082 852 0496

admin@stillesindieland.co.za

DEEL2 (1)

Die Reg van Jahweh (Jer 8 : 7)

Begin skrywe vanaf 28 Maart 2017

 

INHOUD DEEL 2(1)

1. Inleiding tot deel 2(1)
2. Die reg van Jahweh
3. Die wese van God
4. Sodat Hy in alles die Eerste kan wees
5. Deur God is julle in Christus
6. O, Jahweh, Verwagting van Israel
7. Soos die waters die seebodem oordek
8. God se reg as Skepper om altyd geprys te word
9. Terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank
10. Laat my U seun wees in waarheid,Vader
11.Nog meer waarhede omtrent Kindskap
12.Die Sleutel van die huis van Dawid
13.Christus alles en in almal
14.Die Sabbat as teken tussen God en ons
15.Ons gedagtes gevange geneem tot gehoorsaamheid aan Christus

 

1. Inleiding tot Deel 2(1)

 

Ons gaan nou weer hier na talle waarhede kyk wat ook beloftes aan jou en my is. Byvoorbeeld, as die Skrif sê dat God geen man is dat Hy sou lieg nie (Num 23 : 19) is dit ‘n groot goddelike waarheid wat ook vir ons ‘n belofte is dat Hy nooit vir ons sal lieg nie, trouens Hy sê dat dit onmoontlik is vir God om te lieg (Heb 6 : 18). So is talle waarhede ook beloftes en word dit moeilik om ‘n lyn te trek tussen ‘n Woord wat Hy jou gee en ‘n belofte. Beskou dit dus maar as dieselfde ding, alhoewel dit nie sinoniem is nie. Vir hierdie doel kan jy dit as sulks beskou. Luister na hierdie woord : “Immers Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons ook die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur…” (2 Pet 1 : 3-4).


2. Die reg van Jahweh

 

Die ganse wêreld is deesdae ingestel op regte. Dink aan “Human Rights”. Hiervoor betoog hulle en maak hulle oorlog sonder einde. In Deel 3 skryf ek oor die regte wat jy en ek het in Christus. Maar hier nou in Deel 2 moet ons eerstens gaan kyk na God se regte. In Jerb 8 : 7 sê Hy: “ …maar My volk ken die reg van Jahweh nie” . Dit beteken ook dat “My volk ken nie die vereistes van God nie”. God is ‘n god wat soms swyg vir baie eeue, al is Hy die Skepper van alles, die ganse uitspansel met elke melkwegstelse , sonnestelsel, planeet en ster, die see en alles wat daarin is, die voëls en plante en diere en die mense wat deur die eeue op die aarde gewoon het. Ja Hy is die enigste Skepper en deur Sy woord het Hy alles gemaak (Joh 1 : 1-5). En dink jy dat Hy geen regte het nie? Die geval op hierdie aarde nou is dat Hy Homself vir so lank al stil hou en swyg (Jes 57 : 11). Terwyl so baie hulle regte op hierdie aarde opeis swyg Hy. Hy sê nooit: “Ek wil julle wys wie Ek is en wat My regte alles behels” nie. Maar gaan Hy altyd swyg? Gaan Hy nooit Sy regte opeis nie? Hy gaan dit verseker doen! Die vraag is net wanneer! (Lees Jes 42 : 14).

Miskien het jy nog nooit gedink aan Sy regte nie. Of miskien was jy van kleins af ‘n kind wie se lewe om jouself gedraai het, wat altyd wou hê dat jy jou sin moes kry. Miskien het jou ouers jou so groot gemaak omdat hulle lewe ook om hulself gewentel het. Dalk het jy nooit gedink aan jou ouers se regte en behoeftes nie. Dit was nie jou skuld nie. Maar as Jahweh skielik na hierdie aarde kom om Sy sin te kry ? In hierdie Volume 2 gaan ons kyk na Sy regte, Sy sin en Sy vereistes. Nou gaan ons ook kyk na ‘n hele aantal beloftes aan ons, dat ons, deur Sy groot genade, Hom Sy sin gaan gee. Is jy gereed daarvoor? Vra jou Vader om die grond van jou hart voor te berei vir die saad van Sy woord (Mark 4 : 14).

Sy eie Seun moes , teneinde aan Sy Vader se vereistes te voldoen en Hom Sy regte te gee sê: “Nogtans nie soos Ek wil nie maar soos U wil ” (Matt 26 : 39) En dit is die rede waarom Hy ‘n Naam gekry het bo alle name (Fil 2 : 3-11). As ons in Sy Naam wil wandel, spreek in Sy Naam en bid in Sy Naam sal ons dieselfde moet doen. Bid Hom dan nou dat Hy dieselfde gees in jou gaan werk deur, soos Sy Seun te sê : “Nie My wil nie maar U wil geskied”. Dit sal die grond van jou hart voorberei vir die saad van die Woord (Mark 4 : 14-20). Bewys jouself ‘n guns en lees Jer 27 : 5-7 asook Ps 24 : 1-2 en besluit dan wie die Skepper en Eienaar van hierdie aarde is, en wie alle reg daarop het. Wil jy dan nie sê soos Ps 119 : 73 sê “U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek U gebooie kan leer”. As jy dan verder Efes 2: 10 lees: “Want ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jashuah tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel”, wil jy des te meer Sy wil doen en nie jou regte opeis nie.


3. Die wese van God

 

Hy sê: “EK IS WAT EK IS” (Exod 3 : 14). Sy Naam ken niemand nie. Ons weet dat Hy die God is van Abraham, Isak en Jakob en dit is die Naam waarby Hy bekend was by Sy volk asook by die heidene. Sy Seun se Naam ken ons. In die Ou Testament was dit Jahweh en in die Nuwe Tetament is Hy Jashuah Messiah. Om God (Elohim) as “Vader” aan te spreek is vir my ‘n groot genade en vooreg ( Gal 4 : 6)“Jashuah Messiah” is vir my kosbaar in die plek van die name soos talle van ons Hom tevore “Jesus Christus” genoem het. “Here” is ‘n titelnaam soos meneer of president. Sy Naam is oorspronklik JHWH (sonder klinkers omdat hulle bang was om die Naam ydelik te gebruik). Later, met die toevoeging of invulling van die klinkers was die Naam JAHWEH. Dit beteken: Die ewige onveranderlike EEN; HY WAT WAS, WAT IS EN SAL WEES; die “EK IS” van Ex 3 : 13 – 15. Hierdie Naam word baie in kombinasie met “Adonai” gebruik as HERE HERE (Amos 3 : 7).

Die Naam “Jahweh” is ook gekombineer met ander “titelname” in die Hebreeuse Kanonieke boeke bv. :

JAHWEH – JIREH = Jahweh wat voorsien (Gen 22 : 14)

JAHWEH – ROPHEILA = Jahweh wat my genees of heel (Ex 15 : 26)

JAHWEH – NISSï = Jahweh is my banier (Ex 17 : 15)

JAHWEH – MeKADDïSHKEM = Jahweh is die Een wat my reinig of heilig (Ex 31 : 13; Lev 20 : 8)

JAHWEH – SHàLôM = Jahweh wat vrede bring (Rigt 6 : 24)

JAHWEH – SeBàôTH = Jahweh die Heer der Leërskare (1 Sam 1 : 3)

JAHWEH – TSIDKéNú = Jahweh ons Geregtigheid (Jer 23 : 6; 33 :16)

JAHWEH – SHáMMáH = Jahweh is hier teenwoordig (Eseg 48 : 35)

JAHWEH – ELJôN = Jahweh is die Allerhoogste (Ps 7 : 17; 47 : 2)

JAHWEH – Rôï = Jahweh is my Herder (Ps 23 : 1)

 

Ek gee maar slegs hierdie Name om jou te toon dat daar wonderlike rykdomme in Sy Naam, soos dit in die Skrifte voorkom, opgesluit lê. Maar daar is ‘n dieper openbaring van Sy Naam wat ons almal deelagtig sal moet word. Maar moet nooit vergeet dat die Naam van Jashuah al hierdie Name hierbo genoem, plus talle ander in die Bybel, saamvat of insluit nie. Jy kan dus in enige krisis net die Naam van Jashuah aanroep en al Sy Name tree in werking om jou in jou nood by te staan. ONTHOU DIT!! Dit is waarom die Skrif sê dat Hy Sy Woord verhef het bo Sy Naam (Lees die Amplified Bible asook veskeie Engelse vertalings van Ps 138 : 2; “For You have magnified Your Word above all Your Name”)

God se karakter, eienskappe, ja Sy hele wese, is geopenbaar in Sy Naam deur Sy Woord. Daarom is dit van die allergrootste belang dat jy Vader se Woord aan jou persoonlik sal kan hoor. Dit is een ding om die Skrif in Exod 34 : 5-7 te lees, maar dit is ‘n heel ander ding, ‘n onuitspreeklike ding, om Sy stem te hoor wanneer Hy vir jou sê soos vir Moses: My kind Ek is Jahweh, die Here, “…barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en die vierde geslag”( Exod 34 : 5-7). En dan roep jy in vrees uit : “Vader, maar gaan U my dan straf vir die sondes van my voorgeslagte al het U my vergewe? Dan antwoord Hy : “ My kind, teneinde ‘n regverdige God te wees, moes Ek My eniggebore Seun straf vir jou sonde. Dus sal jy nie meer nodig hê om daarvoor gestraf te word nie (Jes 53 : 5; 1 Pet 2 : 23-25). En dink daaraan, dis alles deur Sy genade, jy verdien dit nie!


4. Sodat Hy in alles die Eerste kan wees

 

As jy nou ‘n Bybel by jou het moet jy asseblief Kol 1 : 3-23 lees. Maar moontlik is jy op reis of iewers waar jy dit nie nou kan doen nie, dan haal ek vir jou gedeeltes uit die Skrif aan. Dit deel met ons groot waarhede waarom ons Christus ons Verlosser in alles EERSTE moet stel, voor alles in die Skrif, alles in die Ou en Nuwe Testament, voor die Wet en die Profete, voor alle mense, koninkryke, ja, voor alle dinge en mense. Hy is die verklaarder van die wetenskap en elke natuurwet want dit is alles in Hom geskape deur die Skepper, ons God (Elohim) en Vader. Hoor met jou geestesoor wat sê die Woord in Kolossense 1 : 15-20 : “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping” (vers 15). Voordat God die aarde en die hele uitspansel geskape het, was Jashuah uit Hom gegenereer (Ps 2: 7; Hand 13 : 33; Hebr 1 : 1-6). Hy was reeds daar met die Skepping toe God gesê het “ Laat Ons mense maak, na Ons beeld, na Ons gelykenis”. Dit was Hy en Sy Seun, wat toe reeds uit Hom gegenereer was, waarna Hy hier verwys het in die ONS. Hy, Sy Seun, was die Woord waardeur Hy die wêreld en alles gemaak het (Heb 1 : 2). Hy is ook die Woord van Sy krag waardeur Hy alles dra (Heb 1 : 3). “… terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker Naam geërf het as hulle” (Heb 1 : 4). Hierdie is die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het (Joh 1 : 1-5, 14). Die rede waarom God die Vader hierdie Woord laat vlees word het, om onder ons te kom woon, was sodat Hy die Eersgeborene uit die dood kon word: “En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon – en ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van ‘n Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh 1 : 14). Hy was die Eniggeborene sodat Hy ook die Eersgeborene uit die dood kon wees (Kol 1 : 15). Later sou elkeen wat Sy Woord van genade glo, Hom kon navolg en ook kon smaak hoe dit voel om uit God gebore te wees (Joh 1 : 13; Joh 3 : 1-8). Ook kon ons die opstanding uit die dood ervaar saam met Hom, as ‘n nuwe skepsel in Hom (2 Kor 5 : 17). Let op, daar is ‘n voorwaarde naamlik, jy moet in Hom wees. En alles, ja ALLES, IS IN Hom alleen te kry. “…want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol 1 : 16-17).

Hierbo is reeds baie dinge gesê, groot dinge, wonderlike dinge. En daar is veel meer om te sê maar laat ons nie te vinnig gaan nie. Wat nou belangrik is, is om Jashuah EERSTE in jou lewe te stel. Die rede hiervoor? Waarom moet ons die Skepper en Sy Seun, deur wie Hy alles geskape het, eerste stel, bo al ons belange en alles wat vir ons saak maak? Die antwoord is eenvoudig: Omdat dit Sy reg is! Nie Sy mensereg nie maar , veel meer as dit, Sy GODDELIKE REG AS SKEPPER VAN ALLES WAT IS. Alles is Syne en Hy het Sy Seun alle mag in die hemel en ook die aarde gegee. (Lees Matt 28 : 18; Matt 11 : 27), uitgesonderd die mag oor Hom as God die een uit wie alle dinge ontstaan het (1 Kor 15 :24-28). En as alle dinge dan deur Hom ontstaan het kan hy moes doen met die goed wat Syne is soos Hy wil? HY kan ook Sy Seun daaroor aanstel as Hy wil. Mag Hy nie? En Hy het Sy Seun aangestel as die een in wie alles te kry is – alles wat ewigheidswaarde het. En wie kan Hom bevraagteken? Wie kan Hom ondervra en sê: Hoekom het U nie sò of sò gemaak met my nie?

Ja, alles is in Hom te kry. Alles wat buite Hom gesoek word is nie die moeite werd nie want dit is alles verganklik, en niks het ewigheidswaarde buite Hom nie. Alles wat gaan stand hou tot in ewigheid is in Hom te kry – IN HOM ALLEEN.

Die tweede is om te weet hoe jy in Hom kan wees. Dit skryf ons nou in die volgende gedeelte.


5. Deur God is julle in Christus

 

1 Kor 1 : 30 is ‘n Skrif wat ek jare ken, maar enkele dae gelede het my seun by my gekom en vertel hoedat die Vader met hom oor daardie Woord gepraat het. Dadelik het die Woord wat ek nou skryf in ons hart lewend geword: “Deur God is julle in Christus…”. DEUR GOD is julle IN JASHUAH. Hoe kom ons in Jashuah, dit wat ons so graag wil weet? Die antwoord is : Deur GOD, ja, deur Hom en Hom alleen. Hy moet iets doen. Of het Hy dit dalk alreeds gedoen sodat ons dit net moet glo en vir onsself toeëien? Al probeer jy ook hoe hard, al verwyder jy ook alle dinge wat volgens jou mening mag veroorsaak dat jy nie in Hom is nie, dit sal niks help nie. Alles kom deur God ons Vader. Hy het ons in Jashuah uitverkies. Efes 1 : 4 : “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees”. Die goeie werke wat jy wil doen, om daardeur in Jashuah te wees, help niks. Die goeie werke is God s’n wat Hy voorberei het sodat jy slegs daarin kan wandel. As jy dit gedoen het wat Hy van jou verwag het om te doen, naamlik om gewillig te wees om Sy wil te doen (Joh 7 : 17), moet jy verder op Hom wag om jou in Sy Seun se liggaam in te doop (1 Kor 12: 12-27). Laasgenoemde Skrif dui ook daarop dat daar baie lede van Sy liggaam is wat almal deur een Gees daarin gedoop is, en ook van dieselfde Gees – die Heilige Gees – deurdronge is. Hierdie “baie lede” kan ‘n struikelblok word want dit is nie menslik moontlik om alle mense lief te hê nie. Weereens kan jy daardie liefde nie aanskakel nie. Rom 5 : 5 sê dat God die liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees wat in ons woon. As jy dit glo sal God ook hier die werk doen om Sy Woord met krag volkome te maak (2 Thess 1 : 11). Hy sal dus maak dat jy elke lid van Sy liggaam lief kry.

Die Vader doen dus van Bo alle dinge as jy gewillig is (Jak 1 : 17). Jy kan niks eers uit jouself aanneem as dit nie jou nie van Bo, uit die hemel, gegee word nie (Joh 3 : 27).


6. O, Jahweh, Verwagting van Israel

 

Omdat God (Elohim) die Almagtige Skepper van alles sigbaar en onsigbaar is, en ook die Een wat alles in stand hou, kan en mag ons nie ons hoop en verwagting op enige iemand anders as Hom stel nie. Hy werk alles op die aarde: Hy hou die hele uitspansel in stand, het elke ster sy naam gegee en roep hulle en hul gehoorsaam Hom; Hy skuif hulle waarheen Hy wil; Hy ken elkeen se gewig en molekulêre samestelling. Wat ‘n groot en Alwyse God? Hy hou die natuur in stand, van die diepste see tot die hoogste berge, van die kleinste mikro-organisme tot die grootste dier. Hy is die God van die geeste van alle menslike vlees (Job 12 : 10; Num 16 : 22; 27 : 16). Hy beheer dus die “ elektronika” van elke mens se brein op aarde. Hy laat die konings dwase besluite neem (Job 12 : 24,25). Hy skep die lig en die duisternis (Jes 45 : 5-7). Hy laat oorloë begin en ophou.Hy laat alle dinge ten goede meewerk vir jou en my wat Hom liefhet en na Sy voorneme geroep is (Rom 8 : 28). Let wel: ons praat later meer hieroor. Daarom kan ons, al gebeur wat ook al met ons, Hom net dankbaar wees en Hom loof vir alles wat met ons gebeur (1 Thess 5 : 18) want Hy sê dat dit vir ons ten goede meewerk. En Hy kan mos nie lieg nie (Num 23 : 19, Heb 6 : 18).
Om te aanvaar dat die owerheid van jou land deur Hom ingestel is (Job 12 : ; Rom 13 : 1 – 7 ) is nie altyd maklik nie, maar dit is die waarheid. As Hy jou verwagting is, Hy die “Verwagting van Israel”, dan het jy geen verwagting van mense of regerings meer nodig nie. En dit is wat Hy van jou, asook alle mense vereis: dat hulle Hom sal sien as hulle Verwagting . Jer 14 : 8; 17 : 13 het hierdie wonderlike Woord : “o, Here, Verwagting van Israel!” Daarom sê Hy ook in Sef 3 : 8 : “Daarom verwag My” sê Jahweh. Verwag jy Hom of verwag jy “iets wat vir ons uitredding gaan bring”. Jy verwag dus iets of iemand. Nie sommer enige iemand nie. Sommige verwag ‘n ander volk wat ons gaan help, en andere verwag dat ons goeie wapens in die hande gaan kry. Is dit jou verwagting? Ps 108 : 13 sê: “ die mens se hulp is vergeefse moeite”. Of is Hy (Jahweh) jou Verwagting? Is Hy die Iemand wat jy verwag?
Sal jy Hom nie die eer gee as die Almagtige, Hy die God van alle vlees vir wie niks onmoontlik is nie (Jer 32 : 27)? Sal jy nie Hom die eer gee waarop Hy reg het nie en wat Hom toekom nie? Sal jy nie Hom as persoon nou op die toneel hier in Suid Afrika verwag nie? Dit gaan Sy Vaderhart roer as Sy kinders sê: Vader, ons wag op U want U is ons Vader wat nie U kinders in die steek sal laat nie. En U, Jashua Messiah, U is ons Verlosser, U is ons Verwagting en U sal ons nie tevergeefs laat wag op U hulp nie, ons sal nie beskaamd staan nie. Dit was wat koning Dawid ervaar het in Ps 62. As jy dit lees sal jy sien hoe sy vyande hom maar altyd vervolg het. Maar in vers sê hy vir homself: “Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!”
Dit gaan miskien ‘n tydjie neem waartydens jy gereeld aan Jahweh gaan verklaar dat Hy jou verwagting is en dat jy Hom as Persoon verwag op die toneel van benoudheid waarin ons verkeer hier in Suid Afrika, en ook in baie dele van die wêreld, voordat die Heilige Gees dit in jou hart gaan werk. Daarom, terwyl jy Hom daagliks loof en dank met die woorde: “U, Jahweh is my verwagting en U verwag ons op hierdie toneel ” sal jy ervaar hoe dat Hy dit elke dag meer en meer vir jou word, jou Verwagting!


7. Soos die waters die seebodem oordek

 

Hab 2 : 14 sê : “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek” Omtrent 71% van die aarde se oppervlakte word deur die see bedek. Dink net vir ‘n oomblik hieraan: Soos die waters die seebodem oordek sal die aarde vol word met die kennis van die heerlikheid van Jahweh! Beteken dit dat 71 % van die aarde se inwoners sal Jahweh ken? Dit sou wonderlike nuus gewees het. Maar Jashuah het gesê dat die mense wat gered gaan word is maar min. Ons kan dus nie persentasies daaraan koppel nie.
Ons moet egter eerste kyk na wat dit beteken om Jahweh se heerlikheid te ken. Om Hom te ken in ‘n persoonlike verhouding is iets wat ‘n prys kos. Lees eers gou Fil 3 : 7-11 indien dit nou vir jou moontlik is. Om verstandelike of kopkennis van Hom te hê is nie moeilik nie. Jy studeer slegs die Bybel en verkry kennis omtrent Hom, of raak bekend met Sy karaktertrekke. Dit beteken nog glad nie dat jy Hom persoonlik ken nie. Ek het al baie opgelees oor groot figure van die hede en die verlede, maar hulle nooit geken nie. Netso kan jy kennis verkry van die heerlikheid van Jahweh wat die hele aarde oordek deur dit te aanskou, maar nie in jou hart, of ook prakties, ervaar nie. Jesaja 66 : 18 sê duidelik: “die tyd kom dat Ek al die nasies en tonge versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien”. Hulle sal dit sien maar nie deelgenote daarvan kan wees nie. Petrus sê: “…ek wat ‘n …deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word” (1 Pet 5 : 1). Daar is dus ‘n verskil tussen om ‘n deelgenoot van Sy heerlikheid te wees of slegs ‘n aanskouer. Soos God vir Moses gesê het dat hy die Beloofde land met sy oë sal aanskou maar nie daar sal intrek nie.
Eers is dit nou belangrik, en ook ‘n heerlike vertroosting om te weet dat hierdie wêreld, wat God nie wil ken nie, aanstons ‘n openbaring van Sy Seun, Jahweh Messiah, in Sy heerlikheid gaan ervaar en daarvan sal moet kennis neem, ja, van Hom sal moet kennis neem, al wou hulle Hom nooit ken nie. Miskien sou hulle Hom wou ken as dit nie so ‘n groot prys gekos het nie – dit waarvan jy reeds hierbo gelees het in die Skrif. Ook sal die wêreld moet erken dat Hy God is, ja elke knie sal buig en elke tong sal God bely ( Rom 14 : 11). Almal op aarde sal van Hom hoor, en van Hom weet, totdat Hy eindelik op die wolke sal verskyn en elke oog Hom sal sien (Matt 24 : 29-35).
Al sou jy nou op ‘n plek sit waar jy eensaam is alhoewel daar tog baie mense is, eensaam omdat jy die enigste is wat Jahweh soek en Hom dien en liefhet; al sou jy begeer dat hulle Hom ook moet ken en lief hê, terwyl hulle jou haat en vervolg en bespot; moet jy een ding weet naamlik dat daar ‘n dag kom dat hulle jou Verlosser sal aanskou en sal moet erken dat Hy die Seun van God is. Hulle sal moet erken dat daar geen ander God is nie en ook geen ander Middellaar as Jashuah Messiah nie. En dit gaan nie om ‘n hoek gebeur nie, nee, die hele aarde se inwoners sal dit aanskou, ja, Hom aanskou in Sy heerlikheid en van Hom moet kennis neem! En dit is Sy Goddelike reg, dit kom Hom toe. Sien jy saam met ons uit na daardie dag?


8. God se reg as die Skepper om altyd geprys te word

 

In die tyd van die Ou Testament, die tyd van die Wet, het God definitiewe instruksies gegee met betrekking tot die lofprysinge en aanbiddinge wat Hom as Skepper en Almagtige God toekom. Hy het die reg daartoe en Hy verwag dit van die mens. Ek het nou so pas die Bybel oopgemaak en my oë val toe op die plek waar Dawid sekere families aangewys het wie se voltydse taak dit was om Jahweh te loof in sang en ook met musiek instrumente. As ek jou Skrifte moet gee wat dit bevestig sal ek jou bykans die hele boek met die Psalms moet gee. Open enige plek in die Psalms en jou kanse is 90% om op ‘n Woord van lofprysinge, danksegginge en aanbidding oop te maak. Daarom gaan ek jou nie veel Skrifverwysings hier gee nie want dit maak slegs die lees moelik. En, na dit alles, kan jy ook mos die Vader vra om dit wat ek hier skryf te bevestig. Ons is mos medewerkers in God se Koninkryk, is ons nie? (1 Kor 3 : 9).
Joshua sê vir Israel: “Julle kan die Here nie dien nie want Hy is ‘n heilige God” (Jos 24 : 19). In Neh 9 : 5 gee die Leviete opdragte aan die volk om op te staan en God te loof van ewigheid tot ewigheid! : “En laat hulle U heerlike Naam loof wat bo alle lof en prys verhewe is!” Hoe kan ons as mense dan God loof en Sy Naam prys as Hy bo alle lof en prys verhewe is ?
Ons benodig Sy Heilige Gees! Dit is die antwoord. Ons sal moet met dieselfde Gees vervul word waarvan ons in Joh 16 : 13-15 lees. Lees dit asb en let op die woorde wat sê: “Hy (die Heilige Gees) sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig”. 1 Kor 12 : 3: “ …en niemand kan [waarlik] sê dat Jashuah [my] Here is nie, behalwe deur die [krag en invloed van die] Heilige Gees” (Eie vertaling in Afrikaans uit Amplified Bible). Dit is dieselfde Gees wat deur ons sê: “Ja, kom Here Jesus” (Open 22 : 17). Dit is dieselfde Gees wat jou in jou verdediging gaan wysheid gee wanneer jou beskuldigers jou voor die regbank gaan sleep (Luk 12: 12). Dit is dieselfde Gees wat alles in die gemeente werk tot heerlikheid van God.
Kan ons dus sê dat alles wat vandag in die Christelike wêreld gebeur is deur die Heilige Gees gewerk? Nee, beslis nie! Ons mag nooit vergeet dat die Apostel Paulus ons waarsku dat ‘n “ander Jesus” en ‘n “ander gees” en ‘n “ander evangelie” (2 Kor 11 : 2-4), die ware Jashuah, die Heilige Gees en die ware Evangelie bedreig. Gaan vra jou Vader om dit vir jou te bevestig dat die Antichris nou reeds in die midde van die Christendom aan die werk is. En dit is daarom noodsaaklik dat jy met Sy Gees vervul sal word, sodat jy die verskil sal ken. As 1 Joh 4 : 1 sê: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” is dit belangrik.
Ons besef nou dat ons die Heilige Gees nodig het om deur ons God te loof. Beteken dit dat jy nie God kan loof sonder die Heilige Gees nie? Jy kan Hom met jou verstand loof maar kan Hom nie waarlik loof en aanbid sonder die Gees nie. Joh 4 : 23 sê: “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in Gees en in waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook sulke mense wat Hom só aanbid”. Kan jy sien dat die Gees jou bring na ‘n plek waar jy ‘n ware aanbidder word wat God in Gees en in waarheid aanbid? Maar om Hom met die verstand te loof is jou eerste stap om aan Hom te toon dat jy Hom wil aanbid. Dit moet jy liefs in jou binnekamer doen. Kerke wat God met die verstand loof het dikwels van emosionele opsweping gebruik gemaak en daardeur aan die vyand ‘n plek in hulle midde gegee wat nie tot eer van God strek nie. Die resultaat is slegs ‘n vleeslike emosionele lawaai. In jou binnekamer, terwyl jy in alle opregtheid Hom aanbid en prys met die verstand, sal Sy Gees jou te hulp snel om deur jou ware aanbidding te doen.
Soms aanbid jy Hom sonder woorde op dieselfde wyse as wat jy jou versoeke tot Hom bring, wanneer jy nie weet wat jy moet bid nie (Rom 8 : 26-28). In my persoonlike tye van gebed het ek menigmaal gevind dat ek net stil sit in Sy teenwoordigheid terwyl ek nie weet wat om te bid of die woorde het om Hom mee te aanbid nie, maar dan ervaar ek hoe die Gees deur my ‘n stille, woordelose aanbidding laat stroom na Hom toe. By ander gevalle waar ek alleen werk, soos wat ek vandag nog moet doen, wanneer ek na elke uur se skrywe (Tik) gou vir 15 minute in die groentetuin gaan skoffel teneinde my bloedsomloop aan die gang te hou, sing ek lofliedere tot God. Maar hieroor praat ons later. Jy het nou vir eers genoeg om oor te bid. Maar onthou dat dit God se reg is om deur jou aanbid te word. Moet dus nie ophou om dit aandag te gee nie.


9. Terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank

 

Hierdie gedeelte begin met Efes 5: 18: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul, Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank, in die Naam van Jashuah Messiah … “. Wat ‘n groot en geseënde Woord is dit vandag!

* Ons sal moet ‘n Woord van ons Vader kry hoe om met die Gees vervul te word. Nota: Hieroor skryf ek in VOLUME 1 onder die onderwerp “Word met die Gees vervul”.

* Ook oor hoe ons onder mekaar spreek met psalms en lofsange en geestelike liedere; en hoe ons in ons harte sing en psalmsing tot eer van die Here.

Paulus sê uitdruklik dat die mense in die laaste dae meer ondankbaar sal wees as vroeër : “MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie…”. (2 Tim 3 : 1-5). Maar dié ondankbaarheid waarna die Skrif hier verwys is nie, en mag ook nie, deel wees van die kinders van God nie. Hulle is, in teenstelling hiermee, kinders van God wat oorvloedig is in dankbaarheid en danksegging. As jy nou die tyd het, en ook toegang het tot jou Bybel, lees gou die volgende Skrifte: 2 Kor 9 : 11; Kol 4 : 2; Open 4 : 9; 2 Kor 4 : 15; Fil 4 : 6; Kol 2 : 7; Efes 5 : 4; Open 7 : 11-12. Indien jy dit nie kon doen nie wil ek net kortliks vir jou sê dat God, die Skepper, het die reg om gedank en geëer te word tot in ewigheid. Want alle goeie gawes daal van Bo af neer sê Jacobus 1 : 17 : “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” Die danksegging kom Hom, en Hom alleen, toe!

Omdat die mense die skepsel vereer bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid, het God hulle oorgegee aan allerhande slegte en goddelose dinge (Rom 1 : 21-32). “ 24Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer — 25hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 26Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is…”

Hoe voel jy as jy aan iemand ‘n guns bewys en hy is ondankbaar? Sal jy maklik weer ‘n guns aan hom bewys? En as die guns behels dat jy sy lewe gered het ? Tog het die Vader aan ons meer guns as dit bewys : Hy het Sy enigste Seun laat doodmaak en Hom in die hel gewerp teneinde ons van die ewige verdoemenis te verlos! Is dit nie genoeg rede om dankbaar te wees tot in ewigheid nie? En by dit alles is dit Hy wat ons reën gee en voedsel en water om te drink. Dit is Hy wat onheile van ons weghou, ons gesond hou en krag gee om te werk. Maar, sal jy vir my sê: Weet jy watter onheile oor my huis gekom het? En dan kan jy baie dinge noem. Maar, was daar van kleins af dankbaarheid in jou hart oor al die goeie gunste wat Hy jou geskenk het, of het jy dit maar as vanselfsprekend aanvaar? Het jy gekla as dinge nie so goed gaan nie, maar nagelaat om Hom vir al Sy seëninge te dank? Indien wel is jy dan ook ‘n ondankbare wese!

As ons net vir een oomblik sit en dink aan die goeie liefdevolle God en Vader wat hierdie uitspansel geskape het en daarin ‘n aarde gemaak het met die grootste liefde, waarop Hy Sy kinders wou laat woon. Hy het die klimaat en alles daarop sodanig gemaak dat dit ideaal is vir die menslike liggaam om daar te floreer. Die plante en diere daarop het Hy alles in liefde gemaak vir die mens – die kroon van Sy skepping! Die voedsel het Hy gemaak sodat ons dit met danksegging kan geniet! (1 Tim 4 : 3). En elke oggend wat jy die son sien opkom en nie deur die nag vermoor is soos baie ander nie, is jy dankbaar? Of dink jy dat jy te goed is daarvoor, dat jy verdien om te lewe?

Waarom bid jy nie nou, terwyl jy jou ondankbaarheid bely, dat die Vader jou deur Sy Gees met dankbaarheid sal vervul nie? En wanneer dit gebeur, sal jy in staat wees om 1 Thess 5 : 18 te lewe : “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Chistus Jesus oor julle”. Bedoel die Skrif dat ons in alles dankbaar moet wees? Ja, in alles!


10. Laat my U seun wees in waarheid, Vader.

 

Die woorde van Jashuah in Matt 5 : 43-48 :“Sodat julle kinders van God kan wees”(vers 45) sê vir ons duidelik dat daar sekere voorwaardes aan kindskap van God is. Lees die volgende asb.: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; 45sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. 46Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? 47En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? 48Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is”.

Lees nou hier verder wat die Woord sê: “14Doen alles sonder murmurering en teëspraak, 15sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, 16deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ’n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie”. (Fil 2 : 14-16).

Om kind van God te wees is jou reg, maar bo dit is dit God se reg om jou as Sy kind te hê. Dit is immers die rede vir die hele Skepping van die uitspansel, die son en maan en sterre, die aarde en alles daarop! God het ‘n Vaderhart en hy wou kinders hê. Reeds in die Ou Testament sê Moses vir die volk: “Julle is kinders van Jahweh”. En dit was Sy begeerte en Sy verwagting. Maar teleurgesteld in die volk sê Hy: “19Ék het wel gedink: o, Hoe gaan Ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee ’n kosbare land, ’n allersierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie 20Maar soos ’n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die Here.” (Jer 3 : 19-20). Ook in Jes 1 : 2 “Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die Here spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree.” God die Vader begeer dat ons Hom as Vader moet eer : “’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My?” (Mal 1 : 6).

God (Elohim) het die Gees van Sy Seun – dieselfde Gees – in ons harte uitgestort teneinde uit te roep; “Abba Vader!” Gal 4 : 4 – 7 : 4Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, 5om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. 6En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! 7Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus”.Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. 15Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! 16Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is 17en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Is dit nie ‘n wonderlike voorreg om ‘n kind van God te kan word nie? Hoor wat sê Johannes 3 : 1-2 : “Die kinders van God”(Opskrif)

KYK wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. 2Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is”.

Om egter ‘n kind van God te word moet jy Jashuah aanneem : Joh 1 : 12: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; 13wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is”. Maar niemand kan iets aanneem as dit hom nie van Bo aan hom gegee word nie : Joh 3 : 27 : “Johannes antwoord en sê: ’n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie”. Om Jashuah aan te neem beteken om alles wat Hy is en wat Hy sê, in die geloof aan te neem en te glo. Jy onthou tog seker dat ongeloof die groot moedersonde van alle sondes is. Netso is geloof, daarenteen, die kanaal waardeur alles wat Jashuah is, na jou toe laat vloei. As jy Hom nie glo nie maak jy Hom tot ‘n leuenaar! “En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie”. (Heb 3 : 19). Dit is ‘n heelhartige ‘aanneem’ van alles wat Hy is en sê. Dit is ‘n hartgrondige bekering – ‘n wegkeer van die wêreld – en ‘n 180 grade keer na God toe waar hy sit met Jashuah, ons Verlosser en Saligmaker, aan Sy regterhand. Dit is nie ‘n ligtelike gebeurtenis nie. Die oomblik as jy na die Vader draai en jy aanskou Jashuah, is daar geen keer meer nie! Jy wil die hele pad met hierdie wondelike Verlosser stap. En dit is ‘n aksie wat van Bo kom. Dit is die Vader wat jou trek na Jashuah omdat Hy weet dat jy Sy wil wil doen.Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh 6 :44).

Dit is seker die mooiste woorde wat jy uit jou Vader se mond kan hoor as Hy vir jou sê: “U is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het” (Mark 1 : 11). En dan verwys die Vader natuurlik na Jashuah, Sy Seun, wat in ons woon.


11. Nog meer waarhede omtrent Kindskap

 

Gisteroggend omstreeks 3 uur het Vader my wakker gemaak en Sy Woord het in my gees begin instroom. Ek het om 4 uur opgestaan en begin skrywe aan die Woord wat ek nou hier tot jou beskikking stel om te lees. Dit gaan oor “Seunskap van God”.

God se groot begeerte was, en is nog steeds, om jou, as helverdiende sondaar, Sy kind, Sy Seun te maak (Jeremia 3:19-20). En dit is nog steeds Sy begeerte (1 Joh 3: 1-9).

Hy weet dat ons dit nooit uit onsself sal kan doen nie en daarom plaas Hy die mensdom onder Sy wet vir honderde jare. Hierdeur wil Hy hulle toon dat hulle Hom nooit uit eie krag, deur goeie werke of verdienste sal kan behaag nie (Jes 64: 6; Rom 7: 1-26; Rom 3: 4-31). Die Wet is dus ons tugmeester na Christus toe (Gal 3: 21-24) om ons te wys dat ons, wat ons redding aan betref, niks kan doen vir onsself nie. Ons kan slegs gewillig wees om God se wil te doen (Joh 5: 40; Open 22: 17). Daarom het Hy ons ook saam met Hom laat sterwe ten opsigte van alle eie pogings om die wet te kan vervul: ‘n Dooie mens kan nie goed doen nie want hy is dood vir die Wet (Rom 7: 4-6). As jy nog wil poog om God deur jou eie toedoen te behaag, of geestelik te groei, is jy nog nie ‘n “ellendige mens” nie. Dan het Christus tevergeefs gesterf, want jy glo mos dat jy vir jouself iets kan doen, waarom moes Hy dit dan doen? Lees Gal 2: 16-21.

Hy stuur Sy Seun om die Wet namens ons te kom vervul (Matt 5: 17). Maar teneinde dit te doen moes Christus self onder die Wet gebore word teneinde ons los te koop (Gal 4: 1-19), en ons dan God se kinders te kan laat word. Maar eers vertel Hy hulle dat die Wet eintlik baie strenger is as wat Moses dit voorgehou het (Matt 5: 17-47). Let op hoe Hy in vers 27-28 sê “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het”. Dieselfde strenger wet deur Jashuah vind ons in verse 20, 21-22, 31-32, 33-34, 38-42, 43-47. Soos wat Jakobus dit sê: As jy slegs die geringste van hierdie gebooie breek is jy aan almal skuldig (Jak 2: 7-13). Dit is dus onmoontlik vir ‘n mens om deur goeie werke of deur Sy eie toedoen gered te word. Hy kan slegs gewillig wees om God se wil te doen (Joh 7: 17).

Om die Skrifte te ondersoek lei jou slegs weer na Christus, die enigste Hoop en Verwagting (Jer 14: 8) van Israel, toe (Joh 5: 39-42). As jy maar wil verstaan en hoor as Jashuah sê: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15: 5). Dit beteken dat jy jouself nie kan red of verander nie. Jy kan Hom slegs daagliks herinner aan Sy beloftes (Jes 62: 6-7; Luk 18: 1- 8). En as jy dit doen en op Hom wag met volharding (Hab 2: 1-4), dan breek Sy Woord op ‘n dag in jou gees deur, Dit is die dag as die koringkorrel in die grond val en gesterf het – verrot het (Joh 12; 20-25), dan dra dit veel vrug. Dan ervaar jy dat dit God is wat in jou werk om te wil en te werk na Sy welbehae (Fil 2: 13). Watter Woord breek dan deur in jou gees? Dit is die Woord van die lewe (1 Joh 1: 1-4). Dit is die Woord wat jou wederbaar (1 Pet 1: 23; Joh 3: 3-7). Maar jy moet daarop wag met volharding (Luk 8: 15; Efes 6: 17-19), sonder om in die tussentyd iets te wil doen uit jouself! Of wil jy die Almagtige God so ‘n bietjie aanhelp omdat Hy te stadig beweeg? Dink jy nie dat Dawid baie dae haastig geraak het nie? Ja, lees Ps 22: 20; Ps 31: 3; Ps 38: 23. Maar God laat hom wag (Ps 27: 14; Ps 31: 25; Ps 33: 18). Hy moes geduldig wag (Ps 40: 2-4) soos Abraham (Heb 6: 13-15), Noag en talle ander heiliges, ook jy en ek (Jak 5: 7-8). Ons het gewoond geword aan ‘n “kitseeu” en wil nie meer wag nie! Om te wag op Jahweh is die geheim (Rom 8: 25). Dit is geloof: om, terwyl jy nog niks sien gebeur nie, die onsienlike te sien (Heb 11: 9-14). Lees die hele Heb 11. Ook Heb 10: 36-39 wat sê: “Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry”. Lees ook Jak 1: 2-4; Jak 5: 11: Open 2: 3; Open 3: 10

Hierdie Woord is God se metode waardeur Hy jou red en verlos, reinig en heilig en regverdig, ja alles het deur hierdie Woord van die lewe (1 Joh 1: 1-4), die Woord van genade (Hand 20: 32; 14:3); die Woord van Verlossing (Hand 13: 26), ontstaan (Joh 1: 1-14). Hy sê: “Julle is reeds rein die deur die Woord wat Ek tot julle gespreek het (Joh 15: 3)”. Deur dieselfde Woord is jy geheilig, verlos, en is Christus jou geregtigheid (1 Kor 1: 30). Deur dieselfde Woord is jou sondes vergewe (1 Joh 2: 12), ken jy Hom (1 Joh 2: 13-14), is jy met die Gees vervul (Rom 5: 5). Deur dieselfde Woord het Hy die goeie werke voorberei sodat jy daarin kan wandel (Efes 2: 8-10). Hy het jou in Sy Seun geskape tot goeie werke, wat Hy voorberei het vir jou om in te wandel – op Sy tyd! Selfs Jashuah het verklaar – toe Hy as jou en my plaasvervanger na hierdie aarde gekom het – dat Sy Vader die werke doen. Lees Joh 5: 36; 9: 4; 14: 10.

Hy is die Woord. Jashuah Messiah is die Woord, dit is Sy Naam (Open 19: 13)! Wie die Woord verag moet dit ontgelde (Spr 13; 13). God die Vader dra alles deur Hom (Heb 1: 3) en alles het deur Hom ontstaan (Joh 1: 1-14). So sal daar ook niks in jou lewe ontstaan sonder Hom nie! Jy kan nie en sal ook nooit iets vir jouself kan doen nie. Onthou: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:5).

En die gebod is nie swaar nie (Deut 30: 10-16): Lees nou Deut 30: 1-20. Dit is Sy Woord aan ons op hierdie dag. Lees dit saam met Rom 10: 1-21. En as dit ‘n lewende Woord in jou hart word, sal die wonderlikste beloftes deur dieselfde Woord in jou hart begin lewe soos byvoorbeeld : “U is My Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My en Ek wil nasies gee as U besitting” (Ps 2: 7-8). Ek weet dat die Skrif dit van Jashuah sê! Maar Hy sê dit ook vir jou en my. Lees nou Ps 82: 6 tesame met Joh 10: 34-36. Dit was nog altyd God se begeerte om ons met seuns gelyk te stel (Jer 3: 19-20; Mal 1: 6). Hy het Sy Seun gestuur om ons vry te maak van die Wet en die sonde, deur sonde vir ons te word, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2 Kor 5: 21).

Om Sy kind te kan wees laat jou ‘n broeder van Christus word, een van baie broeders (Rom 8: 29), van wie Hy die eersgeborene is. Dan kan jy sê: Ek is ‘n kind van God, in Christus is ek seun van God. Onthou, nie in jouself nie, ook nie deur jou toedoen nie, jy het dit ontvang (1 Kor 4: 6-7). BAIE BELANGRIK!!! En dit maak dat die wêreld jou haat (1 Joh 3: 1). Hierdie hele Woord staan in teenstelling met die Wet en alle pogings deur die vlees om God te behaag (Rom 8: 5-11). Dit het Jashuah se lewe gekos. Dit was die Wet wat Hom na die kruis gestuur het om te sterwe (Joh 19: 7), omdat die Wet nie toegelaat het dat iemand homself die Seun van God noem nie, nie omdat daar iets fout was met die wet nie, maar omdat geen mens dit kon hou nie (Rom 7: 7-12; 1 Kor 15: 53-58). Maar Hy het Homself die Seun van God genoem omdat Sy Vader Hom so genoem het. Ons noem ons ook nie self die seun van God nie, ons Vader het ons so genoem – deur die Lewende Woord! Nou kan ons voortgaan om volgens Rom 10: 8-17 die Woord te hoor, te glo, en te spreek, en daarna te ervaar hoe Hy (Die Woord) in ons lewe!!

As jy nou gaan bid oor hierdie wonderlik onderwerp en vir die Vader sê, “ Ek wil graag vir U ‘n kind wees waaroor U bly kan wees, ‘n kind wat U hart gelukkig maak, dan sal Hy met jou daaroor praat. Op ‘n sekere tyd sal Hy vir jou laat besef dat Jashuah reeds, 2000 jaar gelede, alles gedoen het om dit vir jou moontlik te maak, dat jy Sy kind kan wees.

Ek het persoonlik al vir baie jare oor hierdie selfde onderwerp gepreek, dagstukkies geskrywe, DVD’s en CD’s gemaak. Tog het ek nooit die indruk gekry dat die Woord byval gevind het by mense nie. Maar nou glo ek dat die uur gekom het waarna ons hemelse Vader uitgesien het dat ons vir Hom seuns en dogters sal wees. En selfs die hele skepping wag met reikhalsende verlange na die openbaarmaking van die kinders van God. Lees Rom 8: 18-21.

Maar, dit is baie belangrik dat jy elkeen van die gedeeltes in die Skrif gaan lees! Dit sal jou nie veel baat as jy nalaat om dit te doen nie. En indien jy dit gaan doen sal jy gou die vraag vra: “Maar is kindskap en seunskap dieselfde”? Die antwoord is “Ja” maar ook “Nee”. Maar gaan bid jy nou eers oor jou kindskapvan die Vader end an deel ek ‘n bietjie verder met jou ‘n dieper waarheid oor “seunskap”.*


12. Die Sleutel van die Huis van Dawid

Daar word veel gesê oor die huis van Dawid in die Ou en Nuwe Testament. Hieroor kan boekdele geskryf word. Dawid het in die Ou Testamentiese tyd gelewe maar het ‘n groot openbaring van die Nuwe Testament of te wel die Nuwe Verbond gehad. Dit is die blye boodskap van vrede met God, die boodskap van Sy genade. En Dawid het God se genade geken. Asook die onmoontlikheid vir die mens om deur sy goeie werke God te behaag. En dit is waarom die Skrif verwys na die “sleutel van Dawid” wat op die skouer van Jashuah gelê sal word Jes 22: 22: “En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie”.

Dawid het gebrokenheid voor God geken wanneer hy om genade gesmeek het. Hy het geweet dat deur verdienste hy slegs hel toe kan gaan want dit is al wat hy verdien. As jy Ps 51 lees sal jy dit opmerk. En hierdie gebrokenheid waarna hy verwys in Ps 34: 19; 51: 19 en 147: 3 was die bewys van sy algehele wantroue in homself en sy diepe afhanklikheid van Jahweh en sy vertroue op Hom. Dit was die sleutel tot sy sukses en oorwinnings oor die vyand. Dit was ook die sleutel wat sy vriendskap met God, sy Vader, oopgesluit het. En dit is dieselfde sleutel wat vir jou en my genade in God se oë laat vind (Hand 7: 45, 46). Om dus swak te word voor God is die sleutel tot Sy krag in jou lewe (2 Kor 12: 9-10). As jy swak is, is jy sterk. Dit is die sleutel. As jy dus algeheel wanhoop in jouself maar vertrou op Jahweh met jou hele hart. En as jou oë en jou hart geheel en al op Hom gerig is en jou verwagting slegs van Hom is (2 Kron 16: 9), het jy die sleutel van die huis van Dawid. As jy algeheel op Sy genade, goedertierenheid en trou steun en nie op jou eie vermoëns nie, het jy die sleutel van Dawid se huis gevind. As jy Christus as jou geregtigheid ontdek het (1 Kor 1: 30) en nie vertrou op jou eie geregtigheid (Rom 10: 3-4) wat deur jou werke en pogings bereik word nie, het jy weereens die sleutel van die huis van Dawid gevind.

As jy die sleutel van die huis van Dawid gevind het is daar baie beloftes van God aan sy huis wat vir jou oopgesluit word. Byvoorbeeld: Hand 15: 14-18 “Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.15En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: 16Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel 17sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. 18Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend”. Jes 9: 5 “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — 6tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen “.

En so is daar baie beloftes aan Dawid en sy huis toegesê. Jy moet nou jou Vader in die hemel vra om jou deur Sy lewende woord te lei na al die plekke in die Bybel waar Hy beloftes gee aan die huis van Dawid. Maar eerstens moet Hy aan jou bevestig dat jy deel is van daardie huis en dat daardie beloftes ook aan jou gegee is. Jy sal gou ontdek dat, as jy in Christus is is jy deel van Dawid se huis en ook deel van Abraham se nageslag aan wie al die beloftes toegesê is (Gal 3: 29; 2 Kor 1: 20).

Mag Hy jou oë vir hierdie heerlike waarheid open en jou gees verkwik daardeur!


13. Christus alles en in almal

Wanneer ‘n mens by ‘n onderwerp soos hierdie kom, is dit nie moeilik, mits jy in die gees skrywe, om dinge uit verband te ruk nie. Maar ek is diep afhanklik van die Gees van Jahweh om dit deur my te skrywe. Ek glo ook dat daar mense is wat vir my bid, soos wat die heiliges dit vir Paulus gebid het. Ons lees van sy versoek aan hulle in Efes 6: 18-19.

Jahweh sê in Jes 44: 24 sê : “Ek is Jahweh wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei – wie was met My?”. En Hy sê ook in Jes 45: 5- 7 : “Ek is die Here, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die Here, en daar is geen ander nie; 7wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die Here, is dit wat al hierdie dinge doen”. Wat moet ons verstaan deur hierdie woorde van Hom? Moet ons verstaan dat Hy letterlik alles op die aarde en in hierdie wêreld doen en bewerkstellig – die lig sowel as die duisternis? Gebruik Hy dalk Satan en al sy bose magte en geeste om Sy “vuilwerk” te doen? Ons sal hieroor duidelikheid moet kry!

Toe my liefste vrou en ek deur die dorpie Senekal in die Vrystaat reis, sien ons by die ingang van die dorp ‘n kruis met die volgende woorde uit die Skrif daarop: “Hier is Christus alles en in almal”. Seker na aanleiding van Kol 3: 11: “waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal”.

Die Holistiese denkrigting glo dat God deel is van alles wat bestaan en dat alles wat bestaan ook deel is van God. God is dus in die bome, die diere, die uitspansel, ja in alles. Is dit onverstaanbaar vir jou? Moenie voel dat jy dom is nie! Hierdie siening is selfs onverstaanbaar vir hulle wat dit glo. Paulus sê … alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie” (1 Tim 1: 7).

Ek weet nie wat die mense in Senekal daarmee bedoel het nie, maar dit kan verskillende betekenisse hê, waarvan sommige wonderlik sou wees indien dit ‘n werklikheid is in daardie dorpie. Kom ons hoop dat dit wel die geval is! As Christus vir hulle alles is en in almal is, behoort dit dan ‘n plek van goddelike liefde, vrede, geregtigheid, blydskap, vergifnis en genade vir almal te wees. En die inwoners van daardie plek sal hier self moet getuig of dit wel so is. Moontlik sê hulle dit in die geloof dat God Senekal so ‘n plek van liefde, vrede en heerlikheid sal laat word. As dit die geval is wil ek dit graag saam met hulle glo en verwag want ek begeer dit vir alle mense op aarde, veral vir ons klein oorblyfsel hier in Suid Afrika.

Toe ek in “Die Bybel met Verklarende Aantekeninge” hierdie Skrifgedeelte naslaan sê dit (deur my verkort): “In die nuwe lewe van die wedergeborene val alle rasseteenstellinge weg asook godsdienstige, kulturele en maatskaplike teenstellinge. In Christus het alles nuut geword. Dit beteken nie dat die bestaande verskille in die natuurlike orde en menslike lewensverbande nou opgehef is nie. Volgens 1 Kor 7: 20-22 bly elkeen in die roeping waarin hy geroep is. Al hierdie mense wat so verskillend is van mekaar vind in Christus ‘n eenheid soos die onderskeie vingers van dieselfde hand. Dit is die eenheid in Christus en die nuwe lewe wat Hy aan almal gee, en waarin Hy alles is”. Hierdie is die siening van ‘n aantal geleerdes, maar oor die vraag of hulle opinie dan dieselfde as God s’n is sal elkeen self by Hom moet gaan hoor. Wat egter baie lig op die ondwerwerp gee is die waarheid omtrent “In Christus”.

Ons het al geskrywe oor die heerlike waarheid om “in Christus” te wees. Dit word mooi saamgevat in 1 Kor 12 : 12-27: “WANT net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.

13Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge”.

1Kor 1 : 30 “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing”.

Uit genoemde Skrifte kom ‘n baie belangrike waarheid na vore naamlik: Om “in Christus” te wees moet jy deur die Heilige Gees daar “ingedoop” word. Deur Hom, en Hom alleen, kan jy “in Christus” wees. En die eenheid waaroor Kol 3 : 11 praat, is ‘n Godgegewe eenheid wat alleenlik tussen hulle wat in Christus is, gevind word. Dit is hulle wat deur dieselfde Heilige Gees een geword het in Hom. Buite Christus is daar geen eenheid in hierdie wêreld nie! So baie organisasies is al oor die wêreld in die lewe geroep om eenheid te bewerkstellig tussen mense, volkere en nasies. Maar dit hou nie lank nie dan is daar weer oorlog. Gaan lees die geskiedenis en maak jou eie gevolgtrekking. Daar sal nie buite Christus eenheid wees op enige gebied nie, nie tussen jou en jou huweliksmaat nie, ook nie tussen jou en jou kinders nie, en ook nie tussen jou en jou mede-kerklidmate nie. As een party in Christus is en die ander een nie, sal die gelowige die ongelowige liefhê maar eenheid sal daar nie wees totdat albei in Christus is nie.

“Christus is alles en in almal” want Hy is die Woord waaruit alles ontstaan het. Lees nou eers Joh 1: 1 – 14 aandagtig en let op dat alle dinge deur Christus as die Woord ontstaan het. Die ganse skepping het God geskape deur Sy Woord. En Christus is die Woord (Open 19: 13). Heb 11: 3 “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die Woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie”. Heb 1: 2 “…(Christus) wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het”.

“Christus is alles en in almal”. Hy is jou vrede (Efes 2: 14), Hy is jou verlossing (2 Tim 2: 10; Kol 1: 14). Hy is jou lewe (Kol 3: 4; Fil 1: 21), jou wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing (1 Kor 1: 30). Ja, Hy is jou alles! Sonder Hom kan jy niks doen nie (Joh 15: 5). En dit beteken ook dat alles wat jy buite Hom doen is niks werd nie, dit sal tot niet gaan. Alleenlik dit wat in Hom as die Woord gedoen is sal bly staan tot in die ewigheid. 1 Pet 1: 23: “ want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.24Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,25maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is” .

Ek sal verstaan as jy dink dat hierdie hoofstuk moeilik verstaanbaar is. Maar vra jou Vader uit ‘n opregte hart om dit in jou hart lewend te maak.*


14. Die Sabbat as teken tussen God en ons

 

In Deel 3 skryf ek ook oor die Sabbat en dan verwys ek veral na die voordele van die sabbat vir die mens. Jashuah sê dat die sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbat nie (Mark 2: 27). Maar in hierdie tweede hoofstuk is die klem op wat die sabbat vir God beteken en die belangrikheid daarvan dat die mens die sabbat sal hou. God se woord sê vir ons in Esegiël 20 dat die sabbat ‘n teken is tussen Hom en die mens. Daar is verskillende aspekte ten opsigte waarvan die sabbat ‘n teken is.

‘n Eerste teken is dat die mens ook rus van sy werke wat hy deur die vlees poog om te doen om God daardeur te behaag. Hierdie rus vergelyk Hebreërs 4 met die rus wat God rus nadat hy die hele skepping voltooi het. Soos wat Hy rus van Sy werke so rus ons, as die wat in Hom glo, ook van ons werke. Hy het klaar gewerk en Hy rus nou en ons het ook klaar gewerk daarom rus ons ook van ons werke. Daar is egter ander werke waarvan ons nooit sal rus nie net soos die Vader ook tot nou toe daardie werke doen alhoewel Hy van ander werke rus. Lees nou eers Joh 5: 17. Nou is die vraag: van watter werke wil Hy hê dat ons moet rus en watter werke moet ons steeds doen? Eerstens die werke wat ons nie meer moet doen nie: Dit is die werke waardeur ons poog om God te behaag. Dit is die werke van die wet, die mens se eie pogings om God se gebooie te onderhou. Hy het ons genoeg tyd gegee om te bewys of ons wel Sy wette kan onderhou en daardeur aan Sy eise te voldoen uit ons eie krag. Die wet het geen ander doel gedien as dat dit net ons tugmeester was na Christus toe. Ons onvermoë om Sy wet te onderhou het vir ons net een groot les geleer en dit is: gaan na Christus toe dat Hy dit namens jou kan vervul. En hy het dit namens ons vervul en daarom is dit nie meer nodig dat ons dit moet vervul nie anders het hy onnodig gesterf soos Gal 2: 21 ook tereg sê. Wanneer hierdie waarheid in jou gees deurbreek breek daar daarmee tesame ook ‘n ongekende rus in jou gees en siel deur. Die teenoorgestelde is ook waar naamlik so lank jy dink dat jy jouself kan verander en jou ‘n beter mens maak, sal jy net meer en meer ervaar dat dit ‘n onmoontlike taak is. Jy sal so vermoeid raak in jou gees en siel dat selfs jou liggaam moeg sal raak. Hoeveel jare het ek nie probeer om dit reg te kry nie? En hoe moeg het dit my nie gemaak nie! Die mense praat van nuwejaarsvoornemens maar ek het elke dag voornemens gehad wat ek nie kon uitvoer nie. Hoeveel dae het ek nie myself voorgeneem om nie meer so vinnig te praat en so baie te praat nie? Hoe het ek nie myself voorgeneem om nie meer mense te veroordeel nie? Hoeveel dae het ek my nie self voorgeneem om nie meer van mense te skinder nie maar hulle inteendeel te vergewe en niks meer teen hulle te dra nie? En tog kon ek dit nie regkry nie. Ek was dag vir dag teleurgesteld in myself en moes soos Paulus sê in Romeine 7 dat wanneer ek die goeie wil doen dan staan die kwade my by(Vers 21). In hierdie gedeelte sê Paulus ook dat al sy mislukkings om God te behaag het net vir hom een oplossing oorgelaat en dit is dat Christus die enigste een is wat God deur hom kan behaag. Christus is die enigste een wat hom verlos of liewer kan verlos van die liggaam van die sonde en die dood (Vers 24). Vir hom was die wet dus sy tugmeester na Christus toe (Gal 3: 24-25).

Ek onthou nog die aand in ‘n biduur toe die groot waarheid dat Christus my geregtigheid is (1 Kor 1: 30) in my gees deurgebreek het en ek besef het dat my Vader in die hemel nie meer van my verwag om enige goeie werke te doen uit myself nie, om enigsins die wet te onderhou ten einde Hom daardeur te behaag nie. Daar het ‘n vrede en ‘n rus in my hart deur gebreek wat tot op hierdie dag nog vir my onbeskryflik is. Ek kon duidelik die blydskap van Jashuah en my Vader in my gees voel. Hy het seker in daardie oomblik gesê: uiteindelik my kind het jy die waarheid oor die saligheidswerk wat ek deur Jashuah vir jou gedoen het, raak gevat! Uiteindelik het jy opgehou om te probeer en kan jy nou my rus ingaan. O, as ons maar kan weet hoe gelukkig dit die Vaderhart maak en ook Jashuah wat deur Sy dood vir ons versoening met die Vader bewerkstellig het, en ook daardeur vir ons geregtigheid geword het.

Tweedens moet ons gaan kyk na die werke wat ons nog steeds moet doen, werke wat God voorberei sodat ons daarin kan wandel. Hier moet jy nou eers Efes 2:10 lees. Om elke dag toe te neem in hierdie goeie werke en dit meer oorvloedig te doen is reeds deur jou Vader in Christus vir jou voorberei: dit is die werke van die geloof waaroor Jakobus skryf (Jak 2: 14-26):

Nutteloosheid van geloof sonder werke.

14WAT baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?15As daar nou ’n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het,16en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit?17Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.18Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.19Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.20Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?21Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?

22Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?23En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ’n vriend van God genoem.24Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?25En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ’n ander pad weggestuur het nie?26Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.

In Johannes 7: 28-29 sê Jashuah dat die werke van God is om Hom te glo wat deur God gestuur is. Om dus Jashuah te glo in elke woord wat Hy gespreek het terwyl hy op aarde was en ook nadat Hy na die hemel opgevaar het, ook deur Sy Gees tot ons gespreek het deur die Woord in die Nuwe Testament. As jy dus sou vra watter werke ons dan moet doen is die antwoord: “As julle hierdie dinge weet (dit is nou die dinge wat in die Skrif geskrywe staan), salig is julle as julle dit doen”(Joh 13: 17). Jakobus sê ook dat ons moet daders word van die Woord en nie net hoorders wat hulleself bedrieg nie (Jak 1: 22). Die doen van die woord is dus die werke wat ons nog steeds moet doen en ook sal doen tot in alle ewigheid.

Jashuah sê dat ons die werke sal doen wat Hy gedoen het en dat ons selfs groter werke sal doen as Hy omdat Hy na die Vader toe gaan. Hy het geweet dat wanneer Hy klaar aan die kruis gesterwe en uit die dood opgestaan het en opgevaar het na die hemel toe om aan Sy Vader se regterhand te gaan sit, Hy die Heilige Gees sou ontvang om op sy dissipels uit te stort. Hulle was toe reeds wagtende in die bo-vertrek op die belofte van die Heilige Gees, wat Hy toe op Pinksterdag, oor hulle gekom het. Hy het geweet dat hulle na die vervulling met die Heilige Gees (Hand 2: 1- 36) krag sal ontvang (Hand 1: 8) om selfs groter werke te doen as Hy (Joh 14: 12-14). Daarom het Hy gesê dit is voordelig dat hy weggaan (Joh 16:5-15). Nie slegs voordelig vir die dissipels self nie maar ook vir almal wat deur hierdie woord wat hulle sou verkondig die ewige heerlikheid sou kon ontvang. Wat ‘n heerlike evangelie, wat ‘n onbeskryflike saligheid? En dit alles deur genade. Geen verdienste was daarby betrokke nie behalwe dit wat Jashuah namens ons verdien het!


15. Ons gedagtes gevange geneem tot gehoorsaamheid aan Christus

 

Daar is verskeie plekke in die Bybel waar ons lees van God se vereiste dat die mens Hom sal gehoorsaam wees. Saul het gesterwe nadat hy van sy koningskap ontneem was omdat hy aan God ongehoorsaam was. (1 Sam 15) Samuel het vir Saul gesê dat gehoorsaamheid beter is as offerandes (Vers 22). In die Nuwe Testament sê die Skrif in Handelinge dat God die Heilige Gees gee aan die wat Hom gehoorsaam is (Hand 5: 32). Toe Moses, die man van God, God nie in die fynste besonderhede gehoorsaam het nie, het hy nie die beloofde land kon ingaan nie al het God hom dit belowe.

In my eie lewe was ek al telkemale in ‘n situasie waarin ek myself ‘n vernedering kon spaar deur ongehoorsaam te wees aan Jahweh. Net so het ek in talle vernederings beland omdat ek gekies het om Hom gehoorsaam te wees eerder as die mense. In Handelinge 4: 19 en 5: 29 sê die dissipels en die apostels vir die Joodse raad dat hulle self maar moet besluit of dit verkiesliker is om God gehoorsaam te wees as die mense. Deur die eeue heen kon baie Heiliges, toe hulle doodgemartel was omdat hulle verkies het om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan die mense, hulle lewens gespaar het. Maar hulle het verkies om eerder te sterf ter wille van die Naam van Jashuah en daardeur ‘n beter opstanding te verkry (Heb 11: 35), as om vir ‘n tyd lank die genot van die wêreld te hê (Heb 11: 24-25).

Ongehoorsaamheid begin by ‘n gedagte. Daarom sê die apostel Paulus dat ons elke gedagte gevange moet neem tot gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor 10: 5). Dit is deel van die wapenrusting van God waarna Effesiers 6: 10- 20 verwys. Dit help nie dat jy die volle wapenrusting van God aan het maar daar is een gedeelte wat jy weier om op te sit naamlik die helm van verlossing (Vers 17). Dit is die gedagtes van die vlees wat uiteindelik die dood veroorsaak (Rom 8: 5-8). Die gedagtes van die Gees is dit waaruit die lewe voortspruit (Rom 8: 6). As die Skrif sê dat ons “die sin van Christus” het, bedoel hy daardeur dat ons die gedagtes van Christus het. Dit beteken dat Christus dink in ons en deur ons en nie die vlees nie. Daarom sê Paulus in Kolossense 3: 1-3 “as julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie (Vers 2). Hy gee hierdie woord in die fynste besonderhede: bedink die dinge wat daarbo is waar Christus aan die regterhand van God sit (Vers 1). Ook sê Hy in Filippense wat ons alles moet bedink sodat die God van vrede met ons kan wees. Lees Fil 4: 6-9

Hierdie gedagtes van ons wat op Christus en op die Vader gerig moet wees is iets wat God van ons vereis en Hy het die reg daartoe om dit van ons te vereis, want hy is God die Skepper en ons is Sy maaksel. Vandag sien ons oral in advertensies “ t’s & c’s apply” en ons aanvaar dat daar by elke transaksie voorwaardes is waaraan die koper moet voldoen. As die Skrif sê dat twee nie met mekaar kan saam wandel tensy hulle eers afgespreek het nie (Amos 3: 3) beteken dit dat ons eers die terme of voorwaardes waarop ons met God saam wandel sal bespreek en hoor wat Hy van ons verwag, en dit dan aanvaar voordat ons kan saam wandel. Daar is net een metode waardeur ons Sy voorwaardes kan nakom en dit is om te aanvaar en te glo dat ons saam met Christus gekruisig is en dat ons nie meer lewe nie. En omdat ons dood is, of liewer saam met Hom gesterf het, kan ons nie meer ons eie gedagtes dink nie. Om op hierdie punt te kom neem soms jare maar as jy daarna strewe en dit najaag en elke dag die wapenrusting waarna Effesiers 6 en 2 Korinthiers 10 verwys opneem en aantrek, sal jy met die tyd agterkom dat jou gedagtes meer en meer uit die volheid van Jashuah stroom, en al minder uit jou eie verstand. Dit is die twee soorte wysheid waarna 1 Korintiërs 1: 17-31 verwys. Die natuurlike mens verstaan nie hierdie dinge nie (1 Kor 2: 14), maar as jy by jou Vader die genade kan ontvang om dit te verstaan en daarvoor te bid, gaan jy ervaar hoedat Jashuah deur jou lewe, deur jou dink, sien, hoor, handel en wandel. Dan kan jy sê dat “Christus is my lewe” (Kol 3: 4).

Abraham die vader van die gelowiges (Rom 4), was God gehoorsaam en hierdie gehoorsaamheid het gespruit uit sy geloof in die woord van God, of het sy geloof gespruit uit sy gehoorsaamheid toe God vir hom gesê het “gaan uit jou mense en uit jou huis na die plek wat ek jou sal wys” (Gen 12:1-4)?. Eintlik is geloof en gehoorsaamheid sinoniem. Lees die gedeelte in Johannes 3 vers 36 en kom tot jou eie gevolgtrekking of geloof en gehoorsaamheid nie maar presies dieselfde ding is nie. Sal jy iemand se opdragte gehoorsaam as jy dink dat hy ‘n leuenaar is? Onthou jy nog dat ek in ‘n vorige hoofstuk gesê het dat ongeloof maak God ‘n leuenaar?

Lees nou weer 2 Korintiers 10 vers 6 en merk op die woorde “wanneer julle gehoorsaamheid volkome is…”. Dit is een van die groot dinge waarna God uitsien, die dag wanneer ons geloof en ons gehoorsaamheid, volkome is. Omdat Hy ons Skepper is en omdat alles uit Hom en deur Hom en tot Hom is (Rom 11:33-36), het Hy die reg daartoe dat ons Hom volkome gehoorsaam sal wees en Hom tenvolle sal glo. As ons God wil gelukkig maak en Hom wil behaag sal dit ons passie word in ons hele lewe.

Hierdie “Helm van verlossing” waaroor ek hier geskryf het is natuurliik deel van “Die wapenrusting van God” waaroor ek in deel 3 geskryf het (Hfstk. 18)

Daar is ‘n lied in Engels wat ek graag met jou wil deel. Dit is geskryf in die 1800’s deur een van die ou heiliges, Kate B Wilkenson. Laat die woorde lewend word in jou hart:

 

“May the mind of Christ, my Saviour, live in me from day to day,

By His love and power controlling, all I do and say…….”

 

May the Word of God dwell richly in my heart from hour to hour,

So that all may see I triumph only through His power….”