082 852 0496

admin@stillesindieland.co.za

DEEL1 (4)

Die Mens sal nie van Brood alleen lewe nie maar van elke Woord wat deur die mond van God (Elohim) uitgaan. (Matt 4 : 4)

Inhoud Deel 1(4)

33. God wat ek in my gees dien.
34. Wat was God se doel met die skepping van die mens?
35. ‘n Kind van God en ook ‘n Seun /Dogter.
36. Nuwe wynsakke.
37. Maak die beker eers binnekant skoon.
38. ‘n Vernuwing van jou gemoed.
39. ‘n Persoonlike getuienis.
40. God wil Sy Seun IN ons gees openbaar.

33. God wat ek in my gees dien (Rom 1: 9)

 

Ons het in die vorige hoofstuk geskrywe oor “die kring van die volmaakte regverdiges” wat bestaan uit die geeste van die volmaakte regverdiges (Heb 12: 23). God het ons die wonderlike nuus meegedeel dat ons reeds ‘n volmaakte reiniging, regverdigmaking en heiliging in Christus deelagtig geword het, deur die bloed van Sy kruis. Dit deur die offer wat Christus reeds gebring het. Dit is ‘n afgehandelde werk, vir ewig afgehandel en ‘n groot waarheid wat ons slegs moet glo. En as ons dit kan glo kan ons onsself dan regverdiges noem en deel van die geheiligdes in Jashuah. In hierdie hoofstuk sal ons meer aandag aan ons gees moet gee.


34. Wat was God se doel met die skepping van die mens?

 

Hy het kinders gesoek, seuns en dogters wat Hom kan lief hê, gehoorsaam en behaag. Hy het ‘n geslag van God op die aarde gesoek (Mal 2: 15), ‘n familie van God (Hand 17: 28-29), Sy familie wat Sy eienskappe en karaktertrekke weerspieël. Hy het die aarde gemaak vir die mensekinders (Jes 45: 18), Sy kinders en familie. Rondom dit het Hy ‘n uitspansel met ‘n ontelbare groot getal sterre en hemelliggame geskape, alles om Sy groot heerlikheid en liefde te openbaar. Die aarde is nie geskape vir die goddelose nie maar vir die regverdiges (Ps 37: 29), Sy kinders wat glo dat hulle in Christus geregverdig is deur die bloed van Sy kruis. En Hy sal nie ophou voordat hierdie groot plan van Hom verwesenlik is nie. As jy ander ideale en planne het op hierdie aarde as die ideale van God, moet jy een ding verseker weet en dit is dat jy sal van planne moet verander anders pas jou planne nie in by God s’n nie.

Waarom wou Hy die goddelose op die aarde hê? Hy moes tog ‘n doel daarmee gehad het. Spr 16: 4 “Alles het die Here gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil”. Sy doel was ook sodat die mense ‘n vrye keuse kon hê tussen die lig en die duisternis, tussen ongeregtigheid en geregtigheid, sodat die wat Sy kinders word, Hom kon kies uit vrye keuse. As daar nie duisternis was nie kon die lig nie skyn in die duisternis nie (Gen 1: 1-3). Dan kon die mens ook nie kies tussen kindskap van God (Joh 1: 12) en kindskap van Satan nie (Joh 8: 42-44). Dan het die mens nie ‘n vrye wil gehad nie en sou hulle dus eintlik geen ander keuse gehad het as om God te dien nie. God wil kinders hê wat Hom uit vrye wil gekies het en Hom uit vrye wil liefhet (sien Deut 30: 19-20). Hy wou boonop hê dat Sy kinders Hom moes kies bo alles wat die wêreld aanbied: “Die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe…”(1Joh 2: 15-17), ja, bo goud en silwer en al die skatte en rykdomme van die wêreld, bo aansien en die eer van mense, bo roem en eer, ja, bo alles! Daarom laat Hy die verleidelikheid van die wêreld en die god van hierdie wêreld, naamlik Satan, so sterk aantrekkingskrag hê op jou, sodat wanneer jy Hom kies, Hy waarlik weet dat jy wil Hom kies bo alles, en jy wil Hom lief hê bo almal.

God het verlang daarna dat Israel vir Hom ‘n seun sal wees (Ex 4: 22). Jer 3: 19 “Ek het wel gedink: hoe hoe gaan ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee ‘n kosbare land, ‘n allesierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie. Maar soos ‘n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o, huis van Israel, spreek Jahweh”. Hy het uitgesien daarna dat hulle Hom hulle Vader sal noem. Daarom het Hy Israel uit Egipte geroep — Hy het Sy Seun uit slawerny uitgeroep sodat hulle kon vry wees van slawerny om Hom in vryheid te kon dien. Selfs honderde jare later, toe Christus gebore is was dit nog steeds die begeerte van God om Sy Seun uit Egipte te roep (Lees Matt 2: 15), ja, ook vir jou en vir my vandag!

God wou dus altyd nog kinders hê wat Hom in vryheid dien, vry van die mag en die invloed van die duisternis. In Gal 4: 20-31 lees ons hoedat daar twee groepe kinders is: die kinders van die slavin en die kinders van die vrye. Lees dit self. Jy sal oplet dat die kinders van die belofte is die kinders van die vrye, en hulle word nog deur al die eeue vervolg deur die kinders van die slavin, dit is die kinders wat deur aardse, menslike, vleeslike en wêreldse wette en beginsels beheer word.


35. ‘n Kind van God en ook ‘n Seun/Dogter

 

As jy Christus aangeneem het as jou persoonlike saligmaker kan jy ‘n kind van God genoem word (Joh 1: 12), maar om ‘n seun van God genoem te word is dit nodig dat jy die karaktertrekke en eienskappe openbaar van die Een waaruit jy gebore is, jou Vader in die hemele (1 Pet 1: 17; Joh 20: 17). Sulke karaktertrekke en oorerflikheids- eienskappe lê in jou goddelike gene wat in jou gees gesetel is. Dit is nie iets wat jy jouself aanleer soos goeie maniere en ordentlikheid nie. Dit is nie aangeleerde vriendelikheid en liefde nie. Nee, dit is deel van jou goddelike familie- eienskappe. Dit is karaktertrekke wat jy by jou Vader geërf het. Dit is dus ingebore eienskappe wat uit wedergeboorte voortspruit. Dit is die goddelike natuur waarna die Skrif in 2 Petrus 1: 4 verwys. Lees dit asseblief verseker.

Christus is deur die Heilige Gees as die Seun van God verklaar deur die opstanding uit die dode (Rom 1: 3-4). Die opstandingslewe wat Hy deur die Gees van God ontvang het is dus die bewys dat Hy die Seun van God is. So kan ons ook nie verwag om as die Seun/ Dogter van God geopenbaar te word, sonder die opstandingslewe van Jashuah wat in ons werk en lewe nie. Dit gebeur deurdat dieselfde Gees wat Christus uit die dode opgewek het (Rom 8: 11) ook in ons lewe en werk. Hierdie Gees wat in jou woon en werk op dieselfde wyse as wat Hy in Christus werk, stel jou ook in staat om God in jou gees te dien. Daarom moet daar eers iets in jou gees plaasvind!!!


36. Nuwe wynsakke (Luk 5: 37-39)

 

Jashuah verwys hier na die noodsaaklikheid daarvan om die nuwe wyn te kan ontvang en dat ons hiervoor nuwe wynsakke nodig het. Hy sê ook hier dat hy wat die ou wyn gedrink het nie dadelik nuwe wyn wil hê nie omdat die ou wyn vir hom beter is. Die ou wyn is nie slegs die wet van Moses waarna Hy verwys nie, maar ook in dié moderne tyd waarin ons lewe, verwys Hy na die die ou maniere waardeur die Christendom Hom gedien het in kerke, denominasies en strukture wat elkeen hulle eie leerstellings, wette, maniere en metodes gehad het, en nog steeds het, waarvolgens hulle Hom dien. Ook verwys Hy na ons eie wette, dit is hoe ek geleer is om dinge te doen, hoe ek groot geword het en gewoond is om te lewe, asook my volksgewoontes. In Kolossense 2:18 tot 23 sê die Skrif dat dit ‘n nuttelose godsdiens is wat net strek tot versadiging van die vlees want dit bestaan uit verskeie insettinge soos “ raak nie smaak nie roer nie aan nie”(Vers 21).”… almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan– volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees”. As Hy dan sê dat niemand wat “ou wyn” gehad het wil dadelik “nuwe wyn” hê nie, dan bedoel hy dat dit werklik iets gaan verg om ons los te kry van die ou wyn en ons ‘n begeerte te gee na die nuwe wyn. Daarom sal ons eerstens moet onslae raak van die houer van die ou wyn naamlik die ou wynsak, en vir ons ‘n nuwe wynsak moet kry. Is dit nie waarna Paulus verwys as hy sê dat ons moet vernuwe word in die gees van ons gemoed nie?: “…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”(Efes 4: 22-24). Hier is dus sprake van die aflê van die ou sondige mens en die bekleding met die nuwe mens, dit is Christus. Daarom sê Paulus in Rom 13: 14 : “ Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” Ook sê hy in Galasiërs 3: 26-27 : “ Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee”. Ek ken soveel mense wat met/in water gedoop is maar ek merk nie in hulle lewens die karaktertrekke en eienskappe van iemand wat met Christus beklee is nie.. Daarom glo ek dat hier in hierdie Skrif nie verwys word na die waterdoop nie maar na ‘n indoping in Christus se liggaam (1 Kor 12: 12-13), en ‘n indoping in sy dood (Rom 6: 3-5).

Ek wil jou vra of die vorige hoofstuk (Hfstk 1) oor die “Kring van die volmaakte regverdiges” enigsins iets vir jou beteken het? Miskien het dit opgewondenheid by jou veroorsaak toe jy lees dat ons reeds deur een offer van Christus aan die kruis, volmaakte geregtigheid en heiligheid toegereken is. Het dit jou bly gemaak toe jy hoor dat jy nou, op grond van Christus se offer (Heb 10: 10-18), jouself “‘n Heilige en Regverdige” kan noem omdat God jou so sien en ook so noem?. Toe jy verder ook gelees het dat, as jy die Woord sou glo, daar ‘n werking van die Woord en die Gees in jou sou ontvlam (1 Thess 2: 13). Dat dit jou sou dood maak vir die oue mens met al sy begeerlikhede en hartstogte en alles wat God mishaag. Het dit jou bly gemaak? Was jy toe instaat om hierdie nuwe waarheid of die nuwe openbaring van ‘n ou waarheid, te kon aangryp met ‘n alles-oorweldigende begeerte dat dit die Woord in jou hart sou laat begin lewe? As jou antwoord “Nee” is dan het jy beslis ‘n nuwe wynsak nodig! Dan moet ek jou ook waarsku dat jy sal vind dat jy nie baie ernstig na die nuwe wynsak gaan soek nie want die ou wyn, met sy ou wynsak, is beter vir jou. Waarom?

Die rede hiervoor is ‘n natuur-wet waarvan ons reeds vroeg op skool in Fisika geleer het naamlik die “Inersie wet” of die “traagheids wet”. Die wet se definisie lui so: “Inrsie is die eienskap van liggame om te volhard in die toestand (óf rus óf beweging) waarin hulle hul bevind”. Dit beteken dat jy nie maklik van rigting wil verander nie. Jy is van nature geneig om in dieselfde paadjie te loop, dieselfde ding te glo en te doen. Dit is dus ‘n Traagheids wet wat in die natuurwetenskap herhaaldelik verskyn en in die godsdiens ook: “Die ou wyn is beter”. Jy sal eers lus word om iets nuuts te doen as die oue nie meer vir jou werk nie. Tog wil jy altyd graag iets nuuts hoor, maar nie doen nie. Dus is jy vinnig om iets nuuts te hoor maar traag en lui om dit te doen! En dit is die toestand waarin jy sal verkeer totdat God in Sy liefde en omgee vir jou ‘n bom onder jou laat ontplof! “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie”(Jak 1: 22)

“Nou waarom skryf jy dan nog”? sou jy vir my vra. Ek skryf omdat God sê ek moet skryf en “die dwang is my opgelê en wee my as ek dit nie doen nie” (1 Kor 9: 16)!


37. Maak die beker eers binnekant skoon. Matt 23: 25-26

 

Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. 26Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word”.

In hierdie Skrifgedeelte praat Jashuah met die Fariseërs en skrifgeleerdes. Hulle wou deur die mense gesien word (Vers 5-7). Ook die apostel Paulus spreek die Galasiërs ernstig aan omdat hulle nog die besnydenis, wat ‘n Ou Testamentiese instelling was, onderhou het net om ‘n mooi vertoning in die vlees te maak. Lees Galasiers 6: 11-16. Hoeveel dinge doen ons om ‘n mooi vertoning in die vlees te maak? As ons alleen op ‘n eiland gelewe het sou ons baie dinge anders gedoen het! ‘n Vriend het my eendag gevra of ek kuiermense verwag toe hy sien hoedat ek my werf netjies maak. Natuurlik maak ek my werf vir myself ook netjies want ek is ‘n netjiese mens, maar ek sou my liggaam nie so gekasty het en onder soveel druk geplaas het as ek alleen op ‘n eiland gelewe het nie. Ek sou dalk alles baie meer rustig gedoen het. Het jy al gehoor hoe ‘n moeder vir haar kinders sê: “maak gou netjies, hier kom nou-nou mense”? Of “Ek skaam my vir hierdie onkruid wat so staan in ons tuin”? Is dit alles net om ‘n mooi vertoning in die vlees te maak?

Maar in die Christendom het ‘n mooi vertoning in die vlees ‘n groot aanmoediging tot heiligmaking geword. Het jy al gehoor hoedat ‘n moeder vir haar kinders sê: “Moenie so vloek voor die mense nie”? Die vrou van ‘n pastoor wat een keer by ons gekuier het, het gesê dat hulle tog groei sien by hulle gemeente want hulle mense rook nie meer in die openbaar nie! En dit is wat die Fariseërs en skrifgeleerdes gedoen het. Hoe treffend is dit dat vriende en mense ons “vrugte van die Gees” kan bepaal!? Is dit dan vrugte van die Gees, of slegs ‘n mooi vertoning in die vlees? En dan vra ons die vraag: “Is ons nie maar besig om God in ons vlees te dien en nie in ons gees nie”? Is ons diens aan God nie maar “’n aangeleerde mense gebod” (Jes 29: 13) nie — volgens die oorlewering van ons ou mense en voorgeslagte (Matt 15: 6-9).Hier moet ek ook ‘n baie ernstige waarskuwing rig naamlik dat om ‘n “nuwe blaadjie om te slaan” soos wat die uitdrukking sê, beteken nog glad nie dat die beker aan die binnekant skoon gemaak is nie. Baie keer sê mense, as hulle na iemand anders kyk: “Daar het ‘n groot verandering by hierdie persoon plaasgevind”. Dan is die vraag of dit slegs ‘n skoonmaak van die beker aan die buitekant is, of is daar dalk ‘n bymotief? Ons het in die verlede talle keer mense gehad wat skielik goedgesind geword het teenoor ons terwyl hulle in die verlede eintlik vyande was. Dan het baie mense van ons, wat maar naïef is ten opsigte van sulke dinge, gedink dat daar ‘n verandering aan die binnekant van sulke mense gekom het. Later egter het ons agtergekom dat die mense slegs iets by ons wou hê, en toe hulle klaar gekry het wat hulle wou hê het hulle weer in vyande verander! En werk die hele wêreld nie maar so nie? Is daar nie lande wat by Amerika witvoetjie soek ter wille van militêre hulp of geldelike skenkings nie? Sien ons dit nie ook in ons eie land nie? Mense kan so liefdevol vriendelik en onderworpe word net om voordeel uit jou uit te kry! Dit is beslis nie ‘n skoonmaak van die beker aan die binnekant nie, en dit word telkens bewys.

Daar moet beslis eers iets aan ons binnekant gebeur– iets wat deur God van Bo af gewerk word, want alle goeie gawes daal van Bo af neer, van die Vader in die hemel (Jak 1: 16-18). As dit jou nie van Bo af gegee word nie kan jy dit ook in elk geval nie aanneem nie (Joh 3: 27). Al sou jy die wonderlikste woorde en waarhede in die Bybel lees en dit met jou verstand verstaan, sal jy dit nie in jou gees kan aanneem as God jou nie die vermoë om dit aan te neem, skenk nie. Ons kan alleenlik wandel in die goeie werke as ons wandel in dit wat God vir ons voorberei het (Efes 2: 10). Ons moet deur die Vader geleer word en dan na Jashua toe getrek word, anders kan ons nie na Hom toe kom nie (Joh 6: 44-45). Voel dit vir jou asof dit ‘n baie harde woord is? Dit het vir die skare rondom Jashua ook só geklink, soveel-so dat hulle Hom verlaat het en Hom nie meer wou volg nie (Verse 60-69). Maar as daar ‘n vernuwing in jou gemoed kom deurdat die Gees van Christus jou nou vervul en beheer en nie meer jou eie siel nie, kom daar waarlik ‘n hele nuwe doelstelling in jou lewe. Jy wil God net meer en meer lief hê en Hom behaag in alles. Jy begeer elke dag om net nader, steeds nader aan Hom te kom totdat jou lewe saam met Christus verborge is in God (Kol 3: 3).


38. ‘n Vernuwing van jou gemoed

 

Rom 12: 1-2: “EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens. 2En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is”.

Hier word gespreek van ‘n “vernuwing van julle gemoed” en dat dit ‘n baie belangrike aspek is wanneer ons wil beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Hierdie vernuwing van ons gemoed loop saam met ‘n aflê van die oue mens (Efes 4: 22-24). Om die oue mens af te lê dui daarop dat dit iets is wat jy deur jou vrye wil doen. Jy lê dit af– gewilliglik en vrywilliglik. Jy is moeg daarvoor om God te mishaag deur te wandel in jou eie weë in dit wat goed is in jou eie oë. Jy wil nou doen wat reg is in God se oë, Sy goeie en welgevallige en volmaakte wil. Jy wil nou Sy seun/ dogter wees in wie Hy ‘n welbehae het. Daarom lê jy die oue mens af. Jy doen dit deur dit te spreek en te glo soos wat Romeine 10 vir jou die voorskrif gee. Lees vers 8 tot 10. Dit is baie belangrik! Jy raak dus ontslae van die ou wynsak, die ou gemoed. Die Verklarende Woordeboek sê dat jou gemoed is: “Die binneste van die mens, opgevat as die setel van sy gevoel, hartstogte, stemminge, gewete” ‘n Mens kry die indruk dat die gemoed dan eerder na die nuwe wyn verwys as na die nuwe wynsak. As jy nou in Lukas 8: 15 lees oor die saad wat in die goeie grond val, verduidelik Hy die “goeie grond” as “die edele en goeie hart” wat die saad van die woord hou. En dit is dan ook al wanneer jy vrug kan dra, wanneer jy “die woord in ‘n edele en goeie hart hou. En dit is dan ook wat dit beteken om die nuwe wyn in ‘n nuwe wynsak te ontvang (Luk 5: 37-39) : Jy moet die Heilige Gees, of te wel die lewende Woord, in ‘n nuwe hart of gemoed ontvang. En Hoe kry jy die nuwe hart of die nuwe gemoed? Jy bid daarvoor! Jy buig jou neer voor die lewende God met die wete dat jy vir jouself niks kan doen om jou te red uit jou verlore toestand nie. Jy smeek Hom ook om jou in staat te stel om die nuwe lewe te ontvang in ‘n nuwe gemoed, dit is die saad van die Woord waardeur jy wedergebore word (1 Pet 1: 23).

Glo jy dat Sy woord skeppingskrag het? Glo jy die Skrif wat sê dat, toe daar net duisternis was in die tyd van die Skepping (Gen 1: 1-3), het God deur die lewende Woord die lig laat skyn in die duisternis– deur slegs ‘n woord te spreek, ‘n Lewende woord !? As jy dit glo kan jy deur dieselfde geloof ook glo dat God die ewige lewe in jou in spreek deur dieselfde lewende woord. En as jy Hom nou die geleentheid gee om jou hele gemoed so te vernuwe en so ontvanklik te maak dat jy glo Hy spreek die lewe in jou in, dan het jy mos nou die nuwe wynsak om die nuwe wyn (die lewe) te ontvang. En dan het jy mos nou ook die nuwe wyn ontvang. As jy Hom nou daarvoor begin loof en dank gaan jy agterkom dat die lewe begin opbruis in jou gemoed en dit sal altyd meer word namate jy Hom net meer en meer dank vir die nuwe lewe en die nuwe gemoed waarin jy dit kon ontvang. Dit alles kom van Hom af!


39. ‘n Persoonlike getuienis :

 

Ek Het die afgelope tyd deur ‘n baie moeilike tyd gegaan. Namate dit donkerder geword het in ons land en ook oor die hele wêreld, het ek persoonlik my verantwoordelikheid teenoor die volk van God, die liggaam van Christus, asook teenoor elke individu, meer as ooit vantevore besef. Ek het vir jare reeds ‘n groot begeerte gehad dat ek God in my gees sou dien. Ook dat God Sy Seun IN my sal openbaar, terwyl ek glad nie ondankbaar was dat hy Sy Seun in die verlede AAN my geopenbaar het nie. Ek het al ernstiger begin bid, totdat ek ‘n tydjie gelede eendag ervaar het hoe dat die Gees van God deur my gees tot God begin roep: “O, my Vader ek kan hierdie gedurige gedagtes aan wêreld se verpligtinge en verantwoordelikhede nie meer in my binnekant verdra nie. As ek voor U sit en ek sien in my verbeelding hoedat ek aan U regterhand sit in Christus en U aanbid en na U woorde luister, dan stroom verstandelike gedagtes oor soveel verskillende dinge in my siel en gees in. Dinge wat elke mens op hierdie aarde seker maar het. Dan neem dit my ure in die nag om hierdie gedagtes een vir een voor U aangesig te bring. Ek dank U en glo dat U sal in elke behoefte voorsien, in elke saak wysheid gee en onderneem vir vir alles wat nodig is om daardie saak volgens U wil o, Vader af te handel. Onlangs het ons een Sateroggend by ‘n manne vergadering, voordat ons begin werk, ‘n jong man gehad wat my hierdie vraag gevra het: “Oom Eugen hoe gaan ons van al die ‘mind traffic’ ontslae raak? Dit was ‘n groot vraag en ons het sedertdien telkens die saak bespreek op volgende Saterdagoggende. Toe ek dan voor God neerval op my knieë en ernstiger as ooit tot Hom roep om my van hierdie stroom van mind traffic te verlos, het ek gevoel daar gebeur iets in my gees en vir dae daarna het ek ‘n geweldige vrede in my hele gemoed ervaar. Ek het gevoel hoedat ek vry was van hierdie mind traffic. Ek het gevoel hoedat ek in ‘n ononderbroke gemeenskap met my Vader en met Sy Seun wandel en hoedat niks my aandag aftrek van Hom af nie. Maar, heelaas, enkele dae daarna het ‘n storm van gedagtes in my siel en gees ingestroom en ‘n oorlog in my ontketen wat tot nou toe nog aan die gang is. Ek het ook siek geword in my liggaam en ‘n swakheid beleef in my siel en in my liggaam wat ek nog nooit geken het nie. Waar ek vroeër kon werk soos enige jong man het ek nou mankoliekig en onbeholpe geword in ‘n oomblik. In ‘n oomblik het ek ‘n ou man geword wat in niks kan roem nie behalwe in die genade van God. Ek moes toe ontdek dat, alhoewel ek deur die jare aan God die eer gegee het vir die fisieke krag wat ek gehad het om te kan werk sonder ophou, daar tog diep in my gees roem en hoogmoed was, waarvan ek nie bewus was nie.

Ek het altyd geweet dat ek nie weet wat gaan in my gees en siel aan nie, want die woord sê so. Daarom kon ek dus nie in my eie gees sien en inkyk en introspeksie doen nie. Daarom kon ek dit ook nie bely en my verlossing daarvan aanvaar nie. God alleen weet wat gaan in die mens se gees aan. As Hy jou die dag in die Gees laat begin bid om ernstig Sy troon te bestorm, dan begin Hy met ‘n reinigingswerk diep in jou gees en siel. Die dag toe ek so in die Gees begin bid het, het ek vir die Vader gesê “Vader reinig my van alles van my vlees, van alle sonde en hierdie wêreld en sy wette, ja ook van my eie wette. Ek begeer van U ‘n gereinigde gees en siel en liggaam wat aan U alleen heilig is soos wat die Skrif sê in 1 Thes 5: 23 . Maar ek wil dit herhaal: dit was nou die Heilige Gees wat deur my bid en nie meer ek soos in al die jare nie. Wanneer die Gees toetree tot jou gebed, dan gebeur daar iets van Bo. Jy sou vra of al die jare se gebed wat ek gebid het dan niks gehelp nie. Ja, beslis het dit gehelp, trouens dit is daardie gebed wat jy al die jare in die verstand gebid het wat nou daartoe gelei het dat jy nou in die gees kan bid (verw 1 Kor 14: 15). As jy nie deur die jare God met jou siel en verstand gesoek het nie, sou jy nie nou in jou gees kon bid nie. Miskien kan jy en ek sê: “Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor, en Hy het my uit die kuil van vernietiging uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ‘n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak. En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die Here vertrou” (Ps 40: 1-4). Let op dat Effesiers 6: 18 ‘n baie belangrike deel van die wapenrusting van God aanhaal naamlik om te bid in die Gees (met ‘n hoofletter “G”), terwyl 1 Korintiers 14: 15 Na die gees verwys met ‘n kleinletter “g”. Gees met ‘n kleinletter verwys na die mens se gees terwyl gees met ‘n hoofletter verwys na die Heilige Gees. Jy kan nie in die Heilige Gees bid, soos wat Judas 1: 20 duidelik sê, as daardie fakulteit of afdeling in jou menswees, naamlik jou gees, nie totaal aan God oorgegee word om dit (jou gees) te reinig en te heilig nie. Yashua het dit gedoen toe hy aan die kruis gehang het en gesê het: “Vader in U hande gee ek my gees oor”. As Hy, die Seun van God, Sy gees in die hande van die Vader kon oorgee alleenlik vanaf die kruis, kan jy en ek dit ook nie doen sonder dat ons saam met Hom aan die kruis hang nie.

Soos wat ek hier sit en skryf is my liggaam vol pyne op verskillende plekke en ek gaan vandag deur die genade van die Vader, baie diep afhanklik van Hom, gaan ek messel al by die 8 woonstelle wat ons op Sion bou. Daar is geen roem meer by my nie. As ek roem sal ek in my swakhede roem soos wat Paulus sê in 2 Kor 12: 9. Toe Paulus die evangelie gebring het in die streek van Galasië was hy siek. Hoor wat hy sê in Galasiërs 4:13-15.


40. God wil Sy Seun IN ons gees openbaar.

 

Lees nou eers Galasiërs 1: 15 – 16. As jy dit klaar gelees het wil ek vra dat jy nou eers jou voor die Vader neerbuig en Hom ernstig bid om hierdie woord in jou hart te verlewendig, en dan lees jy dit weer.

God wil nie ‘n nuwe godsdiens, of ‘n oue, aan jou openbaar nie, Hy wil Sy Seun IN jou openbaar — in jou gees. Ja, diep in die kontrolekamer van jou hele wese wil Hy Sy Seun in beheer van jou hele lewe plaas, en nie meer jou “eie ek” of die gees van hierdie wêreld nie. Let op dat hy skryf baie duidelik: “Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur Sy genade geroep het, om Sy Seun IN my te openbaar…”. Wanneer jy dit lees sal ‘n paar dinge jou dadelik tref naamlik: daar is ‘n spesifieke tyd waarin dit God behaag om Sy Seun IN jou te openbaar. Ook tref dit jou dat jy alreeds van jou moeder se skoot af geroep is daartoe. En derdens is dit ook treffend dat Hy nie Sy Seun aan jou wil openbaar nie, maar IN jou.

Hierdie woord wat ek vanmôre aan jou skrywe, spreek sterker tot myself as wat dit tot baie lesers sal spreek. En as dit so moet wees dat hierdie woord slegs vir myself is, sal ek my verbly, want ek besef al meer en meer nou in my 78ste jaar, dat God deur al die jare nog met my persoonlik besig was, en nog steeds is — nou nog meer as ooit vantevore. Hy het waarlik deur al die jare Sy Seun aan my geopenbaar en daarom was my bediening niks meer as om vir ander mense te gee wat ek self ontvang het nie. Ek kon dus niks meer gee nie, en ook niks minder nie. Ek kan tog nie iets vir iemand anders gee wat ek self nie het nie! Oor twee jaar is ek 80! En as jy vir my sou vra of ek dan nog iets sal beteken vir God op die ouderdom van 80 jaar, sal ek jou antwoord dat God vir Moses ook toe hy 40 was woestyn toe gestuur het om vir ‘n volgende 40 jaar skape op te pas in die woestyn, en toe hy 80 was (Exod 7: 7) het God vir hom gesê: Ek wil jou nou na Egipte toe stuur om My volk uit te lei. (Exod 3: 10). Een ding besef ek baie duidelik en dit is dat as God Sy Seun in my openbaar sal ek in een enkele dag meer vir Hom kan beteken as in al die 80 jaar.

Ek het reeds gesê dat God met my persoonlik besig was gedurende die afgelope jare. Maar ek deel dit ook met jou sodat jy en ek saam as Sy Seun se liggaam kan beweeg na die plek waar ons God in ons gees sal dien.

As jy vir my sou vra of ek iemand vandag ken in wie God Sy Seun geopenbaar het kan ek nou nie op hierdie oomblik aan so ‘n persoon dink nie. Ek kan wel aan baie dink aan wie Hy Sy Seun geopenbaar het– ek persoonlik is ook een van hulle. En daaroor verbly ek my! Wat ‘n groot genade is dit nie?

Spreuke 4: 23 sê: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word want daaruit is die oorspronge van die lewe”. Jou hart is jou gees!! Die oorspronge van die lewe lê daar-in, in jou gees. Niemand weet wat gaan in sy gees aan nie, nie die beste sielkundige of psigiater kan in die gees van die mens in kyk nie. Wat daar-in aangaan is duister vir alle mense asook vir jouself (Jer 17: 9). Net God wat die harte toets (Spr 17: 3) weet wat gaan daar aan en net God kan daar-in iets doen. Is jou gees is in Sy hand (Job 12: 10)? Dit is Sy sorg wat jou gees bewaak (Job 10: 12). Om te wil kan jy wel. Jy kan jou hart, of gees, aan God gee met die begeerte dat Hy daarin sal doen wat Hy graag wil doen, soos wat Jashuah gedoen het (Luk 23: 46). Amen.