Inhoud Deel 1(3)
26. Veertig jaar deur die woestyn.
27. Die Kring van die Volmaakte Regverdiges.
28. Christus ons plaasvervanger.
29. Regverdigmaking deur die geloof.
30. Om Hom lief te hê.
31. Geloof is ‘n genade-gawe van God.
32. Geen bewussyn van sonde meer nie.
26. Veertig jaar deur die woestyn.
Inleiding: Dit is nou 40 jaar gelede, op 5 Oktober 1979, die dag waarop Vader vir my gesê het dat ek ‘n brief moet skrywe aan die hoofkantoor van die kerk-denominasie waaraan ek behoort het en my bedanking indien as lidmaat van die kerk. Hierdie besluit het ek geneem na 17 maande van ernstige gebed in die klowe buite Volksrust. Dit was ‘n groot besluit om te neem en het onder baie ingrypende gebeure plaasgevind. Maar my Vader wou my duidelik in die spreekwoordelike woestyn bring, Hy het my ‘n Woord gegee in Hosea 2: 13-20 asook in Jer 2: 2-6. Hy wou my by die berg Sion bring (Jes 16:1-5) Hieroor spreek Heb 12: 22-25 en dit is dan ook waaroor die Woord van ons Vader in die volgende hoofstukke gaan.
Toe ek die oggend van 5 Oktober die brief gepos het by die poskantoor in Volksrust was die vragmotor met ons meubels reeds op pad na ‘n plaas buitekant die dorp waar iemand ons ‘n bywonershuisie as woonplek aangebied het. Toe ek gou my posbus (No 525) leegmaak vind ek ‘n koevert met ‘n paar rand binne-in. Toe sê die Vader vir my: “So sal Ek altyd vir jou sorg”. Ek het uitgestap uit die kerk sonder salaris, sonder geld in die bank, sonder pensioen of mediese fonds, maar met ‘n belofte: “Op die berg van die Here sal dit voorsien word” Aan hierdie belofte was my Vader tot vandag toe altyd getrou. Ek het nie nodig gehad om kollektes op te neem of vir tiendes te vra nie. Hy het getrou Sy woord vervul want Hy is goed en Hy is getrou. Hy het my ook altyd gelei om my behoeftes slegs by Hom bekend te maak terwyl die manna uit die hemel en die water uit die rots het nooit ontbreek nie.
Op die 14de Desember 1979 het ons nog steeds in die bywonershuisie gewoon, my oorlede vrou en ek en vier kinders, waarvan die vyfde toe op pad was. Op daardie dag het die Vader vir my gesê: “Vandag is vir jou die eerste dag van die eerste maand van die eerste jaar”. En elke jaar daarna, op die 14de Desember, het Hy vir my aangekondig dat dit nou die tweede jaar, die 3de, 4de,….jaar, ens. is. So het 40 jaar verby gegaan op die 14de Desember 2019. Dit is vandag, hier waar ek vandag in my studeerkamer sit en skryf! Hoe goed en getrou is die God en Vader, Elohim, vir wie ons dien deur Sy genade, wat Hy deur Sy Seun, Jashuah Messiah (Jesus Christus), aan ons geopenbaar het!
In hierdie reeks geskrifte — ek wil dit nie ‘n boek noem nie, wat uit 12 hoofstukke gaan bestaan, wil ek ‘n deel van dit wat God ons Vader die afgelope maande en selfs jare aan my geopenbaar het, vertel. Alhoewel ek deur die jare baie boodskappe gebring het op kassette, CD’s, DVD’s en drie jaar se dagstukkies geskryf het (wat my 8 jaar geneem het), is hierdie reeks wat ek nou skryf “nog ‘n duisend el” (Eseg 47: 3-) dieper in die “Stroom van die Gees”. Veertig jaar lank het ons in die woestyn rondgetrek en het God vir ons baie belangrike woorde gegee, oor en oor dieselfde waarhede. By verskeie geleenthede het mense my gevra, wanneer ek weer iets nuuts geskryf het, of dit nou maar weer die “ou waarhede is”. Hulle was soos die mense met wie Paulus te doen gekry het in Athene: “Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie”. Johannes sê egter: “Broeders, dit is geen nuwe gebod wat ek aan julle skryf nie, maar ‘n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het. En tog skryf ek aan julle ‘n nuwe gebod wat waar is in Hom en in julle, want die duisternis gaan verby en die waaragtige lig skyn alreeds.”
Vra dan nou jou Vader in die hemel om jou gemoed in te stel deur Sy Gees, teneinde hierdie Nuwe Woord, wat tog die ou woord is, te kan aangryp met jou hele wese. As jy dit gedoen het toe jy die eerste keer hierdie woord gehoor het sou jy nou alreeds, na al die jare, in ‘n liefdesverhouding en gemeenskap met die Vader en Sy Seun gelewe het, waarvan jy nou moontlik nog slegs oor droom. Lees dit dus nou met ‘n oop gemoed. Ek bid vir jou daarvoor.
27. Die Kring van die Volmaakte Regverdiges (Heb 12: 22-24)
Wat ‘n wonderlike vooruitsig om eendag in die “kring van die volmaakte regverdiges” te kan sit? Eendag of nou reeds? Die Skrif sê in Heb 12: 22 dat ons het gekom by die berg Sion en by die kring van die volmaakte regverdiges. Dit is ‘n wonderlike vooruitsig vir sommige om eendag volmaak regverdig te kan wees en ook volkome heilig te kan wees, terwyl die Skrif sê dat ons reeds regverdig gemaak is deur die bloed van Christus (Rom 5: 9 ; Rom 3: 23-26) en reeds volmaak geheilig is deur een offer van Christus (Heb 10: 10,14). Christus is geheilig deurdat Hy Sy wil aan Sy Vader se wil onderwerp het toe Hy gesê het: “Nogtans nie soos Ek wil nie maar soos U wil” (Matt 26: 39). Wanneer ons ons ook ten volle aan God se wil oorgee en gewillig word om Sy wil van harte te doen (Efes 6: 6), heilig dit ons ook net soos wat Christus geheilig was daardeur. Dan is jou gewete ook skoon, net soos Paulus s’n, omdat jy Sy wil wil doen (Heb 13: 18) deur in alles goed te wil wandel.
‘n Volmaakte vergifnis van ons sonde, versoening met God en ‘n volmaakte regverdiging of regverdigmaking is reeds aan alle mense geskenk. Dus is ons ook reeds volkome geheilig na gees, siel en liggaam (1 Thess 5: 23) toe Christus uit die dode opgestaan het, nadat Hy vir ons sondes gestraf is aan die kruis en in die hel (Jes 53: 5).
28. Christus ons plaasvervanger
Alles wat Christus was as sondelose Seun van God, reg van Sy geboorte af tot by Sy kruisdood, het Hy namens ons, as ons plaasvervanger (2 Kor 5: 15), gedoen. Dit alles is ons dan ook toegereken ( Rom 4: 22-23), ja, aan ons as sondaars en goddeloses. Ons sou nooit deur ons eie toedoen of deur ons eie werke enigsins iets goeds in God se oë kon doen nie want ons was deur en deur net sleg en ons beste werke, ja, ons vroomste dade, is wegwerplik voor God se aangesig (Jes 64: 6; Rom 3: 9-20). Dit het ‘n sondelose mens vereis om al hierdie dinge namens ons te doen want ons kon dit nie doen nie weens ons sonde. Die enigste sondelose mens se Naam is Jashuah Messiah, die Seun van God. Hy het die goeie werke namens ons gedoen, en die Wet, wat niemand ooit kon hou nie, namens ons vervul (Matt 5: 17). Hy het Sy lewe afgelê en Sy bloed uitgestort sodat die straf wat vir ons die vrede aanbring op Hom kon wees (Jes 53: 5). God het ons as sondaars, om so te sê, in Christus geplaas en ons aan die kruis vasgenael, in Hom. In Hom was ons ook hel toe waar Hy ons straf gedra het, en in Hom het ons opgestaan uit die dode. Ook het ons in Hom gaan sit aan die regterhand van die Vader– nie in onsself nie, maar in Hom. Belangrik om te weet dat ons ook in Hom begrawe was (Rom 6: 1-4) en saam met Hom opgewek is uit die dode (Efes 2: 6). Al hierdie dinge wat Christus gedoen het is afgehandel en het ons vir ewig volmaak in Hom gemaak. Buite Hom is ons goddeloses, op pad na die hel toe, al probeer jy ook hoe hard om in jou eie krag die Wet te onderhou en ‘n goeie lewe te lei (Jes 64: ; Rom 7: 15-25 ). Maar in Hom het ons die volheid (Kol 2: 9-10)
29. Regverdigmaking deur die geloof
“Die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe, en as hy hom onttrek, het my siel geen behae in hom nie” (Heb 10 : 38). Hierdie hele wonderlike regverdigmakingswerk en heiliging deur Christus se bloed (Rom 5: 9) en Sy opstanding (Rom 4: 25) is reeds ons s’n, as ons net in die geloof na ons Vader wil gaan en dit in besit neem! As ons Hom glo (Matt 7: 24-25) en ons bely dit met ons mond (Rom 10: 8-10), word al hierdie wonderlike dinge ons toegereken! Maar jy moet na Hom toe kom om dit by Hom persoonlik te kom ontvang. As jy dit bloot in die Bybel lees en met jou verstand glo, sal dit jou tot in ewigheid nie toegereken word nie. Jy moet na Hom toe kom (Joh 5: 39-42) — jy persoonlik na Hom persoonlik (1 Pet 2: 4). Moenie die fout maak om te dink dat as dit in die Bybel geskryf staan, en jy aanvaar dit met jou verstand, dat dit vir jou tot enige heil sal strek nie. Dit sal jou nie red nie! Laat die beskuldiging deur Christus in Joh 5: 39-42 waar Hy sê: ”En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie” nie ook vir jou wees nie! Onthou daar is twee soorte geloof, dit wat jy met jou verstand glo as jy die Bybel lees, en die geloof wat God deur die genade in jou werk (Efes 2: 8), die geloof wat deur die liefde werk (Gal 5: 6).
30. Om Hom lief te hê
God se groot doel waarom Hy ons red is om vir Hom kinders te wees, seuns en dogters wat Hom liefhet (Joh 14: 21-23), familie van Hom, Sy geslag hier op die aarde (Hand 17: 28). Daarom het Hy ook man en vrou gemaak en begeer dat ons in die huwelik nie twee afsonderlike mense sal wees nie maar een, een van gees, siel en liggaam: “ want Hy het ‘n geslag van God gesoek” (Mal 2: 14-15) — ‘n heilige geslag (Esra 9: 1). Hy het ‘n volk vir Hom uitgesoek uit die heidene, ‘n volk vir Sy Naam (Hand 15: 14), wat Sy lof kan verkondig op hierdie aarde ( Hand 15: 14; 1 Pet 2: 9-10). Ja,Hy het ‘n kring van volmaakte mense, regverdiges en heiliges, tesame met “die geeste van die volmaakte regverdiges”, begeer wat in Sy teenwoordigheid in die hemel aan Sy regterhand in Christus sit om Hom lief te hê. Kinders wat na Sy woorde sit en luister (Luk 10: 38-42), beste plek wat jy ooit kan ontdek (Vers 42). Hy het met Adam en Eva in die aand-windjie gewandel voordat hulle in die sonde geval het (Gen 3: 8), so wil Hy nou, nadat Christus alles kom herstel het wat deur die sondeval verkeerd gegaan het, daagliks ook saam met ons wandel en Sy liefde op ons uitstort. Ook wil Hy ervaar hoedat ons Hom liefhet met ons hele hart, met ons hele siel, al ons verstand en al ons krag (Matt 22: 34-39). Hy wil jou stem hoor (Hoogl 2: 14) hoedat jy Hom vertel hoe lief jy Hom het, Hy wil hoor hoe jy lofliedere sing tot eer van Sy naam, hom dank vir Sy liefde, Sy genade en Sy trou . Hy het jou nie gered om hierdie wêreld en al die dinge wat in die wêreld is te geniet en lief te hê nie, want dit is vyande van Hom (1 Joh 2: 15-17 ). Hy het jou nie gered om die dinge van die vlees te bedink en dit te doen nie want dit is ook vyandskap teen hom (Rom 8: 5-10). Hy het jou gered om die dinge van die Gees te bedink (Vers 5-6), die dinge wat daarbo is waar Christus aan die regterhand van die Vader sit (Kol 3: 1-2). Die liefde vir Hom is die hoogste goed. Waarom dink jy is die gebed wat Paulus vir die Efesiërs bid dat hulle die lengte en breedte en hoogte en diepte van Christus se liefde sal leer ken? (Efes 3: 14-20). Waarom bid hy nie dat hulle die kennis van hierdie wêreld moet bekom nie, of rykdom en eer, dit wat van die boom van kennis afkomstig is (Gen 3: 1-7) nie? Hy sê dat die kennis van die liefde van Christus alle kennis oortref en dat dit hulle sal vervul tot al die volheid van God (Efes 3: 16-20). Die wêreld se kennis is wel baie belangrik in hierdie wêreld vir die mensdom se voortbestaan, maar die belangrikste kennis is om die liefde van Christus te ken!
Ons burgerskap is in die hemele (Fil 3: 20-21) en daarom is ons hart daar waar ons vaderland is . Daarom bedink ons die dinge wat daarbo is want ons geboorte is van Bo (Joh 3: 3-5). Dit is wat die woord “wedergeboorte” beteken: “van Bo gebore”. Ons is vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde (Heb 11: 13-14; 1 Pet 2: 11), daarom sien ons uit na die stad waarvan God die boumeester en die argitek is (Heb 11: 10). Daarom sê Hy: “maak dood julle lede wat op die aarde is “(Kol 3: 5). Daarom wil Hy nie hê ons moet enige deelgenootskap aan hierdie wêreld en sy begeerlikhede hê nie (2 Kor 6: 11-18). Hy wil hê dat ons ons in Hom moet verlustig (Ps 37: 4) en met Hom gemeenskap moet hê en met Sy Seun (1 Joh 1: 3).
Een wonderlike ding is dat, as jy na Hom toe kom om hierdie wonderlike saligheid in besit te kom neem by Hom, en jy kyk in Sy oë en jy aanskou Hom in Sy heerlikheid en liefde en goedertierenheid, dan wil jy nie meer sonde doen nie. Jy kry dit nie meer oor jou hart om sonde te doen nie (1 Joh 3: 9). Jy vrees en sidder as jy dink jy moet Hom seermaak en mishaag. Jy voel ontuis in die wêreld en tussen sy mense, alhoewel ons tog onder hulle moet skyn soos ligte in die wêreld (Fil 2: 15-16) en die “aangename geur van Christus, die geur van die lewe tot die lewe vir die wat gered word, onder hulle is (2 Kor 2: 14-16). In die lig van Sy aangesig (2 Kor 3: 15-18) verdwyn die duisternis van hierdie wêreld en het jy geen behae meer daarin nie. Jy wil beslis nie ‘n Nikolaïet (Open 2: 6) wees wat sy vryheid gebruik as ‘n aanleiding vir die vlees (Gal 5: 13) om te kan voortgaan om opsetlik sonde te doen omdat jy weet dat jy reeds deur die genade van God geregverdig is nie. As jy dan, deur so te redeneer, die genade van God wil misbruik as ‘n dekmantel om sonde te doen, het jy nog nie by Jashuah uitgekom nie en het jy Hom nie lief nie!. Dan het jy nog nie in Sy oë gekyk en Sy reinheid en heiligheid aanskou nie. Anders sou jy diep bewus geword het van hoe groot sondaar jy is. Die grootste sonde, naamlik ongeloof (Joh 16: 9; Rom 14: 23), word vir jou so gruwelik dat jy nooit meer aan Sy woorde wil twyfel nie (Heb 10: 38; 11: 6). Hy sê: “As iemand my liefhet, sal hy my Woord bewaar, en my Vader sal hom lief hê, en ons sal na Hom toe kom en by hom woning maak” (Joh 14: 23). Ja, Hulle ( die Vader en die Seun) wil by jou kom woning maak, daarom staan Hy (Jashuah) by die deur en klop om in te kom en met jou toe kom maaltyd hou en Hulle met jou (Open: 3: 20).
31. Geloof is ‘n genade-gawe van God
Jy mag vra: “maar hoe gaan ek Hom kan glo dat ek reeds van my sonde geregverdig, gereinig en geheilig is? Hy sal deur Sy genade die geloof in jou hart uitstort, sonder dat jy probeer om te glo, sal jy ervaar dat die geloof spontaan deur jou vloei as jy eerstens ten doel het om die liefdes- gebod, die eerste gebod, prioriteit nommer een in jou lewe te maak. Dit beteken dus om Hom lief te hê met jou hele hart en jou hele wese sal voorrang geniet bo alles. Die geloof werk deur die liefde (Gal 5:6). As jy na Hom as persoon soek (Ps 119: 10), Sy aangesig soek (Ps 24: 7; 27: 8) en nie Sy regterhand soek om vir jou groot dinge te doen nie (Ps 16: 11; Ps 20: 7; Ps 44: 4), sal jy vind dat Hy wel vir jou groot dinge doen. As jy Sy koninkryk eerste stel, sal Hy volgens Sy belofte vir jou al die ander dinge byvoeg (Matt 6:33). Maar moet Hom net nie met hierdie bymotief soek nie, dat Hy vir jou groot dinge moet doen nie. Moenie dink dat om vir Hom te werk sal Hom gelukkig maak nie. Hy het Martha hieroor vermaan in Lukas 10: 40-42 en vir haar gesê dat Maria, wat aan Sy voete gesit het en na Sy woorde geluister het, die beste deel uitgekies het wat van haar nie weggeneem kan word nie.
32. Geen bewussyn van sondes meer nie
Maar hoe kan God jou as volmaak sien terwyl jy nog sonde doen? Hebreërs 10: 1-2 sê dat daar sal “geen bewussyn meer van sondes” wees nie. Verwys Hy na dít wat ons eers sal bereik nadat ons dood is en in die hemel is? Paulus sê in Filippense 3: 12 dat hy jaag na hierdie volmaaktheid asof hy dit kan gryp omdat hy weet dat hy nog nie volmaak is nie. Dan sê hy in volgende versies: “Laat ons almal wat volmaak is so gesind wees” (Vers 15). Hoe moet hulle gesind wees ten einde volmaak te wees? Hulle moet daarna jaag asof hulle dit kan gryp (Vers 12). As jy hierdie regverdigmaking, waarna ek hierbo verwys het, glo en ‘n begeerte het om God nooit te mishaag nie, maar Hom in alles te gehoorsaam, Hom lief te hê en na Sy stem te luister, sien Hy jou as volmaak. Paulus sê dat hy ‘n goeie gewete het omdat hy in alles goed wil wandel (Heb 13: 18). God het in elk geval al jou sondes, dit wat jy reeds gedoen het en wat jy nog gaan doen, vergewe en agter Hom gewerp (Heb 8: 11-13; 10: 16-18) en Hy dink nooit weer daaraan nie. Al wat Hy sien wanneer jy voor Hom sit en Hom aanbid en bemin, is Sy sondelose Seun in Sy bloed, Hy wie se geregtigheid ook joune is (1 Kor 1: 30), wie se sondeloosheid, volmaaktheid (Heb 10: 14) en heiligheid ook joune is. Hy sien jou deur Sy bloed, Hy sien jou as Sy seun, Sy dogter. Dit doen Hy omdat Hy Sy Seun, in wie Hy ‘n welbehae het (Matt 3: 17) in jou sien en jou in Hom (Efes 1: 3-4).
Jou lewe is nou saam met Christus verborge in God (Kol 3: 3). Bid dat Hy hierdie groot waarhede vir jou sal oopmaak en jou die geloof in jou hart gee om dit te glo. Maar moenie vergeet om by die liefde te begin nie, om eerste na Hom toe te kom en te sê: “Vader, ek wil U liefhê met my hele wese en ook my naaste soos myself” Vervul my met U liefde deur die Heilige Gees (Rom 5: 5) wat U reeds aan my gegee het. Ek glo U dat U die Gees reeds vir my gegee het. Laat U Heilige Gees nou U liefde in my hart uitstort.
Is dit nie die Blye Boodskap nie?