Inhoud Deel 1(5)
41. Waarom het God jou gered?.
42. “Sodat ek Hom kan ken en die krag van Sy opstanding”.
43. Alleenlik deur die Gees van Sy Seun.
44. Die vervulling met die Heilige Gees .
45. Die Covit-19 grendeltyd.
46. Die Oorlog tussen Lig En Duisternis.
47. God hou wapenskouing oor n oorlogsleër.
48. Die volle wapenrusting van God.
49. Die Gordel van die Waarheid.
50. Die Borswapen van geregtigheid.
51. Die Skild van die Geloof.
52. Die Helm van Verlossing.
53. Honger en Dors na die Geregtigheid.
54. Die swaard van die Gees,dit is die Woord van God.
55. Die wolkkolom.
56. Eers moet ons vashouplek verdwyn.
57. Lei vriendelik Lig.
41. Waarom het God jou gered?
Waarom soek ons God? As ons luister na die gebede van die Christene in ons land en oor die hele wêreld, is ons ingestel op dit wat God vir my gedoen het en meer nog, dit wat Hy vir my nou moet doen. Gedeeltelik is dit waar dat God groot dinge vir my moet doen. Maar moet Hy vir my voorsien in die dinge wat ek in my vlees begeer? Moet Hy ons bewaar van fisiese bedrygings en onheile? Of Is dit belangriker dat Hy ons van geestelike bedreigings moet bewaar? Moet Hy ons menslike wysheid gee sodat ons in die wêreld die regte besluite kan neem om ons bestaan hier op aarde te bevoordeel en te bevorder? Of moet Hy ons goddelike wysheid gee sodat ons God se wil op hierdie aarde kan doen? Moet Hy vir ons reën gee sodat ons oeste groot sal wees en ons in luuksheid sal kan lewe? Of moet Hy eerder vir ons die geestelike reën uitgiet sodat die mense hulle tot God sal bekeer en Sy volk hier op die aarde tot stand sal kom? Ons begeer ook dat Hy ons kinders sal bewaar en seën en die vermoë gee om uit te blink in die skool, prefekte te word, gesiene, voorbeeldige kinders, wat in staat is om te studeer en te presteer, suksesvolle loopbane te volg sodat hulle mense kan wees wat in aansien is in die samelewing– en natuurlik ook baie geld maak. Daarvoor het ons die seëninge van God nodig. Hy moet vir hulle goeie lewensmaats gee en hulle kinders seën. Dit is slegs gebede van: Seën my, seën my kinders, seën my volk! O, ja, dan is die meeste se groot doel ook om nie Hel toe te gaan nie! Hulle wil nie so graag Hemel toe gaan omdat hul weet dat hulle altyd daar naby aan Jashuah en die Vader sal wees om vir altyd in Sy lieflike teenwoordigheid te lewe, Sy liefde te geniet en tot in ewigheid lofsange voor Sy aangesig te sing en Hom te dien nie. Dit gaan dus nie oor wat hulle aan Hom kan gee nie maar wat hulle van Hom kan en wil ontvang! Hulle soek dus, soos ek vantevore reeds gesê het, Sy regterhand en nie Sy aangesig nie! Die troonkamer van God is dus ‘n groot “volkswelsyn kantoor”! En Jashuah sit daar aan Sy regterhand om vir ons in te tree by die “Hoof van welsyn”, sodat ons net kan ontvang en nogmaals ontvang!
Ek is heeltemal bewus van die wonderlike waarhede in die Skrif wat sê dat God die Gewer is van alle goeie gawes, gawes wat van Bo af neerdaal op die mensekinders, soos wat Jakobus 1: 17-18 dit ook vir ons sê. Maar die grootste gawe is Sy Seun. “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh 3: 16). Ja, die grootste gawe wat God aan die mensdom kon gee was Sy Seun (Efes 5: 2), en die oorvloed van Sy genade wat Hy deur Jahshua Messiah op ons uitgestort het (Joh 1: 16; Rom 6: 23). Daar is dus ‘n verskil tussen om Jashuah te sien as die Een wat vir ons intree by God sodat ons die tasbare, materiële seëninge van God kan ontvang, en die Een in wie al die seëninge van God beliggaam is (Efes 1: 3).
God seën ons reeds op verskeie wyses. Maar soveel maal ervaar ons dat dit juis die seëninge van God is wat in die pad staan na Sy heiligdom waar ons met Hom gemeenskap het, Hom bemin en Hom dien. Benoudhede en probleme laat ons opkyk na God, maar die seëninge laat ons besig raak met die dinge wat Hy in Sy liefde op ons uitgegiet het. Ons bid byvoorbeeld dat Hy ons sal seën met reën en terwyl ons bid in die grootste droogte, is ons oë en harte onverdeeld op Hom gerig (1Kron 16: 9). Die oomblik as die reën uitsak raak ons uitbundig van blydskap en vreugde en, ja, ons sê dankie, maar baie gou is ons oë nie so op Jashuah gerig as wat dit die geval was toe ons nog deur die droogte geknel was nie. Ons bid ook soms vir ‘n beter huis of voertuig, en die Here luister na ons gebed en seën ons met ‘n huis of voertuig. Terwyl ons bid en diep afhanklik is van Hom, is ons harte onverdeeld op Hom gerig, totdat Hy vir ons daardie droomhuis of voertuig stuur. Dan is ons harte op die seëninge gerig en ons is oorstelp met Sy genadegawe en geniet dit. Ons praat daaroor en juig daaroor, maar gou is ons oë weg van Hom af en gerig op die seëninge. Die seëninge is in baie gevalle ‘n struikelblok om Christus lief te hê met ons hele hart, ons hele siel, al ons verstand en al ons krag (Matt 22: )
42. “Sodat ek Hom kan ken en die krag van Sy opstanding” (Fil 3: 10)
Sy groot begeerte is dat ons Hom sal ken. “En dit is die ewige lewe dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Joh 17: 3). Dit is die rede waarom ons saam met Hom gekruisig is en saam met Hom opgewek is. Hoor wat sê Hy in Hosea 6 vers 2: “Hy sal ons na twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor Sy aangesig kan lewe”. Soos dit vir ‘n ouer groot lekkerte gee as sy kinders voor sy aangesig speel, so gee dit vir God as ons Vader groot heerlikheid as Sy kinders voor Sy aangesig lewe. Sy begeerte was so groot dat ons Hom sal ken dat Hy ‘n verbond met ons gemaak het deur die bloed van Sy Seun, ‘n verbond wat ook ‘n belofte insluit: “en hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle” (Heb 8: 10-13). O, hierdie begeerte in my hart, naamlik om Hom te ken, word by die dag net groter en groter. Ek het ‘n verlange om die Vader en die Seun te ken, van naby te ken, in tye van sonskyn en ook wanneer die donkerte neerdaal. Ek wil altyd voor sy aangesig wandel en lewe. Dit was Dawid se grootste karaktertrek: hy het God liefgehad. Hy het hom “verlustig in die Here” (Ps 37: 4) en daarom het die Here gegee “die begeertes van sy hart”. Sy psalms spreek almal van sy liefde vir God, en ook God se liefde vir hom. “En hy het gesê: ek het u hartlik lief, Here, my sterkte”(Ps 18: 2)(Ps 116: 1). Hy het gesê: “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie”. Al wat vir Dawid die hemel aantreklik gemaak het was sy God. En op die aarde? Dieselfde! Buiten die Vader en Sy Seun begeer hy niemand op die aarde nie! Kan ons dit ook sê? Of begeer ons so baie mense en ook dinge op die aarde? Ek het al mense hoor sê dat as hulle hond of hulle perd nie ook in hemel gaan wees nie dan begeer hulle nie om hemel toe te gaan nie. Op ‘n meer grappige wyse het ‘n moeder eenkeer gesê dat as daar nie roomys in die hemel gaan wees nie sal haar dogtertjie nie bereid wees om te gaan nie. Soos Dawid die Here se woord lief gehad het (Ps 119: 140), het Maria dit ook lief gehad. Vir haar was dit die wonderlikste om aan die voete van Jashuah te sit en na Sy woorde te luister (Luk 10: 38-42). As jy op Hom verlief geraak het sal jy nou weet waarvan ek praat. Geen tydskrif of boek of TV- program of video is vir jou so verkwikend as om aan Jashuah se voete te sit en na Sy woorde te luister nie. Het jy al so verlief op Hom geraak dat daar vir jou geen beter plek is as as Sy teenwoordigheid nie. Het jou hemelse Vader se liefde, genade en barmhartigheid vir jou so wonderlik geword om te aanskou en in te drink, dat daar net vir jou geen beter plek is as by Hom nie?
Nou sal jy vir my dadelik sê dat jy nie die tyd het om so baie ure aan Sy voete deur te bring nie. Nee, die ideaal is dat jy gedurende ‘n dag van ‘n baie besige program, al die tyd met Hom in gemeenskap sal wees, al die tyd na Sy woorde sal luister. Sou jy dit kon regkry terwyl jou verstand tog besig is met dinge waaroor jy moet besluit te neem in jou daaglikse werk? Daar is wonderlike nuus: wanneer jy God in jou gees dien, doen die Heilige Gees hierdie werk wat jy normaalweg met jou verstand moes doen. Onbewus van die gemeenskap wat die Heilige Gees tussen jou en jou Vader en Sy Seun bewerkstellig, is jy besig om te dink aan belangrike besluite terwyl jy in ‘n groot maatskappy vergadering sit, of wanneer jy as huisvrou besig is om die kinders met hul skoolwerk te help.
Om Hom te ken vra ‘n offer wat baie min Christene bereid is om te bring. Dit vra jou alles! Matheus 6: 33 sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”. Wat is “die dinge” wat vir ons bygevoeg sal word? Dit is die dinge waaroor ons ons nou kwel: “wat ons sal eet of drink of aantrek” (Vers 25-32). Dit is die dinge waarna die wêreld soek en ons soek ook daarna. Dit is die dinge wat die Christene nie veronderstel is om as eerste prioriteit in hulle lewe te stel nie. Paulus sê dat “niemand wat ‘n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het” (2 Tim 2: 4). Maar moontlik dink jy dat die Skrif dit eintlik sê vir iemand wat voltyds vir God wil gaan werk, ‘n leraar of evangelis, ‘n sendeling of prediker. Aan die einde van hierdie dae waarin ons nou lewe sal ons agterkom dat baie mense omgekom het, selfs ook goeie Christene, en dat daar ‘n klein oorblyfsel gaan wees wat almal krygsmanne van Christus sal wees. Die hele oorblyfsel sal dus voltyds aan God behoort en in ‘n ononderbroke gemeenskap van liefdes met Hom lewe en wandel, gehoorsaam aan Hom.
As jy eers ‘n geringe smakie van Sy liefde ervaar het, sal jy nou meer daarvan soek. Jy sal, soos Hosea 6: 3 se: “En laat ons ken— laat ons dit najaag om die Here te ken; Sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei”. Al meer sal die dinge wat vir jou belangrik is vir jou waardeloos en sinneloos word. ‘n Aand se kuier saam met vriende, wat vir jou vroëer so lekker was, begin nou vir jou leeg voel. En terwyl dit vroeër lekker was om saam met die mense te kuier, begin jy nou daarna verlang—terwyl jy hulle geselskap sit—om bietjie eenkant te kom, alleen met Jashuah en jou Vader. As Hierdie liefde vir Hom so aanhou groei, sal jy weldra kan sê soos Paulus: “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde terwyl ek aan Sy dood gelykvormig word…” (Filip 3: 7-10). Ja, Dit verg waarlik ‘n offer om Jashuah te ken, maar as jy eers op Hom verlief geraak het, is geen offer te groot om hierdie liefdes verhouding na te jaag nie. Ons sien en hoor daagliks van die liefde tussen ‘n man en ‘n meisie en die groot pryse wat hulle bereid is om te betaal vir mekaar se liefde. God se liefde vir jou het gemaak dat Hy Sy Seun geoffer het om jou Sy kind te maak. Jashuah het weer op Sy beurt Sy lewe vir jou afgelê aan die kruis en elke druppel van Sy bloed uitgetap uit liefde vir jou en my. Hy het selfs Hel toe gegaan in ons plek om ons sonde-straf te dra — uit liefde! Al wat Hy van jou vra is ‘n wederkerige liefde, dat jy Hom ook sal liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou verstand, en al jou krag. Soos Hy ons liefgehad het verwag Hy dat ons mekaar sal liefhe (Joh 13: 34) en vir Hom nog meer sal lief hê. Ek wil weereens hier beklemtoon: jy kan dit nie uit jouself regkry nie, jy moet slegs gewillig wees daarvoor en glo dat Hy daardie liefde reeds in jou hart uitgestort het deur die Heilige Gees (Rom 5: 5). As jy dit nie glo nie sal jy dit nie ontvang nie (Jak 1: 6-8).
43. Alleenlik deur die Gees van Sy Seun.
Soveel kere het ons al gehoor dat die Skrif sê dat ons hierdie lewe van Christus nie in ons kan aanskakel nie. Ons moet dit laat aanskakel deur die “Spesialis” naamlik die Heilige Gees. Die vraag is hoe gaan jy en ek dit laat aanskakel? Eerstens wil ek noem dat deur die gebed van iemand wat God waarlik glo, gebeur alles. Matt 7: 7-8 “Bid en vir julle sal gegee word…” Jak 1: 6 “Maar hy moet in die geloof bid sonder om te twyfel…”. Heb 11: 6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek”. Om die Gees van Christus te kry moet jy daarvoor bid. Hoor hierdie belofte uit die mond van Jashuah: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” En as jy dan nie ontvang waarvoor jy bid nie, sê Jakobus 4: 2-3 “…en julle het nie omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” Daar sal dus ‘n groot verandering van ons doel waarvoor ons bid moet plaasvind sodat God daarmee gelukkig kan wees. Wat is die doel met ons gebed, as ons bid vir die vervulling met die Heilige Gees? Dit is die groot vraag!
Ek het in ‘n vorige gedeelte geskrywe oor ‘n vernuwing van ons gemoed en daarna verwys dat daar alleenlik ‘n vernuwing van jou gemoed kan plaasvind as jy eers die oue mens afgelê het. Onthou jy nog dat dit baie belangrik was dat jy uit jou vrye wil die oue mens sal af lê? Saam met die oue mens is daar moontlik ‘n onreine gees, of geeste, wat ‘n groter rol speel as wat jy kan dink.
As ek oor hierdie geeste skryf wil Ek dadelik sê dat ek nie “met bose geeste behep” is nie. Maar daar is sekere belangrike waarhede met betrekking tot die werking van die bose in die mens wat ons nie mag miskyk nie. Efes 6: 10-20 sê baie duidelik dat ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen bose magte. Dit moet jy lees! dit is uiters belangrik.
Die sterwe is ‘n pynlike proses en die werking van die kruis in jou, waardeur die ou mens tot niet gemaak word, gaan beslis nie sonder trane gepaard gaan nie. Daarom sal jy steeds gewillig moet bly wanneer die eerste werk van die Gees van God begin deel met die “eie ek” en jou verbintenis met die wêreld en al die dinge wat vir jou só belangrik is. Ek het net enkele dae gelede vir die Vader gesê: “Vader hierdie eie ek wat moet sterwe is ‘n pynlike proses maar ek smeek U, gaan tog asseblief daarmee voort en laat geen steen onaangeroerd wees totdat U alles van die vlees en die eie ek uit my verwyder het, deur dit te laat sterwe nie. Dit is die boodskap wat baie Christene nie wil hoor nie! Soos die ryk jongman (Mark 10: 17-31) gaan hulle bedroef van Jashuah af weg omdat hulle nie kans sien om alles wat vir hulle kosbaar is, te verloor nie.
Die Gees van Christus kan jy alleenlik ontvang deur die Woord te glo wat Hy tot jou spreek. Die Gees en die Woord wat Hy tot jou spreek is een (Joh 6: 63; 1 Joh 5: 7). En dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie. Toe ek die woord gelees het waar Johannes die Doper gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” en ook: “Elkeen wat Hom aangeneem het aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God genoem te word” (Joh 1: 12) het ek, toe ek Hom aanskou, Hom aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. Maar let op, jy moet Hom eers aanskou en dan sal jy in Hom glo. Dit moet jy dan ook met jou mond bely (Rom 10: 8-11). Hoor wat sê Jashuah in Johannes 6: 40 “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal Hom opwek in die laaste dag”.
Was daar ooit ‘n geleentheid in jou lewe dat jy die Seun aanskou het as die Lam van God wat aan die kruis hang waar God Hom offer en laat slag het vir jou sondes? Het jy Hom al aanskou in die groot liefde waarmee Hy jou sondes aan daardie kruis gedra het en ook daarmee Hel toe is om daarvoor gestraf te word? Ja, jou sondes, jou eie ek, jou wette en die dinge wat vir jou belangrik is op hierdie planeet aarde? Het jy Hom ooit in die heerlikheid van Sy opstanding aanskou? Joh 1: 14 “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon– en ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom– vol van genade en waarheid”? Jy sal vir my sê dat daardie woord is gespreek deur die apostel Johannes want hulle het sy heerlikheid aanskou, waar gaan ons nou 2000 jaar later so ‘n geleentheid kry, want Christus is nie meer op die aarde nie, Hy sit in die hemel? As jy elke dag tyd maak om vroeg in die oggend stil te word voor die Vader waar jy sit om Hom te aanbid en Hom lief te hê en Hom te dien met lofsange en danksegginge, sal jy een of ander tyd Sy Seun in Sy heerlikheid aanskou. Dan sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie. Daar sal ‘n vernuwing van jou gemoed plaasvind, as jy Hom eers aanskou het, en jy sal Sy voete vasgryp en met trane van dankbaarheid soen, en jy sal niks en niemand anders meer wil dien as net vir Hom nie. En dan sal jy Hom glo en dit ook bely met jou mond en sê: Jashuah nou dat ek U aanskou kan ek nie anders as om U te glo nie– elke woord wat U gespreek het.
Dan gaan jy ook ervaar dat die woorde wat Hy tot jou spreek nie vir jou is soos die woorde van mense nie, nie soos die woord wat jou predikant Sondagmôre tot jou spreek van die kansel af nie, “…maar soos wat dit waarlik is, as die Woord van God wat ook werk in julle wat glo” (1 Thess 2: 13). Ja, die Woord wat ook werk in jou, as jy dit glo! Dan kan jy sê: “ Dit is God wat in my werk om te wil en te werk na Sy welbehae” (Fil 2: 13). As die woord eers in jou begin werk, sal jy agterkom dat alles nie so moeilik is om te bereik nie! Dit word nou jou normale godsdiens! Elke dag! Lees nou eers Romeine 12: 1–2 biddend. “ Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer– dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Ek wil dit weereens herhaal en beklemtoon dat jy die Gees van Christus in jou gees nodig het. Die Heilige Gees in jou gees sal jou in staat stel om God in jou gees te dien (Rom 1: 9). Dit is die Heilige Gees wat Jashuah in jou gees verheerlik (Joh 16: 14). Dit is die Gees van Christus (Rom 8: 9) — die Heilige Gees– wat jou aan Jashuah se woorde herinner (Joh 14: 26) wanneer jy in ‘n situasie kom waar jy moet hoor wat Hy vir jou wil sê. Sonder dat die Heilige Gees jou gees vervul sal jy nooit ‘n persoonlike liefdesverhouding met die Vader en die Seun kan hê nie. As jy verder in ag neem dat die geloof deur die liefde werk (Gal 5: 6), sal jy ook nooit geloof kan hê sonder dat die Heilige Gees jou gees vervul nie. Samevattend kan ek sê dat sonder dat jy die vervulling met die Heilige Gees het, sal jy nie God suksesvol kan dien nie. Jy het dus die vervulling met die Heilige Gees nodig, broodnodig, dringend nodig! Al het jy tot hier gekom sonder dat jy die vervulling met die Heilige Gees gehad het, sal jy nou verder nie meer kan voortgaan in hierdie land Suid Afrika, en ook in die hele wêreld, sonder die vervulling met die Heilige Gees nie.
44. Die vervulling met die Heilige Gees.
Slegs die gedagte dat daar ‘n tyd gaan aanbreek dat God Sy Seun in ons gaan openbaar behoort ons opgewonde te maak. As jy reeds die die heerlikheid gesmaak het van die openbaring van Sy Seun aan jou, hoeveel te meer gaan jy vervul word met heerlikheid wanneer Hy Sy Seun in jou gaan openbaar. En dit sal niks anders wees as die verskyning van Christus deur Sy liggaam op hierdie aarde nie. Ons het in die verlede al oor hierdie heerlike openbaring van Christus deur Sy liggaam gepraat en geskryf, maar nou word dit ‘n groter werklikheid vir ons as die Heilige Gees ons lei om daarvoor te begin bid. Ons weet dat niks gebeur as daar nie iewers deur iemand daarvoor gebid word nie. God antwoord gebed! En as dit wat ons vra volgens Vader se wil is, gee Hy dit vir ons (1 Joh 5: 14-15). As dit nie Sy wil is nie, gee Hy dit nie, alhoewel Hy tog na jou gebed geluister het. As Hy dus “Nee” antwoord op jou versoek beteken dit nie dat Hy nie na jou geluister het nie.
As jy Hom egter vra om jou te vervul met Sy Heilige Gees, die Gees van Sy heerlikheid, vra jy iets wat Hy graag vir jou wil gee (Luk 11: 13). Maar dan moet die motief waarmee jy dit vra dieselfde wees as Syne. Toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is, was God se doel om die gelowiges met krag uit die hoogte aan te doen sodat hulle Sy getuies kan wees oor die hele wêreld (Hand1: 8). Hy wil hê dat die Heilige Gees Hom moet verheerlik (Joh 16: 14), die toekomstige dinge aan ons verkondig (Joh 14: 13) en ons herinner aan al die woorde wat Jashuah tot ons gespreek het (Joh 14: 26). Hy wil hê dat die Heilige Gees Sy liefde in ons harte sou uitstort (Rom 5: 5), ‘n Liefde wat ons nie self kan aanskakel nie. Hy wil hê dat die Heilige Gees geloof in Sy Woord sal werk in ons harte, ook iets wat ons self nie kan doen nie (Efes2: 8). Ja, Hy wou die volle lewe van Sy Seun in ons uitstort deur die Heilige Gees (Joh 16: 14-15). Hy wou ons tot ‘n eenheid saamvoeg deur ons deel te maak van die liggaam van Sy Seun. Dit doen Hy deurdat die Heilige Gees ons in die liggaam van Jahshua invoeg of indoop (1 Kor 12: 12- 27). Ja, die Heilige Gees alleen kan ons in die hele waarheid lei (Joh 16: 13) en al hierdie dinge in ons doen. Ja, en nog baie meer.
Maar, sal jy vra: “Hoe word ek met die Heilige Gees vervul? Ek begeer dit so intens om met Sy Heilige Gees vervul te word”. Glo jy dat Hy met jou spreek deur die Skrif? Glo jy dat as jy baie ernstig tot Hom bid dat Hy met jou sal praat, Hy jou die Bybel kan laat oopslaan op ‘n plek wat jy nie beplan het om op oop te slaan nie, en dat Hy daaruit met jou praat asof Hy self in jou midde staan en daardie woorde tot jou spreek? Glo jy dit? As dit die geval is sal Hy met jou praat oor die vervulling met die Heilige Gees.
Ek onthou nog hoe ver ek gery agter konferensies en dienste aan waar ek gehoor het dat daar iemand is wat bid vir die “vervulling met die Heilige Gees”. Ek kan ook nie vergeet hoe teleurgesteld ek was elke keer dat ek nie “In vreemde tale gepraat het soos hulle op Pinksterdag nie” (Hand 2: 1-). Jare later in my lewe het ek eendag, terwyl ek ernstig gebid het voor my hemelse Vader, so diep begeerte gehad dat Hy my sal vervul met Sy Gees. Toe voel ek skielik dat ek die Bybel lukraak moet oopmaak. Die Bybel het oopgeval op Johannes 20: 22 : “En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees”. Van daardie oomblik af het daardie woord in my gees begin lewendig word toe ek gesê het: “Vader, ek ontvang U Heilige Gees, en ek glo van hierdie oomblik af dat ek met U Gees vervul is”. Daardie dag het daar waarlik iets in my gees gebeur: ek het ‘n werking van die Heilige Gees in my hart ervaar, ‘n heerlike werking wat net altyd groter geword het. Dink jy nie dat dit tyd geword het dat jy gaan ernstig word voor jou Vader sodat Hy jou met Sy Gees sal vervul nie?
45. Die Covit-19 Grendeltyd
In hierdie dae van die inperking vanweë die corona virus wat hierdie aarde getref het, wonder ek hoe dit met die volk van God gaan. Ons Vader het daarna uitgesien om vir Hom ‘n volk uit die heidene aan te neem (Hand 15: 14-15). Jy en ek is deel van daardie volk. Jy sal self weet of Hy jou ‘n roeping en bediening gegee ten opsigte van daardie volk, die volk vir Sy naam, al is dit slegs om vir hulle te bid. Onthou om ‘n “Voorbidder” te wees is een van die edelste roepings! Vir My het Hy baie jare gelede tot ‘n bediening geroep. Dit is ‘n herders-bediening om Sy skape te laat wei en hulle op te pas. Om vir Hom ‘n toegeruste volk te berei (Luk 1: 17). Hy het my meer spesifiek geroep om herder te wees van die slagskape “So sê die Here my God: Wees herder van die slagskape” (Sag 11:4) . Hulle is die skape wat deur God gereken word as slagskape: “Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape” (Rom 8: 36; Ps 24: 23). Ek is baie besorg oor die slagskape, maar oor die ander skape ook, want omdat ek Jashuah liefhet, wil ek al die skape oppas (Joh 21: 15-19). Maar die slagskape is hulle wat hulle vereenselwig het met die kruisdood van Christus, hulle is die mense wat daagliks die sterwe met Christus aanvaar en ook ervaar, en gedurig die doding van Jahshua in hulle ronddra soos 2 Korintiërs 4: 10 ook sê : “Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word”. Paulus sê: “Ek sterf dag vir dag” (1 Kor 15: 31). “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk 9: 23).
“En ek het die slagskape—waarlik ellendige skape!—opgepas; en ek het vir my twee stawe geneem”. (Sag 11: 7). Die slagskape is dus hulle wat bereid is om te sterwe saam met Christus. Dit was dan ook die rede waarom Paulus niks anders as die sterwe met Christus wou verkondig nie (Lees 1 Kor 2: 2), want hy het geweet dat dit al boodskap is wat die opstandingslewe van Jashuah in die mens openbaar. Christus sal dus nie op hierdie aarde kan verskyn sonder dat daar ‘n sekere groep mense is wat hulle so met die dood, begrafnis en opstanding van Jashuah vereenselwig, dat ook Sy lewe in en deur hulle aan hierdie wêreld geopenbaar word nie. (Rom 6: 1-11; 1 Kor 1: 18; 2 Tim 2: 11). Hierdie groep mense noem die woord van God “slagskape”. Hy noem hulle ook Sy gunsgenote (Ps 50: 5).
Nou mag ek seker wonder hoe dit met elkeen van julle gegaan het gedurende hierdie inperkings-tyd wat al oor die 70 dae beloop. Die Skrif sê dat “alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is” (Rom 8: 28). Dus, as jy en ek God liefhet, en ook na Sy voorneme geroep is, sal hierdie Covit-19 en die gevolglike inperking, ten goede meewerk vir jou, asook vir elkeen wat Hom liefhet. Voel jy gelukkig oor die wyse waarop jou verhouding met God gegroei het. Kan jy sê dat jy Hom nou van nader leer ken het? Voel jy ook dat jou liefde vir Hom, en Sy Seun, asook jou naaste, gegroei het in hierdie tyd? Het jy verlossing gekry van die oordeel wat jy gedurig oor ander mense gehad het? Is jy nou nie meer so beter-weterig en eiewys nie? Het jou liefde vir selfs jou vyande, waarlik gegroei? Het jou geloof gegroei, die geloof wat deur die liefde werk? (Gal 5: 6). Jy mag dalk nou voel dat ek probeer “Polisie- man speel”oor jou. Tog is dit nie die geval nie. Daar is dié mense wat in hierdie tyd hulle werk verloor het asook die dak oor hulle kop en niks het om op terug te val behalwe op die woord van God in Fillipense 4: 19: wat sê: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na Sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus”. Ek het tog onder hulle groei gesien wat my hart bly maak, beseffende dat hulle dalk slagskape is en ‘n ander pad loop as die gewone skape, die wolskape (Eseg 34: 13-26). Daarom gaan daar ‘n dag kom dat God gaan oordeel tussen skape en skape (Vers 20-22). Die rede waarom ek hierdie vrae vra is omdat ek ‘n verwagting het dat God deur dinge soos hierdie corona virus, en baie ander peste en plae wat oor die wêreld gaan kom, asook oorloë, hongersnode ens., met ‘n spesifieke klompie mense gaan deel ten einde van hulle ‘n toegeruste volk te maak. “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is”. (1 Pet 2: 9-10).
In die vorige hoofstuk (4) het ons ‘n bietjie gekyk na die verskil tussen die Christene wat ‘n “Wegraping” verwag en dié wat verwag dat God hulle in Sy liefde en almag op wonderbaarlike wyses gaan deurdra in oorwinning en heerlikheid in die dae wat voorlê. Ook het ek verwys na die karaktertrekke van dié twee groepe. Nou moet ek meer in besonderhede ingaan :
Die groep wat die “Wegraping” aanhang, of liewer aangryp, het duidelik na ‘n prediking gesoek wat hulle op ‘n lekkerder en makliker pad sou lei. 2Tim 4: 3-4 : “want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels”. En waarlik daar is nou oor die wêreld menigtes van leraars wat ‘n evangelie verkondig wat die luisteraars in die gehoor streel. Die leraars is waarlik daarop uit om te kyk hoe lekker hulle dit vir die mense kan maak in die kerk. Hulle verkondig ‘n voorspoeds-godsdiens wat glo dat as jy God dien gaan dit met jou net goed op finansiële en materiële gebied, ook wat gesondheid aanbetref gaan dit goed. Hulle glo ook dat jou kinders presteer en in aansien is by die skool. Ook blink hulle uit in sport en presteer net op alle gebiede. Wat jou huis aanbetref ontbreek jy niks nie en alles gaan net voorspoedig. Omdat hierdie mense nie die Skrif as ‘n lewende Woord van God aan hulle persoonlik lees nie, maar bloot as ‘n studieboek waarin hulle moet soek na Skrifte wat hulle sterk in hierdie siening van voorspoed op alle gebiede, hoor hulle ook nooit wat hulle hemelse Vader vir hulle persoonlik wil sê nie.
Ook kan hulle maar, soos die wêreld, hulle lewe geniet en in baie gevalle is hulle “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Tim 3: 4). Graag wil ek jou ‘n vraag vra: Ons trek vandag by die 72ste dag van die inperking (ingrendeling). God het in Sy groot liefde en begeerte na gemeenskap met ons, hierdie inperking gestuur deur die Covid 19 pandemie. Enersyds wil Hy met die koninkryk van Babel, wat die wêreld tot hierdie tyd toe geregeer het, deel. Aan die ander kant wou Hy ons as Sy kinders eenkant kry sodat Hy ons kan geniet. Ja, Hy wil ons liefde, ons lofliedere, danksegginge en bewondering vir Hóm, geniet. Ook dat ons Hom kan geniet saam met ons Verlosser Jashuah, Sy geliefde Seun. Dink jy dat Hy Sy doel met jou gedurende hierdie tydperk sover bereik het? As jy nou aan iemand ‘n brief moet skryf om te vertel wat jou ervaringe was tot dusver in die 72 dae van inperking, wat sou jy kan vertel? Miskien dat jy vertrekke in jou huis reg gepak wat jy lank nie voor tyd gehad het nie. Dit is baie goed en ek is bly vir jou part. Sou jy egter ook kan skrywe dat jy nou die naaste aan jou God en Vader gekom het—nader as ooit vantevore? Dat jy Hom nou van naby— so intiem leer ken het, dat jy ervaar hoedat Sy karakter en natuur in jou hele wese begin lewe het? Dat Sy hart in jou hart klop? Sou jy kon sê dat Sy Seun se Gees (Gal 4: 6), kragtiger as ooit vantevore in jou gees ingestroom het en dat jy ervaar hoe Sy Gees deur jou roep “Abba Vader”!? As jy hierop “Nee” moet antwoord, en dit vir jou geen probleem is nie, moet jy net seker maak dat jy glo dat jy gaan weggeraap word deur Christus voor die verdrukking.
As jy egter glo, soos wat ek glo, dat ons nou op pad is na die grootste wapenskouing tussen die wapens van die lig en dié van die duisternis, en dat God dit deur ons wil doen, beter jy nou fyn oplet na die volgende baie belangrike dinge wat ek gaan skrywe:
46. Die Oorlog tussen Lig en Duisternis
Jer 25: 31-33 : “Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die Here het ’n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose—aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die Here. 32So sê die Here van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ’n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. 33En die wat deur die Here verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees”
Efes 6: 10: “EINDELIK, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 11Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 13Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly”.
God het ‘n ‘n saak aan met al die magte van die duisternis en ook die mense op aarde wat die Bose navolg. So het Vader net gister weer vir my bevestig dat Hy Babel getref het. (Open 17, 18, 19). Lees asseblief hierdie drie hoofstukke self. As jy dit klaar gelees het mag jy dink dat dit jou nie raak nie want jy is nie deel van Babel nie, maar deel van God se volk. Dit is nou reeds teen God se volk wat die waarskuwing kom in Open 18: 4: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, My volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie”. Dus die volk van God wat nog in Babel is. Baie mense het al gedink dat dié Skrif vir hulle sê dat hulle hul sekulêre (wêreldse) werk moet bedank. Dan was my antwoord altyd: “As jy as die lig van die wêreld nou weggeneem word van die plek af waar jy werk, wie gaan dan die lig daar wees”?
Die Corona-virus mag dalk binnekort iets van die verlede wees, maar miskien ook nooit nie. Dit mag van erg na erger gaan. Ons weet nie wat hieruit gaan voortspruit nie, maar al sou dit nou verdwyn, het die ekonome van die wêreld gesê dat die skade wat hierdeur aangerig is sal nie in honderde jare vorentoe herstel word nie. Ook is dit vir ons ‘n baie duidelike demonstrasie van hoe onverwags die toorn van God oor hierdie aarde kan kom en dat hierdie hele Babiloniese ryk in een oomblik in ‘n puinhoop sal verander (Open 18: 19-21). Wat wou God vir ons sê? Hy wil vir ons bemoedig met die belofte dat ons verlossing uit die mag van ons vyande heeltemal onverwags sal kom (Jes 29: 5). Maar ook ‘n waarskuwing dat Jashuah kom op ‘n uur dat ons dit nie verwag nie (Matt 24: 44).
As ons dus gerus was gedurende hierdie tyd, omdat ons genoeg kos gehad het en ook ander voorade waarop ons kon vertrou, byvoorbeeld nie ons werk verloor het nie en ook nie ons huis verloor het nie—soos wat dit wel met baie die geval was—kan ons roem? Jy mag dalk dink dat jou huis en jou besigheid, of werk, nie deur hierdie storm geskud kon word nie. Lees net gou Jes 8: 5-13. Ek kan jou verseker dat daar kom ‘n storm met ‘n baie sterker vloed—water waarteen dié huis wat deur die woord van God op die rots gebou is, alleenlik sal bly staan! Jou werksplek, waar jy jou inkomste verdien, sal alleenlik bly staan as dit op die rots gebou is, en die rots is Christus (Matt 7: 24-29; 1Kor 10:).
Daniël sê: “en tot die einde toe sal dit vasbeslote oorloë wees, vasbeslote verwoestings” (Dan 9: 26).
47. God hou wapenskouing oor ‘n oorlogsleër(Jes13.4).
Hoe gaan getoets word watter wapens is die sterkste? Dié van die Lig of dié van die duisternis? As twee voetbalspanne getoets moet word wie die sterkste is, moet hulle dit uitspeel tussen mekaar. As een span afwesig is, of die helfte van sy spelers is nie op die veld nie, kan die oorwinnaars daarop aanspraak maak dat hulle oorwin het? Nee, nooit nie! Net so kan ons Koninkryk nie daarop aanspraak maak dat ons sterker is as die duisternis as ons mense weggeraap is nie! Dit moet eerste getoets word!
Ons moet nou eers kyk na die saak van die lig en die duisternis wat teenoor mekaar staan. God het albei geskape die lig sowel as die duisternis. Lees verseker Jesaja 45: 5- 7. Hy het eerste die duisternis geskape alhoewel Hy self van ewigheid af die Lig was, en steeds is. Hy het slegs gespreek: “Laat daar lig wees!, en daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis” (Gen 1: 3-4). Hierdie skeiding tussen lig en duisternis bestaan deur al die eeue, tot vandag toe. Die grootste ding wat jy moet weet is dat jy, hoe goed of hoe sleg jy ookal mag wees, jy daagliks met die Lig en die duisternis te doene het, en dat jy ook verantwoording sal moet doen van jou hantering van die Lig. Gaan lees nou eers Joh 1: 1-14 en ook Joh 3: 19 tot 21. Verstaan jy wel uit hierdie gedeeltes wat jy gelees het dat God Sy Seun in die wêreld gestuur het as die Lig van die wêreld en dat die aanklag teen die goddelose is dat hulle die Lig nie wou aanvaar nie, maar die duisternis liewer gehad het as die Lig? Die koms van Christus na hierdie wêreld was na verwys deur die Skrif as die “die opgaande Lig” (Luk 1: 78; Matt 4: 16). Toe spreek Jashuah iets wat jou en my onder ‘n geweldige groot verantwoordelikheid plaas toe Hy sê: “So lank as Ek in die wêreld is is Ek die lig van die wêreld” (Joh 9: 5). Daarna het Hy gesê: “Julle is die lig van die wêreld” (Matt 5: 14).
Die opweging van die wapens van die lig teenoor die wapens van die duisternis is ‘n gebeurtenis wat in die teken van die eindtyd staan. God wil deur jou en my demonstreer dat “die duisternis het dit (die lig) nie oorweldig nie” (Joh 1: 5). Alle dinge is God se wapens: Die sprinkane (Joel 2), die elemente van die natuur (Job 37: 11-13), peste en plae, oorlog, hongersnood, vuur, droogtes, vloede ens. Talle keer het ons Vader ons ‘n lewende Woord gegee dat die duisternis nou oor die wêreld toesak, maar dat die lig oor die volk van Sy heiliges opgaan (Jes 60: 1-2). Ook het Hy gesê dat die lig al sterker word, maar die duisternis al swakker. Hy begin hierdie boodskap in vers 1 met: “Staan op, word verlig, want jou lig kom”. Met die koms van Christus het die lig van God in die harte van die heiliges begin skyn: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Kor 4: 6). “Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis, genadig barmhartig en regverdig” (Ps 112: 4)
Uit die Lig het ‘n koninkryk tot stand gekom– die Koninkryk van die Lig. Dié Koninkryk bestaan uit mense wat Jashuah glo as Hy vir jou sê: “ Jy is die lig van die wêreld”. En as Hy sê JY IS, dan IS JY. Toe Hy aan Moses verskyn het in die woestyn (Exs 3: 14 en 15) het Hy vir hom gesê wat Sy Naam is : “EK IS”, “EK IS WAT EK IS”. Deur die eeue het Hy Hom aan verskeie mense geopenbaar en gesê wie en wat Hy is. Eindelik in die Nuwe Testament het Hy ook gesê wie Hy is. Lees die enkele Skrifte wat ek hier aanhaal. Maar daar is baie! : Joh 8: 12; Joh 14: 6; 15: 1; Joh 10: 7, 11. Nou sê die Skrif vir ons: “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld”.(1 Joh 4: 17). As jy dus nou jou hart daarop rig om met jou hele wil God se aangesig te soek ten einde Hom lief te hê, en Hom te gehoorsaam in alles, sal Hy aan jou openbaar dat alles wat Christus is deur Sy kruisdood, ook joune is, as jy jou natuurlik ten volle met Hom vereenselwig in Sy kruisdood. Kol 2: 9-10 sê: “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; 10en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag”. Ons het dit. Ons moet net glo! En hoe groter jou liefdesverhouding met Hom gaan word, en hoe meer jou verhouding met Hom intiemer gaan raak, hoe meer gaan jy Sy wil ken. Sy wil is dat jy en ek deur die Heilige Gees in ons, die lig van hierdie wêreld sal wees. Elke keer wat ons swig voor die goddelose en hulle probeer behaag, moet die Lig vlug vir die duisternis! Kan dit gebeur? Nee, volstrek nie! Maar “As die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Matt 6: 23)
Wanneer jy jou verantwoordelikheid teenoor die God van die Lig (Jak 1: 17) en Sy koninkryk besef, sal jy ernstig daarna begin soek om die wapens van die lig aan te gord, veral as jy besef dat die nag ver gevorder het en dit amper dag is. (Rom 13: 12).
Wat gaan die aard van jou bediening wees as ‘n krygsman in die leërmagte van God, waardeur die Hy die wapens van die lig gaan demonstreer dat die duisternis hulle nie kan oorweldig nie? Ons het ‘n baie belangrike rol te speel. Die swaard van die Gees, dit is die Woord van God, kan alleenlik teen die vyand gebruik word as die engele van God die woord volbring. Psalm 103: 20 : “Loof die Here, Sy engele, kragtige helde wat Sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van Sy woord!”. As daar dus nie ‘n Woord van God gespreek word nie, is daar niks wat die engele kan uitvoer nie! Ja, so erg as dit. Johannes 1: 3 sê duidelik dat geen ding het ontstaan wat nie deur die woord ontstaan het nie.
Dit is dan ook die rede waarom die Apostels in Handelinge 6: 4 ander manne aangestel het oor die versorging van die armes sodat hulle voltyds kon volhard in die gebed en die bediening van die Woord. As daar dus niemand was wat die woord gespreek het nie sou daar ook niks gewees het vir die engele om uit te voer nie. Daar moet dus in hierdie oorlog tussen lig en duisternis, heiliges wees wat God se woord hoor en dit dan spreek, ten einde ons die oorlog te laat wen.
As jy jouself gewilliglik as ‘n krygsman aanmeld (2 Tim 2: 1-5) by die leër waarvan Christus die Koning en Opperbevelhebber is, sal jy ingeoefen moet wees, ja, “geoefen in die godsaligheid” soos 1 Timoteus 4: 7 en 8 sê. Jy Sal die volle wapenrusting van God moet aantrek, ja, die die kleinste gedeelte daarvan mag nie ontbreek nie. Jy mag die skoene aan jou voete hê vir die bereidheid van die evangelie, maar jy omgord jou nie met die waarheid nie, dan sal jy die geveg nie wen nie. Gaan lees nou Efesiërs 6: 10- 20 asook 2 Kor 10: 3-6. Peins daaroor voor die aangesig van God, al neem dit ook baie dae.
48. Die volle wapenrusting van God.
Bid daaroor sodat wanneer jy tot die geveg toetree, die hele wapenrusting in jou gees sal lewe deur ‘n kragtige werking van die Heilige Gees. Jy moet verseker eers die saak baie duidelik met God uitmaak of jy wel ‘n krygsman wil wees in Sy leër. Lees nou Efes 6: 10-20 en ook 2 Kor 10: 4-6. Word stil voor jou Vader en peins oor hierdie Woord. Maak dan die saak uit in jou hart of jy ‘n krygsman van God wil word.
Dit word vertel van Napoleon dat hy die Franse volk gevra om hom in die oorlog te volg. Hy het egter nie vir hulle maanskyn en rose belowe nie maar swaarkry en groot moeite en dalk nog ‘n eensame graf in die sneeu. Die volk het hom gevolg oor die Alpe! Jashuah Messiah, die leërowerste van God (Jos 5: 14), kom nou by jou en my en vra of ons Hom sal volg, waar Hy ook al heen lei.
Ken jy die lied: “Waar Hy lei volg ek gewillig”? Dit bring ons by ‘n belangrike deel van die Wapenrusting van God naamlik “…as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede” (Efes 6: 15). Dit vereis van jou om heel eerste bereid en gewillig te wees om ‘n vegsman in Jahweh se leër te wees wat dit ook al mag kos. Ps 110: 3 “U volk sal baie gewillig wees op die dag van die krygsmag, in heilige feesgewade…”. As jy nou huiwer en eerder bietjie terugdeins, is dit ‘n baie goeie ding om te doen. Jashuah het gesê dat geen koning in ‘n oorlog uittrek teen ‘n vyand, as hy nie eers die koste bereken het of hy die middele het om dit uit te voer nie (Luk 14: 31). Jashuah is die Een wat die koste moet bereken, en dit het Hy reeds gedoen. As Hy jou en my ingesluit het in Sy leermag omdat Hy vooruit geweet het dat ons gaan gewillig wees om te gaan net waar Hy ons lei, dan sal Hy nou begin om jou gees op te wek sodat jy jouself beskikbaar stel as ‘n krygsman in Sy leër.
Hierdie bereidwilligheid om te gaan waar Hy jou lei en ook te laat ervaar wat Hy wil hê jy moet ondervind, sodat Sy Naam grootliks verheerlik kan word, kom nie uit jouself nie. Dit is die Gees van Christus wat dit in jou werk. Jy is slegs gewillig dat Hy in jou werk om te wil en te werk na Sy welbehae (Fil 2: 12-13).
Al sou Hy jy ook lei, soos wat Hy miljoene deur die eeue gelei het, na ‘n brandstapel toe, of ‘n vuurpeleton, sal Hy deur dieselfde Gees wat die groot lydsaamheid in Christus gewerk het toe Hy kruis toe gegaan het met jou en my sonde, ons ook in staat stel om met dieselfde groot oorwinning te sterwe—deur dieselfde lydsaamheid wat in Hom was (Open 3: 10).
Vanmôre het ons weer op die nuus gehoor dat die Staatspresident gesê het dat hulle nou, te midde van die inperkings tyd, die grondhervorminge wil bespoedig. As jy nog dink dat jy met fisiese wapens hierdie oorlog gaan veg, en oorwin, is jy duidelik nie nugter nie. ‘n Ander oplossing vir jou, is om aan die wegraping te glo. As dit ooit sal plaasvind! Maar dit sal jou darem vir ‘n tyd lank troos. En hoe meer die benoudheid oor hierdie land en oor die wêreld gaan kom, sal jy in al groter angs beland, omdat die Bruidegom talm om te kom. Lees weer Matteus 25: 1-13 en dan let jy op dat die Bruidegom getalm het om te kom, tot dit al aand was, want hulle het vaak geword en aan die slaap geraak (Vers 5). Eers teen middernag het die Bruidegom gekom, toe die onwyse maagde se lampe uitgegaan het en hulle nie ekstra olie in hulle kanne gehad het nie. Dit was reeds te laat om te gaan inkopies doen. Dit was tyd nou vir die bruilofsmaal. En toe die dwase maagde wel olie gekry het, het die wyse maagde reeds in gegaan na die bruilofsmaal en die deur was gesluit. Hulle het nie betyds die olie gekry nie !
49. Die Gordel van die waarheid(Efes 6:14).
As Jy bereid is om ‘n krygsman in die leërs van Jahweh te word sal jy jou moet gereed maak vir aksie. Dit is wat dit beteken om jou lendene te omgord. Dit beteken dat jy jou gereed maak vir die oorlog. Ook hang jou swaard aan hierdie gordel, terwyl dit ook jou los klere bymekaar hou. Jashuah is die gordel van die waarheid. Hy sê: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe (Joh 14: 6). Hy noem die Heilige Gees, die Gees van die waarheid (Joh 14: 17). Ook sê Hy: “Heilig hulle in U waarheid, U woord is die waarheid” (Joh 17: 17) “En Ek heilig myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees” (Joh 17: 19).
Pilatus vra die vraag: “Wat is waarheid?” (Joh 18: 37). As kinders het ons die swaarste straf gekry wanneer ons nie die waarheid gepraat het nie. En as ons vandag die Skrif lees besef ons dat ons opvoeding nie gegaan oor die waarheid nie maar oor feite. Uit bostaande Skrifte is dit duidelik dat alles wat nie in Christus gedoen word nie, alles dus wat nie deur die Gees van Christus gesê of gedoen word nie, is sonde (Rom 14: 23) en deel van die leuen, al is dit ook feitlik korrek, en volgens menslike standaarde die waarheid. Dit is dan ook wat 1Johannes 1: 6, 8; 2: 4 sê. As die apostel Johannes dan sê dat dit hom so bly maak as hy sien dat sy kinders in die waarheid wandel, beteken dit dus dat hulle in Christus wandel en met die Gees van Christus vervul is (2 Joh 1: 4).
Die gordel van die waarheid is dus Christus. As ek my met die waarheid omgord maak ek my dus gereed vir aksie en vir oorlog met Christus saam. En dit is dan ook Christus waaraan die swaard van die Gees hang aan my heup, gereed vir gebruik teen Satan en die magte van die duisternis. “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees– dit is die woord van God” (Efes 6: 17). Jashuah sê: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:1-5). Sonder Hom kan jy dus ook nie oorlog voer nie. Baie maal is ons onstuimig in ons gemoed teenoor iemand en ons is op die oorlogspad uit, gereed om daardie persoon sy/ haar fortuin te gaan vertel. As jy jou eers met Christus omgord, sal jy tien teen een by Hom hoor dat jy daardie persoon eers moet vergewe (Mark 11: 25-26) en liefhê. Dan trek jy dalk glad nie meer in die oorlog uit teen iemand wat jy op daardie stadium as jou vyand sien nie. Later sien jy dalk dat hulle uitverkorenes is soos Rom 11: 28 sê.
50. Die Borswapen van geregtigheid.
Ons weet reeds “dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie, want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” (Rom 7: 18). Ook weet ons al dat “…al ons geregtighede is soos ‘n besoedelde kleed…” (Jes 64: 6). Fil 3: 9: “…nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, dié geregtigheid wat uit God is deur die geloof ”. Dit is dan oor hierdie geregtigheid waarvan ons nou praat. Ek weet dat ek hierdie dinge al oor en oor gesê het in baie geskrifte en kassette in die verlede, maar ek kan dit nie oor-beklemtoon nie : die geregtigheid wat God by ons soek, is nie die geregtigheid wat deur ons goeie werke of ons onderhouding van die wet of enige ander wette, bv. my eie wette, tot stand kom nie. Al sou jy dit wat in die Bybel staan as voorskrifte, deeglik onderhou, sal die Skrif in Romeine steeds van jou moet sê: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.” (Rom 10: 2). Die geregtigheid van God is dus nie iets wat jý doen nie, maar dit is iets wat Christus deur jou lewe. Hy is jou geregtigheid (1 Kor 1: 30). As Hy deur jou lewe dan het jy die “borswapen van geregtigheid” (Efes 6: 14) aan. As jy enige ander vorm van geregtigheid aantrek as jou borswapen sal jy gou ervaar hoedat die swaarde, spiese en pyle van die vyand in jou hart indring, en jou geestelik buite aksie stel. Maak dus seker dat jy God se borswapen van geregtigheid aan het, en nie een of ander godsdienstige borswapen nie. Dan moet jy ook onthou dat, al sou jy nou net gesondig het, Christus se geregtigheid jou toegereken word (Rom 4: 5)!
51. Die Skild van die geloof.
Psalm 144: 1 Beeld vir ons pragtig uit watter rol jy mag speel, tydens hierdie geestelike oorlogvoering waarmee ons nou besig is. Lees dit gerus! Hier sê dit ook dat Hy ons skild is. In Efes 6: 16 Voeg egter nog ‘n belangrike eienskap van Jahweh as die skild by: Hy is “die skild van die geloof” en dat dit “al die vurige pyle van die bose uitblus”
Om geloof te hê moet jy ‘n liefdesverhouding met God hê, want die geloof werk deur die liefde (Gal 5: 6). As jy nie God lief het met jou hele hart, met jou hele siel, al jou verstand en al jou krag nie (Matt 22: 37-40), het jy nie die volle wapenrusting van God aan nie. Jy het dus nie die skild van die geloof nie. Dan kan jy ook nie die vurige pyle van die bose uitblus nie. Jy onthou nog seker hoedat ek vroeër verduidelik het dat in die ou dae het hulle, ten einde ‘n stad aan die brand te steek, die pyle in pik gedompel, dit aan die brand gesteek, en dit dan afgevuur op die stad. So het hulle die vyand se stede aan die brand gesteek. Die vuurpyl het dus die hele wêreld aan die brand gesteek, en daarom moes die vurige pyle nie net afgeweer word nie, maar ook uitgeblus word. Dit is wat die skild van die geloof doen in die geestelike oorlogvoering waarby ons betrokke is.
As ons God glo in elke woord wat Hy gespreek het—elke belofte wat Hy aan ons gemaak het in Sy Seun Jahshua, ook die verbond wat Hy met ons gemaak het deur die bloed van Sy Seun, kan geen vurige pyle van die Satan daar deur dring nie.
Ek lees Judas 20: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag”. Dié geloof wat die vurige pyle van die bose uitblus is nie sommer net ‘n verstandelike geloof in die Skrifte wat in die Bybel geskryf staan nie. Nee, dit is ‘n geloof, ‘n allerheiligste geloof, wat deur die Heilige Gees in die harte van die gelowiges gewerk word, wanneer hy in die Gees bid. Die gedagte van “in die Heilige Gees bid” kom ook voor in Efes 6: 18. Dit is ‘n baie belangrike deel van die wapenrusting van God naamlik om vir al die heiliges in die Heilige Gees te bid. Moontlik ken jy maar net een manier om te bid dit is om in die verstand te bid (1 Kor 14: 15). En dit is iets om baie dankbaar voor te wees as jy reeds in die verstand kan bid! As alle mense maar alreeds dit kon doen. Maar om in die Gees te bid is ‘n dieper dimensie van gebed. Ek het in ‘n vorige hoofstuk geskrywe oor: “Om God in my gees te dien”. Daar het ek ook genoem dat ‘n mens deur die Gees lewe wanneer jy die wedergeboorte deelagtig geword het. Maar dit is nog nie te sê dat jy deur die Gees wandel nie (Gal 5 :16, 25). Dis ook nie te sê dat jy deur die Gees bid nie. Sal jy nie ernstig tot God roep, wanneer jy nou hierdie gedeelte lees, dat Hy deur Sy Heilige Gees jou so diep in Sy Seun Jashuah sal intrek, dat jy deur die Gees sal lewe nie?
Neem dan die skild van die geloof elke dag op, sodat jy al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
52. Die Helm van Verlossing.
Die helm beskerm jou brein (harsings), die plek waar jou denke en verstand gesetel is. Dit is hier waar die vyand in die mens se hele wese indring deur hom te laat dink wat nie reg is nie. Daar was ‘n ou uitdrukking wat gesê het: “Saai ‘n gedagte, maai ‘n woord, saai ‘n woord maai ‘n daad”. Die grootste oorloë in die geskiedenis het by ‘n gedagte ontstaan. Satan het die mens in sonde laat val deur Eva te verlei deur met haar gedagtes te smokkel. Hy het begin deur ‘n vraag aan haar te vra. Die vraag het ‘n gedagte van twyfel in haar hart gesaai— twyfel in die woord van God.
In hierdie dae waarin ons lewe, waarin ons elke dag met bedreigings te doen het, sal jy nooit sonder vrees lewe as jy enigsins in God se woord moet twyfel nie. In Job 41: 24 praat Hy van “die skepsel sonder vrees”. Hy praat ook oor die perd in Job 39: 25 : “Hy lag oor die vrees en word nie verskrik nie en draai nie om vir die swaard nie”. “As die rivier swel—hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis ’n Jordaan teen sy mond” (Die seekoei—Job 40: 18). Daar is baie boeke geskrywe oor “Positive thinking”. Maar baie mense wat ‘n oorwinningslewe probeer lewe het deur te probeer positief dink, het op die ou end gesneuwel op die rotse van wanhoop. Daar is net een vorm van positiwiteit en dit is geloof in die woord van God. Om God te glo is positief en om Sy woord te betwyfel is negatief. Wat die vlees bedink is die dood (Rom 8: 5-7) omdat dit negatief is. Op dieselfde wyse is dit wat die Gees bedink positief en lei tot die lewe—die ewige lewe.
Ek wil weereens vir jou herinner aan die woord in Johannes 1 wat sê dat alle dinge ontstaan deur die woord en geen ding ontstaan wat nie deur die woord ontstaan nie (Joh 1: 3).
Elke môre neem ek die wapenrusting van God op. As my program baie besig gaan wees daardie dag, laat ek dit ook nie na nie, want juis op só ‘n dag kan ek nie bekostig om sonder God se wapenrusting die dag in te gaan nie. Jy mag wel vir my sê dat jy tog die aand kon teruggekeer na jou huis toe, ongedeerd, en dat geen onheil of teëspoed jou oorval het nie—en dit sonder dat jy daardie oggend God se wapenrusting opgeneem het. Graag wil ek jou die vraag vra of dit dan al is waarvoor jy God dien? Gaan dit vir jou dan slegs oor jou liggaamlike beskerming van jou en jou goed? Al het jy daardie dag voorspoedig gereis sonder enige teëspoed, en suksesvol besigheid gedoen, hope geld gemaak, ja, alles wat die vleeslike mens se hart begeer, het jy dalk tog aan jou siel skade gely: “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?”(Matt 16: 26). Was jou ononderbroke gemeenskap met jou Vader en Sy Seun in die dag verbreek? Het jy dalk liefdeloosheid in jou hart toegelaat, mense veroordeel en nie wou vergewe nie? Het jy eers vanaand weer aan Jashuah gedink? Moenie dink dat jy hieroor sal Hel toe gaan nie. Jou Vader weet dat jy stof is. “Want Hy, Hy Weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps 103: 14). Maar Hy begeer dat Hy jou so naby aan Hom sal kan trek in Christus, dat jy in Hom aan Sy regterhand sal sit as ‘n seun/dogter wat Hom liefhet. Hy verlang na jou!!
As jy waarlik die helm van verlossing op het, sal geen vleeslike, wêreldse en menslike gedagtes in jou denke kan indring nie. Jy sal vind dat jy die sin van Christus het— die gedagtes van Jashuah (1 Kor 2: 16).
Maar, moet net nie moedeloos word en sê dat jy dit nooit sal maak nie. As jy dit ooit dink of sê is dit ‘n rooi lig wat flikker, want dan is Christus nog nie jou geregtigheid nie (1 Kor 1: 30). Dan het jy nog nie die geregtigheid van God leer ken nie en probeer jy om jou eie geregtigheid op te rig (Rom 10: 3-4)— deur jou eie pogings en goeie werke (Fil 3: 9).
53. Honger en Dors jy na die geregtigheid?
Die Skrif sê: “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matt 5: 6). Dors jy na die water van die lewe? Jashuah sê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink” Jy mag dalk sê: “ Maar ek het nie dors na die geregtigheid van God nie”. Dan het ek ‘n trooswoord vir jou: Kom net na Hom toe en sê vir Hom dat jy nie dors het na Hom nie maar dat Hy jou asseblief moet dors maak na Hom. Het jy Hom al gesmeek? Is jou begeerte om dors te hê vir jou so ernstig dat jy Hom daarvoor wil smeek?
Soek eerste na die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word” (Matt 6: 33). ‘n ou godsman het gesê dat hierdie seker een van die mees revolusionere uitsprake van God in die Bybel is. Hoe kan jy die belangrikste dinge vir die mensdom op hierdie aarde, naamlik om kos, klere en ‘n dak oor hul kop te hê, nie die eerste prioriteit in jou lewe maak nie? Hoe hoe kan jy op aarde die geld wat jy nodig het om al hierdie noodsaaklike behoeftes aan te koop en te voorsien, nie die belangrikste ding in jou lewe maak nie? En tog is dit wat God sê! En as jy ook sou sê, soos wat God wil hê dat jy moet sê: “Vader, vir my is die belangrikste ding van alles in hierdie wêreld om U te ken, en U Seun te ken in die krag van Sy opstanding (Fil 3: 7-10), sal jy vind dat Hy vir jou in oorvloed voorsien in dit wat vir jou noodsaaklike behoeftes is. En selfs baie meer! Maar Hy moet vir jou belangriker word as alles wat daar in hierdie wêreld is.
54. Die Swaard van die Gees,dit is die Woord van God(Efes 6:17).
Al die ander dele van die wapenrusting was om ons te beskerm teen die wapens van die vyand, maar die swaard van die Gees is ons aanvalswapen. Van Sy gunsgenote sê Hy in Psalm 149: 6: “Lofverheffinge van God is in hulle keel, en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand; om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om ‘n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ‘n Eer is dit vir al Sy gunsgenote! Halleluja!” Ek wil nie nou te veel sê oor hoe om hierdie swaard te gebruik nie, want dit is ‘n woord op sigself. Sorg maar eers dat jy die ander dele van die wapenrusting aantrek en opneem, anders sal die swaard in elk geval vir jou niks beteken nie. Jy kan egter ‘n paar Skrifte lees met betrekking tot hierdie swaard van die Gees wat uit Jashuah se mond kom (Open 2: 12, 16; 19:15,21).
Terwyl julle by elke geleentheid bid in die Gees (Efes 6: 18) .
Alhoewel hierdie “gebed vir al die heiliges” nie deur ‘n wapen afgebeeld word in bogenoemde gedeeltes in die Skrif nie, is dit tog onlosmaaklik van die wapenrusting van God. Jy kan maar die volle wapenrusting van God opneem en aantrek, maar as dit nie gepaard gaan met gebed en smeking vir al die heiliges nie, gaan dit jou niks baat nie.
Omdat ons ‘n heilige priesterdom is (1 Pet 2: 9-10), sal die karaktertrekke van ‘n priester, by ons teenwoordig moet wees. Dit is familie-eienskappe of karaktertrekke. Jahshua se liggaam waarmee ons een gemaak is deur die Heilige Gees (1 Kor 12: 12-27), dra dieselfde gene as die Hoof van die liggaam (Efes 1: 22). Hy is die Hoëpriester en ons Sy priesterdom. ‘n Priester se hoofroeping is om vir die volk te bid—voorbidding te doen vir almal, nie slegs vir sy familie en geliefdes nie. Ek het die woord priester gaan opsoek in die Grieks en die verklarende woordeboek sê daar dat, waar in die die Ou Testament die priesterlike verpligting by die stam van Levi behoort het, verwys die Nuwe Testament na die hele volk as ‘n priesterdom—soos wat God dit van die ou tyd af begeer het. Lees Exod 19: 6. Die verpligting dus om by God in te tree in die gebed as voorbidders vir die volk, berus nie alleenlik meer by sekere uitgesoektes nie maar by ons almal. Lees Jak 5: 16 “…bid vir mekaar…die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag”. Lees ook 1 Tim 2: 8; 1 Thess 5: 25; 1 Thess 5: 17; Kol 4: 3; Fil 1: 4.
“En die Here het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het, en die Here het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen” (Job 42: 10). Hier moet jy nou egter oppas dat jy nie met ‘n verkeerde motief bid nie, naamlik dat jou besittings kan vermeerder nie! Jak 4: 2-3: “Julle bid en ontvang nie omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring”. Maar baie duidelik is die woord dat as jy God liefhet en soek om Hom in alles te behaag en te gehoorsaam, Hy Sy seëninge ryklik op jou sal uitgiet (Deut 28: 1—).
55. Die wolkkolom.
Lees eers oor die Wolkkolom in Exod 13: 21-22 en 14:19-24 en 33: 9-10. Die Wolkkolom was duidelik God se bewys dat Hy teenwoordig is onder die volk. So ook die Vuurkolom in die nag. Selfs toe hulle van God afvallig geword het, het Hy hulle getrou gelei : “Selfs toe hulle ’n gegote kalf vir hulle gemaak en gesê het: Dit is jou gode wat jou uit Egipte laat optrek het!—en hulle groot, afskuwelike dinge gedoen het, het U in u grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie, en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie” (Neh 9: 12 en verse 18-19). Wat ‘n getroue God?
Die Wolkkolom was duidelik God se teenwoordigheid onder die volk (Deut 31: 15), selfs wanneer daar groot bedreigings was. “En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; 20so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie” (Exod 14: 19-20).
As God dit gedoen het vir ‘n volk wat Hom versoek het en ongehoorsaam was aan Hom—wat selfs na al die wonderwerke wat Hy vir hulle gedoen het, nog steeds afgode aanbid het— hoeveel te meer sal Hy nou in hierdie tyd van nood in ons land, vir ons, as Sy seuns en dogters, groter wonderwerke doen, deur Sy wolkkolom nog steeds in ons midde voor ons uit te stuur? Ja, Hy sal ons lei deur sy Heilige Gees, waarvan die wolkkolom ‘n tipe of afbeelding was. In Romeine 8: 14 belowe Hy dat, as jy Sy seun of dogter is, Hy jou deur sy Heilige Gees sal lei. Dit is ‘n karaktertrek van die seuns en dogters van God, dat hulle deur Sy Gees gelei word (Jes 63: 14).
Dit is dié Gees wat ons in die hele waarheid lei in elke situasie (Joh 16:13-15). Dit is ook dié Gees wat ons aan Jahshua se woorde en beloftes herinner (Joh 14: 26). En dit is dié Gees wat ons die woorde van Jashuah laat spreek (Joh 6: 63)—die woorde wat die engele van God uitvoer! In elke situasie is die Heilige Gees daar (soos die wolkolom in die Ou Testament) om ons te herinner aan die beloftes en woorde van Jahshua, en die Woord dan deur ons te spreek, sodat die engele van God dit kan uitvoer (Ps 103: 20; Ps 91: 11; Heb 1: 14; Exod 14: 19-20; Exod 23: 20-23). Talle keer het ons Vader my belowe dat ons nou, in hierdie tyd van benoudheid, wonders gaan aanskou in die land van Gam. Lees Jes 37: 33-38. Wat sê die Gees hier vir jou?
Dit is belangrik om te weet dat ons bly in dié gebiede hier in Afrika waarheen Gam se nakomelinge afgetrek het. Kus was die seun van Gam, deur Kanaan (Gen 6: 10; Gen 9: 18, 25; Gen 10: 6, 8). As God dan belowe dat Hy gaan wonders doen in die land van Gam, verwys Hy nie net alleen na die wonderwerke wat Hy in Egipte gedoen het nie (Ps 78: 51), maar as lewende Woord belowe Hy ook vir ons wat hier in Afrika, in die gebiede van Gam (Kus) woon, dat Hy vir ons wonders gaan doen (Ps 105: 27; Ps 106: 22). Ek verwag Jahweh van die leërskare met Sy heilige engele en al Sy wapens uit Sy skure, op ‘n ongekende wyse in ons dae. Hy sê mos: “Daarom, verwag My, spreek Jahweh, op die dag wat Ek My gereed maak…” (Sef 3: 8). Ek verwag Hom. Ek verwag Hom persoonlik, en nie slegs ‘n oplossing of uittredding nie.
Sy wapentuig is onsigbaar vir ons maar daar was geleenthede waarby Hy dit tog vir enkeles laat sien het: “Maar hy (Elisa) antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa” (2 Kon 6: 16-17). Dit was van hierdie miljoene waens waaroor Dawid gesing het: “Die waens van God is tienduisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid” (Ps 68: 14).
Op die 16de Mei het ek liggaamlik asook geestelik deur ‘n aanslag van die Vyand gegaan wat ek nie ligtelik sal vergeet nie. Die volgende môre het ek uitgeput opgestaan met ‘n lied op my hart! Dié lied het ek bykans 60 jaar gelede in die NG Kerk gesing. Maar die Heilige Gees het my die wysie, asook die woorde van vers 1, duidelik laat sing ( Halleluja lied no 260):
“Lei vriendelik lig deur aardse duisternis, lei U my voort! Swart is die nag, waar ek ‘n swerwer is, Lei U my voort! Lig my tog voor, dis nie dat ek begeer om ver te sien, net stap vir stap o, Heer!
Toe ek dit sing toe breek die Gees van God in my gees deur en oorwinning stroom in. Later het ek die lied in ‘n ou Engelse bundel gekry. Daar het hulle gesê dat die Lig waarna verwys word is die Vuurkolom in die swart-donker nag. Ook sê hulle dat die lied so populêr was gedurende die Walliese herlewing in die jare 1904-1905, dat hulle dit by byna elke diens gesing het. Vandat ek dit nou weer begin sing het na 60 jaar, het ek nie meer ‘n begeerte om ver vooruit te sien nie, net stap vir stap o, Heer!
56. Eers moet ons vashouplek verdwyn.
Die lied van Moses in Deut 32 verhaal die goedheid van God oor Israel en Sy liefde, geduld en lankmoedigheid oor hulle, totdat Hy hulle oorgegee het in die hande van ‘n “nie-volk” wat hulle terg omdat hulle God geterg het deur ‘n “nie-god”(afgode). Dan kom die belofte dat Hy weer aan Sy volk sal “reg verskaf, en Hy sal mede-lyde hê met Sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is” (Deut 32: 36).
God soek na iemand wat sy hele hart op Hom rig sodat Hy hom kragtig kan ondersteun. Ja, albei sy oë op Hom (2 Kron 16: 9), nie een oog op Hom en die ander oog op die arm van die vlees nie (Jer 17: 5-10). Dit is waarom ons dalk sal ervaar dat ons nood eers hoog gaan word voordat ons Vader gaan toetree en ons op wonderbaarlike wyse gaan uittred. Jy het seker die Skrifgedeeltes in Exodus 14 gelees hoedat Moses en die volk hoog in die nood was, toe God uitkoms gestuur het. Jy moet liewer daardie gedeelte wegbêre vir ‘n dag wat jy genoeg tyd het om dit te lees. Dan moet jy dit rustig lees—in die Gees! Jy sal nooit weer dieselfde wees nie. Dan sal jy besef dat jy waarlik eers op jou einde moet kom sodat jy jou hele hart, siel en gees op God rig wetende dat Hy alleen is jou uitkoms. Dan gaan jy die wonderwerk aanskou! As jy nog iets het waarop jy kan vertrou—logiese, natuurlike dinge, moet jy nie ‘n wonderwerk verwag nie (Deut 32: 37; Rigt 10: 14; Rigt 18: 27). Dit is eers wanneer jy niks meer het waaraan jy kan vashou nie en jou vashouplek ten volle verdwyn het, dat God vir jou op wonderbaarlike wyse, uitkoms sal gee, soos met Moses by die Rooi See. Maar een ding is baie seker, as jy op God vertrou, en op Hom bly vertrou, al is alle hoop ook verlore, sal jy nooit beskaamd staan nie (Ps. 25: 3).
As jy na ons Christene kyk het ons nog ver te veel planne. En dit is nie verkeerd nie, dit is menslik om jou natuurlike hulpbronne te gebruik solank hulle daar is. Waarom moet jy die Here vertrou om met ‘n leë brandstof-tenk te ry as daar nog brandstof by die vulstasies is en jy geld het om in te gooi? Waarom moet jy manna uit die hemel verwag terwyl jy kan groente plant en eet of geld het om dit te koop. Baie lui mense soek na wonderwerke want dit maak alles soveel makliker!
57. Lei vriendelik Lig(Die wolk en die vuurkolom).
In ‘n vorige hoofstuk het ek reeds gepraat oor die “Opgaande Lig” (Luk 1: 78) en “Die pad van die regverdige wat al helderder word tot die volle dag toe” (Spr 4: 18). Maar tog glo ons mense dit nie. Hulle kla dat dit swaar gaan met hulle en dat dit by die dag swaarder gaan word hier in Suid Afrika. Die volk het in die tyd van Moses gekla dat hulle swaar kry. Toe het dit God toornig gemaak. Waarom was God nie vir hulle jammer nie maar eerder toornig op hulle? Lees eers gou Num 10: 33-36 en Num 11: 1-7. Wat God toornig gemaak het op hulle was die feit dat God vir hulle so goed was in die woestyn. Die gedeelte wat jy nou net hier bo gelees het vertel vir jou hoedat die wolkkolom en vuurkolom altyd vir hulle op Sy pad vir hulle gelei het waarlangs hulle moes trek. Hy het vir hulle water uit die rots laat stroom (Exod 17: 5-7) asook die manna uit die hemel (Ex 16). Toe die gemengde bevolking met lus bevang was vir vleis het hulle ook die volk beinvloed sodat daar ‘n murmerering teen Moses en God by hulle ontstaan het. Hulle het selfs die manna “ellendige kos” genoem in Num 21: 5 terwyl Ps 78: 25 sê dat dit eintlik “engelebrood” was. Hierom het God so toornig geword op hulle dat Hy gesweer het dat hulle in Sy rus nie sal ingaan nie.
As jy jou lewe oorgegee het in die hande van God, het jy jouself oorgegee in die beste sorg en voorsiening wat jy enige plek kan kry. Geen beskerming is so goed as Syne nie. Met hierdie beskerming en voorsiening en leiding van God nog vars in hulle geheue, was hulle waarlik so vermetel en ondankbaar dat hulle kon sê: “Dit gaan sleg met ons” (Num 11: 1). As jy jou ook skuldig gemaak het daaraan deur te sê dat dit sleg gaan met ons gedurende hierdie Covid-19 inperking het jy iets om te bely. Daarby, wat dit nog slegter maak vir jou is dat die owerhede van hierdie land dreig om ons gronde te onteien. En al die dreigemente teen die blankes om ons dood te maak, maak dat dit nog slegter met ons gaan in Suid-Afrika. Ons mense het nie werk nie en dit lyk of dit al slegter gaan! Die ekonomie is besig om geheel en al in duie te stort en daar is net niks meer wat ons vreugde verskaf nie—so sê die mense, nogal die Christen mense wat veronderstel is om hulle vreugde en blydskap in Christus te hê, al gaan dit ook menslik gesproke hoe swaar. Ons is veronderstel, volgens Fillipense 4: 7, om ‘n vrede van God in ons harte te hê, ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan, omdat ons al ons sorge en probleme by ons Vader afgelaai het. Ons is veronderstel om, soos Paulus sê, “oor te loop van blydskap in al ons verdrukkinge” (2 Kor 7: 4)
Om te sê dat dit sleg gaan met jou terwyl jy die God wat genadig, barmhartig en groot van goedertierenheid is, het as jou Vader, kan God vir jou só toornig laat word dat Hy ook vir jou sal sweer dat jy Sy rus nie sal ingaan nie. Om Jashuah te hê as jou Middelaar en die Een wat vir jou intree by die Vader, sodat Hy Sy verbond met jou, dat Hy Hom nie sal afwend om aan jou goed te doen nie (Jer 32: 40-41), sal vervul, is ‘n groot voorreg. Maar moet Sy verbond met jou nie vergeet nie. Moet nooit sê dat dit met jou sleg gaan nie. Ook nie Sy belofte dat Hy net goeie gedagtes vir jou koester (Jer 29: 11) en dat alle dinge wat jou pad langs kom, vir jou ten goede meewerk, nie (Rom 8: 28). God is so goed en Hy bedoel dit net goed met jou, mits jy in Sy goedertierenheid wil bly, en nie in Sy gestrengheid wil beland nie (Rom 11: 22).
As jy jou seëninge begin tel wanneer jy voel dat dit met jou sleg gaan, sal jy, soos die lied sê: “Sien hoe goed dat God dit met jou meen” Dan sê dit ook: “Tel hulle dikwels, tel hulle een vir een, en jy sal verbaas wees hoedat God jou seën”
Is jy ook een van die mense wat in die oggend bid dat die Here tog vandag met jou moet saamgaan waar jy heen gaan en in alles wat jy gaan doen, koop en werk? Of bid jy: “Waar Hy lei volg ek gewillig…”
Die wolkkolom lei jou in plekke waar jou Vader jou wil hê: Soms nie baie lekker plekke nie, en soms wel. Maar waar Hy jou ook al lei is dit tot Sy heerlikheid, en vir jou, asook almal wat Hom liefhet, ten goede. In 2 Korintiërs 4: 16-18 sê die woord: “ Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid, omdat ons nie let op die sigbare dinge nie maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig”. Paulus noem ons verdrukkinge, “‘n Ligte verdrukking vir ‘n oomblik” Lees ook Petrus se weergawe van “verdrukking” of “beproewing” in 1 Petrus 1: 3-9.
Hierdie gelowiges van die ou dae het anders na beproewinge, vervolginge en verdrukkinge gekyk as ons vandag. Hulle het dit gesien as ‘n ligte verdrukking vir ‘n oomblik. Paulus het selfs ‘n behae gehad in verdrukkinge en vervolginge. Lees 2 Kor 12: 10. Wat was die rede hiervoor? Hulle was aanskouers van hoedat mense vervolg, verdruk en selfs gemartel was. Hulle het deurgaans besef dat wanneer jy sterf vir die Naam van Jashuah, ‘n baie groter krag van Bo die martelaar oorskadu—soos by Stefanus die geval was. Stefanus het klaarblyklik min of geen pyn ervaar nie (Hand 6: 15; Hand 7: 54-60). Dit was dan ook die getuienis van duisende martelare gedurende Die Middeleeue. Hulle het ervaar hoedat ‘n God van liefde Sy kinders nooit verlaat nie en hulle nooit in die steek laat nie. Ook laat Hy nie toe dat hulle bokant hulle kragte beproef word nie: 1 Kor 10: 13 “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra”. Dan het dié God van liefde se kinders geglo wat Hy gesê het.