilig”, is ‘n Woord met skeppingskrag soos wat die Woord wat Hy gespreek het toe Hy gesê het: “laat daar lig wees, en daar was lig”(Gen 1 : 3). Deur Sy Woord het Hy die lig laat skyn in die duisternis. Deur dieselfde Woord heilig Hy jou, en deur dieselfde Woord reinig Hy jou. Toe Hy gesê het: “Julle is reeds rein deur die Woord wat ek tot julle gespreek het”, het Hy dit beslis nie gespreek tot ‘n ‘n klomp dissipels wat in hulle daaglikse wandel rein was nie. Petrus het Hom, nadat Hy daardie Woord gespreek het, verloën. En later, in Gal 2 : 11-14, lees ons hoedat die apostel Paulus vir Petrus moes bestraf omdat hy geveins het.

Nee, daardie Woord was gespreek tot elkeen wat dit gelowig in hulle hart wil ontvang, en daardeur ‘n werking van die Woord, wat jou heilig en reinig, aan te skakel in jou gees en siel. Lees nou eers die Skrif in 1Thessalonisense 2 : 13. “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die Woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die Woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die Woord van God wat ook werk in julle wat glo”. Merk jy op dat Hy sê dat die Woord werk in hulle wat glo? Hier is dit nie jy wat werk nie maar die Woord. En jy het sekerlik nie nodig om die Woord te help werk nie. Wil jy God help? As Hy hulp nodig gehad het moes jy miljoene jare vroeër gebore gewees het. Daar is ‘n hele aantal plekke in die Skrif waar gesê word dat Hy nie die mense se hulp nodig gehad het toe Hy as Skepper alles geskape het deur Sy Woord nie (Joh 1 : 1-10). Dit is vermetel, ja hoogs vermetel, om te dink dat jy God kan help en ‘n handjie bysit waar hy besig is om iets te doen? Lees Galasiers 2 : 21 en let op dat Hy sê dat as jy dink dat jy deur jou eie toedoen jouself kan reinig en heilig maak, jy dan eintlik verklaar dat Christus tevergeefs gesterf het.

Die Vader het in Sy groot wysheid en almag bepaal hoe Hy jou verlossing gaan bewerkstellig. Hy het Sy Seun gestuur as Verlosser (Luk 2 : 11). Sy Naam is Verlosser (Matt 1 : 21). Jou naam is dit nie. Dit is Sy werking in jou wat jou verlos, reinig en heilig. Maar wat kan of moet jý doen. Moet jy nie net niks doen en op Hom wag nie?


19. Die Woord wat ook werk in julle wat glo

 

Hoe langer ‘n mens op hierdie weg wandel – Jashuah is die weg (Joh 14 : 6) – hoe meer begin jy besef dat jy deur jou eie toedoen nie geestelik kan groei nie, ook nie by God guns kan verwerf nie. Jy kan jouself nie verbeter nie, jy kan jouself nie reinig nie, ook kan jy jouself nie heilig nie. Jy kan jouself slegs deur jou vrye wil na Jashuah toe bring en bid: “reinig my en heilig my asseblief my Verlosser”. As jy na Hom toe kom, kom jy na die Woord toe want Hy is die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het (Joh 1 : 1-14). Die Woord is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard (Heb 4 : 12). Die Woord is Christus. Hy is die Woord van God (Open 19 : 13). Dit is Sy Naam. En Hy is lewend, trouens Hy is die opstanding en die lewe. En wie in Hom glo het die lewe in homself (Joh 6 : 47; 10 : 10). Dus is Christus jou lewe (Kol 3 : 4). Hy het dus die Woord in Hom, die lewende Woord (1 Pet 1 : 23). Hy het die saad van die lewe in Hom, dit is die saad van wedergeboorte, die saad waaruit die wedergeboorte, die nuwe skepsel in Christus, ontkiem en groei en vrug dra (Mark 4 : 14).

As jy dié openbaring hoor en in jou hart bewaar, gaan die lewe vir jou oop, nie die lewe soos wat die wêreld dit sien nie, maar soos wat Christus is. Hy is die lewe, en omdat Hy lewe, lewe ons ook en Hy deur ons. Omdat Hy in ons lewe as die Woord en ook die Gees, ondervind ons ‘n werking, ‘n werking van die Gees en die Woord (1 Thess 2 : 13). Want die Gees en die Woord is een en dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie (Joh 6 : 63). Die Woord wat Hy tot ons spreek is Gees en is lewe.

As jy dus ‘n lewende Woord ontvang by Hom, en jy glo daardie Woord, sal jy ervaar dat daar ‘n werking van die Woord en die Gees in jou binneste aan die gang gesit word wat jou hele lewe transformeer. Dit is God wat in jou werk om te wil en te werk na Sy welbehae (Fil 2 : 13). Hy doen die ding, nie jy nie. Jy is slegs gewillig. En gewilligheid het grade: gewillig om gewillig gemaak te word is seker die laagste graad, tot by gretig en lus om God se wil te doen (Ps 40 : 9).

Die vraag is nou of daar dan niks is wat jy kan of moet doen nie. Wat kan jy anders doen as om tot God te roep in die gebed dat Hy, deur die werk wat Jashuah reeds gedoen het, nou in jou sal doen – presies ‘n reproduksie van die werk wat Hy gedoen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het.

Daar is drie belangrike faktore wat die Skrif na verwys wat ‘n rol speel by ons volmaakte verlossing: dit is die Gees, die bloed van Jashuah en die Woord. Die Woord en die Gees is een (Joh 6: 63). As die Gees in jou werk dan is dit ook die Woord wat in jou werk. Dit is waarna die Skrif verwys in 1Thessalonisense 2 vers 13 waar hy sê dat julle die evangelie ontvang het, nie as die woord van mense nie, maar as die Woord van God wat ook werk in julle wat glo. Het jy die Woord ontvang as die woord wat van mense kom of as die Woord van God wat ook werk in hulle wat glo? Jy sou beslis nie die Skrifte wat jy gelees het met betrekking tot jou verlossing, kon ontvang as die Woord wat werk in jou wat glo nie, omdat jy toe nog nie daarvan bewus was nie. Maar nou dat jy weet wat die waarheid is, sal enige Skrif wat jy lees vir jou ‘n ander betekenis hê. Dit sal nie meer vir jou beteken dat jy vir jouself iets moet doen nie. Nee, dit sal vir jou veel meer beteken as dit: dit sal vir jou beteken dit jy deur daardie Skrif die vermoë ontvang om te doen wat die Skrif sê. Nie deur nabootsing nie, ook nie deur eie pogings nie, maar deur dat jy ‘n kragtige werking van die Gees van God in jou binnekant ontvang wat daardie Woord in jou laat lewe. Dit maak jou en laat jou wees soos wat die Woord sê. Ons kyk weer na ons voorbeeld waar die Skrif sê ‘wees heilig want Ek is heilig’. Wanneer jy daardie Woord nou ontvang met die nuwe kennis wat jy ontvang het omtrent die Woord van God wat kragtig in jou werk, sal jy glo dat daardie Woord werk in jou om jou heilig te laat wees soos wat Hy wat jou geroep het heilig is (1 Pet 1 : 15). Die Woord is dus nou jou instaatstelling.

Kom ons neem nog ‘n voorbeeld: daar is ‘n Skrif in Efes 4 : 29 wat sê dat daar geen vuil woord uit ons mond moet uitgaan nie. In die verlede, wanneer ons so woord gelees het, het ons daarna ons beste probeer om nie weer te vloek nie. Maar hoe groot was ons teleurstelling as ons agter gekom het dat ons dit nie kan regkry nie soos Rom 7 : 15- 26 ook sê. Dan het ons maar weer opnuut probeer en elke keer geval. En as jy dit reggekry het om vir ‘n tyd nie te vloek nie was jy baie tevrede met jouself en het selde aan God die eer gegee. Ook met reg want dit is nie God wat dit gedoen het nie maar jyself. As jy nou regtig glo dat die Woord wat tot jou gespreek het in jou werk en jy ervaar hoe dat hierdie vloekery van jou afval en jy dat jy nie meer wil vloek nie en ook nie kan vloek nie kry God al die eer.

Hoe wonderlik sal dit wees as die Woord wat sê: “Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees”(Mark 5 : 33), vir jou lewend word en in jou begin werk om jou volkome te genees. Dit is natuurlik te sê as jy genesing nodig het.


20. Die wet van die geloof

 

Hierbo het ek gesê dat Hy doen die ding, nie jy nie. Dit is soos dit werk. En is dit nie presies wat die woord sê in Romeine 3 waar Hy spreek oor die wet van die geloof teenoor die wet van die werke nie (Vers 27)? Onthou jy nog toe ons gesê het dat die definisie van ‘n wet is naamlik: “ Die vaste reël waarvolgens sekere gebeure verloop: Bv. die wette van die natuur, die meganika, die swaartekrag. Dikwels is dit vernoem na ‘n persoon wat dit geformuleer het, byvoorbeeld “ohm se wet of die wet van ohm” Dan voeg die woordeboek ook nog daarby: “ reël deur God daargestel: die goddelike wet, die tien gebooie”

In die tyd van die Ou Testament was daar ‘n ander reël waarvolgens die dinge gewerk het, die dinge waardeur die mens God moes behaag. In die Nuwe Testament is daar ook nuwe reëls waarvolgens ons God moet behaag. Daar was dus “ek moet die wet hou” en nou is daar ‘n nuwe wet. Daar was vroeër die wet van die werke (Rom 3 : 27) en nou is daar die wet van die geloof (Vers 27). Dit was belangrik dat daar ‘n verandering van wet moes kom (Heb 7 : 12) want die ou wet was nie volgens genade nie en dit was belangrik dat die wet waardeur die mens gered word volgens genade sal wees en nie volgens die werke nie (Rom 4 : 16), nie volgens verdienste nie (Rom 3 : 24).

As ‘n wet dan die reëls is waarvolgens enige krag werk, is die wet van die geloof dan die reëls waarvolgens geloof werk. En die reëls is dan eerstens: Geloof is ‘n gawe van God en jy moet daarvoor bid. Jy kan dit nie aanskakel nie. Tweedens werk geloof deur die liefde (Gal 5 : 6). Die liefde word deur die Gees van God in jou hart uitgestort (Rom 5 : 5). As jy dus die liefde vir God en jou naaste die belangrikste doelstelling in jou lewe maak (Matt 22 : 34-40), sal jy vind dat die geloof spontaan deur jou begin vloei. Begin dus om kort tydjies met jou Vader en Sy Seun te spandeer waar jy stil word voor Hom. In hierdie tydjie moet jy liefs nie Bybel lees nie. Jy het seker al genoeg beloftes by Hom ontvang wat in jou gedagtes lewe maar nog nie in jou gees, of hart, nie. Word stil voor Hom enopen jou gees voor Hom sodat Sy Gees die saad van Sy Woord in die grond van jou hart kan laat ontkiem. Jy sal dan iets onbeskryfliks ervaar. Vestig jou fokus op Hom, bedink Hom in al Sy goedheid en grootheid. Bedink Jashuah se offer aan die kruis en in die hel om jou te red en jou die nuwe lewe te gee. Dis ‘n tydjie van intieme liefdes-verklaringe, aanbidding, bewondering en danksegging. Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader (Jak 4 : 8). Hierdie paragraaf is die sleutel tot geloof, en geloof is die sleutel tot die Woord wat in jou werk. 2 Thess 1 : 11-12: “Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak, sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en julle in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus”. In laasgenoemde teks sê Hy dat Hy elke werk van die geloof met krag volkome sal maak. As geloof nou, soos reeds gesê, deur die liefde werk, is dit mos duidelik waarom jy nie verlossing van sonde kry nie. DAAR IS ‘N ERNSTIGE PROBLEEM BY JOU LIEFDESVERHOUDING MET GOD, JOU VADER, EN MET JASHUAH, JOU VERLOSSER. Dit is die plek waar jy moet begin soek in die wet van die geloof: By die geloof wat deur die liefde werk (Gal 5 : 6). As jy vannaand voel dat jy ‘n groter begeerte het om na die kroeg te gaan saam met jou “Pelle” as om stil te gaan word saam met Jashuah, die Minnaar van jou siel en gees, moet jy besef dat daar iets kortkom in jou liefdesverhouding met God. Begin solank bid hieroor sodat Jahweh vir ons ‘n Woord kan gee, ‘n Woord uit Sy hart vir jou!


21. Die wet van ongeloof

 

Netsoos wat geloof ‘n spesifieke wet het waarvolgens dit werk, so het ongeloof ook ‘n reël of wet waarvolgens dit werk. Dit is seker ‘n logiese wet wanneer jy besef wat die wet van geloof sê – dit sê die teenoorgestelde as die wet van die geloof – logies ! Tog is dit goed om die teenoorgestelde te oordink en bepeins want dit laat jou beter besef wat die wet van die geloof behels.

Die wet van die ongeloof of die reëls waarvolgens die ongeloof werk is maklik: Lewe om jouself te behaag, jaag jou plesier na, bedink die dinge van die vlees (Rom 8 : 5-9), laat jou “eie-ek” koning wees in jou lewe, moenie dit noodsaaklik ag om andere te vergewe vir wat hulle aan jou gedoen het nie, bid so min as moontlik… en wat sal ek nog sê? Ja, sê vir Jashuah dat jy jammer is dat Hy moes sterwe want dit was nie nodig nie, jy kan uit jouself God behaag. Hy het nie nodig om jou geregtigheid te wees nie. En dan neem jy ‘n swart pen en krap Gal 2 : 21 en 1Kor 1 : 30 dood in jou Bybel. Jy vra my ook om al die Skrifte wat sê dat ons God nie deur ons eie goeie werke kan behaag nie vir jou neer te skryf sodat jy dit ook kan doodkrap in jou Bybel. Eintlik moet jy, om jouself baie tyd te spaar, die hele Nuwe Testament weggooi want dit is die Blye Boodskap van die genade van God. Dis nie ‘n handboek op verdienste nie!

Is ek nou sarkasties? Nee! Ek is baie ernstig! Dan wil ek nog meer byvoeg: Ook moet jy so min as moontlik die dinge wat daarbo is bedink, daar waar Christus aan die regterhand van God sit (Kol 3 :1- 2). Bedink liewer die dinge wat op die aarde is. Spandeer meer tyd op jou sosiale media, jou TV en al die oulike boodskappies wat almal so graag uitstuur. Kyk flieks eerder as om in die Vader en Sy Seun se teenwoordigheid te sit en Sy aangesig te soek. Ek kan nog baie dinge noem maar as jy slegs hierdie doen sal jy baie gou geen geloof ervaar nie. Daar sal ‘n werking van ongeloof, vrees en benoudheid in jou instroom. Jy sal dit beslis ervaar !


22. Kyk na My en lewe!

 

Die Engelse Bybel sê hier: “ Look unto Me, and be saved” Isa 45 : 22.

Ek besit baie boeke wat ek van my ma en oupa geërf het. Dit is baie selde dat ek in die boeke lees, want my tyd is so beperk. In sommige gevalle lei die Heilige Gees my om ‘n boek van die rak af te neem en dan maak ek dit lukraak oop en lees ‘n paar gedeeltes daaruit. Soms is dit net een paragraaf. En dit is baie selde dat ek meer as een bladsy lees. Dan maak ek dit toe en sit dit terug op die rak. Vanoggend het ek ‘n ou boek, wat in 1927 geskryf is deur Oswald Chambers, “My utmost for His Highest”, geneem en dit op bladsy 22 oopgemaak en gelees: ‘WAARNA IS EK OP SOEK?” En dan gaan hy voort en sê: Verwag ons dat God na ons kom met Sy seëninge om ons te red? Hy sê: “Kyk na My en word gered”. Die groot probleem, geestelik, is om te volhard daarin om te konsentreer op God. En dit is juis Sy seëninge wat dit so moeilik maak. Probleme en benoudhede maak byna altyd dat ons na God kyk; terwyl Sy seëninge ons neig om iewers anders te kyk. Die leer van die “Bergpredikasie” is in effek dat jy al jou krag en al jou belange tot dié gesindheid van jou gees en hart en liggaam sal rig om te konsentreer op Christus. “Wend julle tot My” sê Hy. Met ander woorde: “Kyk na My en laat julle red” (Jes 45 : 22).

Baie van ons het ‘n verstandelike begrip van wat ‘n Christen behoort te wees, en die lewens van die heiliges word ‘n hindernis vir ons konsentrasie op God omdat ons meer na hulle lewens kyk en sò probeer wees as hulle. Daar is geen heil in hierdie nabootsing van ander “mooi” kinders van God nie. Jahweh sê: “Kyk na My en jy sal gered word”. Die einste ding wat ons verwag, sal ons vind indien ons sal konsentreer op Hom. Ons raak soms verwytend en ongeduldig met God omdat ons nie verkry wat ons Hom voor bid nie, terwyl Hy al die tyd sê: “Jy moet opkyk na My toe om gered te word”. Die daaglikse probleme en die beslissings waaroor ons gedagtes gedurig mee besig is, dinge soos ‘wat ons in hierdie tyd van benoudheid sal doen, of wat ons môre moet doen’, sal alles verdwyn wanneer ons kyk na God – wanneer ons ons hart en oë op Hom rig en vestig.

Oefen jouself daarin om te kyk na God, om jou oë op Hom te rig. Bou jou hoop op Hom. Maak nie saak as daar 101 dinge is wat jou onder druk plaas om besluite oor te neem nie, wees vasberade om hulle uit te sluit uit jou gedagtes en na Hom te kyk vir die antwoord. “Wend julle tot My en laat julle red” en die heil en verlossing is joune van die oomblik af wanneer jy na Hom kyk en jou tot Hom wend. Lees 2 Kron 16 : 9: “…want die Here—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…”

Heb 12 : 1-2 : Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.


23. Nader tot God en Hy sal tot julle nader

 

As ‘n mens hierdie gedeelte lees in Jakobus 4 vers 8 dan is dit duidelik dat jy tot God moet nader. Dan lees jy nou weer in Johannes 6 vers 44 waar Hy sê dat “niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag”. In vers 63 sê Hy: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle spreek is Gees en is lewe. Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur My Vader gegee is nie”. Hieroor het baie van Sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie. Die gedeelte in Jakobus laat ons dink dat die eerste beweging tussen my en God, om nader na mekaar toe te kom, van my kant af moet wees, maar die gedeelte in Johannes laat my dink dat dit eerstens van God af moet kom. Nou hoe werk dit dan? Die antwoordb is: Deur God se voorkennis weet Hy al van voor die grondlegging van die wêreld af wie gaan gewillig wees om Sy wil te doen, en daarom het Hy sekere mense se name reeds van voor die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf. Jy kan self hieroor gaan oplees in die Skrif (Open 13 : 8). Die mense wat Hy van voor die skepping af geken het, dié het Hy ook geroep (Rom 8 : 30), en dit is die mense wat hy nader trek na Hom toe sodat Hy ook na hulle toe kan nader. Jou begeerte om Sy wil te doen is aanvanklik slegs ‘n gewilligheid, maar later, wanneer Hy in jou begin werk om te wil en te werk na sy welbehae (Fil 2 : 13) dan word hierdie gewilligheid ‘n sterk begeerte. Net so word jou begeerte om Hom en jou naaste lief te hê, al sterker en dit word later die kreet van jou hart in gebed tot Hom dat Hy Sy liefde in jou hart sal uitstort (Rom 5 : 5). Ook dat Hy jou nader na Hom toe sal trek. Hoor die woorde van hierdie lied : “Ek is Uwe Heer, ek het U stem gehoor, dit vertel U liefde aan my. Trek my hoër op Heer in U geloof en nog nader aan U sy. Trek my nader, nader, aan U deurboorde sy, na die kruis waar U moes ly. Trek my nader, nader dier’bre Heer aan U eens deurstoke sy”. Jou begeerte om nader te kom na Hom toe word al sterker namate jy meer en meer daarvoor bid. En hoe meer jy daarvoor bid hoe meer trek Hy jou nader na Hom toe. Deel van die beeld van God in jou is jou vrye wil. Deel van jou vrye wil is jou wil om Hom te soek en tot Hom te nader. Wil jy Hom begin bid daarvoor sodat Hy in jou sal werk om te wil op ‘n sterker wyse as wat jy ooit ervaar het? Jy bid Hom ook om jou na Hom toe te trek en hierdie begeerte word al groter totdat jou lewe saam met Christus verborge is in God (Kol 3 :4).

In die vorige gedeelte het ek enkele woorde gesê dat jy, verkieslik in die oggende vroeg, gaan stil word voor jou Vader en Sy Seun jou verlosser. Hierdie tyd van intieme liefdesgemeenskap word naderhand so kosbaar vir jou en vir Hom. As jy eers agterkom dat dit vir Hom net so wonderlik is om jou stem te hoor as wat dit vir jou is om Sy stem te hoor, dan word dit ‘n tyd wat jy vir niks ter wêreld meer misloop nie. En as jy die dag ‘n baie besige program voor het, staan vroeër op om eers daardie tyd wat jy alleen met hom kan wees, nie mis te loop nie, want daarsonder kan jy naderhand net nie meer voortgaan nie. As jy daardie tyd misloop sal jy gou agterkom dat daar ‘n leemte in jou krag, geloof, liefde, en die vrug van die Gees in die algemeen, in jou lewe is. Veral waar ons ‘n tyd binnegegaan het hier in ons land waarin daar geweldige bedreiging teen ons is, sal jy gou agterkom hoedat jou moed en geloof op ‘n baie hoë vlak is as jy die oggend ‘n tyd alleen was met jou Vader en met jou Verlosser, Jashuah.


24. ‘n Gedaanteverandering.

 

As ons na die geskiedenis van die “stilles in die land” kyk, dan sien ons baie verskille tussen hulle en die mense van die kerkeeu. Jy sal opmerk dat ek die woord kerk hier met ‘n kleinlettertjie skryf want die naam “Kerk” met ‘n hoofletter verwys eintlik na die kuriakon of die uitgeroepenes van God, die wat deur God uit hierdie wêreld geroep is (ekklesia). En dit is “die stilles in die land” of soos wat die Skrif in Psalm 83 na verwys: “die verborgenes van God”. As die verskil dan nou ‘n besprekingspunt gaan word is daar een belangrike verskil wat ons nie mag miskyk nie naamlik die verskil tussen om “die beker aan die buitekant skoon te maak” terwyl dit binne nog vol van jou vleeslike mens is, en om “die beker eers aan die binnekant skoon te maak” sodat dit gevolglik aan die buitekant automaties skoon sal word (Matt 23: 25). Deur die jare waartydens ek in ‘n kerk as prediker gedien het, het dit my baie dae verbaas laat staan oor die geweldige groot nadruk wat gelê was op ‘n “mooi lewe”. Die indruk wat ons op mense moes maak was baie belangriker as die indruk wat ons by ons Vader moes maak. Dit was baie belangrik dat ‘n persoon ná sy “bekering” nie meer mag gerook het nie, ook nie meer mag gedrink of gevloek het nie, terwyl kwaadspreek en nuusdra nie so belangrik was nie, om nie eers te praat van die groot moedersonde van alles, naamlik ongeloof nie (Joh 16: 8-9.). Ek het baie dae die indruk gekry dat dit nie so belangrik is hoe ons vir God lyk, as hoe ons vir mense lyk nie. En dit is waarom Jashuah vir die Fariseërs sê dat hulle ‘n mooi vertoning wil maak voor die mense net om deur die mense gesien te word. Paulus skryf ook oor dié “mooi vertoning in die vlees” wat hulle wil maak deur die wet van die besnydenis te hou (Gal 6: 12).

Hoekom sal hulle graag ‘n mooi indruk wil maak voor die mense? Dit is dié indruk wat mense na hulle kerk toe lok. Die mooi lewe is dus ‘n advertensie van hoe Christelik, geestelik en goddelik hulle is. Dit is ‘n bewys dat hulle godsdiens werk. Hulle wil die indruk skep dat mense se lewens verander word want God is aan die werk daar. Mense word van sonde verlos en hul lewens word getransformeer. Hulle word kwansuis “nuwe skepsele” (2 Kor 5: 17). Ons het baie keer lekker gelag wanneer iemand vir ons sê dat daardie persoon nie opgehou het met rook nie, maar slegs opgehou het om sigarette te koop, want hy rook nou skelm op ander mense se koste. Tot vandag toe is dit ‘n groot begeerte by baie mense dat hulle verlos sal word van sondige gewoontes, veral die gewoontes wat ‘n sosiale euwel geword het en wat ook die families van die slawe daarvan, finansieël beïnvloed en benadeel. Maar God wil graag hê dat ons van gedaante moet verander word na die beeld van Sy Seun. Hy wil hê dat ons vry moet wees van alle slawerny aan die duisternis: die sonde, die vlees, asook die wêreld. En by dit wil Hy ook hê dat Sy Seun ons geregtigheid moet wees en ons nie ons eie geregtigheid moet probeer oprig (Rom 10: 3) waardeur ons Hom wil probeer behaag nie.

Nou kom ons by die Skrifwoord vir hierdie hoofstuk en ons lees dit in 2 Korintiërs 3: 7- 18. “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is”. Hier praat die Skrif van ‘n gedaanteverandering en dit vind plaas terwyl jy met ‘n onbedekte gesig die heerlikheid van Jahweh aanskou. Die Heilige Gees doen hierdie werk en nie jyself nie. Dit is nie jy wat jou nou beter moet gedra en op jou tande byt om nie te vloek nie. Ook nie jy wat jou gesig ernstig moet hou om nie oor die vuil grap te lag nie. Dit is nou nie jy wat jou lus om ‘n drankie saam met iemand te geniet moet onderdruk nie. Dit is ook nie jy wat geloof moet probeer veins is nie. Dit is die Gees van God wat nou in jou werk en daardie wonderlike lewe van Jashuah in jou uitstort, soos wat Jashuah in Joh 16:13-15 gesê het dat die Heilige Gees dit sal neem uit wat aan Hom behoort en dit aan ons verkondig. As Hy sê Hy sal dit aan ons “verkondig” dan sê die Amplified Bible dat Hy dit aan ons sal “transmit” of oordra. Ek het al in vorige geskrifte genoem – of ek meen dat ek het – dat die woord “verkondig” in Johannes 16: 14- 15, is soos wanneer ‘n elektriese trein se lokomotief die krag om sy motore te laat werk, deur ‘n pantograaf vanuit die oorhoofse kragkabels trek teneinde sy motore in aksie te kry. En dan trek dit ‘n geweldige swaar vrag. Maar die krag daartoe word van bo gelei en kom nie uit die motor self nie. Dit kom dus van “BO”. Die Heilige Gees bring dit uit Jashuah self uit na jou toe en dra dit oor in jou gees, siel en liggaam. Dit is dus die Gees wat die beeld van Jashuah (Kol 1: 15) in jou oordra en deur jou laat skyn en werk. Hy verander jou gedaante na Syne toe, na dieselfde Beeld toe (2 Kor 3: 18), deur dieselfde Gees wat Hom uit die dode opgewek het (Rom 8: 11). Jy word dus nou totaal en al afhanklik van die Heilige Gees en vertrou glad nie meer op jouself nie. Dit is wat Paulus bedoel met “swak in jouself maar sterk in Christus”. 2 Kor 12 9-10: “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon”.

10Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk. 2 Kor 13: 4: “Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God”.

Daar is egter ‘n hele aantal dinge wat verhoed en verhinder dat die lig wat in die aangesig van God is op jou sal skyn sodat jy ‘n gedaanteverandering kan ondergaan. As jy weer na 2 Korintiërs 3 blaai en jy lees vanaf vers 13 dan sal jy merk dat Hy sê dadelik: “nie soos Moses nie, wat ‘n bedekking voor sy aangesig gesit het nie…”. En dan in vers 14 sê hy: “maar hulle sinne is verhard want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.15Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ’n bedekking oor hulle hart;16maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.17Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.18En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is”

Die grootste verhindering is die bedekking wat niks anders as die wet of wette is nie. Dit beteken nie dat wetteloosheid en bandeloosheid jou by die heerlikheid van God se aangesig gaan uitbring nie. Nee, daar moet ‘n wet wees maar ‘n ander wet as die van die Ou Testament, dit is die wet van die Gees, die wet van die lewe in Christus Jashuah (Rom 8: 1-3). Dit is die wet van die vryheid (Jak 1: 25; 2 Kor 3: 17). Dit is nie ‘n wet wat jou dwing nie, maar die Gees van God wat jou dring. Die verskil tussen dwing en dring moet jy eers ervaar voordat jy die heerlikheid daarvan gaan smaak. As jy as ‘n verstandige landsburger die lekkerte daarvan ervaar het om by ‘n kruispad aan te kom waar daar geen stopstraat is nie, en dan voel hoedat jou verantwoordelikheid teenoor ander padgebruikers jou dring om stadiger te ry en links en regs te kyk of daar nie ander voertuie aankom nie, dan sal jy verstaan hoe die wet van die vryheid werk. By die kruispad was jy nie deur ‘n wet gedwing om te stop nie, maar jou besorgdheid oor jou medemens het jou gedring om verantwoordelik op te tree. As ons nou weer na die Skrifgedeelte kyk besef ons dat ‘n menslike wet vir ons ‘n hindernis kan wees wanneer ons in God se teenwoordigheid wil kom. Telkemale ondervind ek dit: wanneer ek vir ‘n kort tydjie wil gaan sit in my Vader se teenwoordigheid, stil word en niks sê nie, maar my net rustig in die lieflikheid van Sy aangesig verlustig, Hom aanbid en liefhê, ervaar hoedat Sy Woord deur Sy Gees in my gees instroom, dan is daar skielik menslike en aardse wette wat inskop en die verpligtinge en verantwoordelikhede wat roep, sodat ek moet opspring en dadelik gaan aandag gee aan die verpligtinge wat volgens aardse en menslike wette bepaal word. As daar iemand is wat pligsbesef het teenoor God en mens, dan is dit ek. Ek sê dit in alle nederigheid en met dankbaarheid vir Vader se genade. Ek was so groot gemaak en opgevoed, en deur die jare het dit slegs nog meer geword. Dus as die pligte roep is daar geen rus meer vir my nie en moet ek dadelik gaan. Nou het die enigste antwoord en oplossing vir my geword om vroeër op te staan. En die Heilige Gees het my ook te hulp gesnel en maak my nou vir die afgelope jare reeds gedurende die nag wakker. Twee, drie, vier keer in die nag word ek wakker en staan op en buig baie laag in aanbidding voor my Vader en Sy Seun. As ek dan weer in die bed gaan klim slaap ek baie maal nooit weer nie maar aanbid Hom waar ek op my bed lê. Soms raak ek weer aan die slaap maar dit is nie meer vir my belangrik nie. Jy sal dit miskien nie glo nie maar as jong seun het ek baie aande sewe uur reeds in die bed gaan klim. My familie het my “sleepy” genoem, na die naam van een van die sewe dwergies van Walt Disney. Maar ek moes my slaap offer om dan net moeg in die oggend op te staan. Vir jare het ek daarteen gestry. Toe ek later jare in die nag begin wakker word het, het ek in opstand gekom en vir Vader gevra waarom ek dan nie soos andere ook gegun kan word om te slaap nie. Maar toe Hy aan my geopenbaar het dat Hy graag my stem wil hoor wanneer ek hom loof en aanbid (Hoogl 2: 14), het my hele gesindheid verander. Elke nag is vir my ‘n heerlike tyd van liefdesgemeenskap in die teenwoordigheid van Jashuah en die Vader, ‘n tyd wanneer ek Hulle aanbid en verheerlik. Ek het al baie bely dat ek so kortsigtig was en Vader se liefde en goedheid betwyfel het.

In die tye wanneer die aardse wette van slaap en rus uit die weg geruim is, begin ek ervaar hoe dat ek, vry van al daardie wette, met onbedekte gesig in die aangesig van die Vader en Sy Seun begin kyk. Dit is nou maar in ‘n begin-stadium maar ek ervaar reeds dat daar in my binnekant ‘n gedaanteverandering begin plaasvind. Ek besef dat dit eerste binne moet begin voordat dit na buite gesien sal kan word. Daarom, al sou die mense nog nie sien dat daar by jou ‘n gedaanteverandering is nie, sal jy dit self eerste ervaar. Jy moet dus moed hou en voortgaan om elke moontlike geleentheid in jou Vader en Jashuah se teenwoordigheid deur te bring en alles gaan vir jou verander: jy gaan dit voel in jou vrede, geloof, liefde, verdraagsaamheid, ja, in elke vrug van die Gees.


25. Om Hom te ken

 

In die verlede het ek al oor hierdie onderwerp geskrywe maar by my persoonlik word die begeerte en dringendheid om die Vader en Sy Seun te ken, al groter. Gaan lees nou eers die profeet Hosea 6: 1-6: “Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.2Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor Sy aangesig kan lewe.3En laat ons ken—laat ons dit najaag om die Here te ken; Sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei. 4Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos ’n môrewolk en soos ’n dou wat vroeg weer verdwyn”.

As jy vanmôre in die tydjie wat jy stil word voor die aangesig van jou Vader, en in die teenwoordigheid van Sy Seun, met ‘n diep verlange daarna smag om Sy wil in alles te doen, en Hom in alles te behaag, sal jy ervaar hoe dat daar in jou ‘n groot begeerte opkom om Hom te ken — van naby te ken. En die Woord in vers 3 wat vir ons verseker dat sy opgang so seker is soos die dagbreek en dat Hy na ons toe sal kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei” sal jou bemoedig. Dit gee ons moed en gee ons geloof dat hy wel Homself aan ons sal openbaar sodat ons Hom kan ken, “en die krag van sy opstanding” soos wat Fillipense 3: 10 dit vir ons belowe. Lees dit asseblief nou eers voordat ons verder gaan. Jy sal opmerk dat daar sekere voorwaardes aan verbonde is. Soos wat ons vandag in bykans elke advertensie lees: “T & C’s Apply”, is hier ook voorwaardes aan verbonde. Ons moet noukeurig gaan kyk na hierdie voorwaardes want anders gaan jy jou lewe lank begeer om die Vader, asook Sy Seun, van naby te ken, maar nooit daardie ervaring sal kan hê nie.

Fillipense 3: 7 sê: “7Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. 8Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan Sy dood gelykvormig word, 11of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 12Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. 13Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie”.

‘n BONUS: in die Amplified Bybel haal ek vir jou dieselfde gedeelte aan: Philip 3: 7-12: “But whatever former things were gains to me [as I thought then], these things [once regarded as advancements in merit] I have come to consider as loss [absolutely worthless] for the sake of Christ [and the purpose which He has given my life].8 But more than that, I count everything as loss compared to the priceless privilege and supreme advantage of knowing Christ Jesus my Lord [and of growing more deeply and thoroughly acquainted with Him– a joy unequalled]. For His sake I have lost everything, and I consider it all garbage, so that I may gain Christ, 9 and may be found in Him [believing and relying on Him], not having any righteousness of my own derived from [my obedience to] the Law and its rituals, but [possessing] that [genuine righteousness] which comes through faith in Christ, the righteousness which comes from God on the basis of faith.10 And this, so that I may know Him [experientially, becoming more thoroughly acquainted with Him, understanding the remarkable wonders of His Person more completely] and [in that same way experience] the power of His resurrection [which overflows and is active in believers], and [that I may share] the fellowship of His sufferings, by being continually conformed [inwardly into His likeness even] to His death [dying as He did];11 so that I may attain to the resurrection [that will raise me] from the dead.12 Not that I have already obtained it [this goal of being Christlike] or have already been made perfect, but I actively press on so that I may take hold of that [perfection] for which Christ Jesus took hold of me and made me His own”.

As jy nou in die Skrifgedeelte vanaf vers 1-7, lees wat ek aangehaal het, sal jy merk dat dit vir Paulus ‘n baie belangrike ding was om die wet te onderhou en dat hy ook baie goed daarin geslaag het, soos wat hy gemeen het. Maar ten einde Christus in die krag van Sy opstanding te kon ken, moes hy hierdie belangrike prestasies in sy lewe, naamlik om ‘n goeie onderhouer van die wet te wees, skade ag. Ja, hy moes alles skade ag ter wille van die uitnemendheid van die kennis van Jashua, en hy moes alles prysgee en as drek beskou, om Hom as wins te verkry, en in Hom gevind te kon word, nie met die geregtigheid wat deur die wet is nie, maar met die wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof. En dit alles was noodsaaklik sodat hy Christus kon ken en die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde terwyl hy aan die kruisdood van Christus gelykvormig geword het. As jy nou baie ernstig tot die Vader bid om die dieptes van hierdie Skrifgedeelte vir jou in jou gees te openbaar, sal die volgende dinge vir jou baie duidelik uitstaan: eerstens sal jy alles wat vir jou wins is in die lewe moet skade ag. En alles wat vir jou voordeel inhou sal jy moet bereid wees om as drek te beskou ten einde Christus as wins te verkry. Dit is natuurlik as die Heilige Gees Sy vinger op hierdie dinge lê en vir jou sê dat, as jy Christus waarlik van naby wil leer ken, en so ook die Vader, sal jy hierdie dinge moet aflê. Moet dus asseblief nie nou gaan en artikels in jou huis verbrand of wegsmyt nie. Dit sal niks help as jy dit in die vlees doen nie. Wag eers tot die Heilige Gees dinge begin uitwys. En as jy sou vind dat dit vir jou moeilik is om dinge wat vir jou wins ingehou het en voordelig was, nou as skade te moet ag, en die dinge wat jy as voordeel beskou het nou as drek moet beskou, sal jy vind dat, as jy Christus as jou geregtigheid sien (1Kor 1: 30), Hy dit vir jou moontlik sal maak. Dan sal Hy vir jou die borswapen van geregtigheid wees (Efes 6: 14) wat jou hart beskerm teen die vurige pyle van die bose wat poog om jou liewer ‘n besluit te laat maak ten gunste van die dinge wat jou vlees begeer en wat jy as voordeel beskou. Die vyand sal so graag wil hê dat jy liewer die dinge moet kies wat die begeertes van jou vlees bevredig (Rom 13: 14), as om daarna te jaag om Christus te ken in die krag van sy opstanding.

Om jou verder aan te moedig en te inspireër om daarna te jaag om Hom te ken, gaan lees in Jeremia 9 vers 23: “So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie;24maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek die Here”. Jy kan nie die Almagtige Skepper ken sonder om Hom te leer ken as die God wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen nie. Jy kan Hom nie leer ken as jy nie besef dat geen plan vir Hom onuitvoerbaar is nie, en dat niks en niemand voor Hom sal kan standhou nie. As jy Hom werklik leer ken en Sy Seun in die krag van Sy opstanding, sal jou hele lewe verander word en jy sal agterkom dat Hy deur jou dink en besluit, dat jy die sin van Christus het (1 Kor 2: 16), dat jy, met ander woorde, sal ervaar hoe dat Sy gedagtes deur jou vloei, en dat die gedagtes van die wêreld vir jou dood is, en dat jy die volle wapenrusting van God aan het. As jy nou hier eers Efes 6: 10-20 kan lees en besef dat elke deel van die wapenrusting van God in Christus beliggaam is. Hy is die gordel van die waarheid waarmee jy jou omgord (Vers 13). Hy is die bereidheid vir die evangelie van vrede (Vers 15). Hy is die borswapen van geregtigheid (Vers 14; 1 Kor 1: 30). Hy is die skild van die geloof (Vers 16; Ps 3: 4). Hy is die helm van verlossing (Jer 50: 34). Hy is die swaard van die Gees (Open 19: 11-16). Ja, alles wat Hy is sal jy in jou eie lewe ontdek, lewend in jou gees. Jy sal geloof ontdek wat jy voorheen nooit gehad het nie en so ook liefde wat jy nooit geken het nie. Jy kan Hom nie leer ken sonder om Sy liefde te leer ken nie, ja die lengte en die breedte en die hoogte en die diepte van Sy liefde, te leer ken nie (Ef 3: 16-21).

Dus, van Sy liefde gepraat, het dit al vir jou belangrik geword om die volle mate van Sy liefde te leer ken soos wat ons lees in Efes 3: 17-21? Moontlik nie, maar nou, as jy daarna jaag om Hom te ken, sal jy ook agterkom dat jy jaag daarna om Sy liefde te leer ken. En dit gaan jou vervul tot al die volheid van God (Vers 19). En dan sal jy ook agterkom dat Hy vir jou dinge doen vêr bokant wat jy kan bid of dink volgens Sy krag wat in jou werk (Vers 20).

Hierdie woord is vereers ‘n mondvol en jy sal eers hieroor moet gaan peins en terwyl jy voor die aangesig van God sit, dit met Hom bespreek en die saak uitmaak in jou hart of jy “ja” kan sê om Hom te ken. En dan is dit miskien belangrik op hierdie stadium om te besef dat om Hom te ken is die ewige lewe (Joh 17: -3). Ook moet ek miskien net hier noem dat dit die rede is waarom Hy jou verstand gegee het, nie om in menslike wysheid dinge vir jouself uit te werk soos wat jy dink die beste is nie, maar Hy het jou verstand gegee om Hom te ken (1 Joh 5: 20). Ook het Hy jou in staat gestel deur Sy sterwe en opstanding uit die dood, om deur die Heilige Gees in Sy liggaam in-gedoop te word (1 Kor 12: 12-27).

In Deel 2 Hoofstuk 19 sê ek heelwat oor “Die Nuwe Verbond” maar in hierdie hoofstuk is dit belangrik om te noem dat dit deel is van daardie nuwe verbond, dat ons ons Vader en Sy Seun, Jashuah Messiah, sal ken—persoonlik sal ken. Ook sal Hy Sy wet daarvolgens in ons binneste gee en op ons harte skrywe. Lees wat Jer 31: 33-34 sê: “33Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.34En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie”. Is dit nie ‘n wonderlike belofte en verbond wat God die Vader met ons gemaak het deur die bloed van Sy Seun nie?

Gaan peins hieroor en bid hieroor. Dit sal vir jou die moeite werd wees!