INHOUD DEEL 2(2)
16.Die Regterhand van God
17.Glo in Sy Naam
18.Die Seël van God
19.Die Eiendoms-volk van God
20.’n Geslag(Familie) van God
21. Waarna God soek -Ware aanbidders
22. Man en vrou het Hy hulle geskape
23. Die tuin van Jahweh se Verlustiging
16. Die Regterhand van God
Die afgelope tyd het ek telkens die Skrif oopgeslaan en iets gelees oor die “Regterhand van God”. Jare gelede het ek in Israel ‘n Christen-Jood raageloop wat my vertel het van ‘n boek wat hy gelees het oor “Die Regterhand en ook die Linkerhand van God”. Ek het nooit die boek gelees nie omdat ek geweet het dat die Heilige Gees getrou is om op die regte tyd aan my te openbaar wat dit in my lewe beteken. En nou deel ek dit met jou.
Oorwinningslied van die Israeliete.
Ex 15 TOE het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die Here gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die Here, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. 2Die Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. 3Die Here is ’n krygsman; Here is sy naam. 4Hy het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp. En sy beste vegsmanne het in die Skelfsee gesink. 5Die watervloede het hulle oordek. Hulle het in die kolke gesink soos ’n klip. 6o Here, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o Here, verpletter die vyand. 7En in u grote hoogheid werp U diegene neer wat teen U opstaan. U stuur u toorngloed uit: dit verteer hulle soos ’n stoppel. 8En deur die geblaas van u neus het die waters hulle opgestapel, die strome het bly staan soos ’n wal, die watervloede het styf geword in die hart van die see. 9Die vyand het gesê: Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel, my begeerte sal versadig word van hulle; ek sal my swaard trek, my hand sal hulle uitroei. 10U het met u asem geblaas: die see het hulle oordek; soos lood het hulle gesink in die geweldige waters. 11o Here, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? 12U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind. 13U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer” (Ex 15: 1-13). Let op die groot rol wat die regterhand van God, Sy Naam Elshadai in hierdie geval – Die Almagtige God – by hierdie magsopenbaring van Hom gespeel het toe Hy die Israeliete deur die Rooisee uitgelei het uit die slawerny van Egipte.
En in verskeie ander plekke in die Bybel lees ons in verband met die regterhand van God. En ook ons regterhand. Kom ons lees nou Ps 16: 8-11: “Ek stel die Here altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. 9Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon; 10want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie. 11U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in U regterhand, vir ewig”.
Wat baie tot my gespreek het die afgelope dae was waar die Skrif sê dat ons moet skuil by Sy regterhand. Ps 17: 7 “Maak U gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by U regterhand skuil vir teëstanders! 8Bewaar my soos ’n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels”. Lees ook Ps 18: 36: “6Ook het U my die skild van U uitredding gegee, en U regterhand het my ondersteun, en U neerbuigende goedheid het my groot gemaak”. Ook Ps 20: 7 Nou weet ek dat die Here Sy gesalfde verlos; Hy sal hom verhoor uit Sy heilige hemel met magtige dade van verlossing van Sy regterhand”. Ps 60: 7 “7Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons!”. Ps 63: 9 “My siel is aan U verkleef; U regterhand ondersteun my”.
Die regterhand van God deel in Sy toorn met Sy vyande Ps 21: 9 “ U hand sal al u vyande vind; u regterhand sal u haters vind. Ps 44: 4 Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ’n welbehae in hulle gehad het. Ps 45: 5 “ Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!”. Ps 48: 11 “1Soos u Naam, o God, so is u roem tot die eindes van die aarde toe; u regterhand is vol geregtigheid.Ps 74: 11 “Waarom trek U u hand, ja, u regterhand, terug? Trek dit uit u boesem! Vernietig!”
Vir Dawid was dit ‘n groot bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste sal verander want hy het al gesien wat die rol van God se regterhand in sy eie lewe was asook in die geskiedenis van Israel. Lees Ps 77: 11 asook Ps 78: 54. Sy regterhand word Sy heilige arm genoem in Ps 98: 1. Dit is die arm waardeur Hy Sy wonders doen en Sy heil bekend maak. Dit is met dié arm waarmee Hy ons vashou (Ps 139: 10) en verlos (Ps 138: 7) en kragtige dade doen (Ps 118: 15, 16)
Nou moet jy eers Ps 80 lees en dan bid dat die Vader dit vir jou oopmaak in jou gees.
Maar wat is nou die verskil tussen die regterhand van God en Sy linkerhand? Is daar verskil by die mens tussen sy regterhand en sy linkerhand? Een ding weet ek dat as jy ‘n huwelik bevestig, moet jy seker maak dat die bruidegom en die bruid mekaar die regterhand gee. Ook by die sluit van ‘n kontrak gee hulle mekaar die regterhand. Toe Paulus, nadat hy 3 jaar in die Arabiese woestyn gaan wag het op Jahweh om vir hom te bevestig dat die leer wat hy nou na sy bekering gaan verkondig, waarlik ooreenstem met die leer wat die ander apostels reeds by Jashuah ontvang het. Lees Gal 2: 9 en let op hoe dat hulle mekaar die regterhand van gemeenskap gegee het. Dit was nie sommer enige hand nie, dit was die regterhand. As die huweliksbevestiger ‘n paartjie trou en hulle sou mekaar die linkerhand gee kon enigiemand in daardie gehoor daardie huwelik onwettig verklaar. En as een party dalk nie ‘n regterhand het nie? Dan sou daar ‘n uitsondering gemaak word en dit sou ook dan so in die register aangeteken word. Ek weet nie of dit vandag nog so werk nie?
“Regs” en “links” word in die woordeboek baie omvattend omskryf. Ek het my eintlik verbaas om te sien hoeveel ruimte was daar in die Engelse verklarende woordeboek daaraan gegee. In die politieke wêreld word daar baie gou melding van gemaak as ‘n regering of ‘n politieke party na regs begin neig of na links. Links is ‘n beweeg weg van die tradisionele en konserwatiewe terwyl regs meer neig na die die gebaande tradisionele weë. Links neig meer na die liberale en die wegbreek van dit wat aanvaarbaar was deur al jare na nuwe en meer populêre denkrigtings. Iewers sê Salomo dat die wyse se hart is na regs terwyl die dwaas se hart na links is (Pred 10: 2). In die wêreld waarin vandag lewe waar soveel mense hulle regte opeis is ons glad nie meer verbaas om op die nuus te aanskou watter groot betogings gereël word ten einde een of ander regte te verkry vir minderheidsgroepe of groepe wat voel dat hulle verkeerd behandel word nie. Reg is die teenoorgestelde van verkeerd. Dit is ook die teenoorgestelde van onreg. As jy dus nie jou regte kan verkry nie dan voel jy dat jy word veronreg. Maar wat sou die woord “reg” by God beteken? Hierdie tweede volume word gewy aan die “regte van God”. Die vraag is dus: waarop het God reg? Is dit Sy reg te om deur Sy skepsele gevrees, geëer en gehoorsaam te word? Ja dit is beslis Sy reg. En as die mens dit nie vir Hom gee nie, word Hy veronreg.
Alhoewel ons in die Skrif lees dat God Sy regterhand en Sy linkerhand gebruik in Sy handelinge met die mens, word daar baie sterk klem op gelê dat Sy regterhand Sy is hand waaruit alles wat reg is na die mens toe vloei. So sien ons bv in Mattheus 25: 33- 41 dat Hy by die eindoordeel die skape aan Sy regterhand laat staan en die bokke aan Sy linkerkant. En die skape aan Sy regterhand word gesien as die regverdiges terwyl die bokke aan Sy linkerkant gesien word as die goddelose.
Nou kom ek weer by Psalm 80 waarin Hy na Sy Seun verwys as die man van Sy regterhand: “En wees ’n beskerming vir wat U regterhand geplant het, en oor die Seun wat U vir uself grootgemaak het.17Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap; vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om. 18Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun wat U vir Uself grootgemaak het (Ps 80: 16-18). As ons nou glo dat ons mede-erfgename van Christus is soos ons lees in Rom 8: 16: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 17en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. As ons glo dat ons die volheid het in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag (Kol 2: 9-10) en dat ons medelede is van Sy liggaam (1 Kor 12: 12-27), dan moet ons ook glo dat ons deel is van Jashua Messiah, deel van Sy vlees en Sy bene (Efes 5: 30): ”Want ons is lede van Sy liggaam, van Sy vlees en van Sy bene”. Ons is dus deel van “die man van sy regterhand” en “die menseseun wat Hy vir Homself grootgemaak het” (Ps 80).
Alhoewel dit God se reg is dat jy en ek hierdie groot waarheid moet raaksien en ook moet glo dat ons dan in Christus deel is van die Seun van Sy regterhand, is dit ook nie net alleen God se reg dat ons dit sal glo nie maar ook ons voorreg in Christus om dit te glo. As jy nou Psalm 80 lees oor die wingerdstok van Jahweh, en die toestand waarin hierdie wingerdstok op die oomblik in hierdie land en oor die hele wêreld verkeer aanskou, en jy besef dat as jy deel van hierdie wingerdstok is (Joh 15: 1- 5), een van die lote, doen dit iets in jou gees en in jou gemoed? Doen dit iets in jou hart as jy besef dat jy deel is van die “menseseun wat God vir Homself grootgemaak het” op hierdie aarde en dat jy deel is van die Seun van Sy regterhand wat in so vervalle toestand oor die hele wêreld verval het? Doen dit iets in jou binnekant? Dring dit jou nie om op jou knieë te gaan en tot jou hemelse Vader te roep dat Hy iets gaan doen vanuit die hemel vir hierdie verwoeste en verwaarloosde wingerdstok wat Hy uitgetrek het uit Egipte waar dit in slawerny was en vir Homself geplant het in hierdie wêreld, wat eintlik in die mag van Satan verkeer – ook in Suid Afrika? Ons kry heeldag te doen met mense wat uiteindelik op die dag van oordeel aan God se linkerkant sal vergader. Jy wil sekerlik nie deel van hulle wees nie? Ek glo dat jy sal graag aan Sy regterhand wil staan en die volgende woorde uit Sy mond hoor: Matt 25: 33-34: “en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. 34Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van My Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af”
As jy nou in Efesiërs 2 lees dat ons saam met Christus gekruisig is, saam met Hom begrawe en opgewek is en saam met Hom laat sit in die hemele – in Christus (Vers 6) – sal dit nou vir jou ander betekenis hê as voorheen? Sal dit jou inspireer om te bid en vir die Vader te sê dat jy nou jou plek in Christus inneem aan Sy regterkant (vers 6) waar jy saam met Hom wag dat jou vyande, wat ook Sy vyande is, ‘n voetbank van jou voete gemaak word (Hand 2: 34-35)? As jy dit doen sal jy nooit spyt kry nie. Ek kry nou net vanmore in my Bybel, terwyl ek lees, die woorde in Jesaja 62 vers 8: “Die Here het gesweer by Sy regterhand en by Sy magtige arm: Waarlik, Ek sal jou koring nie meer gee dat jou vyande dit eet nie, en uitlanders sal jou mos nie drink waarvoor jy gewerk het nie. Maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en die Here prys; en hulle wat dit oes, sal dit drink in My heilige voorhowe.
Bid nou hieroor en as dit in jou hart begin lewe dat jy deel is van die Seun van Sy regterhand, gaan sit in Christus aan Sy regterhand (Efes 2: 6; Heb 12: 22-25) en ervaar die gemeenskap met jou Vader en Sy Seun ( 1 Joh 1: 3). Let op, jy sit nie daar in jouself nie maar in Christus: “19Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê. 20En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe (1 Joh 5: 19-20).
17. Glo in Sy Naam
Op hierdie oomblik in ons land Suid-Afrika, en ook in baie ander wêrelddele, is beskerming en voorsiening in ons daaglikse behoeftes, ‘n saak wat die aandag van bykans elke mens aangryp. Werkloosheid het die hoogte ingeskiet en al sou ‘n vader of moeder van kinders hardwerkend wees is daar net nie meer werk vir ‘n groot persentasie van mense op hierdie aarde nie. Al sou jy ook wat veiligheidsmaatreëls aanbetref tot die tande toe gewapen wees is daar bitter min mense wat die slim gedagtes en aksies van kriminele, terroriste, diewe, moordenaars en verkragters kan ontglip. Psalm 91 het die pragtigste beloftes vir ons beskerming en voorsiening. Dit word egter gekoppel aan een voorwaarde naamlik: om God lief te hê en Sy Naam te ken (Vers 14). 1 Joh 3: 21-24 het in beginsel dieselfde voorwaardes: “21Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God;22en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.23En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jashuah, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ’n gebod gegee het.24En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het”.
In albei genoemde Skrifte word die ken van die Naam van Jahweh ‘n baie belangrike voorwaarde. Jashuah het in Johannes 17: 6 gesê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u Woord bewaar”. As jy glo dat jy een van die mense is wat God die Vader uit hierdie wêreld uit geneem het en aan Sy Seun gegee het omdat hulle aan Hom behoort, dan sal die woord wat ek hierbo vermeld het ook vir jou geld naamlik dat Jashuah Sy Naam aan jou geopenbaar het. Dit moet jy glo want Sy mond het dit gespreek en Hy kan nie lieg nie. Hy het Sy Naam in jou geopenbaar, al verstaan jy dit nog nie met jou verstand nie en al is dit ook nie vir jou duidelik hoedat Sy Naam werk nie, jy moet dit glo dat Hy Sy Naam aan jou geopenbaar het. En hierdie openbaring van Sy Naam gaan vir jou veel meer beteken in die tyd wat kom as wat jy ooit kan dink. In Joël 2 is daar ‘n profesie met betrekking tot die tyd waarin ons nou lewe waarin die sprinkaanswerm wat deur God gestuur is, ja dit is Sy leërmag (Vers11), alles gaan verwoes. Hy sê in vers drie dat niks daaraan sal ontkom nie. Niks beteken niks. Geen land in die wêreld, ja nie die verste eilande, sal daaraan ontkom nie. Geen geld of mag of sekuriteitsmaatreëls sal jou beskerm daarteen nie. Ja, niks sal daaraan ontkom nie. Maar as jy God liefhet en Sy Naam ken, sal Hy jou bewaar al val daar duisend aan jou sy en 10 000 aan jou regterhand, net na jou toe sal dit nie aankom nie. Ps 91:7 “Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie 8Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien”. En in Joël 2: 32 staan daar weereens die belofte: “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die Here gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die Here sal roep”. Hy sê selfs dat die Naam van Jahweh ‘n skuiling vir ons is (Spr. 18:10). En ek glo dat die volk wat by Sy Naam gaan skuiling soek, ‘n geringe en ‘n ellendige volk (Sef 3:12) sal wees. Sekerlik verwys dit ook na ons hier in Suid-Afrika. Ons het geen ander skuilplek as om by Sy Naam te gaan skuil nie. Maar wat sou dit beteken om by Sy Naam te skuil?
Ek het nou die dag ‘n ou gereedskapstuk hier gevind wat vroeër jare aan die Suid-Afrikaanse Spoorweë behoort het. Ek is seker dit was hulle eindom want hulle merk SAS/SAR is daarop gegraveer. Indien iemand daardie gereedskapstuk vroeër jare in sy besit sou gehad het en die Spoorweë sou dit by hom vind, sou hulle weet dit is die eiendom van die spoorweë, sy naam is daarop geskrywe en dit is die bewys. Die naam van Jesus wat op ons geskryf is is die teken van Sy eienaarskap op ons. Eerstens het Hy jou by jou naam geroep Jes 43: 1 “Maar nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” Maar toe gee Hy jou ‘n nuwe naam wat Hy op jou voorhoof geskryf het . Open 22: 4 “En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees”. Open 14:1 “En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van Sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe”. Ons weet nie of die seël op die voorhoofde van mense Sy Naam is nie, maar dit beteken dat Hy definitief die eienaarskap oor ons het as ons daardie Naam op ons voorhoofde het of liewer daardie seël. Maar dit beteken beslis dat die heiliges nie skade aangedoen kan word as hulle daardie seël op hulle voorhoofde het nie. Lees Open 7: 3 en 9: 4. Diegene wat maar nie saam met hierdie wêreld in hulle bandeloosheid en sondigheid deel nie maar wat eerder sug en steun daaroor ontvang ook volgens Eseg 9: 4 die merkteken op hulle voorhoofde wat hulle vrywaar van die oordele van God wat oor die wêreld kom. Hier waar ons met verskillende mense saamwerk op ‘n daaglikse basis en elkeen sy eie gereedskap besit merk ons die gereedskap. As iemand my merk op die gereedskap sien dan weet hy dat hy sy hande daarvan moet afhou en so ook ek met betrekking tot hulle gereedskap. Die merkteken is ‘n teken van eienaarskap. En dit is wat God dan ook sê in Jesaja 43:1 “jy is Myne”! In Johannes 17: 6-9 sê Jashuah vir Sy Vader dat hierdie mense wat die Vader Hom uit die wêreld gegee het, het aan die Vader behoort en Hy het dit aan Hom (Jashua) gegee.
Net soos wat die volk Israel die eiendom van God was in die Ou Testament so is die gelowige in die Nuwe Testament die eiendom van God. Hy het ons in Sy handpalms gegraveer (Jes 49: 16). Ons is Sy oogappel (Sag 2: 8; Deut 32: 10). Ons behoort aan Hom (Mark 9: 41; Hand 27: 23; Rom 8: 9; Rom 14: 8). God ken Sy Naam of merkteken wat op ons geskrywe staan. Satan en al sy bose magte ken ook daardie naam en merkteken, en vir hulle beteken dit dat God vir hulle sê: “hou julle hande af van hierdie man of vrou, want hy/sy is Myne”. Daar is ‘n stukkie geskiedenis in Handelinge19: 13 – 17 waaruit dit duidelik word dat die bose geeste Jashuah geken het asook Paulus maar nie vir die goddelose nie. Lees dit maar self biddend en dit sal vir jou baie beteken. Die Satan en bose geeste ken vir Jashuah en ook die wat aan hom behoort, maar die goddelose is vir hulle geen bedreiging nie. Hulle vrees egter vir jou en ook vir elke opregte gelowige want Sy Naam is op hulle geskrywe.
Ek het vroeër jare ook deelgeneem aan debatte oor die doop van gelowiges en vandag besef ek dat ek baie belangrike waarhede rondom die doop mis gekyk het, terwyl my aandag meer gevestig was op die woordestryd as op die dieper waarhede. Een groot waarheid is naamlik dat ons in die Naam van Jashuah in gedoop word (Hand 2: 38), net soos wat ons in Sy dood in-gedoop word (Rom 6: 1-11). Ek wil nie vir jou vra met watter doop jy gedoop is nie, maar wat ek jou wel wil vra is of jy in Sy Naam in-gedoop is? Dit is nie ‘n doop met, of in fisiese water nie, maar ‘n doop waarby jy jou naam aflê en verloor ten einde Sy Naam op jou voorhoof te verkry. Hiervoor is dit belangrik om jou eie naam te verloor. En as jy opreg met God wandel sal jy ook gou gou jou naam verloor (Luk 6: 22). En as dit vir jou belangrik is om die Naam van die Here te ken sal die beskerming van jou eie naam, wat tot dusver vir jou baie belangrik was, gou gou sy waarde verloor en dit wat vir jou wins was sal jy skade ag en selfs as drek beskou ten einde Christus as wins te verkry en Sy Naam oor jou uitgeroep te hê (Fil 3: 7-14).
Jeremia bring sy pleidooi na God toe in die gebed met die woorde: “Toe U woorde gevind is het ek hulle opgeëet, en U Woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want U Naam is oor my uitgeroep, Here, God van die leërskare” (Jer 15: 16).
God het vir Hom ‘n groot en heerlike Naam gemaak deur al die eeue: Neh 9: 10 “U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het, en U het vir U ’n Naam gemaak soos dit vandag is”. Ps 8: 2: “o Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele”. Lees ook Ex 9:16. Ps 9: 11: “En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here!” Daar Is ‘n spontane werking deur die Heilige Gees in die harte van die wat die Naam van die Here ken: hulle vertrou Hom. Dus sal jy vind dat as jy die Naam van die Here leer ken het, daar ‘n spontane vertroue wat deur die Heilige Gees gewerk word, deur jou hele wese vloei.
Die Naam van Jashuah het ook genesende krag. Hiervoor moet jy nou eers Hand 3: 16 gaan lees en ook Hand 4: 7 -12. Dit sê dat dit die Naam van Jashuah is wat daardie siek man gesond gemaak het. En weereens sê dit dat die geloof wat deur Hom is, daardie lam man volkome gesondheid gegee het. Weer het ons te doen met ‘n spontane werking van geloof wat uit Jashuah spruit sodra die Naam van Jesus aangeroep word. Jy kan dus nie die Naam van Jesus uit jouself aanroep nie. Dit is die Heilige Gees wat Sy Naam deur jou aanroep. Daarom verwys Joh14: 26 na die Heilige Gees “wat die Vader in My Naam sal stuur”. As jy die Naam uit jouself gaan aanroep, gebeur met jou wat met daardie sewe seuns van Skeva gebeur het in Hand19. Jy het dit mos gelees, het jy nie? Ja Jashuah het gesê dat baie sal in Sy Naam kom Matt 7: 22 “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? Mark 13: 6: “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei”.
Daar was’n rede waarom die owerpriesters die dissipels van Jashuah verbied het om verder in Sy Naam te spreek want daar was krag in daardie Naam (Hand 4:17). Daar was ook gesag in daardie Naam, die gesag van Jashuah. Hulle vra die dissipels: “Deur watter mag (gesag) en deur watter naam het julle dit gedoen” (Hand 4: 7)? Hulle antwoord: “laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jashuah Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.11Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen geword het.12En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie”(Verse10-12).
Ons moet van tyd tot tyd, as ons weggaan, gesag oordra aan die mense wat hier agter bly sodat hulle in ons plek, namens ons, kan dokumente onderteken en optree. Daardie oordra van gesag noem die wet ‘n “volmag”. Dit is dieselfde volmag wat aan ‘n ambassadeur van ‘n land gegee word wanneer hulle hom na ‘n ander land stuur om daar namens sy land op te tree. Soms het hy nie volmag nie en soms het hy wel. In so geval word daar verwys na ‘n “gevolmagtigde ambassadeur”. Jashua het gesê dat ons volmag by Hom ontvang om in Sy Naam na die Vader te gaan en te vra. Dit is dan asof Hyself dit vra want ons kom in Sy Naam. Lees Joh 14: 13; Joh 16: 23-26. Verstaan jy dit? As jy in Jashua se Naam na die Vader toe gaan en jy vra Hom iets, is dit net so goed Hy vra dit self. As jy ook in die Naam van Jashua na ‘n sieke gaan en jy beveel hom om gesond te word, is dit net so goed as wanneer Jashua dit self beveel want jy het dit in Sy gesag beveel. Die hoofman oor honderd in Matt 8: 5-10 het ‘n voorbeeld van gesag gehad in sy werk as offisier in die leër: “”En nadat Jashuah in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar ’n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom 6en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne. 7Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak. 8En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ’n woord, en my kneg sal gesond word. 9Want ek is ook ’n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ’n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. 10Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie”. Verwonder jy jou ook? Ek weet nie of daar iewers ‘n geleentheid is waar jy gesag voer nie? Ek sal nie verbaas wees as jy vir my sê: “ek het nêrens ‘n plek waar ek met gesag kan optree nie”. Dalk het jy nie meer gesag oor jou kinders nie en ook nie by jou werk nie. Maar dink vir ‘n oomblik daaraan dat as jy onder die gesag van ‘n hoër offisier sou staan in die weermag en jy sou gesag hê as ‘n offisier oor soldate onder jou, vir wie jy bevel kon gee en hulle sou luister. Dit sou dieselfde wees as wat die hoofman ervaar het. Daardie ervaring het hom die beginsel van gesag laat verstaan. Dit het hom toe gevolglik ook Jashuah se gesag laat verstaan. Hy het verstaan dat as Jashuah werklik onder die gesag van Sy Vader staan Hy ook gesag het oor die bose magte en oor die krankhede, en dat Hy net vir die siekte kan sê: “gaan uit!” of “word gesond!”
18. Die Seël van God
In die boek openbaring (Open 7: 3) lees ons ‘n allerbelangrikste woord: “Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie”. Lees ook Open 9: 4. Ook in ander Nuwe Testamentiese skrifte lees ons dat daar sekere mense is wat deur God verseël word. Lees hieroor in 2 Korintiërs 1: 22; Efes 1: 13; Efes 4: 30. Selfs in die Ou Testament sien ons hoedat daar ‘n teken op die voorhoofde aangebring is van diegene wat hulle gekwel het oor die toestand van goddeloosheid wat geheers het in Israel (Eseg 9:3-6). Die doel van hierdie merkteken was dat die oordele van God, wat oor al die goddelose sou kom, hulle sou verbygaan, soos wat God in die tyd van die uittog van Sy volk uit Egipte, verby gegaan het by die huise waar die bloed van die offerlam gestryk was aan die deurposte van die huis (Ex 12: 13). Daar kan baie gesê word oor hierdie merktekens wat God op Sy uitverkorenes aanbring ten einde hulle te bewaar in die tyd wanneer Sy toorn oor hierdie aarde losbars. Maar wat in hierdie hoofstuk belangrik is, is dat jy sal weet dat daar ‘n merk is wat deur die Heilige Gees (2 Kor 1: 22) op jou aangebring word as God se bewys dat jy aan Hom behoort, dat jy Sy eiendom is, en dat die vyand sy hande van jou moet afhou. Hierdie merkteken is die Naam van Sy Seun. Gaan lees nou eers Open 22: 4.
My pa het altyd sy gereedskap gemerk met ‘n spesifieke merk wat almal laat weet het dat dit sy gereedskap is. My moeder het ook ons kinders se klere gemerk met verskillende kleure sodat dit nie deurmekaar kon raak nie. Vandag hier op Oosterheuwel en die omliggende gebiede waar ons met baie gereedskap werk, is elke werkswinkel se gereedskap gemerk en ook elkeen se persoonlike gereedskap. Daar is ‘n volk op hierdie aarde wat die eiendomsvolk van God is, deur Hom gemerk as Sy eiendom. Hieroor skryf ons in ‘n volgende hoofstuk. Ek wil net by hierdie aansluiting sê dat daardie volk is die volk oor wie die Naam van Jahwe van die leërskare, die Naam van Yahshua Messiah uitgeroep is. Dit is die volk wat Jashuah met Sy bloed gekoop het aan die kruis van Golgota, toe Hy al hulle sondes op Hom geneem het. Dit is die volk namens wie die Seun van God Satan oorwin het nadat Hy in die hel gestraf was vir hulle sonde, en deur God opgewek was uit die dood. Lees Kol 2: 13-15 en laat die Heilige Gees vir jou openbaar wat gebeur het met Christus toe Hy hel toe gestuur was ten einde jou en my sonde-straf te dra. Laat die Heilige Gees ook vir jou openbaar wat gebeur het nadat God die Vader tevrede was dat Sy eise van geregtigheid vervul was deur Christus. Dit beteken dat God toe tevrede was dat Christus die volle straf vir alle mense se sonde gedra het, en dat dit toe nie meer nodig was om Hom verder te straf hulle nie. Ja dit sluit ook die straf in wat jy en ek sou ontvang as ons sou hel toe gaan vir ons sondes.
Wat presies het gebeur toe Christus na die hel toe neergedaal het? Eerstens het Hy aan die kruis reeds sonde geword (2 Kor 5: 21). Hy het jy en ek geword: sondaars! Alhoewel Hy nooit sonde geken het nie. En dit is die rede waarom die Vader dan ook Sy aangesig van Hom af weg gedraai het (Mark 15: 34), want Hy as ‘n Heilige God kon nie sonde aanskou nie, en toe Sy Seun sonde word, moes Hy geban word uit die teenwoordigheid van Sy Vader. Dit is toe wat Hy uitgeroep het: “My God, My God, waarom het U My verlaat” (Mark 15: 34). As sondaar is Jashuah dan hel toe – maar nie vir Sy eie sonde nie, wel vir joune en myne, ja as ek en jy – sondaars, helverdiende sondaars. Toe God die regverdige Regter, tevrede was dat Sy Seun genoeg gestraf was vir ons sondes het Hy Hom uit Sy toestand van dood, die ewige dood – weg van die aangesig van God (2 Thess 1: 9), opgewek deur Hom lewend te maak. Dit het Hy gedoen deur Sy Gees, die Heilige Gees, die Gees van die lewe, in Hom uit te stort. Die Heilige Gees het dus die lewe van God in Christus se Gees wat dood was deur die sonde, laat instroom. Die Heilige Gees het dus die lig van God, oftewel God as die lig, in die duisternis laat instroom en Christus die eerste Een gemaak wat wedergeboorte ervaar het. Dit was lewe uit die dood, soos die koringkorrel wat in die grond moet val en sterf ten einde te kan lewe (Joh 12: 24).
Toe die lewe van God in Christus ingestroom deur die Heilige Gees, het Hy (Christus) Satan ontmoet in ‘n openlike tweegeveg (Satan tesame met al sy bose magte), en het die Seun van God as die verrese Heiland, die magte van die duisternis ‘n verpletterende neerlaag toegedien. Hy het in die openbaar oor hulle getriomfeer (Kol 2: 13-15) en hulle uitgekleë en tentoongestel as die gevalle geeste en engele wat God mishaag het, en nou in die stof moes byt voor die Seun van God, die Seun van Sy liefde.
Omdat Christus bereid was om self verneder te word tot die dood toe, ja die dood van die kruis, het God Hom ‘n Naam gegee wat bo alle name is (Fil 2: 6-11). Hierdie Naam is die Naam Jashua Messiah. Daar is geen ander naam onder die hemel gegee waardeur ‘n mens gered kan word as deur hierdie Naam nie (Hand 4: 12). As jy en ek ook bereid is om die wil van God ten volle te doen en nie ons eie wil of sin te soek nie, as ons onsself verloën en ons kruis elke dag opneem en Hom volg (Luk 9: 23-25), sal ons ook hierdie Naam oor ons uitgeroep hê. Hy sal hierdie Naam op ons skryf, ja, op ons voorhoofde sal Hy dit skryf. Die Naam wat bokant alle name is. Die Naam sal vir die Satan sê: hierdie man/ vrou behoort aan My, daarom het Ek My Naam op sy of haar voorhoof geskryf. Hy/ sy is My eiendom en behoort dus aan My en daarom sê ek vir jou: hou jou hande af van hulle. Hulle is deur My verseël. Dit beteken: My seël is op hulle. Soos ‘n dokument verseël word, en die seël dan ‘n absolute, onbetwisbare bewys is van egtheid en oorspronklikheid, is hierdie seël ook die bewys dat jy en ek waarlik aan Christus behoort. Die Heilige Gees getuig van die egtheid van hierdie seël (Rom 8: 16), en Satan weet dat dit die waarheid is want hy ken die Naam van die Een wat hom oorwin het en hy sidder vir daardie Een. Ook al sy bose magte weet wie Jashua is (Hand 19: 13-17), en hulle ken ook diegene wat aan Hom behoort want Sy Naam is op hulle geskrywe.
Soos by enige kontrak of ooreenkoms, is daar voorwaardes: ‘n Universiteit sal nie jou diploma of graad verseël voordat jy die voorwaardes nagekom het nie en die nodige eksamens geslaag het nie. Die voorwaardes van God om die seël van Sy Seun op jou te plaas is naamlik dat jy ook gehoorsaam moet word tot die dood toe, ja die dood van die kruis soos jy reeds in Fil 2: 5-11 gelees het, dat jy waarlik die kruisiging met Jashuah moet aanvaar in jou lewe, sodat jy dan ook die opstanding met Hom kan meemaak, en die merkteken, die seël van Jashuah se ‘n oorwinning oor die dood (Heb 2: 14-15), die sonde, die Satan en sy bose magte, kan verkry op jou voorhoof. Moenie rus voordat jy seker is dat jy hierdie seël van God op jou voorhoof ontvang het nie.
19. Die Eiendoms-volk van God
In Ex 19: 5-6 het God vir Moses gesê om aan die volk te gaan sê wat se spesiale volk hulle is as hulle terdeë na Sy stem sal luister. Jy onthou dat ek in vorige gedeeltes verskeie kere daarna verwys het dat al God se beloftes voorwaardes het: “T’s and C’s apply” sê die advertensies gewoonlik. Amos 3: 3 sê: “Sou twee met mekaar saam wandel tensy hulle eers afgespreek het?”. Hier is Jahweh nou weer besig om ‘n groot belofte te maak aan Sy volk: Ex 19: 5-6: “As julle dan nou terdeë na My stem luister en My verbond hou, sal julle My eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is Myne.
6En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel”. Ook in Ps 135: 4: “Want die Here het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as Sy eiendom”. En hoe gelukkig is die Volk wat Hy uitgekies het as Sy eiendom: Ps 144: 15 “Welgeluksalig is die volk met wie dit so gaan; welgeluksalig is die volk wie se God die Here is!” Ps 33: 12 “Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het”. Wat ‘n gelukkige volk is die volk wat die Almagtige God vir Hom uitgekies het as Sy volk. Deut 28: 10: “En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees”.
Om dan deel te wees van hierdie gelukkige volk het Jahweh natuurlik weereens Sy voorwaardes. In die Ou Testament moes hulle Sy wet hou en Hom in alle opsigte gehoorsaam wees, Hom liefhê en na Sy stem luister. Maar hierdie volk is nie slegs ‘n Ou Testamentiese volk nie. In Hand 15: 14 lees ons: “Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir Sy Naam aan te neem”. God wil nie maar net ‘n volk hê as Sy volk nie, nee, Hy het uitgesien daarna om ‘n volk uit die heidene – dit wil sê uit die nie-Jode – vir Sy Naam aan te neem. Dit beteken dat dit ‘n volk is waarop die Almagtige bereid is om Sy stempel, Sy seël af te druk. Hy is bereid om die volk op hulle voorhoofde met ‘n merkteken te merk as Sy eiendom en daardeur aan Satan en sy bose magte te sê: “julle raak hierdie volk nie aan nie” (Ps 105: 13-16). Baie Christene raak liries as hulle in Israel kom, en veral in Jerusalem, en begin dink dat dit die volk is wat God vir Hom uitgekies het. Ja, so was dit in die verlede, maar nou in dié tyd waarin ons nou lewe is daar iets groters waaroor ons opgewonde moet raak en dit is naamlik: hierdie volk wie se geboorte van Bo af plaasvind. Trouens dit is wat die woord wedergeboorte beteken: dit beteken “van Bo gebore”, of uit God gebore. Meer as die kinders van Jakob, hulle is die kinders van God. Ons burgerskap is uit die hemele (Fil 3: 20). Ons is burgers van die hemele. Lees 1 Kor 15: 45-50. Spreek dit tot jou gees?
Omdat hierdie volk wat God (Elohim) uit die heidene vir Sy Naam aangeneem het so belangrik is vir Hom, het Hy ‘n verbond met hierdie volk gemaak. In die Ou Testamentiese tyd het Hy baie verbonde gesluit met verskillende mense soos bv.: Adam, Abraham, Noag, Jakob, Isak, Dawid en andere. In Jer 31: 31 verwys God na ‘n Nuwe Verbond wat Hy met die huis van Israel en die huis van Juda gaan sluit in die toekoms. Heb 8: 6, 12-13 verwys weereens na hierdie Nuwe Verbond. In die Nuwe Testament het God hierdie verbond met Sy volk gemaak deur die bloed van Sy Seun. Die laaste aand voordat Christus gekruisig is het Hy die beker met die wyn geneem en gesê: “Hierdie beker is die Nuwe Testament in My bloed…” die Nuwe Testament is dieselfde as die Nuwe Verbond. Daar is Bybel leraars wat leer dat daar is selde in die Nuwe Testament van hierdie Nuwe Verbond melding gemaak, behalwe in Hebreers 8. Dit is presies hier waar hulle die punt mis. Hierdie Nuwe Verbond is geleë in die bloed van Jashuah. Volgens Levitikus is die siel geleë in die bloed (Lev 17: 14). Die Nuwe Verbond is dus geleë in die bloed van Jashuah, dus in Sy lewe, in Sy siel. Reeds in Jes 42: 1 tot 7 het die profeet voorspel dat God die Vader Sy Seun Jashuah, die Christus (Messiah), sal gee as ‘n verbond vir die volk. Christus is dus die vervulling van hierdie verbond en al die verbonde is in Hom beliggaam. Die Woord van God met betrekking tot die verbond het dus nou vlees geword in Christus (Joh 1: 14). Dit het dus gestalte verkry in Hom.
Ons as kinders van God, ongeag die kerkgenootskap of denominasie waaraan ons behoort, behoort ons bo alles aan een groot familie van God, ons almal se Vader, waaraan ook die Ou Testamentiese heiliges behoort het (Rom 9: 4). God het ons as sy kinders aangeneem (Rom 8: 14 tot 17), en ons word daagliks verander van heerlikheid tot heerlikheid deur die Gees, omdat ons die wet van die Gees vervul (Rom 8: 3 tot 4). Ons is die ware besnydenis en hulle wat in Gees en in waarheid aanbid (Fil 3: 3), en ons vertrou op die Een in wie al die beloftes en verbonde van God gevestig is – Hom in wie hulle “ja en amen” is (2 Kor 1: 20). Ons woon in verskillende lande, onder verskillende volke maar ons is een groot familie. Soos Moses in Heb 11 verkies het om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word, as om vir ‘n tyd lank die rykdom van ‘n aardse volk te geniet (Heb 11: 24 tot 27). Deur die eeue heen waarin hierdie verbond met God se volk onbeweeglik gestaan het, is ons almal een geloof, een Christus, een volk: “die stilles in die land”. Ek kan nog baie hieroor sê maar op hierdie stadium moet ons kyk na die God wat met ons ‘n verbond gemaak het, eerder as om te kyk na ons as die volk met wie Hy die verbond gemaak het. Dit sal ons later doen as God dit toelaat.
God (Elohim) is die God wat gedurig aan Sy verbond met Sy volk dink (Ps 105: 8-11). Hy vergeet dit nooit (Eseg 16: 60-62), en gaan nou in hierdie tyd waarin ons lewe “Die Nuwe Verbond” kragtig in ons midde openbaar en al die beloftes daarin saamgevat, aan ons vervul sodat ons waarlik “‘n Volk vir Sy Naam” sal wees onder die biljoene mense op hierdie planeet aarde. Hierdie biljoene op die aardbol is in honderde verskillende nasies ingedeel. Die Skrif praat van “nasies waaroor my Naam uitgeroep is” (Hand 15: 17) asook “nasies oor wie Sy naam nie uitgeroep is nie” (Jes 63: 19). Hieroor moet jy maar self gaan bid want ek gaan my nie nou hieroor uitspreek nie. Die belangrike waarheid wat onse Vader in die hemel tot jou en my wil laat deurdring, is dat Hy nou op hierdie aarde besig is om die volk oor wie Sy naam uitgeroep is aan die mensdom op hierdie aarde te openbaar.
Hierdie openbaring is die openbaring van Sy Seun en die liggaam van Sy Seun. As jy nou 1 Korintiërs 12: 12 tot 27 lees sal jy sien dat die gemeente ook die liggaam van Christus is, en dat elke gelowige wat waarlik wedergebore is deur die Gees van Christus en deur Sy bloed, in daardie liggaam van Jashuah ‘n aandeel gekry het (1 Kor 10: 16-17). Efes 5: 30 sê dat ons die lede van Sy liggaam is, van Sy vlees en van Sy bene. Daar is al baie oor hierdie onderwerp geargumenteer en geredeneer, en sommige glo dat ons werklik deel is van die liggaam van Christus. Die ander glo weer dat dit slegs ‘n metafoor is, dat die gemeente vergelyk word met die liggaam van Christus. Maar moenie dat dit jou kwel nie, ek het al in die verlede geleer dat terwyl sommige geleerdes besig is om te stry oor Bybelse waarhede, openbaar God aan die eenvoudiges, die wat soos kindertjies is, die diep verborge dinge: Luk 10: 21” In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit U welbehae”. As jy nou 1Kor 1: 17-31 lees sal jy gou agterkom dat daar ‘n wysheid van God is wat in Christus beliggaam word, en dat daar ‘n wysheid van hierdie wêreld is wat ons liewer moet vir vermy.
As jy nou ‘n kansie het om met die Vader te gaan sit en gesels en die Gees lei jou om vir Hom te vra of dit wat ek nou gaan sê die waarheid is, sal jy tot ‘n baie groot openbaring in jou geestelike lewe kom. Dit sal ook vir jou laat besef dat ons in die wonderlikste tyd ooit lewe. Ja, te midde van al die dinge wat in ons land en oor die wêreld gebeur, lewe ons tog in die tyd waarna baie Ou Testamentiese profete en heiliges uitgesien het soos wat Hy dan ook dit vir ons sê in 1Pet 1: 10-12. Jy sal vra: “wat is die besondere gebeurtenis van hierdie tyd waarin ons nou lewe?” Daar is baie dinge wat hierdie tyd ‘n besondere tyd maak, maar maar een groot uitstaande gebeurtenis is die verskyning van Jashua deur Sy liggaam, oftewel deur die gemeente. As jy nou dadelik dink dat Christus deur daardie denominasie of kerk waarheen jy elke Sondag gaan om te gaan aanbid en na die woord te gaan luister, gaan verskyn, dan wil ek dadelik antwoord en sê: “ja, in daardie selfde kerk, maar nie net slegs in daardie kerk van jou nie, maar ook in baie ander”. Let op: Ek sê nie “deur” daardie kerk nie maar wel “in”. Jy weet, ons het al deur die jare onder so ‘n wanindruk gekom dat die plekkie waar ek en jy aanbid die enigste plek is waar Jashuah Messiah teenwoordig is. Ek wil vir jou, as jy ook so redeneer, sê soos wat Paulus vir die Korintiërs gesê het: 2 Kor 6: 12-13 ““Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou.13Maar by wyse van vergoeding—ek praat soos met kinders—moet julle ook verruim word”. As jy slegs vir jou kerk ruimte in jou hart het, het jy dit te nou aan jou binnekant. Bykans alle Christelike kerke het dieselfde geloofsbelydenis, sommige noem dit die Apostoliese geloofs-belydenis en ander noem dit die “Twaalf artikels van hulle geloofs belydenis”. Hoe dit ookal sy daar is een artikel wat al hierdie Christelike kerke bely naamlik: “Ek glo aan ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”. Wat sê ons daardeur as ons dit bely? Ons sê daardeur dat ek glo dat daar ook temidde van die kerk-grense en mure, ‘n heilige algemene Christelike kerk is wat uitstyg bokant die kampies van die Christelike denominasies. Soos ‘n vallei waarin verskillende dinge plaasvind, kampe vir perde en esels en pluimvee en mielies en koring, so is die kerk ook vol kampe: elkeen met sy verskillende leerstellings en maniere van aanbidding. Wanneer die water van die Gees (Eseg 47), die laat reëns (Hos 6: 3; Joel 2: 23), egter gaan uitsak en die waters gaan begin rys totdat dit bokant die vele kamp-omheinings uitstyg, sal ons niks meer van die heinings sien nie maar slegs een groot see van water. Dit is die dag waarvoor ek al jare wag en waarvoor ek baie verguising en vervolging deurgemaak het. Baie predikante het nie gehou van hierdie siening wat ek het nie omdat hulle bang was hulle gaan van hulle skape verloor. Tog het ek my nooit skuldig gemaak daaraan om ander kerke se skape te steel nie, want ek glo dat iemand wat Jashuah ontmoet het, Hom kan, en sal dien in enige kerk en op enige plek, al is hy ook die enigste een daar wat ‘n kind van God is. Ek glo wel egter dat die Heilige Gees ons tot ‘n eenheid gaan saamvoeg wanneer die vuurgloed van vervolging waarvan 1Pet 4: 12 skryf, ons tot ‘n eenheid gaan saamsmelt. Jashuah het daarvoor gebid in Johannes 17 en Sy gebed sal beantwoord word naamlik dat ons gaan een wees net soos wat Hy en die Vader een is (Vers 19-26). Hy het immers daarvoor gesterwe en sy bloed uitgestort aan die kruis daarvoor (Joh 11: 49-52).
Hierdie is ‘n wonderlike tyd wanneer al die kinders van God saamgevoeg gaan word tot ‘n goddelike eenheid in Jashuah en Hy in Sy heerlikheid gaan verskyn deur sy liggaam, deurdat Hy in en deur elkeen van hulle gaan lewe deur Sy Gees omdat dieselfde Gees waardeur Sy Vader Hom uit die dode opgewek het, ook nou in elke gelowige uitgestort gaan word. Dieselfde Gees? Ja, dieselfde Gees. Het jy al ooit daaroor gepeins en vir die Vader gevra om in jou hart te openbaar wat dit beteken dat jy dieselfde Gees wat Christus uit die dode opgewek het, ook in jou gees te ontvang (Rom 8: 11)? As jy dit doen gaan jy tot ‘n heerlike insig kom wat jou gaan aanspoor om te bid vir hierdie openbaring van Jashuah deur Sy liggaam in hierdie tyd waarin ons nou lewe. En dit is dan ook die rede waarom ons moet gaan kyk na die Nuwe verbond— die verbond wat Hy vir ons belowe het in Jeremia 31: 31 – die verbond wat Hy ook toe met ons gesluit het deur die bloed van Jashuah (Heb 8: 6-13; Matt 26: 26-29; 1Kor 11: 23-26).
Wat behels die Nuwe verbond? Elkeen wat in ‘n Christelike kerk aanbid waar daar nagmaal gehou word op ‘n gereelde basis, behoort te weet waarvan die brood en die water spreek in 1 Kor 10: 14-22. Tog gaan ek dit herhaal vir jou indien jy dit dalk vergeet het: “Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.15Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê:16die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?17Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.18Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie?19Wat sê ek dan? Dat ’n afgod iets is, of dat ’n afgodsoffer iets is?20Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.21Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.22Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?” Ek wil jou vra of jy ook 1 Kor 11: 17-34 sal lees. Ek besef dat dit baie leeswerk is maar dit is so uiters belangrik dat jy die hele boodskap sal mis as jy dit nie lees nie. In elk geval is hierdie hoofstukke nie meer gekoppel aan datums soos wat die dagstukkies was nie. Jy kan dus lang tyd spandeer aan een hoofstuk, ja selfs weke, as dit net uiteindelik in jou gees gaan lewe. “As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie.21Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk.22Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.23Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het;24en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.25Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.26Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.27Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.28Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.29Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie30Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ’n aantal het ontslaap.31Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.32Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.33Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar;34en as iemand honger het, laat hom by die huis eet, sodat julle nie tot ’n oordeel saamkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek kom”. (1 Kor 11: 17-34). Het jy opgelet dat dit baie belangrik is dat voordat jy by die nagmaaltafel aansit en van die brood eet en die wyn drink, jy jouself moet beproef en so van die brood eet en van die wyn drink. Wat beteken dit om jouself te beproef? Dit beteken dat jy moet gaan kyk na wat die nagmaal waarlik beteken en wat jy deur die eet van die brood en die drink van die wyn simboliseer. Ook verklaar jy aan God en aan Sy Seun Jashuah Christus, en ook aan jou medegelowiges wat saam met jou aan die tafel sit, en ook aan al die Christene wat aan ander kerke behoort, en ook aan die magte van die duisternis. Ja, aan hulle almal maak jy ‘n verklaring. En as ons besef dat daar in daardie beker ‘n Nuwe verbond geleë is, nie in die fisiese beker nie, maar in die bloed van Jashuah. As jy besef wat daardeur gesimboliseer word, dat jy besig is met ‘n baie groter verklaring as wat jy dink wanneer jy nagmaal gebruik. En ek wil hier byvoeg, moontlik ‘n baie groter verklaring as wat meeste Christene vandag besef. As jy dan ook lees in die gedeelte wat ons hierbo aangehaal het, dat by die verkeerdelike gebruik hiervan die gevolg siektes en selfs die dood is, dan is dit nie vir ons vreemd dat ons mensdom vandag so krank en vol siektes is nie!
Ons moet nou verder gaan kyk na wat hierdie Nuwe verbond beteken. Elohim ons Vader wil graag met ons as Sy kinders en Sy volk ‘n verbond sluit wat in alles gereël en verseker is soos wat 2 Sam 23: 5 ook sê. Genoemde Skrifgedeelte sê ook duidelik dat God vir ons alle heil en alle welgevalle wil laat uitspruit. In Jer 32: 40-42 sê God ook dat ooreenkomstig hierdie verbond Hy Hom nie sal afwend om aan ons goed te doen nie. Ook sal Hy Sy vrees in ons harte gee sodat ons nie van Hom afwyk nie. Hy sal Hom daarin verheug om aan ons goed te doen en Hy sal ons duursaam in hierdie land plant met Sy hele hart en Sy hele siel. Soos wat Hy voorheen oor ons onheil gebring het so bring Hy ook nou oor ons al die goeie waarvan Hy spreek. ‘n Ander wonderlike deel van die verbond vind ons in die Heb 8: 12 waar Hy sê dat kragtens die verbond sal Hy barmhartig wees oor ons ongeregtighede en aan ons sondes en oortredinge nooit meer dink nie.
Hierdie Nuwe verbond is ‘n beter verbond as die verbonde van die ou testament en dit is op beter beloftes wettelik gegrond (Heb 8: 6). In elk geval is die ou verbond ‘n verouderde verbond, deur God oud gemaak en naby aan die verdwyning (vers 13). Die beloftes in hierdie verbond is talryk, maar “…hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (Christus) is hulle ja, en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons”. (2Kor 1: 20). Al die beloftes in die Skrif is in Christus beliggaam en in Sy bloed. Daarom is al die beloftes deel van God se verbond met ons – die verbond wat Hy met die bloed van Sy Seun verseël het.
As jy dus nou die voorwaardes van die verbond nakom, dan het jy ook die reg om ‘n verwagting te hê dat Hy Sy beloftes aan jou sal waar maak. Jy weet mos reeds by hierdie tyd wat Hy van jou verwag ooreenkomstig die verbond? Hy verwag van jou om met jou hele hart te aanvaar dat jy dood is, saam met Christus gekruisig is, ten opsigte van alles wat nie uit Christus kom nie. Dit sluit in die vlees of eie-ek, die sonde, die wêreld, en ook alle wette wat nie deur die wet van die Gees (Rom 8: 1-2) kom nie. In die Nuwe Testament sien ons hoe dat die vlees teenoor die Gees gestel word. Byvoorbeeld dit wat die vlees bedink teenoor dit wat die Gees bedink (Rom 8: 5-11). So stel Hy ook die wêreld teenoor Christus (Gal 6:12-15; 1Joh 2: 15-17), die wet van Moses stel hy teenoor die wet van Christus (Mal 4: 4; 1 Kor 9: 21). As Jy met jou hele hart glo dat jy dood is vir die sonde (Rom 6: 1-13); ook dood is vir die wet en enige pogings uit jouself om goed te doen (Rom 7: 4; Efes 2: 14-16), as jy dit glo en aanvaar met jou hele hart, jouself verloën en jou kruis elke dag opneem en Jashuah volg, sal jy Sy dissipel wees en ervaar hoedat daar ‘n stroom van seëninge van Hom af vloei deur jou tot ander mense. Dit alles omdat Hy ‘n verbond met jou gemaak het deur die bloed van Sy Seun en Hy gedurig aan hierdie verbond dink. Ja, Hy het hierdie verbond met ‘n eedswering gemaak om daardeur nog kragtiger aan jou, as die erfgenaam van al hierdie beloftes, die onveranderlikheid van Sy raad te bevestig. Heb 6: 17-20 “…sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê;19en ons het dit as ’n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel”.
Die waarhede in die Skrif met betrekking tot hierdie volk van God waarna Hy uitgesien het om uit die heidene vir Hom as ‘n eiendomsvolk aan te neem, is ‘n heerlike openbaring. Jy moet beslis dit ‘n saak van gebed maak sodat die Vader aan jou persoonlik hierdie dinge kan openbaar. Al God se goedertierenhede en heerlikheid is aan hierdie volk van die heiliges toegesê. Behalwe dat die heerskappy oor al die volkere aan hulle gegee is (Dan 7: 9-28), is daar baie ander heerlike dinge wat aan hulle toegesê is. As ek dit nou hier moet beskrywe sal hierdie hoofstuk nooit einde kry nie. Maar met die tyd sal daar tog een ding na die ander in hierdie geskrifte gedeel word. Maar bid Hom nou reeds dat Hy dit aan jou sal openbaar.
20. ‘n Geslag (Familie) van God
As ons die vorige hoofstuk biddend, en met ‘n oop gemoed voor God, gelees het, en dit in ons hart gebere het, sal ons vind dat die Heilige Gees nou ook hierdie woord, aanvullend by die vorige hoofstuk, in ons gees lewend sal maak. In die vorige hoofstuk het die klem geval op die “volks gedagte”, die volk wat die eiendom van Elohim is, Sy besitting oor wie Hy alleen-eienaarskap het. In hierdie hoofstuk sien ons God se begeerte om nie alleenlik ‘n volk vir Sy naam uit die heidene aan te neem nie, maar individue wat Sy familie is, Sy kinders, Sy geslag. Hand 17: 26 -29: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,27sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;28want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook Sy geslag.29As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie”. In Mal 2: 15: lees ons: “Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ’n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie”. God het ‘n geslag vir Hom gesoek. Daarom wou Hy nie die fisiese volk Israel laat vermeng raak met die heidene en hulle afgodery nie. In Esra 9: 1-3 was Esra baie ontsteld omdat die heilige geslag hulle met die volke van die land vermeng het. En sommige Bybel-leraars lê vandag klem op die fisiese vermenging, maar hulle vergeet dat ‘n geestelike vermenging van lig en duisternis nie die heilige geslag, die geslag van God, betaam nie.
Die woord geslag in Handelinge 17 word ook in die Engels vertaal as “a race, family, offspring, generation”. Dit beteken dat hierdie heilige geslag die gene van God in hulle het. Hulle is uit Hom gebore (Joh 1: 13; 1 Joh 3: 9), en daarom geneties familie van Jahweh. Omdat die wetenskap dit nie kan verklaar nie sal die geleerdes en teoloë dit dalk verwerp. Alhoewel ek dink nie almal sal dit verwerp nie want daar is ook ware opregte kinders van God onder hierdie teoloë, manne wat die Gees van God het en wat die waarheid ken.
Die Skrif verwys telkens in die Nuwe Testament na hierdie besondere geslag. Byvoorbeeld 1 Pet 2: 9: “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,10julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is”. Open 22: 16: “Ek, Jashuah, het My engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester”. Lees ook 2 Tim 2: 8. Dawid was dus deel van hierdie familie van God, hy was geneties deel van hierdie familie. Hy was dus die geslag van God en van Sy Seun Jashuah Messiah. ‘n Mens kan nie met die beste wetenskaplike tegnologie en mikroskopiese instrumente ‘n natuurlike mens se bloed en en sy gene ontleed en dan daardie gene van Christus raaksien nie. Daar is dieper dinge in die samestelling van die mens se gees, siel en liggaam, as wat wetenskaplikes kan dissekteer. As jy in Levitikus lees: “… want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word” (Lev 7: 27; Lev 17: 14). Nou ja, hieroor kan ons weer baie redeneer maar weereens is dit die voorreg van die wat soos kindertjies geword het om die diep verborgenhede van God te verkry (Luk 10: 21-24; Ps 25: 14; Spr 3: 32).
As jy die Woord van Jahweh soos ‘n kindjie glo, sonder om baie daaroor te redeneer, sal jy vind dat daardie geloof in Sy Woord ‘n kragtige werking aan jou binnekant aan die gang sit. Het Hy nie belowe dat Hy elke werk van die geloof met krag volkome sal maak nie? (2 Thess 1: 11-12). Maar as jy onder die redetwister van hierdie eeu tel, waarna 1 Kor 1: 20 verwys, sal jou wysheid ook dwaasheid gemaak word. As jy nou hierdie gedeelte in die Skrif vanaf vers 17 gelees het tot by vers 31 en ook hoofstuk 2: 1 tot by vers 16, sal jy die geleentheid hê om ‘n keuse te maak tussen die wysheid van God en die menslike wysheid. Ek wil nie hierdie skrifte hier neerskryf nie want dit neem te veel ruimte op en jy het sekerlik ‘n Bybel.
Na die inwoners van die wêreld verwys die Skrif as ‘n “krom en verdraaide geslag” in Fil 2: 15-16. “Doen alles sonder murmurering en teëspraak,15sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,16deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ’n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie”. Spr 30: 11 tot 14 verwys na ‘n geslag wat ons vandag op hierdie aarde oral teëkom. Hierdie is ‘n geslag wat hulle vader en moeder vloek en geen gesag respekteer nie, ‘n geslag waar die ouers aan die kinders moet gehoorsaam wees en hulle heeldag moet probeer plesier en hulle sin gee, ‘n geslag waarteen daar geen vorm van verdediging is nie. Al het jy ook die sterkste weermag aan jou kant, jy verloor altyd die stryd. Hulle is ‘n geslag wat vloermoere (tantrums) gooi as hulle nie hulle sin kry nie, die hele lewensloop onderstebo keer terwyl ouers magteloos moet staan en toekyk en vra: “Here waar het ek fout gemaak met my opvoeding?”. Die vyande van geregtigheid het hierdie geslag aan hulle kant gekry en hulle breek regeringstelsels af, steek groot stede aan die brand en verwoes alles. So kan ek aangaan om hierdie geslag te beskrywe maar jy kan dit dalk beter doen as ek. Een vraag wil ek vra en dit is: as jy die bloed van hierdie bose geslag onder ‘n mikroskoop sou ontleed en die DNA van hulle vergelyk met die DNA van die geslag van God, sal dit nie maar dieselfde lyk nie? Ja, sekerlik! Maar waarom nou hierdie redenasie daaroor? Waarin lê die verskil? Dit lê dieper as die sigbare bloed, gene en DNA. Dit lê in die siel en in die gees. Moenie wetenskaplik hieraan probeer dink nie, maar glo God soos ‘n kindjie as Hy vir jou sê dat daar is ‘n verskil tussen die geslag van God en hierdie bose geslag (Jer 8: 3).
As jy glo wat die Skrif sê dat jy familie van God is, Hy jou Vader en jy Sy seun of sy dogter (2 Kor 6: 18), as jy dit glo sal jy ervaar dat die Heilige Gees met jou gees getuig dat jy ‘n kind van God is. Rom 8: 16 “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. 15Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!16Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;17en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word”. As jy nou eers wil voel dat jy ‘n kind van God is, of eers tasbare tekens wil hê, sal jy agterkom dat jy dit nie sal ontvang nie. Thomas was die een wat eers wou sien en voel voordat hy kon glo. Maar Christus sê dat ons eers moet glo voordat ons sien of voel. (Joh 20: 24-31). Jy weet seker al by hierdie tyd dat die geloof deur die liefde werk (Gal 5:6)? So, as jy agterkom dat jy nie die geloof het om hierdie dinge wat ek hierbo genoem het te glo nie, is jou eerste oplossing om te begin aandag gee aan jou liefdesverhouding met die Vader en met Sy Seun. Gaan neem tyd om elke dag in hulle teenwoordigheid deur te bring, jou Vader te dank en te loof en jou lewe aan Hom toe te wy. Ook aan jou Verlosser, Jashuah Messiah, eers aan Hom die lof en danksegging te bring vir die groot offer wat Hy gebring het om jou gered te kry. ‘n Groot godsman het gesê: “To be much for God you must be much with God”. Dit beteken maar net weereens dat hoe meer jy by jou Vader en by Sy Seun deurbring in gemeenskap met hulle, hoe meer verkry jy Hulle eienskappe en karaktertrekke. Dit sluit Hulle geloof en liefde en geregtigheid in. En hoe kan jy anders, as jy familie van God is, as om veel tyd met jou familie deur te bring? Daar is fout by ‘n kind wat nie wil huistoe gaan en by sy familie gaan kuier nie. Ja daar is waarlik fout! Of hy het nie die vrymoedigheid nie, vanweë verkeerde dinge in sy lewe wat hy weet sy familie stem nie mee saam nie. Of hy twyfel daaraan dat hulle hom liefhet omdat hy hulle nie glo as sy Vader vir hom sê dat Hy hom liefhet nie. Of dit kan natuurlik wees omdat hy betwyfel of hy wel familie is van hulle. Jy moet maar hierdie saak self met jou Vader uitmaak, maar dat daar beslis fout is by jou verhouding met jou familie, as jy nie begeerte het om jou familie-huis te besoek en met hulle saam te verkeer nie, dit is verseker.
Dit is so dat dwarsdeur die geskiedenis daar pogings was deur vyandelike mense om sekere families geheel en al uit te roei. Die geskiedenis boeke is vol van sulke verhale en selfs die Bybel verhaal waar Atalia die dogter van Agab die hele geslag van die huis van Juda uitgeroei het, behalwe vir een seun wat hulle weggesteek het. (2 Kron 22:10-12). As die duiwel uitvind dat jy familie is van God, die geslag van God, sal hy beslis poog om jou uit te roei saam met almal wat ook deel is van God se geslag. Ja, hy sal selfs vooraanstaande Christene gebruik hiervoor, Christene wat nie deel is van die familie van God nie. Dit is hulle na wie die Skrif verwys dat hulle God eer met die lippe maar hulle hart ver van Hom af hou (Matt 15: 8). Maar ons het die belofte dat die heilige geslag die stomp sal wees wat oorbly nadat die boom afgekap is (Jes 6: 13).
Gaan sit nou môre-oggend vir ‘n tydjie voor jou Vader. Moenie dadelik begin Bybel lees nie, maar pyns liewer oor hierdie familie van jou, hierdie goddelike familie, en die feit dat jy die gene van God in jou het. Vra jou Vader dat hy deur Sy Heilige Gees die geloof in jou hart sal uitstort om dit te glo. Moenie dit probeer aktiveer deur dit oor en oor vir jouself te suggereer nie. Dit is wat die Engelse noem: “Mind over matter”. Nee, dit kom deur die werking van die Heilige Gees en nie deur selfsuggestie nie. Wedergeboorte vind nie plaas deur tasbare dinge nie. 1 Pet 1: 23 -25: “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.24Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,25maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is”. Joh 1: 12-13: “Hy het na Sy eiendom gekom, en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.12Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;13wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is”.
Hier het ons nou te doen met iets wat bo-kant, ja ver bokant die tegnologie en die wetenskap van hierdie wêreld is. Hierdie geboorte is uit God en dit kom van bo af. Dit is onverklaarbaar vir die menslike wysheid. Dit is iets wat die menslike oog nog nooit kon sien of sy oor nog nooit van gehoor het nie, dit is iets wat God berei het vir die wat Hy weet Hom sal liefhê (1 Kor 2: 8-9). Hy het alles vooruit geweet daarom sê Hy: “ek ken die wat Myne is” (Joh 10: 14; 2 Tim 2: 19). Aan die wat Syne is– dit is hulle wat Sy Vader aan Hom gegee het (Joh 17: 6) — gee Hy hierdie geboorte van Bo af. Hy maak hulle familie van Hom, goddelike bloedfamilie, Sy gene!
21. Waarna God soek- Ware aanbidders
In Jesaja 24 vers 16 is daar ‘n Woord wat ‘n mens se hart roer wanneer jy dit lees: “Van die eindes van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die Regverdige!” Sal dit nie wonderlik wees as daardie dag aanbreek dat daar lofgesange van die eindes van die aarde af gaan opgaan deur baie nasies volke en tale, wat almal saam die Skepper van die uitspansel loof en prys en heerlikheid aan Hom toebring vir Sy wonderlike handewerk, Sy onbeskryflike wysheid en verstand, Sy oneindige liefde, trou en genade wat Hy deur Sy Seun Jashuah aan die mensdom geopenbaar het nie? Maar dit moet iewers begin. Net soos wat die koninkryk van God begin uit ‘n klein saadjie soos ‘n mosterdsaad, sal lofsange begin wat aansteeklik gaan wees en soos ‘n veldbrand oor die aarde gaan versprei!
Daar is deesdae in die kerke baie slagspreuke of clichés wat so goedkoop geword het dat die opregtes nie eers meer daarna kyk nie. En tog is daar baie wat dag na dag daarmee voortgaan om lofliedere te sing sommer net vir die “lekker sing”. Die Engelse noem dit ‘n “sing-song”. Maar dít is nie die lofsange waarna die Woord van God verwys nie. Dit is beslis nie ‘n “Sing-song” nie! Net soos die kennis van die heerlikheid van die Here die aarde gaan vul soos wat die waters die seebodem oordek (Hab 2: 14), sal die lofliedere tot God ook die hele aarde vul. Maar ek sê dit weer: dit sal iewers moet begin. In Jes 44: 6 sê Jahweh: “ Ek is die eerste, En ek is die laaste…”. In Openbaring 1: 8 sê Hy: Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde…”.Ja, Hy is die begin van alles, alles het uit Hom en deur Hom ontstaan en tot stand gekom (Joh 1: 1-4; Kol 1: 15-20). So sal ook die lofliedere en lofsange uit Hom ontstaan. Jy vra of God nou die Een is wat die lofliedere skep en inspireër om Homself te loof en te prys? Ja, lees nou Romeine 11: 35 en 36: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen”. Die lofliedere is ook uit Hom, deur Hom en tot Hom.
Die mens kan God nie loof nie want hy is bokant die lof van mense verhewe (Neh 9: 5). Net so kan die mens ook nie uit homself God aanbid nie. Hy moet in die Gees wees om God te aanbid. Ja, daar is baie wat Hom aanbid in die vlees maar dit is nie dié mense waarna God soek nie. Hy soek na mense wat Hom in Gees en in waarheid aanbid (Joh 4: 20-26). Sulke mense luister na die opdrag van God in Ps 81: 11: “…maak jou mond wyd oop dat Ek dit kan vul”. Ons het die afgelope tyd die groot begeerte om God te aanbid, om Hom te loof en te prys. Is Hy nie die God wat woon onder die lofsange van Sy volk nie (Ps 22: 4)? Maar gou kom ‘n mens agter dat daar diegene is wat God in die Gees aanbid en loof en die wat dit in die vlees doen. Die wêreld kan baie lekker sing en hulleself daarin verlustig. Skakel maar net jou TV of radio aan en kyk wat ‘n groot rol speel musiek en sang in die wêreld van vandag. Ja, jonk en oud hou daarvan om hulle radio aan te hê en dan musiek te luister. Musiek is eintlik oorspronklik deur God geskep om Hom te loof en te prys. Lees maar net die Psalms deur en sien hoedat lofsange, psalms en geestelike liedere gesing was tot eer van God. Nie eers te noem van al die plekke in die Ou Testament waar die volk bymekaar gekom het en God geloof en geprys het nie. En dan in die Nuwe Testament moedig Paulus die mense aan, ja, hy vermaan hulle om mekaar te bemoedig met psalms en lofsange en geestelike liedere (Efes 5: 19-20; Kol 3: 16-17). Tog het Satan daarin geslaag om musiek te skaak teneinde die mens se vlees en gevolglik ook homself daardeur te verheerlik.
Dit is erg om te sien hoeveel Christene blote wêreldse musiek, wat leeg en niksseggend is, luister om hulleself daarmee te vermaak en selfs hulle vlees daardeur te verheerlik. Is die Skrif nie vervul wat sê dat in die laaste dae sal die mense meer liefhebbers van genot wees as liefhebbers van God nie (2 Tim 3: 4-5)? As Paulus sê dat ons geen voorsiening moet maak vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie, dan is daar ‘n baie duidelike rede voor: jy kan nie God verheerlik in die Gees terwyl jy jouself en jou vriende vermaak in die vlees nie. Hier is daar nie ‘n grys area nie. Jy kan nie tegelykertyd in die vlees en in die Gees wees nie. Jykan nie tegelyk God loof en ook die wêreld en sy mense nie. En is dit nie die rede waarom soveel Christene ‘n onsuksesvolle gebedslewe het nie? As jy in die vlees lewe kan jy God nie behaag nie (Rom 8: 4- 13). Die groot vraag is of jy nog in die vlees wil lewe of nie. As jy wil verlos word van die vlees, dus smag na ‘n verlossing, maar steeds deur die sonde en die vlees oorheers word en vasgevang is daarin, dan geld die woord in Romeine 7 wat sê dat as ek doen wat ek nie wil nie dan is dit nie ek wat dit doen nie maar die sonde wat in my woon (Rom 7: 17). Jare gelede het ek gesien hoedat ‘n jong man wat saam met my gewerk het gereedskap by ons werkgewer steel. (Ek het hierdie insident ook in ‘n ander hoofstuk vertel). Toe ek hom ernstig maan dat hy nie moet steel nie omdat dit duidelik diefstal is en ‘n sonde teen God, het hy my geantwoord: “dit is nie ek wat dit steel nie maar die sonde wat in my woon”. Dit natuurlik na aanleiding van Romeine 7. Wat ‘n heerlike verskoning om sonde te doen en in die vlees te wandel? Nee, jy kan duidelik nie terselfdertyd in die vlees en in die sonde wandel en dan die verskoning gebruik dat “dit nie ek is wat dit doen nie maar die sonde wat in my woon”! Die vraag is: “Wil jy nog in die vlees lewe”? Is dit vir jou lekker en daarom wil jy nie ophou om te sondig nie? Dan, sê Hebreërs: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie”. Daar is ‘n tipiese karaktertrek van iemand wat tot bekering gekom het: hy doen werke wat by die bekering pas (Hand 26: 20). Hy kry dit nie reg om sonde te doen nie, en as hy sondig doen hy dit nie opsetlik nie, hy doen dit in swakheid en dan is daar duidelik, nadat hy gesondig het, ‘n berou daaroor. Hy voel sleg oor die sonde of oor sy vleeslike gesindheid en optrede, en hy gaan doen belydenis en restitusie waar Vader dit van hom vereis. Lees nou 1 Johannes 3:9 “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat Sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore”. Dit beteken dat hy dit nie regkry om in die vlees op te tree of om sonde te doen, en dan maar net so voort te lewe nie, want die Heilige Gees oortuig hom van daardie sonde en vleeslike optredes. As die Heilige Gees hom nie oortuig nie is dit te betwyfel of hy werklik tot bekering gekom het en in die proses van wedergeboorte is. Dit is die werk van die Heilige Gees om ons te oortuig van sonde, volgens Johannes 16: 7-15. Die Heilige Gees kan/sal tog nie nalaat om die werk te doen wat Jashuah ons duidelik belowe het dat Hy sal doen nie!
As die kruis nie ‘n werk in jou binneste doen sodat jy dood is vir die wêreld en sy begeerlikhede nie, as die kruisdood van Jahshua nie so in jou werk dat jy geen begeerte het om die wêreld te behaag nie, ook geen begeerte het om voorsiening te maak vir die luste van die vlees nie, kan jy maar vergeet om een van die ware aanbidders te wees wat God in gees en in waarheid aanbid. Jy kan nie die wêreld liefhe en ook God liefhe nie. Jy sal of die een liefhê en die ander een haat sê die Skrif (Matt 6: 24). Maar as jy vrees vir vervolging deur die mense en die wêreld, is die sekerste manier om te voorkom dat jy vervolg word en gehaat word deur die mense, en selfs deur hulle benadeel word in jou werk en in jou daaglikse wandel, om hulle musiek te geniet. Jy moet ook saam met hulle partytjie hou, dans en alles doen wat hulle doen. Jashuah sê: die wêreld kan jou nie haat as jy deel van Hom is nie. Maar as jy deel is van Hom sê Hy, “kan die wêreld julle nie lief hê nie omdat hy My nie liefhet nie” (Joh 15: 19). Om ‘n ware aanbidder te wees moet jy een of ander tyd in jou lewe ‘n keuse maak tussen die liefde van die wêreld en die liefde van God, populariteit by die wêreld en gewildheid by God (1Joh 2: 15-17). Dit is hard maar dit is waar. As jy ‘n groot begeerte het om ‘n “ware aanbidder” te word wat God in Gees en in waarheid aanbid, sal jy nou jou keuse moet maak. Die Seun van God het Sy keuse gemaak en daarom kon Hy sê dat die “owerste van hierdie wêreld kom en hy het aan My niks nie” (Joh 14: 30). As jy daardie keuse gemaak het kan jy begin toelaat dat die Gees van God jou begin vul om ‘n ware aanbidder van die Vader te word. As jy die keuse nog nie gemaak het nie, vergeet maar daarvan om een van diegene te wees wat na die Vader soek om Hom in Gees en in waarheid te aanbid.
Kan jy vir ‘n oomblik dink hoe heerlik dit gaan wees as jy die wêreld en al sy genietinge vaarwel toegeroep het, en jou besluit is finaal, dus vir eens en altyd het jy jou besluit gemaak, om dan in die oggend vroeg voor jou Vader te gaan sit en Hom te aanbid in gees en in waarheid. In sulke stiltye voor Sy aangesig, waar Sy Seun aan Sy regterhand sit, en jy rustig voor Hom raak, vir ‘n oomblik die program van die dag in Sy hande oorgee, selfs jou Bybel ‘n bietjie eenkant skuif, en ook nie gereed wees om soos gewoonlik al jou versoeke en klagtes en probleme voor Hom te opper nie, kan jy vir ‘n oomblik dink hoe groot heerlikheid, vrede en rus jou hele wese sal vul?
Ek het reeds baie gesê maar nog lank nie genoeg nie. As ons werklik met ‘n oop gemoed, en met ons hele wil God soek, nie om van Hom iets te ontvang nie, maar dat Hy ons deur Sy Gees in staat gaan stel om iets aan Hom te gee naamlik lof en aanbidding waardeur ons Hom in gees en in waarheid aanbid, sal ons ook Sy getrouheid ervaar wanneer daar skielik uit die hemel, uit Sy goeie hand en liefde ‘n stroom van lof en aanbidding deur ons hele gemoed vloei na Hom toe. Aanvanklik sal dit miskien klein stroompies wees maar dit sal baie gou ‘n stroom wees wat jou hele wese meesleur om Hom te aanbid. Ja, en ook Sy Seun te aanbid. Toe Johannes die Seun van God op die eiland Patmos gesien het, het hy soos ‘n dooie aan Sy voete neergeval (Open 1: 17). Daar was by Johannes ‘n heilige vrees en siddering teenwoordig, en sekerlik ook die groot liefde wat hy vir Jashuah gehad het toe Hy nog op aarde was. Die Vader wil hierdie selfde liefde en vrees vir Hom en Sy Seun steeds dag na dag in jou en my hart uitgiet. En dit is in dié liefde en heilige vrees wat Sy Gees ons gaan vul met lof en aanbidding vir Hom. Begin nou om jou Vader ernstig te bid dat Hy alle dinge in jou lewe, ja, alle sonde en vlees wat jou sal verhinder om ‘n ware aanbidder te word, ja, sekerlik ook die liefde vir die wêreld en die dinge wat in die wêreld is (1 Joh 2: 15-17), sal verwyder deur die bloed van Sy kruis, en dat Hy dan ook jou mond en jou hart sal vul met ware aanbidding vir Hom.
Dit sal die moeite loon om voor jou Vader te gaan sit en Hom te vra om aan jou te openbaar watter dinge struikelblokke in die weg van die Gees is sodat Hy– die Heilige Gees– jou kan vervul sodat jy ‘n ware aanbidder kan wees. In die volgende hoofstuk, wat ‘n baie belangrike hoofstuk is, gaan ek met jou deel wat dit beteken om te sê, soos Dawid sê in Psalm 23, “my beker loop oor”. In kort beteken dit dat die Heilige Gees jou beker vol maak met die Gees van Christus. Hiervoor is dit nodig om eers alle vuilheid, sonde en die vlees, uit jou beker te verwyder sodat Hy, dit is die Heilige Gees, die Gees van Christus, in jou kan uitstort. God laat nie Sy Gees in ‘n vuil beker uitgiet nie. Dus is ‘n reiniging deur die bloed van Jashua ‘n voorvereiste vir die vervulling met die Gees van God. En dit is deur hierdie Gees wat jy in staat gestel word om God in Gees en in waarheid te aanbid. Om dus een van die mense te wees waarna God soek op hierdie aarde, mense wat Hom in Gees en in waarheid aanbid. Lees die volgende hoofstuk (Hoofstuk 21 in Deel 3: “Die vestings van die Vyand”) in groot nederigheid en gebrokenheid voor die aangesig van jou Vader met die afwagting dat Hy aan jou gaan openbaar wat jy nodig het om ‘n ware aanbidder te wees.
Om die Vader in gees en in waarheid te aanbid is dit belangrik om twee woorde te beklemtoon naamlik “Gees” en “waarheid”. Die Skrif wys na die wandel in die Gees (Gal 5: 16) asook na die “wandel in die waarheid” (2 Joh 1: 4). Jy kan nie in die vlees wandel en dink dat jy gaan ‘n kanaal wees waardeur die Heilige Gees aanbidding en lof aan God gaan laat toestroom nie. Net so kan jy ook nie in die leuen wandel en dink dat jy in Gees en in waarheid kan aanbid nie. Pilatus vra die vraag aan Jashuah: “wat is waarheid?” (Joh 18: 38). As jy in die Gees wandel sal Hy jou ook in die hele waarheid lei (Joh 16: 13), want Hy is tog die Gees van die waarheid (Joh 15: 26). Die woord wat Jahweh spreek en die Gees is een (Joh 6: 63). As jy dus in die woord wandel wandel jy ook in die Gees van die waarheid (1 Joh 5: 6-7).
As jy in die vlees wandel, wandel jy nie in die waarheid nie, want die woord van die waarheid sê dat jy saam met Christus gekruisig is en dat jy saam met Hom gesterf het en dat jy dood is vir die vlees. As jy dus verkies om jou eie sin te kry in enige saak en begeer dat jou begeertes vervul moet word, wandel jy nie in die waarheid nie! En so kan ek baie dinge noem ten opsigte waarvan jy gesterf het toe jy saam met Christus gekruisig is, byvoorbeeld dood vir die wêreld en sy begeerlikhede (Gal 6: 14; 1Joh 2: 15-17). En as jy dan nog nie ten opsigte van hierdie dinge dood wil wees nie maar wil toegee daaraan, sal jy nie God in gees en in waarheid kan aanbid nie. As ‘n mens dan ook lees in 2 Kronieke 16 vers 9 dat die oë van die Here die ganse aarde deurloop om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is, dan besef ‘n mens dat die mense wie se hart onverdeeld op God gerig is skaars is op hierdie aarde. So ook die mense wat Hom in gees en in waarheid aanbid want die Skrif sê dat Hy soek na sulke mense. Hy soek nou mense wie se hart onverdeeld op Hom gerig is en so soek Hy ook na mense wat Hom in gees en in waarheid aanbid. Die mense is nie volop nie. Hoe heerlik is dit om te weet dat as jy toegee en jouself tot beskikking van God stel om een van die mense te wees na wie Hy soek, gaan dit Hom so gelukkig maak, want jy is ‘n skaars item, jy is kosbaar in Sy oë. Ja, Hy sê wie jou aanraak raak Sy oogappel aan! Oor al hierdie dinge sal jy moet gaan bid en voor jou Vader sit sodat Hy deur Sy Gees die diepste kamers van jou hart kan ondersoek en kyk wat is daar wat maak dat Sy Gees nie deur jou, Hom as jou Vader kan aanbid nie. Ek bid intussen vir jou dat jy uiteindelik sal kan sê: “my beker loop oor en daarom is ek ‘n ware aanbidder”.
22. Man en vrou het Hy hulle geskape
Hierdie naweek wat nou volg het ek weer ‘n huwelik om te bevestig. Soveel vrae gaan deur ‘n mens se gedagtes as jy besef dat “trou nie-perdekoop is nie”, soos die ou mense gesê het. Trou is geen ligtelike saak nie. Die groot Skepper het immers, nadat Hy die eindelose uitspansel geskape het, die aarde geskape met sy plante en diereryk in so groot verskeidenheid dat dit omtrent nie aangeteken kan word nie. En aan die einde van dit alles het Hy die mens geskape. Dit was Adam en hy was alleen. Toe het God gesien dat dit nie goed was dat die mens alleen was nie (Gen 2: 18) en Hy het gesê dat Hy vir hom ‘n hulp gaan maak wat by hom pas (Vers 18). Let wel, Hy het nie Adam as hulp geskape vir ‘n vrou by wie hy moes pas nie. Uit Adam se ribbebeen het Hy die vrou geformeer. Toe sê Adam: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees’’ (Vers 21-25). Oeps, ek het my reeds in ‘n onderwerp begewe waarvoor ek die genade van die Vader baie nodig het teneinde hierdie hoofstuk te voltooi.
Dit is nou Maart-maand en dit is Internasionale vroue maand. Verlede week was daar ‘n advertensie op die TV wat gelees het: “Let every woman in the world now be empowered”. Ek het die wêreld redelik deurgereis en in verskillende lande gemerk hoedat vroue behandel word. En dit is gewis so dat hulle nie oral behandel word soos die Skepper van die vrou dit bepaal het nie. Maar as ek nou gaan kyk hoedat, nie vroue alleenlik nie, maar ook manne, asook kinders, oor die hele wêreld behandel word deur owerhede, deur godsdienstige groepe en in die besigheidswêreld, dan sien ek dat daar onreg gepleeg word teenoor manne sowel as vroue onder verskillende rasse en etniese groepe. Dan sien ek ‘n soort weerwraak wat daar in die gees van die voorheen verdrukte rasse is, ten opsigte van die rasse wat hulle verdruk het. Ook sien ek dieselfde gees van weerwraak in die gesindheid van vroue wat vroeër, na hulle mening, nie op gelyke vlak met die manne behandel was nie. Daar is ook nou wette wat kinderregte beskerm en dit sal seker nie onmoontlik wees dat die kinders binnekort in groot getalle gaan opstaan en op hulle regte gaan aanspraak maak – regte wat hulle voel hulle voorheen nie gehad het nie. En, o weë, as die massas kinders van hierdie wêreld met dieselfde gesindheid van weerwraak op hulle ouers gaan losbars, sal hierdie wêreld nog meer as ooit vantevore, ‘n ondraaglike plek word. Die Profeet Jesaja het reeds iets in hierdie verband gesê in Jesaja 3: 12. Lees dit maar self asseblief.
Ek wil weereens sê dat ek weet en besef dat baie manne sowel as vroue en kinders, asook verskillende rasse, dalk in die verlede nie die regte gehad het waaroor hulle nou in opstand kom nie. Ek persoonlik kan daarvan getuig dat ek by talle geleenthede in die verlede onregverdig behandel was deur medeburgers van die land Suid-Afrika–waarin ek in gebore is — my land! As ek nou moet begin protesteer en in opstand kom omdat daar onreg aan my gedoen was deur my 76 jaar, sal my optrede nie strook met die van ‘n kind van God nie. Want dit wat ek nou gesê het sal jou gou laat besef dat ek praat nou van mense wat hulleself “gelowiges in Christus” noem, dus kinders van God. Hulle is mense wat veronderstel is om te glo dat alle dinge vir hulle ten goede meewerk omdat hulle God liefhet en omdat hulle na Sy voorneme geroep is. Lees Rom 8: 28 weer indien jy dit vergeet het. Gaan lees asseblief nou Handelinge 6: 8-15 en 7: 54-60 en vra vir jouself die vraag af of Stefanus, wat in hierdie gedeelte gestenig is as gevolg van sy geloof in Christus, dit as ‘n onreg wat teenoor hom gepleeg was, kon beskou? Was dit nie sy menslike reg om ‘n vryheid van geloof te hê en God te dien op die wyse wat hy verkies het nie? Was sy menseregte hom nie ontneem nie? Maar hy het geglo dat alles vir hom ten goede meewerk. As ons sien hoedat hy, terwyl die klippe op hom gereën het, die hemel geopen gesien het met Christus wat aan die regterhand van God staan, en hoe sy gesig geblink het soos die van ‘n engel, sou hy sekerlik, as jy as mense-regte vegter hom sou aanmoedig om te veg vir sy regte, jou ‘n dwaas genoem het. Sou die verkryging van sy menseregte enigsins kon opweeg tee
Ons mag nie vergeet dat die man en vrou wat deur God geskape is, reeds by die Skepping in ‘n gesagsverhouding tussen man en vrou geplaas was nie (Gen 3: 16). En die gesagsverhouding het ook bestaan in die tyd van die “eerste gemeente”— die tyd van die Apostels. Lees gerus 1Kor 11:1-12. In hierdie modern tyd waarin ons nou deur ‘n besondere tydvak van die emansipasie van die vrou, of die “bevryding van die vrou”, gaan, sal jy nou laag moet neerbuig voor jou Vader met ‘n hart wat baie gewillig is om Sy wil te doen. As vrou mag jy nou dadelik rooi ligte sien flikker en die gevoel kan in jou hart opkom om nie verder in hierdie hoofstuk te lees nie. Tog wil ek by jou pleit dat jy sal voortgaan om te lees want hierin lê vir jou opgesluit ‘n heerlike openbaring van ‘n verborgenheid wat eeue lank nie aan die mensdom geopenbaar was nie. Met betrekking tot die huwelik sê die Apostel Paulus in Efesiërs 5: 22-33 waar hy oor die huwelik praat: “Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Vers 32). Jy moet dit asseblief nou eers lees!
Wat was God se aanvanklike doel met die skepping van die man en die vrou? Was dit dat hulle moes kinders hê en vermeerder en die aarde vul? Ja, beslis. Maar was Sy hoofdoel daarmee? As jy Mal 2: 13 tot 16 lees sal jy in vers 15 die volgende woorde merk: “Het Hy (God) dan nie een mens gemaak nie hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek”. Miskien is jy ook al geskei en jy vra dadelik die vraag: Wie is die vrou van my jeug? Laat ons nou eers by die belangrike saak kom en laat die vrae wat in jou hart opkom eers in die hande van die Here om jou op die regte tyd te antwoord. Die belangrike saak is dat God ‘n geslag van God op hierdie aarde gesoek het en nog steeds soek. As jy nou in Handelinge 17: 27-29 lees, lees jy hierdie woorde: “…want ons is ook Sy geslag. As ons dan die geslag van God is…” Oor hierdie geslag van God het ek al in ‘n vorige hoofstuk geskryf. Die geslag wat God op hierdie aarde begeer sal bestaan uit manne en vroue wat nie net alleen een vlees is nie, maar ook een van gees en siel. Hy sê in Maleagi 2 dat daar genoeg gees was om twee mense te skape, maar hy het een geskape. Eva was uit die ribbebeen van Adam geformeer. En daarna het Adam gesê (in Genesis 2: 20-25) : “dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word want sy is uit die man geneem daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle sal een vlees wees’’. Later gebruik die apostel Paulus hierdie feit dat die vrou uit die man geneem is en uit die man ontstaan het, om ‘n gesagsverhouding tussen die man en die vrou te verduidelik. Waar God in Genesis aan die vrou gesê het: “Jou man sal oor jou heers…’’ was dit omdat sy die eerste een was wat voor Satan se versoeking geval het. Sy en Adam was bedoel om een in gees te wees. Baie gelowiges glo dat hulle (Adam en Eva) voor die sondeval wel een gees was, maar toe Eva geluister het na Satan en daardeur ongehoorsaam was aan God, deur te eet van die boom van kennis van goed en kwaad (Let wel: dit kan ook bekend staan as die “boom van aanvaarbaar en onaanvaarbaar”), het God, alhoewel Hy haar dit sekerlik vergewe het, ‘n beletsel op haar geplaas. Let wel: Nie ‘n vloek nie, maar ‘n beletsel. Die apostel Paulus verwys na hierdie beletsel in 1 Tim 2: 9-15: “Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.12Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.13Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.14En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom”.
Hierdie beletsel werk ten goede mee vir die man sowel as vir die vrou, net soos alles ten goede meewerk vir hulle wie God liefhet en die wat na Sy voorneme geroep is. (Rom 8: 28). Nou sal talle mense vra: “ Nou wat is die goed hierin?’’ In Efesiërs 5 vergelyk die skrywer die verhouding tussen die man en die vrou met die verhouding tussen Christus en die gemeente. En hy verklaar dat net soos die gemeente in alles aan Christus onderworpe is, so moet die vrou ook aan die man onderworpe wees. Die verhouding tussen die man en die vrou is dus ‘n beeld of tipe van die verhouding tussen Christus en die gemeente, en omdat dit ondenkbaar is dat die gemeente op gelyke voet met Christus geplaas mag word, is dit net so ook ondenkbaar vir die vrou om op gelyke voet met die man geplaas te word. Alhoewel daar by saligheid geen verskil tussen die man en die vrou is nie, omdat albei die reg tot die volle saligheid in Christus het — gelyke geleentheid om met Sy Gees vervul te word en wedergeboorte te smaak (Gal 3: 28). Tog is Hy die Hoof van die liggaam van Christus (Efes1: 22), en ons is die ledemate (1 Kor 12: 12-27). As die verhouding tussen die man en die vrou dan ‘n tipe is van die verhouding tussen Christus en die gemeente moet ek dit duidelik beklemtoon dat God baie gesteld was op Sy tipes wat Hy oral in die Woord gebruik het. Waarom dink jy kon God Moses nie vergewe het omdat hy die rots die tweede keer geslaan het in plaas van om met die rots te praat nie? (Exod 17: 1-7 vgl Num 20: 1-13). Die antwoord is eenvoudig: omdat dit ‘n verkeerde tipe daar sou stel. Toe Moses die eerste keer die rots geslaan het, sodat daar water uitgevloei het om die volk se dors te les, was dit ‘n tipe van die liggaam van Christus wat geslaan (gekruisig) moes word sodat die water van die lewe uit Hom as die Rots sou vloei (1Kor 10: 4). Maar omdat Christus nie weer gekruisig mag word nie kan ons nou die water van die lewe kry deur slegs daarvoor te bid (Joh 7: 37-39). Hiervan is die “praat met die rots” ‘n tipe. Moses het verkeerdelik ‘n tipe daar gestel waarin Christus vir die tweede maal gekruisig sou wees (Heb 6: 6). Dit was ‘n groot verkeerdheid in die oë van God. Daarom moes God Moses die toegang tot die beloofde land wyer, alhoewel Hy Hom vergewe het. As God so gesteld was op hierdie regte tipe, sal Hy nie ook nou gesteld wees daarop dat die verhouding tussen man en vrou ‘n gemeente tipeer wat nie op gelyke vlak met Christus is nie? Christus is die Hoof (Efes 1: 22; Kol 2: 18-19) — ons is nie die Hoof nie maar die ledemate (1 Kor 12: 12-27).
As die gemeente vir Christus voorskryf en Hom gedurig bevraagteken oor die wyse waarop Hy met haar werk, Hom as onregverdig beskou as Hy nie aan haar begeertes wil voldoen en haar haar sin wil gee nie—alles dinge wat spruit uit die eet van die boom van kennis (Gen 3: 6)–, sou dit nie ‘n verkeerde beeld vertoon van Jashuah se gebrek aan gesag as Bruidegom nie? En van gesag gepraat, as daar ‘n gesagsverhouding in enige instansie is, is almal nie gelyk nie. Daar is altyd een wat gesag voer bo-oor die ander, en altyd een wat onderwerp aan die gesag wat oor hulle gestel is. Sou dit vir jou in orde wees as God die Vader nie gesag oor Sy Seun gehad het nie? Lees 1 Kor 15: 27-28. Sou dit vir jou reg wees as Christus as die Bruidegom nie gesag gevoer het oor Sy bruid wat uit die mensekinders kom nie? As hy met ons spreek oor die gesag tussen Christus en die gemeente dan gebruik Hy ‘n voorbeeld van hierdie gesagsverhouding as Hy sê in Efesiërs 5 vers 22-24: “Vroue wees aan julle eie mans onderdanig soos aan die Here, want die man is die hoof van die vrou soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Die woord “soos” beteken = ( Is gelyk aan). Kan jy jou indink dat daar ‘n gemeente op die aarde sal wees wat hom nie onderwerp aan Christus nie. Kan jy vir een oomblik dink hoe dit sal gaan in ‘n kerk waarin die lidmate nie onderdanig is aan Christus nie. Daar is alreeds elemente van so ‘n gebrek aan onderdanigheid in die kerk van vandag want die mense sien God as iemand wat net vir hulle moet gee en nie as ‘n heilige God aan wie hulle moet gee nie. God is die weldoener wat in al ons begeertes moet voorsien, daarom is hulle gebed ook vol daarvan om vir Hom te vra: “gee vir ons dit en gee vir ons dat”. Ons is “Gimys”. Die benaming het ontstaan uit mense wat net gedurig aan wel gedoen wil wees, mense wat net wil ontvang omdat hulle oortuig is dat hulle daarop geregtig is. “Give me, give me”. En dan kan ons ook reeds sien hoe min Christene daar is wat werklik hulle aan die gesag van Jashuah onderwerp. Hulle glo nie as Hy vir hulle sê dat hulle saam met Hom gekruisig is en dat hulle nie meer leef nie en daarom ook nie reg het daarop dat hulle eie begeertes bevredig moet word nie. Hulle glo dit nie dat hulle soos Jashua moet sê: “nogtans nie My wil nie maar U wil geskied” (Luk 22: 42).
Daar is ‘n middel-muur van skeiding tussen die man en die vrou soos daar tussen alle mense ‘n skeidingsmuur is. Elke mens leef vir homself en wat hy as reg in sy eie oë beskou. Die meningsverskille tussen ‘n man en ‘n vrou sal nooit end kry solank “die eie ek” van albei nog lewe nie. Hulle sal nooit oog om oog sien nie. ‘n Sogenaamde gelukkige huwelik word slegs bepaal deur dié mate waarin een van die twee toegee ten einde die vrede te bewaar. Daar is egter slegs een groot en belangrike ding wat moet gebeur en dit is die middle-muur van skeiding, waarvan Efesiërs 2: 14-16 praat, sal moet weggeneem word. En dit gebeur alleenlik deur die bloed van die Kruis van Christus. Dan, en dan alleen, kan hy die twee tot een nuwe mens skep (Efes 2: 14-16). Hier is dit belangrik dat jy Efesiërs 2 gaan lees, want dit is die enigste manier waardeur die man en vrou nie slegs een vlees sal wees, soos alle mans en vrouens is nie, maar ook een gees. En dit beteken dat een Gees, naamlik die Heilige Gees albei moet vervul. Uit dié man en vrou wat een Gees en ook een siel is, sal die geslag van God te voorskyn kom op hierdie aarde. Dit is hierna waarna God so uitgesien het. Hierdie geslag sal skyn soos ligte in die wêreld, onder ‘n krom en verdraaide geslag, ‘n bose geslag, ‘n geslag van Satan. (Filip 2: 12-16).
23. Die tuin van Jahweh se Verlustiging
Soos wat ek al meer in die Gees begin wandel begin daar ‘n al-groter -wordende begeerte by my opkom om my Hemelse Vader te aanbid, en so ook Sy Seun, my Verlosser. Dit wil ek nie doen om nog meer uit Hom te ontvang nie, maar met die begeerte dat Hy ook van my sal ontvang. Hy het my reeds alles in Christus geskenk en ek moet dit slegs met groot dankbaarheid in besit neem. In Psalm 29 sê die Skrif: “Gee aan die Here eer en sterkte…”(Ps 29: 1-2). Vir ‘n groot deel van die Christendom is God daar om ons gebede te beantwoord en om aan ons te gee: Hy moet beskerming aan ons gee, Hy moet gee ten einde in `ons behoeftes te voorsien, en meer nog as ons behoeftes, ook ons begeertes. Hy moet genesing aan ons gee, ook moet Hy gesondheid aan ons kinders gee, en ook gee dat hulle goed sal presteer by die skool en in aansien sal wees, uitstaande in die akademie en ook op die sportveld. Ons begeer dat Hy genoeg geld aan ons sal gee dat ons vir ons kinders en onsself alles kan koop, ja, selfs vroeg in hulle lewe reeds ‘n mooi voertuig sal kan koop wat nie afsteek by die ander sinne nie. Geen wonder dat die Gees van God my gelei het in ‘n vorige hoofstuk om te sê dat ons is niks anders as gimmies nie. “Give me, give me” dis al wat die groot God gedurig van ons moet hoor daar waar Hy sit in Sy groot “welsynskantoor”.
Enkele jare gelede het die Vader my een môre die Skrif gegee in Hooglied 2 vers 14 waar Hy sê: “My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans, laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor: want u stem is soet, en u gedaante is lieflik”. En daardie môre het die Gees van Christus my skielik laat verstaan en besef hoe graag my Vader en ook my Verlosser my stem wil hoor daar waar ek alleen bid in die klowe. Ek het skielik besef hoe kosbaar ek vir Hom is en hoe lieflik die lofliedere en die woorde van aanbidding wat uit my mond uit kom, vir Hom is. Geen wonder dat Hy in die aandwindjie gaan wandel het in die tuin van Eden om met hierdie nuwe skepsel en sy vrou gemeenskap te hê (Gen 3: 8-9). Daardie innige omgang met hulle was vir Hom iets kosbaars. Dit was immers die rede waarom Hy die aarde gemaak het met die planteryk en die diereryk, met die berge en riviere, met die pragtige sonsopkoms en die ontelbare sterre in die nag. Ek glo nie dit Hy dit gemaak het sodat daar op ander planete ook mense moet wees nie. Die aarde het hy spesifiek en uitsluitlik vir die mens gemaak (Jes 45: 12, 18) sodat die mens dit kan geniet en dat Hy die mens op hierdie aarde as die tuin van Sy verlustiging kon hê (Jes 5: 7), dat Hy dag en nag Hom kon verlustig in hierdie tuin. Selfs nadat Eva en Adam in die sonde geval het, het Hy nogtans uitgesien na ‘n tuin, nie meer ‘n tuin waarin Hy vrylik kon gaan wandel nie, maar ‘n tuin wat vir ‘n spesifieke tyd gesluit was. Hy sê in Hooglied 4 vers 12: “My suster-bruid is ‘n geslote tuin, ‘n geslote bron, ‘n verseëlde fontein”. Waarom het God hierdie tuin gesluit? Die groot vraag is of dit gaan geslote bly vir Hom? Niemand kan tog iets vir Hom sluit nie, want Hy is God en waar Hy wil oopsluit sluit Hy oop! Ja, Hy het reeds die groot oopsluit-werk gedoen toe Hy Sy Seun gestuur het om alles wat by die sondeval van Adam verkeerd geloop het, weer reg te stel in die “tyd van die wederoprigting van alle dinge” waarna Hy verwys in Handelinge 3: 21.
Hy is besig om hierdie woord in Handelinge daagliks te laat werk in die harte en lewens van hulle wat in Hom glo (1Thess 2: 13). Baie môres sit ek voor die Vader en as ek Hom vra: “Vader wat wil U vanmôre vir my sê, dan sê Hy vir my: “ Laat my u stem hoor”. Dan weet ek dat Hy wil hê ek moet Hom vertel hoe lief is ek vir Hom, dat ek Hom liefhet met my hele hart en my hele siel en al my verstand en al my krag (Matt 22: 37-40). Jy sal vir my sê: “maar jy is vermetel om te verklaar dat jy Hom liefhet met jou hele hart jou hele siel, jou verstand en al jou krag”. Dan antwoord ek jou: as ek dit sê omdat ek Hom glo dat Hy Sy liefde reeds in my hart uitgestort het deur die Heilige Gees wat in my woon, volgens Romeine 5: 5, veroordeel jy my dan daaroor, omdat ek glo? Glo jy dit nie ook nie? Of is dit miskien tyd dat jy dit nou moet begin glo? As God gesê het dat Hy Sy liefde in ons harte uitgestort het – LET WEL verlede tyd! – dan kan ek sekerlik nie lieg nie. In ‘n vorige hoofstuk het ek geskrywe dat God ook sulke mense soek wat Hom in Gees en in waarheid aanbid (Joh 4: 23-25). Net so soek Hy ook mense wat die stem, wat Hy hulle gegee het, nie gebruik om ander mense mee te veroordeel en woorde van bitterheid, beterweterigheid, klaerigheid, ongeloof en liefdeloosheid te spreek nie, maar om Hom mee te verheerlik. Is dit nie om presies hierdie rede wat ek in die vorige sin genoem het dat die Heilige Gees nie jou kan lei om jou stem te gebruik om liefdesverklaring aan God en ook aan jou Verlosser te bring, en terselfdertyd ook die afgode van hierdie wêreld te vereer nie. Dit is om die skepsel te vereer bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid (Rom 1: 21-31). Die Skrif sê duidelik dat bitter en soet water nie uit een fontein kan voortvloei nie (Jak 3: 10-12). Kan ‘n mond wat so pas sy broeder of medemens veroordeel het, nou weer gebruik word om God daarmee te loof en te aanbid?
Daar is egter ‘n verskil tussen veroordeling en oordeel. Daar is ‘n oordeel wat God ons wel beveel om binne-in die gemeente te doen. Hiervoor is dit belangrik dat jy gaan lees wat in 1 Korintiers 5 vers 6 tot 13 geskryf staan. Hier is die apostel Paulus baie duidelik besig om die voorgangers van die gemeente te vermaan om wel sekere oordeel binne in die gemeente toe te pas. Dit beteken nie dat hulle daardie mense wat oortree veroordeel tot die ewige verdoemenis nie, maar dit beteken dat hulle hul weeg by die Woord om hulle op die proef te stel of hulle werklik in die geloof is. Die Skrif sê in 2 Korintiers 13 vers 5: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julle self op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie”. En dit is juis hierdie gesonde oordeel na binne wat die beeld van Christus na buite so mooi maak. Sê hy nie in 1 Korintiërs 11 vers 31-32: “Want as ons onsself beoordeel het sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word word ons deur die Here getugtig sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie”. Hier kan jy baie duidelik sien dat daar ‘n verskil is tussen oordeel en veroordeel. Die apostel Paulus sê aan Timotheus: “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering…” (2 Tim 4: 1-5).
Ons moet besef dat die geloof nie die deel is van almal nie en hierom vermaan Paulus die voorgangers in die gemeente van Rome om saam met hom te stry in die gebede by God sodat hy verlos mag word van die ongehoorsame mense in Judea (Rom 15: 30-31). Ook skryf hy dieselfde woorde: “…en dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof is nie die deel van almal nie” (2 Thess 3: 2). Die vraag is nou of sekere mense dan bestem is om nie geloof te hê nie? Die antwoord is “ja” en “nee”. God wil hê dat alle mense moet tot die geloof in die waarheid kom, maar alle mense wil nie. Hy het geweet, vooraf geweet, wie Hom sal wil glo en wie Hom sal wil lief hê en gehoorsaam. Aan daardie mense wat gewillig is het hy belowe dat Hy deur Sy genade geloof in hulle harte sal uitstort. Ook het hy hulle bestem tot diegene wat deel is van die volk wat Hy vir Sy Naam uit die heidene aangeneem het, om Hom lief te hê en die “tuin van Sy verlustiging” te wees. As jy dan nou alreeds daar is dat jy jou hele lewe oorgegee het aan Hom, jouself verloën het en daagliks jou kruis opneem en Hom volg, sal jy ook gevolglik die belofte van die lewe hê (2 Tim 1: 1). Jy sal daagliks voel hoedat Sy lewe – Sy opstandingslewe – deur jou vloei en hoe daar ‘n spontane vloei van Sy Gees deur jou is wat lofliedere, danksegginge, woorde van bewondering vir die groot Skepper, wat ook jou eie Vader is, oor jou lippe laat gaan. Dink net hoe dat Hy Homself daarin verlustig as Sy seun en Sy dogter wat hy gekoop het met die bloed van Jahshuah, Hom bemin en minneliedere tot Hom sing. Jy sal sê: “maar ek kan nie mooi sing nie”. Ek het vir jou goeie nuus: “mooi sing” werk by plekke soos “ America has got talent” of “South Africa has got talent”. Jy wil nie cd’s maak vir die wêreld nie, maar jy wil sing vir die God wat jou geskape het, en hy luister na die lied van jou gees, al klink dit nie mooi in jou eie ore nie en al sing jy vals, vir Hom is jou stem lieflik, en jou gedaante is mooi, al is jy ook oud, vol plooie, en lelik. Jy het nie nodig om jouself vir Hom mooi te maak nie want hy kyk na jou hart en nie na jou grimmering nie (1 Pet 3: 3-5).