082 852 0496

admin@stillesindieland.co.za

DEEL1 (6)

Die Mens sal nie van Brood alleen lewe nie maar van elke Woord wat deur die mond van God (Elohim) uitgaan. (Matt 4 : 4)

Inhoud Deel 1(6)

58. Daar sal ‘n oorblyfsel wees.
59. Ryk of arm,jy het ‘n keuse tussen twee weë.
60. Wat open jou ore om God se stem te hoor .
61. Daar is ‘n plek van sielerus, naby die hart van God .
62. Oorsaak van ‘n verhouding wat nie groei nie. Eie wet.
63. Onthou jy nog die Bloedverbond.
64. 7 Trappies in die buitenste voorhof.
65. Kennis van alles wat goed is in my.
66. Is jy selfbewus of Christus bewus?
67. Deur julle gebed.
68. Die hart van ons kinders terugbring.
69. Regeer vroue waarlik?
70. Ons is kinders van die belofte en van die Verbond.

 

58. Daar sal ‘n oorblyfsel wees

 

Gisteraand het ons op die nuus gehoor dat daar verlede week 11 plaasaanvalle was in Suid-Afrika. Enkele mense is ook vermoor in die aanvalle, onder wie ook twee kindertjies. Dan vra ‘n mens vir die Vader, “Hoeveel mense gaan oorbly?” Hier verwys ek eintlik na dié mense wat die nakomelinge is van die Franse Hugenote, Hollanders, Britse Settelaars, Duitse en ander Christene wat deur God hierheen gebring is deur die afgelope paar eeue. Dat die plaas-aanvalle duidelik gemik is teen hierdie groep blanke Christene in Suid-Afrika is duidelik. Daar is ‘n gees wat hulle wil uitwis. So baie wat sterf het nooit enige kwaad aan ‘n swart mens gedoen nie— soos die familie waaruit ek kom, ons het net goed aan swart mense gedoen!

Toe ek hierdie nuus hoor het ek dadelik, soos wat ek doen by die aanhoor van die nuus dat ‘n geliefde gesterf het, God regverdig verklaar. Jashuah het die sleutels van die doderyk is in Sy hand (Open 1: 18). Nie eers ‘n mossie kan sterf as Hy dit nie wil nie (Matt 10: 29-30). Hy het vir ons ‘n “grens daargestel waaroor ons nie kan gaan nie” (Job 14: 5). Al sou daar duisende van hierdie blankes uitgeroei word, sal daar ‘n oorblyfsel wees! God het dit belowe (Rom 11: 5). Hy het gesê dat die oorblyfsel sal min, gering en onmagtig wees en hulle sal by die Naam van Jahweh skuiling soek (Sag 8: 6,12).

Omdat ons deel is van ‘n “heilige priesterdom” (1 Pet 2: 9-10), en die priesterdom se hoof roeping is om as voorbidders by God in te tree vir die volk waaroor Sy Naam uitgeroep is (Hand 15: 14), is dit ons eerste taak dan om te bid vir die oorblyfsel. “Hef dan ‘n gebed op vir die oorblyfsel” (Jes 37: 4). Ek wil graag vir jou ‘n baie belangrike vraag vra: alhoewel jy sekerlik met jou verstand glo dat God gebed antwoord, glo jy dit werklik met jou hele hart? Glo jy dat as jy na God toe gaan in die Naam van Sy Seun Jashuah, Hy jou hoor en jou alles gee wat jy vra in Jashuah se Naam—mits dit natuurlik iets is wat Hy jou wil gee (1 Joh 5: 14). Ek kan jou verseker dat dit die wil van God is dat daar ‘n oorblyfsel in hierdie land sal wees nadat massas gesterf het. So ook oor die hele wêreld. Behalwe dat dit deel van die wapenrusting van God is dat jy by elke geleentheid in die Gees sal bid vir al die heiliges (Efes 6: ), is dit ook deel van daardie gebed vir die heiliges, naamlik vir die oorblyfsel. Sonder hierdie gebed waarna Efes 6: 18 verwys, is die res van die wapenrusting wat jou moet laat staande bly teen die liste van die duiwel (Vers 11), nutteloos. Dit help nie dat jy Christus het as die gordel van die waarheid (Vers 14), die skoene aan jou voete vir die bereidheid van die evangelie (Vers 15), die borswapen van geregtigheid (Vers 14 ), die skild van die geloof (Vers 16), die helm van verlossing (Vers 17) en die swaard van die Gees (Vers 17).

Dit is natuurlik nie nodig dat jy bogenoemde lewe van voorbidding het as jy nie self deel van die oorblyfsel is nie. Weet jy al of jy deel is van die oorblyfsel? Nee? Ek kan dit nie glo nie! Terwyl daar elke dag mense uit hierdie Christendom vermoor word en sterf op verskillende wyses, weet jy nog nie of jy voor God ‘n regsaak kan maak dat Hy jou in die lewe sal hou en jou sal bewaar nie. As jy nie eers oor jouself en jou geliefdes besorg is nie, sal jy dit beslis ook nie oor die res van die oorblyfsel wees nie. As dit vandag nog nie vir jou saak maak nie, sal dit sekerlik in die dae wat kom vir jou belangrik word om te weet of jy en jou huis sal deel wees van die oorblyfsel of nie.

Maar daar sal ‘n oorblyfsel wees in Suid Afrika en ook oor die aarde! Die Bose wat graag al God se seuns en dogters wil uitmoor en verdrywe uit die land, sal dit nie regkry nie. Ek weet dat daar baie gaan sterwe in hierdie land, maar daar sal ‘n oorblyfsel wees. Want die mond van Jahweh het dit gespreek en Hy kan nie lieg nie! Lees weer Heb 6: 13-20.

Getalle in die Bybel

“Ses” is die getal van die mens (Open 13: 18) of die getal van die vlees. Ook het God die aarde en alles, ja, ook die mens, geskape in 6 dae: “Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exod 20: 11).

“Sewe” is die getal van God se handelinge met die mens op aarde—alles wat voortspruit uit dit wat Hy in die ses dae geskape. Daar is sewe 7 dae in die week. Dit is baie insiggewend om die getalle wat God in Sy Skrif gebruik waar te neem. “Agt” is die getal van volkomenheid. Later skryf ek ook oor ander getalle ook.

In hierdie sesde hoofstuk van 12 hoofstukke wat ek moet skrywe, moet ons die vleeslike mens vergelyk met die geestelike mens. Ook moet ons kyk na wat jy en ek moet doen om van die vlees ontslae te raak. Jy het seker al begeer om ‘n geestelike mens te wees? Het jy? Dwarsdeur die Skrif is daar twee weë. Daar is nie ‘n middeweg nie. In Open 3: 14-22 lees ons die brief wat Johannes op bevel van Jashuah moes skryf aan die gemeente in Laodicense—dit is die sewende brief asook die brief aan die laaste kerktydperk. Ons lewe nou in daardie laaste en finale kerktydperk. Dit is noodsaaklik dat jy dit nou eers sal lees.

Jashuah het dit teen die gemeente dat hulle nie koud of warm is nie, maar lou. Daarom sal Hy hulle uit Sy mond spuug (Vers 15-16). Die rede vir hulle louheid? Dit gaan te goed met hulle : Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie”. As ons ons met arm mense vergelyk is ons almal ryk, en as ons weer ons met ryk mense vergelyk is ons dalk arm. Ons kan baie hieroor redeneer, maar hoe dit ook al sy, as jy nie diep, diep afhanklik is van Jahshua as jou voorsiening, bewaring, krag, wysheid, ja, van elke dingetjie nie, sal jy baie gou lou word. Beproewinge en nood-situasies is God se metodes om ons naby aan Hom te trek. As jy aan niks gebrek het nie (Open 3: 17) sal jy ook nie ‘n behoefte hê om God te soek nie. Dit gebeur selde dat iemand wat nie in die nood is nie, na God soek. “In hulle nood sal hulle My soek” (Hos 5: 15). As ons die nood en beproewinge probeer ontduik, sal ons nie naby—en nog minder in Hom— kan lewe nie. Waarom dink jy, het Paulus ‘n behae in node? Hoor wat sê hy in 2 Kor 12: 9-10: “Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk. Ook Rom 5: 2-5: “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, 4en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop 5en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is”. Hoor ook wat Jakobus sê in Jak 1: 2-4: 2Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie”.

As ons nie aanvaar dat verdrukking en benoudheid deel van God se liefdevolle pad met ons is nie, sal die volgende Skrifwoord nooit op ons van toepassing wees nie: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word”. (Kol 3: 2-4).

Waarom sê Hy op verskeie plekke dat Hy die “evangelie aan die armes verkondig” (Matt 11: 5, Luk 4: 18 ens.). Het Hy miskien iets teen ryk mense? Dit mag wel so lyk, as jy die Skrif lees. Tog is dit nie so nie. As ‘n mens wat ryk is aan aardse goed daarin kan slaag om nie op sy rykdom te vertrou nie (1 Tim 6: 17-18), nederig te wees en nie op armes neer te sien nie, en as hy genoeg ander benoudhede het wat hom noop om op God te vertrou en diep afhanklik van Hom te wees, dan sien ek nie ‘n probleem vir ryk mense nie. Dit sal tog moeiliker wees vir ‘n ryke. Lees Matt 19: 24.


59. Ryk of arm, jy het ‘n keuse tussen twee weë

 

Of jy nou ryk of arm is, of jy in aansien is of nie, slim of dom, jy sal elke dag ‘n keuse moet maak tussen twee paaie. Die een pad is “die weg van die lewe”. Die ander pad is “die pad van die dood”. Die Skrif praat baie van dié twee weë. Ek noem enkeles: Matt 7: 13-14 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 14Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind”.

Deut 30: 15-16 Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk. 16Wat ek jou vandag beveel, is om die Here jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die Here jou God jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem”.

Op die pad van die lewe kry ons alles wat reg is in die oë van God, alle geregtigheid, liefde, geluk, vrede, vergenoegdheid, nederigheid, sagmoedigheid, die waarheid en die vrug van die Heilige Gees, geloof in die woord van God, ens.

Op die pad van die dood kry jy alles wat uit die duisternis voortspruit: die leuen, ongeloof in die woord van God, liefdeloosheid, onvergewensgesindheid, kritiek, oordeel ens. Hier by moet ons nog belangrike sondes byvoeg soos vleeslike gedagtes— alles wat die vlees bedink (Rom 8: 4-13), alles wat nie uit die geloof is nie (Rom 14: 23; Joh 16: 8-9), alle vorme van vrees ( behalwe die vrees vir God (Jes 8: 12-13).

Die twee weë kom uit twee bronne wat by die skepping met twee bome vergelyk word: “Die boom van die lewe” en die “Boom van kennis van goed en kwaad”. Uit die twee bome spruit die lewe en die dood; die goddelike natuur en die sondige natuur; die lig en die duisternis; geregtigheid en ongeregtigheid; die fontein van die lewe en die fontein van die dood. Ook die geestelike mens en die vleeslike mens spruit uit een van die twee bome. Hulle het God as Vader (Joh 1: 12; Gal 4: 6-7), of Satan as vader (Joh 8: 44). As God jou Vader is dan het jy Sy natuur in jou (2 Pet 1: 4), maar as Satan jou vader is wil jy sy werke doen want sy natuur is in jou (Joh 8: 44). Die vlees op sigself is nie sonde nie, maar dit kan God nie behaag nie (Rom 8: 5-8) want uiteindelik neem dit die verkeerde wilsbesluit omdat die vlees volgens een of ander “Wet of reël” wil handel. Jy onthou seker nog dat die woord “Wet” deur die Afrikaanse Verklarende Woordeboek onder andere beskryf word as: “Vaste reël waarvolgens ‘n sekere gebeure verloop: die wette van die natuur, die meganika, die swaartekrag. Dikwels vernoem na ‘n persoon wat dit geformuleer het bv. Ohm se wet (die wet van Ohm)”. Dan verwys die woordeboek ook na ‘n ongeskrewe wet: “’n vaste gewoonte binne ‘n groep. Bv. ‘n Wet van Mede en Perse”. Dan het ons elkeen persoonlik ook nog ons “Eie wetjies”. O, ek het so baie “Eie Wette”gehad en sukkel nog steeds om van almal ontslae te raak. En dan is ons almal geneig om mense te oordeel met die “Eie wette” van ons. In die verlede het enkele mense se eie wette later landswette geword en selfs groot oorloë veroorsaak.

Eie wette (of gebooie) gee dan aanleiding tot sonde (Lees Rom 7: 11), en die sonde veroorsaak die dood. Die rede hiervoor is dat as jy andere oordeel doen jy dit volgens ‘n wet of reël waarvolgens jý lewe. Dit maak jou ‘n Fariseër vir wie Jashuah gesê het: “Julle het die duiwel as vader en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Joh 8: 44). Maar die Fariseërs het met die Wet van Moses (God se Ou Testamentiese wet) geoordeel. Hulle het nie meer die reg daartoe gehad nie omdat God reeds vir die mensdom bewys het dat dit onmoontlik is vir die mens om deur die onderhouding van die Wet salig te word (Rom 3 : 20; 8: 3)—alleenlik Sy genade kon hulle red.

Alhoewel ek baie dinge hierbo kan noem wat kenmerkend is van hierdie twee paaie—of twee bome, is daar een ding wat baie belangrik is om te weet naamlik dat die vlees, waaruit vleeslike werke voortspruit, nie sommer maar net menslike swakheid is nie— dit is deel van die sonde-natuur en spruit voort uit die “Boom van kennis van goed en kwaad” (Gen 3: 1-7). Jy is of deel van die goeie boom en daarom dra jy goeie vrugte (Matt 7: 16-21), of jy is deel van die slegte boom en daarom dra jy slegte vrugte. Deur die sondeval het alle mense deel van die slegte boom geword (Rom 3: 23). Daarom sê God by monde van Joshua aan die volk: “Julle kan die Here nie dien nie” (Jos 24: 19). Paulus sê van Homself—en ook van ons almal— “Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees niks goeds woon nie” (Rom 7: 18). Ons is almal baie gou om te sê dat “ek weet dat ek is die grootste sondaar van almal”. Sê jy dit ook? As jy dit nog nie gesê het nie, sal ek verbaas wees, want ek hoor heeldag hoe mense dit vir my sê! Maar glo jy dit waarlik? Glo jy dit met die geloof wat die Heilige Gees in jou werk, of maar net met jou verstand? Of wil jy dalk indruk maak by mense?

As jy, soos die volk in Josua 24 sê dat ons “kan die Here nie dien nie”, doen jy goed. Jy sal nog beter doen as jy met jou mond verklaar en met jou hart glo dat daar niks— absoluut niks in jou is wat God kan behaag nie. As jy die woord glo wat Hy spreek: “Sonder My kan julle niks doen nie (Joh 15: 5)”, sal dit die begin wees van jou grootste geestelike groei ooit. Niks beteken NIKS. As jy niks meer het in jouself waarop jy kan vertrou nie, maar weet en ook verklaar aan God, dat jy absoluut arm is aan enige ander hulpbronne as Hy, is jy op die regte pad. Dit is dan ook wat die woord “arm van gees” (Matt 5: 3) beteken. Jashuah sê: “Salig is die wat arm van gees is”. As jy materieël arm is maak dit jou nog glad nie salig nie. Miljoene arm mense sterf daagliks sonder Christus en gaan verlore vir die ewigheid. Maar dit is na dié wat arm van gees is waarna die Skrif verwys. “Arm van gees beteken om sonder hulpbronne te wees —dus geen hulpbronne behalwe Jashuah alleen nie.

Hier in Suid-Afrika gaan ons baie gou leer dat daar geen ander hulpbron is behalwe God en Sy Seun nie. Lees nou die volgende Skrifte en besluit self of dit waar is of nie: Ps 33: 13-22; Ps 37: 3-5; 2 Kron 16: 9; Ps 46: 2; Jer 17: 5-8; Ps 94: 11. In ‘n vorige gedeelte het ek genoem dat God gesê het dat Sy volk se vashouplek eers sal moet verdwyn, en dit met almal sonder uitsondering gedaan sal wees, dan sal Hy op Sy volk ag gee. (Lees dit weer in Deut 32: 36). Vir ons sal alle hulpbronne moet verdwyn. Hoe gouer ons gaan leer om in geen opsig op iets of iemand anders te vertrou as net op Jahweh van die leërskare nie, hoe beter. As ons besef dat daar niks goeds in ons, dit wil sê ons vlees, woon nie (Rom 7: 18-19), sal ons God se regterhand in beweging sien oor hierdie volk van Hom aan die Suidpunt van Afrika. Onthou dat dit vir Hom gaan oor Sy Naam— Sy Naam wat Hy oor ons uitgeroep het (Eseg 20: 9; 36: 22; 39: 16; Jer 15: 16).

Laat die Heilige Gees jou nou leer dat jy, vir selfs die kleinste dingetjie, van Christus wat in jou woon, afhanklik is. Sê dit met jou mond en glo dit met jou hart (Rom 10: 8-10). Sê: “Jashuah, ek sê soos U gesê het in Joh 5: 19 “…die Seun kan niks uit Homself doen nie…”. Sonder U kan ek dus niks doen nie, en alles wat ek doen uit myself is niks, en eindig in niks. Dit is slegs ‘n gejaag na wind (Pred 1: 14). As U gesê het dat U kan niks uit Uself doen nie, wil ek waarlik nie so vermetel wees om te dink dat ek kan iets uit myself doen nie. Dan gaan ek val voor U kragtige hand soos Nebukadneser (Dan 4: 30) en ook Sanherib (Jes 37: 23-38) toe hulle daarin geroem het dat hulle deur hulle eie hand, wysheid en mag, hulle koninkryke opgebou het.

Maar dit is nie so maklik nie. As jy werklik gekies het om niks meer uit jouself te doen nie, maar dat Christus, wat in jou lewe, deur jou sal dink, kyk, praat, hoor, handel en wandel, dan het jy ‘n moeilike pad gekies! Onthou dat enige pad van geregtigheid wat jy kies niks en niemand anders as Jashua is nie. Hy sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe… (Joh 14: 6; Heb 10: 20; Efes 2: 18). Jy kan dus nie ‘n dissipel van Jashuah wees as jy nie dieselfde pad loop as wat Hy geloop het nie. Hy vra in Matt 20: 22 vir Sy dissipels: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.


60. Wat open jou ore om God se stem te hoor?

 

Die eerste ding is om stil te word voor God (Ps 62: 6). Ook is dit belangrik dat God gaan stil word teenoor jou (Ps 28: 1). “Hy swyg in Sy liefde” (Sef 3: 17). “…sodat ek nie, as U teenoor my bly swyg, word soos die wat in die kuil neerdaal nie” (Ps 28: 1). Jy het seker al in ‘n situasie beland waarin jy niemand anders se woord sal wil hoor as Jashuah s’n nie. By talle geleenthede het mense aan my gesê: “Ek het nou nodig om te hoor wat die Here sê, en nie jy of enige gelowige kan vir my hierdie vraag antwoord nie— God alleen kan!”. En as Hy dan teenoor jou swyg? Hy praat net nie met jou daaroor nie! Hy praat glad nie met jou nie! Dan begin jy diep self-ondersoek doen. Jy gaan kyk eerstens watter sonde is daar in jou lewe. Dit is presies hier waar meeste mense die fout maak, veral as God al aan jou geopenbaar het dat Christus jou geregtigheid is en dat Hy deur een offer wat Hy gebring het, jou geregverdig en geheilig het soos dit ook in die Hebreërs 10: 14 geskryf staan. Jy het dalk vergeet wat in ‘n vorige gedeelte geskryf is oor hierdie wonderlike waarheid dat Christus, deur Sy offer aan die kruis, ons geregverdig het van alle sonde en ons daardeur regverdiges gemaak het— al sou jy nog baie keer sonde doen. Onthou jy nog daardie woord? Blaai weer terug deur die vorige hoofstukke totdat jy dit vind, en lees dit weer. Dit sal jou goed doen! Ek hoop dat dit jou vir altyd sal genees van die verkeerde siening dat dit sonde is wat veroorsaak dat God nie met jou praat nie. As dit die geval was sou Hy nooit met jou kon praat nie. Maar ek wil byvoeg dat ek ook vir jare so verkeerd geglo het!

As jy dalk sou dink dat daar dalk sonde in jou lewe is en dat dit die rede is waarom God nie met jou praat nie, moet jy weer ‘n aantal Skrifte, wat ek vroeër aangehaal het, gaan lees. Ek noem nou enkele Skrifte: Rom 3: 24 en 28; Rom 5: 1 en 9; 1 Kor 6: 11; Gal 2: 16-17; Joh 15: 3. God verhoor jou nie omdat jy sondeloos is nie, maar omdat Hy jou liefhet en vanweë Sy genade oor jou. Sy Seun het al jou sondes op Hom geneem, ja, “Hy wat geen sonde geken het nie, het sonde vir ons geword sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor 5: 21). God sien ons dus as regverdiges, geregverdig deur die bloed van Sy Seun (Rom 5: 9) en beslis nie deur ons goeie, sondelose lewe nie. Ons word geregverdig deur die geloof (Rom 5: 1), wat nie uit onsself is nie, “dit is ‘n gawe van God” (Efes 2: 8).

Nee, as jy gaan soek na die rede waarom jy God se stem nie hoor nie, moet jy gaan soek na die baie ander stemme in jou lewe wat veroorsaak dat jy glad nie die stem van jou Vader kan hoor nie. Jashuah gaan nie hard skreeu tussen al die ander stemme om jou aandag te kry nie. In Jesaja 33: 15- 24 is daar ‘n baie belangrike Woord. As jy dit lees sal jy merk dat jy jou ore moet toestop en jou oë moet sluit vir baie dinge, sodat jy die Koning in Sy skoonheid kan aanskou. Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die Here? (Jes 42: 19). Voordat jy die Koning in Sy skoonheid kan sien (Jes 33: 17), voordat jy Jashuah kan aanskou (Joh 14: 19), moet jy eers blind word vir baie dinge in hierdie wêreld. Joh 9: 39-41: “En Jesus sê: Tot ’n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word. 40En dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons dan ook blind? Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.

Heeldag moet ons hoor, ons moet luister wat almal vir ons sê, ons moet nou die nuus luister— luister na ‘n ongekende vloedgolf van nuusberigte wat ons reeds oorvol sinne verder oorstroom. By al die korrupsie, haat en oorlog waarvan ons moet hoor, moet ons nog sien ook : fotos en videos van plaasmoorde, ongelukke en rampe. Ja, ek kyk ook daarna! Maar, wanneer ek stil word voor my Verlosser en Sy Vader—ook mý Vader! wat dit alles doen en bewerkstellig, sien ek anders. Ek sien dat Hy elke mens se sterfdatum en tyd, op die sekonde vooraf bepaal het. Ook presies hoe elkeen gaan sterwe. Is God dan wreed? Nee, stellig nie, Hy is inteendeel ‘n God van onbeskryflike liefde. Vir die wat Hom liefhet werk alles ten goede mee (Rom 8: 28-29), selfs‘n gru-dood. Jes 22:11 “…maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het, en Hom wat dit lankal beskik het , sien julle nie”. Weer wil ek sê: As jou oë Hom aanskou wanneer jy stil word voor Hom, en jy gee jou gees oor in Sy hande (Luk 23: 46), dan stroom daar vanuit Sy liefdevolle aangesig ‘n vrede en gerustheid dat Hy regeer in liefde! Jashuah het in die grootste beproewing van Sy lewe aan die kruis gesê: “Vader, in U hande gee Ek My gees oor”. Ek wil jou vir ‘n oomblik terugneem in die geskiedenis na miljoene—so beweer baie mense—wat as Christene dood gemartel was. Gruwelike moorde! Maar dit was Christene wat anders gesien het as ons vandag! Hulle het gelees van Stephanus se moord in Handelinge 6: 15; 7: 54-60 en het geglo dat diegene wat sterwe ter wille van hulle getuienis as kinders van God, ‘n “beter opstanding” verkry. Hiervoor moet jy lees in Hebreërs 11: 33-35. Jy moet dit lees saam met die Skrifte rondom dit!! Jy moet dit lees met ‘n oop gemoed wat ontvanklik is vir dit wat God aan jou wil openbaar.

As die blankes, wat nou so vermoor word, dan nie sterwe ter wille van die feit dat hulle Christene is nie, ter wille van wie of wat sterwe hulle dan? As hulle bloot sterwe omdat hulle witmense is, maar hulle is nie ware Christene nie, dan sterf hulle bloot omdat hulle aan ‘n sekere etniese groep mense op hierdie aarde behoort. Dit gebeur oor die hele aarde reeds vir baie eeue! Nasies roei ander nasies uit om verskillende redes. Ons lewe in ‘n wêreld van haat, en as die ware God nie ‘n nasie se God is nie, en Sy Seun nie hulle Verlosser nie, dien hulle dus ander gode—die belangrikste afgod is die “Eie Ek” omdat dit jouself god maak! In so geval sê God vir hulle:8Waar is dan jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou kan verlos in die tyd van jou onheil; want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Juda! (Jer 2: 28). Lees ook Jer 2: 11.

Het God ons nie uit Europa hierheen gestuur as Sy kinders nie? Ja, verseker! Maar ons het ons van Hom af weg gekeer na die afgode toe, waarvan die vernaamste die “Eie Ek” is. En ook Ongeloof. Hy sê in Jer 3: 19-20: “Ék het wel gedink: o Hoe gaan Ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee ’n kosbare land, ’n allersierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie. 20Maar soos ’n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die Here”. En ja, ons gaan kerk toe en verklaar dat ons ‘n Christen volk is, maar is die woord in die Skrif (Jes 29: 13-14) nie dalk op ons van toepassing wat sê:En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ’n aangeleerde mensegebod is,14daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil”. Matt 15: 8 sê dieselfde!

Is die geterg deur die “nie-volk” nie dalk dit waarvan Deut 32: 18-23 spreek nie? “Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het. 19Toe die Here dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters. 20En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ’n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie. 21Hulle het My ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ek sal dan hulle ywer wek deur die wat ’n nie-volk is, deur ’n dwase nasie sal Ek hulle terg. 22Want ’n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek”.

Ek wil jou vra dat jy gaan stil word voor God en dan lees jy 1Joh 2 : 15-17 15Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 16Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.17En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”. Ja, soos die Skrif hier sê: “Die wêreld gaan verby, en sy begeerlikheid” Wanneer jy voor God en Sy Seun aan Sy regterhand gaan sit, is jou gedagtes dalk vol van die verpligtinge van hierdie wêreld? Daarteen het Jashuah gewaarsku in Luk 21: 34-36: “MAAR pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. 35Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. 36Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan”. Soos ‘n bottel wat ‘n prop op het in die see drywe, is die bottel wel in die water maar die water is nie in die bottel nie. Ons is in die wêreld maar nie van die wêreld nie. (Joh 17: 13-18). En terwyl God hierdie Babiloniese-wêreldse ryk nou tref (Open 18: 4-5), soos wat Hy belowe het, wil Hy ons daaruit lei, omdat Hy ons liefhet! Hy wil nie hê dat ons saam met Babel getref word nie! As slegs jou voet nog in Babel is gaan dit saam met Babel getref word. Die “klip wat sonder toedoen van mensehande van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het” volgens Dan 2: 34 en 44-45, het reeds begin! Jahweh het reeds die aarde betreë en die aarde bewe! Babel is reeds besig om te val soos Jer 50 en 51 voorspel het. Ook Open 17, 18 en 19. Die woord is nou besig om in vervulling te gaan, vlak voor ons oë. Maar ons wonder nog wat met die ekonomieë van die wêreld gebeur! Ons beskuldig Shina, die geldmag en wat ook al, “maar Hom wat dit lankal beskik het het, sien julle nie” (Jes 22: 11)

Die verdrukking waardeur ons nou in Suid-Afrika, en ook in baie dele van die wêreld gaan, laat ons die stem van die Here baie duidelik hoor. Ps 119: 67 sê: “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal, maar nou onderhou ek U woord. Vers 71: Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek U insettinge kon leer”. Ons almal is bang vir verdrukking, maar dit is die vuur van die Gees wat die goud van die Woord in ons louter. Johannes die Doper het gesê : “Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur” (Matt 3: 11). Ps 12: 7: “Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal”.


61. Daar is ‘n plek van sielerus, naby die hart van God.

 

Ek wil nou met hierdie gedeelte na ‘n slotsom toe kom naamlik: Daar is ‘n lied in die Evangelie Liederboek (No 360) wat lui:

“Daar is ‘n plek van sielerus, Naby die hart van God

Van sonde-oormag nooit bewus, Naby die hart van God”

O, my groot begeerte is dat jy daardie plek gaan ontdek soos Lied 226 sê:

“As ek sit aan Jesus voete Spreek Hy woorde soet tot my

Beste plek wat ek ontdek het, mag dit my aldag daar kry”

Dit is die plek wat Jashuah so goed geken het. Dit is die plek waar Hy kon oorwin oor die dood: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs —Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het” (Heb 5 : 7-8;). Dit was Sy plek alleen met Sy Vader waar Sy stille oordenking nie deur mense, en deur dinge wat Hy sien en hoor, verstoor was nie, soos Job 15: 4 dit uitbeeld: Ja, jý breek die Godsvrees af en verstoor die stille oordenking voor die aangesig van God”.

Die Skrif sê dat Jashuah die gewoonte gehad het om Olyfberg toe te gaan en daar te gaan bid (Luk 22: 39). Het jy ook so ‘n gewoonte? Het jy ook so ‘n plekkie? Waar begin jy daarmee? Dit begin by ‘n wilsbesluit. Dit is jý wat moet besluit dat jy nou tot jou God en Sy Seun gaan terugkeer en gaan soek na ‘n diep, intieme liefdesverhouding met Hom. As Hy sê: “Soek My aangesig” dan gee Hy jou eintlik ‘n opdrag wat jy moet wil uitvoer. As jy nie wil gaan nie sal Hy jou beslis nie dwing nie! As jy wil sal Hy in jou begin werk om al sterker te wil: want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil 2: 12-13). Maar jý moet begin.

Die dissipels het vir Jashuah gevra om hulle te leer bid (Matt 11: 1). Toe het Hy vir hulle die “Onse Vader” geleer. Maar die grootste opleiding in gebed het Hy deur Sy voorbeeld geleer. As jy deur die 4 Evangelies lees sien jy telkens hoe Hy na ‘n eensame plek vertrek het om daar te gaan bid. Die woorde wat jy bid is belangrik. Ook is die gesindheid waarmee jy bid nog belangriker (Jak 4: 2-3). Dan is die plek waar jy bid belangrik. Ek bid terwyl ek motor bestuur, terwyl ek inkopies doen, ook in ‘n geselskap bid ek saggies. Dink jy dat Jashuah ook oral gebid het? Ja, beslis! Maar hoekom moes Hy na eensame plekke toe gaan om alleen met Sy Vader te wees? Daardie gebedstyd was anders! Het jy dit nog nooit belewe nie? Indien nie, dan mis jy die grootste en heerlikste tyd met jou Vader en ook met Jashuah. Die mense en dinge wat jou “stille oordenking voor die aangesig van God verstoor” sal jou nooit toelaat om ongehinderd in Sy teenwoordigheid te wees nie. Net soos wat God mense gebruik, so ook Satan. Ons Vader het telkens vir my gesê; “En jy mensekind, kyk hulle sit vir jou toue aan en bind jou daarmee, sodat jy nie onder hulle kan uitgaan nie” (Eseg 3: 25). As jy nie soos Jakob met God en die mense worstel en oorwin nie (Gen 32: 24-28), sal jy nooit stil kan raak voor God nie . Ook Ragel sê dat sy “bomenslike worstelinge met haar (my) suster geworstel en ook oorwin” het (Gen 30: 8). Het jy ook sulke oorwininge behaal oor die mense wat die oorsaak is dat jou stille oordenking voor die aangesig van God versteur word? As jy heeldag met mense praat oor Jashuah, sal jy geestelik niks vir hulle beteken nie. Maar as jy eerder heeldag met Jashuah praat oor hulle, sal Jashuah Homself ook openbaar aan hulle.

‘N man en meisie ontmoet mekaar en hou van mekaar. Dan begin die liefde ontwikkel en hulle raak smoorverlief op mekaar. In die begin van hulle verhouding was dit nog goed vir hulle om tussen mense te kuier. Maar namate die verhouding gegroei het het hulle almeer begin begeer om alleen met mekaar te verkeer. Ek hoop dit sê vir jou iets!


62. Oorsaak van ‘n verhouding wat nie groei nie : My “Eie Wet”

 

Job praat van sy “eie wet” in Job 23: 12. Ek het reeds hierbo geskrywe oor wat ‘n wet presies is volgens die woordeboek. Jou “Eie wette” is dan jou eie reëls waarvolgens dinge vir jou, of vir jou familie, volk, ras, godsdienstige oortuigings, ens moet verloop en werk. Jy kry dit in elke land onder elke nasie en in elke huisgesin en kerk. Dan sê mense gou: “Maar dit is nie hoe dinge werk nie”. Of, “Ek is nie so grootgemaak nie” of “My kerk glo nie so nie”. Jashuah het ook met hierdie dinge te doen gekry en gesê in Mark 7: 7: “Maar tevergeefs vereer hulle my deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Vers 8: Want terwyl julle die gebod van God nalaat hou julle aan die oorlewering van mense vas… En Hy sê vir hulle: julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Vers 9). Daar sal ‘n groot omwenteling in ons hele godsdiens moet plaasvind ten einde ons in ‘n onafgebroke liefdesgemeenskap met God te laat wandel te alle tye. As ek net kyk na watter rol die sosiale media in ons huise en in ons persoonlike lewens speel, besef ek dat daar is ‘n groter verlossing nodig van die sosiale media, die internet en TV— ‘n verlossing wat van Bo af kom—as ons werklik Jashuah se stem wil hoor, Sy aangesig wil sien en met Hom gemeenskap wil hê. Jy sal nooit van die “mind traffic” ontslae kan raak as jy nie met die hulp van God deur die bloed van Sy Seun, van hierdie dinge gereinig word nie. Dit is ‘n groter slawerny as dié aan drank, sigarette of dwelms. Miskien nie in alle gevalle nie maar in die meeste.

Vroeër jare was vas ‘n gewoonte in die Christendom (Hand 13: 2). Hulle het geglo dat om te eet en te drink, sonder om ook gereeld te vas—dit beteken om jou te onthou van kos— jou kan hinder in jou gemeenskap met God. Maar vandag is daar ‘n groter gevaar naamlik dit wat deur die media by jou ore en jou oë ingaan—jy “eet en drink” met jou oë en ore. Iewers by ‘n uitsaai-stasie word ‘n audiovisuele “tafel” vir jou berei—’n tafel waarby jy moet sit en “eet” met jou oë en ore. Jy sit voor die TV of met jou selfoon of rekenaar en jy neem dit in wat vir jou opgedis word uit ‘n “spens en in ‘n kombuis” wat deur vleeslike mense beman word. Baie keer lyk dit onskuldig, en selfs dinge wat jou wel geestelik baat, maar as jy weer voor die Vader gaan sit ervaar jy dat dit nie vir jou gees tot voordeel was nie. Het jy al ooit gaan kyk na die “spens en kombuis” waarin hierdie “kos” wat op jou “tafel” in jou TV kamer vir jou voorgesit word, voorberei word? Jy sal waarlik jou Vader moet gaan raadpleeg en die Naam van Sy Seun aanroep ten einde jou te bevry van hierdie grootste euwel van alle eeue. Ek kyk ook na die nuus oor die TV. Ook na sekere programme. Maar ek ervaar almeer dat die voordeel daarvan deur my gees bevraagteken word. Maar, hoe dit ook al sy, bespreek dit met jou Vader, Hy sal jou lei.

Watter rol sou jou “Eie Wet” hier speel? Sekerlik nuuskierigheid! Daardie “Ek” wil weet, of “Ek” wil sien! Net soos wat jou liggaam jou vertel watter kos jou nie goed doen nie, sal jou gees jou ook vertel wat hom/haar benadeel. Maar ook hier sal jy merk hoe jou “Eie wette” ‘n baie sterk invloed op jou geestelike lewe het. So ook die begeerlikhede van die vlees (1 Joh 2: 15-17; Mark 4: 18-19).

Die wette van hierdie wêreld en sy mense

Die woord van God vermaan ons baie sterk om ons te onderwerp aan die wette en instellings van hierdie wêreld, sy owerhede en regerings. Hiervoor moet jy lees in Rom 13: 1-7 en Tit 3: 1-3. As dit egter by ‘n keuse kom tussen die wil van God en die opdragte van die owerhede, dan kies jy om jou God te gehoorsaam soos die dissipels in Hand 4: 19-20 gedoen het—al kos dit jou ook vervolging en selfs die doodstraf!

Die ergste invloed op ons geestelike lewe is die mense rondom ons, ons geliefdes, vriende en familie. Elkeen wil tog so graag sy wil op jou afdwing. Die meeste mense op hierdie aarde is manipuleerders van een of ander aard omdat ons almal van “Die boom van kennis van goed en kwaad”(Gen 3: 6-7) geëet het. Eva het eerste geëet, en daarna het Adam geëet. Deur hom het hierdie sonde deurgedring tot alle mense (Rom 5: 18-21). Die kennis van God waarna die Skrif telkens verwys, beteken om God te ken en ook Sy Seun te ken. Die Skrif verwys beslis nie na die verstandelike kennis nie— die sogenaamde wysheid van die mense en hierdie wêreld. Hiervoor is dit belangrik dat jy ‘n paar sleutel-skrifte gaan lees: 1Kor 1: 17-31; Rom 8: 5-14 ; 1 Kor 8: 1-3. (Let wel: As jy 1 Kor 8: 1-3 in die Amplified Bible kan lees sal dit vir jou baie beteken) Vergelyk dit met die persoonlike kennis van Jashuah in Fil 3: 10 en let op dat daar ‘n offer aan te bring is. Jy kan Hom nie persoonlik ken in die krag van Sy opstanding nie, as jy nie eers, soos verse 7-10 sê, sekere dinge prys gegee het nie. Lees dit self, bid daaroor en besluit dan self of die prys van die opoffering van jou vleeslike kennis, vir jou die offer werd gaan wees.

Dan is ons weer terug by die vlees van die mense rondom my. Ons wil so graag mense behaag en hulle nie seermaak nie, maar Paulus sê: “As ek nog mense behaag as ek nie ‘n dienskneg van Christus nie” (Gal 1: 10). By elke besluit wat jy moet neem sal jy vind dat óf jou vlees, óf ander mense se vlees, jou probeer beinvloed om nie die wil van die Gees te doen nie. Daarom het jy altyd ‘n keuse tussen die wil van mense— dus die wil van die vlees— en die wil van God. Mense wat jou altyd wil beinvloed met ‘n “beter plan” mag dit wel goed bedoel, maar dit is in die meeste gevalle hulle vlees, en nie die Gees van God nie.

Die “666” op die voorhoof (Open 13: 18)

Ek het al in vorige gedeeltes oor hierdie saak van die “666” op die voorhoof en op die regterhand van mense, geskrywe. Kortom kom dit daarop neer dat die 666 op die voorhoof van mense is ‘n verklaring dat die gedagtes wat in hierdie kop bedink word, is die gedagtes van die vlees, dus die gedagtes van die mense. Dit is die gedagtes waaroor Paulus skrywe in Romeine, die gedeelte wat, hoop ek, jy so pas hierbo gelees het. Dit is die gedeelte wat sê dat die gedagtes van die vlees God nie kan behaag nie.

Die gedagtes wat Hom wel behaag is die gedagtes van die Gees. Dit is die gedagtes wat die Gees bedink— die Heilige Gees. Lees weer Rom 8: 5-9. Dit is die gedagtes waarvan Paulus sê: “Maar ons het die sin van Christus” (1 Kor 2: 16). Die vraag is nou: Maar hoe hou ek op om die gedagtes van die vlees te bedink en hoe begin ek om die gedagtes van die Gees te hê? Hiervoor het jy die “Helm van verlossing” elke dag nodig. Ek verklaar persoonlik elke oggend, al is ek vroeg reeds op die pad, dat ek my met die “Volle wapenrusting van God bekleë het”. Lees weer Efes 6: 10-20 asook 2 Kor 10: 3-6 en blaai dan terug na die gedeelte wat ek oor die “Wapenrusting van God geskryf het”. Of jy dit wil glo of nie, maar jy is elke oomblik van die nag en dag betrokke by ‘n geestelike oorlog. Sonder die wapenrusting van God sal jy nie kan staande bly teen al die liste van die duiwel nie (Efes 6: 11). “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Vers 12). Jy gaan slaap met hierdie wapenrusting en staan daarmee op. Jy is nooit daarsonder nie. Laat die Heilige Gees jou verduidelik wat elke deel daarvan beteken en hoe dit werk.


63. Onthou jy nog die “Bloedverbond”?

 

Miskien sal jy eers ‘n bietjie moet kopkrap en in die verlede gaan indelf om weer te onthou dat daar ‘n tyd was waarin God met jou ‘n verbond gemaak het deur die bloed van Sy Seun. As jy dit kan onthou is die volgende vraag of jy onthou wat die bloedverbond behels het. Die afgelope tyd praat die Vader met my baie oor Sy verbonde met my. Verbonde? Ja, daar is nie net een nie. Daar is ook nog Sy “Genadeverbond”, Sy “Vredesverbond” ens.

Hy het met Abraham (Gen 17: 2-14) die “Verbond van die besnydenis” opgerig. Dit was ‘n teken dat hulle aan God behoort het en het ‘n baie duidelike verskil tussen God se volk en die volkere oor wie Sy Naam nie uitgeroep was nie, aangedui. Abraham se seun Isak is gebore deur ‘n wonderwerk. Hy is gebore deur die belofte wat God aan Abraham gemaak het toe dit menslik onmoontlik was vir hulle om kinders te kon hê (Rom 4: 13-25; Heb 6: 13-20). Hy is dus nie gebore deur die logiese nie, maar deur die bo-natuurlike. Dit het ‘n verskil gemaak tussen die volk van God—wat uit Isak voortgespruit het— en die ander nasies. Die “ander nasies” waarna ek hier verwys sluit ook Abraham se seun Ismael—by die slavin Hagar— in. Ismael is op natuurlike, logiese wyse verwek. Met die nakomelinge van Isak kon God ‘n verbond maak, maar nie met die ander nie. Lees Gal 4: 20-31. Die onderskeid tussen Isak se nageslag en die ander nasies het Hy aangedui deur die besnydenis van alle manlikes in hulle midde.

In die Nuwe Testament, die despensasie van Sy genade, het Hy ook ‘n merkteken daargestel—’n sigbare aanduiding dat dié volk, Sy volk is. Dat hulle die volk is wat Hy uit die heidene vir Sy Naam aangeneem het (Hand 15: 14-18). In die Ou Testament was dit ‘n fisiese volk, ‘n heilige, afgesonderde volk wat nie tot die nasies van die wêreld behoort het nie (Ester 3: 8; Num 23: 9). En die besnydenis was die teken dat iemand aan die volk van God behoort het. En nou in die genadetyd? Dit is nog steeds so ‘n afgesonderde volk wat hom nie tot die nasies reken nie—alhoewel hulle uit al die nasies voort kom. Dit was God se belofte aan Abraham: “en in jou nageslag sal al die geslagte van aarde geseën word” (Gen 28: 14). Van die volk van God kan nou gesê word: “Julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is”. Lees ook Efes 2: 11-14. Dit is baie belangrik!

God het daarna uitgesien om hierdie volk, nie slegs uit die Jode nie, maar ook uit die heidene, vir Sy Naam aan te neem (Hand 15: 14-18). Vir die Jode was dit aanvanklik nie aanvaarbaar nie. Lees Petrus se reaksie in Hand 10 en ook Hand 11: 1-18; Gal 2: 11-16. Soos in die Ou Testament, is daar weer ‘n merkteken aan Sy volk in die Nuwe Testament. Dit is nie ‘n vleeslike besnydenis nie maar ‘n geestelike: die besnydenis van die hart. Lees nou eers Kol 2: 9-12; Efes 2: 11-22; Rom 2: 28-29; Rom 4: 11-12; Fil 3: 3.

Die vraag is nou of die besnydenis van die hart ook ‘n uiterlike sigbare teken het, soos wat die besnydenis aan die vlees in die Ou Testament was? Die vraag is dus of ‘n mens nou in die Nuwe Testament, die dispensasie van die genade, sal kan sien dat jy deel is van die volk van God, of soos Paulus dit noem: “Die Israel van God” (Gal 6: 16)? Sal hulle dus kan sien dat jy deel is van die volk van Jahweh soos wat hulle in die Ou Testament kon sien of iemand deel was van Israel? Die antwoord is “Ja”. Handelinge 4: 13 sê: “… het hulle as metgeselle van Jashuah herken”. Paulus sê in 2 Kor 2: 15-16:Want ons is ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ’n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ’n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam? Dit is hier waar die “Stilles in die land” se kernboodskap ter sprake kom. As ons “‘n aangename geur van Christus” is beteken dit dat ons geruik word deur diegene wat verlore gaan en ook hulle wat gered word. Die wat gered word ruik by ons die lewe en dit verwek lewe by hulle. Vir hulle wat verlore gaan is ons ‘n reuk van die dood, en dit lei vir hulle tot die dood. Dit alles sonder woorde!

Daar was ‘n tyd waarin die gelowiges oral gepreek het. Ons lees baie hieroor in die boek Handelinge. Maar God het gesê dat Hy iets nuuts gaan maak: “Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê; Skryf, want hierdie woorde is betroubaar” (Open 21: 5). Het jy al gewonder hoedat die Skrif sê dat ons nie Jashuah se stem op die strate sal hoor nie (Matt 12: 19), maar tog het hulle wat deel is van Sy liggaam, oral gepreek? Dit was soos die Gees van God hulle in daardie dae gelei het, maar nou begin Hy die woord in 2 Kor 2: 15-16 implementeer. Ons praat en preek nie meer so baie nie, maar ons lewe dit wat ons glo. Die Antichris word gekenmerk aan “‘n mond wat groot dinge spreek” (Dan 7: 7). Het die godsdiens van vandag nie ‘n oorlog van woorde geword nie? Hulle Redeneer en debatteer oor wat die waarheid. Daar is duisende boeke geskryf oor wat nou eintlik die waarheid is. Tog is daar so min wat waarlik lewe wat hulle glo. Paulus sê in 1 Kor 4: 19-20: “…want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag”. En dit is ook wat hy sê in 1 Korintiërs 2: 4-5 : “…en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie maar in die krag van God” (Vers 5). Dit het hy gesê nadat hy in Athene op die Areopagus ‘n groot toespraak gelewer het oor die evangelie van Jesus Christus en ook in ‘n woordestryd met die Griekse wysgere van daardie tyd, gewikkel was. Die Geskiedenis sê dat hy nie groot sukses gehad het met die verkondiging van die evangelie daar nie. Daarna egter het hy afgegaan na Korinthe waar hy “in swakheid en vrees en veel bewing was” (1 Kor 2: 4-5). Hier kon Jashuah Homself openbaar in Sy reddende krag, omdat Paulus swak geword het in homself (2 Kor 12: 9-10). Die Here het “aan die woord van Sy genade getuienis gegee deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind” (Hand 14: 3).

Ons gaan agterkom dat ons al stiller gaan word maar dat ons al meer dit wat ons glo, gaan lewe. Hoe meer ons glo dat Christus ons lewe is en hoe meer MY lewe saam met Christus verborge is in God (Kol 3: 3-4), hoe minder gaan EK word en Hy meer (Joh 3: 30). Hoe meer Hy in MY lewe gaan verskyn, hoe minder gaan daar van MY EIE-EK gesien word. Hoe stiller gaan EK ook word. Die mense gaan slegs Christus by ons ruik’n aangename geur van die lewe, wat lewe verwek by diegene wat gered gaan word! Dit is “Die stilles in die land” (Ps 35: 20). Baie sal hieroor redeneer en sê dat ons het ‘n opdrag om die evangelie te gaan verkondig. Dit is so! En as die Heilige Gees jou nog steeds lei om oral te preek, doen dit dan! Maar ook sal jy dalk vind dat die Gees jou meer selektief lei, slegs na sekere mense toe. In Handelinge 11: 19 lees ons: “Die wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stephanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenicië en Ciprus en Antiochië sonder om tot iemand die woord te spreek behalwe toe die Jode alleen.” Hier het die Heilige Gees hulle anders gelei. Hulle het deur verskeie streke gegaan en nie die evangelie oral gepreek nie maar slegs tot ‘n spesifieke groep mense. Ons moet dus maar die Gees vertrou om ons te lei.

Terug by die “Bloedverbond”. Volgens dié verbond wat God met ons gemaak het deur die bloed van Sy Seun (Matt 26: 27-28), is “Ek” dood omdat EK saam met Christus gekruisig is, en Sy Seun lewe nou in my. Sy opstanding uit die dode het vir my wedergeboorte teweeggebring. Glo jy dit? Onthou, om dit slegs te weet is nie genoeg nie, jy moet dit glo met jou hele hart (gees). As jy dit waarlik glo met ‘n geloof wat die Heilige Gees in jou werk, sal jy, soos Jashuah, nie meer jou stem op die strate laat hoor nie, maar dié Jashuah wat Johannes op Patmos gesien het—die Jashuah wat uit die dode opgestaan het, sal in Sy opstandings-heerlikheid deur jou lewe, deur jou skyn en aan jou geruik word—’n lieflike geur. Dit is waarom Paulus gesê het dat die bediening van die Gees veel groter in heerlikheid sal wees as die bediening van Moses—dit is die bediening van die Wet (2 Kor 2: 7-8). En dit was die “Stilles in die land”. (LW: As jy die webtuiste van die Stilles in die land se Inleiding lees by “Omtrent ons” of “About us” sal jy kortliks die geskiedenis van die Stilles in die lande lees: Dit was mense wat deur eeue heen nie die groot sprekers en mense wat op godsdienstige gebied ‘n groot indruk gemaak het nie, maar wat in stilte die evangelie gelewe het. Jashuah se opstandingslewe het deur hulle geskyn en gestraal ! Hulle was buite die hoofstroom. ).

Dit is wat God met Sy verbond op hierdie aarde wil bereik deur ons: Hy wil Sy Seun deur ons openbaar op hierdie aarde—nie met groot woorde soos die “Vierde dier” (Antichris) (Dan 7: 7-8) nie, maar soos die Son van geregtigheid, sonder groot geraas, net skyn in Sy krag. Rigters 5: 31 sê: “Maar die wat Hom lief het is soos die opgang van die son in sy krag”. Open 1: 16: “…en Sy aangesig was soos die son wat skyn in Sy krag”. Matt 13: 43: “Dan sal die regverdige skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor”. Die mensdom het moeg geword vir die gepreek deur leraars, vir die gedurige getuienisse van Christene oor hulle geloof, en Bybelse skrifte wat oral gekwoteer word. Die mensdom soek na ‘n godsdiens wat werk. Die media is oorstok met advertensies van allerlei aard. En as jy die dag die produk bestel en ontvang, moet jy met ‘n skok agterkom dat die ding nie werk nie. Elkeen sal sê: “My geloof is nie so nie, dit werk regtig! Regtig? As jy dan vir hom sê: maar ek sien nie die inwonende Christus in jou nie, sal hy ook daarvoor ‘n antwoord hê.

Maar 1 Joh 4: 17 het ‘n groot woord vir ons:Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld”. Raak eers stil voor jou Vader en betrag hierdie woord. Wat ‘n Woord! Hy sê nie dat ons in die toekoms so sal wees soos Hy nie. Nee, Hy sê dat ons nou so is soos Hy! Nou hoekom is ons nie so nie?

Hoe meer ons besig is met die dinge van hierdie wêreld, hoe meer ons dit bedink wat in hierdie wêreld aangaan, hoe meer kry die god van hierdie wêreld geleentheid om ons sinne te verblind sodat die heerlikheid van God wat in die aangesig van Jesus Christus is, op ons nie sou skyn nie (2 Kor 4: 3-6). Hoe meer jy jou oog vestig op Jashuah (Heb12: 2), en die dinge wat daarbo is bedink (Kol3: 1-4), en hoe meer jy met Sy Gees vervul word, hoe meer word jy van gedaante verander van heerlikheid tot heerlikheid na die beeld van Christus (2 Kor 3: 17-18). Moenie dink dat daar fout is met jou as hierdie paragraaf jou kop laat draai nie. Dit is waarlik ‘n mondvol! Jy sal moet bid en peins hieroor, dalk nog vir ‘n geruime tyd. Een ding weet ek naamlik dat jou liefdevolle Vader met jou ‘n verbond gemaak het deur die bloed van Sy Seun, en Hy dink gedurig aan hierdie verbond (Eseg 16: 60; Ps 105: 8). Bid Hom nou dat Hy alles wat die vlees, die sonde en die wêreld in jou gees en siel ontwrig het, sal afwas deur die bloed van Sy Seun (1 Joh 1 : 7). Hy nooi jou “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes 1: 18). Amen.


64. Trappies in die buitense Voorhof.

 

Eseg 40: 20- 22 verwys na “7 Trappies waarmee ‘n mens kon opklim” in die buitenste voorhof van die Nuwe Tempel. Die tempel waarna die Heilige Gees verwys is beslis nie die tempel van Salomo nie. Dis ‘n tempel van die toekoms en daar is baie menings hieroor. Maar wat egter nou belangrik is is dat die trappies nie slegs stap-vir-stap vorentoe gaan nie, maar dit gaan trap-vir-trap boontoe. Daar is ‘n verskil: Trappe gaan opdraande, waar treë op gelyk pad vorentoe gaan. Daar is ‘n grootpad waarvan die Skrif praat in Jes 35: 8. Maar dit is die weg vir Sy volk (Jes 62: 10). Vir die priesters wat in Sy heilige tempel is, gaan hulle vooruit met trappe teen die swaartekrag of aantrekkingskrag van die aarde. Dit verg ‘n poging, of inspanning om opwaarts te beweeg. Ons lees dat die Skrif praat van optrek na Jerusalem. Om na die plek te gaan waar God jou wil hê moet jy OP trek. Dit is ‘n swaar pad. Om van Sy wil af weg te trek is ‘n maklike pad—’n afdraande pad! Jy maak net die remme los en daar gaan jy!

Om dus in die buitenste voorhof op te beweeg lei God jou trappie vir trappie na bo— dis ‘n opdraande pad! Petrus sê: “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis…”. Paulus voeg daarby in 1 Kor 9: 24-27: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.25En elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ’n verwelklike krans te ontvang, maar ons ’n onverwelklike. 26Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. 27Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie”. Jy gaan dus geestelik niks bereik as jy nie die steil trappe daarheen gaan opklim nie. Jes 26: 7 sê: “Die pad van die regverdige is gelyk”. As jy die gelyk pad van die regverdige loop sal jy beslis gered word, maar God begeer meer vir ons as om slegs gered te word.

God wil hê dat jy deel van die heilige priesterdom moet wees, waarvan 1 Pet 2: 9 praat: Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig”. Ek het voorheen genoem dat God ‘n koninkryk van priesters wou hê: Exod 19: 6 “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees”. Maar die volk wou nie. As jy egter “Ja”gesê het daarvoor, sal jy nooit spyt wees nie, al is dit soms nie so maklik soos die gelyk pad nie. Die loon wat Jashuah self jou sal gee, weet ons nog nie wat dit gaan behels nie, maar dit gaan heerliker wees as wat ons kan dink. Lees 1 Kor 2: 9-11.

Priesters is voorbidders

Die werk van ‘n priester is om ‘n voorbidder te wees. God het besluit dat Hy die mens as medewerker wil hê (1 Kor 3: 9). Weet jy hoe begeer Jashuah om jou as Sy medewerker te hê? Lees Rom 15: 30; 2 Kor 1: 11; Efes 6: 18; Fil 1: 19. En hierdie medewerkers se werk is om ‘n baie belangrike gebeurtenis in die eindtyd te laat plaasvind naamlik om die volheid van die heidene te laat ingaan. Lees Rom 11: 25 en dan bid jy solank oor daardie belangrike taak as medewerker in die gebed. Let Wel: As die volheid van die heidene nie ingegaan het nie sal die verharding in Israel en Juda se harte nie verander nie. Maar ek moet eers ‘n paar ander belanrike dinge met jou deel voordat ons gaan terugkom na die onderwerp. As jy gekies het om ‘n voorbidder te wees, maak dit beslis God se hart bly! Dan vra ek jou: By hoeveelste trap trek jy nou al? As jy by die sesde trap trek moet jy tog nooit neersien op hom wat by die eerste trap is nie. Onthou jy nog dat jy ook by die eerste trap begin het? Moet dit nooit vergeet nie! As jy dit vergeet sal jy beslis begin roem, en roem is trots. Was dit nie oor trots wat God Satan uit die hemel gewerp nie? (Jes 14: 11). As jy nou eers by die onderste trappe is, skep moed, want Jahweh sal dit vir jou voleindig! (Ps 57: 3, Ps 138: 8). Hy sal “die goeie werk wat Hy in jou begin het, voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil 1: 6). En dit bid ek ook nou vir jou met groot blydskap oor die keuse wat jy gemaak het. Die Here sal dit vir jou voleindig en jou uiteindelik by die 7de trap uitbring, want Hy is goed en Hy is getrou! Dit gaan vir Hom oor Sy Naam en Sy heerlikheid—nie oor jou of oor my nie, maar oor Hom! Jy is nou Sy medewerker, nie Hy jou medewerker nie, Hy wil hê dat jy Hom Sy sin kan gee, nie Hy jou jou sin sal gee nie. O, wat ‘n voorreg om aan Hom te behoort Hy het ons gekoop met Sy bloed vir Sy Vader (Open 5: 9; 1 Kor 7: 23), wat nou ook ons Vader is (Joh 20: 17).

Ek glo dat die Woord wat jy ontvang het in die eerste 6 hoofstukke tesame met hierdie woord wat ek nou met jou gaan deel in die 7de hoofstuk, genoegsaam is om jou die 7de trap te laat bereik. As ek hier om een of ander rede sal moet ophou skrywe— as bv die internet en die media om een of ander rede tot ‘n stilstand geroep word— sal jy tot hier toe genoeg geestelike voedsel hê om die wedloop te voleindig. Aan Elia het ‘n engel gesê: “Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel” (1 Kon 19: 4-13). As jy dalk geestelik so naïef is om vir my te sê: “Maar ek het al hierdie dinge wat jy skrywe vantevore gelees en gehoor. In die verlede het jy dit al vir ons gesê, dit ook al geskrywe. Is daar nie IETS NUUTS wat jy ons kan vertel nie? ”. Dan wil ek jou “n groot vraag vra: toe jy dit vantevore al gelees en gehoor het toe ek daaroor gepraat en geskrywe het, het jy dit toe geëet ? Tot Esegiel kom die woord; “Maar jy, mensekind, luister na wat Ek jou sê; wees nie wederstrewig soos die wederstrewige huis nie; maak jou mond wyd oop, en eet wat Ek jou gee. (Eseg 2: 8) en ook: “Daarna het Hy vir my gesê: “Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel. 2Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet 3en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet” (Eseg 3: 1-3). Jeremia sê in Jer 15: 16: “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, Here, God van die leërskare!”. Ek vra jou weer die vraag of jy deur die jare die woord wat tot jou gekom het geëet het— nie fisies geëet het soos wat ‘n mens jou kos eet nie, maar met jou gees geëet het? Dawid sê: “Ek U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Ps 119: 11).

Of het hierdie saad van die woord dalk by jou nie op goeie, diep omgeploegde grond geval nie? Het dit dalk by jou tussen die rotse geval, of tussen die onkruid? Of dalk langs die harde pad? Lees nou eers Matt 13: 19-23 en dan gaan buig jy jou neer voor jou Vader en vra Hom of jy nie dalk in die verlede gulde geleenthede laat verby gaan het nie, soos die mense van Athene wat vir “…niks anders tyd gehad het as om IETS NUUTS te sê en te hoor nie”. (Hand 17: 21). Jy kon al by die 7de trappie getrek het, maar nou is jy nog eers by die onderste trappie.

Maar, moenie te lank stilstaan by jou mislukkings nie. God vergewe menigvuldiglik. Bely dit dadelik voor Hom en aanvaar Sy vergifnis met groot dankbaarheid. “Hy wat die hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk is nie geskik vir die koninkryk van God nie” (Luk 9: 62). Waarom nie? Omdat, as jy skeef geploeg het en jy draai om om te kyk na die skewe stuk werk, ploeg jy nou alweer verkeerd. Ook is dit waar dat as jy goed geploeg het en jy draai om om daarna te kyk, ploeg jy dalk nou skeef! Let op dat Paulus sowel as Johannes in hulle sendbriewe die ou boodskap maar weer oor en oor geleer het. Lees 1 Kor 2: 1-4: 1 Joh 2: 7-8. ‘N ou broeder, wie ek vir baie jare ken en wat by die dag vir my net kosbaarder word, het onlangs vir my oor die telefoon gesê dat hy nou hierdie woord in hierdie “12 Hoofstukke” asook op die webtuiste—“Die Stilles in die Land”—, vir die eerste keer lees. Hy sê dat hy dit oor en oor lees en dat dit elke keer vir hom nuut is. Het jy nie al gewonder of dit vir my as die skrywer en prediker van die woord eentonig is om dieselfde woord al vir 50 Jaar te preek nie? Ja, in 1970 het God die “Woord van die Kruis” aan my openbaar, en sederdien is dit die kernboodskap van “…die krag van God” ( 1 Kor 1: 18) in Sy koninkryk hier op aarde. En ek wil/kan niks anders preek nie (1 Kor 2: 1-10). “Maar God het dit aan ons deur Sy Gees geopenbaar…” (1 Kor 2: 10). En dit is wat die verskil maak tussen die persoon wat moeg word vir dieselfde ou boodskap en die een vir wie die ou boodskap altyd nuut is. Dit is wat dalk by jou ontbreek! Gaan bid daaroor.

Paulus sê: “Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” (Rom 7: 18). Kan jy ook, soos Paulus, dit weet? Dink jy dat jou hemelse Vader dit nie ook weet nie? Dink jy dat jou Verlosser, wat al jou sondes op Hom geneem het en daarvoor gestraf is, dink jy dat Hy nie weet dat daar niks goeds in jou woon nie? Daarom moes HY jou regverdig maak deur Sy offer aan die kruis. Daarom is Hy nou jou geregtigheid. Nou, moenie te lank stilstaan by jou oortredinge nie. “Sewe maal val die regverdige en staan weer op” (Spr 24: 16). Hoe nader jy aan God kom en hoe meer jy jou in die teenwoordigheid van Sy Seun Jahshua bevind, hoe meer gaan jy bewus word van die sonde en die vlees in jou. Hoe meer gaan jy ook besef wat Jashuah alles aan die kruis moes dra en waarvoor Hy gestraf moes word in die Hel. Ook gaan jy almeer besef hoe gruwelik hierdie sonde in die oë van God was, soveelso dat Hy Sy geliefde Seun moes verlaat en van Hom moes weg draai toe Hy sonde geword het aan die kruis.


65. Kennis van alles wat goed is in my.

 

Jy het nou seker al besef dat daar niks goeds in jou woon nie. Nou sê die Skrif vir ons dat ons kennis moet kry van alles wat goed is in ons: “dat die gemeenskap van jou geloof kragtig mag word deur die kennis van alles wat goed in julle is, tot eer van Christus Jesus” (Filemon 1: 6). As daar dan nou niks goeds in my woon nie, soos wat die Skrif sê in Rom 7: 18, hoe kan Filemon 1: 6 sê dat ek moet kennis kry van alles wat goed is in my? Die Skrif kan homself tog nie weerspreek nie! Nee, alles wat sleg is kom van die sondeval af, van Satan af. Alles wat goed is kom van Christus, ons Geregtigheid, af. Dit is baie duidelik dat ons van albei hierdie twee uiterste pole, lig en duisternis, geregtigheid en ongeregtigheid, ‘n openbaring moet kry. Dit is ook belangrik dat ons aan die een kant nie te lank by ons sondes sal stilstaan sodat ons nooit opmerk dat Christus alreeds baie goeie dinge in ons bereik het nie. Soos Paulus sê: “Maar wat ons reeds bereik het…” (Fil 3: 16). Dus sê God se woord dat jy—al dink jy nie so nie—reeds iets bereik het, netsoos die gelowiges in Filippi. As jy dit nie glo nie sal jy nie ‘n voorbidder kan word nie. Die rede? As jy God se lewende Woord nie glo nie, maak jy Hom tot leuenaar en pleeg jy die grootste sonde naamlik ongeloof (Joh 16: 8-11; Rom 14: 23).

Watter goeie dinge is daar in jou en in my? Ten eerstens moet ons noem dat, toe God Sy Seun aan ons geopenbaar het, ons Hom uit vrye wil aangeneem het as ons Saligmaker. Dit is die eerste goeie ding in jou: Die WIL om Jashuah as jou Verlosser te hê en ook te ken. En ook die Vader te ken. Daarom laat Hy my ook hierdie Woord aan jou skrywe soos Johannes ook sê in 1 Joh 2: 12-14. Lees dit biddend en peinsend. Waarom het hierdie woord by jou uitgekom? WAAROM? Waarom laat God my dit aan jou skrywe? Waarom het Hy Paulus en Petrus en Johannes aan my en jou laat skrywe? Waarom het Sy Woord in ons harte weerklank gevind? Waarom soek ek en jy Sy aangesig? Waarom wil ons Hom net beter ken? Baie mense lees die Bybel en tog het hulle nie die begeerte om Hom—die Skrywer—beter te ken nie. Van hulle het Jashua gesê: “Julle ondersoek die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is die wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie” (Joh 5: 39-40). Hulle is mense “wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kom nie” (2 Tim 3: 7). Wat maak dat jy en ek nie ophou om Sy aangesig te soek nie? Die antwoord is eenvoudig maar wonderlik: “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is” ( 2 Tim 2: 19). 1 Joh 2: 12-14: “Ek skrywe aan julle, my kinders, omdat die sondes julle vergewe is om Sy Naam ontwil. Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken…” Lees nou self verder. Om dieselfde rede lees jy vandag hierdie woord! Glo jy dit? Jashua sê vir die vrou by die put: “Dit is Ek wat met jou spreek!” (Joh 4: 26). Daar is miljoene mense op aarde—eintlik 7.2 Biljoen— waarvan baie miljoene, seker etlike biljoen, al met ons Bybel te doene gekry het, maar nooit aangetrokke gevoel het daartoe nie. Waarom nie? Waarom is daar biljoene wat net nooit die begeerte het om God, die Skepper van alles, beter te leer ken nie? Meeste mense het iewers van Jesus gehoor. Wat maak dat jy en ek, toe ons van Hom hoor, net nie genoeg van Hom kan hoor nie. En dan is daar nog ‘n groter begeerte by ons: ons wil Hom ken—van naby ken, persoonlik “ken in die krag van Sy opstanding” (Fil 3: 10). Waarom? Jashuah bid vir Sy dissipels tot Sy Vader: Joh 17: 6, 9: Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort”. Voordat jy nog in jou moeder se skoot gevorm was het Hy jou al geken en jou by jou naam geroep. Jes 43:1 “Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne”. Lees ook 1 Kor 6: 19-20. Glo jy dit? Indien wel, loof jou Vader en vir Jashuah daarvoor. Maar indien jy dit nie glo nie, waarom kwel dit jou dan? Net die feit dat dit jou kwel laat jou verskil van die biljoene vir wie dit nie kwel nie! Dit is dan nog ‘n goeie ding in jou. Bid dan nou die Vader dat Hy Sy Seun aan jou sal openbaar. En dan bid jy dat Hy ook verder Sy Seun in jou sal openbaar, op Sy tyd (Gal 1: 15-16). Jy het mos die Bloedverbond met Hom gesluit? Volgens daardie verbond ken jy Hom: 33Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. 34En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie”.

Jy kan nou self verder gaan om die dinge wat daarbo is te bedink, “waar Christus aan die regterhand van God sit” (Kol 3: 1-4). Bedink alles wat Hy jou al geleer het— “kennis van alles wat goed is in jou” (Filemon 1: 6). Dank Hom daarvoor! Loof Hom en prys Sy Naam! Moenie sit en top oor alles wat jy nog nie het nie! Alles behoort reeds aan jou (1 Kor 3: 21-24). Dit moet nog net aan jou geopenbaar word wat alles joune is. Jy het reeds die volheid in Hom maar dit moet nog net aan jou bekend gemaak word wat dit alles behels (Kol 2: 9-10). Jy is reeds ryk in Hom—ryker as wat jy besef (1 Kor 1: 4-8). Jy sal dit al meer uitvind. 2 Pet 1: 3 IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, 4waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

Eers moet jy bid vir Sy liefde en geloof want dit is die voorwaarde wat oral in die Nuwe Testament voorkom, dat jy geloof en liefde sal hê. Filemon 1: 4: Ek dank my God altyd wanneer ek aan jou in my gebede dink, omdat ek van jou liefde en geloof hoor, wat jy met betrekking tot die Here Jesus en al die heiliges het”. En hierdie voorwaarde kom verskillende plekke in die Skrif voor. Lees Efes 1: 15-16; Efes 3: 17. Maar jy besit dit ook reeds. Jou oë moet net daarvoor oopgaan dat die Skrif sê; “…omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat in ons woon”. Let op: Dis reeds uitgestort in jou hart—jy moet dit net glo! En, wat die geloof aan betref, dit werk deur die liefde (Gal 5: 6). Dus het jy reeds die geloof. Jy moet dit net glo!! Jy sal sê dat dit ‘n paradoks is. Dit is ‘n paradoks om te glo dat jy geloof het!

Want die mond van Jahweh het dit gespreek

In Hoofstuk 6 het ek dit reeds geskryf maar ek herhaal dit hier: Jes 40: 5: “En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die Here het dit gespreek”.

Al die groot waarhede waarvan die Skrif sê dat dit reeds joune is in Christus, moet jy aanvaar en glo dat dit joune is “want die mond van Jahweh het dit gespreek”.

As Sy mond dit gespreek het is dit so. En as jý dit in Sy Naam spreek is dit dieselfde as wat Sý mond dit spreek. Lees Jer 15: 19; Jes 51: 16.


66. Is jy selfbewus of Christus bewus?

 

Ons ouers het ons grootgemaak om bewus van onsself te wees. “Wat moet die mense van ons sê?” het my ma gesê. “Moenie so hard praat hier tussen die mense nie!”. Sy en my pa het ons baie bewus gemaak van onsself voor die mense, en ook as ons nie by mense was nie. Maar al sou hulle dit nie gedoen het nie sou ons maar, soos alle mense, bewus gewees het van onsself—dit is deel van menswees. Jy voel tog as jy honger of moeg is. Ook voel jy seergemaak of woedend as jou “Eie EK” aangetas word. Maar om bewus te wees van Christus wat in jou woon, van Sy liefde, genade en nabyheid, is nie normaal deel van menswees nie. Die Heilige Gees alleen kan jou gedurig bewus laat wees van Jashuah se nabyheid en beskerming, Sy goedheid en liefde, wanneer jy in gevaarlike situasies ingaan. Hy alleen kan jou laat bewus word van Sy voorsiening wanneer jy ‘n behoefte het. Ek wil nie te veel hieroor uitbrei nie maar jou aanmoedig om dit ‘n belangrike onderwerp van gebed te maak want jy gaan dit beslis nodig kry in die nabye toekoms—veral bewus van Sy vrede as dit eintlik ‘n tyd van onvrede is.

Om bewus te word van God se nabyheid is soos om bewus te word van die son. Ps 84: 12 sê: “Want die Here is ‘n son en ‘n skild…” Waar jy ookal beweeg en werk, is jy onbewus, maar wel tog bewus van die son. Die oomblik as die son agter die wolke verdwyn voel dit skielik donker en koud. Dus was jy onbewustelik tog bewus van die son. So is jy ook gedurig bewus van God se nabyheid, maar as Sy nabyheid om een of ander rede afgesny word, voel jy dit dadelik. Jashuah het dit dadelik gevoel toe Sy eenheid met Sy Vader verbreek was (Mark 15: 34). Maar ons, ervaar ons Sy nabyheid en ook as dit verbreek word? Ek wonder hoeveel Christene dit voel. Tog is ons besig om daarheen te groei, en ons sal al meer bewus word van Sy warm teenwoordigheid asook die lig van Sy aangesig wat oor ons skyn (Ps 80: 4). As dit dan op een of ander wyse afgesny word, sal jy dit dadelik voel. Bid ernstig hiervoor.

Saam met Hom begrawe

Om hierdie teenwoordigheid van jou Vader te ervaar, sal jy moet saam met Christus begrawe wees want die vlees is die struikelblok in die weg daarheen. God is in elk geval besig om ons na ons “Begrafnis saam met Jashuah” te laat gaan. Ons het deur die jare veel gesê oor die groot en mees belangrike onderwerp naamlik: “Ek is saam met Christus gekruisig en ek lewe nie meer nie, maar Christus lewe in my” (Gal 2: 20). Maar ons het nie veel gesê oor die uiters belangrike boodskap naamlik dat ek saam met Hom begrawe is soos die Skrif sê in Rom 6: 1-11; Kol 2: 12 nie. Terloops, die Doop van gelowiges was veronderstel om ‘n verklaring te wees deur iemand wat tot bekering gekom het, dat hy/sy nou dood is vir die ou lewe en daarom nou begrawe is saam met Christus. Die Doop was dus ‘n “water begrafnis”—’n simbool of afbeelding dat die ou sondige mens saam met Hom begrawe is ten opsigte van die sonde, die vlees, die Wet en die wêreld. Maar, helaas, dit is vandag ‘n blote ritueel wat in die meeste gevalle geen waarde het nie. Ons ontmoet daagliks mense wat gedoop is maar nie eers weet wat dit veronderstel is om te beteken nie. Dit was blykbaar al in Paulus se tyd die geval. Daarom sê hy vir die Romeine: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in Sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dood opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel” (Rom 6: 3-4). Wat ek nou gaan sê is baie belangrik: Lees dit oor en oor. Bepeins dit en praat met God daaroor: Die begrafnis is dus my en God se verklaring dat die sterwe met Christus ‘n uitgemaakte saak is. Baie mense praat oor die kruisiging met Jashuah, maar ervaar nooit Sy opstandingslewe nie omdat die saak nog nooit eens en vir altyd in hulle harte uitgemaak is nie. En God wat die harte ken weet dit! Hy weet dat daar nog altyd ‘n huiwering in jou binneste is—altyd nog ‘n diep verborge terugkyk na Egipte, na Babel. Vra Jashuah of Hy, as die Groot Geneesheer, al jou sterfte sertifikaat uitgereik het, sodat jy nou, na jare wat jy bely dat jy saam met Christus gekruisig is, ook nou saam met Hom begrawe mag word?

Ons wêreldse wette laat nie toe dat iemand begrawe word as dit nie bevestig is dat hy regtig dood is nie. Besit die gedooptes dit in hulle lewe, dit wat die doop veronderstel is om te simboliseer of af te beeld? Dit is veronderstel om te beteken dat ek die saak eens en vir altyd uitgemaak het met God—en dit dan ook nou deur die Doop aan die wêreld en sy mense, en ook aan Satan en sy bose magte, bekend maak van die onherroeplike besluit wat ek geneem het naamlik: “Ek is nou dood vir die wêreld (Gal 6: 14 ), die sonde (Rom 6: 1-11) die Wet (Rom 7: 4) en ook vir die “Eie Ek” (Gal 2: 20) of te wel die vlees (Gal 5: 24), en daarom laat ek my begrawe”. Ek het die vraag deur die jare telkemale vir myself gevra, want ek was ook as ernstige, opregbedoelende jong man gedoop. In daardie dae het ek min geweet van wat die Doop waarlik beteken. Tog het ek myself gevra: Eugenius, waar is die opstandingslewe van Jashuah in jou— die heerlikheid van die Vader wat my in ‘n nuwe lewe moet laat wandel”? Ja, ek het hard probeer om “‘n nuwe mens te wees” na my doop, maar die “nuwe skepsel” waarna Paulus verwys het in 2 Kor 5: 17, het ek eers later ervaar toe die “woord van die kruis” vir my ‘n werklikheid geword het. Die woord van die kruis, wat vir hulle wat verlore gaan ‘n dwaasheid is, het vir almal wat gered word, die krag van God geword in ons lewe. Lees nou eers 1 Kor 1: 17-31; 2: 1-5. Kan jy ook so sê? Glo jy dit?

Wanneer jy die begrafnis saam met Christus deelagtig word, en jy Sy opstandingslewe begin ervaar, sal jy ook Sy nabyheid begin belewe. Dan sal jy gou agterkom as jou gemeenskap met Hom verbreek word. Bid jou Vader nou in Jashuah se Naam, dat Hy al die wonderlike dinge in jou gaan uitstort.


67. Deur julle gebed.

 

Daar is so baie dinge oor gebed te sê. Daar is baie boeke al oor dié onderwerp geskryf. Maar alleen die Heilige Gees kan jou oortuig van die wonderlike voorreg wat ons het om in Jashuah se Naam na die Vader te gaan en ons behoeftes en begeertes by Hom bekend te maak (Joh 16: 23-24; Filip 4: 6; 1 Joh 5: 14; Jak 5: 16-18). Om te weet en te glo dat Hy hoor (Ps 4: 4), is iets wat slegs die Heilige Gees jou van kan oortuig. Bid daarvoor! Jy sal merk dat ek telkens in hierdie hoofstukke melding maak van die belangrikheid van gebed en dat dit die enigste metode is waardeur jy iets by God sal ontvang. “Julle het nie omdat julle nie bid nie” (Jak 4: 2-3). Tog glo baie Christene dat gebed die sleutel is tot al die heerlikheid van God. As hulle dan weet dat gebed die sleutel is, waarom gebruik hulle nie daardie sleutel nie? Jy sal iemand as baie dom ag as hy met die sleutel tot ‘n spesifieke brandkluis, waarin baie skatte weggebere is, in sy hand staan en hy steek dit nie by die sleutelgat in om daardie kluis oop te sluit nie! Is die gelykenis van die verborge skat in die saailand nie ‘n mooi voorbeeld van wat ‘n mens moet offer om die saailand te bekom ten einde die verborge skat te kan bekom nie? Lees Mattheus 13: 44. Let op dat hierdie man wat die skat ontdek het bereid was om alles te verkoop ten einde die skat te bekom. Is jy bereid om alles te verkoop ten einde die skat, naamlik Christus, te bekom? Dit beteken nie dat jy al jou besittings fisies moet gaan verkoop nie, maar tog moet jy in jou hart daarvan loskom. Dit moet nie meer jou gedagtes oorheers nie. Is dit nie wat Jashuah vir Martha sê nie: “Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie” Lees nou in Lukas 10: 38-42 wat die goeie deel is waarna Hy verwys.

Een ding is seker: as jy God met jou hele wil soek sal Hy Hom deur jou laat vind. En die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het met hul hele hart gesweer en met hul hele wil Hom gesoek; en Hy het Hom deur hulle laat vind, en die Here het hulle rus verskaf rondom”. (2 Kron 15: 15). Hy vra vir Juda: “ So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die Here en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die Here verlaat het, het Hy julle verlaat”. (2 Kron 24: 20). Wil jy God soek? Soek jy Hom met jou hele wil? As jy dit doen dan sal jy ervaar hoe Hy in jou begin werk om nog sterker as ooit te wil (Fil 2: 13). Wil jy ophou om teen Hom te sondig deur Hom nie te glo nie?

Waarheen is die Gees op pad met ons in die Hoofstuk 7?

Eerstens wil ek sê dat as ons praat van “Op pad wees iewers heen”, Christus die pad is en daar geen ander manier in God se koninkryk is as om Hom as die enigste Weg te hê nie. Hy sê: “Ek is die WEG, die waarheid en die lewe” (Joh 14: 6). In die tyd van Handelinge het hulle gepraat van die volgelinge van Jashuah as “Die mense van die WEG” (Hand 9: 2;19: 9, 23).

Ons is dus op pad—of op weg— in Christus Jashuah. Hy is die WEG in wie ons wandel. Ons wandel deur Sy Gees (Gal 5: 16-25), die Gees van Christus, die Gees van God se Seun. Deur dié Gees kan ons roep: “Abba, Vader!” (Gal 4: 6). Ervaar jy reeds die Gees van Sy Seun in jou—die Gees wat roep : Abba Vader? Indien nie, wil ek jou vra of jy God glo as Hy vir jou sê: “Elkeen wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders va God genoem te word, aan hulle wat in Sy Naam glo” (Joh 1: 12). Of wil jy maar eers wag tot jy dit voel? Onthou jy nie dat die ongelowige Thomas eers wou sien en voel voordat hy sou glo nie? (Joh 20: 24-29). Nee, ons glo eers en later sal ons sien en voel—op God se tyd!

Nou weer terug by: Waarheen is ons op pad? Ons is op pad—in Christus—na “Die groot en deurlugtige dag van die Here”: Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom”. (Joel 2: 31: Hand 2: 20). Telkens lees ons van die “Dag van die Here” (Thess 5: 2; Luk 17: 24; 30-31; Fil 1: 6, 10; ens.). Daar is nog talle Skrifte oor dié Dag. Maar Heb 10: 25 sê; “…maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle dié dag sien nader kom.” Ek sien dié dag nader kom en daarom hierdie woorde van vermaning en bemoediging wat ek hier vroeg in die môre sit en skrywe aan jou. En as ek sien hoe vinnig die dae verbysnel dan glo ek die Woord wat sê:En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matt 24: 22). Ook sê Rom 9: 28 dit: “want Hy volbring ‘n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here ‘n saak wat verkort is, op die aarde doen” Glo jy dit? Dan moet jy nie meer die dae wat so kort is en so vinnig verbysnel toeskryf aan enige ander faktore nie. Jy moet slegs sê: “Die Here het die dae verkort terwille van ons, Sy uitverkorenes” En daar is geen ander rede vir die dae, weke en jare wat so vinnig verby snel nie!

Die dag van die Here kom nou vinnig nader. Niemand weet hoeveel jare daar nog oor is nie, maar Jasuah het gesê; “As julle hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur” (Matt 24: 33). “Ag, die dag! Want naby is die dag van die Here, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige” (Joël 1: 15; 2: 1-2). Ek wil nie hê dat vrees en angs jou moet dryf nie, maar eerder dat die liefde van Christus jou moet dring (2 Kor 5: 14). Jy moet Christus só liefhé dat jy nie meer kan wag op dié dag nie! En jy glo mos dat Hy reeds Sy liefde in jou hart uitgestort het? Lees weer Rom 5: 5. Glo jy dit?

Lees nou eers Open 17— die hele Hoofstuk. Verstaan jy dit? As jy niks daarvan verstaan nie, moenie dom voel nie, ek verstaan ook baie dinge daarvan glad nie behalwe enkele lewende Woorde wat die Heilige Gees daar uitlig vir ons, nou, in hierdie uur. Wat is die woorde in Open 17 wat tot ons spreek? Eerstens: “Die val van Babilon”. In Jer 50 en 51 is daar ‘n groot profesie met betrekking tot die val van Babel. Jy kan dit maar lees wanneer jy die tyd het. LW: Ek wil net noem dat die fisiese stad Babel finaal verwoes is 312 jaar voor Christus. Babilon was later jare laer af met die Tigrus en Eufraat gebou. Die Grieke het dit Babilon genoem na die reeds verwoeste ou stad Babel omdat dieselfde gees daarin was. Die naam Babilon beteken “die poort van die gode”. Maar nou hier in die laaste boek van die Bybel is daar 3 hoofstukke daaroor. Babel is ‘n vrou—’n hoervrou. Haar naam is Babilon. En daar is ‘n verborgenheid rondom haar wat God reeds aan my bekend gemaak het, maar wat ek nie nou met jou gaan deel nie. (Open 17: 1-7). Die woord wat nou sterk tot my spreek is Vers 14:Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings—en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou”. Wie is “die wat saam met Hom is”? Is dit dalk die “Toegeruste volk” waarvan Lukas 1: 17 spreek? Hieroor het ek reeds in Hoofstuk 1 geskrywe.

Voor die groot dag van die Here aanbreek moet Mal 4: 5-6 eers vervul word: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie”.

Ook: “hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” Matt 24: 14. Daar was al groot debatte oor dié onderwerp. Baie sê dat die evangelie reeds in al die lande van die wêreld verkondig is op grond van (Kol 1: 23). Ons kan nie met ons verstand dit beredeneer nie, God alleen weet waar die evangelie nog verkondig moet word voordat die einde kom. Maar ook sê die Skrif dat die volheid van die heidene eers moet ingaan. Rom 11: 25: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het

Om al hierdie dinge waaroor daar in Open 17/18/19 geskrywe word, te laat plaasvind, moet die mense wat saam met die Lam is (Open 17: 14) hulle bediening as voorbidders eers vervul. Jy is óf in Christus of jy is in die wêreld—in Babel. As jy in Christus is, is jy deel van die mense wat saam met die Lam is. Hulle is Sy medewerkers, Sy gunsgenote, hulle wat die verbond by die offer sluit (Ps 50: 5), die voorbidders of priesters. Met priesters bedoel die Skrif nie die talle soorte priesters wat ons vandag van hoor in verskillende

godsdienstige gelowe nie. Priesters waarna die Skrif verwys is nie priesters met spesiale klere waaraan die mense hulle kan uitken nie. Nee, hulle uiterlike lyk maar soos die van gewone mense, maar wat in hulle is, is só verskillend van ‘n gewone mens: Die Seun van God, ons Hoëpriester (Heb 3: 1) woon in hulle, en bedien ook deur hulle! Sy gebedslewe werk in hulle. Dis dié waarna verwys word in Exodus 19: 6: “ En julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees”. Dit was God se begeerte maar hulle wou nie (Jer 3: 19). Jy onthou seker nog dat die woord “Sonde” beteken “Om God se doel met jou te mis”. Israel wou nooit wees dit wat God wou hê hulle moes wees nie. Daarom lees ons talle plekke waar God sê dat Hy teleurgesteld is met hulle wyering om Sy wil te doen. Maar nou in die Nuwe Testament spreek Hy weer van priesters. Lees Open 5: 10 en 20: 6: en ook 1 Petrus 2: 9.

Die Nuwe Testamentiese priesters is “…dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God” ( 1Kor 4: 1). As jy wil, kan jy deel wees van die priesterdom, maar dan is daar vereistes: “En verder word van die bedienaars (priesters) vereis dat hulle getrou bevind moet word”. As jy soek na die genadegawes van God moet jou doel daarmee wees soos 1 Pet 4: 10 sê: “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God”. As jy nie jou mede-Christen wil dien nie, is jou doel verkeerd—jy soek jou eie voordeel! Lees Fil 2: 1-4 “AS daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n”.

Die bediening van Elia moet ook vervul word voordat Christus kan kom. Lees nou Mal 4: 5-6: Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie” Ja, Johannes die Doper het gekom in die gees en krag van Elia volgens Luk 1: 17. Jashuah sê dat Johannes Elia was. (Matt 11: 14). Tog sê Johannes dit nie van homself nie in Joh 1: 21-25. Sou die gees van Elia dan in en deur verskillende bedieninge na die volk van God kan kom? Dit moet jy maar by jou Vader hoor, maar dat die hart van die vaders terug gebring moet word tot die kinders, en andersom ook, sal beslis nog moet plaasvind. Of het dit reeds plaasgevind? Dit sal jy ook by jou Vader moet hoor. Ek kan nie nou daaroor Skryf nie, maar ek kan net sê dat dit nog nie plaasgevind het nie.


68. Die hart van ons kinders terug bring.

 

Lees nou eers Mal 4: 5-6. Sal Elia weer in liggaamlike gedaante terugkom aarde toe voor die groot “Dag van Jahweh”? Hieroor kan ons debatteer. Maar dat daar iemand gaan wees wat in dieselfde gees en krag as Elia gaan kom is verseker! Dit kan een of meer heiliges wees wat deur God se Gees vervul gaan word—of dalk reeds vervul is—ten einde die hart van die vaders terug te bring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders. Die rede? “…sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek te tref nie” (Vers 6).

Sommige glo dat daardie Skrif verwys na die verbrokkelde huise waarin kinders nie meer wil luister na hulle ouers nie en hardkoppig hulle eie pad wil loop en hulle eie ding wil doen. Die Skrif het wel voorspel dat dit so sal wees in die laaste dae (2 Tim 3: 1-2). Maar wat is die rede waarom die kinders so is? Lê die oorsaak by die kinders of by die ouers en selfs by die grootouers?

Nadat kernbom-ontploffings oor Japan ‘n skokgolf oor die wêreld gestuur het en die mensdom laat besef het hoe vreeslik ‘n kernoorlog sou wees, het die Die Tweede Wêreld-oorlog skielik gestop. Die tydperk van die “Baby Boomers” het aangebreek en die talle kinders wat toe gebore was het kenmerkend verskil van die voor-oorlogse kinders: Die kinders wat nou ná die oorlog moes groot word, het gedurig gehoor van die dreigende kernoorlog wat die hele wêreld sou kon verwoes. Hulle het toe niemand anders as hulle ouers gehad om te blameer vir die feit dat hulle in hierdie wêreld ingebore is nie—teen hulle sin! “Dis alles ons ouers se skuld”, het hulle geredeneer. As iemand dan nie glo dat dit God is wat hulle in hierdie wêreld ingebring het nie, dan is dit seker logies dat dit Pa en Ma se skuld is! Hierdie gees het deur dekades net erger geword. Vandag is dit niks snaaks om ‘n fliek te kyk en te aanskou hoe parmantig, wederstrewig en vermetel kinders met hulle ouers praat nie. Die ouers moet nou met die kinders onderhandel en op sagte, smekende wyse hulle oortuig en hulle samewerking probeer kry.

As ons nou in Maleagi 4: 5-6 lees in The Amplified Bible dan sê die Skrif daar: “And he (Elija) shall turn and reconcile the hearts of the [estranged] fathers to the [ungodly] children, and the hearts of the rebellious children to [the piety of] their fathers [a reconciliation produced by repentance of the ungodly], lest I come and smite the land with a curse and a ban of utter destruction” [Luke 1: 17; Jes 40: 3]. Wie is “die vaders” waarna die Skrif hier verwys? Die Skrif verwys in die Nuwe Testament telkens na “die vaders” (1 Kor 10: 1; Rom 9: 5; Rom 11: 28; Rom 15: 8). Ek het vir die Vader gevra of Maleagi verwys na die aartsvaders: Abraham, Isak, en Jakob, na vader Dawid en Samuel, die heilige profete en die vroom vaders van die volk van God deur die eeue. Lees Luk 1: 17: En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk te berei”. Wil God miskien die harte van die kinders van vandag terug bring tot hulle gesindheid— “die gesindheid van die regverdiges” ( Luk 1: 17). Ons kan vandag so maklik verwys na die dae toe ons jonk was en dit dan vergelyk met die kinders van vandag. “In ons dae was dit nie so sleg soos vandag nie” sê ons. Is dit waar? Wil ons waarlik hê dat ons kinders moet wees soos ons in ons jeug? Het ons of ons ouers “God liefgehad met ons hele hart, ons hele siel en met ons hele verstand en al ons krag” soos

Matt 22: 37 sê? Nee, ons was geensins beter mense nie!

Dit is waar dat hierdie jongmense van vandag “A Generation of Entitlement” is. Daar is ‘n aantal boeke hieroor geskrywe: Die jongmense voel dat hulle geregtig is (“entitled”) op die hulp en ondersteuning van hulle ouers. Die ouers moet net gee, en Gee en GEE! Vermetel en verwaand en eiegeregtig maak hulle aanspraak op die ouers se besittings en pensioene! En die ouers het al ‘n skuldgevoel ontwikkel oor dekades heen—vanaf die “Baby boomers” se tydperk begin het in 1945. Hulle voel jammer vir, en skuldig teenoor die kinders. Pa is lankal nie meer die “Priester van sy huis nie”. In baie gevalle heers Ma oor Pa. En Pa, wat geen man meer is nie, laat dit toe! Waarom? Omdat albei geëet het van die “Boom van Kennis van goed en kwaad”—en nog steeds eet hulle daagliks daarvan. Onthou solank jy eet van die boom van kennis van goed en kwaad, is daar ‘n engel met ‘n vlammende swaard wat jou verhinder om van die “Boom van die Lewe” te eet. Lees nou eers Gen 3: 22-24 anders mis jy die boodskap.


69. Regeer Vroue waarlik?

 

Die vroue van hierdie wêreld—nie die heilige vroue waarna 1 Pet 3: 1-7 verwys nie— het eeue gelede al die woord in Gen 3: 16 verwerp waar God vir Eva gesê het: “Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers”. Verklaarders van die Bybel het dit sagter probeer stel want die vroue het in opstand gekom hierteen. Selfs waar Paulus gesê het: “Vroue wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here” (Efes 5: 22; 1 Pet 3: 1-7 1 Tim 2: 11-15), het die Bybel-verklaarders dit probeer verdraai sodat die vroue gelukkig kan voel as hulle hul nie aan hulle mans onderwerp nie. Hulle glo dat daardie Skrifte nie meer van toepassing is op vandag se moderne lewe nie. Vroue heers vandag oor volkere en nasies, maatskappye en selfs in hulle huise. Is dit nie wat Jesaja geprofeteer het nie? Lees Jes 3: 12 “Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak”.

Alles is presies die teenoorgestelde as wat God dit bedoel het. Hieroor kan ek eintlik ‘n boek skrywe, maar kom ons som dit op in min woorde nadat jy eers self in jou Bybel gelees het in 1 Kor 11: 3-12. Dit is duidelik dat God die Vader Hoof is van Christus en Christus Hoof is oor die man en die man hoof oor die vrou. Dit is ongelukkig nie meer die geval nie. As jy, man, wil hoof wees oor jou vrou sonder dat jy jou onder Christus se Hoofskap wil onderwerp, is ons reeds by die groot struikelblok vir God se plan vir die huisgesin. En as jy, vrou, die feit dat jou man nie God dien nie, gebruik om oor hom baas te speel, speel jy in die hand van Satan. Dit was Satan se doel in die tuin van Eden naamlik om jou te laat eet (in Eva) van die “boom van kennis van goed en kwaad”, en dan vir jou man te gee om te eet van die kennis wat jy deur Satan gekry het. Daardie doel wil Satan nou deur jou bereik! As jou man God nie dien nie, en ook nie priester is van jou huis nie, moet jy doen soos Petrus sê: “ NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word, as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het”. Hier volg nou ‘n teks uit “Die Nuwe Testament vir kinders” : 1 Pet 3: 1–7 “Vrouens, wees goed vir julle mans. Leef reg in julle gesinne. Dit is belangrik. Byvoorbeeld: sê nou die pa van die gesin hou nie van God nie. Die ma is egter lief vir God. Die ma moet dan so leef dat die pa besef dat wat die ma glo die waarheid is. Wat julle doen, is belangriker as wat julle sê. Leef soos die Here wil hê. Dan hoef julle amper nie eers vir mense van God te vertel nie. Hulle sal in julle lewe kan sien hoe wonderlik God is”.

Opsommend wil ek dan sê dat dit God se wil is dat die man weer MAN moet word in die ware sin van God se doel met hom as hoof oor die vrou—’n man van God wat nie deur sy vrou regeer word nie maar deur Jashuah self!—netsoos Jashuah Homself aan Sy Vader onderwerp (1 Kor 15: 28; Luk 22: 42). Paulus stel dit baie duidelik: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente, en Hy is die verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. 25Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente” (Efes 5: 22-29). Die man kan egter alleenlik hoof oor die vrou wees as hy hom aan Christus onderwerp soos Christus dit doen teenoor Sy Vader. Tog mag die vrou nie redeneer dat sy haar aan die man sal onderwerp sodra die man hom ook aan Christus onderwerp nie. 1Pet 3: 1-7 is baie duidelik: As die man hom nie aan Christus onderwerp nie mag die vrou hom nie probeer wen vir die Here deur vir hom te preek, vermaan en nog minder hom te bestraf nie. Sy moet hom wen deur haar wandel voor God—sonder woorde! As die man haar reine, godvresende wandel aanskou het, moet dit hom na Christus trek. Die vrou moet haar nie na die uiterlike probeer mooimaak vir haar man en dink dat sy hom so gaan wen vir die Here nie. Daardie “…innerlike versiering van die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God” dit is daardie versiering wat die man vir Christus sal wen—mits hy natuurlik gewillig is om God se wil te doen.

Die man moet op sy beurt só vervul wees met die Gees van God se liefde (Rom 5: 5) dat hy die vrou liefhet soos Christus die gemeente liefhet (Rom 5: 22-33). Soos Jashuah Homself geoffer het vir die gemeente, omdat Hy ons liefgehad het, so moet die man hom ook self offer vir die vrou, omdat hy haar liefhet. Dit is alleenlik ‘n volwasse man—’n man wat ‘n volwasse man in Christus geword het deur geestelike groei in Sy liggaam (Efes 4: 11-14)—wat sy vrou só lief kan hê!

Uit so ‘n huwelik waar Pa vir Ma wil liefhê soos Christus die gemeente, en Ma aan Pa onderworpe wil wees, soos die gemeente aan Christus—kan ons verwag dat die Heilige Gees iets in die lewens van die kinders gaan doen. Die gesag van Jashuah self sal uit Pa of Ma, of uit albei, stroom na die kinders toe en hulle sal nie meer hulle ouers durf minag nie, want hulle sal vrees vir die Gees van Jashuah in hulle ouers! Die hoofman oor honderd se geskiedenis is ‘n mooi voorbeeld van gesag: Omdat hy hom onderwerp aan sy hoër gesag kan hy gesag voer oor sy soldate. So glo hy dat Jashuah ook gesag het oor die bose geeste en siektes, omdat Hy Hom aan Sy Vader onderwerp. Lees Matt 8: 5-10 en laat die Gees van Christus jou oortuig dat jy, omdat jy jou ten volle aan Christus se gesag onderwerp, ook nou kan vertrou op Sy gesag wat deur jou vloei oor jou kinders. Dit is ‘n gesag in liefde en gestrengheid. So sal jou kinders, asook jy self, die geloof van ons voorvaders Abraham, Isak, Jakob, Dawid en al die heiliges in die Ou Testament asook Petrus, Paulus,Johannes, Stefanus en al die heiliges van Die Nuwe Testament, navolg. Dit is wat Heb 13: 7 sê:“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na”.

In die volgende Hoohstuk (8) het ek ‘n woord van God hoe die huwelik en gesin gaan wees wanneer die gedagtes van God tot stand kom in die midde van Sy volk. Voordat jy nou vir my te kwaad is oor wat ek hier gesê het oor die vrou en haar man, begin as voorbidder om te bid vir Hoofstuk 8—daar is ‘n wonderlike woord en openbaring in. As die vroue (en die mans) maar geweet het hoe wonderlik God se doel is met die vrou in Sy koninkryk, sou sy alles laat staan het en daarvoor gegaan het. Soos die koopman wat ‘n baie kosbare pêrel gekry het en toe alles wat hy het verkoop het om daardie pêrel te koop. Dit gaan jou ‘n prys kos maar om waarlik vrou te wees soos God dit in Sy liefde beplan het, is ‘n skat veel groter as ‘n pêrel. Maar, meer daaroor in Hoofstuk 8.


70. Ons is kinders van die belofte en van die verbond. (Ps 105: 8-10)

 

God se verbond met Abraham (Gen 15: 5) het Hy ook gemaak met sy nageslag ( Exod 31: 16) en met ons, baie eeue later. Hy het ook ‘n belofte aan Abraham se nageslag gemaak (Gen13: 14-16; Hand 2: 39). As ons dus hoor dat God die harte van die kinders wil terugbring tot die vaders beteken dit dat die geloof wat in Abraham was nou ook in ons moet wees. Daarom sê Hy in Rom 4: 11 “…dat hy—Abraham—die vader sou wees van almal wat glo…” Lees nou verder vanaf vers 17-25. As ons kinders van Abraham is sal ons ook die werke van Abraham doen. Joh 8: 39-40: Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; 40maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie”. Vir die Fariseers sê Hy: 41Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. 42En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur. 43Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. 44Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Joh 8: 41-44).

Om die kinders (en hulle ouers) van vandag, terug te bring tot die gesindheid van geloof wat in hulle voorvaders was en om sodoende ‘n “toegeruste volk vir God te berei” (Luk 1: 17), sal ‘n kragtige werk van God verg. En dit sal gebed verg—vurige gebed (Jak 5: 16), aanhoudende gebed (Jes 62: 6), gelowige gebed (Heb 11) met die regte motief (Jak 4: 2). Die volk wat uit so ‘n gebedsaksie gaan voortspruit sal God verheerlik tussen al die goddelose mense op aarde: “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hy sal My lof verkondig” (Jes 43: 21). Dit is die volk waarna Hy verwys in Titus 2: 14: “wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as Sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke” . Dit is die volk vir Sy Naam wat Hy uit die heidene aanneem (Hand 15: 14).

As jy wil deel wees van die volk het ek goeie nuus vir jou: Daar is baie beloftes wat God in Sy Seun vir jou belowe het: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons” (2 Kor 1: 20). Ook 2 Pet 1: 4 “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is”. 2 Pet 1: 4: “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is”. En Hy het dié beloftes met ‘n eed gewaarborg (Heb 6: 17).

Glo jy dat Hy die God is wat sorg?

Kyk na die son. Wie voorsien dit van brandstof vir miljoene jare al? Die son se brandstof raak nooit klaar nie. Kom daar ooit ‘n tenkwa met petrol? Nee, dis God die Skepper en Instandhouer wat sorg dat daar elke dag deur die son warmte, lig en vasgestelde tye vir ons voorsien word. ‘N baie belanrike ervaring elke môre wanneer ek die dag sien breek, is dat God gesê het dat Hy, deur die dag en nag wat op hulle tyd kom, Sy onveranderlike verbond met ons, bevestig. Lees Jer 33: 20-21. Dis baie belangrik! En dan begin jy om elke keer as jy die dag sien breek, Hom te dank dat die verbond wat Hy met jou gemaak het, nooit sal verbreek nie. En as jy dan die kans kry, lees weer daardie verbond in Jer 31: 31-36; 32: 40-42.

Die beproefdheid van jou geloof begin by ‘n gebed waardeur jy vir God vra om jou geloof te versterk deur eers deur klein geloofstoetse aan jou te bewys dat Hy jou gebed antwoord. Dit sal dan jou geloof versterk. Namate die geloofstoetse groter word sal jou geloof ook sterker word want Hy laat jou toeneem in genade by Hom (2 Pet 3: 18; 2 Thess 1: 3; 2 Kor 10: 15). Die beproefdheid van jou geloof is baie kosbaar en ook dringend noodsaaklik (1 Pet 1: 6-7). Ons het so gewoond geword dat alles vir ons voorsien word vanuit hierdie wêrel-stelsel, dat ons nie meer geloof nodig het nie. Jy sal nie altyd meer van jou kredietkaart kan gebruik maak om in jou behoeftes—wat in baie gevalle begeertes is en nie behoeftes nie—te voorsien. Jy sal ook nie van “loud faith” gebruik kan maak nie, want by die mense waar jy op subtiele wyses jou behoefte bekend maak teneinde van hulle hulp te kry, sal jou skimpe op dowe ore val. Nee, kyk op, kyk na die son in sy krag. Rig 5: 31 sê: “Maar die wat Hom liefhet, is soos die opgang van die son in sy krag”. Want die geloof werk mos deur die liefde (Gal 5: 6)!

As jy God liefhet is jy soos die son wat sonder bedel en skimpe sy onuitputlike bron daagliks gebruik om aan ‘n hele sonnestelsel, en alles en almal daarop, lewe, lig en warmte te voorsien.

As dit vir jou belangrik is om een van die mense op aarde te wees wat geloof het in God en Sy Seun in hierdie onheilspellende tyd in hierdie goddelose wêreld, sal jy jou Vader baie ernstig moet bid dat Hy jou deur geloofstoetse gaan stuur—eers klein toetsies en dan al groter. Geloof groei (2 Kor 10: 15) direk in ooreenstemming met die genade van God wat oor jou is, daarvolgens gee Hy jou “’n maat van geloof” (Rom 12: 3-7). Onthou dat die geloof altyd deur die liefde werk (Gal 5: 6). Dit begin by jou liefdes-gemeenskap met jou Vader en Sy Seun.

Die “Sosiale media” het die Gees van Christus oorbodig gemaak. Ons kinders vertrek van die huis af per motor of vliegtuig en ons volg hulle al die pad. Ons weet of hulle nog veilig reis want ons hoor hulle stem. Ons het nie die stem van God nodig wat ons verseker dat Hy met hulle is nie, ons sorg self dat ons met hulle in kontak bly. En, hoe beangs raak ons as ons kontak met ander mense verloor! Ja, dan vloek ons Vodacom! “Stay connected” is ‘n groot advertensie slagspreuk! Het dit vir jou nog belangriker geword om in ‘n ononderbroke kontak met God te wandel, as dat jou selfoon kontak nie onderbreek mag word nie. Die “Panic button” wat in hierdie tyd van nood so belangrik geword het om die bure se hulp in te roep, is dit jou eerste uitweg? Of ken jy jou Verlosser van so naby dat jy Sy Naam aanroep? Hy het gesê: “Elkeen wat die Naam van Jahweh aanroep sal gered word” (Hand 2: 21; Joël 2: 32). Is jou kontak met jou Koning Jashuah vir jou so ‘n wesenlike werklikheid dat jy daagliks met Hom wandel, gesels en gemeenskap het dat jy in die oomblik van nood Sy nabyheid so ervaar, dat Sy vrede jou so vervul dat dit alle verstand te bowe gaan? (Fil 4: 6-9). En nog ‘n vraag: Ken jy Sy Naam? Dit is baie belangrik om Sy Naam te ken, want dit is een van die voorwaardes dat Hy jou gebed verhoor. Lees 1 Joh 3: 23 asook Ps 91: 14.

Senekal in die Vrystaat

Daar het verlede week ‘n groot ding daar afgespeel toe verdagtes wat die moord op ‘n 21jarige seun sou pleeg, in die hof moes voorkom. ‘n Groep boere het die hofsaak gaan bywoon met die doel dat hulle stem ook gehoor sal word deur die owerheid wat ooglopend al die plaasmoorde goedkeur. Ons hoor nou daagliks van plaasaanvalle en moorde op blankes en daar word niks daaraan gedoen nie. Ons, as die nakomelinge van die blankes wat 448 jaar gelede na hierdie Suidpunt van Afrika begin trek het—deur God gestuur in die meeste gevalle—

is nou in die grootste nood. Die nood is onbeskryflik groot!Vandag is ’n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het gekom tot by die geboorte, maar daar is geen krag om te baar nie; … hef dan ’n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is” (2 Kon 19: 3-4). Dat die geboorte van die Volk van God nou naby gekom het is verseker. Hy het dit belowe in Jes 66: 6-9: Hoor—’n rumoer uit die stad! Hoor—uit die tempel! Hoor—dit is die Here wat sy vyande hulle dade vergeld! 7Voordat sy weë gekry het, het sy gebaar; voordat smart oor haar gekom het, is sy van ’n seuntjie verlos. 8Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word ’n land op een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar. 9Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat baar nie? sê die Here. Of sou Ek wat laat baar, self toesluit? sê jou God. Maar, helaas, daar is geen krag om te baar nie! Wat is die krag wat kort kom, nou in hierdie tyd van nood? Dis die krag van GEBED.

Op my boekrakke staan verskeie boeke oor gebed. Veral die boeke van Dr. Andrew Murray. Hy was in die 19de eeu ‘n groot prediker in die NG Kerk hier in Suid Afrika. Ook het hy as prediker opgetree by groot konferensies oorsee. Verskeie hedendaagse predikers het erken dat sy bediening en verhouding met God, groot invloed op hulle lewens gehad het. Dis jammer dat so min mense van die kerk waaraan hy behoort het, sy voorbeeld van gebed nagevolg het. Dan sou hulle dalk beter insig gehad het in die dinge wat nou in Suid Afrika gebeur. Daar was in sy lewe (vanaf 1828 – 1917), groot oorloë aan die gang. Die Anglo -Boere Oorlog asook die Eerste Wêreld oorlog. Hy was ‘n man van gebed en hy het geglo in die krag van gebed, soos Jak 5: 16 sê: “Die vurige gebed van die regverdige het groot krag”. Hy het, as man van God, geweet dat daardie oorloë deur God gestuur was! Sy gebed kon dit nie afwend nie. Mense sê vir my: “Maar in Zimbabwe het die boere ook gebid, en dit het niks gehelp nie, hulle het hulle plase verloor, daarom moet ons nou iets doen”.

Ons voorouers in Frankryk—die Hugenote— het ook gebid. Trouens hulle was besondere toegewyde kinders van God. Tog het hulle met enkele persoonlike besittinkies uit Europa hier aangekom. Hulle het alles verloor: Plase en besighede, huise en alles daarin. Ook familie en vriende. Hulle toegewyde lewens en opregte gebed het nie gehelp om hulle besittings te behou nie. Van hulle sê die Skrif: “…en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het” (Heb 10: 34). Hulle gebedslewe en toewyding het wel gehelp dat hulle God se wil vir hulle lewe kon verstaan. Uiteindelik het hulle hier in die Kaap by Franschoek beland en suksesvolle boere en grondeienaars geword. Ook het hulle die geloof in God waarvoor hulle gevlug het uit Europa hier na Suid Afrika gebring! Is ons vandag daardie geloof waardig?

Ek persoonlik is van nature ‘n “Doener” en daarom verstaan ek so goed waarom mense sê: “Ons moet nou iets doen”. Ek wou altyd graag die Here help as ek haastig was en Hy, na my mening te stadig. Maar na jare van groei is die ding wat ek nou doen om God se aangesig te soek soos Hy my ‘n opdrag gegee het: Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan”. (Jes 26: 20). Dus is my raad aan my mede- Afrikaners: Doen nou wat Christus deur Sy Gees in julle doen. Hy, as die grootste Doener was vir ons die voorbeeld; “My Vader, Hy doen die werke”. Joh 5: 19-20 Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so”…Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees”. Vers 30: “Ek kan uit Myself niks doen nie”. Joh 15: 5 : “…want sonder My kan julle niks doen nie”. Alles wat ons nou gaan probeer doen in ons vlees, vanuit onsself, gaan op ‘n ramp uitloop. Ek het vanmôre die woord gekry in Num 14: 42: “Moenie optrek nie want die Here is nie in julle midde nie—anders word julle verslaan voor julle vyand”.

Kom ons “tiek gou ‘n paar boksies” soos die mense vandag sê:

  • Het God jou gestuur om op te trek in protes teen die plaasmoorde?
  • Of het die mense jou omgepraat en opgesweep om op te trek?
  • Is jy seker dat dit nie ‘n vleeslike operasie is nie, maar deur God’s Gees?
  • Is almal daar teenwoordig in die Gees van eenheid en liefde in Christus?
  • Het jy almal wat teen jou gesondig het vergewe volgens Mark 11: 25-26?
  • Hou jy die eerste gebod (Matt 22: 36-38). Het jy God bo alles lief?
  • Hou jy die 2de Gebod (Matt 22: 39)? Het jy jou naaste lief soos jouself?
  • Is jy doodseker dat hierdie Boereopstand nie deur die vyand gereël is nie?
  • Is die leiers daarvan nie dalk verleiers nie soos dit in ons verlede was nie?
  • Weet jy of daar verraaiers is— “Wolwe in skaapsklere”?

In Hoofstuk 8 skryf ek verder soos die Gees van die Here my lei:

Oor die verskil tussen Bloedrivier en Senekal. Ook skryf ek oor groot en heerlike dinge wat voorlê vir hulle wat in ‘n intieme en toegewyde verhouding met hulle Vader en Jashuah wandel. Bid nou reeds daarvoor want ek begin reeds in hierdie môre daarmee. Efes 6: 17-20:En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God —18terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges 19en vir my, sodat ’n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak 20waarvoor ek ’n gesant is in kettings, sodat ek daarin vrymoediglik mag spreek soos ek moet spreek”.

AMEN— ‘Laat dit so wees’